Hemelvaart

Sections

Oorsig

Met hemelvaart vier ons, volgens oorlewering van Lukas, dat Jesus ná sy opstanding na die hemel opgevaar het.

Ons vier egter meer as hierdie oorlewering. Ons vier die triomf van Christus se lewe wat in die hemelvaartverhaal uitgelig word. Sy heerlikheid vul ons huidige werklikheid. Hy is die volmaakte brug en die ewige verbond tussen God en mens. In Christus word ons in staat gestel om God se hemelse bestaan in ons aardse werklikheid te ken, terwyl ons leer om ons eie bestaan as deel van Christus se heerlikheid te omhels.

Paassiklus en hemelvaart
Tussen die vyfde Paassondag (wat op die ewige lewe in Christus Jesus fokus) en die sesde Paassondag (wat op liefde en gehoorsaamheid in Hom fokus) skuif die fees van hemelvaart in. As liturgiese fees binne die Paasseisoen skep dit ‘n diepe gewaarwording van die besondere teenwoordigheid van Christus wat aan die regterhand van die Vader “alles in almal vervul” (Ef 2:23).

Ander tekste

Psalm 47
God is bo almal verhewe

47 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God
met ’n jubelende stem,
3want aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde:
4Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
5Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob,
wat Hy liefhet.
6God gaan op na sy tempel toe
onder gejubel,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning,
prys Hom met psalms!
8God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom ’n lied.
9God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
10Die leiers uit elke volk
sal hulle verenig met die volk
van die God van Abraham.
Die heersers van die aarde
is onderworpe aan God,
Hy is bo almal verhewe.

Psalm 93
U is van altyd af daar

93 Die Here is Koning,
Hy beklee Hom met majesteit.
Die Here beklee Hom,
Hy omgord Hom met krag.
Die wêreld staan vas, dit wankel nie,
2en vas staan u troon van ouds af:
U is van altyd af daar.
3Riviere het gedruis, Here,
riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas
van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
5U verordeninge staan baie vas.
Heiligheid versier u huis, Here,
tot in lengte van dae.

Efesiërs 1:15-23
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Lukas 24:44-53
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus
(Mark 16:19–20; Hand 1:9–11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Fokusteks
Handelinge 1:1-11

Die belofte van die Heilige Gees
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Ekstra stof

Handelinge 1:1-26 – Wag op die gawe van die Heilige Gees
Die verspreiding van die goeie nuus oor Jesus begin uiteraard in Jerusalem, die plek waar God Homself deur die eeue geopenbaar het.  Let op hoe die fondasie van die kerk se werk verbind word aan 1) die lewe van Jesus, alles wat Hy gedoen en geleer het, 2) die lyding, sterwe en opstanding van Jesus, 3) die nuwe lewe van Jesus wat Hy met “baie onbetwisbare bewyse” aan hulle gedemonstreer het, 4) die belofte en gawe van die Heilige Gees waarsonder hulle die werk nie kan aanpak nie, 5) die beskrywing van die binnekring dissipels as apostels – dws gestuurdes, en 6) die verkiesing van ‘n 12de apostel om simbolies die 12 stamme van Israel te verteenwoordig.

Let ook op dat hulle nou in huise begin bymekaarkom, die begin van die skuif van die teenwoordigheid van God nie net in die tempel nie, maar in elke huis waar Hy gedien word.  Hoewel die eerste fase van hulle werk steeds gereeld by die tempel sal plaasvind, sal dit toenemend in huise wees regdeur die Romeinse ryk.

Dit is ook opmerklik dat vroue en mans saam bid, terwyl dit nie die gebruik in die Joodse sinagoges was nie.  Soos Jesus uiteindelik die heidene deel maak van Sy kerk, só doen Hy dit van die begin af met mans en vroue.

Die opdrag van Jesus aan die apostels om te wag (vir die gawe van die Heilige Gees), spreek my vanoggend sterk aan.  Natuurlik wag ons nie meer presies soos hulle op die uitstorting van die Heilige Gees nie.  Ons het Hom as gelowiges immers ontvang  en word daagliks deur Hom vervul.  Maar dit beklemtoon ook die voortdurende ingesteldheid om nie op eie inisiatief en met eie insig die werk van die Here te probeer doen nie.  Dit is juis wanneer ons stil genoeg raak en wag op die leiding van die Here dat ons begin raaksien waar Hy werk en Sy stem hoor om daarby betrokke te raak.

