Goeie Vrydagdiens

Picture of Preekbundel

Goeie Vrydagdiens

Oorsig

Hierdie diens is ‘n voortsetting van die diens wat op die Donderdag van Groot Lydensweek begin het. Alle versierings is verwyder en daar is niks op die nagmaaltafel nie buiten ‘n leë bord en beker. Die kansel is met swart bekleed. Die diens het Donderdagaand in stilte geëindig (sonder ‘n seën) en begin ook nou in stilte (sonder ‘n aanvangswoord).

Ander tekste

Jesaja 52:13–53:12
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasie
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag geha
dat ons na hom sou kyk nie,
die die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem.
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Psalm 116:1-2, 12-19
Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede.
2Hy het na my geluister
toe ek Hom aangeroep het.

12Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13Met ’n drankoffer
sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Vir die Here is die dood
van sy troue dienaars
geen geringe saak nie.
16Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vry gemaak.
17Ek wil U loof met ’n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19in die voorhowe
van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!
Prys die Here!

Johannes 13:1-17, 31b-35
Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.

2Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. 3Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. 4Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.

6Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”

7En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie noú nie, maar later sal jy dit verstaan.”

8Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”
Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”

9Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”

10En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”

11Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? 13Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 14As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. 16Dít verseker Ek julle: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ’n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. 17Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

“Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Sleutelteks

Hebreërs 4:14-16; 5:7-9

JESUS DIE GROOT HOËPRIESTER
414Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons styf vashou aan ons belydenis. 15Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie medelye met ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en dit sonder dat Hy gesondig het. 16Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.

51Elke hoëpriester wat uit mense geneem word, word immers ook ter wille van mense aangestel vir die offerdiens voor God, sodat hy ter wille van die sondes geskenke en offers kan bring. 2Hy kan deernis hê met dié wat in onkunde dwaal, aangesien hy self ook aan swakheid blootgestel is. 3Juis daarom moet hy, net soos vir die volk, ook vir homself offers vir sy sondes bring. 4Niemand eien die eer vir homself toe nie, maar hy word, net soos Aäron, deur God geroep.

5So ook het Christus nie Homself vereer om Hoëpriester te word nie; die Een wat Hom vereer het, was God, wat vir Hom gesê het:
“Jy is my Seun;
vandag het Ek jou verwek.”
6So sê Hy ook op ‘n ander plek:
“Jy is priester vir ewig,
volgens die orde van Melgisedek.”
7Christus het tydens sy aardse lewe smekinge en pleitbedes met harde krete en trane gebring voor God, wat in staat was om Hom uit die dood te red, en Hy is verhoor op grond van sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Alhoewel Hy die Seun was, het Hy gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het. 9En nadat Hy tot volmaaktheid gebring is, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige verlossing geword,

10aangesien Hy deur God aangewys is as “Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”.

Ekstra stof

Hebreërs 4:14-5:10 – Hou styf vas aan ons belydenis en nader met vrymoedigheid die troon van genade
Waar die skrywer in hoofstuk 3 gesê het dat Jesus belangriker is as Moses, vervolg hy hier om te verklaar dat Jesus ook belangriker as Aäron is. Jesus is die “groot Hoëpriester.”

Die hoëpriester was ‘n amp wat deur die Here ingestel is en daarom net deur afstammelinge van Aäron beklee kon word (Eks. 28). God het dus die hoëpriester vir sy taak geroep. Die hoëpriester se funksie was om versoening vir die sondes van die volk (en sy eie) te doen deur eenmaal per jaar in die heiligdom van die tempel te verskyn voor die Here.

Jesus is egter nie ‘n Hoëpriester volgens die orde van Aäron nie. Hy is ‘n Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek (“my koning [is] geregtigheid“). Hy het dieselfde funksie as die Aäronitiese hoëpriester om versoening te doen, maar daar is vier baie groot verskille.

