Goeie Vrydag – feesdiens

Picture of Woord en Fees

Goeie Vrydag – feesdiens

Liturgiese Voorstel 1

Inleiding

Goeie Vrydag fokus op die kruisdood van Jesus Christus en die versoenende betekenis daarvan. Die liturgiese voorstel neem as uitgangspunt die sogenaamde “Stasies van die kruis” wat veral in die Rooms-Katolieke tradisie gebruiklik is vir die erediens op Goeie Vrydag. Anders as in  hierdie tradisie waar die “stasies” gebaseer is op sowel Bybelse as buite-Bybelse gegewens, word hier slegs van Bybelse gegewens gebruik gemaak. Purperrooi kerse word op veertien verskillende plekke in die kerkgebou geplaas en word telkens ná die Skriflesing wat met elk van die stasies verband hou, deur ’n lidmaat aangesteek.

In ooreenstemming met algemeen ekumeniese gebruik word daar voorgestel dat die nagmaal nie op Goeie Vrydag gevier word nie, maar wel op die voorafgaande Donderdagaand en by die feesdiens op Paasoggend.

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 18:1-19:42
Ander tekste: Jesaja 52:13-53:12; Psalm 22; Hebreërs 10:16-25 (of 4:14-16; 5:7-9)

Diensorde

Aanvangslied
Lied 392 “O Lam van God, onskuldig”

Aanvangswoord
Voorganger: Kom laat ons saam tot Jesus nader,
Hy wat gehoorsaam was tot in die dood
Gemeente: Ja, die dood aan die kruis. Amen

Seëngroet

Sang
Lied 396:1-4 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”

Gebed

Skriflesing
Jesaja 52:13-53:12

Kort oordenking

Sang
Lied 390:1-3 “Ons kniel hier aan u voete neer”

Eerste stasie van die kruis: Jesus in Getsemane

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Lukas 22:39-46
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Tweede stasie van die kruis: Jesus word verraai

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Matteus 26:47-50
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Derde stasie van die kruis: Jesus word aangekla

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Matteus 14:55-64
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Vierde stasie van die kruis: Jesus word verloën

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Lukas 22:54-62
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Vyfde stasie van die kruis: Jesus voor Pilatus

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Lukas 23:20-25
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Sesde stasie van die kruis: Jesus word gemartel

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Johannes 19:1-3
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Sewende stasie van die kruis: Jesus dra sy kruis

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Johannes 19:14, 16-17
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Agste stasie van die kruis: Jesus word gehelp

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Markus 15:20-21
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Negende stasie van die kruis: Jesus ontmoet die vroue

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Lukas 23:33-38
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Tiende stasie van die kruis: Jesus word gekruisig

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Johannes 19:17-24
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Elfde stasie van die kruis: Jesus en die misdadiger

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Lukas 23:39-43
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Twaalfde stasie van die kruis: Jesus en Maria en Johannes

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Johannes 19:25-27
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Dertiende stasie van die kruis: Jesus sterf aan die kruis

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Johannes 19:28-34
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Veertiende stasie van die kruis: Jesus word begrawe

Voorganger: Jesus, ons Verlosser,
ons prys u Naam
en bring aan U die eer.
Gemeente: Help ons om U te volg
op die pad van liefde.
Amen.

Skriflesing
Johannes 19:38-42
Gemeente: Here Jesus,
gee ons die krag en die moed
om U te volg al die dae van ons lewe.
Amen.

Sang
Lied 177 “Jesus, gróót bo almal”

Skriflesing
Hebreërs 10:19-25

Uitsendingslied
Lied 387:1-4 “O Heer, uit bloed en wonde”

Seën
Voorganger: Dit is volbring.
Gemeente: Amen.

Gemeente verlaat die kerkgebou in stilte.

Liturgiese Voorstel 2

Inleiding 

Hierdie diens fokus veral op die Liturgie van die Woord en die Diens van Gebede.
Daar word ook voorsiening gemaak vir die plegtige kruisritueel soos in die Anglikaanse tradisie.
Hierdie diens veronderstel die groot Triduüm, waar die diens op heilige Donderdag, en die Goeie Vrydag diens en die opstandingdiens as ’t ware as ’n eenheid gesien word.
Daarom is daar nie ’n seëngroet aan die begin – en word die seën nie aan die einde uitgespreek nie.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Plaas ’n kruis in die middel van die liturgiese ruimte wat bedek is met swart lap.

