Hemelvaart

Sections

Oorsig

Hemelvaart is die fees van Jesus se “troonbestyging”. Dieselfde Jesus wat op aarde gelewe het, aan die kruis gesterf, op die derde dag opgestaan het uit die dood, is nou “aan die regterhand van God die Vader” en regeer saam met die Hom oor die hele skepping. Die implikasie daarvan is dat God se heerskappy gekwalifiseer word as ’n heerskappy “op die wyse van Christus” en gekenmerk word deur weerlose liefde en ’n strewe na geregtigheid vir die “geringstes”. In die lig hiervan moet daar gewaak word teen ’n triomfalistiese viering van Hemelvaart en behoort daar klem gelê te word op die feit dit die gekruisigde Here is wat saam met God regeer.

Ander tekste

Psalm 47
God is bo almal verhewe
47 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God
met ’n jubelende stem,
3want aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde:
4Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
5Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob,
wat Hy liefhet.
6God gaan op na sy tempel toe
onder gejubel,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning,
prys Hom met psalms!
8God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom ’n lied.
9God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
10Die leiers uit elke volk
sal hulle verenig met die volk
van die God van Abraham.
Die heersers van die aarde
is onderworpe aan God,
Hy is bo almal verhewe.

Psalm 93
U is van altyd af daar
93 Die Here is Koning,
Hy beklee Hom met majesteit.
Die Here beklee Hom,
Hy omgord Hom met krag.
Die wêreld staan vas, dit wankel nie,
2en vas staan u troon van ouds af:
U is van altyd af daar.
3Riviere het gedruis, Here,
riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas
van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
5U verordeninge staan baie vas.
Heiligheid versier u huis, Here,
tot in lengte van dae.

Efesiërs 1:15-23
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Lukas 24:44-53
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus
(Mark 16:19–20; Hand 1:9–11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Fokusteks

Handelinge 1:1-11
Die belofte van die Heilige Gees
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Ekstra stof

Die verspreiding van die goeie nuus oor Jesus begin uiteraard in Jerusalem, die plek waar God Homself deur die eeue geopenbaar het. Let op hoe die fondasie van die kerk se werk verbind word aan 1) die lewe van Jesus, alles wat Hy gedoen en geleer het, 2) die lyding, sterwe en opstanding van Jesus, 3) die nuwe lewe van Jesus wat Hy met “baie onbetwisbare bewyse” aan hulle gedemonstreer het, 4) die belofte en gawe van die Heilige Gees waarsonder hulle die werk nie kan aanpak nie, 5) die beskrywing van die binnekring dissipels as apostels – dws gestuurdes, en 6) die verkiesing van ’n 12de apostel om simbolies die 12 stamme van Israel te verteenwoordig.

Let ook op dat hulle nou in huise begin bymekaarkom, die begin van die skuif van die teenwoordigheid van God nie net in die tempel nie, maar in elke huis waar Hy gedien word. Hoewel die eerste fase van hulle werk steeds gereeld by die tempel sal plaasvind, sal dit toenemend in huise wees regdeur die Romeinse ryk.

Dit is ook opmerklik dat vroue en mans saam bid, terwyl dit nie die gebruik in die Joodse sinagoges was nie. Soos Jesus uiteindelik die heidene deelmaak van Sy kerk, só doen Hy dit van die begin af met mans en vroue.

Die opdrag van Jesus aan die apostels om te wag (vir die gawe van die Heilige Gees), spreek ’n mens sterk aan. Natuurlik wag ons nie meer presies soos hulle op die uitstorting van die Heilige Gees nie. Ons het Hom as gelowiges immers ontvang en word daagliks deur Hom vervul. Maar dit beklemtoon ook die voortdurende ingesteldheid om nie op eie inisiatief en met eie insig die werk van die Here te probeer doen nie. Dit is juis wanneer ons stil genoeg raak en wag op die leiding van die Here dat ons begin raaksien waar Hy werk en Sy stem hoor om daarby betrokke te raak.

Dit tref ook besonderlik dat Sy broers hierdie keer by is en deelneem aan die eensgesinde gebed. Josef word nie genoem nie, wat waarskynlik beteken dat hy al dood is. Jakobus, die een broer van Jesus, sal in die loop van die verhaal ’n baie belangrike en ook leiers rol begin speel in die vroeë kerk.

