Hemelvaart

Sections

Oorsig

Hemelvaart is die fees op die Christelike kalender met die laagste profiel. Vir al die ander feeste (Kersfees, Paasfees) is daar uitgebreide rituele en gewoontes. Maar ons weet nie regtig wat om met hemelvaart te maak nie. Hoe vier mens hemelvaart? Kersfees en Paasfees het pertinente simbole wat jou herinner aan die geboorte, kruisiging en opstanding. Ons het geen sulke simbole vir hemelvaart nie.

Wat wel in die liturgie vir hierdie feesdag gestalte behoort te kry, is die elemente van verwondering; blydskap; verlange; vooruitsien na die wederkoms en aanbidding van Jesus as Koning van ons lewe.

Ander tekste

Psalm 47
God is bo almal verhewe
47 Vir die koorleier. Van die Koragiete.
’n Psalm.
2Al julle volke, klap julle hande;
juig tot eer van God
met ’n jubelende stem,
3want aan die Here, die Allerhoogste,
kom eerbied toe;
Hy is die Groot Koning
oor die hele aarde:
4Hy het volke aan ons onderwerp
en nasies aan ons onderhorig gemaak;
5Hy het ons besitting vir ons uitgekies,
die pragtige land van Jakob,
wat Hy liefhet.
6God gaan op na sy tempel toe
onder gejubel,
die Here gaan op
terwyl die ramshorings blaas.
7Prys God, prys Hom met psalms,
prys ons Koning,
prys Hom met psalms!
8God is koning oor die hele aarde;
sing vir Hom ’n lied.
9God is koning oor die nasies,
God is op sy heilige troon.
10Die leiers uit elke volk
sal hulle verenig met die volk
van die God van Abraham.
Die heersers van die aarde
is onderworpe aan God,
Hy is bo almal verhewe.

Psalm 93
U is van altyd af daar
93 Die Here is Koning,
Hy beklee Hom met majesteit.
Die Here beklee Hom,
Hy omgord Hom met krag.
Die wêreld staan vas, dit wankel nie,
2en vas staan u troon van ouds af:
U is van altyd af daar.
3Riviere het gedruis, Here,
riviere het gedruis,
riviere het gedreun,
4maar hoog bo die geraas
van baie waters,
hoog bo die golwe van die see,
troon die Here in sy koninklike mag.
5U verordeninge staan baie vas.
Heiligheid versier u huis, Here,
tot in lengte van dae.

Efesiërs 1:15-23
Paulus se gebed
15Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Lukas 24:44-53
Jesus verskyn aan die dissipels

(Matt 28:16–20; Mark 16:14–18; Joh 20:19–23; Hand 1:6–8)
36Terwyl hulle nog oor hierdie dinge praat, staan Jesus self meteens daar tussen hulle en sê vir hulle: “Vrede vir julle!”

37Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ’n gees. 38Hy sê toe vir hulle: “Waarom is julle so verskrik, en waarom kom daar twyfel in julle harte? 39Kyk na my hande en my voete: dit is tog Ek self. Voel aan My en kyk! ’n Gees het tog nie vleis en bene soos julle sien dat Ek het nie.” 40Terwyl Hy dit sê, wys Hy vir hulle sy hande en voete.

41Toe hulle van blydskap en verwondering nog nie kon glo nie, sê Hy vir hulle: “Het julle hier iets om te eet?”

42Hulle gee Hom toe ’n stuk gebakte vis. 43Hy het dit gevat en voor hulle oë geëet.

44Daarna sê Hy vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.”

45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’48Julle is getuies van hierdie dinge. 49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Die hemelvaart van Jesus
(Mark 16:19–20; Hand 1:9–11)
50Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. 53Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.