Aanbidding en verootmoediging
Voorganger: O gekruisigde Christus, Seun van die Vader,
ontvang deur die Heilige Gees
en gebore uit die maagd Maria, ewige Woord van God.
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: O gekruisigde Christus, tempel van God,
woonplek van die allerhoogste,
poort tot die ewige lewe, ewigdurende vlam van Liefde.
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: O gekruisigde Christus, skuilplek vir die gebrokenes,
vol deernis, en bron van alle trou
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: O gekruisigde Christus, heerser oor almal,
aan U behoort al die wysheid en kennis,
in U woon die volheid God.
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: Jesus Christus, Lam van God.
Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Jesus Christus, Draer van ons sondelas.
Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Jesus Christus, Verlosser van die wêreld
Gemeente: Gee ons u vrede
Almagtige God,
hoor ons gebed en wees u kinders genadig – u familie
vir wie ons Here Jesus Christus gereed was om oorgelewer te word in die hande van sondaars en die dood aan die kruis te ly;
Hy wat leef en heers met U en die Heilige Gees,
een God – nou en vir ewig.

Diens van die Woord

Eerste Skriflesing
Jesaja 52:13-53:12;
Psalm  31:1-6;
Hebreërs 10:14-16

Sang
Lied 391:1-4

Skriflesing uit die Evangelies
Johannes 18-19

Stilte vir sewe minute

Diens van Gebede

Voorbidding
Geliefdes,
God het Jesus na die wêreld toe gestuur,
nie om die wêreld te veroordeel nie,
maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word
en dat almal wat in Hom glo, verlos sal word van die mag van sonde en die dood en erfgename van die ewige lewe kan word.
Kom ons bid vir die een heilige, algemene en apostoliese kerk van Christus wat oor die wêreld versprei is:
vir haar eenheid in diens en getuienis
vir al haar bedienaars van die Woord en sakramente
en vir die mense wat hulle bedien,
vir almal in die Ring van . . .
en vir alle Christene van ons gemeenskap,
vir almal wat hulle voorberei om gedoop te word en belydenis af te lê . . . (name)
Ons bid dat God die kerk sal bevestig in haar geloof
haar liefde sal laat groei
en haar in vrede sal bewaar.

Stilte

Ewige God,
U regeer deur u Woord en Gees u kerk.
Ons bid vir al ons lidmate sodat ons U in ons roeping
met toegewydheid mag dien,
deur ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
Ons bid vir die volke en die nasies van die wêreld,
vir ons president,
vir ons parlement,
ons wetgewers,
plaaslike regerings, en vir almal wat gesag uitoefen.
Mag hulle met God se hulp geregtigheid en waarheid nastreef
en mag ons almal in vrede saam leef.

Stilte

Almagtige God,
laat daar in elke hart liefde ontvlam,
en lei in u wysheid,
die wat besluite moet neem oor die volke en nasies van ons wêreld
sodat geregtigheid en vrede mag gedy,
en die hele aarde gevul word met die kennis van u liefde.
Ons bid vir almal wat ly
en swaar kry in liggaam en gees.
Vir hulle wat honger en sonder heenkome is,
vir hulle wat onderdruk word,
vir hulle wat met twyfel en wanhoop leef,
vir hulle wat geliefdes aan die dood afgestaan het,
vir hulle wat in die tronk is
en vir hulle wat in lewensgevaar verkeer.
Mag God verligting bring en hulle troos,
en gee aan ons die geduld en wysheid om hulle te bedien met u liefde.

Stilte

Genadige God,
vertroos almal wat bedroef is,
versterk almal swaarkry,
hoor die noodkreet van almal in wat in ellende verkeer.
Betoon aan hulle u genade,
en gee aan ons die krag om hulle te dien
ter wille van die Een wat vir ons gely het,
Jesus Christus Ons Here.
Laat ons vir hulle bid wat nog nie die evangelie van Christus ontvang het nie,
vir hulle wat nog nie die woord van verlossing ontvang het nie,
vir hulle wat hulle geloof verloor het,
vir hulle wat afvallig van Christus geword het,
vir hulle wat hulle aktief teen Christus opstel in woord en daad,
vir al die vyande van die kruis van Christus,
en vir die wat sy dissipels vervolg,
ook vir almal wat in die naam van Christus, ander vervolg.
Mag God hulle harte vir die waarheid oopmaak,
en hulle lei na geloof en gehoorsaamheid.