  • Jesus doen nie vir sy eie sonde versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, want Hy is sonder sonde. Daarom is Hy vir ons die bron van ewige verlossing (vers 9).
  • Jesus doen nie net vir die sondes van die volk versoening soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar vir die sonde van die hele wêreld. Só lê Johannes die Doper dit ook uit op grond van die belofte in Jesaja 53:11: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29 – vgl. 1 Pet. 2:24). Daarom kan Jesus nie maar net ‘n Aäronitiese hoëpriester wees nie – Hy was in elk geval nie ‘n direkte afstammeling nie – maar moet Hy dit wees as deel van ‘n orde wat alle mense insluit.
  • Jesus is nie net ‘n menslike priester wat uit die mense aangestel word soos Aäron se nageslag nie, maar ‘n Goddelike priester wat as Seun van God verwek is daarvoor, en daarom vir ewig as ‘n priester volgens die orde van Melgisedek aangestel is.
  • Jesus tree nie net een keer per jaar in vir sy mense soos die Aäronitiese hoëpriester nie, maar elke oomblik van elke dag vir ewig en altyd. Hy is “die bron van ewige verlossing” wat te alle tye ontferming en genade kan gee sodat sy mense op die regte tyd gehelp kan word. Dit is groots!

Jesus het, soos Aäron, nie self besluit om Hoëpriester te word nie, want net God kan dié roeping gee. Dit is dus vir Hom gegee: “So ook het Christus nie Homself vereer deur hoëpriester te word nie, maar wel die Een wat vir Hom gesê het: ‘Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.’” Dit is God self wat Hom aangewys het as hoëpriester: “Jy is priester vir ewig, volgens die orde van Melgisedek.” (Ps. 110:4).

Die skrywer sal nog dieper op die orde van Melgisedek in hfst. 7 ingaan. Melgisedek tref ons net op twee ander plekke in die Bybel aan.

In Genesis 14:18-20 lees ons dat Abram met sy terugkoms, ná sy oorwinning oor Kedorlaomer en die konings by hom om Lot en sy mense te bevry, deur Melgisedek, die koning van Salem (Jerusalem) en priester van God die Allerhoogste, geseën is. Hy het kos en wyn gebring vir Abram en gesê: “Mag Abram geseën word deur God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde. Geloof sy God die Allerhoogste! Hy het jou vyand in jou mag oorgegee.” Abram se reaksie was betekenisvol. Hy het vir Melgisedek ‘n tiende van alles gegee.

Dit is dié orde van Melgisedek waarna in Psalm 110 verwys word. Aan die koning word in dié Psalm nie net oorwinning oor sy vyande beloof nie, nie net die mag oor allerlei nie, maar baie spesifiek ook die priesterskap volgens die priesterorde van Melgisedek. Hierdie Psalm se boodskap word Messiaans geïnterpreteer en deur die skrywer aan die Hebreërs op Jesus van toepassing gemaak. Hy is dus ‘n koninklike priester volgens die orde van Melgisedek. Dit is dus ‘n koninklike priesterskap, ‘n konsep waaroor ook die apostel Petrus skryf in sy brief aan die vreemdelinge in die Diaspora, die uitverkorenes van God, en dit van toepassing maak op wat God met die geloofsgemeenskap doen (1 Pet. 2:9-10).

Hierdie Hoëpriester, sê die skrywer, het “deur die hemele gegaan“. Daarmee word uitgedruk dat Hy die ruimte van God, die Allerheiligste plek, die troon van God, binnegegaan het. Hy is dus nie net die Hoëpriester van ‘n bepaalde plek en of godsdiens nie, maar van die hele Skepping. Iets om oor na te dink! Paulus skryf ook daaroor in Kolossense 1:15-20.

