Hemelvaart

Sections

Oorsig

Hemelvaart is dikwels ’n moeilike fees om te vier, want dit voel of mens Christus se weggaan vier, terwyl juis die teendeel waar is – Hy gaan juis weg om nader te kom. In die 2012-2013 bundel haal Michiel Strauss ’n treffende gedeelte deur Thielicke aan.

“The ascension does not mean that Jesus leaves us; on the contrary, it means that He comes terribly near to us. The boundary between this world and the Beyond which has been passed on Christmas night, is just being crossed once again, and in a new way. Before, when He walked the earth, He was close to only a few – only the little group of disciples; his presence was limited by space and time. Only a few heard his word in those days; today it spans the world. Then only a handful of his friends could plead, ‘Stay with us, for it is towards evening’, today millions of hands fold in prayer and where two or three are gathered He will be amongst them. He passes through the door of our homes and through the walls of prisons . . .”
(Thielicke, H 1968. I believe; The Christian’s Creed. Philadelphia: Fortress Press.)

Om beide van die preekstudie se riglyne te ondervang, fokus hierdie liturgie op God se regering deur Christus in die hemel, maar veral op die aarde. Sien gerus ook die voorstelle wat in die preekstudie by die twee verskillende invalshoeke gemaak word. Die psalmteks roep alle volke op om die Here te loof en prys, daarom is hierdie ’n meer sanggerigte liturgie. Enige preek oor Psalm 47 kan nie anders as om oor te loop in lof en aanbidding nie, daarom dat die grootste lofprysing ná die preek gebeur eerder as aan die begin van die diens.

Ander tekste

Lukas 24:44-53
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus
(Mark 16:19–20; Hand 1:9–11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Handelinge 1:1-11
Die belofte van die Heilige Gees
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Efesiërs 1:15-23
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Psalm 47
God is bo almal verhewe
47 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God
met ’n jubelende stem,
3want aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde:
4Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
5Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob,
wat Hy liefhet.
6God gaan op na sy tempel toe
onder gejubel,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning,
prys Hom met psalms!
8God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom ’n lied.
9God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
10Die leiers uit elke volk
sal hulle verenig met die volk
van die God van Abraham.
Die heersers van die aarde
is onderworpe aan God,
Hy is bo almal verhewe.

Ekstra stof

Die tweede Psalmboek fokus veral op die tema van die God as Koning van al die nasies en van die hele aarde (Ps. 46:11).  Dié tema word telkens aangeroer in die lig van die ervaring van geweldige teenstand van vyand(e) (Ps. 42:10; 43:2; 44:8,11,17; 54:5; 56:2; 59:2) en teëstanders (Ps. 42:11; 44:6,11), selfs van vriende (Ps. 54:14) wat verraderlik geword het.  Die vyande word beskryf as ’n godlose bende (Ps. 43:1), vals en misdadige mense (Ps. 43:1), geweldenaars (Ps. 54:5), en moordenaars en bedrieërs (Ps. 55:24).  Tussen-in is daar uiteraard ook ’n erkenning van persoonlike skuld  in die onvergelyklike Psalm 51 van Dawid.

Dit is interessant dat waar die gebruik van die persoonsnaam van God, Jahwe, in die eerste Psalmbundel  (Ps. 1-41) oorheers het (Jahwe 277 – Elohîm 48), word die algemene naam vir God, Elohîm, hier in die tweede Psalmboek (Ps. 42-72) veral gebruik (Elohîm 188 – Jahwe 31).  In die derde Psalmboek (Ps. 73-89) word dit min of meer dieselfde aantal keer gebruik (Elohîm 59 – Jahwe 43) en in die vierde (Ps. 90-106) en vyfde (Ps. 107-150) Psalmboek oorheers die gebruik van die persoonsnaam Jahwe weer (4de: Jahwe 101 – Elohîm 19; 5de: Jahwe 226 – Elohîm 28).

Die klem is dus in die tweede en derde Psalmboeke meer op God se mag en gesag oor alle mense, vanweë die gebruik van die algemene Godsnaam, Elohîm.  Daarteenoor was die klem in die eerste, vierde en vyfde Psalmboeke meer op God se verbondsverhouding met Israel, vanweë die gebruik van die persoons- en verbondsnaam van God, Jahwe.

