Hemelvaart

Sections

Oorsig

In sy boek Waar is Jesus nou? doen Coenie Burger baie moeite om ‘n deeglike verstaan van die hemelvaart daar te stel.

Vir baie mense is die hele gedagte dat die hemelvaart ‘n gebeure is wat gevier moet word, vreemd; want met Kersfees en Paasfees en selfs Pinkster vier ons die koms, verlossing en alomteenwoordigheid van ons Here Jesus.

Die gedagte dat ons Jesus se skynbare “weggaan” moet vier is dus vir baie gelowiges moeilik.

Om die hemelvaartdiens egter opnuut ‘n feeskarakter te gee, is dit nodig dat daar met die liturgie en veral die Woordbediening gefokus moet word op die beloftes en gevolg van Jesus se hemelvaart vir elke gelowige se lewe.

Coenie Burger verduidelik dit mooi as hy sê dat Jesus – as mens en in sy menslike gestalte – nie oral en te alle tye teenwoordig kon wees nie. Daarom moes Hy weer sy Goddelike gestalte aanneem om vir almal en in alle omstandighede naby te wees.

As gelowiges die hemelvaart weer só kan begin verstaan, sal daar weer opnuut groot rede tot feesviering en ‘n pryslied wees.

Ander tekste

Handelinge 1:1-11
Die belofte van die Heilige Gees
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Psalm 47
God is bo almal verhewe
47 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God
met ’n jubelende stem,
3want aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde:
4Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
5Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob,
wat Hy liefhet.     Sela
6God gaan op na sy tempel toe
onder gejubel,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning,
prys Hom met psalms!
8God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom ’n lied.
9God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
10Die leiers uit elke volk
sal hulle verenig met die volk
van die God van Abraham.
Die heersers van die aarde
is onderworpe aan God,
Hy is bo almal verhewe.

Psalm 93
U is van altyd af daar
93 Die Here is Koning,
Hy beklee Hom met majesteit.
Die Here beklee Hom,
Hy omgord Hom met krag.
Die wêreld staan vas, dit wankel nie,
2en vas staan u troon van ouds af:
U is van altyd af daar.
3Riviere het gedruis, Here,
riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas
van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
5U verordeninge staan baie vas.
Heiligheid versier u huis, Here,
tot in lengte van dae.

Efesiërs 1:15-23
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Fokusteks

Lukas 24:44-53
Jesus verskyn aan die dissipels
(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Joh 20:19–23; Hand 1:6–8)
36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ‘n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”

42Hulle gee Hom toe ‘n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus
(Mark 16:19–20; Hand 1:–11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Ekstra stof

Die Gees bekragtig ons swak getuienis

Lukas se besonder klem
Soos Matteus en Markus vertel Lukas in baie opsigte dieselfde verhaal oor Jesus – maar daar is sekere sake wat Lukas in besonder beklemtoon.

Lukas word soms die “evangelie vir die buitestander genoem, omdat Lukas dit beklemtoon dat Jesus se goeie boodskap ook vir diegene was wat destyds van God se heil uitgesluit was of ten minste ver van die middelpunt van genade was: nie-Jode, armes, vroue. Lukas maak ‘n punt daarvan om Jesus se deernis teenoor armes te beklemtoon. Net Lukas bevat die loflied van Maria (Luk 1:52: “… maghebbers het Hy van trone afgeruk en geringes verhoog; behoeftiges het Hy oorlaai met goeie gawes en rykes met leë hande weggestuur”). Lukas 6:20 gee Jesus se Bergrede-woorde weer as “Salig is julle, armes”, en nie soos Matteus 5:3 se “Salig is die wat arm van gees is” nie (1953-vertaling). Lukas maak ‘n punt van Jesus se bediening aan vroue. Net Lukas vertel dat Jesus die weduwee van Nain “innig jammer gekry” en haar seun opgewek het (7:13), net Lukas vertel dat daar saam met Jesus en sy dissipels ‘n aantal vroue was toe Jesus “die land deurkruis” het (8:1).

Lukas beklemtoon – meer as die ander evangelieskrywers – die rol van die Heilige Gees, veral in sy eerste twee hoofstukke waar hy die rol van die Gees in die voorbereiding van Jesus se koms beklemtoon. Net Lukas noem dat Johannes die Doper met die Gees vervul sal wees (1:15), dat Elisabet met die Gees vervul was toe Maria haar besoek het (1:41), dat Sagaria deur die Gees vervul is sodat hy kon profeteer (1:67) en dat die Gees aan Simeon openbaar het dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Messias van die Here sou sien nie (2:25). Maar nie net in die voorbereiding van Jesus se koms nie – ook in sy bedien­ing is die Gees werksaam, beklemtoon Lukas. Lukas is die enigste evangelieskrywer wat noem dat by Jesus se doop die Gees op Hom neergedaal het. Al drie sinoptiese evangelies noem dat die Gees Jesus na die woes­tyn gelei het waar Hy deur Satan versoek is, maar net Lukas noem dat Jesus na die versoeking na Galilea teruggegaan het “vol van die krag van die Gees” (4:14). Net Lukas noem dat, toe Jesus Nasaret se sinagoge besoek het, Hy uit Jesaja 61:1 begin lees het: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te verkondig …” (4:18). Die uitdrukkings “in die krag van die Gees” en “vol van die Heilige Gees” is eie aan Lukas – nie net in sy evangelie nie, maar ook in sy opvolgwerk, Handelinge (4:1, 6:3, 6:5, 7:55, 11:24)

Die derde kenmerk van Lukas is dat hy meer as die ander evangelies die rol van gebed by Jesus beklemtoon. Lukas is die enigste evangelieskrywer wat noem dat Jesus voor Hy sy twaalf gekies het, “die hele nag (het) in gebed tot God deur­gebring het” (6:12). Net Lukas noem dat voor Jesus sy dissipels konfronteer met die vraag wie hulle dink Hy was, Hy eers gebid het (9:18) en net Lukas noem dat Jesus Petrus en die ander op die berg van verheerliking gebring het “om te gaan bid” (9:28). Dwarsdeur Lukas se opvolg-werk Handelinge word die belang van gebed beklemtoon: die 120 wat eendragtig in gebed bymekaar was (1:15); aan die begin van sy sendingreise bid en vas Paulus en diegene wat hom uitstuur (13:3). Die nie-Joodse offisier Kornelius sien die visioen wat die groot begin is van die evangeliebediening aan nie-Jode terwyl hy besig is om te bid (10:30).

Die vierde kenmerk van Lukas is dat hy – duideliker as die ander evangelieskrywers – beklemtoon dat die evangelie bedoel was om eers deur die Jode gehoor te word en daarna deur die nie-Jode. Lukas se beklem­toning van die nie-Jode het gemaak dat sommige hom “die evangelie aan die nie-Jode” genoem het. Dit is waar, maar nie die hele waarheid nie – Lukas beklemtoon net so sterk die blye boodskap dat Jesus die Joodse Messias is wat eers vir Israel kom en dan later ook vir die nie-Jode. Daarom dat sommige geleerdes meen Lukas die eerste skrywer is wat die heilsgeskiedenis beklemtoon het – dat God Hom in die geskiedenis openbaar. Volgens Hans Conzelmann word God se openbaring in Jesus in Lukas-Handelinge in drie duidelik onderskeibare fases ontvou: die tyd van Israel, die tyd van Jesus se bediening (wat Conzelmann “Die Mitte der Zeit” noem – die titel van sy boek oor die Lukas-evangelie) en derdens die tyd van die kerk. Uit Lukas se neiging tot skematisering blyk duidelik dat hy – weer eens die enigste onder die evangelieskrywers –  beklemtoon dat die koms van die Messias aan Sagaria, ‘n godvresende priester van Israel, in die tempel aangekondig word, die middelpunt van die Israel se godsdiens. Lukas beklem­toon dat wanneer die Gees uitgestort word dit op Jode (wat uit die uithoeke van die wêreld kom) uitgestort word as ‘n vervulling van die profesie van Joël (Hand 2:17). Net na die uitstorting van die Gees is die kwes­sie of Jesus die Messias is eers net ‘n Joodse kwessie wat in Jerusalem gedebatteer word en waarvoor Petrus en Johannes voor die Joodse Raad verantwoording moet doen. Eers na die steniging van Stefanus in Handelinge 7 – simbool van die Joodse establishment se verwerping van Jesus – verskuif die fokus na die evangelieverkondiging onder die nie-Jode (Filippus en die Etiopiër in Hand 8, Paulus se bekering in Hand 9, Kornelius se gesig in Hand 10). Vanaf hoofstuk 12 is die hooffiguur nie meer Petrus, evangelis vir Israel, nie, maar Paulus die apostel onder die heidene. So eindig die tweedelige werk wat in die tempel in Jerusalem begin het in die rykshoofstad Rome waar Paulus wel in huisarres verkeer, maar steeds die evangelie “met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering” verkondig (Hand 28:30: akolutos, “ongehinderd” is letterlik die laaste woord in Lukas se tweedelige boek).

Lukas 24 se besondere klem
Al vier bogenoemde kenmerke van Lukas speel ‘n rol in Lukas 24:36-55. Hoewel Matteus ook ‘n kort beskrywing gee van Jesus se laaste boodskap aan sy dissipels voor sy hemelvaart bevat Lukas se mededeling meer besonderhede. Lukas is die enigste evangelieskrywer wat Jesus se belofte van die uitstorting van die Gees net voor sy hemelvaart meedeel asook Jesus se opdrag dat sy volgelinge in Jerusalem moet bly “totdat julle met krag van bo toegerus is” – waarna hulle die evangelie aan “al die nasies … van Jerusalem af en verder” (Luk 29, 48) moet verkondig.