Dit tref my ook besonderlik dat Sy broers hierdie keer by is en deelneem aan die eensgesinde gebed.  Josef word nie genoem nie, wat waarskynlik beteken dat hy al dood is.  Jakobus, die een broer van Jesus, sal in die loop van die verhaal ‘n baie belangrike en ook leiersrol begin speel in die vroeë kerk.

Die verwysing na Judas is ietwat grusaam met die beskrywing van wat met hom gebeur het.  Dit verskil ook van die prentjie wat Matteus skets (27:5 – opgehang).  Augustinus het gereken dat albei beskrywings waar was, dat Judas hom opgehang het, en later op die grond geval en oopgebars het.  Maar ons weet nie regtig wat presies daar gebeur het nie.

Jy is welkom om die twee Psalms, Psalm 69 en 109, wat in vers 20 aangehaal word, te gaan lees, veral vir die breër prentjie wat dit jou sal gee vir wat met die lyding van die Messias reeds lank tevore voorspel is.  Hierdie aanhalings bevestig ook weereens dat wat ons in die voortgaande verhaal van Jesus sien, ook die Ou Testamentiese beloftes vervul.  Dit bevestig die enorme betekenis van Jesus se voortgaande werk.

‘n Mens kan ook sien dat die kerk van die begin af inval by God se reddingsplan wat die heidene gaan insluit, hoewel dit ‘n rukkie vir die kerk sal duur voor die insluiting van die heidene met oorgawe omhels word.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 171 “Heilig (3X) is die Heer, engle in die hemel buig voor Hom neer vs 1,2”

Aanvangswoord: (Uit Psalms 47 en 93)

Seëngroet

Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Skriflesing: Lukas 24:44-53

Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan vs 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis

Loflied 428 “Loof Christus, roem Sy wonderdade 1,2,3,4,”

Epiklese

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 429 “Die Heer regeer, Hy’t opgevaar 1,2,3,4,5”

Seën: (Efesiërs 1:18-19)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 171 “Heilig (3X) is die Heer, engle in die hemel buig voor Hom neer vs 1,2”

Aanvangswoord: (Uit Psalms 47 en 93)
aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde…

riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas
van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
of
Voorganger: Die Here het opgestaan!
Gemeente: Die Here het waarlik opgestaan!

Voorganger: Die Here het opgevaar!
Gemeente: Die Here is Koning.

Seëngroet  
Voorganger: Vrede vir julle!
Gemeente: En vrede ook vir jou!

Voorganger: Genade vir julle van God wat ryk is in barmhartigheid en ons innig liefhet.
Gemeente: Aan Hom kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid.

Almal: Amen.
of
Liturg: Genade en vrede van een Skepper-God
Gemeente: van alle sienlike en onsienlike dinge.

L: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

L: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: Wat ons Here en Lewendmaker is.  Amen.
(Aanvangswoord en seëngroet uit Wepener, C 2011.  Soos ‘n blom na die son draai.  Wellington:  Bybelmedia.)

Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Skriflesing: Lukas 24:44-53
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus
(Mark 16:19–20; Hand 1:9–11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan vs 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 428 “Loof Christus, roem Sy wonderdade 1,2,3,4,”

Liedere

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en Musiek: Tom Hiemstra
Teks: [strofes 3,4 onbekend]
© 2001  MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD “Ons Koning kom weer”)
LW: Ons wil graag al vier verse vir gebruik bekendstel!!

In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in Sy woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer
en die lof, want U regeer.

Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

Driemaal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

F227. “Ons Sal Nou Gaan”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Getuienis)
Oorspronklike titel: Wij zullen gaan
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 1997 Celmar Music

Toe Jesus opvaar na die hemel
het Hy aan ons die taak gegee:
“Gaan na die nasies en vertel hul,
die Goeie Nuus vir elke een!”
Want alle mense moet dit weet dat
die Heer vir hul gesterwe het,
en as hul glo in Hom as Redder
Hy hul verseker dat hul nou vir ewig leef.

Refrein:
Ons sal nou gaan
om die wêreld te vertel
dat Jesus leef
en van alle mense hou
Ons sal getuig
dat die Here almal liefhet
so word deur ons werk
Gods Koninkryk gebou.

As mense ly in hul ellende,
deur oorlog, honger en verdriet.
Dan is dit steeds nog nie die einde
want Hy sê “Ek maak alles nuut!”
Eers moet alle mense weet van
die weg wat Hy vir hul beplan,
sodat hul waarlik vry kan uitgaan
en Hom kan volg en om ook op sy weg te gaan.