Dit is aan dié belydenis waaraan ons styf moet vashou:

  • dat Jesus die Seun van God is (hfst. 1:5);
  • dat Jesus belangriker is as die engele (hfst. 1:14);
  • dat Jesus die kroon en die doel van die Skepping is (hfst. 2:9);
  • dat Jesus by uitnemendheid die Leidsman van ons verlossing is (hfst. 2:10);
  • dat Jesus die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis is (hfst. 3:1).
  • dat Jesus belangriker is as Moses (hfst. 3:3);

Die skrywer gebruik die Griekse woord omologia om hierdie belydenis uit te druk. Dit is dieselfde woord wat Paulus gebruik om Timoteus se belydenis voor baie getuies te beskryf. Vgl. 1 Tim. 6:12: “Hardloop die goeie wedloop van die geloof; gryp na die ewige lewe waartoe jy geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” Dit beteken dus die inhoud van jou geloof, dít waaraan jy jou verbind, dít waarvoor jy leef.

En waarom moet aan dié belydenis vasgehou word? Omdat dit die enigste hoop is wat ons het as ons aan allerlei swakhede en versoekings blootgestel word. Omdat Jesus, as groot Hoëpriester, medelye het met ons swakhede en vatbaarheid vir versoekings, kan Hy ons help. Hy word nie self deur swakhede of versoekings ingeperk of aan bande gelê nie. En Hy is altyd beskikbaar om ons te help in versoekings. Dit is sy werk, sy roeping, dié hoofdoel waarvoor God Hom vir ewig aangestel het.

Daarom: “Laat ons dan met vrymoedigheid die troon van genade nader, sodat ons ontferming en genade kan ontvang om op die regte tyd gehelp te word.” Jesus het baie meer deernis met ons onkunde, ons swakhede, ons uitdagings as wat enige menslike hoëpriester ooit kan hê. Omdat Hy self deur lyding na gehoorsaamheid en volmaaktheid gebring is, kan Hy vir ons die bron van “ewige verlossing” wees.

Boodskap
Die boodskap van Jesus as Hoëpriester is ‘n sentrale waarheid in die brief-boodskap aan die Hebreërs. Jesus sit aan die regterhand van die Vader en tree nie net vir ons as Voorbidder in nie, maar doen inderdaad Versoening vir ons sondes. Hy luister na ons gebede om ontferming en genade en sien toe dat ons op die regte tyd gehelp word. Daarom moet ons sonder ophou met baie vrymoedigheid bid om ontferming en genade, maak nie saak in watter moeilikheid of versoeking ons is nie.

Ek kan aan min dinge dink wat my soveel gerustheid en hoop gee vir hierdie lewe, as juis dít nie. Die konsep van Hoëpriester is iets wat ek met alles in my omhels. Dít is die hart van my belydenis oor Jesus. Want, daarin lê uiteindelik nie net die hoop vir dié lewe opgesluit nie, maar die hoop vir ons almal se “ewige verlossing” opgesluit!

Liturgie

RUS

Votum: (uit Jes 53:1, 4-5).

Lied: Lied 389 of VONKK 194 verse 1-2

Verootmoediging

Lied: VONKK 194 verse 3-4 of Lied 239 of Flam 75

HOOR

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 4:14-16, 5:7-9

Preek
Gebed

Geloofsbelydenis: (Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)

Gebed: Ons Vader-gebed

Nagmaal: Lied 384 of VONKK 194 vers 5

LEEF

Kruiswoorde
Geen seën

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Votum
Voorganger: Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
Gemeente: Tog het Hy ons lyding op Hom geneem, ons siektes het hy gedra.

Voorganger: Maar ons het Hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.
Gemeente: Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor ons sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (uit Jes 53:1, 4-5).