Fokusteks

Handelinge 1:1-11
Die belofte van die Heilige Gees
1 My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat. 4Terwyl Hy ’n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het. 5Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”

7Hy het hulle geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Jesus se hemelvaart
9Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ’n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. 10Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan. 11Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan he

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 426 “God Kom Word Mens (Emmanuel)”
Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”

Aanvangswoord
Soos ‘n blom na die son draai;
Soos riviere na die see loop;
Soos ‘n boom na die hemel opreik;
Soos skape agter hulle herder aanloop –
So rig ons ons hart op die Here.
Rig julle hart op die opgestane Here!
– Anoniem

Seëngroet
Liturg:  Genade en vrede van een Skepper-God
Gemeente:  van alle sienlike en onsienlike dinge.

L:  Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit Lig,
G:  wat sit aan die regterhand van die Vader.

L:  Genade en vrede van die Heilige Gees,
G:  Wat ons Here en Lewendmaker is.  Amen.
(Aanvangswoord en seëngroet uit Wepener, C 2011.  Soos ‘n blom na die son draai.  Wellington:  Bybelmedia.)

Lofsang
Lied 427 “Alle volke, loof die Koning!”
Flam 9 “Ons Redding Kom Van Ons God” 
VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer” 

In die “Handleiding vir die Erediens” volg hier ’n Koninkrykslitanie:
Liturg:  In alle plekke van konflik…
Gemeente:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elke geweldenaar…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elke soldaat…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elke politikus…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elke slagoffer van oorlog…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat honger ly…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elke daklose…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat wanhoop…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat siek is…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat gemolesteer is…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat verslaaf is…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen met skuld wat nie betaal kan word nie…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat eensaam is…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat vrees ervaar…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van elkeen wat terneergedruk is…
G:  Laat u koninkryk kom.

L:  In die hart van die wêreld…
G:  Laat u koninkryk kom.   Amen.

Gemeentesang
Lied 178 “Dona nobis pacem”
Flam 96 “Op U Wil, Here Jesus 
VONKK 36 “Bly Met U Genade By Ons” 

Liedere

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F96. “Op U Wil, Here Jesus” 
(RUBRIEK: Kersflam – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Johan van Dijk
© 2010 Flam Musiek-Uitgewers

Op u wil, Here Jesus
wil ek bou, met my hele hart vertrou.

F9. “Ons Redding Kom Van Ons God”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: Salvation belongs to our God
Teks en musiek: Adrian Howard en Pat Turner
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani en Hanneke Engelbrecht
© 1985 Restoration Music, Ltd.

1. Ons redding kom van ons God
wat heers vanaf Sy hemeltroon.
Hy is die Lam.
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

Refrein:
Hy is die Heer vir ewig en ewig,
En Hy regeer vir ewig en ewig.
Hy is ons Heer vir ewig en ewig.
Amen.

2. En ons, die verlostes, getuig,
deur Woord en Gees lei Hy ons.
En ons roep dit uit:
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

F426. “God Kom Word Mens (Emmanuel)”
(RUBRIEK: FLAM – Verwondering, Geloof en vertroue)
Teks en musiek: Hendrik Maritz
Kopiereg © 2011 WINS Music
(Opgeneem op Gebroke Rym)

God kom word mens,
Hy woon tussen ons
breek die grootste grens
tussen sien en glo.
In gebrokenheid
skyn sy skoonheid.
Hemelkoning maak in mens Sy huis.
Hemelkoning maak in mens Sy huis.

Refrein:
Emmanuel, God is met ons,
Hy is hier, Hy is nou Teenwoordige Vader.
Sterke God, Vredevors,
Gewer van lewe,
Hy is hier, Hy is nou teenwoordige Vader.

VONKK 36 “Bly Met U Genade By Ons”
Teks: Bleib mit deiner Gnade  – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Bly met u genade by ons,
Jesus, ons Heer.
O bly met u genade by ons,
U, troue Vader.

Stay with us o Lord, Jesus Christ,
night will soon fall.
Then stay with us o Lord, Jesus Christ,
light in our darkness.