Lukas se beskrywing van Jesus se hemelvaart beklemtoon die meeste van die sake wat hy in Lukas-Handelinge aanraak. Lukas maak byvoorbeeld duidelik dat die boodskap van Jesus bedoel is vir die wye wêreld: “… in sy (Christus) Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word”. Dit kan nie ingeperk word tot diegene aan wie God Hom in die verlede spesifiek geopenbaar het nie. Die evangelie is ook die evangelie vir die buitestaander.

Jesus se volgelinge moet die boodskap na die nasies neem – maar eers nadat die Heilige Gees hulle bemagtig het. Lukas beklemtoon dat Jesus se hemelvaart tot die uitstorting van die Heilige Gees sal lei, die “krag van bo”. Daarsonder kan Jesus se navolgers nie sy boodskap effektief verkondig nie. Daarom moet hulle nie onmiddellik die wêreld invaar nie, maar eers in Jerusalem wag.

En terwyl hulle wag, moet hulle bid. Dit is nie so duidelik uit Lukas 24 nie, maar word wel duidelik as ‘n mens Lukas 24 saam met Handelinge lees. In Handelinge 1 herhaal Jesus dat sy volgelinge sy getuies sal wees “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld”, maar dat hulle in Jerusalem moet wag en bid totdat die Gees oor hulle uitgestort word.

Hemelvaart
Die klem in ‘n hemelvaartpreek val gewoonlik op die posisie van gesag wat Jesus deur sy hemelvaart ingeneem het. So ‘n preek het gewoonlik ‘n sterk bemoedigende boodskap vir die hoorders – nieteenstaande die wanorde in die wêreld en die oënskynlike sinloosheid van wêreldgebeure kan Christene steeds hoop want hulle weet: Christus regeer. Die troos is goed verwoord deur Karl Barth in sy telefoongesprek met sy vriend Eduard Thurneysen op 9 Desember 1968,  die aand voor Barth se dood: “Ja, die wêreldsituasie is donker … Maar – moenie moed verloor nie! Nooit! Want daar word regeer – nie alleen in Moskou of in Washington of in Peking nie, maar daar word regeer en wel hier op aarde! Van bo af, vanuit die hemel! God regeer! Daarom vrees ek nie. Laat ons bly vertrou, ook in die donkerste oomblikke! Laat ons die hoop nie loslaat nie – die hoop vir alle mense en vir die hele wêreld. God laat ons nie los nie – niemand van ons nie en ook nie ons almal nie. Daar word regeer …” (Kupisch).

Maar in ‘n hemelvaartpreek uit Lukas 24 val die klem nie op Christus wat regeer nie. Die klem val daarop dat Christus se hemelvaart die weg gebaan het vir die uitstorting en ontplooiing van die Heilige Gees. Die klem is nie op Christus die regeerder nie, maar op Christus die doper met die Gees en saam daarmee dat Jesus se volgelinge moet bid dat die Gees hulle sal bemagtig om sy getuies te wees. Die klem in ‘n hemelvaartpreek oor Lukas 24 moet dus val op die feit dat Jesus na die hemel opgevaar het sodat hy sy Gees op diegene wat innig daarna verlang en daarom vra, kan uitstort.

Die prediker sal dus by hemelvaart 2005 die klem laat val op Hemelvaartdag as voorbereiding vir Pinkster. Hemelvaart gee ‘n geleentheid om die gemeente attent te maak op die wisseling van seisoene in die kerkjaar en dat saam daarmee die klem verskuif: Die emosie van Goeie Vrydag en die vreugde van Paassondag mag nie net by ons bly nie. Dit is nie ons besitting nie. Dit moet aangegee word. Ander moet hoor: “Christus moet ly en op die derde dag uit die dode opstaan en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word van Jerusalem af en verder” (Luk 24:47). Ons gelowiges moet dit doen – maar God se Gees sal ons bemagtig om dit te doen. Ons moet bid sodat sy Gees ons met krag sal vervul. Hemelvaart is ‘n voor­bereiding op Pinkster, wanneer die uitstorting van die Gees gevier word. ‘n Hemelvaartpreek oor Lukas 24 is ‘n geleentheid om die gemeente op te roep om die woorde van Jesus aan sy dissipels in vers 49 te oordink: “Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Wil die prediker die vers vir gelowiges vandag uitlê en op hulle toepas, is dit nodig om oor twee teologiese kwessies uitsluitsel te kry: (1) Moet Christene vandag nog wag op die Gees? en (2) Is ‘n oproep tot “wag op die Gees” nie ‘n ongereformeerde, Arminiaanse uitleg nie?

Moet ons wag op die Heilige Gees? Is dit nog nodig dat ons, Christene in die een en twintigste eeu, wat leef na die Heilige Gees uitgestort is moet wag op die Heilige Gees? Dit is duidelik waarom Jesus die dissipels beveel het om in Jerusalem te wag tot hulle met krag uit die hoogte toegerus sou word – op daardie stadium was die Gees nog nie “op alle vlees” uitgestort nie. Eers na die uitstorting van die Gees op alle gelowiges kon hulle met krag getuies van Chris­tus wees. Maar wat van ons? Is dit nog steeds nodig dat gelowiges wat na die uitstorting van die Gees leef moet wag vir die Gees? Is dit nie in beginsel verkeerd om by lidmate ‘n indruk te wek dat hulle op die koms van die Gees moet wag – terwyl die Gees reeds gekom het nie? Is dit reg om, as voorbereiding vir Pink­ster, steeds te bly praat van “wag op die Gees”?

Nee – gelowiges hoef nie te wag op ‘n uitstorting van die Gees nie. Met Pinksterdag is die Gees uitgestort, en daarmee is die Gees vir elke gelowige beskikbaar gestel. Daarom hoef gelowiges vandag nie opgeroep te word om te wag op die uitstorting van die Gees nie.

Maar dit beteken nie gelowiges kan nie meer opgeroep word om te “wag op die Gees” nie. Sedert Pinkster is die Gees tot beskikking van elke gelowige – maar nie elke gelowige is tot beskikking van Gods Gees nie. Na die uitstorting van die Gees was dit duidelik dat die Heilige Gees begeer om die hele menswees van elke gelowige te beheer, maar dat dit nie altyd die geval is nie. God gee aan die gelowige die vryheid om die werking van die Gees in sy lewe te beperk. Dit bedroef God as dit gebeur en Paulus roep in 1Tessalonisense 5:19 die gelowiges op om nie “die Heilige Gees teen (te) staan nie”, wat impliseer dat dit wel moontlik is om dit te doen. Dié mag is wel aan gelowiges gegee. Daarom kan gelowiges opgeroep word om hulle lewens te ondersoek om vas te stel of hulle nie dalk die werking van God se Gees beperk nie. Dit is in die sin dat die frase “wag op die Gees” soms deur hedendaagse Christenskrywers gebruik word: as ‘n oproep tot gelowiges om die werking van Gods Gees deur hulle getuienis nie as vanselfsprekend te aanvaar nie, maar om “te wag op die Gees” – dit wil sê, om jouself te ondersoek aan die hand van die vraag: Is ek bereid om deur God se Gees gebruik te word soos Hy wil? Om deur Gods Gees gestuur te word waarheen Hy wil? Om deur die Heilige Gees bemagtig te word vir watter taak ook al Hy vir my in gedagte het? In hierdie sin kan ons steeds die frase “wag op die Gees” gebruik – en is Hemelvaart ‘n goeie tyd om die gemeente tot selfondersoek op te roep, sodat hulle nie onnadenkend die volgende week sal vra dat die Gees hulle sal bemagtig nie, terwyl hulle nie daarvoor gereed is nie en nie bereid is om deur die Gees oormeester te word nie. Andrew Murray kan gerus oor die frase “wag op die Gees” aangehaal word:

“It may be asked whether these words have not exclusive reference to the outpouring of the Spirit on the day of Pentecost, and whether, now that the Spirit has been given to the Church, the charge still holds good. It may be argued that, for the believer who has the Holy Spirit within him, waiting for the promise of the Father is hardly consistent with the faith and joy of the consciousness that the Spirit has been received and is dwelling within.

“The question and the argument open the way to a lesson of deepest importance. The Holy Spirit is not given to us as a possession of which we have control and which we can use at our discretion. The Holy Spirit is given to us to be our Master and to have control of us. It is not we who are to use Him; He must use us. He is indeed ours, but ours as God; and our position towards Him is that of deep and full dependence on Him who gives to every one ‘even as he will.’ The Father has indeed given us the Spirit; but He still is, and only works as the Spirit of the Father. Our asking for His working, that the Father would grant unto us to be strengthened by might of his Spirit, and our waiting for this, must be as real and definite as if we were asking for Him for the first time. When God gives His Spirit, He gives His inmost self … When Jesus gave to those who believe in Him the promise of an ever-springing fountain of ever-flowing streams, He spoke not of a single act of faith that was once for all to make them the independent possessors of the blessing. But He spoke of a life of faith that, in never-ceasing receptivity, would always and only possess His gifts in living union with himself. And so this precious word wait – ‘He charged them to wait’ – with all its blessed meaning from the experience of the past, is woven into the very web of the new Spirit dispensation” (Murray).

