Hemelvaart

Sections

Oorsig

A A van Ruler sien in die hemelvaart vier elemente:

  • Skeiding en afskeid;
  • Verheffing;
  • Vervulling; en
  • Verwagting.

Skeiding
Hemelvaartsdag – dag van skeiding, afskeid. Alle onmiddellike aardse gemeenskap, aan die lewe saam met Jesus vir drie jaar lank, word nou beslis ‘n einde gemaak.

Selfs aan die geheel eiesoortige van die gemeenskap die veertig dae nadat Jesus opgestaan het, kom nou ‘n einde. Christus is in geen vorm meer op aarde nie.

Tog kan die eintlike sin van hemelvaart nie daarin alleen lê nie. Juis op die Hemelvaartdag sê Jesus: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

Verwagting
Dit was ook die hemelvaartsprediking van die engele (Hand 1:11). Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel sal op dieselfde manier terugkom as wat julle Hom sien opvaar het. En Lukas vertel hoe dat Jesus met groot vreugde sal terugkeer na Jerusalem. Hemelvaartsdag is gevul met verwagting en blydskap.

Verheffing
Hemelvaart is ook dag van verhoging, dag van die troonsbestyging van die Middelaar, Jesus Christus. Die verhoging aan die kruis was eintlik reeds die begin van die hemelvaart. Hierdie verhoging aan die kruis het Christus in ons plek deurleef. Nou is Jesus finaal verhoog tot aan die regterhand van die Vader vanwaar Hy saam met sy Vader die ganse skepping regeer.

Vervulling
Hemelvaart bevestig ook dat in Jesus Christus alles tot volheid, vervulling, sal kom. In Jesus Christus kom alles tereg en goed. Hy vervul, voltooi en red, want dis in die laaste instansie die gekruisigde Jesus wat saam met God regeer.

Voorgangers kan poog om hierdie volgorde in die liturgie gestalte te gee.

Ander tekste

Psalm 47
God is bo almal verhewe
47 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God
met ’n jubelende stem,
3want aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde:
4Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
5Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob,
wat Hy liefhet.
6God gaan op na sy tempel toe
onder gejubel,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning,prys Hom met psalms!
8God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom ’n lied.
9God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
10Die leiers uit elke volk
sal hulle verenig met die volk
van die God van Abraham.
Die heersers van die aarde
is onderworpe aan God,
Hy is bo almal verhewe.

Psalm 93
U is van altyd af daar
93 Die Here is Koning,
Hy beklee Hom met majesteit.
Die Here beklee Hom,
Hy omgord Hom met krag.
Die wêreld staan vas, dit wankel nie,
2en vas staan u troon van ouds af:
U is van altyd af daar.
3Riviere het gedruis, Here,
riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas
van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
5U verordeninge staan baie vas.
Heiligheid versier u huis, Here,
tot in lengte van dae.

Efesiërs 1:15-23
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Lukas 24:44-53
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Fokusteks

Handelinge 1:1-11
Die belofte van die Heilige Gees
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Ekstra stof

Handelinge 1:1-26 – Wag op die gawe van die Heilige Gees
Die verspreiding van die goeie nuus oor Jesus begin uiteraard in Jerusalem, die plek waar God Homself deur die eeue geopenbaar het.  Let op hoe die fondasie van die kerk se werk verbind word aan 1) die lewe van Jesus, alles wat Hy gedoen en geleer het, 2) die lyding, sterwe en opstanding van Jesus, 3) die nuwe lewe van Jesus wat Hy met “baie onbetwisbare bewyse” aan hulle gedemonstreer het, 4) die belofte en gawe van die Heilige Gees waarsonder hulle die werk nie kan aanpak nie, 5) die beskrywing van die binnekring dissipels as apostels – dws gestuurdes, en 6) die verkiesing van ‘n 12de apostel om simbolies die 12 stamme van Israel te verteenwoordig.

Let ook op dat hulle nou in huise begin bymekaarkom, die begin van die skuif van die teenwoordigheid van God nie net in die tempel nie, maar in elke huis waar Hy gedien word.  Hoewel die eerste fase van hulle werk steeds gereeld by die tempel sal plaasvind, sal dit toenemend in huise wees regdeur die Romeinse ryk.