Stilte

Genadige God,
Skepper van die volke van die aarde en die Een wat mense oneindig lief het,
betoon u genade teenoor almal wat U nie ken soos wat U Uself in u Seun, Jesus Christus bekend gemaak het nie.
Laat u evangelie met genade en waarheid verkondig word aan hulle wat dit nog nie gehoor het nie.
Bekeer dié se harte wat dié boodskap weerstaan,
en lei die wat afgedwaal het terug na U,
sodat daar een kudde onder die versorging van een Herder mag wees – Jesus Christus ons Here.
Laat ons ons wy aan God
en vir die genade om ‘n heilige lewe te leef,
sodat ons saam met almal wat hierdie lewe verlaat het, en in die vrede van Christus gesterf het,
en saam met hulle wie se geloof net aan God bekend is,
die volheid van die vreugde van die teenwoordigheid van die Here mag betree en die kroon van die ewige lewe mag ontvang.

Stilte

Ewige God van onveranderlike lig,
sien u hele kerk met deernis aan,
en volbring u verlossingswerk
sodat die hele wêreld mag sien hoe
die gebrokenes genees word,
die oue nuut word
en alle dinge vervolmaak word
deur die Een deur Wie alle dinge tot stand gekom het,
ons Here Jesus Christus,
wat leef en heers saam met U, in die eenheid van die Heilige Gees,
een God, vir ewig en ewig,

Sang
Lied 266

Aanklagte van die kruis
Die kruis word oopgemaak:
Voorganger: Here, U het die wêreld deur die kruis verlos.
Gemeente: Ons aanbid U Christus, en ons dank U.

Voorganger: My mense, wat het ek aan julle gedoen? Hoe het Ek julle aanstoot gegee? Antwoord  My?
Ek het julle uit Egipte gelei, uit slawerny tot vryheid, maar julle het julle Verlosser na die kruis gelei.
My mense, wat het Ek aan julle gedoen? Hoe het Ek julle aanstoot gegee? Antwoord My?
Gemeente: Heilige God, heilig en sterk, heilig en ewig.
Wees ons genadig.

Voorganger: Veertig jaar lank het Ek julle veilig deur die woestyn gelei. Ek het julle met manna uit die hemel gevoed en julle na ’n land van oorvloed gebring: maar julle het julle Verlosser na die kruis gelei.
Gemeente: Heilige God, Heilig en Sterk, Heilig en Ewig.
Wees ons genadig.

Voorganger: Wat kon Ek nog meer vir julle gedoen het? Ek het julle as My mooiste wingerd geplant, maar julle het net bitter vrugte gedra. Toe Ek dors was, het julle My asyn gegee om te drink, en julle het die sy van julle Verlosser met ’n spies deurboor.

Voorganger: Ek het die see voor julle gekloof, maar julle het My sy met ’n spies oopgesteek.

Ek het voor julle in ’n wolkkolom uitgegaan, maar julle het My na Pilatus se hof gelei.

Ek het julle met manna in die woestyn gevoed, maar julle het My neergewerp en gegesel.

Ek het julle lewende water uit die rots gegee, maar julle het My gal en asyn gegee om te drink.

Ek het julle ’n koninklike septer gegee, maar julle het My ’n doringkroon gegee.

Ek het julle tot koninklike waardigheid verhef, maar julle het My aan ’n kruis verhef.

Gemeente: Ons loof en aanbid U, o Christus.
Deur u kruis en kosbare bloed het U ons verlos.
Waardig is die Lam, die Lam wat geslag is, om al die krag, rykdom, wysheid en mag, lof, eer en heerlikheid te ontvang!
Ons prys en aanbid U, o Christus. Deur u kruis en kosbare bloed het U ons verlos.

Voorganger: U is waardig, o Christus, want U is geslag en deur u bloed het U mense uit elke stam, taal, volk en ras vir God gekoop; U het hulle ’n koninklike huis gemaak, om ons God as priesters te dien; en hulle sal op aarde regeer.
Gemeente: Ons prys en aanbid U, o Christus.  Deur u kruis en kosbare bloed het U ons verlos.