Wag op die Gees ongereformeerd?
Die tweede kwessie is of die gelowige se “wag op die Gees” nie ‘n ongereformeerde sinergisme veronderstel nie. Sinergisme beteken “samewerking” en dit verwys hier na die verstaan van redding as ‘n saak wat van twee beslissings afhang: die Here wat sondaars deur die kruis en opstanding red en ons wat sy redding aanvaar. In die geskiedenis is so ‘n sinergisme voorgestaan deur Pelagius en Arminius, maar as onbybels afgewys deur die gereformeerde tradisie wat deurentyd beklemtoon het dat selfs ons geloof nie uit onsself kom nie, maar ‘n genadegawe van God is. Ons versoening met God rus dus nie op twee bene – God se red­ding en ons geloof – nie. Dit berus enkel en alleen op God se genade. Gereformeerdes beklem­­toon graag: Ons word nie gered omdat ons glo nie. Ons word gered omdat Christus vir ons gesterf en opgestaan het. Die geloof is slegs ons leë hand waarmee ons die genade uit Gods hand ontvang.

Die vraag is nou of die klem om op Gods Gees “te wag”  nie ‘n voortsetting van ‘n Arminiaanse tradisie is nie. God het sy Gees oor gelowiges uitgestort – waarom moet ons nog “wag” op sy Gees? In so ‘n oproep lê  tog verskuil die veronderstelling dat die gelowige deur haar vrome toewyding, gebed en “wag op God” meer van God se Gees sal kry. En die implikasie is dat die nugter gelowige wat eenvoudig aanvaar dat hy met God se Gees bekragtig is en daarom gewoon leef in die verwagting dat hy met die Gees vervul is, minder van die Gees gekry het. So ‘n oproep op gelowiges om “te wag op die Gees” (meen baie) maak die deur oop vir die Arminiaanse opvatting dat die werking van die Gees in ons lewens afhanklik is van ons vrome “wag op die Gees”. Hoe meer ons bid en op die Gees “wag”, hoe meer sal God ons vroomheid beloon deur meer van sy Gees in ons lewens en getuienis te laat vloei. Veral in die NG Kerk – dalk as ‘n reaksie teen haar deels evangeliese verlede of dalk as gevolg van ‘n sterk Lutherse tendens by sommige teoloë die afgelope dekade – is daar tans by sommige ‘n agterdog teenoor die klem op die verantwoordelikheid van die gelowige in die wandel met God, as sou dit die genadekarakter van die Christelike geloof ondermyn.

Die besware moet egter verwerp word. Die Bybelse boodskap oor die Heilige Gees is duidelik: Gelowiges kan die Gees teenstaan (1 Tim 5:19). Gelowiges kan die leiding van die Gees verwerp. Die werking van die Gees is dus wel afhanklik van die gelowige se optrede. Ons tot geloof kom in God, ons redding – dit alles is suiwer genade. Hier is daar geen menslike bydrae te lewer nie. Maar dit is nie die geval by die werking van Gods Gees in ons lewens nie – hier is die werking van die Gees wel afhanklik van ons – of ons die Gees toelaat om sy werk te doen en of ons die Gees se werk blus. In sy “Gees van Christus” skryf Jonker met goedkeuring oor Van Ruler wat wys op die verskil tussen die heilswerk van Christus en die heiligende werk van die Gees: “Alles wat Christus doen, meen hy (Van Ruler), skakel die mense se aktiwiteit uit. Daarteenoor kan die mens alleen passief staan en dit ontvang. Dit geld byvoorbeeld van Christus se plaasvervangende lyding en die ver­soening wat Hy tussen God en mens bewerk het. Christus se werk dra ook die karakter van finaliteit. Daarin is dit eens en vir altyd oor die mens beslis en met hom gehandel. Wanneer dit egter gaan om die pneumatologiese as­pekte van die heil word die mens weer ten volle ingeskakel, met sy volle verantwoordelikheid. Van Ruler waag dit om te sê dat ‘n mens hier selfs van ‘n ‘een honderd-procentig synergisme’ kan praat.”

Daarom is dit wel in lyn met die Bybelse getuienis om die gemeente op Hemelvaart op te roep om hulle voor te berei vir Pinkster deur hulleself te ondersoek om te sien waar hulle die Gees se werking blus – om hulle op te roep om op die Gees “te wag”.

Die Gees bekragtig ons swak getuienis
In Februarie het ons Jesus op sy lydensweg gevolg. Op Goeie Vrydag is ons geroer deur sy selfopoffering. Op Paassondag het ons die klokke hoor lui: Christus het opgestaan – ja, waarlik opgestaan! Nou moet die blye boodskap verder – en ons moet die aflosstok verder neem. Voel ons heeltemal onbekwaam? Bang dat ons die span in die steek gaan laat? Dat ons die stok gaan laat val? Gelukkig het ons ‘n Helper, ‘n Voor­spraak wat ons sal help. Wat ons hande vashou, ons clichés woorde van krag maak en ons oppervlakkige gebede diepte gee – God se Heilige Gees.

Dieselfde gerusstelling het Jesus aan sy dissipels gegee. Hulle het die toekoms gevrees: dit was wonderlik dat Jesus uit die dood opgestaan en die dood oorwin het. Wat ‘n wonderlike tyd was die 49 dae tussen die Joodse feeste Pasga en Sjavuot (Pinkster) nie. Die opgestane Jesus was in hulle midde. Soos in die ou dae. Maar nou gaan Hy weer weg – moes hulle hoor – en laat hulle alleen agter. Sou hulle sy boodskap aan die mense rondom hulle kan oordra? Sou die hoorders glo? Wat as hulle vervolg word? Jesus verseker hulle dat die Gees hulle die nodige krag sal gee. Al is hulle swak sal Hy hulle getuienis bekragtig. Daarom moet hulle eers in Jerusalem wag totdat hulle met die krag van die Gees uit die hoogte toegerus is.

Dieselfde boodskap gee die Here aan ons. Die Gees sal ons swak getuienis bekragtig. Die Gees is reeds uitgestort “op alle vlees”, dit wil sê op elke gelowige, geestelik of vleeslik, toegewyd of lou. Op almal van ons wat bely: Jesus is die Here. Maar voor ons uitgaan en met die vaste oortuiging praat dat die Gees ons woorde sal bekragtig, is dit gepas om ‘n oomblik stil te staan – en seker te maak dat ons in pas is met die Gees se bedoeling, plan en styl. Dit is nodig dat ons seker maak dat terwyl ons baie oor die Gees praat ons nie met iets anders besig is wat die werking van die Gees teenstaan nie (lees 1 Tim 5:19 hardop). Hemelvaart roep ons op om te “wag op die Gees” – dit wil sê, om vir eers stil te word en te hoor wat God se Gees en Woord vir ons persoonlik wil sê. Hemelvaart herinner daaraan dat Jesus tot ‘n posisie van krag en gesag verhoog is – en van daar stuur Hy sy Gees om met krag te werk. Hierdie krag is ook vir ons as gelowiges belowe, maar dit is nie vanselfsprekend beskikbaar nie. As ons nie in pas met die Gees wandel nie, sal dit ons aan die krag van die Gees ontbreek. Voor ons dus ywerig is om die krag van die Gees te ontvang, is dit nodig dat ons onsself sal ondersoek. ‘n Goeie vraag by so ‘n selfondersoek is die vraag: Bring dit waarvoor ek die krag van die Gees begeer, eer aan Christus? Want dit is wat Jesus gesê het dat die Gees sal doen: “Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig” (Joh 16:14). ‘n Tweede vraag is: Wil ek dit regtig hê? Wil ek myself heeltemal aan die Gees oorgee, sodat dit vir ander mag lyk asof ek “onder die invloed” van die Gees is (lees Ef 5:18 hardop)? Of is dit te belangrik vir my om steeds in beheer te bly?

Jesus het uit die dood opgestaan. Hy het opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van die Vader. Van daar wil Hy ons toerus en bekragtig met sy Gees. Laat ons die komende Pinkster daarvoor gebruik – om met “krag van bo” (Luk 24:49) toegerus te word. Moet dit nie misloop nie.

As Jesus weggaan
Ons almal ken oomblikke van intense geluk. Ons het almal ervaring daarvan dat ‘n mens se lewe vol en vol vreugde kan wees. Maar ons ken almal terselfdertyd ook die anderkant van die lewe. Ons ken dit uit persoonlike ervaring en ons ken dit uit die verhale van swaarkry, droefheid en pyn wat ons ore elke dag bereik. ‘n Baie toegewyde gelowige het nou eendag teenoor my die opmerking gemaak dat sy weet dat Jesus dit ook swaar gehad het terwyl Hy op die aarde was, maar dat Hy nou veilig in die hemel sit terwyl sy daagliks die lewe soos ‘n stuk loodswaar bagasie op haar rug moet dra. Sy swaarkry het vir drie jaar geduur, maar haar swaarkry duur al vir dertig jaar.

Die Duitse teoloog, Helmut Thielicke, vertel dat toe hulle gesin hierdie gedeelte by geleentheid saamgelees het, die jongste opgemerk het: “Toe die Here Jesus in die hemel aangekom het, het sy Vader vir Hom gesê: nou moet jy maar hier bly, anders kom jy net weer in die moeilikheid.”

Wat hier in kinderlike onskuld gesê is, leef op verskillende vlakke nog by baie volwasse Christene. Na sy hemelvaart is Jesus opgeneem in die veiligheid van die hemel, lewe Hy in die koestering van die Vader se arms, in die pynlose ewigheid.

So het die meeste, veral griekse, filosowe ook destyds gedink oor die hemel en die aarde. Vir hulle was die hemel die samevattende begrip vir die lig aan die ander kant van ons wêreld en tyd, die sfeer waarin die suiwer idees woon. ‘n Wêreld wat nie onderwerp is aan die verganklikheid en die tydelikheid van ons aarde nie. Hierin woon die Ewige, ver verwyderd van die slegte en die swaar van mens en wêreld.