Dit is ook opmerklik dat vroue en mans saam bid, terwyl dit nie die gebruik in die Joodse sinagoges was nie.  Soos Jesus uiteindelik die heidene deelmaak van Sy kerk, só doen Hy dit van die begin af met mans en vroue.

Die opdrag van Jesus aan die apostels om te wag (vir die gawe van die Heilige Gees), spreek my vanoggend sterk aan.  Natuurlik wag ons nie meer presies soos hulle op die uitstorting van die Heilige Gees nie.  Ons het Hom as gelowiges immers ontvang  en word daagliks deur Hom vervul.  Maar dit beklemtoon ook die voortdurende ingesteldheid om nie op eie inisiatief en met eie insig die werk van die Here te probeer doen nie.  Dit is juis wanneer ons stil genoeg raak en wag op die leiding van die Here dat ons begin raaksien waar Hy werk en Sy stem hoor om daarby betrokke te raak.

Dit tref my ook besonderlik dat Sy broers hierdie keer by is en deelneem aan die eensgesinde gebed.  Josef word nie genoem nie, wat waarskynlik beteken dat hy al dood is.  Jakobus, die een broer van Jesus, sal in die loop van die verhaal ‘n baie belangrike en ook leiers rol begin speel in die vroeë kerk.

Die verwysing na Judas is ietwat grusaam met die beskrywing van wat met hom gebeur het.  Dit verskil ook van die prentjie wat Matteus skets (27:5 – opgehang).  Augustinus het gereken dat albei beskrywings waar was, dat Judas hom opgehang het, en later op die grond geval en oopgebars het.  Maar ons weet nie regtig wat presies daar gebeur het nie.

Jy is welkom om die twee Psalms, Psalm 69 en 109, wat in vers 20 aangehaal word, te gaan lees, veral vir die breër prentjie wat dit jou sal gee vir wat met die lyding van die Messias reeds lank tevore voorspel is.  Hierdie aanhalings bevestig ook weereens dat wat ons in die voortgaande verhaal van Jesus sien, ook die Ou Testamentiese beloftes vervul.  Dit bevestig die enorme betekenis van Jesus se voortgaande werk.

‘n Mens kan ook sien dat die kerk van die begin af inval by God se reddingsplan wat die heidene gaan insluit, hoewel dit ‘n rukkie vir die kerk sal duur voor die insluiting van die heidene met oorgawe omhels word.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 166 of VONKK 27

Votum

Seëngroet: (op grond van Nicea)

Lofsang Lied 425 of VONKK 96 of Flam 9 (Bekend)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Slotlied: Vonkk 96 of Lied 429

Seën

Respons: VONKK 96 refrein of Lied 425 v 2 se eerste reël

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 166 “Kom, Heil’ge Gees” of
VONKK 27 Kom En Lei My, Skepper-Gees 

Votum
Soos ‘n blom na die son draai;
Soos riviere na die see loop;
Soos ‘n boom na die hemel opreik;
Soos skape agter hulle herder aanloop –
So rig ons ons hart op die Here.
Rig julle hart op die opgestane Here!
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”, Bybel-Media)

Seëngroet (op grond van Nicea)
V: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.

V: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.

V: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
A: Amen.
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”, Bybel-Media)

Lofsang
Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”
VONKK 96 Wees Bly En Loof Die Heer
Flam 9 Ons Redding Kom Van Ons God [Bekend: Salvation belongs to our God]

[Aangesien hierdie ‘n biduur is, is hier nie ander liturgiese elemente nie.  As jy ‘n meer uitgebreide liturgie wil gebruik, oorweeg om die Verootmoediging en Genadeverkondiging in aansluiting met die doop – en by die doopvont – te doen.  Vir die Geloofsbelydenis kan jy kyk na Nicea.

Liedere

VONKK 27 “Kom En Lei My, Skepper-Gees”
Teks: Veni Creator Spiritus – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Michiel van der Merwe 2003
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992  Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Pinkster

Kom en lei my, Skepper-Gees.