Dit maak sin in die lig van die klem op die vyande, waarin die bure (Ps. 44:14) en die nasies (Ps. 46:7) en hulle konings (Ps. 48:5) ’n groot rol speel.  God se heerskappy oor alles wat leef, is dus ’n baie belangrike perspektief wat hoop gee en vrede en berusting bring, bv. in Ps. 46:11 – “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” Let veral op dat dié Psalm ook nie net van berusting te midde van een of ander persoonlike krisis praat nie (soos baie mense geneig is om die Psalm te gebruik nie), maar van ’n berusting vir die hele aarde, waarin oorlogsugtigheid tot rus kom, ’n ware Messiaanse vredesryk.

Psalm 46-48 is drie lofliedere wat God se beskerming en hulp uit Sion besing.  Dit word daarom Sionspsalms genoem en is heel gepas deur die Koragiete geskrywe en waarskynlik uitgevoer.

Psalm 47 – ’n Verenigde volk van God uit al die nasies
Dit is ’n jubelende Psalm wat nie net die volk van die aartsvaders (Jakob, Abraham) oproep om God se lof te besing bo alles nie, maar alle nasies en hulle leiers saam wil intrek in hierdie loflied aan God.  Want, God is die Groot Koning oor die hele aarde (vers 3,8) en oor al die nasies (vers 9,10).

Die motivering vir hierdie oproep tot lof is tweërlei en vorm die hart van die twee dele van die Psalm:
Lof aan God vanweë sy onderwerping van die nasies – vers 2-5;
Lof aan God vanweë sy vereniging van die nasies – vers 6-10.

Die Here, die Allerhoogste
Let op hoe dit alles by die tempel (vers 6 – die verwante Psalm 24 verbind waarskynlik dieselfde tipe optog met die ark) en voor sy troon (vers 9 – God sit op sy troon as teken van sy heerskappy) gebeur.  Dit sluit dus die aardse en hemelse teenwoordigheid van God in waarmee eintlik die hele geskape werklikheid ingesluit word.  Dit is ook interessant hoe die Godsnaam Allerhoogste (Elyon) vir Jahwe gebruik word, soos dit gereeld in die res van die OT gedoen word waar van die nasies sprake is.  Daarmee word ’n Godsnaam wat ook vir die omringende nasies betekenis sou hê, vir Jahwe gebruik.

’n Verenigde volk
Dit is moontlik dat daar agter hierdie loflied ’n historiese werklikheid sit.  Met die Intog en Inname van die land Kanaän is dit moontlik dat van die onderworpe nasies hulle met die volk verenig het, hoewel ons nie veel Bybelse getuienis daarvan het nie.  Sommige geleerdes stel ook voor dat dié Psalm na die gebeure rondom Hiskia en Sanherib verwys (2 Kon 18-19 – vgl. ook Jes. 36-37) hoewel dit vir my onoortuigend is en daar net te veel verskille is tussen die Psalm se beskrywing en dié van die verhaal in Konings.

Wat meer waarskynlik is, is dat daar in dié Psalm ’n eskatologiese betekenis opgesluit lê, ’n visie vir die toekoms wat die volk opgewonde moes maak oor die droom wat God vir die hele aarde het en waarby alle nasies ingesluit sal word.  Dit maak vir my meer sin om dit so te interpreteer.

Die standpunt word verstrek met die feit dat dít die manier is waarop die NT een van die kerngedagtes in dié Psalm gebruik.

God sit op sy heilige troon
Vers 9 werk met die beeld van God wat op sy troon sit (die woord sit het ongelukkig uitgeval in die N.A.V., soos dit in die oorspronklike teks voorkom) waarmee sy beheer en heerskappy uitgedruk word.

Dit is hierdie perspektief op God wat duidelik ’n groot rol gespeel het in die beskrywing van God in die NT, bv. in die Openbaring van Johannes.  God word daar op verskeie plekke uitgebeeld as die Een wat op die troon sit as teken van die absoluutheid van sy heerskappy (Open 4:2,9,10; 5:1,7,13; 6:16; 7:10,15; 19:4).