Lied
Lied 389 “Is dit, is dít my Koning” of
VONKK 194 Was Jy Daar verse 1-2

Verootmoediging
Genadige God, U het u Seun gegee om die skande van die kruis te verduur. Verlos ons van die hardheid van ons harte sodat waar ons ons Heiland aan die kruis aanskou, ons onsself sal verootmoedig, wegdraai van ons sondes en U oorvloedige liefde ontvang in Jesus Christus ons Here. Amen

Lied
VONKK 194 Was Jy Daar verse 3-4 of
Lied 239 “Jesus, Rots vir my geslaan” of
Flam 75 Jesus, Rots Vir My Geslaan

Liedere

VONKK 194 “Was Jy Daar”
Teks: Were you there when they crucified my Lord? – tradisioneel Afro-Amerikaans; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: WERE YOU THERE – tradisioneel Afro-Amerikaans
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Multikultureel – Lydenstyd en Goeie Vrydag

1. Was jy daar toe die Heer gekruisig is?
Was jy daar toe Hy wreed mishandel is?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?

2. Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly –
al die haat waardeur Hy geduldig bly?

Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly?

3. Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur –
al die pyn, al die spot, sy donker uur?

Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur?

4. Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?
Kan jy hoor hoe Hy roep in al sy nood?

Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?

5. Weet jy nou waarom hang Hy aan ‘n kruis?
Weet jy nou waarom Hy so swaar moes ly?

Weet jy nou Hy’t dit als vir jóú volbring?

F75. “Jesus, Rots Vir My Geslaan”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Skuldbelydenis)
Oorspronklik: Meine Hoffnung Stehet Feste (1680)
Afrikaanse vertaling: Attie van der Colf
Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Liedboek 239)
Musiek: Elmarie Wiesner
© Urial Publishing

1. Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
Jesus, Rots vir my geslaan,
laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat.
Laat u lyding sonder maat,
my tot heil wees en tot krag
teen die sondeskuld en -mag.

2. En ek self – wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
En ek self, wat kan ek doen
om my sonde te versoen?
Sou my hart met ywer gloei,
sou my trane ewig vloei –
nog gebede, nog geween,
kan my red, Heer, U alleen.

3. Leeg, net my sondelas,
hou ek u verdienste vas.
Leeg, net my sondelas
Hou ek u verdienste vas.
Ek kom om vergewing vra;
U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein,
was, my Heiland, maak my rein!

4. Heer, my Rots bo almal groot
Staan U vas in elke nood.
Heer, my Rots bo almal groot
Staan u vas in elke nood.
Trou van mense kom en gaan,
maar u bly onwrikbaar staan.
Eew’ge Rots, U laat ook my
veilig, ewig in U bly.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing:Hebreërs 4:14-16, 5:7-9

Preek
Gebed

Geloofsbelydenis
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”)
V: Saam met dié wat getuies was van die gebeure van die eerste Goeie Vrydag bely ons in die geloof …
Saam met Judas Iskariot …
G: dat ons soms self ’n onskuldige Man verraai.

V: Saam met Simon van Sirene …
G: dat wanneer jy Jesus volg, sy kruis ook jou kruis word.

V: Saam met die Romeinse soldaat …
G: dat ook ons afgestomp raak vir ander se nood.

V: Saam met Maria …
G: dat ons mekaar nodig het om Jesus enduit te volg.

V: Saam met die sterwende misdadiger …
G: dat ’n regverdige Man gesterf het.

V: Saam met die Romeinse offisier …
G: dat hierdie Man werklik die Seun van God is.

V: En nou bely ons ook saam met die wolk van geloofsgetuies deur die eeue heen …
G: Apostoliese Geloofsbelydenis

