Hemelvaart

Sections

Oorsig

Die gedeelte begin, soos dikwels die geval in antieke briewe was, met ‘n danksegging oor die lesers daarvan. Wat belangrik is om hier raak te sien, is dat Paulus God dank vir die liefde en geloof van die gelowiges aan wie hy skryf. Hy spreek nie sy dank teenoor hulle uit nie. Dit is immers aan God te danke dat hulle só lewe. Dit is verder opvallend dat alhoewel Paulus beslis dinge van God gevra het in gebed, sy gebede soos hier veral gekenmerk word deur danksegging en lofprysing.

Die Handelinge-teks handel oor die opdrag van Jesus aan sy dissipels om in die stad Jerusalem te bly totdat hulle die Heilige Gees ontvang het.

Die Psalm-teks handel oor God, sy grootheid en dat Hy bo alles verhewe is.

Die Lukas-teks verduidelik die hemelvaart van Jesus as sowel die einde van Jesus se aardse bediening (so in Lukas), as die begin van die Gees s’n deur die Kerk (so in Handelinge). Lukas se Evangelie is nie net ‘n verhaal oor Jesus nie. Dit is ook ‘n verhaal van die plan van God wat uitgewerk moet word in sowel Jesus as in sy getuies.

Ander Tekste

Handelinge 1:1-11
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Psalm 47
47 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God
met ’n jubelende stem,
3want aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde:
4Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
5Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob,
wat Hy liefhet.
6God gaan op na sy tempel toe
onder gejubel,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning,
prys Hom met psalms!
8God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom ’n lied.
9God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
10Die leiers uit elke volk
sal hulle verenig met die volk
van die God van Abraham.
Die heersers van die aarde
is onderworpe aan God,
Hy is bo almal verhewe.

Lukas24:44-53
44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ 48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus
(Mark 16:19–20; Hand 1:9–11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Fokusteks

Efesiërs 1:15-23
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 312 of Flam 280 of Lied 429

Votum: (Uit Bybel-Media se “Vir die Erediens – ‘n Handleiding”)

Seëngroet

Lofsang: VONKK 268  of Flam 35 of  Lied 425

HOOR

Gebed (Koninkrykslitanie): (Uit Bybel-Media se “Vir die Erediens – ‘n Handleiding”)

Skriflesing: Efesiërs 1:15-23a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Slotsang: VONKK 262 of Lied 428

Seën

Respons: VONKK 90 God nooi ons uit en ons kom tot rus

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 312 Deur profete kom oor eeue die berig of
Flam 280 Wie U Is (Alles Nuut) of
Lied 429 “Die Heer regeer, Hy’t opgevaar”

Votum
Voorganger (V): Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.  Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie.
Gemeente (G): Ons het gesterwe en ons lewe is verborge in God.

V: Wanneer Christus wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn.
G: Ja, ons sal in sy heerlikheid deel. Amen. Halleluja!
(Uit Bybel-Media se “Vir die Erediens – ‘n Handleiding”)

Seëngroet

Lofsang
VONKK 268 Loof en prys Hom (Kyk die Lam van God) of
Flam 35 Jesus Kom Weer of
Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”

Liedere

VONKK 268  “Loof en prys Hom  (Kyk die Lam van God)”
Teks: Cecilia van Tonder 2013 © en Hannes van der Merwe 2013 © Musiek: AGNUS DEI – Cecilia van Tonder 2013 ©
© 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)   RUBRIEK:  Kontemporêr – Lofprysing / Lydenstyd / Hemelvaart / Geloof en Vertroue

Keervers:
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
Jesus Christus, Heer.
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
voor Hom buig ek neer.

Liedvers 1:
Kyk die Lam van God,
Hy het sy lewe gegee.
Kyk die Lam van God,
net Hom bely ek as Heer.

Keervers:
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
Jesus Christus, Heer.
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
voor Hom buig ek neer.

