Hemelvaart

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Efesiërs 1:15-23
Ander tekste: Handelinge 1:1-11; Psalm 47; Lukas24:44-53

Inleiding 

Die gedeelte begin, soos dikwels die geval in antieke briewe was, met ’n danksegging oor die lesers daarvan. Wat belangrik is om hier raak te sien, is dat Paulus God dank vir die liefde en geloof van die gelowiges aan wie hy skryf. Hy spreek nie sy dank teenoor hulle uit nie. Dit is immers aan God te danke dat hulle só lewe. Dit is verder opvallend dat alhoewel Paulus beslis dinge van God gevra het in gebed, sy gebede soos hier veral gekenmerk word deur danksegging en lofprysing.

Die Handelinge-teks handel oor die opdrag van Jesus aan sy dissipels om in die stad Jerusalem te bly totdat hulle die Heilige Gees ontvang het.

Die Psalm-teks handel oor God, sy grootheid en dat Hy bo alles verhewe is.

Die Lukas-teks verduidelik die hemelvaart van Jesus as sowel die einde van Jesus se aardse bediening (so in Lukas), as die begin van die Gees s’n deur die Kerk (so in Handelinge). Lukas se Evangelie is nie net ’n verhaal oor Jesus nie. Dit is ook ’n verhaal van die plan van God wat uitgewerk moet word in sowel Jesus as in sy getuies.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”
Lied 426 “Ons sing nou bly ons vreugdelied”

Aanvangswoord
Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God met ‘n jubelende stem,
want aan die Here, die Allerhoogste, kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning oor die hele aarde:
Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob, wat Hy liefhet (uit Ps 47:2-5).

Seëngroet
Die opgestane Heer, Jesus Christus, wat opgevaar het na die hemele, groet u met die woorde: “Vrede vir julle.”

Lofprysing
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”
Flam 35 “Jesus kom weer”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Ons hemelse Heer, vandag vier ons u terugkeer na ons hemelse Vader.
Dankie, Heer, vir U liefde en genade,
dat U mens geword het,
dat U liefde aan ons kom wys het,
ons kom wys het hoe om te leef,
ons kom leer het hoe omgee vir mense lyk.
Dankie, Heer, vir die getuienis van u hemelvaart
wat mense so geroer het dat hulle nie kon ophou praat van U nie.
wil U ook nou deur u Woord ons kom roer
sodat ons sal uitgaan en getuig van U.
Amen.

Diens van die Tafel

Geloofsbelydenis
Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en van daar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou –
styf teen die braille van sy lyf.
Ek glo in die Heilige Gees
die Wind van God
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal –
weg van myself weg van Tarsis
na die nood in Ninevé.
(uit: Blydenuus van geloof van Wilhelm Jordaan).

Nagmaal

God stuur ons uit

Slotlied
VONKK 262 “Die Heer het opgevaar”

Seën

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”; Lied 426 “Ons sing nou bly ons vreugdelied”
Lofprysing: Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”; Flam 35 “Jesus kom weer”

Kuns en visueel

Daar is bu www.Sharefaith.com heelwat prente wat gebruik kan word vir Hemelvaart en ander dienste in die kerkjaar, soos hier.

Preekstudie – Efesiërs 1:15-23

Teks

Vers 15. Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus ( tēn kathōs humas pistin en tō kuriō Jēsou ).

Die Griekse woorde dia tou wat vertaal word in Afrikaans as “daarom”, verwys na die voorafgaande tekste (Ef 1:3-14). Dit verwys nie slegs na die lesers van die brief nie, maar na die hele Christendom (Ef 1:19, 20-23). Met die frase “julle geloof “ ( tēn kathō humas pistin ) verwys Pauls na geloof in Christus, die Gesalfde. Die geloof en liefde word bewys aan alle gelowiges ( tēs eis pantas tous hagious ). Bykans presies dieselfde woorde “omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges,” kom in Kolossense 1:4 voor. In Kolossense gebruik Paulus die woorde as aanduiding dat die skrywe gerig is aan ʼn kerk wat hy nog nie besoek het nie. In Filemon vers 4 gebruik hy die frase “omdat ek hoor van die liefde en trou wat jy aan die Here Jesus en al die gelowiges bewys” om te verwys na die slaaf, Onesimus wat hy self tot redding gelei het. Die Griekse woord akousas (gehoor) kan dus nie gebruik word as bewys dat die brief nie aan die Efesiërs geskrywe is nie, of dat Paulus slegs gehoor het van die ontwikkeling van die kerk in Efese nie.

Vers 16-17. “hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie wanneer ek in my gebede aan julle dink.” Met die frase “hou ek ook” ( kai ego ) identifiseer Paulus homself as ‘n lid van die liggaam van Christus, waar Christus self die Hoof is. Bykans al Paulus se briewe word ingelei met hierdie samehang tussen danksegging en gebed. Danksegging en gebed is twee karaktereienskappe van alle Christelike aanbidding (sien Rom 1:8-9; Fil 1:3-4; Kol 1:3-4; 1 Tess 1:2-3; 2 Tim 1:3; Filemon :4).