VONKK 96 “Wees Bly En Loof Die Heer”
Teks: Rejoice, the Lord is King! – Charles Wesley 1707-1788; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: GOPSAL – George Frideric Handel 1685-1759
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Lofprysing / Hemelvaart

1. Wees bly en loof die Heer –
jou Koning wat regeer!
Kom bring Hom dank en eer.
Kom buig jou voor Hom neer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

2. Die Heer het opgevaar,
sit aan Gods regterhand.
Kyk, Hy regeer vandaar
en hou sy kerk in stand.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

3. Van God se regterhand
regeer die Heer met mag.
Voor Hom sal elke knie
moet buig met groot ontsag.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

4. Wees bly en hoop op Hom –
Hy kom vir seker weer.
Dié Regter wat sal kom,
is ook ons Redder, Heer.
Verhef jou stem en sing nou saam!
Wees bly en prys die Heer se Naam!

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833
Orrelbegeleiding:  Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Ons juig in U, onse Here.
Dis U wat hemelvreugde bied.
Ons sing u Naam ter ere.
U het waarlik opgevaar.
Daarom weet ons:  u Woord bly ewig waar.
U is ons Hoof en Here.

U maak nou vir ons plek gereed
by God, ons Heer en Vader,
en deur U offer kan ons weet,
dat ons ook nou tot God mag nader!

Help ons, Here,
lei ons na die Vader.
Amen
(N.a.v. Lied 426)

Skriflesing: Handelinge 1:1-11

Lied 313 “Amen”
Psalm 47 of 93
Lied 313 “Amen”

Efesiërs 1:15-23
Lied 313 “Amen”
Lukas 24:44-53

Lied 313 Amen

Familie-oomblik

‘n Pittige vertelling van die Hemelvaart verhaal na aanleiding van die teks uit Handelinge 1 is uiters geskik om kinders se nuuskierigheid bevredig na wat het regtig gebeur na Jesus se opstanding uit die dood.  Hier is die teks uit Joubert, S. 1999. Die Nuwe Testament vir kinders in ‘n taal wat hulle verstaan. Carpe Diem: Vanderbijlpark

Jesus Gesels met sy Vriende oor die Heilige Gees
1      1–3 Liewe Teofilus, jy het seker al daardie boek gelees wat ek geskryf het oor Jesus. Die boek se naam is mos Lukas. Dit is in die Bybel. In daardie boek vertel ek van wat Jesus alles gedoen en gesê het. Jy sal onthou dat Jesus vir Hom ’n paar goeie vriende gekies het wat orals saam met Hom rondgestap het. Maar die mense het mos vir Jesus met spykers aan ’n kruis vasgemaak. Jesus is toe dood. Drie dae later het Hy lewendig uit die dood opgestaan. Hy het toe weer by sy vriende gaan kuier. Hy wou vir hulle wys dat Hy regtig weer lewendig is. Jesus het lekker met hulle gesels en hulle vertel van God se nuwe wêreld.

4–5 Eenkeer het Jesus weer by sy vriende gaan eet. Jesus sê toe vir hulle: “Moenie uit die stad Jerusalem weggaan nie. Wag net hier. God gaan een van die dae vir julle die Heilige Gees stuur. Hy het mos beloof dat Hy dit gaan doen. Ek het julle daarvan vertel. Wanneer Ek nie meer by julle is nie, gaan die Heilige Gees julle help.”

6–8 Op ’n ander keer het Jesus weer by sy vriende gekuier. Hulle sê toe vir Hom: “Jesus, die Jode het altyd hulle eie koning gehad. Maar dis nou nie meer so nie. Die Romeine is nou hulle baas. U gaan darem seker die Jode help dat hulle weer hul eie koning kan hê!”

Jesus antwoord hulle: “God sal self besluit wat Hy gaan doen. Julle hoef nie te weet wat Hy gaan doen nie. Maar daar is een ding wat julle moet weet: dit is dat God vir julle die Heilige Gees gaan stuur. Die Heilige Gees sal julle baie sterk maak. Julle sal dan oral in die wêreld die mense gaan vertel van wat Ek gedoen het.”