Liedvers 2:
Loof die Lam van God,
Hy is die bron van my krag.
Loof die Lam van God,
op Hom alleen sal ek wag.

Keervers:
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
Jesus Christus, Heer.
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
voor Hom buig ek neer.

Liedvers 3:
Kyk die Lam van God,
Hy het my sonde gedra.
Kyk die Lam van God,
Hy wat my red voor ek vra.

Keervers:
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
Jesus Christus, Heer.
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
voor Hom buig ek neer.

Liedvers 4:
Prys die Lam van God,
Hy wat nou heers op sy troon.
Prys die Lam van God,
by wie ons ewig sal woon.

Keervers:
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
Jesus Christus, Heer.
Loof en prys Hom, loof en prys Hom,
voor Hom buig ek neer.

F280. “Wie U Is (Alles Nuut)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toenadering) Teks en musiek: Carli Lessing © 2007 Broken Records

1. Wie U is kan ons nie peil nie,
U kom en maak Uself bekend.
Elke dag sien ons in dele
hoe wonderlik U is.
Wie U is kan ons nie wees nie,
sonder dat U ons oor kom giet.
Laat U Gees dan steeds in ons
U skeppingswerk geskied.

Refrein:
U kom maak alles nuut,
U maak my hart U grondgebied.
U kom maak alles nuut
en ek wil U kom loof
vir wie U is, vir wie U is.

2. Eendag sal U ’n nuwe hemel
en ’n nuwe aarde maak,
en die oue sal verbygaan.
Die see sal verdwyn
pyn en smart sal daar nie wees nie.
U kom en droog die trane op,
selfs die dood sal nie meer wees nie
U kom by ons bly.

Refrein:

Brug:
Kom, Jesus, kom. (x3)
Kom, Jesus, kom.

Refrein:

F35. “Jesus Kom Weer”
(RUBRIEK: Flammikidz – Wederkoms / Hoop en Voleinding) Teks en musiek: Hanneke Engelbrecht © 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Jesus is ons Koning, Heer,
en ons weet Hy sal t’rugkeer.
Soos hul Hom sien opvaar het,
sal Hy kom om ons te red.

Refrein:
Ja, Jesus kom weer!
Ja, Jesus kom weer!
Ek en jy behoort aan Hom.
Ons glo dat Hy weer sal kom.

2. Jesus is ons Koning, Heer.
Ek en jy behoort aan Hom.
Soos hul Hom sien opvaar het,
glo ons dat Hy weer sal kom.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed (Koninkrykslitanie)
Voorganger (V): In alle plekke van konflik …
Gemeente (G): Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke geweldenaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke soldaat …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke politikus …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke slagoffer van oorlog …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat honger ly …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elke daklose …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat wanhoop …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat siek is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat gemolesteer is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat verslaaf is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen met skuld wat nie betaal kan word nie …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat eensaam is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat vrees ervaar …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van elkeen wat teneergedruk is …
G: Laat u koninkryk kom.

V: In die hart van die wêreld …
G: Laat u koninkryk kom.
Amen.
(Uit Bybel-Media se “Vir die Erediens – ‘n Handleiding”)

Skriflesing: Efesiërs 1:15-23a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Fokus op Jesus se Hemelvaart.  Vertel die verhaal, wys ‘n video soos hierdie een vanaf 1:18 tot 2:30 of lees dit uit ‘n kindervriendelike Bybel .  Hier is ‘n puzzle-inkleurprent van die Hemelvaart.

Preekriglyn

Nota vooraf aan die prediker:
Hierdie teksgedeelte word in die RCL op Hemelvaart en Verheerlikingsondag gebruik. Dit plaas die fokus op Jesus en sy verheerliking, maar gaan verder na die effek wat dit het op die lewe van gelowiges. Hemelvaart roep ons tot nadenke oor wat ons met ons aardse lewe doen.

