Hemelvaart

Sections

Oorsig

Inleiding

Hemelvaart – Pinkstertyd begin

Fokusteks

Handelinge 1:1-11

Ander RCL tekste

Psalm 47 of 110 (Lof aan God as Koning; ’n Kroningspsalm oor God se guns aan die koning);
Efesiërs 1:15-23
(Paulus bid vir gelowiges se visie op die volheid en betekenis van Christus se oorwinning);
Lukas 24:44-53
(Jesus open sy dissipels se verstand vir die Skrif en vaar op na die hemel).

Handelinge 1:1-11
Die belofte van die Heilige Gees
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Eksegeties

Vers 1-3: In die antieke wêreld was dit heeltemal aanvaarbaar dat een werk uit twee boeke kon bestaan – soos Lukas se evangelie en Handelinge (Marshall). Lukas se doel was om die hele tradisie van Jesus en die vroeë kerk weer te gee. Hy gee egter eers ’n kort opsomming van die evangelie. Hierdeur wou Lukas aantoon dat daar ’n duidelike eenheid tussen Jesus se bediening en die begin van die kerk was: “The Gospel tells what Jesus began to do and teach; Acts relates what he continued to do and teach through the agency of his witnesses” (Marshall). Hierdie doelwit beteken onmiddellik dat die verhaal nou die milieu van literatuur binnegaan. As sodanig word dit nou die verhaal van een van die “wêreldgodsdienste”. Lukas wil nie hê dat een fragment van hierdie kosbare erfenis waarop die Christelike kerk gebou word, verlore moet gaan nie (Haenchen). Dit is waarskynlik ook die enigste keer dat ’n evangelis die verhaal van die evangelie voorgesit het. Lukas skryf duidelik dat hierdie boek aansluit by die vorige een.

’n Belangrike element van hierdie verse is Lukas se klem op die verkiesing van die apostels. Die klem op die Heilige Gees se rol is ook opmerklik. Marshall merk tereg op dat Lukas wil duidelik maak dat Jesus en die kerk deur die Gees gelei is om God se plan uit te voer. Voordat die Gees uitgestort is, gee Jesus reeds deur die Heilige Gees bevele aan hierdie mense. Hy is die lewende Heer. Haenchen benadruk dat Lukas dit wat in die vroeë kerk gebeur het geheel en al aan God toeskryf, maar dat God van menslike instrumente gebruik maak om sy plan vir die wêreld tot stand te bring. Hierdie “plan” het te doen met die “koninkryk van God” (3). Die koninkryk van God gaan oor die ganse bediening van Jesus en verwys na die reddende, soewereine dade van God deur Hom (Marshall).

Vers 4-5: Nadat Lukas hierdie “algemene” agtergrond verskaf het, verskuif sy aandag na ’n spesifieke gebeurtenis. Die leser weet nog nie dat dit Jesus se laaste gesprek met sy dissipels was nie. Die inhoud van die gesprek is van allergrootste belang. Die “gawe wat die Vader belowe het” is die Heilige Gees. Hierdie belofte word in 2:16, 17 aan die Ou-Testamentiese profesie van Joël verbind. Wat Johannes aanvanklik gesê het, word nou die woorde van Jesus (sien Matt 3:11; Luk 3:16). Marshall sê treffend: “Jerusalem was the divinely intended scene for the giving of the Spirit; the place where Jesus was rejected was to be the place where fresh witness to him would begin.” Uit Handelinge is dit duidelik dat die doop van Johannes (met water) en die doop met die Gees twee verskillende dinge is (Hand 19:1-6). Die Gees doop Jesus en die kerk. Die “doop” met die Gees verwys na die gebruik om iets te onderdompel of water daaroor uit te giet. Om deur die Gees “gedoop” te word, word in Handelinge met die vergifnis van sonde verbind (2:38). Marshall is egter van mening dat die metafoor van uitgieting uiteindelik nie reg laat geskied aan die gawe van die Gees “who comes to God’s people, bringing power, wisdom and joy; as a result the term ‘baptism’ is considerably widened in its metaphorical use, and no one synonym can do justice to its range of meaning as a Christian technical term for the reception of the Spirit.”

Jesus se opdragte, die werklikheid van sy opstanding en die beloftes van die koms van die Heilige Gees vorm die fondament vir die voortgesette werk van die navolgers van Jesus: “The ministry of Jesus was the beginning of Christianity” (Marshall).

