Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Die sleutelteks vir Goeie Vrydag (Jes 52:13-53:12) is ’n poëtiese lied wat ruim gebruik maak van metaforiese taal. Die gebruik van simbole soos die Christuskers met doringdraad, grys/swart kleur en die kruis pas in by hierdie genre. Die leë kruis (wat bevestig dat Jesus opgestaan het en lewe) is in ons tradisie gevestig. Goeie Vrydag bied geleentheid om Christus ook aan die kruis te aanskou . . . en kunswerke bied baie moontlikhede. Tydens die NG Kerk se Algemene Sinode 2013 is van plakkate gebruik gemaak waarvan een Martin Wessels se “Lydende Christus” is.

Ander tekste

Psalm 22
U het my gebed verhoor
22 Vir die koorleier: op die wysie van
“Die wildsbok van die daeraad”.
’n Psalm van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basan
staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Hebreërs 10:16-25
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.

15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Johannes 18:1-19:42
Annas en Kajafas verhoor Jesus

(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”
22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”
23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Petrus verloën Jesus weer
(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”

Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”
26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”

Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.

“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.

En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”

Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”
16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.” q
Dit is wat die soldate gedoen het.
25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Luk 23:44–49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” r

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” s37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” t

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Luk 23:50–56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Fokusteks

Jesaja 52:13 – 53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom, deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord 

Seëngroet: (Openbaring 1:4-6)

Lied 377 “O Lam van God onskuldig vs 1,2,3″

Epiklese

Skriflesing: Jesaja 52:13 – 53:12

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 385 “Loof die Here, dis volbring 1,2”

Seën

Antwoord: Geen

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die volgende suggesties (Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13) kan sinvol in die diens gebruik word.

  • Die diens begin in stilte, met so min beweging in die liturgiese ruimte as moontlik.
  • Gepaste simbole kan as fokus vir die diens in die liturgiese ruimte geplaas word – ’n kruis, ’n plek waar gemeentelede kerse kan opsteek.
  • Sagte orrelmusiek vir tien minute voor die diens help die gemeente om stil te word.
    Uit Woord en Fees 2015… Die gebruik van simbole soos die Christuskers met doringdraad, grys/swart kleur en die kruis pas in by hierdie genre. Die leë kruis (wat bevestig dat Jesus opgestaan het en lewe) is in ons tradisie gevestig. Goeie Vrydag bied geleentheid om Christus ook aan die kruis te aanskou . . . en kunswerke bied baie moontlikhede.

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord 
Voorganger: Here ontferm U oor ons.
Gemeente: Christus ontferm U.

Voorganger: Here ontferm U oor ons
Gemeente: en gee ons u vrede,
(Lied 248 “Kyrie Eleison”).
“Kyrie Eleison” kan ook as aanvangslied gesing word.
(Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Seëngroet 
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
(Openbaring 1:4-6)

Lied 377 “O Lam van God onskuldig vs 1,2,3”

Liedere

F12. “Meer As Ooit”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Above all
Teks en Musiek: Lenny LeBlanc & Paul Baloche
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1999 Integrity’s Hosanna Music / LenSongs Publishing
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Meer as rykdom, meer as mag,
as die skoonheid van sterre in die nag,
meer as wat ons ooit op aarde wen,
is dit werd, o Heer, om U te ken.

Meer as silwer, meer as geld,
al die blomme, die diere in die veld,
meer as dit, so eindeloos veel meer,
was die prys wat U betaal het, Heer.

Refrein:
Aan ‘n kruis en in ‘n graf van steen,
U leef en sterf, verworpe en alleen.
Immanuel, U die God met ons
U dra die straf en dink aan ons –
meer as ooit.

F60. “U Liefdeslied Vir My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee

U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.

Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here Jesus, vandag word ons weer in verbystering stil voor u liefde: dat U gekom het na die wêreld toe om te sterf.
Ons is verbyster daaroor, Here, want dis nie soos ons is nie.
Dankie dat U nie soos ons is nie, Here.
Dankie dat U Uself gegee het tot in die dood.
Dankie dat U ons Verlosser geword het.

Ons aanbid U, Here Jesus, Koning van die kerk en van ons lewe.
Wil U tog op hierdie dag opnuut Uself aan ons verbind;
wil U ons asseblief deur u Heilige Gees verander dat ons soos U kan word,
U kan navolg, onsself kan aflê.
Word U tog meer in ons, Here Jesus, sodat dit nie meer ons sal wees wat lewe nie, maar U in ons!

Seun van God wat gekom het om u lewe vir ons af te lê, hoor ons gebed!
Skenk ons die visie, o Vader, om soos U na die wêreld te kyk.
Om nie die wêreld te sien as ’n probleem nie,
maar as mense wat u liefde en u genade nodig het,
as mense wat iewers langs die pad die spoor byster geraak het,
sodat  U in Christus Jesus hulle weer kom soek het.

Vergewe ons dat ons net dié liefhet wat vir ons liefhet,
dat ons net vir hulle bid wat naby ons staan,
dat ons tevrede is om met ons eie klein kringetjie gelowiges voort te gaan.

O Vader wat nie behae het in die dood van die sondaar nie,
maar daarin dat hy hom bekeer en kan lewe, hoor ons gebed!

En nou, o Gees van God, bid ons dat U in ons sal werk,
sodat Christus in ons lewe verheerlik sal word.
Bly met ons besig, o Gees, totdat die dag kom waarop elke knie voor Christus sal buig en elke tong sal bely: Jesus is Here!
Dit alles vra ons met die gebed dat U verheerlik sal word in ons.
Amen.
(Communitas, 29 Maart 2002)

Skriflesing: Jesaja 52:13 – 53:12

Prediking

Familie-oomblik

Preekriglyn

Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerends in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Lydingsverhale inspireer

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Ghandi, moeder Theresa, Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.

En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunisië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.

En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

Hand van die Here

Tog is die wonder van hierdie dienaar se lyding juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees. Hulle sien nie die hand van die Here daarin raak nie.  Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.

Ons teks sê in 52:13-14:
My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.

Terloops, 52:13 se “voorspoedig wees” kan ook vertaal word met  “wys wees” wat beter in die konteks inpas.
Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes.  Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe. Soos 52:15 – 53:1 sê:
Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
Lied 387 “O Heer uit bloed en wonde 1,2,3,4”

Lewe spruit voort uit dood

Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy enersyds die hoogste prys betaal – “afgesny uit die land van die lewendes … graf gekry by goddeloses … by sondaars in sy dood” – (53:8-10a):
Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.

EN andersyds daarna nog lank sal lewe (53:10b-11):
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die opstanding uit die dood van hierdie dienaar van die Here.  En God aanvaar sy skuldoffer (53:10) as ‘n losprys vir baie.

Gedig: (Gebruik ‘n lidmaat uit die gemeente)
Goeie Vrydag
Vandag is daar geen klokke nie
lui geen angelus:
die wêreld hou sy asem in
by die kruisiging van Jesus –
nee, anders is die waarheid
in ritme en in rym:
die wêreld drink sy wyn in die son
en niemand dink aan Hom –
O onpeilbare vademlose
diep geheimenis:
dat krummels en ’n kring op ’n tafel
daardie agonie werd is.
(uit Sheila Cussons, Versamelde Gedigte. 2006. Kaapstad: Tafelberg.)
Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Ly in vertroue

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (53:7):
Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
TERWYL hy vir oortreders bid (53:12):
2Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.
Daarom ontvang hy ‘n ereplek onder die grotes.
Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jes 30 waar stil-wees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is.  Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (53:12).  Want die geduld in lyding dra groot vrug.

