Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Goeie Vrydag fokus op die kruisdood van Jesus Christus en die versoenende betekenis daarvan. Die liturgiese voorstel neem as uitgangspunt die sogenaamde “Stasies van die kruis” wat veral in die Rooms-Katolieke tradisie gebruiklik is vir die erediens op Goeie Vrydag. Anders as in hierdie tradisie waar die “stasies” gebaseer is op sowel Bybelse as buite-Bybelse gegewens, word hier slegs van Bybelse gegewens gebruik gemaak. Purperrooi kerse word op veertien verskillende plekke in die kerkgebou geplaas en word telkens ná die Skriflesing wat met elk van die stasies verband hou, deur ‘n lidmaat aangesteek.

In ooreenstemming met algemeen ekumeniese gebruik word daar voorgestel dat die nagmaal nie op Goeie Vrydag gevier word nie, maar wel op die voorafgaande Donderdagaand en by die feesdiens op Paasoggend.

Ander tekste

Jesaja 52:13-53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.

53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Psalm 22
U het my gebed verhoor
22 Vir die koorleier: op die wysie van
“Die wildsbok van die daeraad”.
’n Psalm van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basan
staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Hebreërs 10:16-25
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.

15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Hebreërs 4:14-16; 5:7-9
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Fokusteks

Johannes 18:1-19:42
Jesus word gevange geneem
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ‘n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.
7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”
8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”
9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ‘n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69–70; Mark. 14:66–68; Luk. 22:55–57)
15Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”

“Nee, ek is nie!” antwoord hy.
18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”
22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”
23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.
Petrus verloën Jesus weer

(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”
26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”
27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ‘n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”
30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ‘n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”
31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”
32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.
33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”
34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”
35“Ek is mos nie ‘n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”
36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
37“Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”
38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.

En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ‘n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ‘n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ‘n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”
5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”
7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”

Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”

Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Luk 23:44–49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ‘n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op ‘n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Luk 23:50–56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ‘n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ‘n tuin en in die tuin ‘n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Ekstra stof

Johannes 18:1–40 – Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir ons
Die verhaal van Getsemane tot net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.

18:1-11: Let op dat Jesus nie terugdeins vir die inhegtenisneming nie, en Homself identifiseer aan die soldate en wagte.  Sy beheer van die situasie blyk ook uit die toegestane versoek dat die dissipels nie ook gevange geneem sal word nie.

Hy kies dus om dié roete van die kruis te volg, en nie met geweld die koninkryk van God te  vestig nie.  Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig.  Hy moet die lydensbeker drink – dit is sy opdrag en daaraan wil Hy gehoorsaam wees.

Let ook op hoe beide Judas en Petrus steeds ‘n prominente rol speel soos in hoofstuk 13.  Judas verraai Jesus, en verwerp daarmee die genade.  Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ‘n verkeerde manier.

18:12-14: Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester en skoonpa van die huidige hoëpriester Kajafas.  Hy was ‘n besondere invloedryke man wat ook 5 seuns gehad het wat almal op ‘n stadium hoëpriester was.

18:15-18: Petrus en Johannes (die “ander dissipel”) gaan agter Jesus aan, maar Petrus verloën Jesus dan wanneer die deurwagter diensmeisie hom konfronteer by die vuurtjie.

18:19-24: Dit is waarskynlik steeds Annas wat Jesus ondervra oor sy leer (vgl vers 24).  Jesus verwys hom egter net na dié wat sy lering al tevore gehoor het, onder ander natuurlik Nikodemus, en wil niks meer daarby voeg nie.  Let op hoe Jesus die onregverdige hou van die wag hanteer – hy slaan nie terug nie, maar vra na die logika daaragter en stel so die onreg daarvan bloot.

18:25-27: Petrus verloën Jesus nog twee keer teenoor mense wat saam met hom hulself warmmaak by die vuurtjie, waarvan die laaste een familie was van Malgus, en in die tuin teenwoordig was met Jesus se inhegtenisneming.

18:28-40: Die verskyning voor Kajafas word nie vertel nie, wel die volgende verskyning voor Pilatus die Romeinse goewerneur van 26-36 nC.  Let op hoe skynheilig die Jode optree – hulle gee nie om om iemand ter dood ter veroordeel nie, maar is wel bekommerd dat hulle onrein sal word as hulle die ampswoning sou betree wat dan sou beteken hulle dan nie die paasmaaltyd kon eet en vir 7 dae nie aan die Paasfees kon deelneem nie.

Pilatus vra uit oor die aanklag, soos die wet vereis, maar kry nie baie detail by die Jode nie, net ‘n verdediging van hulle optrede.  Uit Jesus se skrapse antwoorde kan Pilatus ook nie sin maak nie, hoewel dit vir die ingeligte leser duidelik blyk dat Jesus ‘n sinopsis gee van sy bediening, soos Johannes in die proloog (Joh 1:1-14) al bekend gemaak het.  Hy praat oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie, van die waarheid waarvan Hy kom getuig het, dat Hy van God af gekom het, en dat almal wat aan die waarheid behoort (onthou Jesus is self die Waarheid!) sal luister na wat Hy sê.