Die eerste ding in hierdie teks wat ‘n mens laat wonder of ons die saak reg verstaan, is wanneer Lukas sê dat die dissipels na Jesus se hemelvaart met groot blydskap na Jerusalem teruggegaan het. Dit voel vir ‘n mens asof iets nie klop nie. Jesus was nie alleen hulle Heer en leermeester nie, Hy was ook hulle vriend, iemand met wie hulle ‘n besondere pad saamgeloop het. ‘n Mens sou darem ten minste ‘n bietjie weemoed verwag.

Nou is dit interessant dat die Griekse woord wat Lukas gebruik, hier op ‘n unieke manier gebruik word. Die woord dustonai beteken ‘om weg te gaan’ of ‘om afskeid te neem’ (soos wat die ou vertaling sê), maar hier beteken dit nie ‘n afskeid soos wanneer die verbinding tussen persone volledig verbreek word nie. Dit beteken veel eerder ‘n afskeid waarin die verbinding tussen mense op ‘n nuwe manier voortleef.

Volgens Lukas se verstaan van Jesus se afskeid, is Hy nóg besig om tot siens te sê, en nóg besig om sy dissipels vaarwel toe te roep. Hy is besig om vir hulle te toon waar hulle vroeër aan Hom kon raak, Hom kon sien en hoor, dit nou alleen Hy is wat aan hulle kan raak.

Daar is egter ook ‘n tweede saak wat hier baie belangrik is. Ons lees dat Jesus met sy weggaan in die hemel opgeneem is. In die populêre verstaan is die hemel dikwels ons voorstelling van die plek waar God in alle ewigheid woon en waar ons uiteindelik ook saam met Hom vir die ewigheid gaan bly. Dit is interessant om te sien dat die Bybel anders oor die hemel praat. Die hemel is in die eerste plek, net soos die aarde aan die verganklikheid onderworpe. In Openbaring lees ons (21:1) dat die eerste hemel saam met die aarde sal vergaan en dat God in die voleinding ‘n nuwe hemel sal skep. Ook die hemel is dus nie soos die griekse filosowe gedink het, die plek waar die ewigheid by wyse van spreke woon nie.

In Engels is dit makliker om die hemel te verduidelik omdat daar in Engels twee woorde is wat gebruik word, te wete sky en heaven. Die sky is ‘n soort ruimtelike aanduiding, terwyl heaven nie noodwendig ‘n kosmiese dimensie het nie, maar veel eerder ‘n geestelike dimensie. Die hemel is nie eenvoudig bokant ons nie, maar omgewe ons van alle kante. Anders gestel, die hemel is volgens die Bybel nie die ruimte bokant ons waarna ons kan opkyk nie, dit is eerder die diepste agtergrond, die diepste kern van ons bestaan. Dit is die allesomvattende heerskappy van God waar ons midde in staan. God is dus nie in die hoogte nie, maar in die diepte van die lewe te soek (Thielicke).

Dat Jesus in die hemel opgeneem is, is ‘n Bybelse manier van sê dat Hy die menslikheid van sy aardse bestaan en dus die aardse beperkings afgelê of neergelê het om volledig deel te word van die goddelike bestaan.

Daar is egter ook ‘n derde ding wat hier gebeur, wat die vertrek van Jesus na die hemel op ‘n besondere manier toelig en verhelder. In vers 50 staan daar dat Hy hulle uit die stad uitgelei het tot in Betanie en dat Hy sy hande opgehef en hulle geseën hetOns lees ook in vers 51 dat ‘Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem‘. Alhoewel Hy van hulle weggeneem is, het sy seën by hulle gebly. Wat beteken dit?

Die Griekse woord wat hier vir seën gebruik word, rus volledig in die Joodse gebruik. Volgens Genesis 48:15-23 het Jakob die twee seuns van Josef geseën en dit het beteken dat hulle sy naam sal dra en dat sy naam in sy hulle sal voortleef (vers 16). Die diepste kern waaroor die seën gaan, word duidelik wanneer Jakob vir Josef sê: “Ek gaan sterf, maar God sal by julle wees (vers 21).”

Ook as die Here vir Isak seën (Gen 26:3), verklaar Hy: “Ek sal by jou wees..” en ten slotte in Genesis 1 (vers 28) met die skepping lees ons ook dat die Here, na Hy die mense geskep het, hulle geseën het, wat beteken dat hulle met lewenskrag vervul word op so ‘n manier dat hulle deel ontvang van die lewe van God Self.

Al hierdie dinge word in die Griekse woord vervat waarmee Jesus sy dissipels seën: Hulle sal sy Naam dra, in die krag daarvan optree en hulle sal met sy lewenskrag vervul word, op so ‘n manier dat dit nie meer hulle is wat lewe nie, maar Christus wat deur hulle lewe.

Presies hierdie volheid van die seën word tot uitdrukking gebring wanneer Petrus in Handelinge 3 (26) vir Jesus beskryf dat Hy Self, in sy persoon, vir al die gelowiges tot ‘n seën is. Let wel, nie alleen dat Hy al die gelowiges seën nie, maar dat Hyself vir hulle tot ‘n seën is.

As Jesus dus sy hande oor die dissipels uitsteek en hulle seën, dan skenk Hy aan hulle sy beskutting en beskerming, sy mag en heerskappy, maar veral sy persoonlike teenwoordigheid.

So kan ‘n mens dus sien dat in al drie hierdie sake van vers 51; wat sy weggaan beteken, waar die hemel is en veral sy seën, dat dit nie waar is dat ons hier op aarde swoeg en onder die aanslae van die lewe buig terwyl Jesus veilig en onaangeraak in die hemel sit nie. So het sy dissipels dit kennelik ook nie verstaan toe hulle met groot blydskap na Jerusalem teruggegaan het nie.

Hemelvaart sou geen fees gewees het as dit so was dat Jesus veilig in die hemel sit en ons te midde van die onveiligheid ons weg hieronder moes vind nie. Miskien wil die fees eintlik niks anders doen as om ons op hierdie dag daaraan te herinner dat Hy – die gekruisigde en opgestane Heer – hier by ons teenwoordig is. Nie as ‘n belofte nie, maar as ‘n vervulde belofte, nie as ‘n verlange nie, maar as die Een wat die verlangendes omarm en die verlange stil.

Wat die Bybel vir ons sê, is dat Jesus se weggaan is, soos ‘n kind wat uit die huis uitgaan.  Dis nie ‘n weggaan van die ouers af nie. Die ouers weet dat hulle nie ‘n kind se lewe vir hom/haar kan lei nie, al sou hulle hoe graag hulle kinders wil beskerm teen die pyn van die lewe. Die lewe is iets wat elkeen self moet ingaan, self moet opneem en uiteindelik self voor moet verantwoording doen.

Maar ons sien hier dat Jesus soos ‘n liefdevolle ouer eers sy kinders gereedmaak vir die lewe en hulle dan uitstuur, (let wel, nie wegstuur nie). Maar in sy uitstuur dra hulle sy Naam en tree hulle in die krag van sy Naam op.

Maar hier is ‘n belangrike punt waar die vergelyking tussen die ouer en Jesus ophou. Want alle ouers weet dat hulle hulle kinders met niks meer as die versekering van hulle liefde kan uitstuur nie. Jesus Christus stuur sy dissipels nie alleen met die versekering van sy liefde uit nie, Hy stuur sy liefde saam met hulle. Anders gestel: As die opgestane Heer is Hy by hulle. Nie alleen in Jerusalem en in die omtrekke van Judea nie, maar oor die hele wêreld. Ook hier in Suid-Afrika.

Jesus Christus is nie in hemel opgeneem om self uit die moeilikheid te bly nie, Hy is in die hemel opgeneem om óns moeilikheid op Hom te neem, om ons te help dra in die moeilikste tye van ons lewe.

Jesus Christus is nie weg sodat ons Hom hier tevergeefs soek nie. Veel eerder is die teendeel waar: Dat dit Hy is wat hier tevergeefs na ons soek.

Jesus Christus seën nie sy kinders omdat hulle voortaan op hulle eie is nie, Hy seën ons sodat ons voortaan nooit op ons eie hoef te wees nie.

Die uniekheid van die Hemelvaart

Teks
 1. Vers 46-49. Wanneer ‘n mens probeer vra na die betekenis van ‘n bepaalde gedeelte in ‘n Bybelboek, soos trouens met die voorgeskrewe gedeelte verwag word, vind jy dat jy moeilik net by die inleidende vers kan begin. Daar is altyd ‘n hakie of skakel wat jou na die onmiddellik voorafgaande en uiteindelik na die hele Bybel wil laat teruggaan. So ‘n skakel vind ons aan die begin van hierdie gedeelte/perikoop wanneer ons lees dat Jesus, verwysende na die onvermydelike van sy lyding en opstanding, aan die dissipels gesê het: “So is dit geskrywe . . .” Verwys Jesus hiermee na enkele gedeeltes soos die sogenaamde “Messiaanse voorspellings”, of geld dit ‘n breër verband? Volgens vers 44 lyk dit of Jesus laasgenoemde bedoel. Jesus verwys daar na alles wat oor Hom geskrywe is “in die Wet van Moses en die Profete en die Psalms . . .” Dié uitdrukking verwys na die drie dele van die Hebreeuse Bybel en is dus die tegniese term vir die hele Ou Testament of “Skrifte”. Terloops, dit is ook die enigste plek in die Nuwe Testament wat na die driedeling van die Hebreeuse Bybel verwys.