Jesus gaan Terug Hemel toe
9–11 Terwyl Jesus nog so met sy vriende gesels, kom daar skielik ’n wolk. Jesus ry toe op die wolk hemel toe. Sy vriende wat daar was, kon Hom nie meer sien nie. Hulle bly toe net opkyk na die hemel. Skielik staan daar twee mans by hulle. Die mans het wit klere aangehad. Die mans sê toe vir Jesus se vriende: “Waarom staan julle so en kyk na die hemel? Ons weet Jesus het nou net hemel toe gegaan. Maar julle moet nie bekommerd wees nie. Hy gaan weer aarde toe kom om julle te kom haal. Julle sal dan vir altyd by God in die hemel wees.”

By is ‘n legkaart van die hemelvaart.

Jesus se hemelvaart help ons om te onthou dat Jesus Koning is, dat hy regeer.  Verduidelik wat ’n koning is en laat die kinders krone maak.  Voorbeelde van krone.

Preekriglyn

Saam met die dissipels van ouds kyk ons vandag stip na die hemel.

Ons sien met geloofsoë die wolk, die teken van God se teenwoordigheid by sy volk op aarde, wat Jesus wegneem na die regterhand van God. Ons hoor die belofte van die twee mans met wit klere, wat sê: “Hierdie Jesus sal net so terugkom.”

In ons ore klink die boodskap van die Nuwe Testament: hierdie Jesus is steeds teenwoordig. Hy is teenwoordig vanaf die regterhand van die Vader vanwaar Hy oor alles regeer. Totdat Hy weer kom om God se koninkryk ten volle op God se nuwe aarde onder God se nuwe hemel te vestig.

Op hierdie dag is ons harte bly. Ons begryp dat die verlede tyd van ons geloofsbelydenis vandag oorgaan na die teenwoordige tyd. Baie van die dinge wat ons oor Jesus glo en bely het met die verlede tyd te doen. Dit is feite, geskiedenis: Hy is gebore, het gely, is gekruisig, is begrawe, het opgestaan, het opgevaar. Maar nou, vandag, sit Hy aan die regterhand van God die Vader. En regeer Hy oor alles. Teenwoordige tyd!

Die grootste werklikheid, die finale feit, die diepste grond waarmee alle realiste rekening moet hou, is dit: Jesus het opgevaar na die hemel, en sit aan die regterhand van God.

Vir Gereformeerde gelowiges beliggaam hemelvaart die hart van ons Christusverstaan:

  • Ons leef vanuit hemelvaart,
  • Ons kry die durf en moed om deur die krag van die Gees te getuig vanuit Christus se allesomvattende koningskap,
  • Ons beoordeel ons eie lewe, en ons gemeente se lewe, vanuit Christus se leierskap as Hoof van die kerk en die kosmos,
  • Ons soek na Christus se wil, en protesteer as Christus se kerk sy identiteit gaan soek in enigiets anders as in Christus se leierskap.
Die betekenis van Hemelvaart

Aangesien ons Gereformeerde identiteit so nou met Hemelvaart gekoppel is, is dit goed om diep oor die betekenis daarvan na te dink. Dr. Coenie Burger het onlangs ‘n belangrike boek hieroor geskryf, wat spesifiek verstaanbaar vir alle lidmate van die kerk saamgestel is (Waar is Jesus nou? Hoe Jesus ná sy Hemelvaart onder ons teenwoordig is en werk). In hierdie boek gee hy sewe belangrike perspektiewe oor hierdie teks se blik op Hemelvaart. Ons kyk vervolgens daarna.

Een: Jesus nie meer sigbaar teenwoordig nie
Hemelvaart beteken die einde van Jesus van Nasaret se sigbare teenwoordigheid op aarde. Hoewel ons Jesus se hemelvaart nie as ongekwalifiseerde weggaan moet sien nie, moet ons ook nie probeer ontken dat Jesus se hemelvaart Hom op ’n bepaalde manier afwesig gemaak het by sy dissipels nie. Sy afwesigheid moet veral verstaan word as dat Hy nie meer onmiddellik fisiek-sigbaar by die dissipels teenwoordig was nie.