Aan Hom wat ons lief het en ons van ons sondes verlos het deur sy bloed en ons tot ’n koninkryk van priesters gemaak het vir sy God en Vader:
Gemeente: Aan Hom kom toe die eer en die heerskappy tot in alle ewigheid.
Amen.

Sang
Lied 379 x 2

Uitsending

Almagtige en ewige God,
U het ons deur die triomfantlike dood en opstanding van Christus tot die lewe herstel:
Gaan voort met hierdie genesende werk in ons en gee dat ons wat die misterie van Christus se dood herdenk, nie in ons toewyding sal verslap nie.
Stort u oorvloedige seën oor ons uit,
ons wat vanoggend die dood van u Seun herdenk het,
in die vaste hoop op die opstanding,
skenk aan ons vergifnis, bring vir ons troos:
en mag ons geloof versterk word
en ons van die ewige lewe verseker wees.
Amen.

Die gemeente verlaat die kerkgebou in stilte.

Preekstudie: Johannes 18:1-9:42

Teks

Brown deel die Johannesevangelie op in vier hoofdele:

  • Die proloog (1:1-18);
  • Die boek van tekens (1:19-12:50);
  • Die boek van heerlikheid (13:1-20:31);
  • Die epiloog (21:1-25).

Die teks vir Goeie Vrydag val dus binne die derde hoofdeel; die boek van heerlikheid.

’n Meer gedetailleerde verdeling van ons teks is soos volg:

  • Hoofstuk 18:1-12: Die tuinepisode ;
  • Hoofstuk 18:12-27: Jesus voor Annas en Petrus se verloëning van Jesus;
  • Hoofstuk 18:28-19:16: Jesus voor Pilatus;
  • Hoofstuk 19:17-42: Die kruisiging, dood en begrafnis van Jesus.

1. Die tuinepisode toon ooreenkomste met die tuin of paradys waar Adam en Eva gesondig het (Ray). Romeine 5:19 maak melding van die eerste en die tweede Adam. Opvallend is die oorweldigende mag van manne wat opruk om een ongewapende persoon gevange te neem. Dit was ongeveer 600 Romeinse soldate, plus nog manne van die tempelwag. Volgens Ray verteenwoordig dit kerk en staat. Jesus spreek Judas aan as vriend ten spyte van sy verraad.

Barclay maak die volgende opmerkings oor die tuinepisode: Jesus het moed getoon deur nie weg te kruip of te probeer vlug nie. Die lanterns en fakkels te midde van die volmaan is ʼn aanduiding van die verwagting dat Jesus sal probeer wegkruip. Jesus se gesag word beklemtoon deur die soldate wat terugdeins en val ten aanhore van die woorde: “Dit is Ek.” Dit word drie keer herhaal tydens dié episode (18:5, 6 en 8). “The Johannine scene illustrates that Jesus has God’s power over the forces of darkness because he has the divine name” (Ray). Volgens Bruner is Jesus se eie stem en woorde die wapen waarmee die gewapende soldate neergevel word. Die episode wys Jesus het vrywillig gekies om Homself as gevangene oor te gee. Die gedeelte beklemtoon Jesus se beskermende liefde as Hy versoek dat diegene rondom Hom toegelaat moet word om te gaan. Laastens toon die gedeelte Jesus se onvoorwaardelike verbintenis en gehoorsaamheid aan sy hemelse Vader.

2. Die verhoor voor Annas was ’n soort voor-verhoor. Jesus sou hierna na Kajafas, Annas se skoonseun, gestuur word. Die verskyning voor Kajafas word nie deur Johannes opgeteken nie. Hierdie voor-verhoor was egter ’n bespotting van die Joodse reg. Volgens die Joodse reg mag ’n beskuldigde nie geïnkrimineer word nie. Om Jesus dus vrae te vra en te dwing om ’n skulderkenning te doen, was verdag en onwettig. Annas se poging om Jesus onwettig uit die weg te ruim het misluk. “He cannot do it by fair means, so he is compelled to do it by foul means” (Barclay).