Met dié uitdrukking sê Jesus eintlik dat die Ou Testament as geheel van Hom getuig as dié een wat moes ly, sterf en opstaan. Tog is sulke direkte aanwysings in die Ou Testament nie so voor die hand liggend nie. Daarteenoor word redelik algemeen aanvaar dat nie slegs enkele Ou-Testamentiese figure of ampsdraers heenwysers (prototipes) na Christus was nie, maar dat juis Israel as eiendomsvolk die rol van lydende kneg van die Here vervul het. In dié verband maak Gollwitzer die belangrike opmerking: “Die profetiese siening van Israel se geskiedenis soos dit in die Ou Testament opgeteken staan, moet egter begryp word om die onontwykbaarheid van Jesus se lewens- en lydensweg te verstaan.” Hierdie waarheid het Jesus herhaaldelik aan die dissipels probeer oordra (24:6-7, 26-27). Tog het hulle dit nie verstaan nie. Dié verbande kon hulle nie insien nie. Soos in die geval van die twee Emmausgangers wie se oë geopen moes word (31) voordat hulle die Skrifte kon verstaan en die Opgestane Christus kon herken (32), so moes ook in die geval van die dissipels hulle verstand geopen word voordat hulle die verbande waarvan Jesus gepraat het, kon insien (45). Immers, hierdie “insien” is ten diepste ‘n saak van geloof! (25).

Wat Jesus dus besig was om aan sy dissipels te sê, was dat indien hulle die Skrifte (OT) geken en verstaan het, sou hulle begryp het dat Hy die lydensweg “moes” gaan/kies. Jesus het dan ook telkens in sy onderrig aan die dissipels daarop gewys dat Hy “moes” ly.

Verder opvallend is die besondere klem wat Lukas lê op die feit dat Christus op “die derde dag” opgestaan het uit die dood. Hy doen dit ook in die verhaal van die Emmausgangers (21, vgl verder 2:46; 9:22; 18:33; Hand 10:40). Die gelowiges hoef dus nie eers op ‘n toekomstige stawing van Christus se geloofwaardigheid te wag nie. Hulle het dit reeds (Danker). Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood soos reeds vooraf aangekondig is. Hiervan is sy liggaamlike teenwoordigheid by hulle die konkrete bewys. Volgens vers 36-43 het die opgestane Jesus op verskeie maniere sy liggaamlikheid aan die dissipels bevestig.

Jesus se lyding, sterwe en opstanding het egter belangrike implikasies vir die wêreld. Aan al die nasies moet bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word. Sy oorwinning oor die dood het ‘n streep getrek deur die noodwendige loon van die sonde, naamlik die dood (Rom 6:23). Om aan dié oorwinning deel te hê, moet die weg van bekering en vergewing van sondes in Christus se Naam gegaan word. Dit is vir alle nasies beskikbaar. Dit is die goeie nuus, die blye boodskap waarvan die dissipels in ‘n unieke sin voortaan die “getuies” (Gr martures) moet wees (48). Die volgelinge (dissipels) word die “gestuurdes” (apostels) – let op die beklemtoonde vooropstelling van “julle” in vers 48. Hulle getuienis/boodskap bestaan uit ‘n eenvoudige paar woorde: Bekeer julle tot God en julle sondes word vergewe in die Naam van Christus Jesus.

Ondanks die eenvoud van die boodskap sou juis die aard en die omvang van die opdrag eise stel wat die getuies se vermoëns volledig oorstyg. Daarom die verdere opdrag aan hulle om in Jerusalem te wag vir die belofte van die Vader, te wete “krag uit die hoogte” (49). Dit sou vir alle tye en omstandighede die unieke toerusting vir die getuies se taak onder die nasies wees. In teenstelling met die beklemtoning van die “julle” (die dissipels) in die vorige vers word hier die “Ek” (te wete Christus) weer beklemtoon deur dit voorop te stel. Anders gesê: Húlle sal die martures (getuies) wees en Hy sal die dunami” (krag) voorsien.

Jerusalem is voortaan nie meer hulle eindbestemming nie, maar hulle vertrekbasis op pad na die eindes van die aarde.

2. Vers 50-53. Die mededeling wat Lukas hier aan die einde van sy oorsig oor die lewe en werk van Jesus maak, word veral deur ‘n uiters spaarsame gebruik van woorde gekenmerk. Daar is baie bespiegeling waarom ‘n belangrike gebeurtenis soos die hemelvaart met so ‘n kort en bondige mededeling – amper asof dit ‘n terloopse opmerking is – afgemaak is. Kenners van die papirusrolle meen egter dat die rol waarop die verhaal geskrywe is, reeds vol was. Lukas wou egter sy verhaal oor die lewe en werk van Jesus nie net met die opstanding en verskyningsverhale afsluit nie. Daar was immers nog Christus se hemelvaart. Die weglating daarvan sou die Jesusverhaal onvoltooid laat.

Wat egter opval, is die eenvoud van dié unieke gebeure. Hier is geen vreesaanjaende kragte soos vuurbolle, verblindende ligflitse, rukkende winde, oorverdowende geluide wat die volgelinge beangs op die grond laat val nie. Alles gebeur in die grootste eenvoud. Met sy aardse bediening nou voltooi, het die oomblik van oorgang na sy hemelse posisie aangebreek. Gevolglik lei Hy sy volgelinge uit die stad (Jerusalem) tot by Betanië. Terwyl Hy sy hande oplig om hulle te seën, is Hy uit hulle midde opgeneem in die hemel. Sy volgelinge het vasgenael staan en kyk. Spontaan het hulle begin om Hom te aanbid. Toe hulle terugstap na Jerusalem, was dit nie met hartseer en verslaenheid nie, maar met “groot blydskap” (51). In gehoorsaamheid aan sy opdrag om te wag op die belofte van die Vader het hulle gedurig in die tempel bymekaargekom waar hulle God geprys en gedank het (52). Daarmee eindig die Lukasevangelie die Jesusverhaal waar hy dit begin het, te wete in die tempel in Jerusalem. En net soos met die aankondiging van Jesus se geboorte daar groot blydskap was (2:10), dien die verhaal van sy hemelvaart ook tot groot blydskap onder sy dissipels en ander volgelinge (24:51).

Sewe perspektiewe
1. Die Christelike verkondiging van die opstanding van Jesus Christus uit die dood en sy hemelvaart veertig dae later vind plaas in ‘n moderne denkklimaat wat dit as onaanvaarbaar en selfs onhoudbaar verwerp. Om só te dink en te glo, so word geredeneer, is ‘n onbruikbare oorblyfsel van ‘n premoderne wêreldbeeld. Daarvolgens sou die werklikheid uit drie vlakke of verdiepings bestaan met die aarde in die middel, die hemel bo en die onderaardse die laagste vlak.

Vir die moderne mens wie se denke gevorm en gevoed word deur wetenskaplike navorsing en ontdekkings in die ruimte, is terme soos “bo in die hemel” en “opgevaar het na die hemel”, niks anders as misleidende anachronismes nie. Indien die kerk egter voortgaan om in hierdie terme te dink en te praat – so word daar beweer – moet verwag word dat ‘n groeiende getal mense die rug op die kerk en die Christelike geloof sal draai. Hierdie kritiese siening binne die Suid-Afrikaanse gesprek het in die jongste tyd veral sterk op die voorgrond getree deur die ontwikkelinge rondom die ontstaan van die Nuwe Hervorming en verskeie stemme in die internetdebat oor God, godsdiens en geloof (vgl “Die Omstrede God”-publikasie). Dit herinner sterk aan die standpunte en argumente van die omstrede biskop van Woolwich, J A T Robinson, wat reeds in die sestigerjare van die vorige eeu die kerklike sekerhede wou skud met sy “Honest to God”-standpunte. Immers, die sieninge is selfs ook veel ouer. In sy “Doodloopstrate van die geloof. ‘n Perspektief op die Nuwe Hervorming” (2005) gee Jaap Durand ‘n waardevolle ontleding van die standpunte van die Nuwe Hervormers en van tendense in “Die Omstrede God”-debat en dui ook op die historiese wortels daarvan.

2. Ook vanuit ‘n ander hoek is die Christelike geloof in Jesus Christus se hemelvaart aangeval. Karl Marx het die Christene verwyt dat hulle so behep is met die hemel dat hulle nie die aarde en die ellende van die arbeiders kan raaksien nie. Hy was egter oortuig dat as die lot van die arm arbeiders verander word, die behoefte aan ‘n hemel ook daarmee saam sal verdwyn. Die bestendige groei van die Christelike kerk, ook onder mense sonder materiële gebrek, ontneem die argument sy absolute aanspraak. Die geloof in die hemelvaart is juis allesbehalwe ‘n soort ontvlugting van die werklikheid. Inteendeel, na die uitstorting van die Heilige Gees het die Christene ‘n dienende en sorgende gemeenskap geword wat deur die eeue onberekenbare liefdesdiens en hulp aan medemense verleen het. Adolf Harnack noem dit een van die belangrikste faktore vir die vinnige groei en verspreiding van die Christelike geloof.

3. Die hemelvaart van Christus vorm ‘n onlosmaaklike deel van die Nuwe-Testamentiese verkondiging aangaande Jesus Christus. Alhoewel die eksplisiete beskrywing van die hemelvaart slegs deur Lukas in sy dubbele geskrif Evangelie-Handelinge gegee word, te wete Lukas 24:36-53 en Handelinge 1:1-14, vind ons ook implisiete verwysings daarna in verskeie ander Nuwe-Testamentiese geskrifte. In dié verband kan onder meer verwys word na Markus 16:14-20; Johannes 14:1-12; 17:16-21/20-26; Filippense 2:6-11; Kolssense 1:15-20; 3:1-4(5-11); Hebreërs 1, 5, 7-9. Vanuit hierdie verwysingsveld is dit ook duidelik waarom die hemelvaart ‘n integrale deel van die Christelike geloofsbelydenis (Twaalf Artikels) vorm. Dit is dus noodsaaklik dat die gemeente op ‘n gereelde grondslag in die lig van die kerklike tradisie en die jongste teologiese besinning hulle geloof in dié verband verdiep en vaslê. Dit sou selfs ‘n belangrike doel kon dien om as gemeente ‘n konferensie oor dié leerstuk te hou sodat vrae en bedenkinge wat dikwels bestaan, aan die orde kan kom en saam na sinvolle antwoorde gesoek kan word.