Dit is ’n perspektief wat ook op Jesus van toepassing gemaak is, veral na Jesus se opstanding en hemelvaart, wanneer bely word van Hom dat Hy aan die regterhand van God op die troon gaan sit het.

Só het die sinoptiese evangelies dit en só word dit in ’n hele paar NT briewe vermeld.  Paulus en ook die Hebreërskrywer beskou Jesus se troonsbestyging as fundamenteel tot sy werk en ons begrip daarvan (Matt. 23:22; Mark. 16:19; Luk. 22:69; Rom. 8:34; Kol. 3:1; Heb. 1:3; 10:12; 12:2).

Geen wonder dit het só ’n belangrike invloed op ons geloofsbelydenisse van die eerste paar eeue van ons jaartelling gehad nie.  Die belydenis oor Jesus wat sit aan die regterhand van God die Vader is vervat in al die ekumeniese geloofsbelydenisse sowel as in die latere kategismusse.

Die volk van die God van Abraham
Ten slotte is dit interessant om op te let hoe betekenisvol die vereniging van die nasies met die Godsvolk beskrywe word (vers 10).  Die volk waarmee die leiers hulle nasies laat verenig, is die volk van God  en dié God is die God van Abraham.  Daarmee word gesê dat dit in die vereniging ten diepste oor God self gaan en dié mense wat in ’n verhouding met Hom staan.  Abraham was ook nog altyd ’n baie meer verenigende figuur as wat Jakob en die volk van Israel was.  Trouens, Abraham is die stamvader van 3 wêreldgodsdienste: Die Jode, die Christene en die Moslems.  Daarom is die verenigde volk eerder aan hom gekoppel as aan Jakob, wat in dié Psalm meer met die land as die volk geïdentifiseer word (vers 5).

Dit is ook aan dié interpretasie van die universele Godsvolk waarmee Paulus Christenskap verbind wanneer hy sê: “as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename volgens die belofte van God.” (Gal 3:29).  Hy gryp dus terug op die tradisie van Abraham vóór grond ’n tergende nasionale kwessie geword het en vóór die stryd tussen die onderskeie nasies waarvan hy ’n stamvader geword het ’n internasionale saak geword het.

Ek wonder of ’n herwaardering van die rol van Abraham nie die beginpunt van ’n in-diepte gesprek tussen Joodse, Christen en Moslem gelowiges kan wees nie, waarin die visie van God vir ’n verenigde volk gedeel en uiteindelik op ’n gesprek oor Christus kan uitloop nie. ’n Mens mag droom!

Liturgie

BybelMedia se Woord en Fees 2015-2016 stel voor:  “Die hele diens [kan] so ingerig word dat iets van ’n gebeurtenis beleef sal word. Liedere, samesang en solo’s, voorlesings en kort dramatiserings of fotobeelde waar moontlik, kan gebruik word om die atmosfeer te skep wat lei tot die voorlesing van Psalm 47 op ’n wyse wat reg laat geskied aan die karakter daarvan. In gebed kan die Heilige Gees gevra word om aanraking van oog en hart om iets van die Groot Koning te sien.”

RUS

Toetrede: Lied 425

Votum: (Lied 427)

Seëngroet

Lofsang: Lied 547 of Flam 383

Geloofsbelydenis: Lied 426

HOOR

Gebed

Skriflesing: Psalm 47

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Slotsang: VONKK 96 of Flam 1 of Lied 429

Seën

Respons: Lied 425 vers 2 of Lied 189

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”

Votum
Alle volke, loof die Koning!
Oorwinnend gaan hy na sy woning, in goddelike majesteit.
Op ‘n wolk voor mense oë, onpeilbaar deur die hemelboë vaar hy ohoog in heerlikheid.
Aan God se regterhand hou hy sy werk in stand.
Loof die Koning!
Buig voor hom neer, bring aan hom die eer:
Oorwinnaar, Redder, Christus, Héér!
(Lied 427)

Seëngroet
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
(Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

Lofsang
Lied 547 “Alle volke, klap julle hande” of
Flam 383 Al Julle Volke, Klap Julle Hande (Psalm 47)

Geloofsbelydenis
Ek glo in Jesus Christus
die Mens na God se hart
wat God se wil gekies het
om deur die haat en klein begrip
van mense ‘n doringkroon te dra,
en van God geskei te word
in die Godverlatenheid van Golgota ­
die doderyk deurgrond het
en opgestaan het
dat ons onvervreem van God
verby die dood ewig vry kan lewe.

Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou ­–
styf teen die braille van Sy lyf.
(Uittreksel uit “Blydenuus van Geloof” deur Wilhelm Jordaan, aangehaal in “Gebedeboek met liturgiese Voorstelle”)

Lied 426 “Ons sing nou bly ‘n vreugdelied”

Liedere

F383. “Al Julle Volke, Klap Julle Hande (Psalm 47)”
(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks: TT Cloete  © NG Kerk Uitgewers (Psalm 47) Musiek:  Louis Brittz © Urial Ps 47)

Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God met ’n jubel stem,
want aan die Here, die Allerhoogste, kom eerbied toe;
Hy is Koning oor die aarde:

Pre-refrein:
Prys God, prys Hom met psalms, prys ons Koning,
prys Hom met psalms!

Refrein:
Hy is Koning oor die hele aarde;
sing vir Hom, vir Hom ’n lied.
Hy is Koning oor al die nasies, prys Hom op sy heil’ge troon
bo almal verhewe.

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley (1707-1788); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel (1685-1759) Kantoryverwerking: George Frideric Handel (1685-1759)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  © Musiek: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1. Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2. Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3. Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4. Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering) Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en musiek: Noel en Tricia Richards Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht en Jacques Louw
© 1987, 1997 Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Psalm 47

Familie-oomblik

Familie-oomblik

Hier kan jy oulike boekies van Jesus se hemelvaart gratis kry – volkleur en swart en wit.  Druk Ctrl + F en soek “ascension”.  Vertel die verhaal van Jesus se hemelvaart mbv die prente.  Gee dan vir elke kind in die erediens die swart en wit weergawe, sodat hulle hul eie boekies kan maak tydens die preek.

Ouer kinders mag die “connect the numbers” aktiwiteit geniet.  Hier is nog ‘n voorbeeld.

Preekriglyn

Vandag vier ons Jesus se hemelvaart. Vir die Nuwe Testament is Jesus se hemelvaart sy troonsbestyging. Die gekruisigde en opgestane Jesus Christus regeer nou as Koning oor die ganse wêreld.

In ons Gereformeerde geloofstradisie is Jesus se hemelvaart en sy koningskap die ankerpunt in ons geloof. Vanuit Jesus se koningskap kyk ons terug na sy kruis en opstanding, en vooruit na sy wederkoms en die nuwe hemel en aarde wat ons pad is. Vanuit Jesus se koningskap dink ons na oor die wêreld, oor die politiek, oor ons werk, ons ontspanning, ja, elke terrein van ons lewe.

‘n Paar weke gelede, toe die eerste groep kerkleiers gevra het president Zuma moet bedank, is daar ‘n radio-onderhoud met ds Moss Ntlha van die Evangeliese Alliansie gevoer. Die joernalis wou weet of die kerk nie nou by politiek betrokke raak nie. Nee, het ds. Ntlha gesê: Christus is Koning oor die ganse wêreld, en dit sluit ook die konstitusionele krisis in. Op grond van Christus se koningskap, het die kerk ‘n getuienis om te lewer. Op grond van wat Christus die Koning se eis tot reg en geregtigheid, moet die kerk teen valsheid en bedrog getuig.

Dit is tipies Gereformeerde taal. Gelowiges se mandaat om oor elke terrein van die lewe Christus se koningskap na te volg, kom van die Een wat nou op die wêreldtroon sit.

Hier en nou

Gereformeerde mense is diep bewus daarvan dat Christus se koningskap in die teenwoordige tyd afspeel. Lewenswye gehoorsaamheid in die hede is daarom belangrik.

Baie van ons geloofsinhoud speel in die verlede tyd af. Jesus is gebore, het ‘n kragtige bediening en lering op aarde gehad, is kruisig en het opgestaan uit die dood. ‘n Groot deel van ons geloofsinhoud moet nog gebeur, dit is toekomstig: Jesus sal weer kom, oor alles en almal oordeel, en die nuwe hemel en aarde bring.