Vers 18. Paulus se bede vir die Efesiërs is dat Christus hulle geestesoë so verhelder dat hulle kan weet watter hoop sy roeping inhou en watter heerlikheid Hy vir die gelowiges bestem het. Die Griekse woord autou verwys na God en die krag wat alleen aan God behoort. Hierdie krag is ‘n vervulling van die Christelike hoop, naamlik die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het. Vanaf vers 15 lei Paulus die lesers van hoop as genadegawe wat aan hulle toebedeel is, na die heerlike erfenis wat vir hulle beskore is ( eis hēmas tous pisteuontas): “die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het”.

Vers 19. Kai ti to huperballon, verwys na die kragtige werking van Christus se mag. Die frase kai ti to huperballon megethos tēs dunameōs autou dui op die goddelike mag wat God uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het. Die frase dui op die goddelike natuur van Christus.

Vers 20-21. Die krag het Hy uitgeoefen toe Hy Christus uit die dood opgewek het ( hēn enērgēsen en tō Christō egeiras auton ek vekrōn ). Die frase kai kathōs en deksian autou en tois epouraniois dui aan wat bedoel word met die woorde “Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het”. Die regterhand van God dui nie ‘n spesifieke plek (lokaliteit) aan nie. Veel eerder is dit ʼn metafoor as aanduiding van die krag wat die Vader op Christus uitgestort het om oor elke mag en gesag, elke krag en heerskappy te heers (21). Christus is die Gesalfde, die Hoof van die Kerk wat bo elke krag en heerskappy mag en gesag uitoefen. Die Griekse woorde huperanō archēs kai eksousian kai dunameōs kai kuriotētos (mag en gesag, elke krag en heerskappy) sluit elke vorm van mag en gesag in. Niks kan die reikwydte van God se almag ontsnap nie. Christus is Here Almagtige oor en bo elke vorm van mag en gesag. Die frase dui die God se soewereiniteit aan. Christus is verhewe bo ( huperanō ) elke mag en gesag, elke krag en heerskappy waarvan daar ook al sprake mag wees. Dié gesag en mag is nie slegs oor alles op die aarde nie, maar sluit die gesag en mag in die toekomstige koninkryk van God in. Dit dui op die almag van Christus.

Vers 22. Aan Hom het God alles onderwerp ( kai panta hupetaksen hupo tous podas autou ). Christus is deur God as die Hoof van die Kerk aangestel. Die metafoor “hoof” dui op die hoogste gesag. Hierdie twee dinge het God gedoen: Hy het met sy krag Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel geplaas en het alles op aarde onder Hom geplaas. Hy is die soewereine God wat as Hoof van die kerk oor alles heers ( kai auton edōken kephalēn huper panta tē ekklēsia ).

Vers 23. Die kerk is die liggaam van Christus ( hētis estin to sōma autou ). Christus is Hoof van alles. Dit sluit in die hoofskap van die kerk. Christus is die universele Hoof van die kerk. Die woord sōma word dikwels in die Nuwe Testament gebruik om na die mistieke liggaam van Christus te verwys, naamlik die kerk, die gemeenskap van die gelowiges as organiese geestelike eenheid in Christus. Die kerk is die instrument waardeur God sy werk tot volvoering bring, die volheid van Hom wat alles in almal vervul ( to plērōma tou pan ).

Konteks

Die kerk in Efese het gedurende die lang verblyf van Paulus in die stad ontstaan (Hand 19:10; 20:31). Hy het die Efese inderhaas verlaat ná ʼn opstand en het dit nooit weer besoek nie (Hand 19). Sy laaste persoonlike kontak met die kerk in Efese was toe hy die ouderlinge van die stad in Miletus ontmoet het (Hand 20:18, 35). Die Brief aan die Efesiërs is in Rome in 64 nC as die eerste van Paulus se reeks gevangenskapbriewe geskryf.

Die hemelvaart was van groot teologiese belang vir die vroeë kerk. Dit het eerstens die einde van die periode van 40 dae aangedui waarin Jesus aan sy dissipels verskyn het en die einde van die menslike gestalte wat Hy by geboorte aangeneem het (Hand 1:3). Tweedens dui dit op die Heilige Gees wat as Trooster met die kerk sal wees totdat Christus weer kom (Joh 7:39; Hand 2:33-34). Derdens dui dit op Jesus se heerskappy uit die hemel vanwaar Hy aan die einde van alle tye sal kom (Rom 8:34; Ef 1:20-23; Kol 3:1; Hand 1:11).

