Hemelvaart-feesdiens

Picture of Woord en Fees
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Woord en Fees - Jaarlikse subskripsie | 1 gebruiker or Woord en Fees - Jaar toegang | 1 Gebruiker | Gemeenterekening.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Efesiërs 1:15-23
Ander tekste: Psalm 93; Handelinge 1:1-11; Lukas 24:44-53

Inleiding

Met Hemelvaart vier ons dat Jesus ná sy opstanding na die hemel opgevaar het. Ons vier egter meer as hierdie oorgelewerde gebeurtenis. Ons vier die triomf van Christus se lewe wat in die hemelvaartverhaal uitgelig word. Jesus se teenwoordige heerlikheid vul ons huidige werklikheid. Hy is die volmaakte brug en die ewige verbond tussen God en mens. In Christus word ons in staat gestel om God se hemelse bestaan in ons aardse werklikheid te ken terwyl ons leer om ons eie bestaan as deel van Christus se heerlikheid te omhels.

Paassiklus en Hemelvaart
Tussen die sesde Sondag in Paastyd (wat op die ewige lewe in Christus Jesus fokus) en die sewende Sondag in Paastyd (wat op liefde en gehoorsaamheid in Jesus fokus) skuif die fees van Hemelvaart in. As liturgiese fees binne die Paasseisoen skep dit ’n diep gewaarwording van die besonderse teenwoordigheid van Christus wat aan die regterhand van die Vader “alles in almal vervul” (Ef 2:23).

Kleur
Wit en goud is die kleure van Hemelvaartdag.

Diensorde

God bring ons byeen

Paasroep
V: Die Here het opgestaan!
G: Die Here het waarlik opgestaan!

V: Die Here het opgevaar!
G: Die Here is Koning.

Seëngroet
Aan almal wat aan Christus behoort, dié wat deur Hom afgesonder is om in sy diens te werk, genade en vrede vir julle van die drie-enige God, ons Koning en Here.

Aanvangslied
NSG 343/Lied 159/Flam 291 “God is hier teenwoordig”

Oproep tot lofprysing
V: Al julle volke, klap julle hande!
G: Juig tot eer van God met jubelkrete!

V: Want die Here, die Allerhoogste, is ontsagwekkend,
G: Koning oor die hele aarde.

V: Onder gejuig bestyg God die troon,
die Here bestyg dit onder die geluid van ’n ramshoring.
G: Besing God, besing die Here! Besing ons Koning, die Allerhoogste!

V: Want God is die Koning van die hele aarde.
G: God regeer!

Lofprysing
Psalm 47/Lied 547 “Alle volke, klap jul hande”

Skriflesing
Handelinge 1:1-11

Gebed
V: In hierdie woorde hoor ons die mag van Christus,
en die belofte van die Gees van mag.
G: Ons hoor die ou storie lewend word in ons lewe.

V: Ons soek ’n gees van wysheid en openbaring in Christus.
Ons wag op u Gees van mag, o God.
G: Kom, Here Jesus,
kom, Heilige Gees,
kom vul ons hele lewe.

Lofprysing
Enige van die liedere onder die Hemelvaart-rubriek in die Liedboek van die kerk/Flam 21 “In die hemel is die Heer”/Flam 120 “Hy is Heer”

Diens van die Woord

Skriflesing
Efesiërs 1:15-23

Gebed
Bid weer die gebed in Efesiërs 1:15-23.

Prediking

Gedig
Mens
Jy mag dalk roem
Met jou prestasies
Jou vermoëns
Tuie op Mars
’n man op die maan
Jou tegnologie
Wat wondere verrig
Jou geleide missiele
En optiese kabels
Wat die aardbol ’n klein dorpie maak
Jou geldmag en prag
Jou paleise en torings
Wat in die hemele speelplek maak
Jy wat die heelal se biljoene ligjare kan bespied
En tog God nie kan sien.
Hoe weeg jy
Teen Hom wat op waters loop
Hy wat aan sterre ’n plek gegee het
bloot net met sy gedagte?
Hoe meet jy jouself
teen Hom wat die fynste wyn
van Galilese waters maak?
Kan jy staan teen Hom
wat met armes magtige dade verrig
wat met swakheid die wêreld oorwin
Hy wat ’n stal en ’n kruis kon gebruik?
Hy wat omsien na wese en weduwee
sonder omhaal van woorde?