Refrein:

As Jesus terugkom uit die hemel,
kom Hy met majesteit en eer.
en dan sal elke een/mens moet neerbuig
en uitroep: “Jesus is die Heer!”
En hul wat nooit die Woord wou glo nie,
vir hulle eindig alles sleg…
Dink jy dat jy jouself kan vrymaak
dan is jy tog so dwaas, want Jesus is die weg!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Ons juig in U, onse Here.
Dis U wat hemelvreugde bied.
Ons sing u Naam ter ere.
U het waarlik opgevaar.
Daarom weet ons: u Woord bly ewig waar.
U is ons Hoof en Here.

U maak nou vir ons plek gereed
by God, ons Heer en Vader,
en deur U offer kan ons weet,
dat ons ook nou tot God mag nader!

Help ons, Here,
lei ons na die Vader.
Amen
(N.a.v. Lied 426)

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Prediking

Familie-oomblik

Preekriglyn

Hierdie ware verhaal begin met ‘n groot teleurstelling op 23 Desember. Kumar, ‘n Christen in Suid-Indië was diep bedroef omdat nie een van die 13 mense wat hy genooi het om by sy huis na ‘n Billy Graham evangeliese uitsending te kom kyk, opgedaag het nie. Hy het oor die saak begin bid, en onthou hoe hy teen 21:00 daardie aand oortuig geraak het hy moet die familie van sy vrou se suster nooi om die volgende aand na die uitsending by sy huis te kom kyk.

Die familie het nie ‘n telefoon nie. Kumar bel toe die bure en vra om dringend met die familie te praat. Toe sy swaer, Satish, uiteindelik aan die ander kant antwoord, vra Kumar hom om sy familie per bus na sy huis te bring. Dit is geen geringe versoek nie, want ‘n busrit van 13 ure skei die twee families. Satish sê hy het nie geld nie, waarop Kumar hom aanmoedig om geld te leen en sê hy sal hulle vergoed vir die rit.

Hoewel uit die veld geslaan, stem Satish in tot die versoek. ‘n Paar uur later, 4-uur daardie oggend, douvoordag, klim die familie op die bus vir die lang rit na Kumar se huis. Hulle arriveer 17:00, en ‘n uur later kyk hulle saam na Billy Graham se evangeliese uitsending op die TV. Dit is 24 Desember.

Na die uitsending getuig Kumar teenoor die familie hoe hy Jesus as Here en Verlosser gevind het, en sy vertroue op Jesus geplaas het. Satish en sy familie kyk op ‘n vreemde manier na mekaar. Kumar wonder wat aangaan.

Dan staan Satish stadig op en verduidelik bewend en ontsteld dat die tee-fabriek waar hy gewerk het, gaan sluit. Sy inkomste is daarmee heen. Verder dring die maatskappy aan dat hy en sy gesin die maatskappy-huis waarin hulle woon moet ontruim. Hulle het geen ander heenkome nie.

Die familie het besluit om op 25 Desember saam selfdoding te pleeg.

Alles het egter skielik verander. Nou beleef die familie op ‘n kragtige manier dat daar vir hulle hoop in die lewende Jesus, die Een aan die regterhand van die Vader, is. Net daar kniel die familie en verwoord hulle keuse om Jesus as Here te volg in hulle gebed.

Satish het agterna gesê hy voel soos ‘n nuwe mens. Die familie het nog ‘n paar dae by Kumar oorgebly, waarna hulle terug huis toe is. Hulle sou ‘n onsekere en moeilike toekoms met die genade, bystand en leierskap van Jesus gaan hanteer.

Kumar was verstom. Die lewende Here het ‘n dramatiese wending in sy familie se lewe gebring. Hulle was in ‘n krisis waarvan hy niks wis nie. Uit die teleurstelling van 23 Desember is die wonder van 24 Desember gebore. Die lewende Here is deur Woord en Gees aktief betrokke by mense se lewens.

Dramatiese wending

Handelinge 1 is vanselfsprekend die openingstoneel van Handelinge. Die teks getuig van ‘n dramatiese wending in Jesus se bediening. Lukas, skrywer van Handelinge, is ook die skrywer van die Lukas-evangelie. Handelinge 1 is die skarnier tussen die Evangelieboek en die verdere geskiedenis van Jesus se bediening deur die apostels:

  • In die Lukas-Evangelie lees ons van die Geesvervulde getuienis “van” Jesus self, wat nou skarnier of oorgaan na die Geesvervulde getuienis deur die apostels “oor” Jesus.
  • In die Lukas-evangelie lees ons van die aardse lewe van Jesus “tot die graf” en sy opstanding daarna; nou gaan ons lees oor die verhewe bediening van Jesus “vanaf die regterhand van God” deur sy Gees en die getuienis van sy apostels.
  • Die Lukas-Evangelie eindig in Jerusalem, nou lees ons vanaf hierdie belangrike skarnierpunt hoe die evangelie Jerusalem, die omliggende provinsies en die uiteindes van die aarde bereik.