Twee: Jesus is nie weg nie
Jesus se hemelvaart behels nie ’n ongekwalifiseerde weg-wees van die aarde nie. Hoewel ons Jesus nie met ons fisieke oë kan sien nie, beteken dit nie dat Hy nie by ons is nie. Dit het alles te doen met hoe ons kyk. Dit is nie verniet dat die woorde “sien” en “kyk” in hierdie paar verse by herhaling gebruik word nie. As ons nie in die verkeerde rigting kyk nie, maar leer om reg te kyk, sal ons Jesus te sien kry. Die wolk waarin Jesus opgeneem word, getuig juis van God se teenwoordigheid.

Drie: Oor die hemel
Wat die Bybel bedoel as daar oor die hemel gepraat word. Die woord “hemel” word in die Bybel op ten minste twee maniere gebruik, ook so in Handelinge 1. Dit verwys na die uitspansel of lug bo ons (10) en dit is ’n aanduiding van die woonplek van God (11). Die hemel as woonplek van God is ’n “plek” wat vir mense ontoeganklik en onsigbaar is en nie gelokaliseer kan word nie. Christus se hemelvaart beteken nie dat Hy na ’n fisiek aanwysbare plek iewers in die uitspansel gegaan het nie, maar dat Hy teruggekeer het na sy lewe saam met God. Hier is Hy baie nader aan ons as wat ons dalk dink! Die hemel het immers geskeur, sodat daar verskeie verwysings in die Nuwe Testament is van gelowiges wat die verhoogde Christus gesien het, byvoorbeeld Stefanus (Hand 7).

Vier: Die dissipels / kerk in die kollig
Na die hemelvaart val die soeklig op die dissipels en die uitvoering van die opdrag wat hulle van Jesus ontvang het. Jesus se hemelvaart dui die begin van ’n nuwe era aan. Waar die kollig in die vorige era (evangelies) volledig op Jesus en sy doen en late was, verskuif die kollig nou (Handelinge) na die dissipels wat hulleself in die middel van die verhoog bevind. Ons hoor dit in die woorde van die twee mans in vers 10. Die strekking van hulle woorde is duidelik. Dit gaan die dissipels niks baat om nou nog te wag vir Jesus (deur te staar na die hemel) om sekere dinge te doen nie. Die tyd het aangebreek vir hulle om te begin werk!

Ons hoor dit ook in die gesprek tussen Jesus en sy dissipels in vers 6-8. Die dissipels wil by Jesus weet: “Wanneer gaan U . . .?” Hierop antwoord Jesus: “Julle gaan my getuies wees . . .” Müller beklemtoon dat die oorgang van een na die volgende era nie so verstaan moet word dat die dissipels en die kerk se verbinding met die Oorsprong verbreek word nie. “Die kerk is nie plaasvervanger van die Here nie – net maar ’n plekhouer: dit is juis die verhoogde Heer wat nou deur sy Gees (deur die kerk) [hy kursiveer] sy ryk gaan bou” (Müller).

Vyf: Toegerus vir die taak deur die Gees
Christus stort sy Gees op die dissipels uit om hulle krag te gee vir hul nuwe taak. Dit is die fokuspunt van Handelinge se verslag oor Jesus se hemelvaart. Hier het ons met ‘n vreesagtige, wagtende gemeenskappie van dissipels te doen, wat geen krag en gesag van hul eie het nie. Hulle kan self ook geen krag en energie skep nie. Hulle het niks om hulself op te beroem nie. Dan word daar krag aan hulle gegee wat die gemeenskappie vul met energie, moed, verbeeldingryke aksie, en hulpbronne wat hulle grootte menslikerwys heeltemal oorstyg.  Hoe is dit moontlik dat die klein gemeentetjie met geen selfvertroue nie ‘n kragtige mag in die groter publieke raamwerk word?