Mens
Jou grootste mag
Jou mooiste dade
Jou beste van bestes
is stof
voor Hom

Mens
Jou rykdom
is maar ’n spikkel
in die raamwerk
van wat Hy is
Hy maak die reën en die dou
Hy regeer die heelal
wat jy sukkellend verken
Hy heers van see tot see
en die waters wat jy nie kan tem
Hy laat die droë spruite in die Suidland blom
Hy gee weiding aan sy kudde
Hy laat verlamdes loop
En blindes sien –
En jy poog ’n bril te maak

Mens
jou kennis en wysheid
kan nie sy grootte omvorm
Hy is groot
Hy is God
Jy bloot mens
– uit Groot is die Heer van André Boezak

Gebed
Vader aan wie die heerlikheid behoort,
God van ons Here Jesus Christus,
gee ons wysheid deur u Gees.
Openbaar U aan ons sodat ons U werklik ken.
Gee aan ons gees oë waarmee ons U duidelik sien.
Wys ons die hoop waarheen U ons roep;
wys ons die ware rykdom wat ons erf;
wys ons hoe geweldig groot u krag in ons is.
U werk dieselfde krag in ons
waarmee U Christus uit die dood opgewek het.
U het Hom in die hemele by U laat sit.
Die mag waarmee Hy beklee is,
is veel groter as elke ander mag en gesag;
geen krag of heerskappy vergelyk daarmee nie;
niks wat ons ken of vermoed weeg daarteen op nie.
Alles is aan Christus ondergeskik;
Hy reik bo almal en alles uit.
U het Hom ons Leier gemaak.
Ons is sy liggaam – die liggaam van Hom wat alle dinge op talryke maniere vervolmaak.
– uit Efesiërs 2:15-23, soos aangepas in Woord en Fees 2022

Diens van die Tafel

Uitnodiging
Kom na die tafel van vrede.
Kom na die tafel van liefde.
Kom na die tafel van vreugde.
Kom na die tafel van krag.
Kom na die tafel van Christus.

As alternatief kan “Come to the table” van Sidewalk Prophets gespeel word: Sidewalk Prophets – Come To The Table (Official Lyric Video)

Groot dankgebed
V: O Here God, U alleen is ons lof en aanbidding waardig,
want U is die bron van alle goeie krag en mag. Deur u mag
G: is die hemel en die aarde gevorm.

V: Deur u mag
G: het U ons geskep en aan ons die lewe gegee.

V: Deur u mag
G: word ons gelei en beskerm.

V: Deur u mag
G: het Jesus Christus die dood en graf oorwin.

V: Deur u mag
G: het die Heilige Gees gekom om ons te onderhou en te versorg.

V: En daarom voeg ons ons stemme by al die generasies gelowiges
wanneer ons in lof en dank u grootheid en goedheid besing:
G: Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige.
Die hele aarde is vol van God se magtige teenwoordigheid.
Hosanna vir die Seun van Dawid!
Loof Christus wat in die Naam van die Here kom!
Hosanna in die hoogste hemel!

V: Toe Jesus na die hemel opgevaar het,
het Hy aan sy volgelinge die doop met die Heilige Gees beloof – ons krag van bo.
Here, beklee ons met u Gees
sodat ons U saam met kerke oor die wêreld heen kan dien
en tot diens van u ryk kan wees.
Deur u mag,
G: vul ons monde met stories van u genade.

V: Deur u mag,
G: versterk ons hande vir die werk van u genade.

V: Deur u mag,
G: verander ons om beelddraers van u liefde te wees.