4. Die hemelvaart as tema vir die prediking het sedert die ontstaan van die Woord teen die Lig-reeks en veral Buvton se Preekstudies met Liturgiese Voorstelle, waardevolle eksegetiese en homiletiese materiaal in Afrikaans bekom. Veral predikers wat nie in die nabyheid van toegeruste teologiese biblioteke is nie, kan steeds vrugbaar die bydraes van vorige jare lees om sodoende eie materiaal te verryk.

In genoemde reekse het reeds verskeie preekstudies oor die Hemelvaart verskyn. In Woord teen dieLlig I/3: Riglyne vir Paas-, Hemelvaarts- en Pinksterprediking (1983) is daar behalwe die inleidingsartikel deur D J Smit, drie bydraes vir Hemelvaart (Riglyne oor Kol 3:1-4; Ef 1:20-23 deur D J Smit en Joh 14:1-14 deur J J E Koornhof; In die Buvton- Preekstudies het die volgende perikope aandag ontvang: 2000 – Hand 1:1-11 (Fanie Herholdt); 2002 – Hand 1:1-11 (Andries Cilliers); 2003 – Ps 47 (Francois Wessels); 2004 – Ef 1:15-23 (Bennie van Rensburg); 2005 – Luk 24:44-53 (Francois Wessels); 2006 – Luk 24:36-53)Robert Vosloo). Dit is dus vanjaar reeds die derde agtereenvolgende keer dat dieselfde gedeelte uit Lukas 24 voorgeskryf word. Dit kan óf ‘n voordeel óf ‘n verleentheid wees – na gelang van hoe daar reeds van die perikoop en die bygaande inligting gebruik gemaak is.

5. Hoewel nie as ‘n homiletiese riglyn aangebied nie, kan die samevatting van John F Maile in sy artikel oor die hemelvaart volgens Lukas-Handelinge wel as moontlike riglyn vir ‘n preek benut word. Hy gee die volgende ses punte: (1) Die hemelvaart is die bevestiging van die verhoging/verheerliking van Christus en van sy teenswoordige Heerskap. Dit is juis laasgenoemde wat betekenis aan die evangelie gee. (2) Die hemelvaart is die verduideliking van die kontinuïteit tussen die bediening van Jesus en dié van die kerk. Hy haal H Schlier aan wat gesê het: “Lukas wys daarop dat die skeiding nie ‘n vaarwel is nie, inteendeel, basies geen vaarwel nie, maar die terugtrek in ‘n groter nabyheid” (57). (3) Die hemelvaart is die kulminering van die opstandingsverskynings. (4) Die hemelvaart is die voorspel tot die stuur van die Heilige Gees. (5) Die hemelvaart is die fondament van die Christelike sending. (6) Die hemelvaart is die waarborg van Christus se wederkoms.

6. Indien predikers oordeel dat die Skrifgedeelte reeds genoegsaam in eie konteks ontgin en behandel is, kan hulle natuurlik ook van die Heidelbergse Kategismus Sondag 18 gebruik maak, dit wil sê, in kerk/gemeentes waar die “Drie Formuliere van Eenheid” bekend is en gebruik word. Verskeie riglyne sou ook hier gebruik kon word. In H D A du Toit (1963) se Vier Eeue van Troos. Preekbundel oor die Heidelbergse Kategismus het J H Scheepers die preekstudie oor Sondag 18 voorberei. Vir diegene wat Nederlands magtig is, is daar die prikkelende preekriglyn oor Sondag 18 deur J Rinzema in Credere Christo, deel II in die reeks “Nieuw Commentaar Heidelbergse Catechismus”. Ook bruikbaar is J G Feenstra se Het Eigendom des Heren.

7. ‘n Verdere waardevolle bron vir raadpleging en benutting is die werk van kunstenaars soos skilders, digters, skrywers en komponiste. Die mees voor die handliggende is die liedereboeke van kerke. Hier kan ‘n mens luister na die geloofstaal van gelowiges, hulle belewenis en verwagting van die hemelvaart. Opvallend is die stemming van dankbaarheid, blydskap en verwagting wat in die verskillende liedere verwoord word. Nie net die inhoud van die liedere is interessant nie, maar ook die getalsverhouding tot dié van ander temas. Die Berymde Psalms en Evangeliese Gesange van 1937 het ses liedere oor hemelvaart, dié van 1978 elf en die Liedboek vyf. Die Nuwe Sionsgesange het agt.

Aansluitend hierby kan snitte gespeel word uit J S Bach se vier Kantates (BWV 11; 37; 40; 128) of C P E Bach se meevoerende oratorium Die Auferstehung und Himmelfahrt Jesu.

Aangrypend is ook die perspektiewe wat skilders bied op hulle verstaan van die hemelvaart. Dit is soos met die Bybelse wonderwerke telkens ‘n klein venstertjie wat oopmaak op die genadewerk van God. Of ons dus kyk na ‘n skildery van Ensor wat veral die opvarende Christus se gestrooptheid wys te midde van sy oorwinning oor al die menslike intriges en booshede, dié van Matthias Grünewald wat die klem laat val op die ligkring skuins agter ‘n koninklik geklede Christus se kop om daarmee “verligting” voor te stel óf van Rembrandt wat Christus, gevolg deur klein engelfigure, laat opvaar in ‘n helder uitkelkende ligkolom, die boodskap is duidelik: Hier stol alle menslike aktiwiteite! Die volgelinge kan net toekyk terwyl ‘n ander, onsienlike mag oorneem. Veelseggend is ook die grondtonele van die verskillende skilderye. By Ensor lê alles, mense en strukture, asof platgevee. By Grünewald lê strukture omgedruk soos met ‘n aardbewing en die mensfigure lê bewusteloos. Rembrandt se figure, gehul in skemer donker, kyk aandagtig na Hom wat opvaar in groter wordende lig. Hulle lig is om op te kyk.

Kyk ons as gemeente die uniekheid van Christus se hemelvaart mis?
Is ons opgewonde oor die hemelvaart van Jesus Christus?

Sou ons dit ook kon vra van Jesus se geboorte, sy kruisiging, sy opstanding, uitstorting van die Gees? ‘n Vergelyking van die gemeentelede se betrokkenheid en belewing van die verskillende kerklike feesdae ter herdenking van die hoof-gebeurtenisse in Jesus se lewe soos Kersfees, Lydenstyd, Goeie Vrydag, Paassondag, Hemelvaart, bring vreemde voorkeure aan die lig. Vir kerke in die Afrikagemeenskappe word Goeie Vrydag met groot intensiteit gevier, terwyl daar weinig ophef van Kersfees gemaak word. In Westerse gemeenskappe geld Kersfees as die vernaamste geleentheid vir vrolikheid, vrygewigheid en saamwees. In Oosters-Ortodokse kerke val die klem weer op Pase, die opstanding van Christus. Vreemd genoeg, word hemelvaart nie met dieselfde intensiteit tegemoetgegaan nie. Waarom is dit so? Met die vermindering van amptelike vakansiedae is Hemelvaartdag sonder veel reaksie van kerke van die kalender verwyder. Is Hemelvaart ‘n mindere gebeurtenis as die ander?

In die lig van bogenoemde is dit belangrik om met die gemeente weer die Lukasbeskrywings van die hemelvaart van Jesus Christus noukeurig te oordink. Die volgende elemente kan vraenderwys aan die orde gestel word sodat ons by die kern/hart van die saak kan bly:

 1. Wie is dit wat opgevaar het? En van waar kom Hy? In die antwoord is dit veral belangrik om die lyn te trek van Jesus wat gely, gekruisig en gesterf het, begrawe is en op die derde dag uit die dood opgestaan en by verskillende geleenthede aan sy dissipels en ander volgelinge verskyn het. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra (Joh 1:29). Hy dra die Naam “Jesus”, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos (Matt 1:21). Hy is die bewys van God se liefde vir die wêreld (Joh 3:16). Dus, Hy wat opgevaar het, is dié Een wat aan die mense (ons) gelyk geword het om ons van die magsgreep van die sonde te verlos (Heb 1:14-18). Hy het gely tot aan die uiterste grens van gehoorsaamheid (Heb 5:8, 9). Die ware Herder wat sy lewe gee vir die redding van die skape (Joh 10:11). Dit is dié Jesus wat aan die kruis gesê het: Dit is volbring! Dié Jesus wat werklik gesterf het, begrawe is. Dié Jesus het uit die dood opgestaan en by verskeie geleenthede aan sy dissipels en volgelinge verskyn. Die dissipels se aanvanklike skok en vrees het Jesus besweer deur hulle te oortuig dat dit fisiek werklik Hy is (Luk 24:37-43). Gedurende dié tyd (40 dae) het Jesus met hulle oor die koninkryk van God gepraat (Hand 1:3).