3. Petrus se verloëning van Jesus het gelowiges deur die eeue aangegryp. Ons moet egter in gedagte hou dat al die ander dissipels Jesus na sy inhegtenisneming verlaat het, terwyl Petrus moedig genoeg was om Hom steeds te volg tydens sy verhoor. Die ander dissipel wie se naam nie genoem word nie, word algemeen aanvaar as Johannes. Jesus se ondervraging deur Annas word soos met ’n toebroodjie geplaas tussen die twee gedeeltes wat verwys na Petrus se verloëning van Jesus. Beide Bruner en Hooker vind Johannes se rangskikking van sy materiaal hier insiggewend. Terwyl Jesus Hom voor Annas beroep op getuies wat gehoor het wat Hy geleer het, is Petrus besig om Hom te verloën.

4. Die Sanhedrin kon nie genoegsame getuienis teen Jesus inwin nie en vind Hom uiteindelik skuldig aan godslastering, weens die bewering dat Hy koning van die Jode is. Die Jode beskuldig Jesus van verraad teen die regering omdat Hy Homself koning van die Jode noem. Hulle lê dus ’n politieke klag teen Jesus om die weg vir ’n doodsvonnis te baan. Om ter dood veroordeel te word moes Jesus aan Pilatus oorgelewer word. Slegs die Romeinse regering het oor die mag van die swaard beskik. As die Jode oor die mag beskik het om Jesus ter dood te veroordeel sou hulle Hom waarskynlik gestenig het.

5. Die rol van Pilatus was moeilik en uitdagend. Die gesprek tussen Pilatus en Jesus is die mees dramatiese deel van Jesus se verhoor. Pilatus was in ’n politieke dilemma. Hierdie verhoor het sy diplomatieke vernuf tot die uiterste toe beproef. Hy was oortuig Jesus was onskuldig, maar sonder ’n doodsvonnis het hy die gevaar geloop om sy werk te verloor. “Pilate crucified Jesus in order to keep his job” (Barclay). Alle pogings om Jesus van die kruisdood te “red” was tevergeefs. Die marteling kon nie genoeg bejammering by die Jode wek nie. Die keuse tussen Barabbas en Jesus het vir die Jode vanselfsprekend gelyk: Jesus moet gekruisig word.

Die twee kernvrae in die eerste Pilatusgesprek is Pilatus se vrae of Jesus die koning van die Jode is (18:33) en wat die waarheid is (18:38). Pilatus kon nie anders as om in aardse terme te dink oor Jesus se koningskap nie. Jesus maak dit egter duidelik dat sy koningskap nie van hierdie wêreld is nie. Die vraag oor Jesus se koningskap lei tot die Jode se verstommende stelling dat hulle die keiser as koning het. Dit is in teenstelling met hulle belydenis dat die Here God alleen hulle Koning en Here is (1 Sam.12:12; Rig 8:23). Die Joodse leiers verwerp uiteraard Jesus se aanspraak op koningskap. Die soldate maak later ’n bespotting daarvan deur Hom te kroon met ’n doringkroon. In drie tale word Jesus se Joodse koningskap boaan die kruis aangebring en ’n purperkleed om Hom gehang. Pilatus besef nie dat Jesus self die waarheid is nie (Joh 14:6). “From this moment on, the subject is no longer whether Jesus is innocent or guilty . . . The subject of the trial is now whether or not Pilate will respond to the truth” (Brown). Hy mis dus ook die kans om vir die waarheid te kies en vereenselwig hom deur sy keuse met die massas.

6. Jesus Christus is die hoofkarakter in hierdie lydensdrama. Hy oorheers die toneel en word deur Johannes uitgebeeld as die Een wat deurgaans in beheer is van die verloop van sake. “The majesty of Jesus never shone more radiantly than in the hour when He was on trial before men” (Barclay). Brown beklemtoon ook die koningskap van Jesus en bring dit in verband met die lydende kneg. Ray wys in dié verband na die paradoksale aard van die Johannespassie. Dit wat op die oog af lyk na vernedering en verlies is, met die geloofsoog gesien, ’n heerlike oorwinning. “This opening scene immediately introduces the reader to the tone of paradox that runs throughout John’s passion story. On one level of the story we have the ominous rituals of violence and apparent defeat: betrayal by a friend, the threatening presence of armed soldiers, a night time arrest of an innocent man, summary interrogation, trial and torture; finally, a public execution and a hasty burial. The genius of John’s assion narrative is that these gruesome realities of seeming defeat and death do not dominate the story . . . He is not a victim from whom life is violently taken, but one who gives his life freely as an act of love for the world.” Op dieselfde manier wys Bruner hoe Jesus in beheer is van sy verhoor: “We can look back over the whole Gospel and see that Jesus’ death was not an awful accident or even (only) the fruit of the world’s foul play but that the Evangelist saw Jesus’ death as the most sovereign and mysterious decision of Jesus’ whole life.” Johannes wys vooruitskouend op Jesus se dood en oorwinning (Joh.1:5, 14, 29, 36; 2:4c; 10:11-18; 14:30).