Die Heidelbergse Kategismus se vraag oor die Hemelvaart is betekenisvol: “Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?” Dit bewaar ons van vrugtelose spekulasie oor hoe die hemelvaart plaasgevind het en wat die aard van Jesus se liggaam na die hemelvaart is. Dit is sake wat min te doen het met gelowiges se lewe hier en nou.

Die antwoord herinner ons daaraan dat wanneer Jesus opvaar na die Vader, dit vir ons ‘n waarborg vir die lewe inhou: Jesus is nie meer op aarde nie, maar sy volgelinge kan leef met die sekerheid van ‘n sinvolle lewe wat gebore is uit God se roeping, ‘n ryk erfenis wat vir ons opsy gesit is en al die krag wat ons nodig het om vir God te lewe.

Paulus se gebed dat die gelowiges se geestesoë sal oopgaan, is in hierdie tyd baie belangrik. Ons lewe in ‘n tyd waarin materialisme geweldig toeneem, mense leef al hoe meer net vir dit wat hulle in hierdie lewe kan kry. Die vraag oor ‘n werklik sinvolle lewe vervaag. Paulus se gebed vir verhelderde oë herinner ons dat daar baie meer op die spel is as wat ons kan sien.

‘n Vriend vertel dat hy al ver in laerskool gevorder het voor sy ouers en onderwysers ontdek het dat sy oë swak is en dat hy ‘n bril moes kry. Toe dit gebeur, ontdek hy skielik hoe die wêreld eintlik lyk. Skielik kan hy die fyn takkies aan die bome sien, die voëls en allerhande dinge waarvan hy tevore nie bewus was nie. Selfs die dinge waarvan hy bewus was, lyk beter toe hy dit helder kan sien. Die bril het sy oë laat oopgaan sodat hy ‘n nuwe werklikheid kon sien. En wat ‘n ryk werklikheid is dit nie!

Met Hemelvaart is dit belangrik dat ons herinner word om met nuwe oë na die werklikheid te kyk. Paulus se gebed vir die gelowiges is dat hulle verhelderde oë sal kry om die werklikheid te sien soos God wil hê ons dit moet sien. Wanneer Jesus uit die dood opstaan en na die hemel opvaar, gee Hy ‘n menigte dinge van onskatbare waarde aan die kerk, maar wat gelowiges nie altyd raaksien nie. Die gevolg is dat hulle voel lewe is sinloos of moedeloos raak langs die pad. Ander word gedryf deur ‘n strewe na verkeerde soort rykdom, en sommige leef ‘n kragtelose lewe.

Paulus bid om nuwe oë vir die gelowiges, oë wat dit wat God gee, raaksien en hulle op ‘n ander manier laat leef. In sy gebed noem hy drie dinge wat ons moet raaksien:

  • die hoop wat ons roeping inhou;
  • die rykdom van ons erfenis; en
  • die krag wat in ons aan die werk is.
Hoop wat ons roeping inhou

Die hoop van die roeping wat ons ontvang het, roer twee baie groot probleme aan wat ons dikwels ondervind: sinloosheid en moedeloosheid.

a. Die probleem van sinloosheid
Baie mense leef maar net, of leef sonder ‘n duidelike besef dat dit waarvoor hulle hulle op aarde afsloof, werklik blywende waarde kan hê. Sommige vind die sin van hulle bestaan in oppervlakkige dinge soos ‘n duur vakansie of motor en sekuriteit terwyl ander net leef vir hulle aftrede.

Sulke oppervlakkige of tydelike dinge is seker vir sommige genoeg, maar kan nie vir gelowiges genoeg wees nie. God roep ons tot ‘n betekenisvolle lewe, sodat ons aardse lewe oor meer sal gaan as rykdom of oorlewing. Ons kan leef in ‘n roeping wat aan ons en die wêreld hoop gee.