Pilatus vind – soos te verwagte – geen skuld in Jesus nie.  Maar, sy oordeel laat hom liederlik in die steek.  Hy wil nie moeilikheid van die Jode af hê nie, wat die gramskap van Rome sou kon ontlok, en kies om hulle tevrede te probeer stel, deur hulle ‘n keuse tussen Barabbas, ‘n bewese misdadiger, en Jesus te gee.  Hy meen dat hy ‘n uitweg vir homself gekry het uit die dilemma met hierdie troefkaart.  Pilatus se keuse boemerang egter lelik deurdat die Jode kies om Barabbas los te laat word en nie Jesus nie.   Dit beteken dat die tafel gedek is vir die kruisiging.  Die Jode se keuse vir Jesus bevestig egter ook hulle eie misdadigheid.

  • Watter opeenstapeling van verspilde kanse.  Judas verspeel sy kans op inkeer.  Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.  Pilatus verspeel sy kans om Jesus ‘n regverdige verhoor te gee.  En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen.  Hy gaan nie die verraaier teë nie.  Hy dwing die Jode nie tot verering nie.  Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie.  Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.

Johannes 19:1-42 – Dit is volbring!
In vier bedrywe word die kruisigingsverhaal vertel:

  • Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – 19:1-16;
  • Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – 19:17-27;
  • Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – 19:28-37;
  • Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – 19:38-42.

19:1-16: Jesus moet die pyn van die kruisigingsproses deurstaan (die geseling was met ‘n sweep wat uit ‘n klomp rieme bestaan het, waaraan stukkies been en metaal vasgewerk is), sowel as die ekstra vernedering van die doringkroon en die pers mantel met die soldate wat met Sy koningskap spot.  Hy kies ook om nie Pilatus se onskuldigbevinding en duidelike ongemaklikheid met die situasie uit te buit tot sy voordeel.  Die uitlewering van ‘n onskuldige Jesus aan die Jode is eintlik ‘n verkragting van die Romeinse regstelsel.  Selfs wanneer Pilatus egter bang raak vir die dreigemente van die Jode, en dit duidelik blyk dat hy ‘n manier soek om Jesus los te laat, staan Jesus nie die boosheid van die Jode en die wispelturigheid van Pilatus teë nie.

Wat ‘n mens dus raaksien tussen die weifelende maar ook strategiese Pilatus (sy amnestie prosedure met Barabbas het nie gewerk nie, nou probeer hy lyfstraf om hulle simpatie met Jesus te probeer ontlok, wat ook nie werk nie) en die moorddadige skynheilige Jode, is ‘n kalm roepingsbewuste Jesus wat die rol wat God Hom gegee het, tot die einde toe speel.  Dít is waarvoor Hy na die wêreld gekom het – om sy lewe te gee vir sy skape, dié wat in Hom glo – en dít is waarvoor Hy Homself nou oorgee.  Let op, Hy wys Pilatus (en voor dit ook die Jode) op die betekenis van wat hulle doen, maar Hy keer hulle nie om hulle planne en keuses uit te voer nie.

En hoe verskriklik klink die woorde van die Jode nie: “Ons het nie ‘n koning nie, ons het net die keiser.”  En daarmee voltrek hulle ook die oordeel oor hulleself, want hulle verwerp dié
Een wat vir hulle die lewe kon gee (soos Israel destyds in Samuel se tyd – 1 Sam 8:7).

19:17-27: Die reis van Gabbata na Golgota begin.  Dit is ‘n reis vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe.  Die een kies om sy lewe te behou, en sal dit verloor.  Die Ander kies om sy lewe te gee, en sal dit uiteindelik behou.

Die moordenaars wat langs Jesus gekruisig is, word wel genoem, maar Johannes kies om nie meer detail oor hulle te vertel nie.  Ironies genoeg verklaar die opskrif oor Jesus presies wie Hy in werklikheid is, al het Pilatus min daarvan besef.

Die vier soldate se verdeling van sy klere word deur Johannes as vervulling van Ps 22:19 beskou, ‘n Psalm waarin ‘n hele paar Messiaanse betekenisse gehoor kan word. Ironies genoeg staan daar ook vier vroue – saam met Johannes – by die kruis: 1 Maria, Jesus se ma, 2) haar suster (waarskynlik Salomé – Mark 15:40), 3) Maria, die vrou van Klopas (waarskynlik dieselfde persoon as Kleopas waarvan ons in Luk 24 lees), en 4) Maria Magdalena (van Magdala), dié een wat die voorreg sou hê om die eerste die leë graf te beleef (hfst. 20).

Let op in hoe ‘n kontras Johannes Jesus teenoor Pilatus plaas.  Pilatus het uit vrees opgetree en Jesus onskuldig laat sterwe.  Jesus het uit liefde opgetree en hier in sy sterwensuur nog ‘n liefdesdaad vir sy ma verrig, deur haar aan Johannes toe te vertrou – die eerste kruiswoord waarvan Johannes ons vertel.