Veni Creator Spiritus.

F9. “Ons Redding Kom Van Ons God”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering) Oorspronklike titel: Salvation belongs to our God
Teks en musiek: Adrian Howard en Pat Turner  Afrikaanse vertaling: 2005 Faani en Hanneke Engelbrecht
© 1985 Restoration Music, Ltd.

1. Ons redding kom van ons God
wat heers vanaf Sy hemeltroon.
Hy is die Lam.
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

Refrein:
Hy is die Heer vir ewig en ewig,
En Hy regeer vir ewig en ewig.
Hy is ons Heer vir ewig en ewig.

Amen.

2. En ons, die verlostes, getuig,
deur Woord en Gees lei Hy ons.
En ons roep dit uit:
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley (1707-1788); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel (1685-1759)  Kantoryverwerking: George Frideric Handel (1685-1759)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)   © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1. Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2. Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3. Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4 Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Lees die verhaal uit ‘n kinder-vriendelike Bybel, dalk met behulp van ‘n video soos dié.  Daar is allerhande kreatiewe hulpmiddels waarmee jy die verhaal kan vertel, soos hierdie bewegende prentjie – instruksies hier beskikbaar. Kinder sal dit ook geniet om hulle eie te maak terwyl hulle luister na die preek.  Of gee vir elkeen hierdie prentjie en ’n splitpin en gebruik self een om te wys hoe Jesus agter die wolke verdwyn.

Jy kan kinders nooi om saam met jou rondom die doopvont te staan (maak seker daar is water in).  Gesels met hulle oor die betekenis van die doop en die bemagtiging en gestuurdheid wat daarmee saamkom.

Gesels oor wag, hoe dit voel om te wag en die rol van wag in geloof.  Jy kan die storie “Waiting” hiervoor gebruik – $11.49 op Kindle

Preekriglyn

Handelinge 1:1-11 vestig onmiddellik ons aandag daarop dat hierdie ‘n vervolgverhaal, ‘n tweede boek, is. “My eerste boek, Teofilus ….” (1) verwys na die Lukasevangelie, Lukas se eerste boek oor Jesus, vanaf sy geboorte tot en met sy hemelvaart.

In die eerste ses verse van ons teks word gebeure en temas uit die Evangelie van Lukas weer aangeraak. Ons word herinner – saam met Teofilus – dat ons reeds gehoor het van alles wat Jesus gedoen en geleer het. Ons aandag word ook op die Heilige Gees gevestig. Die Gees het ‘n deurslaggewende rol in Jesus se bediening gespeel. Dieselfde Gees sal nou in Handelinge die apostels lei en vorm gee aan die kerk.

Die apostels wat deur Jesus self gekies is (Lukas 5) word reeds in vers 2 vermeld. Vanaf vers 3 begin hulle ‘n sentrale rol te speel. Jesus bewys aan hulle onbetwisbaar dat Hy lewe en verskyn oor ‘n periode van 40 dae aan hulle en onderrig hulle oor die koninkryk van God.

Koninkryk van God

Die koninkryk van God is die skakel tussen Lukas se evangelie (eerste boek) en die gebeure wat van nou af in Handelinge gaan begin ontvou. Jesus se boodskap was van die begin af dat die koninkryk van God naby gekom het. Jesus is aangevuur deur die koningskap van God soos dit deur sy genesings, lering, prediking en dade sigbaar geword het. Jesus se opstanding is ‘n teken dat God se koningskap onmiskenbaar en kragtiger sigbaar word.

Die koninkryk van God gaan onkeerbaar voort. Nou gebeur dit deur die kerk wat toegerus word met die Heilige Gees. Die kerk sal van Jesus getuig, in Jesus se Naam voortgaan met bediening, en die koninkryk van God deur hul getuienis en trou aan die aanwesige en werkende Here uitbou.