Die dramatiese hoogtepunt van die Evangelie – die opstanding van Jesus – skarnier nou na die dramatiese verhaal van hoe God die tye en geleenthede gee vir die getuienis oor Jesus om ‘n impak oor die wêreld te maak, en mense se lewens radikaal verander – tot in Suid-Afrika en Suid-Indië toe. Vandag nog.

Teenwoordige tyd

Ja, vandag nog verander die lewende Here lewens.
Die bekende Gereformeerde teoloog, Karl Barth, sê juis dit is wat met die hemelvaart gebeur. Dit is die skarnierpunt tussen verlede en hede. Jesus het mens geword, het die skares geleer, het genees en vergewe, het gely, het gesterwe, is begrawe, het opgestaan uit die dood en het opgevaar na die hemel. Daar stop die verlede tyd. Nou word Jesus teenwoordige tyd, want Hy sit aan die regterhand van die Vader, Hy regeer oor ons wêreld en ons lewens, Hy werk deur sy Woord en Gees in ons wêreld.

Al hierdie oorgange word in ons teks gekonsentreer. Jesus se verlossingswerk is afgehandel en gaan oor in die kerk se verkondiging van Jesus se werk, waardeur lewens verander. Die verlede tyd gaan oor in die teenwoordige tyd waarin Jesus handel vanaf die regterhand van die Vader deur die getuienis van sy kerk hier op aarde. Die era van Jesus se aardse verlossingswerk gaan oor in die era van die Gees waar Jesus deur die Gees teenwoordig is.

Veertig dae

Die ontmoeting tussen hede en verlede duur veertig dae. Veertig dae is ‘n belangrike simboliese tydperk in die Bybel. Op verskeie plekke verwys veertig dae na ‘n laaste tyd van onderrig, bekragting en oorlewering deur ‘n leermeester aan sy dissipels. Dink aan Moses aan wie die Here oor veertig dae die tien gebooie laat formuleer, of die veertig dae wat Jesus in die wildernis onder versoeking moes deurbring voordat Hy sy bediening in die krag van die Gees kon voortsit. Die verwysing na veertig dae gaan oor onderrig, maar ook om te leer om krities te onderskei, oor volharding en dissipline.

In hierdie veertig dae voor sy hemelvaart doen Jesus verskeie dinge:

  • Jesus bespreek sake van die koninkryk (regering) van God met sy dissipels;
  • Jesus verseker kontinuïteit met die verlede, met die evangelieverkondiging van Jesus voor sy dood en die nuwe era van die kerk se getuienis. Die Jesus wat opgewek is, is dieselfde Jesus wat die nabyheid van God se koninkryk in woord en daad verkondig en beliggaam het;
  • Jesus gee instruksies – riglyne en voorskrifte om kontinuïteit in die toekoms te verseker. Dit is belangrik dat Jesus se evangelieverkondiging – in sy afwesigheid – deur sy dissipels voortgesit sal word;
  • Een van die belangrikste dinge wat Jesus doen, is om tekens te gee dat Hy leef. Wat die dissipels dus nie mag vergeet nie, wat hulle in Jesus se afwesigheid in hulle harte moet wakker hou, waaruit hulle voortaan moet bly leef en wat hulle voortaan moet bly verkondig, is dat Jesus, die gekruisigde nie onder die dooies getel kan word nie! Jesus leef! Onder die “sake van die koninkryk” is dít die kernsaak: Wat die dissipels moet onthou, lê nie net in die verlede nie, maar ook in die hede. Wat onthou en verkondig moet word, is ‘n lewendige teenwoordigheid.

In die veertig dae ontvang die dissipels (leerlinge) byna alles wat hulle nodig het om apostels (gestuurdes) te word.

Koninkryk van God

Die band tussen Jesus se bediening en die apostels se bediening, is die Koninkryk van God. Daarom praat Jesus oor die veertig dae met hulle oor die koninkryk van God.

Die apostels word voorberei om die koninkryk of regering van God aan te kondig.