19:28-37:  Dit bly moeilik om oor Jesus se dood te skrywe – al besef ‘n mens dat Hy dit gekies het, dat God Hom daarvoor gestuur het, en dat dit die lewe vir my en duisende ander beteken het.

Die ander twee kruiswoorde wat Johannes beskryf vat egter vir my op pynlik-inspirerende wyse vas wat hier gebeur.

  • Jesus is volledig mens wat pyn en lyding ervaar presies soos wat ek dit doen: “Ek is dors” (‘n aanhaling uit Ps 69:22 wat hier ‘n Messiaanse betekenis kry).  En ten spyte van sy dors volhard Hy onwrikbaar op die lydenspad.
  • En met ‘n laaste woord voltooi Hy sy missie en lewensroeping: “Dit is volbring”.  Hy het die wenstreep behaal en die geloof behou.

Die gebruik was om gekruisigdes se bene te breek om die dood te verhaas. Anders kon gekruisigdes vir ‘n paar dae lank so lank as moontlik probeer regop staan om die dreigende versmoring (long- en hartversaking) as hulle aan hulle arms sou hang, te vermy.  Vir Jesus was dit egter nie nodig nie, omdat Hy Homself aan die kruisdood oorgegee het en reeds dood was.  Johannes verbind dit aan Ps 34:21 (hy sou ook na Eks 12:46; Num 9:12 kon verwys waar die Paaslam se bene ook nie gebreek is nie) en haal ook Sag 12:10 aan wat van die “deurboring”  praat, soos die soldate dit inderdaad uitgevoer het.

19:38-42: Josef van Arimatea en Nikodemus, die twee geheime dissipels, vra vir Jesus se liggaam en begrawe Hom in ‘n tuin naby aan Golgota teen die aand van die Vrydag, Goeie Vrydag.

  • Ons het baie voorbeelde van helde wat volhard het met hulle opdragte of enduit volgehou het met ‘n spesifieke lewenstaak.  Maar daar is niemand wat meer gedoen het as Jesus nie, veral as ‘n mens die blote vernedering van menswees vir God, en die afgryslike vernedering van ‘n onskuldige kruisdood in ag neem.

Liturgie

Die liturgie is bedoel om saam met die Preekriglyn ‘n eenheid te vorm en daarom word die preekriglyn hier herhaal. Daar is in die liturgie gebruik gemaak van materiaal uit Bybel-Media se Woord en Fees 2012/13 sowel as die van 2015/16.

Die diens begin in stilte, met so min beweging in die liturgiese ruimte as moontlik.

  • Gepaste simbole kan as fokus vir die diens in die liturgiese ruimte geplaas word – ’n kruis, ’n plek waar gemeentelede kerse kan opsteek.
  • Sagte orrelmusiek vir tien minute voor die diens help die gemeente om stil te word.

Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord

Seëngroet
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4″

Preek met Johannes 18 en 19

Gedig / Liedere: 389, 384, 377, 387,

Gebed
Offergawes

Wegsending
Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6” en/of
Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Seën
Geen antwoord, gemeente verlaat die kerk in stilte

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord
U het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na u sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van u sou hou nie.
U was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
U was verag,
ons het u nie gereken nie.
Tog het U óns lyding op Uself
geneem,
óns siektes het U gedra…
(Uit Jes 53)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
(Openbaring 1:4-6)

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Liedere

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
(Melodie Lied 271)
Teks: Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

F165. “In die hart van God die Vader”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1996 Spirit and Truth Music
(1 Pet 2:9)

In die hart van God die Vader
is daar ‘n sagte plek
vir die wêreld en sy mense,
uit elke huis en kerk.
En nadat Hy sy Seun gegee het om te sterwe aan die kruis
soek Hy mense wat sy liefde aan die wêreld sal gaan wys.

Daarom het Hy jou uitgesoek en jou hiernatoe gelei
sodat sy genade kan uitvloei deur die lewe wat jy lei
En die harte van die mense wat oral om jou bly
kan oorloop
van sy guns en heerlikheid

Dankie dat U my uitgesoek het;
dat U my ook wil gebruik
sodat U genade kan uitvloei
deur die Woord wat ek bely.
Laat die lewens van die mense
wat oral om ons bly
dan oorloop
van u guns en heerlikheid.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Almagtige en ewige God,
U het ons deur die triomfantlike dood en opstanding van Christus tot die lewe herstel:
Gaan voort met hierdie genesende werk in ons en gee dat ons wat die misterie van Christus se dood herdenk, nie in ons toewyding sal verslap nie.
Stort u oorvloedige seën oor ons uit,
ons wat vanoggend die dood van u Seun herdenk,
in die vaste hoop op die opstanding,
skenk aan ons vergifnis, bring vir ons troos:
en mag ons geloof versterk word
en ons van die ewige lewe verseker wees.
Amen.

Die gedig van Neels Jackson is ingeweef in die Skriflesing en prediking.
Predikers word aangemoedig om geleenthede vir stilwees en stilgebed in die liturgie na goeddunke te gebruik.
Hier is nog ‘n gedig oor Goeie Vrydag.