V: In groot vreugde en afwagting, bemagtig deur u Gees,
wag ons vir die wederkoms van Christus.
Almagtige God en Here in wie ons leef, beweeg en is,
ons bid nou soos Jesus ons geleer het:
G: Ons Vader wat in die hemel is …

Instellingswoorde
Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het.
As iemand van hierdie brood eet, sal hulle vir ewig leef.
Daarom: Eet en ontvang die ewige lewe.
Ek is die water van die lewe.
As iemand van hierdie water drink, sal hulle in alle ewigheid nooit weer dors kry nie.
Darom: Drink en word versadig.
– uit Ascension Sunday or Easter 7A – Life in Liturgy

Gebed
God, ons Vader,
vul ons met vreugde
in die hemelvaart van u Seun, Jesus Christus.
Laat ons Hom in die nuwe skepping in volg,
want sy hemelvaart is ons heerlikheid en hoop.
Deur die Vader, Seun en Gees
in alle ewigheid.
– uit Prayerist: Ascension Day Prayers (vry vertaal), aanlyn beskikbaar by www.churchyear.net/ascensionprayers.html

Sang
Lied 425:1, 4 “Kyk, die Heer het opgestaan”

Indien die nagmaal nie gevier word nie, kan die volgende skuldbelydenis en gebed hier gebruik word.

Skuldbelydenis
V: Here Jesus Christus, in U sien ons mag wat ons verstand te bowe gaan.
U het oor die dood getriomfeer en nuwe lewe voortgebring;
U is verhewe bo alle aardse magte;
U is die hoof van die kerk.
Tog sien ons dikwels nie u mag in ons lewe raak nie.
G: Ons sien geweld in die wêreld;
ons sien onreg in ons gemeenskap;
ons sien die honger en nood van ons bure;
ons sien ’n verlange na iets meer;
ons sien mislukkings en foute in ons lewe;
en in al hierdie dinge voel ons magteloos.

V: Vergewe ons ons weifeling om U aan te roep.
Vergewe ons ons geneigdheid om op onsself staat te maak.
Vergewe ons ons huiwering om u mag te erken.
Spreek weer u woorde van mag.
Laat u wil geskied, soos in die hemel so ook op die aarde.
Amen.

Mag God aan jou ’n gees van wysheid en openbaring skenk
sodat die mag van Jesus Christus in jou lewe sigbaar sal word.
G: Deur die genade van Jesus Christus is ons vergewe
en bemagtig om te dien.

Gebed
Almagtige God en Here,
deur Jesus Christus het U u mag aan ons bekendgemaak;
mag wat geen aardse gelyke het nie.
Verlig die oë van ons harte
sodat ons dié mag,
asook die werking van dié mag,
in ons lewe kan sien.
Stort u Gees van mag oor ons uit
sodat ons u heerlikheid
en genade sal verkondig.
Amen.

God stuur ons uit

Uitsending
V: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies
wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.”
In die teenwoordigheid van Christus het ons bymekaargekom.
G: In die genade van Christus gaan ons hiervandaan voort.

V: God sal jou beklee met goddelike mag.
G: God se mag is werksaam in ons elkeen.

Slotlied
Lied 428:1, 3, 4 “Loof Christus, roem sy wonderdade”

Seën
God wat Christus deur geweldige mag uit die dood opgewek
en Hom in die hemel aan die regterhand van God laat sit het,
sal dieselfde kragtige werking van Gods mag uitoefen in ons wat glo.
– uit Efesiërs 1:18-19
Of:
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.
Amen.

Preekstudie Efesiërs 1:15-23

Teks

Die Revised Common Lectionary (RCL) se afbakening van ons fokusteks vir dié Hemelvaart-feesdiens in die liturgiese jaar staan in die 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel onder die opskrif: “Voorbidding en geloofsuitspraak.” Dit is deel van Paulus se lof aan God wat die hele Efesiërs 1 (behalwe v 1-2) insluit. Die 2020-vertaling se indeling van Efesiërs vat die inhoud van vers 3-23 saam met die woorde: “Lof aan God, danksegging en voorbidding.” Binne die konteks van die liturgiese jaar verbind die RCL hierdie gebedsfokus aan die viering van Jesus se hemelvaart.

In vers 3-14 lê Paulus klem op lof aan God die Vader van ons Here Jesus Christus (Grieks: ho theos kai patēr tou Christou). Hy getuig lofprysend (Grieks: eulogētos) oor God se seën in Christus met alle geestelike gawes en van God se uitverkiesing en heiliging van die gelowiges as sy kinders (v 3-6). Paulus loof God verder vir Jesus se bevryding deur sy bloed en vergewing van ons oortredings (v 7). Paulus voeg by dat God ook die geheimenisse van sy wil aan ons bekendgemaak het. In Christus het God ons as erfgename uitverkies (v 11) en in Hom is ons verseël met die Heilige Gees wat beloof is (v 13). Paulus beskryf die Heilige Gees as waarborg (Grieks: arrabōn) van ons erfenis (v 14).