2. Waarheen het Jesus Christus gegaan? Om wat te doen? Gestroop van alle pretensie en indrukwekkendheid gee Lukas op meesterlike wyse die gebeure weer. Jesus lei sy dissipels en volgelinge uit Jerusalem na Betanië. Terwyl Hy met hulle praat, strek Hy sy hande seënend oor hulle uit en voor hulle oë word Hy opgeneem in die hemel. Dit gebeur presies soos Hy dit tevore by verskillende geleenthede aan sy volgelinge gesê het. Waarheen is Hy? In Bybelse taal word vertel dat Hy bo alle trone en heerskappye verhoog is om te sit aan die regterhand van God. Die “hemel” is kennelik nie ‘n plek wat deur ons gebrekkige natuurlike sienvermoë waargeneem kan word nie. Die Rus Joeri Gagarin se breedsprakige verklaring na sy epogmakende ruimtereis dat hy nêrens ‘n hemel gesien het nie, was korrek. Die woonplek en troon van God is nie in ‘n verdieping bokant die aarde of sy atmosfeer nie. Dit is van ‘n ander orde. Reeds die verskyning en verdwyning van Jesus se opstandingsliggaam was hiervan ‘n goeie aanduiding. Trouens, aan die Samaritaanse vrou het Jesus gesê dat God Gees is en net in gees en waarheid genader kan word (Joh 4:24). Omdat Jesus die vereistes van die ou verbond vervul en aan die geregtigheid van God voldoen het, het Hy as die Hoëpriester van die nuwe verbond gaan sit aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele” (Heb 8:1). In dié unieke posisie is Christus ons “Voorspraak by die Vader” (1 Joh 2:1), die Middelaar van die nuwe testament (Heb 9:15)

3. Hoe weet ons dit? Deur die Heilige Gees wat van die Vader en die Seun gekom het. Volgens Jesus se belofte sou die “Gees van die waarheid” juis kom om gelowiges te herinner aan alles wat Christus vir hulle geleer het (Joh 14:16, 17, 26). Dit is ook die Gees waarop die dissipels moes wag om as “apostels” toegerus te word vir hulle wêreldwye getuienistaak. Dit is die Gees wat die geloof in ons hart bewerk, ons daagliks versterk en ons bestaan rig/stuur deur die Woord van God. Dit is ook die Gees wat die geloofsgemeenskap blywend rig op die wederkoms van Christus.

Die hemelvaart is dus geen afskeid of vaarwel nie. Dis ook nie ‘n projek wat skeefgeloop en in die lug verdwyn het nie. Dis die suksesvolle afloop van ‘n unieke sending. God se heilsplan is volbring. Wie in Jesus Christus glo, is deel daarvan.

Hierop kan ons antwoord niks minder as oorstelpende dankbaarheid en blydskap wees nie!!

Die “vaalheid” van die hemelvaartsviering kan dus net toegeskryf word aan ‘n gebrekkige/onvoldoende verstaan van hierdie ingrypende sleutelgebeure in God se heilsplan!

2.3 Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 425

Votum: (Responsories uit:  Handleiding  vir die Erediens)

Seëngroet

Lofsang: Lied 427 of Flam 383

Koninkrykslitanie: (Responsories uit:  Handleiding  vir die Erediens)

Responslied: VONKK 118

Geloofsbelydenis: (Fragment van Wilhelm Jordaan, “Blydenuus van Geloof”)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Lukas 24:44-53

Familie-oomblik

Preek

LEEF

Gebed

Slotsang: Flam 227 of VONKK 96

Seën

Respons: VONKK 96 refrein of Lied 425 Vers 2 eerste reël

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede: Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”

Votum
Voorganger (V): Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.  Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.
Gemeente (G): Ons het gesterwe en ons lewe is verborge in God.

V: Wanneer Christus wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn.
G: Ja, ons sal in sy heerlikheid deel. Amen. Halleluja!
(Uit:  Handleiding  vir die Erediens)

Seëngroet

Lofsang
Lied 427 “Alle volke, loof die Koning!” of
Flam 383 Al Julle Volke, Klap Julle Hande (Psalm 47)

Koninkrykslitanie
Voorganger (V): In alle plekke van konflik …
Gemeente (G): Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke geweldenaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke soldaat …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke politikus …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke slagoffer van oorlog …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat honger ly …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke daklose …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat wanhoop …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat siek is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat gemolesteer is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat verslaaf is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen met skuld wat nie betaal kan word nie …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat eensaam is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat vrees ervaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat teneergedruk is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van die wêreld …
G: Laat u koninkryk kom.
Amen.
(Uit:  Handleiding  vir die Erediens)

Responslied
VONKK 118 Mayenziwe / U Wil Geskied

Geloofsbelydenis
Ek glo in hierdie Jesus
wat opgevaar het na die Vader
en vandaar die sagte oordeel bring
omdat Hy nader aan my is
as wat ek aan myself is;
my kern ken,
verby die vel
tot in die chemie van die sel;
wat weet hoe diep my blindheid is
en my vashou ­–
styf teen die braille van Sy lyf.
Ek glo in die Heilige Gees
die Wind van God
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal ­
weg van myself weg van Tarsis
na die nood in Ninevé.
(Fragment van Wilhelm Jordaan, “Blydenuus van Geloof”)

Liedere

VONKK 118 “Mayenziwe / U Wil Geskied”
Matteus 6 : 10 Teks: Mayenziwe ‘ntando yakho –tradisioneel isiXhosa; Afrikaanse weergawe: Cassie Carstens 2010 (Pro Deo)
Melodie: MAYENZIWE – tradisioneel Suid-Afrika, opgeteken deur George Mxadana.
Orrelbegeleiding: Colin Campbell 2010 (Pro Deo): © isiXhosa,  Engelse teks en melodie: Openbare besit
Kantoryverwerking: Colin Campbell 2010 (Pro Deo)
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Multikultureel – Gebed

isiXhosa
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.
Mayenziwe ‘ntando yakho.

Afrikaans
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.
U wil geskied op aard’, o Heer.

Engels
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.
Your will be done on earth, O Lord.

F383. “Al Julle Volke, Klap Julle Hande (Psalm 47)”
(RUBRIEK: Flam – Lof)
Teks: TT Cloete  © NG Kerk Uitgewers (Psalm 47) Musiek:  Louis Brittz © Urial  (Ps 47)

Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God met ’n jubel stem,
want aan die Here, die Allerhoogste, kom eerbied toe;
Hy is Koning oor die aarde:

Pre-refrein:
Prys God, prys Hom met psalms, prys ons Koning,
prys Hom met psalms!

Refrein:

Hy is Koning oor die hele aarde;
sing vir Hom, vir Hom ’n lied.
Hy is Koning oor al die nasies, prys Hom op sy heil’ge troon
bo almal verhewe.

F227. “Ons Sal Nou Gaan”
(RUBRIEK: Flammikidz – Getuienis) Oorspronklike titel: Wij zullen gaan Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht  © 1997 Celmar Music

1. Toe Jesus opvaar na die hemel
het Hy aan ons die taak gegee:
“Gaan na die nasies en vertel hul,
die Goeie Nuus vir elke een!”
Want alle mense moet dit weet dat
die Heer vir hul gesterwe het,
en as hul glo in Hom as Redder
hy hul verseker dat hul nou vir ewig leef.

Refrein:
Ons sal nou gaan
om die wêreld te vertel
dat Jesus leef
en van alle mense hou.
Ons sal getuig
dat die Here almal liefhet
so word deur ons werk
Gods Koninkryk gebou.

2. As mense ly in hul ellende,
deur oorlog, honger en verdriet.
Dan is dit steeds nog nie die einde
want Hy sê “Ek maak alles nuut!”
Eers moet alle mense weet van
die weg wat Hy vir hul beplan,
sodat hul waarlik vry kan uitgaan
en Hom kan volg en om ook op sy weg te gaan.

Refrein:

3. As Jesus terugkom uit die hemel,
kom Hy met majesteit en eer.
En dan sal elke een/mens moet neerbuig
en uitroep: “Jesus is die Heer!”
En hul wat nooit die Woord wou glo nie,
vir hulle eindig alles sleg…
Dink jy dat jy jouself kan vrymaak
dan is jy tog so dwaas, want Jesus is die weg!

Refrein:

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley (1707-1788); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel (1685-1759) Kantoryverwerking: George Frideric Handel (1685-1759)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1. Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2. Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3. Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4. Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 24:44-53

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Gebruik die YouVersion Bybel App vir Kinders (in Afrikaans beskikbaar) om die verhaal vir kinders te vertel.  Jy kan óf skermgrepe neem van die verskillende prente en dit in die powerpoint sit, óf vertel die storie met ‘n tablet en laat die kinders interaktief deelneem. Hier is ‘n video van die Engels weergawe.

Hier is ‘n templaat vir ‘n aanskoulike manier om die storie te vertel, wat ook ‘n aktiwiteit vir die kinders kan wees terwyl hulle na die preek luister.  Instruksies hier.

Preekriglyn

Dalk onthou van u die rolprent ET van Stephen Spielberg, wat oud en jonk se hartsnare geraak het. ET staan vir “the extra terrestial”. In die rolprent maak ET vriende met Elliot, ‘n tienjarige seuntjie. Daar ontwikkel ‘n nou band tussen hulle – soveel so dat wat met die een gebeur, ook deur die ander aangevoel word.

Elliot, wie se vader hulle onlangs verlaat het, probeer ET “hou”. Maar hy ontvang teenkanting van die pragmatisme van volwassenes en staatswetenskaplikes, asook die besoedeling in Kalifornië. ET se gesondheid gaan agteruit en hy sterf uiteindelik op ‘n steriele operasietafel.

ET het egter vroeër probeer om huis toe te bel, vandaar ET “phone home”, en skynbaar het van die boodskappe deurgekom. As gevolg van ‘n aantal sake, onder andere Elliot se toewyding, word ET weer lewend, ‘n gebeurtenis wat aangedui word deur die rooi gloed van ET se hart. Dit is egter duidelik dat ET moet teruggaan. En hierdie feit  bring diep emosies vir Elliot. Hy het gehoop hy kan ET “hou”.