Inleiding
Op Goeie Vrydag ontdek ons dat Jesus self die Paaslam is – Hy is die Lam vir ons geslag. Jesus word verheerlik wanneer ons opnuut ontdek Hy het hom vrywillig geoffer vir ons, ook vir diegene wat Hom gekruisig het, en dié wat vandag ver van Hom staan. Hy is nie net die onskuldige slagoffer van ander se politiekery nie, maar die offerlam wat Homself gegee het. Vir Johannes is die kruis ook die verhoging van Jesus, die openbaring van sy heerlikheid. Jesus se selfopoffering is ook sy oorwinning oor satan, sonde en dood.

Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2,3”

Episode 1: In die tuin
Lees Johannes 18 vers 1 tot 11

Jesus word gevange geneem
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.
7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”
8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”
9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Die tuin-episode herinner ons aan die tuin of paradys waar Adam en Eva gesondig het. Daar is spanning in die lug, want die mens se mislukking het in ‘n tuin plaasgevind. Wat gaan nou gebeur? Gaan Jesus getrou bly aan die Vader?

Opvallend is die oorweldigende mag van manne wat opruk om een ongewapende persoon gevange te neem. Dit was ongeveer 600 Romeinse soldate, plus nog manne van die tempelwag.

Jesus het moed getoon deur nie weg te kruip of te probeer vlug nie. Die lanterns en fakkels te midde van die volmaan is ʼn aanduiding van die verwagting dat Jesus sal probeer wegkruip. Jesus se gesag word beklemtoon deur die soldate wat terugdeins en val ten aanhore van die woorde: “Dit is Ek.” Dit word drie keer herhaal tydens dié episode (18:5, 6 en 8). Jesus se eie stem en woorde is die wapen waarmee die gewapende soldate neergevel word.

Die episode wys Jesus het vrywillig gekies om Homself as gevangene oor te gee. Dit beklemtoon Jesus se beskermende liefde as Hy versoek dat diegene rondom Hom toegelaat moet word om te gaan. Laastens toon die gedeelte Jesus se onvoorwaardelike verbintenis en gehoorsaamheid aan sy hemelse Vader.

Neels Jackson
(i)
Vyf dae tevore, op die Sondag, het Hy
triomfantelik die stad ingery
op ’n donkie se rug. ’n Groot skare
het Hom verwelkom, met palmblare
sy pad uitgelê en geroep: “Loof Hom
wat in die naam van die Here kom!”
En: “Prys die seun van Dawid!” — met ’n dors
na ’n nuwe ryk met ’n nuwe vors.
Maar Jesus, wat weet wat in elke hart skuil,
het niks gesê nie, net saggies gehuil.

(ii)
Die Donderdagaand, ná hul laaste ete,
is Hy na die tuin toe met die wete
van wat wag. En die Seun van God was bang,
want Hy was ook mens. Daarom het Hy verlang
dat Petrus en nog twee by Hom moes bly
terwyl Hy bid. Maar Hy sou alléén ly.
Dié wat deur dik en dun by Hom sou staan,
was te vaak. Alléén sou hy daarvandaan,
het hy geweet in bloed en sweet, moes drink
aan die bitter beker wat God sou skink.

(iii)
Drie jaar lank was Judas saam met Hom.
Drie jaar lank het Judas saam gekom
en gegaan, was hy teenwoordig gewees
as Jesus ’n blinde of lamme genees,
vir die hongeres sorg, omgee vir mense
buite fatsoenlikheid se netjiese grense.
Judas se liefde ken ons almal goed:
die mooi glimlag, die skynheilige groet.
Dié aand het hy dit vriendelik gedoen,
maar soms sit daar selfs moord in ’n soen.

Episode 2: Voor Annas
Lees Johannes 18 vers 12 tot 14 én 19 tot 24
Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”
23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Die verhoor voor Annas was ‘n soort voor-verhoor. Jesus sou hierna na Kajafas, Annas se skoonseun, gestuur word. Die verskyning voor Kajafas word nie deur Johannes opgeteken nie.

Die voor-verhoor deur Annas is ‘n bespotting van die Joodse reg. Volgens die Joodse reg mag ‘n beskuldigde nie geïnkrimineer word nie. Om Jesus dus vrae te vra en te dwing om ‘n skulderkenning te doen, was verdag en onwettig. Anna kon Jesus nie op ‘n wettige manier uit die weg ruim nie, daarom knoei hy.

Die Sanhedrin kon nie genoegsame getuienis teen Jesus inwin nie en vind Hom uiteindelik skuldig aan godslastering, weens die bewering dat Hy koning van die Jode is. Die Jode beskuldig Jesus van verraad teen die regering omdat Hy Homself koning van die Jode noem. Hulle lê dus ‘n politieke klag teen Jesus om die weg vir ‘n doodsvonnis te baan. Om ter dood veroordeel te word moes Jesus aan Pilatus oorgelewer word. Slegs die Romeinse regering het oor die mag van die swaard beskik. As die Jode oor die mag beskik het om Jesus ter dood te veroordeel sou hulle Hom waarskynlik gestenig het.