Die dissipels moet in Jerusalem wag totdat die Gees uitgestort word. Stott sê dat hierdie wagtydperk nie ’n passiewe tyd was nie. Hierdie tyd word met vier groot gebeurtenisse gevul. Allereers ontvang hulle hulle opdrag (1:6-8). Tweedens sien hulle Jesus na die hemel opvaar (1:9-12). Derdens bid hulle saam, waarskynlik sodat die belofte van die Gees vervul kan word (1:13-14). Vierdens vervang hulle Judas met Mattias as die twaalfde apostel (1:21-26). Die mandaat om te getuig, die verhoogde Heer wat sy sending uit die hemel beheer, die sentraliteit van die apostels in hierdie taak en die koms van die Gees om hulle te bekragtig, word deur Longenecker as “the constitutive elements of the Christian mission” gesien (Stott).

Vers 6-7: Tydens Jesus se laaste dae op aarde, praat hulle oor die koninkryk van God. Hier vind ’n belangrike opklaring plaas. Die dissipels se vraag klink na onkunde, maar Lukas gebruik dit wat in die res van Handelinge gebeur, om iets duidelik te maak. Calvyn het opgemerk dat daar net soveel dwalinge in hulle vraag skuil as wat daar woorde is. Ons kan nie ontken dat daar sprankies van die ou verwagting van die dissipels in hierdie woorde skuil nie. Bruce sê: “The question in verse 6 appears to have been the last flicker of their former burning expectation of an imminent polit­ical theocracy with themselves as its chief executives.” Marshall sê dat as dit die geval is, is die dissipels “representatives of those of Luke’s readers who had not yet realized that Jesus had transformed the Jewish hope of the kingdom of God by purging it of its nationalistic political elements.” Die koninkryk van God gaan egter nie oor Israel nie. Dit gaan oor al die grense van volke en nasies. Die Gees is nie beperk tot Israel nie, maar sluit alle nasies in.

Haenchen wys daarop dat die vroegste Christene die uitstorting van die Heilige Gees as ’n teken dat die einde van die wêreld voor die deur is, gesien het. Hulle vraag moet teen hierdie agtergrond verstaan word. Jesus se antwoord benadruk die belangrike punt dat enige vraag oor die tyd van die wederkoms, die einde van die huidige wêreld, verbode is: “Luke is the spokesman of a new age. He has decisively renounced all expectation of an immanent end. Consequently the task has arisen of finding a new relationship to this world in which, by God’s inscrutable will, the Christians must continue to live.” Daar is geen plek vir menslike spekulasie nie, want dit is God se geheim (Marshall). Hulle moenie spekuleer oor die laaste dag nie, maar hulle taak as dissipels vervul.

Vers 8: Joubert sê dat Handelinge op ’n indrukwekkende wyse die stelselmatige ontvouing van die plan van God beskryf (2:23; 4:28; 13:36; 20:27). Handelinge 1:8 vervul ’n byna programmatiese funksie in die boek.Bruce merk met verwysing na Handelinge 1:8 op: “‘Ye shall be my witnesses’ might be regarded as the theme of the book; ‘in Jeru­salem’ covers the first seven chapters; ‘in all Judaea and Samaria’ Chs. 8:1 to 11:18; and the remainder of the book deals with the progress of the gospel outside the frontiers of the Holy Land until at last it reaches Rome.” Toe Lukas hierdie boek geskryf het, het die evangelie reeds van Jerusalem af tot by Rome versprei. Dit is die “God-willed sequence of events . . . It was the Lord himself who pointed the way for the Church. The story of the Church is the history of divine salvation” (Haenchen). Die taak is egter nie in die boek Handelinge voltooi nie. Marshall benadruk dat dit slegs die eerste fase is wat afgehandel is. Rome is nie die grens nie. Dit gaan tot in die uithoeke van die wêreld. 

Wanneer die krag van die Gees oor hulle kom, sal die grense van nasionale belang verval. Hulle sal getuies tot aan die uithoeke van die wêreld word. Die gedagtes van Jesaja 49:6 weerklink hier. Bruce neem hierdie gedagte op: “An OT prophet had called Israel to be God’s witnesses in the world (Isa. 43:10; 44:8); the task which Israel as a nation had not fulfilled was taken up by Jesus, as the perfect Servant of the Lord, and passed on by Him to His disciples.” Dis nie genoeg dat daar net vir Israel heil sal aanbreek nie. Die “knegte” van die Here moet hierdie redding na die nasies bring (sien ook Hand 13:47). Haenchen skryf: “As Acts presents it, the Christian Church is a missionary Church.” Bekragtig deur die Gees, word die dissipels ingeskakel by God se groot plan om sy heerskappy (koninkryk) te vestig. John Stott merk op dat daar ’n ooreenkoms tussen Jesus en sy dissipels is. Net soos Hy vir sy publieke bediening deur die Gees toegerus moes word, sal die Gees op sy mense neerdaal en hulle vir hulle bediening toerus. Die primêre taak is om die redding wat hulle ontvang het met ander te deel.