Al die geraadpleegde bronne is dit eens dat Jesus in totale beheer is van sy eindbestemming en dat die lyding en kruisdood van Jesus deur Johannes in ’n positiewe en triomfantelike lig beskou word. Hooker suggereer selfs dat ons in die geval van Johannes eerder moet praat van ’n “glory” narratief eerder as ’n “passion” narratief.

7. Dan is daar ten slotte die rol van die soldate en die vroue. Die vier soldate se verdeling van sy klere word deur Johannes as vervulling van Psalm 22:19 beskou. Ons vind in hierdie psalm verskeie Messiaanse betekenisse. Ironies genoeg staan daar ook vier vroue – saam met Johannes – by die kruis: Maria, Jesus se ma, haar suster (waarskynlik Salomé – Mark 15:40), Maria, die vrou van Kleopas (waarskynlik dieselfde persoon as Kleopas waarvan ons in Luk 24 lees), en Maria Magdalena (van Magdala), dié een wat die voorreg sou hê om die eerste die leë graf te beleef (Joh 20).

8. Die kruisiging van Jesus en sy begrafnis sluit ons teks af. Ons kan hier wys op die unieke beklemtonings by Johannes. Die kruistoneel toon duidelike verskille met die ander evangeliste. Daar is geen aanduiding van godverlatenheid by Johannes nie. “Whereas Mark tells the story of Jesus’ suffering on the cross, feeling utterly cut off from God, John tells the story of Jesus triumphant on the cross, at one with God” (Hooker). Boaan die kruis word geskryf dat die hele wêreld (in drie tale) dit kon lees. Slegs Johannes lê die klem op die drie tale waarin die woorde geskryf is. Die ander gaan oor Jesus se gesprek met die geliefde dissipel en sy ma. Die laaste kruiswoorde bring die uniekheid van Johannes se aksent ook na vore. “Ek het dors” en “Dit is volbring”, is onskeibaar. Uiteraard gaan dit ook hier oor die geweldige fisieke dors wat ’n gekruisigde persoon voor sy dood ontwikkel het. Geleerdes is dit egter eens dat dit om meer as fisieke dors gaan. Vroeër in die lydensverhaal sê Jesus dat Hy die beker sal drink wat God aan Hom sal gee (18:11). Jesus se honger en dors funksioneer elders in die evangelie as aanduiding van sy verbintenis om God se wil te doen (4:32-34). Ook hier dors Hy daarna om God se wil te doen (Brown). Sy woorde, “Dit is volbring”, beteken Hy het gedoen wat God van Hom gevra het. “The paradox of the cross is that God is found, and revealed, in the midst of suffering and pain” (Hooker).

Konteks

Die unieke aard van die Johannespassie moet aandag geniet in die prediking. Die beklemtoning van Jesus se dood as ’n triomfantelike gebeurtenis en Jesus se posisie van totale en doelgerigte beheer, is elemente waarmee rekening gehou moet word.

Die preekteks is gekies vir Goeie Vrydag. Wat moet op Goeie Vrydag beklemtoon word? Die tradisionele weg sou wees om op Goeie Vrydag die fokus te laat val op die lyding van Jesus en op Paassondag op Jesus se verheerliking. Johannes kombineer die twee in sy weergawe van die passie van Jesus. Dus sluit die een aspek nie die ander uit nie. Soos bo onder “Teks” aangetoon is, vind Jesus se verheerliking juis ook deur sy verhoging aan die kruis plaas. Johannes beskryf die kruisdood in die lig van Jesus se verheerlikende opstanding drie dae daarna. Die beklemtoning van die lyding by die ander evangeliste moet ons herinner aan die offer wat Jesus moes bring en die prys wat Hy betaal het met sy lyding en dood. Johannes wil ons herinner aan die heerlikheid van die oorwinning aan die kruis.