Episode 3: Petrus verloën Jesus
Lees Johannes 18 vers 15 tot 18 én 25 tot 27

Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69–70; Mark. 14:66–68; Luk. 22:55–57)
15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”

“Nee, ek is nie!” antwoord hy.

18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Petrus verloën Jesus weer
(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”
26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”
27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.
Petrus se verloëning van Jesus het gelowiges deur die eeue aangegryp. Hou in gedagte dat al die ander dissipels Jesus na sy inhegtenisneming verlaat het, terwyl Petrus moedig genoeg was om Hom steeds tydens sy verhoor te volg. Die ander dissipel wie se naam nie genoem word nie, was Johannes.
Hierdie episode vind plaas terwyl Jesus Hom voor Annas beroep op getuies wat gehoor het wat Hy geleer het. Johannes beskryf die insident opeenvolgend om die erge effek van die verloëning te beklemtoon. Terwyl Iemand veg om sy lewe, druk ‘n ander spreekwoordelik ‘n dolk in sy rug.

Neels Jackson
(iv)
Toe hulle Jesus gryp, wou Petrus held
speel, en die Vors van Vrede met geweld
verdedig. Maar Jesus het “Nee” gesê.
Hy wou ’n ander dissipelskap hê
van Petrus, die Rots, want dit was hý
wat verklaar het: “Ek sal altyd by u bly.”
Maar dié nag (soos soveel vandag nog maak,
deur hul dade, as dinge ongemaklik raak)
het dieselfde Petrus, die Rots, drié
keer gesê: “Ek pas nié by Jesus nié.”

Episode 4: Pilatus
Lees Johannes 18 vers 28 tot 19 vers 16
Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”
30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”
31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”
32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.
33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”
34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”
35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”
36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”
40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”
5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”
7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”
13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”
16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Pilatus het ‘n moeilike en uitdagende rol gehad. Die gesprek tussen Pilatus en Jesus is die mees dramatiese deel van Jesus se verhoor. Pilatus was in ‘n politieke dilemma. Hierdie verhoor het sy diplomatieke vernuf tot die uiterste toe beproef. Hy was oortuig Jesus was onskuldig, maar sonder ‘n doodsvonnis het hy die gevaar geloop om sy werk te verloor. Iemand skryf Pilatus kruisig Jesus om sy werk te behou.

Alle pogings om Jesus van die kruisdood te “red” was tevergeefs. Die marteling kon nie genoeg bejammering by die Jode wek nie. Die keuse tussen Barabbas en Jesus het vir die Jode vanselfsprekend gelyk: Jesus moet gekruisig word.

Die twee kernvrae in die eerste Pilatusgesprek is Pilatus se vrae of Jesus die koning van die Jode is (18:33) en wat die waarheid is (18:38). Pilatus kon nie anders as om in aardse terme te dink oor Jesus se koningskap nie. Jesus maak dit egter duidelik dat sy koningskap nie van hierdie wêreld is nie.

Die vraag oor Jesus se koningskap lei tot die Jode se verstommende stelling dat hulle die keiser as koning het. Dit is in teenstelling met hulle belydenis dat die Here God alleen hulle Koning en Here is (1 Sam.12:12; Rig 8:23). Die Joodse leiers verwerp uiteraard Jesus se aanspraak op koningskap.

Die soldate maak later ‘n bespotting daarvan deur Hom te kroon met ‘n doringkroon. In drie tale word Jesus se Joodse koningskap boaan die kruis aangebring en ‘n purperkleed om Hom gehang. Pilatus besef nie dat Jesus self die waarheid is nie (Joh 14:6). Pilatus mis dus die kans om vir die waarheid te kies en vereenselwig hom deur sy keuse met die massas.

Neels Jackson
(v)
Pilatus, die goewerneur, wou billik wees,
maar die skare het geskreeu: “Kruisig Hom!”
Hy wou ’n uitspraak van “onskuldig” lees,
maar die skare het gedreun: “Kruisig Hom!”
Sou hul keuse Jesus, bo die rower wees?
Nee, die skare het gegil: “Kruisig Hom!”
Later het hy hul woede gevrees,
want hul haat het dit gebrul : “Kruisig Hom!”
Toe’t Pilatus sy hande afgespoel
in die hoop dat hy sou beter voel.

(vi)
Dit was die bespotlikste van konings,
die purper mantel, die kroon van dorings.
En as die Koning dors is, kry hy wyn:
Vonkelwit? Donkerrooi? Nee, liefs asyn!
Vir ure het die groot spot aangegaan:
“Toe, U Hoogheid, wie het jou nou geslaan?”
Die gesel het gespeel oor sy rug, sy lyf
was rooi van bloed. Op die koppie dryf
hulle spykers deur sy polse. ’n Skouspel was
dit vir dié wat roep: “Red nou jou eie bas!”