Vers 9-11: Na Jesus se laaste woorde, word Hy in die hemel opgeneem. Anders as heidense verhale oor hemelvaart kon hulle die verhoogde Heer nie sien nie. Die simboliese betekenis van Jesus se verhoging of hemelvaart is dat sy fisieke teenwoordigheid deur sy geestelike teenwoordigheid vervang word (Marshall). Daardeur word die historisiteit van die gebeure nie ontken nie, maar erken dat dit ook iets meer as ’n historiese gebeurtenis was. Die wolk is die nie net die manier waarop Jesus weggevoer word nie, maar ook ’n teken van die hemelse heerlikheid (Marshall) en is dwarsdeur die Ou Testament die simbool van die Here se heerlike teenwoordigheid. Wat hulle wel sien, is die verskyning van twee mans by hulle. Uit hulle monde kom die belofte van die wederkoms. Marshall skryf: “They ask the disciples why they are gazing into heaven; the question is an implicit reproach of them for dawdling there and longing for Jesus to remain with them. Already the disciples have had a command as to what they are to do . . . Thus the promise of the parousia forms the back-ground of hope against which the disciples are to act as witnesses to Jesus” (sien ook Jesus se uitspraak in Mark 13:10).

Met hierdie belofte van die wederkoms en met die belofte van die Gees wat spoedig sal kom, gaan hulle terug Jerusalem toe (1:12). Dit word al duideliker dat die tydperk voor Jesus se terugkeer gekenmerk word deur getuienis. Vir die lesers van Lukas, ongeveer 40 jaar na Jesus se hemelvaart, is hierdie verhaal ’n herinnering aan die voortgaande taak van die kerk. Treffend skryf Bruce: “The Second Advent of Christ will coincide with the final and complete manifestation of the kingdom, when every knee will bow in His name and every tongue confess Him as Lord (Phil. 2:10 f.), when God’s will is to be done on earth as it is done in heaven (Matt 6:10).”

Hermeneuties

1. Hoewel die fokus van die preek op die hemelvaart van Jesus behoort te val, is dit moeilik om oor hierdie gedeelte te preek sonder om ook die belofte van die Heilige Gees se getuienis in die wêreld in aanmerking te neem. Die tydperk tussen hemelvaart en Pinkster, so merk Johan Cilliers op, is dikwels as die “weeskind” op die kerklike kalender beskou. Hy skryf: “Dis of daar ’n windstilte gekom het, ’n tipe kragonderbreking in die andersins deurlopende handelinge van God. Die profete van die Ou Testament profeteer nie meer nie, want hulle tyd is verby; die apostels van die Nuwe Testament preek nog nie, want hulle tyd het nog nie gekom nie . . . Die beste waartoe hulle in staat is, is om bymekaar te kom vir ’n verkiesingsvergadering, om in die leë plek van die verraaier Judas in die apostelkring aan te vul.” Noordmans benadruk dat die hemelvaart net so ’n belangrike dag soos enige ander dag op die Christelike kalender is. Heroldt verwys na Iwand en Barth se idees dat die artikel dat Jesus opgevaar het na die hemel, baie minder ontwikkel is as die artikel dat Hy aan die regterhand van God sit (sien 12 Artikels). Saam met Noordmans en Iwand moet ons egter benadruk dat die miskenning van die hemelvaart as selfstandige heilsgebeurtenis ingrypende gevolge vir die ganse heilsboodskap sou hê. Sonder die hemelvaart stol alles. Sonder die hemelvaart sou die uitstorting van die Gees nie plaasvind nie. Sonder die uitstorting van die Gees sou daar geen sending plaasvind nie. Hemelvaart is die “vinger van God en ’n uitdaging aan die kerk om in die geloof te leef” (Heroldt). Dit benadruk dat ons vreemdelinge en bywoners is, wagtend op die wederkoms, maar ook besig met die aarde. Die hemelvaart is net so ’n belangrike daad van God soos die dood en opstanding van Jesus Christus en die uitstorting van die Heilige Gees.