Ervaring van verlies

Hierdie rolprent beeld iets uit van ‘n ervaring van verlies omdat iemand moet weggaan. Daar is intense emosies. Weggaan gaan inderdaad dikwels met pynlike emosies gepaard, veral as die persoon wat vertrek, iemand is met wie jy ‘n besondere verhouding het. Dit bring nie net ‘n ervaring van verlies nie, maar dikwels ook ‘n ervaring van onsekerheid.

Wanneer ‘n vriend byvoorbeeld wegtrek, kan jy wonder: Gaan ek die persoon weer sien? Gaan dinge nog dieselfde wees tussen ons as ons mekaar weer sien? Gaan ek weer so ‘n vriend vind? Of as iemand by die werk weggaan, kan vrae ontstaan soos: Gaan die kultuur dieselfde bly? Gaan ons nog so effektief wees?

Met die vertrek van iemand naby ons bevind ons ons in ‘n oorgangsfase wat nuwe uitdagings bied. Dit stel ook nuwe eise. En dit gaan gepaard met diep emosies. Daarom is intense emosies ter sprake wanneer mense mekaar groet as hulle mekaar vir lang tye nie weer gaan sien nie of dink hulle mekaar nooit weer gaan sien nie. In elke afskeid is iets van die dood teenwoordig.

Voorbeelde uit die Bybel

Die Bybel beskryf op ‘n paar plekke van sulke emosies wat met afskeid en oorgange saamhang, en hoe afskeid bangheid en onsekerheid bring.

Dink aan die dood van Moses. Josua bevind hom in ‘n nuwe situasie en wonder of hy die mas gaan opkom. Telkens kom die woorde van die Here egter tot hom: “Moenie bang wees nie. Ek is by jou.” Daar is dus die belofte van die voortsetting van die Here se teenwoordigheid in die nuwe fase.

Dink aan die profeet Elisa wat by Elia moet oorneem. 2 Konings 2 vertel van ‘n merkwaardige oorgang. Toe die tyd gekom het dat die Here vir Elia in ‘n stormwind in die hemel sou opneem, het Elia vir Elisa gesê hy moet agterbly en nie saam met hom na Bet-el gaan nie. Elisa wil egter nie alleen agterbly nie en gaan saam. Die profete in Bet-el vra vir Elisa of hy weet die Here gaan hulle leermeester van hulle af wegvat. Elisa sê hy weet, maar dat hy nie daaroor wil praat nie. Dié frase word telkens herhaal.

Dan lees ons van die gebeurtenis by die Jordaan. Elia vat sy (profetiese) mantel en slaan daarmee op die water en dit verdeel. “Wat kan ek vir jou doen?” vra Elia dan vir Elisa. Hierop antwoord Elisa: “Mag daar ‘n dubbele deel van u Gees op my kom.” Elia is toe met ‘n vuurwa en stormwind die hemel in. Elisa slaan ook met die mantel op die water en dit verdeel. Die ander profete sê: “Die Gees van die Here rus nou op Elia.” Wat hier opval, is die verband tussen “hemelvaart” en die oorgee van die profetiese gees. Iets van Elia bly voortleef na die weggaan van Elia.

Dink ook aan die oorgangsituasie waarvan Lukas 24 vertel. Die dissipels het met Christus saamgeloop en hulle hoop op Hom geplaas. Na die kruisiging is hulle ontnugter. Te midde van die gerugte van die opstanding is hulle bang en onseker. Met sy verskyning aan hulle stel Jesus hulle egter gerus. “Moenie bang wees nie. Vrede vir julle.”

Hierin word iets van die styl waarmee Jesus met mense se menslikheid omgaan sigbaar. Die teks maak egter duidelik dat Jesus weggaan.

Drie moontlike versoekings

Dit bring drie moontlike versoekings vir die kerk.

Jesus afwesig aanwesig
Die eerste is dat die kerk kan vergeet dat die aardse Jesus nie by ons op dieselfde manier as by die eerste dissipels teenwoordig is nie. Daarom het ons mekaar nodig om die Woord te lees en deur die Gees die betekenis daarvan vir ons lewe te onderskei. Daar is nie ‘n kort pad om interpretasie en worsteling heen nie. Ons moet nie te gou Jesus se “afwesigheid” by ons vergeet nie.

Vergeesteliking
Naas die feit dat ons kan meen ons kan die aardse Jesus “vashou”, is die tweede versoeking dat ons na Jesus se weggaan die geloofslewe kan vergeestelik. Christus is immers in die hemel en daarom raak die aarde en hierdie lewe minder belangrik.

In ons teks val die fokus op die liggaam op. Lukas doen groot moeite om die liggaamlikheid van die opgestane Heer te beklemtoon. ‘n Teologiese verstaan van die (liggaamlike) hemelvaart van Christus kan ons help om die aarde en ons liggame trou te bly, en weerstand te bied teen ‘n valse vergeesteliking in ons verstaan van Jesus en die Christelike lewe.

Daar is sekerlik nie net kontinuïteit nie, maar ook diskontinuïteit tussen die liggaam of vlees van die aardse Jesus en die opgevaarde Jesus (soos ook tussen die pre-Pase Jesus en die opgestane Jesus). Nogtans kan ons sê:  Vlees is vir God belangrik, soveel so dat dit in die hemel opgeneem word. Van Ruler skryf: “Ons vlees is, Christelik gesproke, in die hemel. Hemelvaart is die einde van alle wysgerige abstraksie: die ewigheid is onherroeplik gevul, en gevul met ons tyd … Op die Hemelvaartsdag word ons nie soseer hemels nie, maar eerder kosmies ingestel.”

Dit dien, onder andere, as motivering om ook op aarde liggame te eer, onder andere geskende liggame, liggame wat siek is met vigs en ander siektes, liggame wat onteer en gemartel word. In die Apostoliese geloofsbelydenis word hierdie aksent op liggaamlikheid bevestig wanneer die geloof in die opstanding van die vlees (en nie in die onsterflikheid van die siel nie) bely word. Die Christelike geloof het dus ook alles met konkrete liggame en met hierdie lewe te make.

Verlam
Daar is ‘n derde versoeking vir die kerk na Jesus se hemelvaart. Dit is om toe te laat dat die aardse Jesus se “afwesigheid” die kerk verlam. Ons kan na die hemel bly staar of in die verlede leef. Of ons kan in ‘n verwagtinglose aktivisme verval.

Daarom moet ons raaksien: Die opvaar van Jesus is nie ‘n wegvaar nie. Iets bly. Wat bly, is die belofte van die Gees van die opgestane Christus. Ons kan vra: Is Christus weg? Het God ons verlaat? Nee, hemelvaart bevestig te midde van die moontlikheid van ‘n valse en goedkoop gryp van God se teenwoordigheid ook ‘n ander moontlikheid. Dit is die moontlikheid van ‘n dieper intimiteit – ‘n intimiteit wat moontlik raak deur ‘n God wie se hart nie ‘n kliphart is nie, maar ‘n hart van vlees, ‘n hart van liefde. Daarom is Christus se weggaan ingebed in ‘n verhaal van ‘n nouer nabyheid en ‘n voortdurende teenwoordigheid.

Geseënd

Daar is in die begin verwys na die rolprent ET en na die feit dat ET moes weggaan. Voor ET se vertrek gee hy egter finale omhelsings en drukkies vir almal. Wanneer hy by Elliot kom, is daar ‘n gelade atmosfeer. Hy plaas op sy voorkop dieselfde gloeiende vinger waardeur daar vroeër heling gekom het. Met die meesterlike musiek van John Williams wat tot ‘n klimaks opbou, verklaar ET. “I’ll be right here.”

Die hemelse besoeker raak die seuntjie aan met sy vinger (dit herroep Michaelangelo se “Skepping van Adam” met die uitreikende vinger van God). Die suggestie is dat wat ET oordra nie maar net iets is wat in Elliot se herinnering sal bly  nie, maar iets van homself. Weggaan en afstand word in nabyheid en intimiteit opgeneem.

Teen die einde van Lukas 24 lees ons dat Jesus die dissipels seën. Dit is ‘n betekenisvolle en gelade handeling. Matthias Grünewald, die 16de-eeuse skilder, het as deel van sy Isenheim-altaarstuk naas sy bekende toneel van die kruisiging ook ‘n toneel van die herrysenis. Dit beeld uit hoe die opgestane Heer in die kosmiese donker invaar (met die veelkleurige son agter Hom).

Wat opval, is die merktekens van die kruisiging op sy hande. Dit herinner dat die Een wat opvaar dieselfde Een as die Gekruisigde is. Kruis en opstanding, gebrokenheid en heerlikheid, gaan saam. Wat ook opval, is die seënende gebaar van die gekruisigde hande van die opvarende Heer.

Hierin klop iets van die diep betekenis van die hemelvaart. Die Christus wat opgevaar het, is nie weg nie, maar deur sy Gees seënend teenwoordig. Dit herinner dat die gemeenskap wat die hemelvaart vier (soos die eerste groep dissipels), ‘n gemeenskap is wat  iets, en veral Iemand, ontvang. Dáárom is die praat oor en vier van Hemelvaart ten diepste ‘n saak van verwagtingsvolle vreugde.

God stuur ons om te leef

Gebed

Slotsang
Flam 227 Ons Sal Nou Gaan of
VONKK 96 Wees Bly En Loof Die Heer

Seën
Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal getuies van die Here wees tot in die uithoeke van die wêreld.

Respons
VONKK 96 Wees Bly En Loof Die Heer refrein of Lied 425 Vers 2 eerste reël

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.