Dit waarvoor God ons roep, is om deel te wees van sy plan om hierdie wêreld te red en te vernuwe. As ons daarmee besig is, het ons lewe sin – in hierdie aardse lewe en vir ewig in God se koninkryk! Ons leef en werk vir meer as net die gewone dinge. Ons roeping is om saam te werk aan die koms van God se koninkryk. En al sien ons nie nou die volle betekenis van ons werk nie, kan ons vorentoe kyk en weet God sal dit tot volheid bring. Ons aardse lewe loop uit op die ewige waarin God se ryk ten volle sal kom en dit geopenbaar sal word wat die eintlike waarde van ons aardse lewe is.

b. Die probleem van moedeloosheid
Om Jesus te volg stel soms hoë eise. Baie gelowiges ondervind dit en baie Christene verloor moed langs die pad. Dit gebeur soms dat mense begin om die Here met oorgawe te dien, maar later moeg word en uitsak. Dit haal nie die koerante nie, maar elke keer dat dit gebeur, ontstel dit ons. As ‘n gelowige langs die baan gaan sit en sê: “Dit is nie meer vir my die moeite werd nie,” breek dit God se hart.

Wat is dit wat gelowiges laat volhou op die pad agter Jesus aan? Dit is die roeping wat ons ontvang het en die wete dat ons lewe hier en hierna sinvol is. Ons is nie mense wat op sand bou nie. Wanneer Jesus na die hemel opvaar, laat Hy vir ons ‘n roeping na, naamlik om deel te wees van die bouwerk in God se koninkryk. Daarmee saam kom die versekering dat God self die een is wat ewige betekenis aan ons aardse werk gee.

Dit is wat met Jesus gebeur: Deur sy opstanding en hemelvaart bevestig God dat Jesus se gehoorsaamheid tot die dood, sy wil is.

Net so is God die een wat met die wederkoms ons lewenstaak as sinvol sal bevestig. Die “hoop” van ons roeping beteken dat ons nie nou al ten volle kan sien wat ons aardse lewe beteken nie. Maar ons weet dat ons werk op aarde wat ons vir God en in sy koninkryk doen ewige betekenis het. So seker as wat God met Jesus se opstanding hy God se Gesalfde is, sal Hy jou werk ook bevestig.

Rykdom van ons erfenis

Ons moet ook raaksien wat die rykdom van die erfenis is wat God vir ons bewaar. Ons moet onthou dat Jesus ons vrygekoop het en dat ons die ewige lewe en kindskap van God ontvang het. Al is ons lewe vandag nog dikwels ‘n stryd, weet ons van die erfporsie wat God vir ons weggesit het, naamlik om deel te wees van die volmaakte lewe wat Jesus vir ons verdien het. God self waarborg hierdie erfenis. Paastyd en Hemelvaart herinner ons baie sterk daaraan dat ons op pad is na die perfekte lewe wat God vir ons bestem het.

Paulus praat hier van die “rykdom” van daardie erfenis. Dit is belangrik dat ons dit sal raaksien. Dit gaan daaroor dat God vir ons ‘n groter rykdom opsy sit en bewaar as enige aardse rykdom en skat. In ‘n wêreld wat baie sterk op besit en rykdom en beloning ingestel is, is dit belangrik dat gelowiges dit onthou.

Ontevredenheid en materialisme

Die rykdom van ons erfenis roer die probleem van ontevredenheid en materialisme aan.

Daar is te veel Christene wat hulle beloning hier wil hê. Hulle jaag rykdom en besittings met dieselfde ywer as ongelowiges na. Te veel gelowiges verloor perspektief op die erfenis wat God uit liefde en genade vir ons opsy sit en bewaar. ‘n Dominee kyk op ‘n dag na ‘n nuwe woonbuurt en die uitspattige huise wat mense bou, en sê “Hierdie mense bou asof hulle dink dat hulle altyd hier gaan bly.”