2. Stott se opmerkings oor die betekenis van hierdie verhaal is baie handig. Dit sluit aan by die gedagte van die spanning tussen Jesus se hemelvaart en sy wederkoms. Die dissipels staar na die hemel en ontvang die belofte dat Jesus weer sal kom. Wat nou? Ek haal uittreksels uit ’n paar paragrawe van Stott aan: “There was something fundamentally anomalous about their gazing up into the sky when they had been commissioned to go to the ends of the earth. It was the earth not the sky which was to be their preoccupation. Their calling was to be witnesses not stargazers. The vision they were to cultivate was not upwards in nostalgia to the heaven which had received Jesus, but outwards in compassion to a lost world which needed him. It is the same for us. Curiosity about heaven and its occupants, speculation about prophecy and its fulfilment, an obsession with ‘times and seasons’ – these are aberrations which distract us from our God-given mission. Christ will come personally, visibly, gloriously. Of that we have been assured. Other details can wait. Meanwhile, we have work to do in the power of the Spirit. The remedy for unprofitable spiritual stargazing lies in a Chris­tian theology of history, an understanding of the order of events in the divine programme. First, Jesus returned to heaven (Ascension). Secondly, the Holy Spirit came (Pentecost). Thirdly, the church goes out to witness (Mission). Fourthly, Jesus will come back (Parousia). Whenever we forget one of these events, or put them in the wrong sequence, confusion reigns.We need especially to remember that between the ascension and the Parousia, the disap­pearance and the reappearance of Jesus, there stretches a period of unknown length which is to be filled with the church’s world­wide, Spirit-empowered witness to him.”

3. Bruce merk tereg op dat die titel van die boek nie die “Handelinge van die apostels” behoort te wees nie, maar die “Handelinge van die Heilige Gees.” Hoewel daar min twyfel bestaan oor die merkwaardige veld wat die evangelie in die eerste dekades gewen het, is die uitdaging om die betekenis van hierdie verhaal vir die kerk van ons dag te verstaan.

Stott verwys na twee foute wat deur die apostels in hierdie verhaal gemaak is. Die een is dat hulle gehoop het op politieke mag, naamlik die herstel van die koninkryk van Israel. Tweedens het hulle na die hemele bly kyk. Albei hierdie dinge, sê Stott, is fantasieë: “The first is the error of the politicist, who dreams of establishing Utopia on earth. The second is the error of the pietist, who dreams only of heavenly bliss. The first vision is too earthy, and the second too heavenly . . . so at the beginning of the Acts the apostles before Pentecost had to turn away from both a false activism and a false pietism. And in their place, as the remedy for them, there was (and is) witness to Jesus in the power of the Spirit, with all that this implies of earthly responsibility and heavenly enabling.” David Bosch se boek oor sendingparadigmas het duidelik aangetoon dat verskillende tradisies die sending van die kerk verskillend verstaan het. So byvoorbeeld kan die tyd van die Reformasie nie eintlik as ’n sendingeeu beskou word nie. In die Ortodokse tradisie is die liturgie missionêr en het dit die doel om mense daarheen te trek, in plaas daarvan om uit te gaan en die uithoeke van die aarde te bereik. Wat is sending uiteindelik? Dit is ’n vraag waaroor ons gerus kan nadink voordat ons oor hierdie gedeelte preek.

Stott lig drie gedagtes in hierdie gedeelte uit. Eerstens fokus hy op die geestelike karakter van die koninkryk van God. Die geestelike karakter van God se koninkryk hou verband met die krag wat binne hierdie koninkryk werksaam is. Die misverstand bly dalk steeds vandag in die kerk bestaan, naamlik dat die koninkryk van God oor ’n gebied, getalle en mag gaan. Howel die gedagte van mag of krag saamhang met die idee van ’n koninkryk, is die belofte van krag (mag) wat Jesus gee, van ’n geheel en al andersoortige karakter as die mag wat hulle dalk in gedagte gehad het. Dit word duidelik uit die res van die boek. Die apostels beweeg rond, word deur die politieke maghebbers en godsdienstige leiers bevraagteken en selfs mishandel, maar die krag van die evangelie wen die hart en lewe van mense. Nie deur mag en geweld nie, maar deur die krag van die Gees!