Ons perikoop begin met Paulus se verwysing na die geloof van die ontvangers van sy brief, soos wat hy deur berigte oor hulle verneem het. Hy noem twee kenmerkende eienskappe van sy lesers. Hulle glo naamlik in die Here Jesus (Grieks: humas pistin en tō kuriō Iēsou) en hulle betoon liefde vir al die heiliges (Grieks: tēn agapēn tēn eis pantas tous hagious, v 15). Die gevolg van dié gunstige getuienis aangaande die gelowiges aan wie Paulus skryf, is dat dankbaarheid in hom roer oor hulle en dat hy hulle in sy gebede aan God voorhou met dank (Grieks: eucharistōn, v 16).

Paulus gaan voort met sy uiteensetting van die inhoud van sy gebede vir die gelowiges by God. Hy beskryf God omvattend as “die God van ons Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid”. (Grieks: ho theos tou kuriou hēmōn Iēsou Christou ho patēr tēs doksēs, v 17). Volgens Markus Barth het die uitdrukking “Vader van die heerlikheid” ’n priesterlike agtergrond uit ’n liturgiese konteks. Paulus bid om spesifieke gawes van God vir die lesers van sy brief:

  • geestelike wysheid en geopenbaarde kennis van God;
  • geopende geloofsoë om die hoop wat sy roeping bied in te sien;
  • insig in wat die heerlike rykdom van God se erfenis behels vir die heiliges; en
  • kennis van God se groot mag vir die gelowiges deur die werking van sy krag wat Hy in Christus uitgeoefen het met sy opwekking uit die dood.

Barth suggereer die vertaling “so that you fully, or really know him” vir begrip van die vier dimensies van God se wysheid en die liefde van Christus wat alle verstand te bowe gaan (v 18-19). Volgens Barth kombineer die Griekse teks hier drie indirekte vrae waarvan die antwoord op almal “kennis” is. Wat is die hoop? Wat is die rykdom? Hoe groot is die krag? (Sien JH Roberts se bespreking van die inhoud van die kennis wat Paulus vir sy lesers begeer, in terme van die drie gebedsversoeke.)

Naas die gawes aan die gelowiges waarvoor Paulus bid, bely hy sy geloof in Christus. Hy beskryf Christus se posisie. Na Christus se opwekking (Grieks: egeiras) uit die dood het God se mag Hom in die hemele aan sy regterhand laat sit (Grieks: kathisas en deksia autou en tois epouraniois, v 20). Barth skryf Paulus wil met ’n opstapeling van woorde “wants to point out the absolutely unique and superior power exerted by God in the resurrection of Christ”. Volgens Barth besing hierdie verse slegs Christus se opstanding en verhoging, nie ook sy vernedering nie. Hy meen indien vers 20-23 hoegenaamd ’n himne is, moet dit ’n opstandingspsalm genoem word. Stephan Joubert skryf dat Paulus se teologie nou singbaar geword het en dat hy God se genade besing aan die hand van tipiese liturgiese gebede vanuit die sinagoges.

Paulus brei verder uit oor Christus se posisie in die hemel en die mag wat Hy daar het. (i) Hy beklee ’n posisie bo elke owerheid (Grieks: kuriotētos) en gesag (Grieks: eksousia) en mag (Grieks: dunameōs) en heerser (Grieks: archēs), asook bo elke naam (Grieks: pantos onomatos) in hierdie en die toekomstige bedeling (Grieks: tō aiōni toutō alla kai en tō mellonti, v 21). Die mag van God word onderskei deur die substansie daarvan, naamlik liefde. In vers 22 gebruik Paulus ’n beeld uit Psalm 8 om Christus se omvattende gesag te beskryf: “God het alles onder sy voete gestel” (Grieks: panta hupetaksen hupo tous podas); (ii) God het Christus ook aan die kerk gegee as Hoof oor alles (Grieks: edōken kafelēn huper panta tē ekklēsia, v 22; sien Roberts se bespreking hiervan).

