Goeie Vrydag

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Psalm 22

Teks

Psalm 22 is die klassieke van alle lydenspsalms. Jesus haal die woorde van vers een aan terwyl Hy aan die kruis hang. Kenners is van mening dat Hy die res van die psalm ook kon aanhaal gedurende die donker tyd van Godverlatenheid.

Die eerste Christene het hierdie psalm meer as enige ander een gebruik om die betekenis van Jesus se passie te verduidelik. Psalm 22 wissel tussen wanhoop en hoop, eensame lyding en solidariteit met die geloof van Israel. Psalm 22 is ’n studie in teenstellings.

Hierdie psalm kan in twee gedeeltes gedeel word, naamlik ’n lament of klag (v 1-22a) en ’n loflied (v 22b-31). Elkeen van hierdie eenhede kan verder in twee gedeeltes verdeel word. Die klag is opgedeel in twee helftes (v 1-11 en v 12-22a), terwyl elkeen van die gedeeltes van die klag met ’n pleidooi tot God eindig om nie ver weg te wees nie (v 11 en v 19-22a).

Die loflied kan ook in twee verdeel word. In vers 22-26 roep die psalmdigter die gemeente op om saam met hom die Here te loof, want God het in antwoord op sy gebed nader aan hulle gekom. In vers 27-31 verbreed hy die oproep van die gemeente om die hele wêreld in hierdie lof en aanbidding in te sluit.

Die uitroep “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (v 1) resoneer met elkeen wat ly en worstel met die vraag: “Hoe kan God vir my omgee en nog steeds hierdie pyn toelaat?” Om die Here te ken, aan sy beloftes vas te hou en terselfdertyd lyding te ervaar, wek die ervaring van uiterste disoriëntasie by so iemand op. Mense wat hierdie disoriëntasie ervaar, kom gou tot die gevolgtrekking dat hulle volslae alleen is en dat God weg is. Ervaring van uiterste angs oor God se afwesigheid word regdeur hierdie psalm verwoord.

Wanneer God ver is, is gevaar en moeilikheid naby. Die psalmdigter beskryf die bron van gevaar en moeilikheid as ’n gemeenskap van geweldenaars wat wil toesien dat die digter deur woord en daad vernietig word (v 7-9,13-14,17,19). Die heilige afwesigheid word verdiep deur die wete dat dit nie altyd so was nie.

Die eerste vers maak hierdie punt duidelik. Die uitroep “My God, my God”, is ’n direkte aanspraak op ’n persoonlike verhouding wat nou aan skerwe lê. Die digter beskryf ook ’n verhouding met die gemeenskap van gelowiges, dié wat die Here loof vir sy krag om hulle te bevry (v 3-5). Tog, terwyl die psalmdigter met hierdie gemeenskap probeer assosieer, besef hy dat hy onder geen omstandighede nou in hulle midde kan wees nie. Daar is geen plek vir wurms in die gemeenskap van gelowiges nie (v 7).

Die digter is nie as ’n wurm gebore nie, maar as ’n geliefde kind van God. In vers 10 sien hy verbeeldingryk dat die Here die vroedvrou was wat hom uit sy moeder se baarmoeder verlos het, hom beskerm en van sy geboorte af voor omgegee het (v 11). Gegewe die vroeëre verhouding van beskerming en omgee, pleit die psalmdigter dat die Here nie nou ver van hom af moet wees nie.

Die digter het ’n behoefte daaraan dat die Here hom van sy vyande kom beskerm, uitgebeeld as bulle en leeus. Die vyande word vervolgens as honde beskryf. Uiteindelik word hulle ’n bende misdadigers genoem (v 17). Hierdie patroon kom later ook in die klag voor, in presies die teenoorgestelde volgorde. In die begin van vers 22 het die digter se menslike vyande swaarde. Vervolgens word hulle as wilde honde, daarna as ’n leeu en dan as bulle beskryf. Tussen die verwysings na die leeu en die bulle verander daar egter iets.

Die Hebreeuse teks bestaan uit ’n reeks imperatiewe werkwoorde in dié deel van die psalm: “moet tog nie so ver bly nie”, “help my”, “red my” (v 21-22). En dan, skielik in die middel van vers 22 is daar ’n perfektum-werkwoord: “U het my gebed verhoor.” Hou daarmee rekening dat die Hebreeuse grammatika van Afrikaans verskil. Dit beteken nie dat die psalmdigter gered is op die oomblik wat hierdie woorde geuiter word nie. Eerder wys die Hebreeus daarop dat die psalmdigter die daad van verhoorde gebede as ’n voltooide handeling sien wat in die verlede, hede en toekoms plaasvind. Die psalmdigter beskryf dit as volkomenheid, vol vertroue in die werklikheid van gebedsverhoring, selfs al het dit nog nie plaasgevind nie.