Die verwysing na Judas is ietwat grusaam met die beskrywing van wat met hom gebeur het. Dit verskil ook van die prentjie wat Matteus skets (27:5 – opgehang). Augustinus het gereken dat albei beskrywings waar was, dat Judas hom opgehang het, en later op die grond geval en oopgebars het. Maar ons weet nie regtig wat presies daar gebeur het nie.

Die twee Psalms, Psalm 69 en 109, wat in vers 20 aangehaal word, verbind Jesus se lyding met dié van die Messias wat reeds lank tevore voorspel is. Hierdie aanhalings bevestig ook weereens dat wat ons in die voortgaande verhaal van Jesus sien, ook die Ou Testamentiese beloftes vervul. Dit bevestig die enorme betekenis van Jesus se voortgaande werk.

’n Mens kan ook sien dat die kerk van die begin af inval by God se reddingsplan wat die heidene gaan insluit, hoewel dit ’n rukkie vir die kerk sal duur voor die insluiting van die heidene met oorgawe omhels word.

Liturgie

Hierdie liturgie is vir ’n biduur, eerder as ’n volledige erediens.

RUS

Toetrede: Lied 429 of Flam 45 of VONKK 34

Aanvangswoord
Seën

Lofsang: Lied 425 of F207

Koninkrykslitanie

Lofsang: Lied 428 of Flam 170 of Vonkk 32

HOOR

Gebed
Skriflesing
Preek

LEEF

Geloofsbelydenis van Nicea
Gebed

Slotsang Lied 427 of Flam 227 of VONKK 96

Seën

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 429 ‘Die Heer regeer, Hy’t opgevaar” of
Flam 45 “Die Heel Beste Rede” (Kom ons staan voor die Heer en bely dat Hy regeer. Kom sien die Hemelkoning op Sy troon.) of
VONKK 34 O” Christus, Here Jesus”

Aanvangswoord
Voorganger (V): Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.
Gemeente (G): Ons het gesterwe en ons lewe is verborge in God.

V: Wanneer Christus wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn.
G: Ja, ons sal in sy heerlikheid deel. Amen. Halleluja!
(Uit: 2010. Handleiding vir die Erediens, Bybel-Media)

Seën
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
(Op grond van Nicea uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai, Bybel-Media)

Lofsang
Lied 425 (v2: “Kyk die Heer het opgevaar”) of
F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”

Koninkrykslitanie
V: In alle plekke van konflik …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke geweldenaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke soldaat …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke politikus …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke slagoffer van oorlog …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat honger ly …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke daklose …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat wanhoop …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat siek is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat gemolesteer is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat verslaaf is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen met skuld wat nie betaal kan word nie …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat eensaam is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat vrees ervaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat terneergedruk is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van die wêreld …
G: Laat u koninkryk kom.
Amen.
(Uit: 2010. Handleiding vir die Erediens, Bybel-Media)

Lofsang
Lied 428 “Loof Christus, roem sy wonderdade” (v3: Hy hoor ons dank- en smeekgebede) of
Flam 170 “Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)” of
Vonkk 32 “Ons Aanbid U, Christus Heer”

Liedere

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley 1707-1788; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel 1685-1759 © Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1. Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2. Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3. Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4. Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

Vonkk 32 “Ons Aanbid U, Christus Heer”
Teks: Adoramus te Domine – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping

O _______
Ons aanbid U, Christus, Heer.

O _______
Ons aanbid U, Christus, Heer.

O _______
Adoramus te, O Christe.

O _______
Adoramus te, O Christe.

VONKK 34 “O Christus, Here Jesus”
Teks: O Christe Domine Jesu – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

O Christus, Here Jesus,
o Christus, Here Jesus!
O Christe Domine Jesu,
o Christe Domine Jesu!

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.
Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F170. “Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel) (T144)”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Teks en musiek: Retief Burger Kopiereg: © 2008 Urial Publishing
(Opgeneem op Oorgegee)

1. Here, open ons harte, open ons oë,
Here wys ons die ewigheid, dat ons kan glo.
Daar is meer, daar’s soveel meer
om ons lewens voor te gee.

2. Here, leer my van liefde, dat liefde altyd wen.
Here, leer my gehoorsaamheid dat ek kan sien.
Daar is meer, daar’s soveel meer
as ek my lewe weg sal gee.