Paulus brei vervolgens uit oor die identiteit van die kerk in haar verhouding met Christus. Barth wys egter op die interpretasie-uitdagings wat hierdie vers oplewer in terme van woordeskat en die konsep “liggaam van Christus”. Nietemin, die kerk beklee ’n besondere posisie as liggaam (Grieks: to sōma autou) van Christus, die eerste verwysing in Efesiërs na die kerk as liggaam van Christus. Die kerk is ook die gestalte van die volheid van Christus wat alles in almal vul (Grieks: to plērōma tou ta panta en pasin plēroumenou, v 23). Joubert beklemtoon die tema van God se oorvloed waarvan Paulus bewus geword het en waarvoor hy nou ook vir sy lesers bid. Die grammatikale subjek van die stellings in vers 20-22 is God self, terwyl die subjek in vers 23 skielik verander na die kerk. Hier vervang die naamwoord “kerk” vir die eerste keer in vers 22-23 “ons” met verwysing na God se volk. Barth skryf: “… the ecclesiological statement of 1:23 has more emphasis than the preceding affirmations about God and the Messiah. But it is impossible to bypass the triumphant theology and Christology of 1:19-22 in favour of the ecclesiology of 1:23.”

Konteks

Barth wys daarop dat Efesiërs 1:15-23 in Grieks een lang sin vorm. Paulus begin met danksegging aan God vir die geloofsgetrou van die heiliges (v 15-16). Dan doen hy voorbidding vir die gawe van die Gees as openbaarder van die hoop en kennis wat God beskik (v 17-19). Een van die insigte waartoe die gelowiges moet kom, is van God se unieke krag (v 19). Dié krag word geprys met verwysing na Christus se opwekking uit die dood en sy troonbestyging bo alle magte (v 20-21). Die skrifgedeelte eindig met ’n kort beskrywing van wat Christus, die Here oor alle kosmiese magte, vir die kerk beteken. Christus ís Hoof van die kerk en Hy vul sy kerk (v 22-23). Die passasie eindig waar dit begin het, met die gemeenskap van die heiliges. Barth skryf: “But while the saints were described at the beginning as being ‘in Christ,’ at the end Christ seems to be portrayed as the one who is filling them.”

Met die oog op Hemelvaart in die liturgiese jaar word vers 20-23 uitgelig as lofprysing oor Christus se opstanding en verhoging. Barth identifiseer vier stappe (die eerste twee het betrekking op ons skrifgedeelte) in Paulus se bespreking van Christus se opstanding. Paulus begin met die stelling dat die unieke en sterk krag van God aan die werk is in die opstanding en verhoging van die Messias (v 19-20). Hy sluit af met lofprysing oor die mens se verlossing en herskepping tot goeie werke deur genade alleen (2:8-10). Die vier stappe verbind die lofprysing oor God se krag met lofprysing oor God se genade. Genade is God se oordadige, gratis en onverdiende omgee en liefde (Joubert).

Stap een (1:20-22a): Deur sy verhoging is die Messias aangestel “bo elke owerheid en gesag en mag en heerser” (2020-vertaling; Engels: principalities and powers).

Stap twee (1:22b-23): Hy is aan “die kerk gegee, as Hoof oor alles” (2020-vertaling) en Hy vul die kerk, net soos wat Hy die Hoof is oor alle dinge en dit ook vul.

Stap drie (2:1-6): Heidene wat dood was deur hulle oortredinge en sondes, asook gevangenes van die “heersers oor die mag van die lug” (v 2, 2020-vertaling), én Jode was almal “van nature kinders bestem vir die oordeel” (v 3, 2020-vertaling). Maar God het almal “in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel” (v 6, 2020-vertaling).

Stap vier (2:7): Die bewys van God se genade dien as aanduiding van en opdrag tot omhelsing van die allesoortreffende rykdom deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus, teenoor enige toekomstige tydsgewrig of demoniese magte wat ons mag bedreig. Barth skryf: “The ‘infinitely rich grace’ of 2:7 is not without the ‘exceedingly great power’ mentioned in 1:19.” Sy gevolgtrekking is dat Efesiërs beide die politieke en kosmiese relevansie van die opstanding beklemtoon, wat ’n nuwe en goeie bedeling vir die ganse skepping bewerk.