Gebed
Almal bid hardop saam die Ons Vader-gebed

Nagmaal
Lied 384 “Jesus, o dink aan my” of
VONKK 194 Was Jy Daar vers 5

Familie-oomblik

Jy kan die verhaal van Jesus se kruisiging met behulp van ‘n goeie Kinderbybel vertel of ‘n video soos hierdie (die video sluit die verhaal van die Opstanding in, maar jy kan net die middelste deel gebruik).
OF
Hebreërs herinner ons dat Jesus as mens geleef het en daarom weet hoe dit is om ‘n mens te wees. Hy het beleef wat ons beleef. Nou kan ons op Hom vertrou wanneer dinge vir ons te moeilik is. Ek onthou ‘n storie uit my kinderdae wat iemand vertel het (Louis Malherbe?) oor iemand wat miertjies sien wat op ‘n ramp afloop. Hy skree hard om hulle te stop, maar dit help nie. Al manier wat hy hulle kan stop, is as hy self ‘n miertjie kon word. (Duidelik onthou ek nie veel detail van die storie nie.) Kitten for ‘n day is die storie van ‘n hondjie wat vir ‘n dag lank ‘n katjie is. Jy kan dit gebruik om die konsep van Hebreërs oor te dra. Daar is nie veel woorde nie – wees kreatief met die “lees”! Hier is ‘n video, maar jy kan dit koop vir Kindle.

Hier is nog ‘n klomp kreatiewe idees.

Preekriglyn

Vandag, hier op Goeie Vrydag, help die Hebreërbrief ons om die betekenis van Jesus se lewe en sterwe te ontsluit. Dit vermaan ons (om aan God en Jesus te bly vashou, asook om staande te bly in ons geloof) en dit bemoedig ons omdat ons ‘n Hoëpriester by God het wat vir ons intree en ons begelei.

Die Hebreërbrief

Vir modern lesers kan die Hebreërbrief vreemd voorkom omdat ons die tempeldiens van destyds nie meer so goed ken nie. Die skrywer gebruik die wêreld en die gebruike van die tempel om die betekenis van Jesus se bediening en God se werk in en deur Jesus vir ons te ontsluit.

Hy beklemtoon dat Jesus vir ons die hoogste en finale hoëpriester is.

Hoëpriesters was sentrale figure in die Joodse geloof, die vernaamste bemiddelaars tussen God en mense. Hulle moes vir die volk intree by God en God se wil aan mense verkondig. Bowenal moes hulle offers bring, veral die onmisbare soenoffers tydens die groot versoendag. Dan kon hulle, net hulle, die allerheiligste van die tempel betree om amper direk in God se teenwoordigheid te staan. Amper, want ‘n wolk wierook moes steeds die ark (as simboliese troon van God) van hulle verberg.

Offers, vir ons vreemd, was destyds byna oral alledaags. Hoewel daar baie soorte offers was, was die kerngedagte byna deurgaans om kommunikasie met God te bewerkstellig. Om die afstand tussen God en mens te oorbrug, moes offers gebring word. Omdat menslike sonde die meeste afstand skep, was mense sonder soenoffers van God afgesny. Gewone mense kon nie naby genoeg kom om te offer nie; priesters, spesiaal geheilig vir die taak, moes as bemiddelaars en verteenwoordigers optree.

Volmaakte Hoëpriester

Teen die agtergrond van mensliker hoëpriesters, wys die Hebreërbrief nou op die ongelooflike betekenis van Jesus Christus.

Christene hét ‘n volmaakte Hoëpriester, beter as enige Joodse hoëpriester, nie bloot ‘n dienaar nie, maar Seun van God. Hy het “deur die hemele gegaan” en sit aan God se regterhand” (1:3). Dus, anders as die hoëpriesters wat een maal jaarliks, boonop indirek, in God se teenwoordigheid kon wees, is Jesus gedurig en direk daar om vir ons in te tree.

Terwyl die verhoogde Christus nader aan God is as menslike hoëpriesters, is Hy tog nie heeltemal bo ons verhewe nie. As een wat soos ons versoek is, het Hy medelye met ons swakhede. Kortom, Jesus is as God en mens die volmaakte Middelaar, volkome verteenwoordigend van God en van mense.

Twee oproepe

Dat Christus die volmaakte Hoëpriester is, word die grondslag vir twee oproepe wat die Hebreërbrief in ons teks maak. Gelowiges moet

  • Styf aan ons belydenis dat Jesus die Here is en aan ons toewyding aan God vashou;
  • In Christus bly leef in die vrye toegang wat ons tot God het.