Pre-refrein:
Here, hier is ek, ek gee myself.
Alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Refrein:
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook op die aarde, in elke tree wat ek stap.
Laat u wil geskied, in ’n hart wat brand vir U.
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook in my lewe, in elke keuse wat ek maak.
Laat u Koninkryk kom, in ’n hart wat brand vir U,
alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Brug:
Doen met my lewe, net wat U wil.
Want U is my Here, doen wat U wil.
Alles wat ek het gee ek vir U.

F45. “Die Heel Beste Rede”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks en musiek: Piet Smit © 2000 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4)

1. Kom ons staan voor die Heer en bely dat Hy regeer.
Kom sien die Hemelkoning op Sy troon.
Laat ons al die hulde bring
en sy lof en eer besing.
Laat ons lofsange die plek wees waar Hy woon.

Refrein:
Hef jou hande na bo!
Al wat Hy vra is dat ons glo.
En as jy weet jy is vry,
is dit die heel beste rede om te

2. … kniel voor die Vader in gebed tot Hom te nader
en Hom as Koning en Verlosser te bely.
Om Hom te dank vir sy genade,
vir sy seën en wonderdade,
want die krag van sy waarheid maak ons vry.

Refrein:

3. …gaan na die nasies want, sy opdrag was basies
om te doen en te lewe net soos Hy.
Want deur sy wonderwerke
is daar nou ook geen perke
aan wat Jesus kan doen deur jou en my.

Refrein:

Hef jou hande na bo!
Al wat Hy vra is dat ons glo.
En as jy weet jy is vry,
is dit die heel beste rede om met

4. …simbaal en drom te raas
en die sjofars hard te blaas
want die groot dag van Jesus kom beslis.
Die dag wat elke knie sal buig
en elke mond nog sal getuig
dat die Ruiter op die wit perd Koning is.

Refrein:
Hef jou hande na bo!
Al wat Hy vra is dat ons glo.
En as jy weet jy is vry,
is dit die heel beste rede vir my.

F227. “Ons Sal Nou Gaan” 
(RUBRIEK: Flammikidz – Getuienis) Oorspronklike titel: Wij zullen gaan Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht © 1997 Celmar Music

1. Toe Jesus opvaar na die hemel
het Hy aan ons die taak gegee:
“Gaan na die nasies en vertel hul,
die Goeie Nuus vir elke een!”
Want alle mense moet dit weet dat
die Heer vir hul gesterwe het,
en as hul glo in Hom as Redder
hy hul verseker dat hul nou vir ewig leef.

Refrein:
Ons sal nou gaan
om die wêreld te vertel
dat Jesus leef
en van alle mense hou.
Ons sal getuig
dat die Here almal liefhet
so word deur ons werk
Gods Koninkryk gebou.

2. As mense ly in hul ellende,
deur oorlog, honger en verdriet.
Dan is dit steeds nog nie die einde
want Hy sê “Ek maak alles nuut!”
Eers moet alle mense weet van
die weg wat Hy vir hul beplan,
sodat hul waarlik vry kan uitgaan
en Hom kan volg en om ook op sy weg te gaan.

Refrein:

3. As Jesus terugkom uit die hemel,
kom Hy met majesteit en eer.
En dan sal elke een/mens moet neerbuig
en uitroep: “Jesus is die Heer!”
En hul wat nooit die Woord wou glo nie,
vir hulle eindig alles sleg…
Dink jy dat jy jouself kan vrymaak
dan is jy tog so dwaas, want Jesus is die weg!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Familie-oomblik

Carolyn Brown stel voor dat jy hierdie geleentheid gebruik om ’n oorsig te gee van Jesus se hele lewensverhaal. Jy kan moontlik prente gebruik van Jesus se geboorte, wonderwerke, preke, intog, kruisiging, leë graf en opstanding. Vertel dan die verhaal van die hemelvaart in jou eie woorde.

Jy kan ook verskillende kunstenaars se uitbeeldings van Jesus se hemelvaart wys voordat jy die skrifgedeelte lees (kyk bv. hier vir abstrakte beelde – doen moeite om ook abstrakte beelde te gebruik). Wys daarop dat almal se uitbeeldings verskil. Lees dan die verhaal uit die Bybel. Wys weer die kunswerke en reflekteer oor die ooreenkomste en verskille. Fokus op die misterie van Jesus se hemelvaart – niemand weet presies hoe dit gelyk het nie. Deel papier en kryte uit sodat elkeen hul eie uitbeelding van die gebeure kan maak.