Jesus het sy bediening begin deur te sê die koninkryk of regering van God het naby gekom. Jesus se bediening is hierdeur aangevuur. Daarom het Hy die skares geleer, siekes genees, sondes vergeef, en sy lewe aan die kruis gegee om versoening met God moontlik te maak. Jesus is deur die Vader opgewek uit die dood as eerste nuwe lewe anderkant die gebrokenheid van die dood. Jesus se opwekking uit die dood het die koninkryk ‘n soveel helderder werklikheid gemaak.

Dit is hierdie regering of koninkryk van God waardeur die wêreld genees word, dat die apostels nou verder gaan dra. Deur hulle getuienis gaan die beslissende koninkrykswerk van Jesus verder en verder deur die wêreld versprei.

Die gawe van die Vader

Die apostels kan egter nie hulle rol in hierdie nuwe era van koninkrykswerk speel sonder die bemagtiging van die Heilige Gees nie. Daarom gee Jesus opdrag dat hulle in Jerusalem moet bly, en moet wag op die gawe wat die Vader belowe het. Hulle moet gedoop word, nie met die water tot bekering van Johannes nie, maar met die vuur van die Heilige Gees. Johannes die Doper het reeds hierdie doop met die vuur van die Heilige Gees voorspel.

Dit is dieselfde Gees wat by Jesus se doop op Hom neergedaal het en Hom bemagtig het om die Satan en sonde te oorwin.

Hierdie Gees is die gawe wat God reeds eeue tevore aan die kerk belowe het. Dit is ook hierdie Gees deur Wie Jesus bevele aan sy apostels gee (vers 2).

Wag op die Gees

Die apostels moet wag. Daarmee word hulle geleer om hulle plek in God se plan te ken. Hulle is nie die enigste rolspelers nie. Die lewende Jesus, wat die Gees oor hulle gaan uitstort, en die Gees se bemagtiging is nodig.

“Wag” beteken dat die apostels hulle plek moet ken.

Waarom dit belangrik is, blyk uit die vraag wat hulle in vers 6 vra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Vir hulle gaan al die heerlike dinge wat God doen, nog net oor Israel. Hulle wonder of Israel nou weer ‘n groot nasie gaan word. Gaan al die verskeurdheid tussen die stamme, die verstrooiing van die Jode oor die wêreld deur verskeie ballingskappe, nou tot ‘n einde kom?

Van die roerendste gedeeltes in die Ou Testament handel oor die verwagtinge dat God se koninkryk Israel weer sal herstel. Lees maar Maria se loflied met haar swangerskap met Jesus. Of Jesaja 60:1-7; Sagaria 8:20-23; of Sefanja 3:14-20.

Hulle verwagting is egter nog te klein. God se bedoelinge is groter, en betrek die hele wêreld, soos hulle aanstons sal hoor. Daar is nog misverstand by hulle. Daarom moet hulle wag op die Gees wat binnekort – hoofstuk 2 – die evangelie in al die tale van die destydse bekende wêreld sal laat klink.

Hulle dink te klein. Dis wat jy kry as mense uit eie krag en met eie wysheid sou optree. Ons is nie gebore in staat om God reg te verstaan en die tye en geleenthede reg aan te pak nie. Daarom moet ons ons ook nie te veel aanmatig nie. Ons moet “wag” op die leiding van die Gees.

Tye en geleenthede

Die noodsaak van “wag” op die Gees word versterk as Jesus sê:
Dit is nie vir julle om die tye en geleenthede te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

Daarmee sê Jesus:

  • Die tyd en tye waarop God handel is in God se hande – ons bepaal nie daardie tye nie, ons wag daarop. Daarom is beskeidenheid en gebed om die leiding van die Gees gepas;
  • Jerusalem is nie die sentrum van die koninkryk nie, daar gaan geen enkele heilige stede wees in God se koninkryk nie. Die koninkryksboodskap is vir alle plekke en alle tye bedoel, omdat God in Jesus deur die Heilige Gees oral teenwoordig is, en oral van mense volgelinge maak;
  • Mense betree nie deur koninkryk deur na Jerusalem toe te kom nie, maar deur die getuienis oor Jesus te hoor en dit te glo, en daaruit te lewe.
Identiteit en roeping

Die apostels – gestuurdes – se identiteit is dat hulle getuies is, getuies van Jesus en Jesus se werk vir ons. Die inhoud van ons getuienis is nie sonde of morele verbetering nie. Ons is nie die inhoud van ons getuienis nie. Jesus is. Dis ons identiteit: getuies van Jesus.