In tye van ekonomiese voorspoed gebeur daar gewoonlik twee dinge in die kerk: (a) mense gaan minder kerk toe en erediensbywoning neem af; en (b) mense gee ‘n kleiner deel van hulle inkomste vir die werk van die Here. Hoekom? Omdat ons in tye van voorspoed minder afhanklik is van God en meer ingestel op vermaak en rykdom. Gelowiges spandeer al hoe meer geld op hulleself. Die verleiding neem toe om, soos Jesus gesê het: “Ryk te wees in aardse dinge en nie ryk te wees in God nie.”

Maar dit gebeur net so maklik wanneer mense finansieel moeilike tye beleef. Dan beleef hulle hulle as arm en minderwaardig. Dit is maklik om te vergeet dat ons rykdom elders lê, by dit wat God vir ons gereedgemaak en weggebêre het tot met die wederkoms.

Gelowiges moet nooit vergeet waar hulle rykdom lê nie. Dit lê nie in besittings of geld nie. Dit lê in die erfenis wat God vir jou gereedgemaak het. Dit is maar goed dat ons almal kort-kort herinner word aan ware rykdom teenoor aardse rykdom. Ons geestesoë moet oopgaan sodat ons kan onderskei waar ons eintlike rykdom lê.

Groot krag werk in ons

Die grootte van die krag wat in ons aan die werk is, is Paulus se derde bede vir die gemeente.

Die laaste bede is die swaartepunt en is belangrik om op Hemelvaart te onthou. God wek Jesus uit die dood op met krag wat mense tot nou glad nie ken en verstaan nie. Met sy hemelvaart verhoog God Hom tot ver bo elke mag en gesag in hierdie lewe en in die bedeling wat kom. Later in die brief praat Paulus van hierdie krag as God se krag wat in staat is om oneindig meer te doen as wat ons kan bid of dink.

Hierdie boodskap is die heel belangrikste wat ons ons uit hierdie gebed moet toeëien: Die krag wat in ons aan die werk is, is die krag van die opstanding. Gelowiges wat by die Hemelvaart agtergelaat word om Jesus se taak op aarde voort te sit, is mense wat met die krag van die opstanding toegerus is.

Lam knieë

Die groot krag wat in ons werk roer die probleem van lam knieë en slap arms aan.

Christene leef dikwels met ‘n houding van: “Ag, wat kan ek dan nou eintlik doen?” Dit is ‘n baie slegte mentaliteit, want dit verlam die liggaam van Christus en die getuienis van die kerk in die wêreld. Dit is onnodig, want gelowiges is toegerus met uitermate groot krag.

In die res van die brief aan die Efesiërs beskryf Paulus volledig wat die uitwerking van die krag van die opstanding inhou:

a. Dit het ‘n identiteitsbetekenis
Ons is uit genade gered, nie uit onsself nie, maar omdat God ons gekies en gered en nuut gemaak het. Ons is gebore uit God se liefdesdaad. Die opstanding van Jesus is die geboorte van die nuwe era. Ons leef in hierdie nuwe era: soos Jesus is ons ook uit die dood opgewek. Te veel Christene leef met die mentaliteit: “Ek is maar ‘n nuttelose sondaar.” Hulle dink dit is nederigheid of beskeidenheid.

Nederigheid is baie belangrik, maar ons moenie die betekenis van die opstanding en wat dit in ons lewe beteken, minag nie. God werk deur sy Gees in jou en gee jou ‘n nuwe identiteit: Moet daarom nie langer soos ongeredde mense oor julleself dink en so leef nie. Of besef jy dan nie watter krag in jou aan die werk is nie?

b. Dit het betekenis vir verhoudings
fesiërs wil ons baie duidelik laat verstaan dat ons op ‘n nuwe manier met mekaar moet omgaan. Die ou skeidings tussen mense is afgebreek. Die krag van die opstanding maak nuwe verhoudings moontlik.