Meer breedvoerige riglyne is hier beskikbaar.

Preekriglyn

Kinders wat kan wag op beloning, doen beter op skool en vaar oor die algemeen beter in die volwasse lewe wat wag.

Hierdie beginsel is deur Walter Mischel bewys in ‘n eksperiment wat in 1970 met vierjariges gedoen is. Hy het ‘n vierjarige alleen in ‘n vertrek gelaat met ‘n malvalekker (“marshmellow”) en ‘n klokkie. Indien die kleinding die klokkie lui, kom Walter dadelik terug, en die kind eet die malvalekker. Indien die kleinding kon wag dat Walter uit eie keuse terugkom, kry hy of sy ‘n ekstra lekker.

In video’s van die eksperiment, kan jy die kinders sien wriemel, wikkel, bene swaai, hulle oë toedruk, en op hulle hande sit. Hulle is desperaat om selfbeheersing toe te pas. Hulle wil meestal regtig wag om liewer twee lekkers te kry. Hulle optrede het sterk verskil. Sommige kon nie uithou nie, en het die klokkie binne ‘n minuut gedruk. Ander kon tot 15 minute uithou.

Die kinders se verdere ontwikkeling is deur die navorser opgevolg. Diegene wat langer kon wag, het hoër punte op skool behaal. Hulle het toelating tot beter opvoedkundige inrigtings verkry, en het meer as volwassenes bereik. Die kinders wat die klokkie die gouste gelui het, het ‘n hoër persentasie boelies opgelewer. Hulle is tien jaar later swakker deur ouers en onderwysers geëvalueer, en was teen ouderdom 32 meer geneig om dwelmverwante probleme te hê.

Walter Mischel se gevolgtrekking is dat kinders moet leer dit is beter om vir die toekoms te werk, voor te berei en op te offer, eerder as om vir onmiddellike bevrediging van behoeftes te lewe.

Die toekoms is belangriker as wat mens in die hitte van die oomblik mag besef.

Gerig op die toekoms

Die eerste verse van Handelinge is swaar gelaai met intense betekenis. Dit boek open met indringende gesprek oor “tyd en omstandigheid” (7). In hierdie gesprekke val die klem op:

  • God wat in die “tyd en omstandigheid” aktief aan die werk is – onder andere deur Jesus liggaamlik in ‘n nuwe lewe op te wek.
  • Die verantwoordelikheid van Jesus se dissipels in die tyd tot hulle beskikking, met die Gawe wat God hulle gee, en
  • Jesus wat opvaar na die hemel, met die belofte: Hy “… sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het” (11).

Met Jesus se hemelvaart, sê ons teks, is Jesus se dissipels se gesigte gedraai na die toekoms toe. Jesus sal weer kom. Dit is ons verwagting. Hierdie tyd van afwagting is egter nie leë tyd nie. Dis nie tyd om op jou hande te sit, jou bene te swaai, jou oë toe te druk en te sug nie. Die tyd van afwagting is gevul met aksie en betekenis. Die “tyd en omstandigheid” wat die Vader aan Jesus se dissipels gee, is ‘n tyd om die goeie nuus van Jesus se koningskap deur getuienis te deel. Hierdie aksie geskied in vennootskap met God self, wat die dissipels krag gee deur die Heilige Gees oor hulle uit te giet.

Dit beteken Jesus se dissipels werk aktief in alle tye en op alle plekke in diens van God se koningskap, in afwagting op Jesus op die koningskap van God by sy terugkeer ‘n volle werklikheid te maak.

Die lewende Here

Wie is die Jesus wat opvaar na die hemel? In die eerste verste van Handelinge, net soos in die slot van sy Evangelie, word Jesus as die lewende, opgestane Here bekendgestel. Dit is werklik Jesus wat opgestaan het. Hy het met sy dissipels ontmoet. Hy het ‘n getransformeerde liggaam gehad wat werklik kon eet en praat, maar ook meer kon doen. Hy kon verskyn en verdwyn, ook deur geslote deure kom.