Preekvoorstel

Christus het opgestaan, Hy het die dood oorwin, Hy het opgevaar en sit aan die regterhand van God. Dit is wat Christene glo aangaande Christus wat sit aan die regterhand van God vanwaar Hy, die Hoof van die kerk, die wêreld regeer. Jesus het sy plek ingeneem aan die regterhand van God. As gereformeerdes bely ons dit ook volgens die Heidelbergse Kategismus Sondag 18. Vraag 46 vra: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel? Gereformeerdes behoort te kan antwoord: “Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem (a) en Hy is vir ons daar ten goede (b) totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het.”

Hy tree vir ons in by die Vader. Omdat Hy vir ons voorspraak doen by die Vader, is ons in staat om ʼn heilige en regverdige lewe te lewe. Dieselfde krag wat Christus opgewek het … dieselfde krag wat Hom laat opvaar na die hemel, sal Hom weer terug laat keer na die aarde om die finale oordeel te voltrek. Hy sal weer kom … Dit is wat ons glo … dit is wat ons hoop. Dit is die geloof en hoop wat die gelowiges gehad het, naamlik ʼn verwagting dat die Een wat opgestaan het uit die dode, die Here Jesus Christus, die verrese Heiland …, die Een wat na die hemel opgevaar het, weer sal kom om hulle te kom haal. Hulle het geglo dat Hy weer sal kom om sy ryk te vestig. Dit is ons roeping as kerk om vreugdevol met hoop te wag op die tweede koms van ons Verlosser en Saligmaker.

Paulus weet Christus is nie in sy menslike gedaante met die gelowiges in Efese of met ons vandag nie. Hy weet Christus is ware mens en gelyktydig ware God. Hy noem hom Vader van heerlikheid ( tēs patēr tēs doksēs ). Wat sy menslike natuur betref, is Christus nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, is Hy met ons tot aan die einde van alle tye. Dit het Hy immers in Matteus 28:20 belowe: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

In Johannes 14:18 belowe Jesus: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Die Goddelike natuur van Christus kan nie ingeperk word nie. Hy is orals en alomteenwoordig. Sy teenwoordigheid word nie deur ons aanvaarding van Hom as Heer en Koning beperk nie. Nee! Al ly die kerk skeuring en vervolging, verdrukking en onreg, kan dit nie vernietig word nie, want Jesus wat aan die regterhand van die Vader sit, tree vir die kerk in. Die krag van die Vader van heerlikheid, versterk die kerk in tye van nood, beproewing en lyding. God staan immers op ʼn besonderse manier by die noodlydendes of diegene wie se reg verkrag word. Christus se opstanding staan in die teken van die deurbraak van die vestiging van sy koninkryk op aarde.

Die hemelvaart raak ons dus aan in die konkrete werklikheid van ons daaglikse arbeid. Dit word die geheimenis van God genoem. Daarom het die kerk ʼn heilige roeping om hoopvol te wag op die koms van Christus.

Christus tree vir ons, Hy tree vir die wêreld in. Hy is Here, die Almagte. Hy is die Vader van heerlikheid. Sy hemelvaart is vir ons tot nut. Hy is in die hemel vir ons die Voorspraak by die Vader. Paulus stel dit duidelik dat Christus die Hoof van die kerk is en ons lede van sy liggaam. Hy het belowe dat Hy weer sal kom en dat Hy ons ook na Hom toe sal neem … na die huis met baie wonings (Joh 14:16).

Christus het die Heilige Gees as waarborg na ons toe gestuur. Ons behoort dus te soek na die dinge wat daar bo is. Dit is egter van belang dat ons in ons soeke nie slegs sal fokus op ‘n geestelike “pie in the sky” nie, maar dat ons rondom ons sal kyk — na ons konteks, na die gemeenskappe waarin ons leef, woon en werk. As gelowiges behoort ons te leef met die wete dat Christus oor elke mag en gesag, elke krag en heerskappy heers. Die onreg, pyn en lyding van hierdie wêreld, mag nie die laaste sê hê nie! Jesus is die Christus. Hy is die Gesalfde. Hy is die Hoof van die kerk, die Here en die Almagtige. Dié gesag en mag sluit alle ander vorms van gesag en mag in. Dit sluit die toekomstige koninkryk van God in.

Christus se opstanding bevestig dat onse God nie ʼn afwesige God is wat nie omgegee dat die wêreld deur klimaatsverandering vernietig word of dat mense mekaar uitmoor weens godsdienstige onverdraagsaamheid nie. Nee, Hy is met ons en tree vir ons in. Hy roep ons om te staan waar Hy staan en te stry teen die onreg van hierdie wêreld. Daarin is ons nooit alleen nie. Die gekruisigde Een, die opgestane Heer, is met ons, van nou af tot in alle ewigheid!

Bibliografie

Lange, John Peter. Commentary on the Holy Scriptures: Critical, Doctrinal, and Homiletica; Calvin’s Commentaries; Ellicott’s Commentary; The Expositor’s Greek Testament – Nicoll Commentary, Critical, Practical, and Explanatory on the Old and New Testaments by Robert Jamieson; AR Fausset and David Brown [1882].

© Missio 2024 | All rights reserved.