Episode 5: Gekruisig, gesterwe en begrawe

Lied 384 “Jesus o dink aan my” (Herhaal 2-3X, telkens al hoe sagter)

Lees Johannes 19 vers 17 tot 42

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”

23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Lied 377 O “Lam van God onskuldig vs 1,2,3”

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Luk 23:44–49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” s37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” t

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Luk 23:50–56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Die kruisiging van Jesus en sy begrafnis sluit ons teks af. Johannes het ‘n unieke perspektief op hierdie gebeure. Die kruistoneel toon duidelike verskille met die ander evangeliste. Daar is geen aanduiding van godverlatenheid by Johannes nie. Terwyl Markus die klem op Jesus se lyding aan die kruis plaas, en hoe Hy godverlatenheid beleef het, vertel Johannes van Jesus se oorwinning aan die kruis, omdat Hy in die sentrum van God se wil was.

Boaan die kruis word geskryf dat die hele wêreld (in drie tale) dit kon lees. Slegs Johannes lê die klem op die drie tale waarin die woorde geskryf is. Die ander gaan oor Jesus se gesprek met die geliefde dissipel en sy ma. Die laaste kruiswoorde bring die uniekheid van Johannes se aksent ook na vore. “Ek het dors” en “Dit is volbring”, is onskeibaar. Uiteraard gaan dit ook hier oor die geweldige fisieke dors wat ‘n gekruisigde persoon voor sy dood ontwikkel het. Geleerdes is dit egter eens dat dit om meer as fisieke dors gaan. Vroeër in die lydensverhaal sê Jesus dat Hy die beker sal drink wat God aan Hom sal gee (18:11). Jesus se honger en dors funksioneer elders in die evangelie as aanduiding van sy verbintenis om God se wil te doen (4:32-34). Ook hier dors Hy daarna om God se wil te doen. Sy woorde, “Dit is volbring”, beteken Hy het gedoen wat God van Hom gevra het.

Neels Jackson
(vii)
Aan ’n kruis roep ’n Man hard na sy Pa
en sug vir laas. Water en bloed dra
die boodskap van sy dood. Die aarde beef
en grafte beur oop. Dooies wat leef
verskyn oral. In die tempel skeur
die voorhangsel oor wat buite gebeur. Die son het ophou skyn. Dit is twaalfuur —
middag — maar die duister, ’n roukleed, duur
tot drie. Die skepping rou en ’n groot
stilte beaam: Die Seun van God is dood.

Lied 387 “O Heer uit bloed en wonde 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53
Die Here was soos ’n loot,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.

Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.

Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.

Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.

Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.

Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Hoofkarakter
Jesus Christus is die hoofkarakter in hierdie lydensdrama. Hy oorheers die toneel en word deur Johannes uitgebeeld as die Een wat deurgaans in beheer is van die verloop van sake. Jesus se majesteit skyn op sy helderste wanneer Hy deur mense verhoor word. Die lydende Kneg is die Koning van die wêreld. Dit wat op die oog af lyk na vernedering en verlies is, met die geloofsoog gesien, ‘n heerlike oorwinning.

Op die menslike vlak is hierdie ‘n gewelddadige verhaal. Daar is ‘n nagtelike gevangeneming, ‘n onbehoorlike verhoor, Jode wat Pilatus manipuleer, marteling, ‘n publieke teregstelling en ‘n haastige begrafnis. Tog oorheers hierdie bloederige onreg nie die verhaal nie. Jesus is meer as ‘n slagoffer van wie die lewe weggeneem word. Jesus is die handelende Persoon, wat sy lewe vrywillig gee in ‘n daad van liefde teenoor die wêreld.

Om te glo
Johannes skryf die evangelie met die doel dat mense sal glo. Pilatus kon nie die waarheid voor hom herken nie. Die skare verwerp sy koningskap. Die soldate bespot Hom. Hulle tree so op omdat hulle nie geloof in Jesus het nie. Dit is slegs deur geloof dat ons aan die kruis die oorwinnende Koning raaksien. Dit is slegs deur geloof dat ons deur lyding, vervolging en die doodse magte, God se heerskappy raaksien.

As oorwinnende Koning kan ons Jesus vandag eer en prys.

Familie-oomblik

Preekriglyn

(Preekriglyn reeds ingebou in liturgie hierbo)

[Nota: Die prediker word genooi om telkens ‘n episode uit die teks voor te lees, en dan opmerkings oor die uitleg te maak, wat uiteindelik gesamentlik die preek uitmaak. Van die episodes word in die meegaande preek saamgevoeg, maar die prediker kan ook die indeling van die 1983-vertaling volg. Die episodes en kommentaar word afgewissel met o.a. gebede en sang.]

Inleiding

Op Goeie Vrydag ontdek ons dat Jesus self die Paaslam is – Hy is die Lam vir ons geslag. Jesus word verheerlik wanneer ons opnuut ontdek Hy het hom vrywillig geoffer vir ons, ook vir diegene wat Hom gekruisig het, en dié wat vandag ver van Hom staan. Hy is nie net die onskuldige slagoffer van ander se politiekery nie, maar die offerlam wat Homself gegee het. Vir Johannes is die kruis ook die verhoging van Jesus, die openbaring van sy heerlikheid. Jesus se selfopoffering is ook sy oorwinning oor satan, sonde en dood.