Vir ons mag dit klink of Jesus ‘n gees was. Dis nie wat Lukas wou sê nie. Vir hom, en ander skrywers van die Nuwe Testament, was Jesus meer intens liggaam as ‘n “gewone” liggaam, nie minder nie. Jesus se getransformeerde liggaam is die begin van God se nuwe skepping. In God se nuwe skepping, sê tekste soos Openbaring 21 en Efesiërs 1, kom hemel en aarde op ‘n nuwe manier bymekaar. Jesus se opgestane liggaam is die begin hiervan. Dit is die begin van ‘n hemelse werklikheid wat tuis is op God se aarde, en die begin van ‘n getransformeerde skepping wat ten volle tuis is in God se omgewing (die hemelse).

Die rol van die Heilige Gees in die opgestane Jesus se bediening word ook sterk beklemtoon. Jesus gee bevele deur die Heilige Gees (2). Jesus roep Johannes die Doper in herinnering, wat ook Jesus met water gedoop het (5). In hierdie nuwe bedeling, die era van God se nuwe skepping, word Jesus se volgelinge in die Heilige Gees gedoop. Hierdie nuwe werk van God, deur die krag van die Gees, sal ‘n nuwe realiteit in Jesus se volgelinge wees. Vanuit die Heilige Gees, die Gees van Christus, sal hulle die lewe en krag ontvang om Jesus te volg.

Jesus die Koning

Jesus word in die Evangelies as Koning en Here aan ons bekend gestel. Handelinge neem hierdie verhaal van Jesus verder. Hy is die Koning en Here wat nou sy Heilige Gees oor die kerk uitgiet, en opdragte aan sy dissipels gee.

Jesus se hemelvaart is nie ‘n blote “weggaan” nie. Regdeur Handelinge bly Jesus aktief. Op een vlak lyk die boek na die verhaal van die kerk. En dit mag lyk of Jesus weg is. Maar dit is ook ‘n boek oor Jesus die Koning. Jesus is die hoofkarakter, wat op sleutelmomente as Akteur na vore tree. Deurgaans maak Jesus egter van mense gebruik. In hierdie opsig is Handelinge ook ‘n uitnodiging aan ons om deel te neem aan God se aksie in die wêreld.

Die koninkryk van God

Jesus, die lewende Koning, vertel Handelinge, het in die loop van die veertig dae tussen sy opstanding en hemelvaart met sy dissipels oor die dinge van die koninkryk van God gepraat (3). Dit is wat konings doen.

Hieroor vind daar op ‘n dag gesprek tussen Jesus en die dissipels plaas: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (6). Dis ‘n logiese vraag, want Jesus se bediening was onder andere sterk gerig op die herstel van Israel. Die Jode se verwagting was dat God Israel sou herstel, sodat God se koninkryk oor die hele wêreld sou aanbreek, ook tot seën van die heidennasies.

In sy antwoord verduidelik die lewende Here dat sy kruisiging, opstanding en sy hemelvaart alles met die koninkryk van God te doen het. Maar die wyse waarop God se koninkryk kom, is ingrypend deur die kruis en leë graf geraak. God se regering word nie gevestig deurdat Israel weer bo uitkom en oor die nasies regeer nie. Dit kom deur die gehoorsaamheid van Jesus.

God se regering moet nou nuut verstaan word:

Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. (7-8)

Dis nie vir Jesus se dissipels beskore om die tydlyn waarvolgens God se koninkryk kom, te ken nie. Ons hoor egter die koninkryk kom deur die getuienis oor Jesus se werk wat wêreldwyd verkondig word.

Misverstand

Die teoloog NT Wright beklemtoon dat baie moderne Skrifuitleggers Jesus se antwoord misverstaan. Jesus is nié besig om te verduidelik dat die Jode verkeerdelik ‘n aardse, politieke koninkryk verwag, en dat Jesus ‘n geestelike, hemelse koninkryk verkondig nie. Jesus sê nié die aardse is onbelangrik, en dat die vraag eintlik is hoe die dissipels by Hom in die hemel kan gaan aansluit nie.

Nee, Jesus se boodskap is dat God se koninkryk alreeds in hierdie wêreld kom. Dit gebeur deur die werk van Jesus. Dit gebeur nie deur mense uit die wêreld weg te neem nie, maar deur hierdie wêreld te verander. Hierdie wêreld word onder die regering en die veranderende werklikheid van God se hemelse koningskap gebring.