Doop, belofte en vervulling

Dit is nie toevallig dat die apostels ‘n doop moet afwag vir die nuwe bedeling in die koninkryk van God nie. Dit is ‘n doop vir die bedeling van die Heilige Gees en van die kerk. Dit is ‘n doop met die vuur van die Gees.

Johannes die Doper het reeds van hierdie doop met die Gees en met vuur getuig (Lukas 3:16). Die Ou Testament het verwag dat God sy Gees sal uitgiet, en so vernuwing in Gods koninkryk, sal bring.

Daarom Jesus se instruksie in vers 4: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het….”  Hierdie gawe is die belofte van die Heilige Gees. Die doop met die Gees is die vervulling van profesieë wat oor eeue kom, met Johannes die Doper se profesie enkele jare vantevore.

Die belofte word nou vervul, en toon dat God betroubaar is. Maar die belofte van die Gees wys ook vorentoe, wys ook na die toenemende vervulling van God se beloftes wat sal uitloop op die volledige aanbreek van God se koninkryk op ‘n nuwe aarde onder ‘n nuwe hemel.

Elke belewenis van vervulling skep groter vertroue op God wat herstel, geregtigheid en onbevange aanbidding belowe (sien bv. die Loflied van Sagaria, Lukas 1:74).

Die aksent op God wat beloftes vervul lê ingebed in vers 5: Julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word. Die opstanding van die gekruisigde Jesus was ‘n keerpunt, maar dit lui ‘n nuwe bedeling in. Daar is nog ‘n groot toekoms wat wag, daar is ‘n koninkryk wat nog ten volle moet kom. Daar is getuienis wat gelewer moet word. Die apostels, die Here se kerk, moet na God se toekoms bly kyk.

‘n Groter toekoms

Let op dat Jesus ook deur die Heilige Gees bevele gee. Die Heilige Gees bemagtig die apostels en die kerk.

Wanneer die dissipels Jesus uitvra oor die koninkryk van God (vers 6) blyk dat hulle nog heeltemal te klein dink oor die koninkryk. Hulle wonder of die Here die koninkryk weer vir Israel gaan oprig. Aan die een kant is hulle nie verkeerd nie: die koninkryk bou op die beloftes wat aan Abraham, Isak en Jacob gemaak is en in koning Dawid ‘n hoogtepunt bereik het.

Maar die nuwe bedeling van die koninkryk, deur die bemagtiging van die Heilige Gees, is soveel groter. Die koms van die koninkryk wat die Gees verder voer is veel meer as die herstel van vervloë glorie in Israel se geskiedenis.

Nou sal die kerk krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom, en hulle sal Jesus se getuies wees tot aan die uithoeke van die wêreld. Die koninkryk kom deur die krag van die Heilige Gees waarin die kerk getuienis lewer.

Vanaf Jerusalem

Waar die beweging in die Lukas-evangelie na Jerusalem was, waar die Seun van die mens moes ly en sterf, is die nuwe bedeling ‘n beweging weg van Jerusalem. Mense sal nie langer na Jerusalem kom, en so ‘n sterk koninkryk vir Israel vestig nie. Nee, diegene wat vertrou op die opgestane Jesus, bekragtig deur die Heilige Gees, sal van Jerusalem af wegbeweeg die hele wêreld in om oor Jesus te getuig.

Die toekoms gaan meer as wag op die glorie van God wees. Dit gaan ‘n aktiewe proses van getuienis oor Jesus wees. Die fokus is gelyktydig die omgewing (Jerusalem), die groter konteks (Judea en Samaria) tot aan die eindes van die wêreld.

Al hierdie dinge gaan deur die krag van die Heilige Gees gebeur: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom …” (vers 8).

Staan en kyk

Na hierdie woorde van Jesus neem ‘n wolk Hom weg. Lukas vermeld spesifiek dat hulle stip na die hemel bly staar het. Dalk was hulle versteen.

Wat sou deur die dissipels se koppe gegaan het? Hoekom het hulle bly staan toe hulle sien hoe Jesus wegvaar?