Roberts bespreek Efesiërs 1:19b-21 met verwysing na die groot krag van God wat ontvou het met die opstanding van Christus uit die dood en waarmee Hy Christus aan sy regterhand in die hemele laat sit het. God is slegs kenbaar vir ons mense deur sy handelinge met Jesus. Ons moet na Jesus kyk om iets te verstaan van God se mag. In Paulus se verkondiging hier bestaan die kragtige werking van God se mag daarin dat Hy sy Gesalfde (Messias) uit die dood opgewek het tot die lewe, en selfs méér as dit gedoen. God het sy buitengewone krag geopenbaar in nog ’n verlossingshandeling deur Christus in die hemele aan sy regterhand te laat sit. Roberts hoor die boodskap van dié verse in twee aspekte:

  • Die onderlinge verhouding en gemeenskap van die gelowiges met mekaar en hulle vertroue in God; en
  • die verlange by die gelowiges na (derde gebedsversoek) dieper insig in hulle toekomsverwagting met betrekking tot die rykdom van hulle erfenis en die groot krag van God wat tot hulle beskikking is.

Roberts bespreek Efesiërs 1:22-23 as “confessional pronouncement about God’s dealings with his Anointed”. Volgens Roberts is vers 22 nie meer deel van die gebed nie. Dit bevat eerder ’n stelling of verklaring met ’n implisiete belydenis wat voortspruit uit die voorafgaande formulerings. Roberts noem interpretasieprobleme met vers 22 en identifiseer drie kwessies rakende Jesus se posisie wat in die teks aan die orde is:

  • God het alle dinge aan Jesus onderwerp;
  • God het Hom hoof gemaak van alle dinge; en
  • God het Hom aan die kerk of gemeente gegee.

Roberts kies die vertaling “he gave Christ” en nie “he appointed Christ” nie. Hy oordeel “gee” laat reg geskied aan die drie basiese stellings in die belydenis. Die belydenis van vers 22 en 23 handel uiteindelik oor twee kwessies. Eerstens is daar die verhewe posisie van Jesus as opgestane Here, en tweedens die betekenis wat God se gawe van verlossing vir die kerk en sy lede inhou. Roberts skryf: “It is of prime importance that God exalted his Anointed to the position of absolute Sovereign above every other institution of authority.”

Met die oog op prediking van ons skrifgedeelte by die Hemelvaart-feesdiens, in aansluiting by die belydeniskarakter van vers 22-23, kan twee perspektiewe oorweeg word. ’n Eerste perspektief is Roberts se mening dat die kontemporêre kerk en geloofsgemeenskappe eweneens behoefte het aan ’n dieper kennis van God. Dit het betrekking op die sosio-politieke en ekonomiese asook geestelike kontekste waarbinne die gemeente in 2024 Christus se hemelvaart vier. Barth haal in dié verband Hosea 4:6 aan: “My volk kom om weens ’n gebrek aan kennis” (2020-vertaling). Predikers sal uit eie ervaring en konteks kan bepaal hoe geldig Barth se mening is en hoe toepaslik Hosea 4:6 vir hulle gemeentes en ons tydsgewrig is.

Die tweede perspektief fokus op die tema van belydenis en suggereer dat ons die belydenistradisie van ons denominasie(s) in herinnering roep as element van ons kennis van God. In aansluiting by die voorafgaande bespreking van die Efesiërs-teks, kan die Heidelbergse Kategismus oorweeg word. Sondag 17 handel oor die nut van die opstanding van Christus vir ons, terwyl Sondag 18 die aandag vestig op ons verstaan van die volgende klousule van die Apostoliese Geloofsbelydenis: “… wat opgevaar het na die hemel.” Sondag 19 (V&A 50) vra waarom die volgende klousule bygevoeg word: “… en sit aan die regterhand van God.” Ons noem hier V&A 49 oor die nut wat die hemelvaart van Christus vir ons, asook V&A 51 oor die nut wat die heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons inhou.