Dadelik ná die psalmdigter hierdie woorde van vertroue uiter, word die gemeenskap van gelowiges weer in die psalm betrek. Die klag van die vorige gedeelte van die psalm, ’n produk van isolasie en verlatenheid, word verander tot lof en aanbidding wat binne die gemeenskap van verlostes plaasvind.

Die gemeenskap van aanbidding word verder uitgebrei en is nie net beperk tot die afstammelinge van Jakob nie. Die gemeenskap van aanbidding word tot buite die grense van Israel uitgebrei. Universele bespotting word in eerbied verander. Die sirkel van aanbidding word groter, selfs oor die grense van tyd heen. Die wat alreeds dood is, loof die Here. Die wat nog nie gebore is nie, aanbid Hom ook met die woorde van vers 32: “Die Here het dit gedoen.”

Konteks

Psalm 22 is ’n gepaste Skrifgedeelte vir Goeie Vrydag. Die Evangelies verwys ten minste vyf keer in die kruisigingsverhaal daarna. Let daarop dat Psalm 22 nie belangrik is omdat dit in die Nuwe Testament voorkom nie. Dit is eerder die geval dat die Nuwe Testamentiese skrywers Psalm 22 gebruik as gevolg van die diepe lyding en geloof wat daarin verwoord word.

Die twee gedeeltes (v 1-22 en v 22-32) van Psalm 22 is so onderskeibaar in hulle toon en inhoud dat sommige kenners al voorgestel het dat die twee gedeeltes van hierdie psalm afsonderlik van mekaar gelees moet word. Om die psalm op hierdie manier te lees, sal egter die kern van die saak miskyk.

Feit is dat die psalm die ervaring van alle gelowiges reflekteer. Ons leef altyd in die spanning tussen neerlaag en oorwinning, tussen wanhoop en hoop, tussen die uitroep na God om hulp en lofprysing as Hy juis sy hulp kom verleen het, tussen angs oor God se afwesigheid en ekstase oor God wat so teenwoordig namens ons handel. Ons kan Psalm 22 slegs as ’n bloot kunsmatige samevoeging van twee afsonderlike psalms beskou indien ons self in die werklikheid van vers 1-22 vasgevang is, of as ons nog nooit self in die omstandighede was wat die psalm skets nie. Vir meeste gelowiges is dit egter hoe die lewe van elke dag lyk.

Die verband tussen Psalm 22 en die verhaal van Jesus se lyding en dood is ’n natuurlike verband as gevolg van die psalm se uitgebreide beskrywing van lyding. Die mees voor die handliggende verband is Jesus se uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Ps 22:1; Mark 15:34; Matt 27:46). Alhoewel die oorspronklike uiteensetting van Psalm 22 niks met die kruisverhaal te doen het nie, is om dit messiaans te lees ’n natuurlike resultaat van die psalm se uitdrukking van lyding en verreikende verklaring van hoop. Die psalm verruim die Ou Testamentiese verstaan van God, menswees en die dood (Davis).

Die radikale oorgang tussen vers 21 en 22 verwys na die goeie nuus wat tussen hierdie twee verse bekend geword het. Hoe kan uiterste hartseer en wanhoop in hoogste lof en aanbidding verander? Genade het ingegryp. Dié skielike verandering het in die lewe van Jesus aan die kruis plaasgevind. Een vers in Psalm 22, drie dae in Jesus se ervaring. Een vers. Drie dae. Genade het ingegryp. Jesus het opgestaan.

Dit is nie te sê dat Psalm 22 ’n voorspelling oor Jesus is nie. Ons moet eerder besef dat Jesus die rol van die een wat onregverdig gely het verteenwoordig. Hy het gely omdat Hy ten volle uitdrukking gegee het aan God se onvoorwaardelike liefde en deernis vir armes en geviktimiseerdes. Te midde van erge teenstand en pyn, het Hy sy lewe en toekoms aan God toevertrou. Vir Jesus, soos die psalmdigter, loop pyn en vreugde saam – soos vir Jesus se volgelinge. Die kruis en opstanding word die dieptepunt vir alle menslike seer, lyding, pyn en vreugde.

Preekvoorstel

Die ooreenkoms tussen hierdie psalm en die lewe en dood van Christus beeld uit hoe totaal en al Jesus in die lyding van ons menswees ingetree het. Hy het die hartseer en gebrokenheid van die mens op Homself neem.