Intussen is Jesus se koningskap teenwoordige tyd. Dit vul die tyd waarin ons leef. Hy sit nou op die troon, aan die regterhand van die Vader. Hy regeer deur sy Woord en Gees. Nou, hier, hede, teenwoordige tyd. Terwyl verlede en toekoms belangrike oriënteringspunte in ons geloof is, is Gereformeerde mense diep onder die indruk van ons roeping in die hede, in diens van Christus se koningskap.

Psalm 47

Psalm 47 is ‘n loflied aan God, die groot koning wat oor alles verhewe is, en wat nou regeer. Hierdie Psalm word tradisioneel met Hemelvaart verbind, omdat Hemelvaart die viering van Christus se Koningskap is.

Die konteks van Psalm 47 is die Ou Testamentiese erediens, soos bly uit vers 6:
God gaan op na sy tempel toe onder gejubel,
die Here gaan op terwyl die ramshoring blaas.

In die erediens beleef die volk van God die Here se koningskap. Hiervoor loof hulle God. Die lof het verskeie gronde:
Die Here is die Groot Koning oor die hele aarde (3) – alles en almal staan onder sy heerskappy;
Die Here het vir sy volk ruimte geskep tussen al die volk en vir hulle die pragtige land van Jakob gegee (4-5) – die Here hou sy volk vas;
God sit op sy heilige troon, die Koning wat heers oor al die nasies, en verenig hulle met die nageslag van Abraham (8-10).

Die erediens is die ruimte waarin God se koningskap vir die volk helder beleefbaar word. Aangesien Hy regeer, is daar vir die volk vreugde en sekuriteit moontlik. Daarom die oproep dat God geprys moet word met psalms.

In die Nuwe Testament

Die perspektief op God as Een wat op die wêreldtroon sit, speel ’n groot rol in die beskrywing van God in die Nuwe Testament. Dink maar aan die Openbaring van Johannes waar Johannes ‘n hemelse erediens sien afspeel, met God op die troon as die sentrale figuur. Wat ook al gebeur, en hoe sleg omstandighede ook al mag lyk, die finale werklikheid is dat God op die troon sit. Die ganse wêreldgeskiedenis eindig voor sy troon.

Die Nuwe Testament maak hierdie perspektief ook op Jesus van toepassing, veral na Jesus se opstanding en hemelvaart. Van Hom word bely dat Hy aan die regterhand van God op die troon gaan sit het. Hy regeer oor alles.

Jesus se koningskap beteken veral dat Hy oorwin oor al die magte en kragte wat ons lewens kan bedreig. Soos Efesiërs 1:19 vv dit stel:

Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.

God regeer in Christus oor alles, wat beteken dat ons nie uitgelewer is aan die magte en kragte nie.

Nader as wat ons dink

Dit beteken dat Christus nie ver is nie, al voel dit dikwels so. Hoewel ons Jesus nie kan sien nie, is die Nuwe Testament vol daarvan dat Jesus aktief betrokke is by die wêreld, en spesifiek aktief regeer. Dink maar aan Jesus se teenwoordigheid in Handelinge, met die sterwende Stefanus wat Jesus aan die regterhand van die Vader sien staan, en Paulus aan wie Jesus verskyn. Dieselfde geld Openbaring, wat lig op Jesus se teenwoordigheid laat val.

Helmut Thielicke skryf:
Die hemelvaart beteken nie dat Jesus ons verlaat nie. Inteendeel, dit beteken dat Hy geweldig naby aan ons kom. Die grens tussen hierdie wêreld en die wêreld daarbo, wat op Kersaand oorgesteek is, word nog ‘n keer oorgesteek, en spesifiek op ‘n nuwe manier. Toe Jesus vroeër op aarde geleef het, was Hy naby aan ‘n klein groepie, slegs maar die klein klompie dissipels. Sy teenwoordigheid was beperk deur tyd en ruimte. Destyds het net ‘n paar mense sy woorde gehoor. Vandag omspan sy woorde die hele wêreld. Toentertyd kon net ‘n paar van sy vriende pleit: “Bly by ons oor, want dit is amper aand.” Vandag vou miljoene hande in gebed, en waar twee of drie in sy Naam bymekaar is, is Hy teenwoordig. Hy word nie teruggehou deur die deure van ons huise en deur die mure van gevangenisse nie.