Die nut van Christus se hemelvaart vir ons (V&A 49) is eerstens dat Hy in die hemel ons voorspraak is by die Vader. Tweedens het ons ons menslike natuur in die hemel as ’n betroubare waarborg dat Hy, as die Hoof, ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem. Derdens dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie. Die antwoord op vraag 50 is: “Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Homself daar as Hoof van sy Christelike kerk kan betoon deur wie die Vader alles regeer.” Die nut van hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons (V&A 51) is eerstens dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort. Tweedens dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar.

Die herinnering aan kerklike belydenisskrifte in aansluiting by die fokusteks vir die Hemelvaart-feesdiens en die verdiskontering van die liturgiese jaar, vra dat predikers ook aandag skenk aan die ander RCL-tekste vir hierdie feesdiens. Die tekskeuse vir Woord en Fees sluit Psalm 93 in as een van die alternatiewe tekste. Naas Psalm 93 is die ander twee tekste Handelinge 1:1-11 en Lukas 24:44-53.

Psalm 93 getuig van die Here se regering (heerskappy/koningskap) in majesteit. Die psalmis gebruik die metafoor van ’n kledingstuk om die krag te beskryf waaroor die Here beskik. Hy getuig van die stabiliteit van die wêreld en die ewigdurende karakter van die Here se troon. Die psalmis vergelyk die mag van die Here met die seestrome. Die Here is magtiger, sy bepalings betroubaar en sy huis heilig (2020-vertaling).

Lukas 24:44-53 verhaal Jesus se gesprek met sy dissipels tydens sy verskyning aan hulle nadat die Emmausgangers aan hulle rapporteer het dat hulle die Here gesien het. In vers 44-49 herinner Jesus sy dissipels aan sy woorde toe Hy nog saam met hulle was, naamlik “dat alles wat in die Wet van Moses en die Profete en die Psalms oor My geskryf is, vervul moet word” (2020-vertaling). Jesus het hulle verstand geopen om sy woorde te verstaan. In vers 49 bevestig Jesus die belofte van die Heilige Gees en versoek die dissipels om in Jerusalem op die vervulling van die belofte te wag. Vers 50-53 vertel dat Jesus sy dissipels uit die stad uitgelei het tot by Betanië, waar Hy in die hemel opgeneem is. Die dissipels het na Jerusalem teruggekeer en God op die tempelterrein bly prys.

In Handelinge 1:1-11 herinner Lukas vir Teofilus aan sy eerste berig oor alles wat Jesus begin doen en waaroor Hy onderrig begin gee het, tot die dag dat Hy opgeneem is (waarvan Luk 24:50-53 vertel). Vers 6-7 verhaal die dissipels se verwagting ten opsigte van Jesus en die oprigting van die koninkryk van Israel. Jesus korrigeer hulle verwagting met klem op die feit dat die Vader in sy eie mag die geleenthede bepaal. Lukas herhaal Jesus se belofte van die Heilige Gees en dat hulle Jesus se getuies sal wees (v 8). In vers 9 word Jesus uit hulle gesigsveld weggeneem en staar die dissipels met onbegrip na die hemel wanneer twee mans met wit klere by hulle verskyn (v 10). Die mans vra die dissipels waarom hulle so na die hemel staar en verseker hulle dat Jesus net so sal terugkom soos wat hulle Hom na die hemel sien weggaan het (v 11).

In Coenie Burger se boek Waar is Jesus nou? gee hy aandag aan die vraag oor hoe Jesus ná sy hemelvaart onder ons teenwoordig is. Hy skryf op bladsy 223: “Die boodskap van dié boek is dat Jesus nie weg is nie. Die probleem is net dat mense Hom nie altyd kan sien nie. Ons taak is dan om as (hopelik herkenbare!) verteenwoordigers van Jesus langs hulle te gaan staan en saam met hulle te probeer kyk hoe die Here ook nou in hulle lewe teenwoordig is en wat sy plan met hulle is. […] Dit gaan uiteindelik nie net daaroor dat hulle Jesus sien en begin verstaan wat Hy besig is om in hulle lewe te doen nie, maar ook dat hulle verhouding met Hom herstel word.” Op bladsy 225 skryf Burger: “[Jesus] is steeds elke oomblik by ons as ons Hoëpriester. Hy is langs ons om ons by te staan, en gereed om al die gawes van sy kruisdood en opstanding na mense te bring.”