Dit gaan om praktiese geloof, soos die twee oproepe aandui. Omdat Jesus as pionier reeds aan God se regterhand sit, moet mense aan die belydenis vashou, al is daar tydelik teëspoed en onvervulde verwagtinge. Diegene wat deur volgehoue geloof Jesus se deelgenote bly, sal met Hom vervolmaak word (hul doel bereik). Terselfdertyd het Christene self onmiddellike toegang tot God, want die kommunikasiekanaal is permanent geopen (vgl. 10:10-25). In gebed staan hulle direk voor die troon waar selfs hoëpriesters nie toegelaat is nie.

Vrymoedig en volmaak

In die Grieks-Romeinse wêreld is vrymoedigheid verbind met die reg van vrye burgers om hul saak te stel. Christene het nou hierdie burgerreg voor God. Boonop kan hulle op medelye staatmaak, want hul Voorspraak het eerstehandse kennis van menslike swakhede en versoekings.

Al was Jesus die Seun, het Hy Hom aan God onderwerp en gehoorsaam geword. So is Hy tot volmaaktheid gebring. As verteenwoordiger en pionier het Hy vir ons die weg gebaan.

Nou begelei Jesus ons om vas te staan in ons geloof en te leef uit ons vrye toegang tot God. Op hierdie manier lei Jesus ons om volmaak voor God te wees. Volmaak beteken nie “moreel perfek” nie, maar “volkome volgens die doel”. Jesus, reeds moreel perfek, moes gevorm word tot volkome doelmatige Hoëpriester.

So ‘n Hoëpriester bring mense ook tot volmaaktheid: laat hulle volkome aan God se doel vir mense beantwoord.

Betekenis van Goeie Vrydag

In ons sonde is ons gans verlore. Ons kan onsself nie help nie, want ons sien nie ons mikpunt nie. Ons ken nie die pad nie; ons beland in doodloopstrate.

God is gans anders, volmaak. Wie kan tussenganger tussen die volmaakte en die sondige wees? Volmaaktheid is op sigself ‘n oordeel oor sondigheid en die sondige kan die volmaakte nie bereik nie.

Hierop antwoord Hebreërs dat God in Jesus mens en, hoewel sonder sonde, menslik geword het. Hy het die mensepad deur versoekings, lyding en dood gestap en die einddoel bereik. Sy priesterlike offer aan die kruis het, deur sy liggaam heen, die pad na God permanent oopgemaak.

As pionier het Hy ons voor-beeld geword sodat die pad en die einddoel nou deels sigbaar is. Sy diens en diensbaarheid toon dat die pad gehoorsaamheid en geloof verg en versoen ons met tydelike swaarkry. In Hom is God by ons teenwoordig en word ons by God verteenwoordig.

Kom ons hou styf aan hierdie belydenis oor Jesus vas. Hy sit aan die regterhand van die Vader en Hy bid vir ons. Hy help ons om te leef in die versoening wat Hy vir ons met God bewerk het. Ons kan Hom loof en prys.

God stuur ons om te leef

Kruiswoorde

Voorganger (V): Jesus het gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”

(Stil nadenke)

V: Jesus het gesê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

(Stil nadenke)

V: Jesus het vir sy moeder gesê: “Daar is u Seun.” Daarna sê hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”

(Stil nadenke)

V: Jesus het hard uitgeroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” dit is: My God, my God waarom het U My verlaat?

(Stil nadenke)

V: Hierna het Jesus gesê: “Ek is dors.”

(Stil nadenke)

V: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

(Stil nadenke)

V: Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

(Stil nadenke)

Amen

Geen seën – verlaat kerkgebou in stilte, ter herinnering aan die onvoltooidheid van Goeie Vrydag terwyl ons wag op Paassondag.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.