Ruim geleentheid vir stilte/ stilgebed
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het:

Jesaja 53:1
Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
Johannes 12:38
So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word: “Here, wie het geglo wat ons gehoor het? En aan wie is die mag van die Here geopenbaar?”

Jesaja 53:4

Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.
Matteus 8:17
So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”
Jesaja 53:7-8
Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly, hy het nie gekla nie. Soos ’n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ’n skaap wat stil is as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie. Terwyl hy gely het en gestraf is, is hy weggeneem, en wie van sy mense het dit ter harte geneem dat hy afgesny is uit die land van die lewendes? Hy is gestraf oor die sonde van my volk.
Handelinge 8:32-33

Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit: “Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos ‘n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie.

In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie. Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig.”

Jesaja 53:9
Hy het ’n graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars in sy dood al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie.
1 Petrus 2:22
“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie.”

Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37.

Jesaja 53:12
Daarom gee Ek hom ’n ereplek onder die grotes. Hy sal saam met magtiges oorwinning vier omdat hy hom in die dood oorgegee het en as misdadiger beskou is, omdat hy die sondes van baie op hom geneem het en vir
oortreders gebid het.
Lukas 22:37
“Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”
Lof en eer aan die Here

Die woorde van ons teks gee aan ons taal om die diepte van Jesus se lyding te verklank. Die wyse waarop die dienaar van die Here se verwerping, verguising, lyding en beskaming verwoord word, help ons verstaan wat Jesus se nederige diens aan ons Hom gekos het.

Daarom slaan ons Jesus se lyding en dood vandag nie net met afgryse gade nie, maar ook met diepe en dankbare verwondering.

Dit was vir ons.

Oproep uit Hebreërs 10

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.

Gebed van oorgawe

Vader,
ek gee myself oor in u hande;
doen met my wat U wil.
Vir wat U ook al met my wil doen, dank ek U;
ek is gereed vir alles, ek aanvaar alles.
Laat slegs u wil in my geskied,
asook in alles wat U gemaak het.
Ek vra vir niks meer as dit nie, Here.
In u hande gee ek myself oor;
ek bied myself aan U met al die liefde wat daar in my hart is,
want ek het U lief, Here,
en daarom wil ek myself gee,
wil ek my oorgee in u hande,
sonder om iets terug te hou –
met grenslose vertroue,
want U is my Vader.
(Nouwen, HJM 1989. The Road to Daybreak: A spiritual journey.  Londen: Darton, Longman & Todd.)
Lied 400 Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5

Geloofsbelydenis
Gemeente: Ek glo in God – God die Vader.
Voorganger: Ek glo dat Hy alles gemaak het en steeds daarvoor sorg.

Gemeente: Ek glo in God – God die Seun.
Voorganger: Ek glo dat Hy moes ly om die toorn van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis onder Pontius Pilatus gely het en onregverdig veroordeel is om die oordeel van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis ’n kruisdood moes sterf  om die vloek van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy dit vir my persoonlik gedoen het.
Ek glo dat Hy weer opgestaan het as bewys daarvan dat Hy die kwaad oorwin het.

Gemeente: Ek glo in God — God die Heilige Gees.
Voorganger: Ek glo dat Hy dit wat Jesus vir my verwerf het waar maak in my lewe, my oortuig van die sonde in my lewe en my verseker van die verlossing (uit die “Heidelbergse Kategismus”).

God stuur ons om te leef

Gebed
Almagtige en ewige God
U het ons deur die triomfantelike dood en
opstanding van Christus
tot die lewe herstel:
gaan voort met hierdie genesende werk in ons
en gee dat ons wat in hierdie bediening deel
nooit ophou om U met toewyding te dien nie;
ons vra dit deur Christus onse Here. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Offergawes

Wegsending: Lied 385 “Loof die Here, dis volbring 1,2”

Seën
In herinnering aan die verwese gevoel waarmee Jesus se dissipels agtergelaat is, word die tradisionele seën nie uitgespreek nie.

Antwoord: Geen

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.