Die verhaal in Handelinge 1 wil op hierdie vraag ’n antwoord gee. Die antwoord is dat Christus deur sy hemelvaart vir die dissipels en die kerk ruimte maak en hulle sodoende inskakel by sy werk.

Hierdie patroon sien ons in die Bybel reg van die begin af. God skakel mense by sy werk in. Volgens die skeppingsverhaal maak hy mense as sy verteenwoordigers. Israel word deur God gekies om sy bondgenoot en dienskneg te wees. Beide die prosesse eindig nie goed nie. Die medewerkers het nie aan die verwagtings voldoen nie. Christus kom sy dissipels tegemoet. Omdat Hy hulle deel van sy werk wil maak, gee Hy aan sy dissipels die Gees. Die Gees gee aan die dissipels die gawes wat hulle nodig het om betroubare, kragtige en getroue getuies van Christus te wees.

Ses: Jesus kom weer
Die belofte dat Jesus weer sal kom. Christus se hemelvaart en wederkoms omraam die tyd waarin ons nou leef. Dit stempel hierdie tyd as ’n tussentyd. “Tot met die wederkoms leef die kerk in geloof . . . met ’n reeds en ’n nog nie . . . tussen herinnering en hoop . . . in die sfeer van God se afwesige teenwoordigheid . . . soms met sigbare tekens en wonders en soms leeg, voortvlugtend en ontredderd” (Heroldt). Dit is ’n tyd wat gekenmerk word deur Christus se liggaamlike afwesigheid, die kerk se sending en die uitstorting van die Heilige Gees. Omdat die tussentyd sy eie bedreiging, lyding en frustrasie meebring, is dit belangrik vir die dissipels en die kerk om te weet dat hierdie tyd nie vir ewig sal aanhou nie. God self stel perke daaraan. Christus kom weer.

Sewe: Diens met blydskap
Die hemelvaart vul die dissipels met blydskap. Volgens die Lukasevangelie keer die dissipels met blydskap terug na Jerusalem. Die weggaan van Jesus was dus minder traumaties as wat mens sou verwag. Blykbaar het die dissipels meer van die voordeel van hemelvaart verstaan.

Hierdie blydskap word egter nie in die Handelingeweergawe gemeld nie. In Handelinge word genoem dat die dissipels na hemelvaart terug is na Jerusalem en die gemeenskap van die gelowiges opgesoek het. Dit is hierdie geloofsgemeenskap wat dan met die krag van die Heilige Gees gevul word, blydskap ervaar en met oorgawe getuig en dien.

Toepassing

Ons leef in die bedeling wat met Hemelvaart ingelui is. Jesus sit aan die regterhand van die Vader. Hy regeer. Die Heilige Gees, die Lewegewer en Kragbron vir die kerk, is oor ons uitgegiet. Ons het wat nodig is om die Here te dien en van Sy grootheid te getuig.

Ons mag dikwels só bewus wees van ons eie gebrokenheid en ons kerklike geraamtes in ons kerkkas, dat ons amper nie die vrymoedigheid het om iets te sê nie.

Dit sal jammer wees. Dit sal ‘n tragedie, en uit voeling met die werklikheid wees. Want ons is nie geroep om getuies van ons eie volmaaktheid en onbevlektheid te wees nie. Ons is getuies van Jesus. Ons getuig soos stamelende bedelaars wat vir ander wys waar ons die genade gevind het. Ons het ons leë hande uitgesteek en by God brood gekry. Nou vertel ons van Jesus, sodat ander ook van die brood van die lewe kan ontvang.

Kom ons eien weer die krag wat die Gees gee sodat ons van die lewende Here kan getuig.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
Geloofsbelydenis van Nicéa

Slotsang
Lied 429 Die “Heer regeer, Hy’t opgevaar”
VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Flam 207 “U Het U Heerlikheid, O Heer” 

Seën
Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal getuies van die Here wees tot in die uithoeke van die wêreld.

Respons
Lied 312 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.