Tweedens benadruk Stott die lidmaatskap van hierdie koninkryk. Dit het internasionale burgers. Die gedagte van Handelinge 1:8 as “program” van God se koninkryk word hier benadruk. Hulle begin by Jerusalem, maar beweeg uit na die uithoeke van die wêreld. Dit is nie ’n geval van eers hier en dan daar nie, maar van hier en daar. Almal word ingesluit, want “Christ’s kingdom . . . tolerates no narrow nationalisms. He rules over an inter­national community in which race, nation, rank and sex are no barriers to fellowship. And when his kingdom is consummated at the end, the countless redeemed company will be seen to be drawn ‘from every nation, tribe, people and language’.” Derdens vind die uitbreiding van die koninkryk nie oornag plaas nie, maar stelselmatig. Hier is geen plek vir triomfalisme nie. Hierdie word geduld aan die dag gelê. Tog is daar ook geen keer aan die uitbreiding hiervan nie. Stott haal uit die boek van Lesslie Newbigin, The Household of God, aan: “The Church is the pilgrim people of God. It is on the move – hastening to the ends of the earth to beseech all men to be reconciled to God, and hastening to the end of time to meet its Lord who will gather all into one . . . It cannot be understood rightly except in a perspective which is at once missionary and eschatological.”

4. In Woord teen die Lig 3 en Woord teen die Lig I/9 word verskeie preekmoontlikhede, hermeneutiese en eksegetiese kwessies bespreek. Dit kan met vrug gebruik word.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Die inkarnasie bereik sy volvoering wanneer die vleesgeworde Jesus na sy hemelvaart sy plek langs sy Vader inneem. Ons word op ’n nuwe manier verteenwoordig by God en God word nou op ’n nuwe manier verteenwoordig by die mense.

Hemelvaart is die logiese konsekwensie en die voortsetting van Jesus se opstanding. Die tekste (dieselfde tekste word in al drie jare van die Leesrooster gebruik) beklemtoon in ’n sekere sin die “hemelse” en “aardse” dimensie van die betekenis van die hemelvaart, wat terselfdertyd twee kante van dieselfde munt is. Jesus se posisie aan die regterhand van die Vader is ’n posisie van oorwinning en gesag. Dit is die finale bewys dat sy oorwinning finaal en volkome is.

Sy volgelinge op aarde is egter nie sonder Hom nie. Hulle deel in sy oorwinning en krag. Deur sy Gees sal Hy sy verlossings- en herskeppingswerk op aarde voorsit.

Tema: Hemelvaart leer ons om by die aarde betrokke te bly

Rus

Bevestig betekenis van hemelvaart

Gemeentelede draai na mekaar toe en sê: “Jy het ’n Persoonlike verteenwoordiger by God . . .”

Aanvangslitanie
Voorganger:  “Vandag het ons rede om bly te wees . . .”

Voorlesing:  Psalm 47

Sang:  Lied 547:1-3  “Alle volke klap julle hande”

Voorganger:  “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk”  (Ef 1:22).

Seëngroet
Ons is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul  (uit Ef 1:23).

Lofsang

Lied 425:1-4 “Kyk, die Heer het opgestaan” en/of Flam 8 “Al die lof, aanbidding en ere”

Lied

Familie-oomblik

Jy kan iets in aansluiting by die sokker gebruik – dalk leer welkom sê in ‘n paar tale.
Of kyk by hier vir ‘n moontlikheid om met ‘n helium ballon die Hemelvaart te illustreer.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Dit is verskriklik om te veel tyd tot jou beskikking te hê.  ’n Goeie voorbeeld hiervan is krygsgevangenes wat dag vir dag moet wag totdat hulle vrygelaat word, wie weet wanneer.  Ook soldate in aktiewe diens ervaar dieselfde probleem.  ’n Groot deel van oorlogvoering word gekenmerk deur wag.  Daar is te veel tyd, en die tyd is leeg.  Daarom rook en drink soldate dikwels oormatig.  Die aansteek van die een sigaret op die ander is ’n manier om tyd in hanteerbare eenhede te verdeel.  Die drink van een koppie koffie na die ander maak die groot hoeveelheid tyd wat soos ’n berg voor jou lê meer draaglik.  Baie meganismes om tyd te hanteer is negatief en kan jou lewe verkort.  Daarom sê die spreekwoord: “Ledigheid is die duiwel se oorkussing”.

Die webblad www.deathclock.com bereken hoeveel tyd daar gemiddeld vir Westerlinge oor is om te lewe.  Die bedoeling is om by ons te onderstreep dat tyd kosbaar is.  Die kuns is om tyd sinvol te benut om die meeste van die lewe te maak.