Johannes beklemtoon verder dat Jesus deurgaans in beheer is van die hele situasie rondom sy verhoor en uiteindelike veroordeling tot die kruisdood. Dit is ’n bron van troos en hoop om te weet die oënskynlike beheer en oorwinning van bose magte spreek nie die laaste woord nie. Gelowig beskou is die Here God steeds in beheer en gebruik Hy selfs die bose magte om sy doel te bereik. Die paradoks van die kruis is dat God juis geken en geopenbaar word te midde van pyn en lyding. Op Goeie Vrydag moet die kerk en elke gelowige opnuut hoor die oorwinning is reeds behaal en verseker, te midde van die lyding en magte van die dood rondom ons. Waar die nagmaal gevier word kan hierdie aspek van oorwinning en gepaardgaande vreugde beklemtoon word. Die ouer formaat van die nagmaalformulier wys daarop dat die nagmaal ook ’n vreugdefees is, al dui die tekens op die lyding en sterwe van Jesus Christus. Daar word ook heel gepas na hierdie diens verwys as Goeie Vrydag Feesdiens. In die prediking en liturgie moet hierdie feestelike karakter gereflekteer word.

Preekvoorstel

Enkele preke oor die volledige voorgeskrewe teks vir kennisname:
1. In Preaching the New Lectionary word die volledige teks vir Goeie Vrydag hanteer. Op Goeie Vrydag ontdek ons “Jesus is our Passover”. Hy is met ander woorde die Lam vir ons geslag. Dit word verder uitgebrei onder vier subtemas: (1) As die Profetiese Lydenskneg het Jesus Homself vrywillig geoffer ter wille van ander, selfs diegene wat Hom gemartel en gekruisig het; (2) As Groot Hoëpriester is Jesus nie slegs die onskuldige slagoffer nie, maar het Homself as offerlam aan die kruis geoffer; (3) As triomfantelike Koning is Jesus aan die kruis verhoog. Hy was nie ’n oorwonne koning nie, maar die oorwinnende Koning; (4) Die laaste subtema bring al drie voorafgaande temas in die krag van die kruis byeen, wanneer dit duidelik word dat die een tema nie sonder die ander oordink kan word nie. Aan die kruis word Jesus triomfantelik verhoog.

2. In 2006 het Johannes 18 en 19 ook op Goeie Vrydag aan die orde gekom as Leesroosterteks. Die preek fokus op die offer van Jesus as volkome offer waarvoor niemand neutraal kan staan nie, maar met ’n geloofskeuse gekonfronteer word. Pilatus en die Joodse leiers kon die waarheid, Jesus, nie vernietig nie. Hulle kon nie verhoed dat die kruis die troon van die Koning word nie.

3. In 2013 het die volledige teks weer in die Leesrooster aan die orde gekom. Daarin word gewys op Jesus as hoofkarakter in die teks. Hy het gefokus op sy roeping en was daarom ook in totale beheer van die situasie. Vervolgens word gewys op die voorbeeld wat Jesus en die ander karakters vir ons stel. Iets wat ek baie sinvol vind is die voorstel dat die volledige teks in beurte voorgelees word, met ’n verkorte preek daarby.

Daar is twee moontlikhede wat gevolg kan word om die volledige teks aan die orde te stel:
Die een moontlikheid is om die hoofaksente van Johannes 18 en 19 in een preek te probeer saamvat. Indien dié weg gevolg word, kan aandag gegee word aan die paradokse in die teks, die manier waarop Jesus in beheer was van die situasie, sy koningskap, die heerlik-heid van die kruis en die rolle van die verskillende karakters waarvan Jesus die Hoofrolspeler is.

Ek stel ’n tweede moontlikheid voor. Lees die hele teks in episodes wat afgewissel word met gepaste liedere. Die indeling van die leesgedeeltes behoort nie moeilik te wees nie. Die indeling soos dit in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel voorkom kan gevolg word. Die liedere kan aangewend word om die vreugde van Jesus se koningskap en heerlikheid te verklank. Aan die einde van die Skriflesing kan, indien verkies, ’n kort boodskap gegee word. Ek stel die volgende kort boodskap voor:

Tema: Die paradoks van die kruis.
Johannes se weergawe van Jesus se lyding en sterwe word in ’n positiewe en triomfantelike lig beskryf. Hy wil dat sy lesers hierdie paradoks raaksien en dit glo.