Episode 1: In die tuin

Lees Johannes 18 vers 1 tot 11
Die tuin-episode herinner ons aan die tuin of paradys waar Adam en Eva gesondig het. Daar is spanning in die lug, want die mens se mislukking het in ‘n tuin plaasgevind. Wat gaan nou gebeur? Gaan Jesus getrou bly aan die Vader?

Opvallend is die oorweldigende mag van manne wat opruk om een ongewapende persoon gevange te neem. Dit was ongeveer 600 Romeinse soldate, plus nog manne van die tempelwag.

Jesus het moed getoon deur nie weg te kruip of te probeer vlug nie. Die lanterns en fakkels te midde van die volmaan is ʼn aanduiding van die verwagting dat Jesus sal probeer wegkruip. Jesus se gesag word beklemtoon deur die soldate wat terugdeins en val ten aanhore van die woorde: “Dit is Ek.” Dit word drie keer herhaal tydens dié episode (18:5, 6 en 8). Jesus se eie stem en woorde is die wapen waarmee die gewapende soldate neergevel word.

Die episode wys Jesus het vrywillig gekies om Homself as gevangene oor te gee. Dit beklemtoon Jesus se beskermende liefde as Hy versoek dat diegene rondom Hom toegelaat moet word om te gaan. Laastens toon die gedeelte Jesus se onvoorwaardelike verbintenis en gehoorsaamheid aan sy hemelse Vader.

Episode 2: Voor Annas

Lees Johannes 18 vers 12 tot 14 én 19 tot 24
Die verhoor voor Annas was ‘n soort voor-verhoor. Jesus sou hierna na Kajafas, Annas se skoonseun, gestuur word. Die verskyning voor Kajafas word nie deur Johannes opgeteken nie.

Die voor-verhoor deur Annas is ‘n bespotting van die Joodse reg. Volgens die Joodse reg mag ‘n beskuldigde nie geïnkrimineer word nie. Om Jesus dus vrae te vra en te dwing om ‘n skulderkenning te doen, was verdag en onwettig. Anna kon Jesus nie op ‘n wettige manier uit die weg ruim nie, daarom knoei hy.

Die Sanhedrin kon nie genoegsame getuienis teen Jesus inwin nie en vind Hom uiteindelik skuldig aan godslastering, weens die bewering dat Hy koning van die Jode is. Die Jode beskuldig Jesus van verraad teen die regering omdat Hy Homself koning van die Jode noem. Hulle lê dus ‘n politieke klag teen Jesus om die weg vir ‘n doodsvonnis te baan. Om ter dood veroordeel te word moes Jesus aan Pilatus oorgelewer word. Slegs die Romeinse regering het oor die mag van die swaard beskik. As die Jode oor die mag beskik het om Jesus ter dood te veroordeel sou hulle Hom waarskynlik gestenig het.

Episode 3: Petrus verloën Jesus

Lees Johannes 18 vers 15 tot 18 én 25 tot 27
Petrus se verloëning van Jesus het gelowiges deur die eeue aangegryp. Hou in gedagte dat al die ander dissipels Jesus na sy inhegtenisneming verlaat het, terwyl Petrus moedig genoeg was om Hom steeds tydens sy verhoor te volg. Die ander dissipel wie se naam nie genoem word nie, was Johannes.

Hierdie episode vind plaas terwyl Jesus Hom voor Annas beroep op getuies wat gehoor het wat Hy geleer het. Johannes beskryf die insident opeenvolgend om die erge effek van die verloëning te beklemtoon. Terwyl Iemand veg om sy lewe, druk ‘n ander spreekwoordelik ‘n dolk in sy rug.

Episode 4: Pilatus

Lees Johannes 18 vers 28 tot 19 vers 16
Pilatus het ‘n moeilike en uitdagende rol gehad. Die gesprek tussen Pilatus en Jesus is die mees dramatiese deel van Jesus se verhoor. Pilatus was in ‘n politieke dilemma. Hierdie verhoor het sy diplomatieke vernuf tot die uiterste toe beproef. Hy was oortuig Jesus was onskuldig, maar sonder ‘n doodsvonnis het hy die gevaar geloop om sy werk te verloor. Iemand skryf Pilatus kruisig Jesus om sy werk te behou.

Alle pogings om Jesus van die kruisdood te “red” was tevergeefs. Die marteling kon nie genoeg bejammering by die Jode wek nie. Die keuse tussen Barabbas en Jesus het vir die Jode vanselfsprekend gelyk: Jesus moet gekruisig word.

Die twee kernvrae in die eerste Pilatusgesprek is Pilatus se vrae of Jesus die koning van die Jode is (18:33) en wat die waarheid is (18:38). Pilatus kon nie anders as om in aardse terme te dink oor Jesus se koningskap nie. Jesus maak dit egter duidelik dat sy koningskap nie van hierdie wêreld is nie.

Die vraag oor Jesus se koningskap lei tot die Jode se verstommende stelling dat hulle die keiser as koning het. Dit is in teenstelling met hulle belydenis dat die Here God alleen hulle Koning en Here is (1 Sam.12:12; Rig 8:23). Die Joodse leiers verwerp uiteraard Jesus se aanspraak op koningskap.