John van de Laar (in aansluiting by Burger) suggereer dat ons in ons tydsgewrig moontlik ook te gou wegbeweeg van die hemelvaart af. In die konteks van Suid-Afrika is Hemelvaartdag nie meer ’n openbare vakansiedag nie. Dit vra dat geloofsgemeenskappe intensioneel moet wees met die viering van Hemelvaart as dit deel moet bly van die kerk se geloofsvorming en herinnering. Dit sal vir kontemporêre Christen-gelowiges nut hê om die dissipline van wag in te oefen in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag aan sy dissipels. Die hemelvaart-gebeure maak nie eenvoudig logies sin nie. Daarom is die herhaalde viering daarvan en herinnering daaraan vir geloofsgemeenskappe belangrik.

Preekvoorstel

Met die oog op prediking vir die Hemelvaart-feesdiens kan Barth se gedagtes oor die elemente waaruit Efesiërs 1 bestaan ’n goeie vertrekpunt bied. Hy gee leiding oor hoe ons as geloofsgemeenskappe fees kan vier met Hemelvaart: “The main units contain thanksgiving, intersession, praise of the resurrection, and a description of the church. The main agents are God, the Spirit, and the Messiah … Again, the action of God is not limited to the past. Rather the faith, prayer, and community of the saints are related to that God who is still pouring out his Spirit, increasing knowledge, proving his might over all powers, filling the church and the world.”

In die NG Kerk-familie asook ander denominasies bestaan daar reeds gevestigde gebruike om Pinksterbidure te hou. Binne hierdie kontekste funksioneer die Hemelvaart-feesdiens wel nog. Daar is egter ook tendense wat die klem op die spesifieke inhoud van beide Hemelvaart en Pinkster begin afwater. Geloofsgemeenskappe kies vir tematiese reekse waarin die fokus nie noodwendig val op die heilshistoriese inhoud wat deur die liturgiese jaar beklemtoon word nie.

In aansluiting by Paulus se gebedsfokus op God se verlossingsplan, asook die element van kennis met betrekking tot Christus se posisie in die hemel en die beklemtoning van Jesus se woorde aan sy dissipels in Lukas 24 en Handelinge 1 toe Hy nog by hulle was, kan predikers dit oorweeg om wel die weg te gaan van lering, gebed en belydenis. Hoe verstaan ons in die jaar 2024 dat Christus Hoof is oor alles? Hoe praat, bid, sing en bely ons in ons konteks die boodskap van Paulus se opstandingspsalm (Barth) in Efesiërs 1?

Dit is ook relevant om aandag te gee aan die formulering van die Kategismus en te vra of daar nog enige nut vir ons as Christen-gelowiges is om Hemelvaart te vier en te bely dat Christus aan die regterhand van die Vader sit en oor alles regeer. Hoe beleef ons as belydeniskerk die werklikheid van wat ons bely? Afdeling 4 van Burger se boek bied waardevolle insigte oor wat die Here van ons vra om profete, priesters en koningskinders te wees.

Bibliografie

M Barth, 1981. Ephesians: Translation and commentary on chapters 1-3. New York: Doubleday & Company; C Burger, 2011. Waar is Jesus nou? Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; S Joubert, 2015. “Efesiërs”, in S Joubert & L Maré, Ontsluit die Bybel. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; MA Powell, 2009. Introducing the New Testament: A historical, critical, and theological survey. Ada, Michigan: Baker Academic; JH Roberts, 1991. The letter to the Ephesians. Kaapstad: Lux Verbi; J van de Laar, 2016. “Feast of Ascension Sermon (5 May 2016)”, in Word and worship: Suggested sermon outlines and liturgies. Based on the revised common lectionary, Year C, 2015-2016. Stellenbosch: Ekklesia, University of Stellenbosch; J van der Watt, J Barkhuizen & H du Toit (reds), 2012. Interliniêre Bybel. Grieks-Afrikaans. Nuwe Testament. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy.

© Missio 2024 | All rights reserved.