Maar Jesus se lyding gaan nie net oor solidariteit en deernis nie. Jesus het nie net saam met ons en vir ons gely nie, maar ook vir ons gesterf. Sy lyding is ’n verlossende en bemiddelende lyding, lyding wat die begin en einde van alle sinlose en onnodige lyding beteken wat deur menslike sonde en boosheid veroorsaak is. Jesus se lyding bring ’n nuwe bedeling na vore. Dit word in vers 23-32 beskryf waar al die nasies die Here sal loof en aanbid, die armes sal eet en genoeg sal hê, die Here met geregtigheid sal regeer en daar geen lyding en hartseer meer sal wees nie.

Met die oog op Goeie Vrydag, kan ons besinning oor Psalm 22 ten minste vanuit twee hoeke benader word. Die eerste hoek is dat Psalm 22 ons daaraan herinner dat ons geloof nie in oorvereenvoudigde oorwinning gegrond is nie. Christus se oorwinning was moeilik, vol pyn, seer en lyding. Die psalm gee ons ’n blik op presies wat ons verlossing God gekos het. Jesus wat sy lewe vir ons neerlê, bewys die onvoorwaardelike liefde wat ons nie self kan begryp nie.

Die tweede perspektief op Psalm 22 is dat daar mense in ons gemeenskappe en samelewing is wat self hierdie gebed bid. Dit is hulle wat die slagoffers van vooroordeel en ongeregtigheid is, wat onder onregverdige wette, beleide en sosiale norme ly wat nie vir hulle ruimte laat nie en veroorsaak dat hulle deur die samelewing uitgeskuif word.

Goeie Vrydag is ’n dag om saam met Jesus te huil en klagtes te uiter oor die pyn en lyding van die wêreld en om na die Here om genesing uit te roep. Die uitroep van Psalm 22 herinner ons daaraan dat boosheid nog steeds in ons wêreld teenwoordig is en selfs in ons eie harte skuil. Daarom hef ons ons stemme op in klagtes, wagtend op die dag wanneer die Here uiteindelik ’n einde aan die pyn, lyding en boosheid van hierdie wêreld sal bring.

Die psalm verwys na die belangrikheid van gemeenskap, na ’n groep gelowiges wat méér as net ’n ondersteuningsgroep is, maar met deernis na mekaar omsien, veral in tye van lyding. Die psalm beskryf die gemeenskap van hierdie medegelowiges. Dit dink terug aan die gemeenskap van die verlede, verwys na die gemeenskap van die hede en sien uit na die voortgaande gemeenskap in die toekoms.

Ons besef ook dat die “hoekomvrae” aan die begin van die psalm nooit beantwoord word nie. Nooit lees ons van ’n stem wat uit die hemel ’n antwoord gee oor die pyn en lyding wat ervaar word nie. Vrae bly vrae. Maar in hierdie psalm gebeur daar teen die einde iets goeds. Die vrae bly weliswaar vrae, maar op ’n manier het die psalmdigter nie soseer meer antwoorde nodig nie. Hy kan ten spyte van die vrae aangaan. Iets het gebeur.

Daar is die verhaal uit die Tweede Wêreldoorlog van ’n groep Joodse rabbi-gevangenes in Auschwitz. Hulle besluit om God op verhoor te plaas oor die letterlike hel wat die Jode as die volk van God in die konsentrasiekampe moes deurgaan. Die storie lui dat die verhoor die hele nag aangehou het, terwyl die Jode dodelik ernstig was oor hulle klag teen God. Hulle het niks teruggehou van hulle gevoel en ervaring dat God hulle verlaat het nie. Toe die nuwe dag aanbreek, was hulle uiteindelik klaar met hulle verhoor van God, maar ook totaal uitgeput. Hulle het God skuldig bevind. En toe hulle klaar was, het daar stilte oor die groep gekom. Daarná gaan sit die rabbi’s saam met die res van die groep – en begin hulle met die oggendgebede …

Ons weet Jesus bid ook hierdie psalm aan die kruis. As Jesus self ervaar het dat Hy Godverlate was en ver van God, is dit nie so vreemd dat ons as gelowiges ook by tye so voel nie. Ons vrae en klagtes mag vrae en klagtes bly, maar op ’n manier ervaar ons dat, nádat ons tot die Here geroep het, ons weer kan aangaan …

Bibliografie

Benckhuysen A 2016. Preaching This Week, WorkingPreacher.org; Bratt D 2015. Calvin Theological Seminary, Calvinsemitary; Davis EF 1992. Exploding the Limits: Form and Function in Psalm 22JSOT 53; Gren CR 2005. Piercing the Ambiguities of Psalm 22:16 and the Messiah’s Mission. Journal of the Evangelical Theological Society; Limburg J 2014. Preaching this week. WorkingPreacher.org; Mast, S 2019. Calvin Seminary, Calvinseminary; Mays JL 1994. Psalms (Interpretation: A Bible Commentary for Teaching and Preaching); Louisville: Westminster John Knox Press.

© Missio 2024 | All rights reserved.