God se regering sal eendag ‘n volkome werklikheid wees, wanneer Jesus weer kom. Dan sal almal die knie voor Hom buig, en dat sy God se gesag en genesing ‘n volkome werklikheid wees. Maar God se koningskap kom nou alreeds, in hierdie wêreld. Dit kom waar mense van Jesus hoor, en voor Jesus as koning en opperheerser buig.

Medewerkers

God se regering kom in hierdie wêreld deur Jesus se dissipels wat sy medewerkers word:

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. (8)

Ons is Jesus se getuies. Handelinge bedoel: In sy opstanding en hemelvaart word Jesus op die troon geplaas. Hy is Israel se Messias, maar ook Koning van die heelal. Hy is die Een voor Wie almal sal buig (Fil 2:10).

In die antieke wêreld, waarin Handelinge afspeel, het die koningskap van die nuwe koning effektief geword deur boodskappers wat die wêreld deurkruis het met die boodskap: “Ons het ‘n nuwe koning!” Dit was altyd goeie nuus, want almal in die antieke wêreld (anders as party mense vandag) het altyd geweet regering is beter as chaos. Regerings kan sleg wees, maar chaos is altyd slegter as slegte regering. Die boodskappers moes daarom die nuwe koningskap aankondig. Verbeel jou boodskappers wat in die Romeinse Ryk rondgaan, van Brittanje en Spanje tot Egipte om aan te kondig: Augustus, Claudius of Nero is die nuwe keiser, en almal moet hom gehoorsaam.

Dit is wat Jesus sê sy dissipels nou moet doen. “Julle vra oor die koninkryk. Julle vra wanneer dit sal gebeur? Wanneer sal Israel verheerlik word as God se volk wat al die ander volke tot die volle kennis van God bring, sodat hulle God kan aanbid? Wel, in ‘n sekere sin het dit nou gebeur deur my dood en opstanding as verteenwoordiger van Israel. Maar ons wag nog op die dag dat God ten volle verheerlik sal word en sy koninkryk ten volle sal deurbreek. Ons leef nou tussen hierdie twee momente. En julle moet die tyd vul deur my koningskap oor die hele wêreld aan te kondig.”

Die apostels se boodskap is dat Jesus alreeds koning is en op die troon geplaas is by sy hemelvaart, en dat mense Hom moet ken, liefhê en dien.

Krag vir die agenda

Die verhoogde Christus beloof sy volgelinge krag deur die Heilige Gees. Die woord krag is in Grieks dunamis, waarvan ons woord dinamiet afgelei is. Ons het hierdie krag nodig om weë aan te kondig waarop die wêreld Jesus as koning kan vind en eer.

Die agenda is duidelik: Jerusalem en dan Judea – die plek waar hulle hulle bevind en die omliggende gebied; daarna Samaria (die gehate ander wat regs langsaan gebly het), en dan ook die eindes van die aarde.

Die hele wêreld is die teater waarbinne Jesus se koningskap erkenning sal kry. Hierdie agenda speel hom uit in die boek Handelinge. Ons lees hoe die evangelie van Jerusalem deur Judea, Samaria en tot aan die eindes van die aarde versprei. Dit land selfs aan in die verre Rome, waar Paulus in boeie die evangelie verkondig en met die mense oor die koninkryk van God praat. Alles geskied deur die getuienis van getroue volgelinge, in die krag van die Heilige Gees.

Hemelvaart

Na hierdie intense gesprekke, word Jesus opgeneem na die hemel.

Die “hemel” in die Bybel is God se ruimte. Die “aarde” is ons ruimte. Hemel en aarde is twee kante van dieselfde munt, waarvan die een kant tans vir ons onsigbaar en ontoeganklik is. God woon in die hemel en is vir ons onsigbaar. Tog is God se bedoeling dat hemel en aarde eenmaal verenig sal word – ‘n nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel – waar God self by ons sal kom woon.

Jesus se opstanding uit die dood, en Jesus se hemelvaart, is die tekens en waarborge van hierdie verstommende vernuwing wat God bring. Jesus se verheerlikte liggaam is die loodsprojek en die waarborg van die volle verheerlikte werklikheid waarvan ons eenmaal deel sal wees.