Ons identiteit is ook dat ons bemagtig word deur die Heilige Gees. Net soos die Gees oor Maria gekom en Jesus in haar geskep het, so kom die Gees oor ons en skep die getuienis oor Jesus in ons. Dit is getuienis oor wat Jesus geleer, gedoen en bewerk het.

Op ‘n ander manier gesê: Ons teks sê ons word ingetrek in gemeenskap met Vader, Seun en Heilige Gees, en deur ons getuienis word meer en meer mense ingetrek by die familie van God Drie-enig.

Nadat Jesus hierdie woorde gesê het, het ‘n wolk Hom weggeneem. Terwyl die dissipels Hom agternastaar verskyn daar skielik twee mans in wit klere aan hulle. Dié vra waarom die dissipels so na die hemele staan en staar. Staan en staar is nie die punt nie. Die punt is om te wag op die Gees en te gaan getuig oor Jesus. Dit is die kerk se roeping en identiteit.

Betekenis vir ons

Ons teks help ons om die tyd waarin ons leef, te verstaan. Ons leef in die tyd van die koms van die regering van God wat genesing en herstel vir mense bring. Hoewel ons wag op die finale koms van die koninkryk, leef ons reeds in die bedeling waar Jesus Koning is en mense se lewe vernuwe.

Ons teks help ons om ons taak te verstaan. Ons is deel van die uiteindes van die aarde waarheen die evangelie versprei is, en ons neem deel aan die getuienis van Jesus teenoor alle mense. Dit is die wesenstaak van ons gemeente en ons individuele gelowiges. Ons hou die lewe, werk, lering en dade van Jesus lewend in die wêreld. Dit is wat Kumar, die Christen in Suid-Indië so treffend verstaan het en die bron van soveel hoop vir sy familie in hul wanhoop.

Die belangrikste belofte in ons teksgedeelte is die belofte van die krag van die Heilige Gees. Ons leef in die era van die Heilige Gees. Daardie eerste verwilderde dissipels word getuies wanneer die krag van die Heilige Gees oor hulle kom. Dit dryf hulle uit Jerusalem uit tot aan die eindes van die aarde. Net soos Jesus aan die begin van sy bediening met die Gees vervul en toe die woestyn ingedryf is om die Satan te oorwin, en toe om sy bediening tot die einde te volvoer, so word hierdie eerste dissipels met die Gees vervul en gaan hulle na die wêreld toe.

Tot vandag toe is dieselfde waar. Ons word vervul met die Gees en gestuur waar God ons wil gebruik.

Ons moet daarom oop wees vir die Gees en vir die voortdurende vervulling met die Gees. Die Gees maak ons getuies, oral waar ons gaan.

Ons teks maak ons ook nederig. Ons moet wag op God, ons ken nie al die tye en geleenthede nie. God gebruik ons.

Ons teks help ons ook om ons opnuut te bekeer. Die kerk maak so maklik ander dinge die sentrum va die kerk. Voor ons ons oë uitvee is die belange van die kerk, die eiendomme, die voorkeure van mense, die moeilike en hardkoppige lidmate, in die sentrum. Voor ons weet waar ons is, word die kerk ‘n taal- en kultuurvereniging. Ons meen die kerk beskerm ons taal, eerder as om ons vry te maak om die evangelie in watter taal nodig is oor te dra.

Ons teks vee die spinnerakke van ons eie belange weg en fokus ons op die prioriteit van die regering van God wat ‘n werklikheid word so ver die getuienis oor wie Jesus is, gedra word.

God stuur ons om te leef

Gebed
Christus,
U het van die Olyfberg af in heerlikheid opgevaar
in die teenwoordigheid van u dissipels.
U wat alle dinge met u goddelikheid deurdring,
U het die troon aan God se regterhand bestyg
en U Heilige Gees oor u dissipels gestuur.
Hy wat verlig, versterk en ons innerlik bevry.
(’n Aandgebed vir hemelvaart van die Ortodokse Kerk – vertaalde bede 2016/04/28)

Offergawes

Wegsending: Lied 429 “Die Heer regeer, Hy’t opgevaar 1,2,3,4,5”

Seën:(Efesiërs 1:18-19)
God wat Christus deur sy geweldige mag
uit die dood opgewek en Hom
in die hemel aan sy regterhand laat sit het,
sal dieselfde kragtige werking van sy mag
uitoefen in ons wat glo.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.