Ons grootste probleem is natuurlik nie leë tyd nie.  Ons is so bewus van tyd wat vinnig verbyvlieg dat ons alles moontlik doen om die tyd so vol as moontlik te prop.  Ons samelewing word deur die vermaaklikheidsbedryf gedryf.  Ons het ’n ooraanbod van tydvreters en vermaaklikheid-stimulasie.  Dis TV, radio, iPod, iPad, iPhone, koerant, tydskrif, internet, blogging, Mxit, selfoon, telefoon, Nintendo Wii, Playstation, Xbox, Gameboy, noem maar op.  Vermaaklikheidsterre en hulle dinge vul ons gedagtes, die paparazzi voed ons met foto’s van al die onbenullige dinge wat die sterre aanvang, waar hulle eet, wat hulle strand toe aantrek, en watter kleur strik in hul hondjies se hare gebind word.

Ons samelewing verkwis tyd op die onbenullige en noem dit vermaak.  Ons het ’n behoefte aan betekenis.

In Handelinge 1 vul Jesus die tyd met betekenis.  Hy gaan weg en niemand behalwe die Vader weet wanneer Hy gaan terugkeer nie.  Die tyd tussen sy hemelvaart en sy terugkeer kan leë tyd wees.  Ons kan dit deurbring deur verlangend en verlamd na die hemel te staar en te wonder wanneer Hy gaan terugkeer.  Of ons kan die wonderlike betekenis van hierdie tyd vergeet en dit met onbenullighede volprop.  Jesus laat hierdie moontlikhede egter nie oop nie: Hy vul die tyd met betekenis deur vir sy volgelinge ’n betekenisvolle taak te gee.

Ons kan dié taak as volg beskryf:

Een: ’n Taak gerig op die aarde
Terwyl Jesus weggeneem word na die hemel, en die dissipels Hom stip agterna staar, vra twee mans in wit klere vir hulle: “Waarom staan julle so na die hemel en kyk?”  Mens kry ’n soort geestelike ingesteldheid by Christene wat veroorsaak dat hulle verlangend na die hemel staar, gevul met ’n beheptheid oor die hemel.  Dis verkeerd.  John Stott skryf:  “Die dissipels is nie geroep om vir die sterre te kyk nie, maar uit te reik na die eindes van die aarde.”  Hy vervolg: “Their calling was to be witnesses and not stargazers”.

Die aarde moet dissipels se verbeelding aangryp, nie die hemel nie.  Die visie waaraan die dissipels moes bou was nie gerig op die hemel waarheen Jesus vertrek het nie. Dit moes uitwaarts fokus op die wêreld wat die goeie nuus van Jesus Christus moet ontvang.  Dieselfde geld vir ons, sê Stott.  Nuuskierigheid oor die hemel en hemelbewoners, spekulasie oor allerlei profesieë en die vervulling daarvan, ’n obsessie met “tye” en “seisoene”, is alles steurnisse wat ons wegtrek van ons Godgegewe opdrag.  Christus sal eendag terugkeer, persoonlik, sigbaar, verheerlik.  Daarvan is ons verseker.  Die ander detail kan wag.  Intussen het ons werk om te doen deur die krag van die Gees.

Tussen die hemelvaart en die wederkoms, die weggaan en die terugkeer van Jesus, lê daar ’n tydperk waarvan ons nie weet hoe lank dit sal wees nie.  Hierdie tyd is bedoel om gevul te word met die kerk se wêreldwye, Geesvervulde getuienis oor Jesus.

In sy hemelvaart fokus Jesus ons aandag doelbewus op die aarde as die ruimte waarbinne ons roeping afspeel.

Twee:  ’n Getuienistaak
Die kerk is geroep om op aarde die getuienis van Jesus Christus, die lewende Here, voort te sit.  Die opdrag is duidelik:  “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees…” (1:8)

Jesus kwalifiseer die getuienis: “julle sal my getuies wees.”  Die inhoud van die getuienis is die werk van God in en deur Jesus Christus.  Ons is nie geroep om ’n filosofie, ’n morele kode, ’n raamwerk vir sedelike verbetering, ’n resep vir selfverwesenliking, ’n strategie om wenners te wees, opbouende waarhede of ’n rotsvaste bastion vir beginselvastheid te verkondig nie.  Allermins.  Ons is die getuies van Jesus Christus.