Jesus gaan na God se ruimte, met sy verheerlikte liggaam, om daar te regeer en te werk aan God se nuwe werklikheid, wat eenmaal volkome ons deel sal word. Daar is reeds ‘n mens in die verheerlikte teenwoordigheid van God – die mens Jesus. Wanneer God na sy Seun kyk, sien Hy die gesig van mens. Dit is die waarborg dat ons, wat in Jesus is, ook eenmaal hierdie heerlikheid sal deel.

Wat het die dissipels hiervan verstaan?

Moderne mense is geneig om aan die dissipels as naïewe, onkundige mense te dink wat gedink het Jesus word ‘n ruimtevaarder wat na ‘n hoër verdieping in ‘n drie-verdieping wêreld gaan. Dit is nie so nie. Teen die tyd van die Nuwe Testament was dit al eeue bekend dat die aarde ‘n sfeer is. Lukas het geweet Jesus vaar nie verby die maan en sterre tot by God nie.

Die taal in ons teks is betekenisvol. Jesus is “opgeneem,” ‘n wolk het Hom “weggeneem.” Opneem en wegneem in ‘n wolk dui op die oorgang na God se ruimte of God se dimensie. ‘n Wolk in die Bybel is dikwels die teken van God se teenwoordigheid. Hierdie wolk sal eendag weggeneem word wanneer Jesus weer kom en God se dimensie en ons s’n verenig word.

Hierdie woorde roep Daniël 7 in herinnering waar die Seun van die Mens op die wolke na God gebring word en dan alle mag en gesag ontvang. Hy kry veral mag oor al die magte van chaos wat verwoesting saai. Hierdie gesig pas presies in by Lukas se weergawe van die hemelvaart in Handelinge 1. Die Seun van die Mens, ‘n titel wat Jesus vir Homself gebruik, wat aangeveg is deur die bose magte en die dood, oorwin en ontvang die heersersgesag oor alle dinge.

Die dissipels kon die hemelvaart dus eien vir die gelade oomblik was dit was. Hulle kon Jesus se koningskap sien vir die onherroeplike wending wat dit aan die wêreldgeskiedenis bring.

Boodskap

Handelinge 1 is ‘n gelade teks, vol betekenis.

Ons ontvang hier die versekering dat Jesus die Here is, wat aan die regterhand van die Vader geplaas is.

Jesus is weg, maar dit beteken nie ons is alleen nie. Die Vader en Jesus skenk die Heilige Gees aan ons wat ons bekragtig tot diens. Jesus is by ons deur die Heilige Gees.

Ons is medewerkers van God wat hierdie aarde transformeer deur die boodskap van Jesus na alle mense te neem. Die sendingveld is hier en daar, in ons onmiddellike omgewing, ons groter konteks en land, maar ook die eindes van die aarde. Ons het ‘n taak om die koningskap van Jesus te verkondig.

Ons is nie in leë tyd waar ons moet probeer uithou tot ons ‘n malvalekker kry nie. Ons moenie sit en bene swaai, voete skop, ons oë toedruk en bloot probeer uithou tot die einde nie. Ons leef in wonderlike tye, gevul met betekenis, vol dinamiese geleenthede om God te dien en van Jesus se lewe, werk en lering te getuig.

Die angel is uit die toekoms gehaal. Die toekoms is nie iets wat ons moet vrees nie. Ons oë is na die toekoms gedraai. Ons verwag Jesus. Jesus sal weer terugkom net soos Hy gegaan het. Die toekoms is in Jesus se hande, en ons ontvang dit uit sy hand.

Diegene wat hulle oë op hierdie Jesus hou, en met hulle gesigte na die toekoms leef terwyl hulle God dien en van Jesus getuig, is die mense met ‘n betekenisvolle, gevulde lewe en toekomsverwagting.

God stuur ons om te leef

Geloofsbelydenis van Nicea
Gebed

Slotsang
Lied 427 “Alle volke, loof die Koning!” of
Flam 227 “Ons Sal Nou Gaan” (Toe Jesus opvaar na die hemel het Hy aan ons die taak gegee) of
VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer” (v2 Die Heer het opgevaar, sit aan Gods regterhand. Kyk, Hy regeer vandaar en hou sy kerk in stand)

Seën
Voorganger: Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal getuies van die Here wees tot in die uithoeke van die wêreld.
Gemeente: Amen (gesê of gesing).
(Uit: 2010. Handleiding vir die Erediens, Bybel-Media)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.