1. Die paradoks van die kruis openbaar God se liefde aan ons.
God openbaar Homself en ons ervaar sy liefde vir ons juis in die kruisdood van Jesus Christus. Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu vertel in sy boek, Hope and Suffering van ’n geleentheid in Engeland toe hy en ander na ’n partytjie uitgenooi is. Om een of ander rede moes hulle self vir hulle tee betaal. Hy bied toe aan om vir iemand wat hy nie ken nie se tee te betaal. Groot was sy verbasing toe die persoon reageer en sê: “No, I won’t be subsidized.” Tutu noem dat mense in die versoeking is om hierdie gesindheid  as ’t ware ook in te dra in hulle verhouding met God. Hulle wil nie deur die Heiland gehelp word nie. Hulle wil hulle eie heil uitwerk. Hy sê verder die druk op mense en veral kinders in ons samelewing om te presteer, sukses te behaal en raakgesien te word, hierdie gesindheid verder aanvuur. “What a tremendous relief it should be, and has been to many, to discover that we don’t need to prove ourselves to God. We don’t have to do anything at all, to be acceptable to Him. That is what Jesus came to say, ‘Hey, you don’t have to earn God’s love.’ It is not a matter for human achievement. You exist because God loves you already. You are a child of divine love.” (Tutu, 137-138). Ons hoef nie onsself eers voor God te bewys om sy liefde te verdien nie. Jesus het dit gedoen.

2. Die paradoks van die kruis openbaar die heerskappy van God.
Johannes se weergawe van Jesus se lydensweg word op so ’n wyse aangebied dat Jesus voorgehou word as die Een wat heeltyd van begin tot einde in beheer is. Tydens sy arrestasie word Hy eers gevange geneem nadat Hy sy koningsmag geopenbaar het deur die drie “dit is Ek”-uitsprake. Vergelyk punt 1 van “Teks” hierbo. Hy staan met gesag voor die hoëpriester Annas en verklaar dat Hy sonder rede gearresteer is. Voor Pilatus verklaar Hy dat sy koningskap nie van hierdie wêreld is nie, terwyl die gesag wat Pilatus nou oor Jesus het van Bo aan hom gegee is. Eers wanneer alles volgens die Vader se wil voltooi is, roep Jesus uit: “Dit is volbring.” Verder kan punt 5 se gegewens ook hier gebruik word.

3. Die paradoks van die kruis vra geloof.
Johannes skryf die evangelie met die doel dat mense sal glo. Pilatus kon nie die waarheid voor hom herken nie. Die skare verwerp sy koningskap. Die soldate bespot Hom. Hulle tree so op omdat hulle nie geloof in Jesus het nie. Dit is slegs deur geloof dat ons aan die kruis die oorwinnende Koning raaksien. Dit is slegs deur geloof dat ons deur lyding, vervolging en die doodse magte, God se heerskappy raaksien.

4. Die paradoks van die kruis gee ons hoop en vervul ons met vreugde.
Om te glo dat Jesus Christus ook vandag regeer te midde van onrus, onheil, die bose magte en die dood gee ons hoop en vervul ons harte met vreugde. Die magte en heersers van hierdie wêreld is maar net oënskynlik aan bewind. Die kruisdood van Jesus Christus trek ’n kruis deur alle valse aansprake op oorwinning en kanselleer enige bose planne om God se verhewe doel te verydel. Vandag op Goeie Vrydag kan ons uitbundig uitroep, in teenstelling met die skare van destyds, kroon Hom! kroon Hom!, want Hy is verheerlik aan die kruis. Dit is die paradoks van die kruis.

Bibliografie

Barclay, W 1972. The Gospel of John vol. 2 The Daily Study Bible; Brown, R E 1970. The Gospel according to John; Bruner, F D 2012. The Gospel of John. A Commentary; Bergant, D 1999. Preaching the New Lectionary; Hooker, M D 1994. Not Ashamed of the Gospel; Ray, S K 2002. St. John’s Gospel; Tutu, D 1983. Hope and Suffering.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.