Die vrug van Hemelvaart is dat Jesus naby aan ons is en ons vashou. Ons word vandag opnuut bewus hiervan en leer uit hierdie werklikheid leef.

Kan ons dit altyd sien?

Ja, Psalm 47 roep alle volke en maghebbers, tiranne en terreurorganisasies, internasionale konglomerate en raadsale op om die werklikheid te erken: die God wat ons in Jesus ken ís die Koning, aan Hóm behoort al die mag in die hemel én op die aarde.

Maar kan ons dit altyd sien? Nee, natuurlik nie. Partykeer lyk dit of korrupsie die oorhand kry. In die Midde-Ooste en in Noord-Afrika word Christene gewelddadig vervolg. In ons eie plaaslike wêrelde lyk dit dikwels of diewe, boelies en skynheiliges die oorhand het.

Soos Psalm 47, open Hemelvaart egter ons oë vir die werklikheid van God. Ons word genooi om ons lewens aan die Koning toe te vertrou, en vanuit geloof te lewe. Jesus het nie verniet sy dissipels by sy hemelvaart opdrag gegee om terug te gaan Jerusalem toe en te wag op die Heilige Gees nie. Die krag van die Gees, en die vernuwing van die Gees, is die krag waaruit ons lewe onder Christus se koningskap, selfs al kan ons min daarvan sien (Handelinge 1:8).

Gestuurdes

Ons ontvang die Heilige Gees om ons te bemagtig as getuies van Christus. Die getuienis waartoe ons geroep is, is nie net dat Jesus gesterf het en opgestaan het om ons te red en dat Hy weer kom om te oordeel nie. Ons getuienis is die getuienis van hemelvaart: Hy is koning, Hy heers en ons is gestuur om gestalte te gee aan hierdie heerskappy. Ons het die Gees ontvang om hierdie ander, vreemde, teendeel-werklikheid te gaan proklameer met woord en daad. Ons is bekragtig om daar waar Christus se heerskappy, die nuwe werklikheid van sy koningskap nie sigbaar is nie, instrumente te wees dat iets daarvan kan deurbreek.

Dis die primêre funksie van elke gelowige in alle verbande waar ons lewe. Dis ook die taak van die gemeente en die kerk in al haar strukture. Dis wat dit beteken om missionêre kerk te wees. As Gereformeerdes bely ons mos juis dat elke stukkie van hierdie aarde inderdaad aan God in Christus behoort.

Hemelvaart, Jesus se koningskap, wil ons sig op die werklikheid herstel: dat die daaglikse werklikheid, of dit nou glansryke voorspoed of uiterste ellende is, nie die finale werklikheid is nie. Ons belydenis laat ons nie hierdie voor die handliggende werklikheid mis kyk nie; dit plaas dit in perspektief, die perspektief van Christus wat juis deur die dood heen iets anders kom bewerk het. Dit motiveer en mobiliseer ons om die vals werklikheid aan die kaak te stel vir wat dit is; daarteen te protesteer met woord en daad.

Hemelvaart tel ons koppe op, en draai dit in die rigting van die troon van God. Sodra ons God se koningskap ‘n slag weer in die erediens beleef het, kan ons vir Christus gaan lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Voorganger (V): In alle plekke van konflik …
Gemeente (G): Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke geweldenaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke soldaat …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke politikus …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke slagoffer van oorlog …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat honger ly …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke daklose …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat wanhoop …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat siek is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat gemolesteer is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat verslaaf is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen met skuld wat nie betaal kan word nie …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat eensaam is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat vrees ervaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat teneergedruk is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van die wêreld …
G: Laat u koninkryk kom.
Amen.
(Uit Vir die Erediens:  ‘n Handleiding van BybelMedia)

Slotsang
VONKK 96 Wees Bly En Loof Die Heer  of
Flam 1 Die Hemel Juig  of
Lied 429 “Die Heer regeer, Hy’t opgevaar”

Seën
Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal getuies van die Here wees tot in die uithoeke van die wêreld.

Respons
Lied 425 vers 2 “Kyk die Heer het opgevaar” of
Lied 189 “Halleluja!”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.