Die soldate maak later ‘n bespotting daarvan deur Hom te kroon met ‘n doringkroon. In drie tale word Jesus se Joodse koningskap boaan die kruis aangebring en ‘n purperkleed om Hom gehang. Pilatus besef nie dat Jesus self die waarheid is nie (Joh 14:6). Pilatus mis dus die kans om vir die waarheid te kies en vereenselwig hom deur sy keuse met die massas.

Episode 5: Gekruisig, gesterwe en begrawe

Lees Johannes 19 vers 17 tot 42
Die kruisiging van Jesus en sy begrafnis sluit ons teks af. Johannes het ‘n unieke perspektief op hierdie gebeure. Die kruistoneel toon duidelike verskille met die ander evangeliste. Daar is geen aanduiding van godverlatenheid by Johannes nie. Terwyl Markus die klem op Jesus se lyding aan die kruis plaas, en hoe Hy godverlatenheid beleef het, vertel Johannes van Jesus se oorwinning aan die kruis, omdat Hy in die sentrum van God se wil was.

Boaan die kruis word geskryf dat die hele wêreld (in drie tale) dit kon lees. Slegs Johannes lê die klem op die drie tale waarin die woorde geskryf is. Die ander gaan oor Jesus se gesprek met die geliefde dissipel en sy ma. Die laaste kruiswoorde bring die uniekheid van Johannes se aksent ook na vore. “Ek het dors” en “Dit is volbring”, is onskeibaar. Uiteraard gaan dit ook hier oor die geweldige fisieke dors wat ‘n gekruisigde persoon voor sy dood ontwikkel het. Geleerdes is dit egter eens dat dit om meer as fisieke dors gaan. Vroeër in die lydensverhaal sê Jesus dat Hy die beker sal drink wat God aan Hom sal gee (18:11). Jesus se honger en dors funksioneer elders in die evangelie as aanduiding van sy verbintenis om God se wil te doen (4:32-34). Ook hier dors Hy daarna om God se wil te doen. Sy woorde, “Dit is volbring”, beteken Hy het gedoen wat God van Hom gevra het.

Hoofkarakter

Jesus Christus is die hoofkarakter in hierdie lydensdrama. Hy oorheers die toneel en word deur Johannes uitgebeeld as die Een wat deurgaans in beheer is van die verloop van sake. Jesus se majesteit skyn op sy helderste wanneer Hy deur mense verhoor word. Die lydende Kneg is die Koning van die wêreld. Dit wat op die oog af lyk na vernedering en verlies is, met die geloofsoog gesien, ‘n heerlike oorwinning.

Op die menslike vlak is hierdie ‘n gewelddadige verhaal. Daar is ‘n nagtelike gevangeneming, ‘n onbehoorlike verhoor, Jode wat Pilatus manipuleer, marteling, ‘n publieke teregstelling en ‘n haastige begrafnis. Tog oorheers hierdie bloederige onreg nie die verhaal nie. Jesus is meer as ‘n slagoffer van wie die lewe weggeneem word. Jesus is die handelende Persoon, wat sy lewe vrywillig gee in ‘n daad van liefde teenoor die wêreld.

Om te glo

Johannes skryf die evangelie met die doel dat mense sal glo. Pilatus kon nie die waarheid voor hom herken nie. Die skare verwerp sy koningskap. Die soldate bespot Hom. Hulle tree so op omdat hulle nie geloof in Jesus het nie. Dit is slegs deur geloof dat ons aan die kruis die oorwinnende Koning raaksien. Dit is slegs deur geloof dat ons deur lyding, vervolging en die doodse magte, God se heerskappy raaksien.

As oorwinnende Koning kan ons Jesus vandag eer en prys.

God stuur ons om te leef

Gebed
Voorganger: O gekruisigde Christus, Seun van die Vader, ontvang deur die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria, ewige Woord van God.
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: O gekruisigde Christus, tempel van God, woonplek van die allerhoogste, poort tot die ewige lewe, ewigdurende vlam van Liefde.
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: O gekruisigde Christus, skuilplek vir die gebrokenes, vol deernis, en bron van alle trou
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: O gekruisigde Christus, heerser oor almal, aan U behoort al die wysheid en kennis, in U woon die volheid God.
Gemeente: Ons aanbid U.

Voorganger: Jesus Christus, Lam van God.
Gemeente: Wees ons genadig.

Voorganger: Jesus Christus, Draer van ons sondelas.
Gemeente: Ontferm U oor ons.

Voorganger: Jesus Christus, Verlosser van die wêreld
Gemeente: Gee ons u vrede Almagtige God, hoor ons gebed en wees u kinders genadig – u familie
vir wie ons Here Jesus Christus gereed was om oorgelewer te word in die hande van sondaars en die dood aan die kruis te ly;
Hy wat leef en heers met U en die Heilige Gees, een God – nou en vir ewig. Amen

Offergawes

Wegsending:
Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”en/of
Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Seën
Die Here sal julle seën en julle oppas.
Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.
Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.
(Numeri 6:24vv Die Boodskap)
Geen antwoord, gemeente verlaat die kerk in stilte.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.