  • Het sommige van hulle dalk verwag Jesus gaan weer uit die wolk te voorskyn kom, dalk in nog groter heerlikheid as toe dit die vorige keer gebeur het?
  • Was van hulle net eenvoudig te hartseer en onseker om weg te beweeg, veral as mens dink hoe hierdie groep mense al deur die trauma van ‘n eerste “wegneem” van hulle Leermeester was toe Hy gekruisig is, daarna die vreugde van sy opstanding en lewe, en nou weer weg is?
  • Of was sommige van hulle net heeltemal verbyster en in die war, nadat hulle pas die ontsettende opdrag van vers 8 gekry het, en dit nou blyk dat hulle hierdie opdrag (oënskynlik) sonder Jesus moet uitvoer?
Beweging

Ongeag wat die rede was dat hulle stilstaan en “stip na die hemel kyk”, blyk dit uit die engele se woorde dat dit nie die gepaste respons was nie. Hulle was nie geroep om passief op een plek te staan en wag nie. Terselfdertyd bevestig die engele dat hierdie weggaan van Jesus nie die einde is nie. Hierdie Jesus, presies Hy wat julle leer ken het in sy tyd op aarde, sal weer terugkeer.

Met hierdie vermaning en bevestiging kom die dissipels in beweging en keer terug na Jerusalem, om daar te volhard in gebed (14). Jerusalem, die plek waar so baie gebeur het oor die laaste weke, waar hulle Here gekruisig is, maar ook die plek waar hulle beveel is om te wag (4) en waarin hulle beveel is om te getuig (8). Hulle terugkeer is dus die eerste treë in gehoorsaamheid, die eerste treë om die groot getuienisopdrag van vers 8 uit te voer.

Vandag

Vandag, wanneer ons Hemelvaartfees vier, word ons ook uitgedaag om na te dink oor ons reaksie op die gebeure. Die versoeking is altyd daar om te reageer soos die dissipels aanvanklik reageer het: passief, deur op een plek te bly staan en nie te doen waarvoor hulle geroep is nie. Dalk het ons as indiwidueel gelowiges ook onsself al bevind.

Oor die jare heen het gelowiges dikwels in die strik getrap om vas te haak by vers 11 se belofte dat Jesus terugkeer, om te begin spekuleer oor wanneer dit gaan wees. So is daar interpretasies gegee, datums voorgestel en kalenders opgestel oor die wederkoms, maar min is gedoen om die opdrag van vers 8 uit te voer.

Dalk is die grootste gevaar nie eers dat ons passief is nie, maar met die verkeerde goed besig is. Is ons dalk besig om die een of ander koninkryk op te rig wat nie in pas is met wat God vir ons wil nie, soos die dissipels gehoop het dat God Israel se koninkryk in daardie tyd sal herstel, maar Jesus hulle daarop gewys het dat dit nie vir hulle is om iets daarvan te weet nie? Ons is nie geroep om stil te staan, te spekuleer of om ander koninkryke te bou nie, maar juis om terug te keer na ons konteks (ons “Jerusalem”?), om daar en verder weg te getuig.

Saam met Jesus

Die troos is dat ons dit nie alleen doen nie. Vers 1 gee die indruk dat Jesus nooit ophou “doen en leer” het nie. Dit is immers die verhaal van Handelinge dat Jesus nou deur sy Gees, in die kerk, steeds “doen en leer”. Al het dit dalk vir die dissipels ‘n oomblik gelyk asof Jesus vir hulle die groot taak van vers 8 gee, die pad vat en hulle los om dit self te doen, was dit toe nooit die geval nie. Hulle het kort daarna die gawe wat die Vader belowe het (4) ontvang: die Heilige Gees. Die Gees waardeur Christus werk, is ook in ons.

God stuur ons om te leef

Gebed

Slotlied
Vonkk 96 as dit nie as as loflied gesing is nie of
Lied 429 “Die Heer regeer, Hy’t opgevaar”

Seën
Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.  Gaan wees dan nou getuies met die liefde van God, die genade van Jesus en die krag van die Heilige Gees.  Amen

Respons
VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer” refrein
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!
of Lied 425 v 2 se eerste reël
Kyk die Heer het opgevaar.  Halleluja!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.