Te veel Christene leef in swak verhoudings, te veel is nie versoen met ander gelowiges nie. Die versoening waarvan Paulus in Efesiërs 2 praat, was van die moeilikste: tussen Jode en nie-Jode. Die krag van die opstanding maak dit egter moontlik. Deur dieselfde krag wil Hy vandag verhoudings tussen gelowiges: wit en swart, tussen volksgroepe, in gesinne en huwelike heelmaak. Dit gebeur nie deur goeie fasiliteerders en terapeute nie (al kan hulle help). Dit gebeur ten diepste deur die opstandingskrag wat die wil in gelowiges se hart plaas om in nuwe verhoudings te staan.

c. Dit het betekenis vir die manier waarop die kerk werk
Die kerk is toegerus met gawes van die Heilige Gees wat gelowiges toerus vir hulle diens. Daarom kan die kerk volmaak en volwasse soos Christus wees en vas staan teen dwaalleer.

Dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, gee vir jou die toerusting om jou plek in die kerk vol te staan. Dit bring die probleem van minderwaardigheid ter sprake: “Wat kan ek tog nou eintlik doen wat iets vir God sal beteken?” God se antwoord is: “Gebruik net die gawes wat Ek aan jou gegee het. Gebruik dit met die krag van die Gees en met die diensgesindheid van Jesus, en jy sal verstom staan oor wat Ek deur jou kan doen.”

  • “Dit het ‘n lewenstyl betekenis”: Ons moet net eenvoudig op ‘n nuwe manier leef. Gelowiges is nie meer mense van die duisternis nie, maar mense van die lig. Omdat ons saam met Jesus uit die dood opgestaan het, moet ons nuut leef, ons kan nie soos tevore leef nie. Ons is mense wat nuut is en die sonde voer nie langer heerskappy in ons nie. Die Gees gee ons die vermoë tot ‘n heilige lewe.
  • “Dit het ‘n lewensuitkyk-betekenis”: Ons leef uit die krag van die opstanding as oorwinnaars saam met Christus. Al is daar allerhande kragte en magte aan die werk in die wêreld, is ons gelowiges wat ons krag put uit die oorwinning van Jesus oor alle magte en elke gesag, elke krag en heerskappy waarvan daar sprake kan wees. Ons leef daarom nie met vrees nie, maar met die sekerheid van die oorwinning. Te veel goeie en toegewyde Christene verstaan nie regtig dat Jesus die oorwinning behaal het nie. Christene moet baie versigtig wees om nie aan die Satan en demone, of die kragte in die werklikheid meer mag toe te dig as wat hulle het nie. Jesus het magte oorwin!
Oop vir God se krag

Hierdie gebed wil ons herinner aan die krag waaruit ons moet leef. As jy ‘n middelmatige lewe wil hê met middelmatige impak, doen dit dan in jou eie krag. Maar as jy ‘n lewe wil hê wat regtig ‘n verskil maak, skuif opsy sodat die krag van God, wat Jesus uit die dood opgewek het, jou lewe kenmerk. Maak jou oë oop en sien wat God doen. Moenie in jou eie krag leef en werk nie. Leef en werk in afhanklikheid van God en die krag van die Gees, sodat sy krag die verskil sal maak.

God stuur ons om te leef

Gebed

Slotsang
VONKK 262 Die Heer het opgevaar of
Lied 428 “Loof Christus, roem sy wonderdade”

Seën
Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal getuies van die Here wees tot in die uithoeke van die wêreld.
(Uit Bybel-Media se “Vir die Erediens – ‘n Handleiding”)

Respons
VONKK 90 Maranata!  http://vonkk.kerkmusiek.co.za/product/vonkk-00090-maranata/
Nav I Korintiërs 16:22b Teks: Jannie Hougaard 2004 © Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Hoop en Voleinding

Maranata!
Maranata!
Maranata!
Kom, Heer, kom weer!

(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.