Gedurende die veertig dae tussen sy opwekking uit die dood en sy hemelvaart het Jesus met die apostels oor die koninkryk van God gepraat (1:3).  Die term koninkryk verwys nie, soos ons dalk sou verwag, na ’n geografiese gebied nie.  Koninkryk moet eerder as ’n werkwoord verstaan word:  Jesus het oor die regering van God gepraat.  Die koninkryk of regering van God is ’n tema wat regdeur die evangelies aangekondig word.   Daar is die allernouste band tussen Jesus en die koninkryk: die koninkryk word in die persoon en werk van Jesus verwesenlik.

Wanneer ons gestuur word om getuies van Jesus te wees, dra ons die boodskap van die regering van God wat in die persoon en werk van Jesus ’n werklikheid word.  Wat is die koninkryk?  Die koninkryk is:

• God se missie of sending om in die dood en opstanding van Christus versoening en herstel te bewerk.  2 Kor 5:19: “Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie.  Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.”

• God se regering maak ons nuut: “Iemand wat aan Christus behoort is ’n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor 5:17).

• Die koninkryk wat in Jesus kom vernietig elke duister mag en gesag wat verwoesting aanrig: “Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het” (1 Kor 15:23-24).

• Deur by wyse van die kruis en opstanding te regeer, breek God die mag van die sonde en dood wat die goeie skepping op die weg van verwoesting geplaas het.  Die getuienis is: in Jesus breek die toekomstige regering van God nou reeds in die wêreld in as boodskap van die toekoms van die skepping, wat eenmaal volkome genees en versoen met God sal wees.

Waar ons die goeie nuus van Jesus deel, daar breek die regering van God deur.  Daar word die wêreld nuut gemaak.  Daar kom hoop en uitsig.  Ons is deel van God se vernuwing van sy skepping.

Drie:  ’n Taak uitgevoer in die krag van die Heilige Gees
Die getuienistaak kan net deur die krag van die Heilige Gees uitgevoer word.  Daarom sê Jesus dat die dissipels in Jerusalem moet bly wag tot die gawe wat die Vader belowe het aan hulle gegee is (1:4).  Hierdie gawe is die Heilige Gees waarmee hulle gedoop sou word (1:5).

Die Heilige Gees bemagtig die kerk na die weggaan van die Here Jesus.  Die Gees word juis gegee om oor Jesus te getuig, en die Gees neem die kerk op in hierdie proses.  Die kerk word die instrumente van die Gees se bediening in die wêreld.

Gelowiges getuig nie uit hulle eie krag of met hulle eie wysheid nie.  Getuienis geskied in afhanklikheid van die Heilige Gees.  Daarom kan Handelinge nie net as die handelinge van die apostels gesien word nie, maar moet die boek eintlik die Handelinge van die Gees genoem word.  Dit is die Gees wat vissermanne die vrymoedigheid gee om te getuig.  Wanneer die weerstand opstapel, versterk die Gees die getuies, sodat die getuienis gelewer word ten spyte van teenstand.  Die Gees stuur die oor allerlei grense en belemmeringe, sodat die wêreld kan hoor.

Johan Cilliers skryf treffend: “Wanneer ’n mens Handelinge lees, hoor jy hoedat die doodsbeendere ratel, sien jy hoedat hulle roer, beweeg en lééf! Been na been na been, vleis en vel en Gees deur Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Na alle kante toe spat die vonke, skiet dit soos ’n weerligstraal oor die aarde heen.”

Getuienis begin daarom altyd by gebed.  Die kerk bid om die krag en vervulling met die Gees wat oor ons uitgegiet is.  Die kerk bid om die dryfkrag van die Gees, en die inisiatief van die Gees.  Sonder die Heilige Gees kan ons nie.

Vier: ’n Verruimde taak
Ons getuienistaak is altyd groter en ruimer as wat ons kan droom of dink.  Dit geld op verskillende vlakke.

Eerstensis die taak geografies groter as ons onmiddellike omgewing.  Jesus sê: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (1:8).  Hierdie opmerkings spel die program van die boek Handelinge uit: van Jerusalem, Judea, tot in Samaria, en uiteindelik tot in die verre Rome, die uithoeke van die wêreld.  Maar daarmee is die getuienistaak nie afgehandel nie.  Die kerk sou die boodskap deur die eeue altyd verder neem, van hier in die plaaslike konteks tot aan die uithoeke van die wêreld.

Die uithoeke van die wêreld skuif voortdurend.  Op ’n stadium was Afrika en die Ooste die uithoeke waarheen die evangelie geneem moes word.  Vandag is Europa weer sekulêr, en stuur kerke uit Afrika en die Ooste sendelinge na Europa om die evangelie terug te neem soontoe.  Aan die begin van die 20ste eeu het slegs 10% van die wêreld se Christene in die suidelike kontinente en die Ooste gewoon, terwyl 90% in Noord-Amerika, Europa, Australië en Nieu-Zeeland gewoon het.  Vandag leef ten minste 70% van die wêreld se Christene in die nie-Westerse wêreld.  Meer Christene aanbid elke week in Anglikaanse kerke in Nigerië as in al die Anglikaanse of Episkopaalse kerke van Brittanje, Europa en Noord-Amerika saam!  Daar is meer Baptiste in die Kongo as in Brittanje, meer mense elke Sondag in die kerk in die kommunistiese China dan in die hele Wes-Europa, en tien keer meer lidmate van die Assemblies of God in Latyns-Amerika as in die VSA  (Christopher J. H. Wright, “An Upside-Down World,” Christianity Today, January 2007).

Mens mag soms mismoedig voel en wonder of gelowiges werklik getuig.  Wanneer jy na bogenoemde skuiwe kyk, besef jy: die Gees sit die getuieniswerk inderdaad voort deur die kerk van die Here.  Natuurlik is daar selfgerigte gemeentes wat die evangelie gebruik om hul kerk in stand te hou, eerder as om getuies in die kragveld van die Gees te wees.  Hierdie teks is ’n oproep om bekering aan sulke kerke.

Tweedensis die getuienis groter as ons opvattings oor die inhoud van die getuienis.  Die dissipels vra vir Jesus: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” (1:6).  Vir hulle verstaan het die boodskap van Jesus net iets vir Israel gesê, net iets vir nou gesê, en moontlik het hulle dit verskraal tot net die politieke herstel van die ryk van Dawid of Salomo.

Die boodskap is groter en sterker as hulle verstaan daarvan.  Die boodskap doen meer, herstel meer, verander meer, is in sy inhoud ryker en groter as ons opvattings daarvan.

Baie sendelinge het na Afrika en ander dele van die wêreld gegaan om siele vir die hemel te red.  Voordat hulle hul kon kry, het hulle skole gebou om onkunde te verdryf, hospitale opgerig om genesing te bring, die Bybel vertaal om die seggingskrag van die evangelie te verhoog, en is hul eie lewens en geloof verruim deur die kontak met die mense teenoor wie hulle getuig het.  Die evangelie van Jesus Christus doen meer, en neem ons na plekke, skep strategie, span metodes in en bewerkstellig verlossing op maniere wat ons nie kon voorsien nie.  Geen wonder nie, want die getuienis en die boodskap behoort nie aan ons nie: dit is getuienis oor Jesus deur die krag van die Gees.

Getuies maak daarom altyd ruimte om verras te word deur die lewende God.  Getuies bly sensitief vir die stem van die Gees wat ons op maniere gebruik wat ons nie kon voorsien nie.

Ons het nie die boodskap in ons greep nie.  Die boodskap het ons in die boodskap se greep.  God sit daaragter.  Johan Cilliers skryf dat God ons deur die eeue opnuut opsoek: “Deur ons strate, ons woonbuurtes en huise en kerke, ja tussen ons kerkbanke deur, hardloop Hy, snuffel Hy omdat God nie wil hê dat een mens verlore moet gaan nie, maar dat almal tot die kennis van die waarheid en die verwondering oor sy liefde moet kom . . . God is onrustig, en Hy stuur sy onrustige Gees om ons stereotipes, ons ideologieë, ons teologieë, ons planne, ons programme, ons sondige stabiliteit te kom deurbreek ter wille van die behoud van die wêreld. Hy dryf ons uit ons ‘rus’ uit, na die wêreld met sy onreg, sy hongersnood, sy verskeurdheid, sy ellende.”

Vyf: ’n Taak wat die lewe met sin vul
Ons hoop op die terugkeer van Jesus.  Die belofte is: “Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het” (1:11).

Ons wag op Jesus.  Dit is ’n aktiewe wag.  Ons wag deur te vertel, te getuig, deur deel te neem aan die regering van God wat genesing, geregtigheid en vrede in die wêreld bring.

Hierdie aktiewe wag vul ons lewens met sin.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Handelinge 1:8 verklaar dat die Heilige Gees ons tot getuies bemagtig.  Gee geleentheid vir getuienisse van God se werk in die lewe van lidmate.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.