Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jesaja 52:13-53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
nbsp;
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word. g
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Psalm 116:1-2, 12-19
Ek het die Here lief
116 Ek het die Here lief,
want Hy verhoor
my smeekgebede.
2Hy het na my geluister
toe ek Hom aangeroep het.
3Bande van die dood het my omsluit,
doodsangs het my aangegryp,
ek het benoud en bekommerd geword.
4Toe het ek die Naam van die Here
aangeroep:
“Here, red my tog!”
5Die Here is genadig en regverdig,
ons God ontferm Hom oor ons.
6Die Here beskerm die hulpeloses:
ek was magteloos,
maar Hy het my gered.
7Ek moet nou tot rus kom,
die Here het goed aan my gedoen:
8U het my van die dood gered,
U het ’n einde gemaak aan my trane,
U het gesorg
dat ek nie weer struikel nie.
9Ek kon voor die Here bly wandel
in die land van die lewendes.
10Ek het in U bly glo,
selfs toe ek gedink het
dit is klaar met my
11en toe ek in my vertwyfeling besef het:
ek kan op geen mens staat maak nie.
12Hoe sal ek die Here vergoed
vir al sy weldade aan my?
13Met ’n drankoffer
sal ek van sy redding getuig
en die Naam van die Here aanroep.
14My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk.
15Vir die Here is die dood
van sy troue dienaars
geen geringe saak nie.
16Ek is u dienaar, Here,
van my geboorte af is ek al u dienaar:
U het my vry gemaak.
17Ek wil U loof met ’n dankoffer,
ek wil die Naam van die Here aanroep.
18My geloftes aan die Here sal ek betaal
in die teenwoordigheid van sy hele volk,
19in die voorhowe
van die huis van die Here,
binne-in jou, Jerusalem!
Prys die Here!
Johannes 13:1-17, 31b-35
Jesus was die voete van sy dissipels
13 Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad.

2Jesus en sy dissipels was aan tafel. Die duiwel het toe al klaar vir Judas seun van Simon Iskariot op die gedagte gebring om Jesus te verraai. 3Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan. 4Toe het Hy van die tafel af opgestaan, sy bokleed uitgetrek en ’n handdoek gevat en om Hom vasgemaak. 5Daarna het Hy water in ’n wasskottel gegooi en begin om sy dissipels se voete te was en dit dan af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.

6Toe Hy by Simon Petrus kom, vra dié vir Hom: “Here, gaan Ú mý voete was?”
7En Jesus antwoord hom: “Wat Ek doen, begryp jy nie noú nie, maar later sal jy dit verstaan.”
8Maar Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”
Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”
9Simon Petrus sê toe vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig.”
10En Jesus sê vir hom: “Hy wat klaar gebad het, is heeltemal skoon; hy hoef later niks meer as sy voete te was nie. En julle is nou skoon, maar nie almal nie.”
11Jesus het geweet wie Hom sou verraai; daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”

12Toe Hy hulle voete klaar gewas en sy bokleed aangetrek het en weer aangesit het, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat ek vir julle gedoen het? 13Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 14As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen. 16Dít verseker Ek julle: ’n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ’n gesant ook nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. 17Julle weet dit nou; gelukkig is julle as julle dit ook doen.”

Jesus se heengaan is naby
31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Fokusteks

Hebreërs 10:16-25
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.

15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan

19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ‘n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Ekstra stof

Die brief is gerig aan huisgemeentes in Italië
Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ‘n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ‘n “Boodskap van aansporing” of ‘n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ‘n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs“, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand

Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ‘n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ‘n “geweldige stryd van lyding“.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die skrywe
Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief-boodskap, soos dit uit die slotgedeelte blyk (“aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf” – hfst. 13:22).  Dit is egter só goed saamgestel dat dit eintlik die karakter van ‘n goed uitgewerkte preek of selfs teologiese bydrae aanneem.

Nie dat ons weet wie dié skrywer-prediker was nie of waar hy op dié stadium was nie.  Dit kon nie Paulus gewees het nie, hoewel die skrywer wel met Paulus se werkkring bekend was.  Hy ken bv. vir Timoteus (hfst. 13:23).  Benewens die feit dat Paulus nie ‘n leier van een van die gemeentes in Rome/Italië was nie, verskil die taal, woordeskat, styl en teologiese beklemtonings van hierdie brief net te veel met dié van Paulus se ander briewe.  Dit bevat bv. van die beste Grieks in die hele NT en het 169 woorde wat nét hier in die NT voorkom (Lane, Word kommentaar). Hy haal ook meer letterlik uit die OT (LXX – Griekse vertaling) aan as wat Paulus doen.  Die skrywer het verder volgens eie getuienis nie eerstehands na die Here Jesus geluister nie (hfst. 2:3) waarvan Paulus wel getuig het (Gal. 1:11-17).

Die name van onder andere Barnabas, Apollos (Luther se voorkeur), en Silvanus (Paulus se medewerker) word deur van die ou kerkvaders en geleerdes deur die eeue voorgestel as skrywers, maar geen historiese sekerheid is daaroor moontlik nie.  Sommige stel ook Paulus se medewerker Priscilla voor (Hand 18; Rom 16:13; 1 Kor. 16:19; 2 Tim. 4:19 – in die laaste drie tekste word sy eintlik Prisca genoem; Priscilla was ‘n verkleinwoord van haar naam).  Maar, volgens hfst. 11:32 was die skrywer manlik, afgelei uit die manlike vorm van die deelwoord: “om te vertel” in Grieks wat na die skrywer verwys.

Moenie vasgevang word deur buitengewone of basiese dinge, ook nie deur Joodse gebruike nie
Hoe dit ook al sy, uit hierdie skrywer se boodskap blyk dit dat sommige van die gemeentelede hulle toevlug begin soek het in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef“. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ‘n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos“;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Moenie afvallig word nie
Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “‘n bose hart van ongeloof“), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Fokus op God se werk in julle lewe
Daarom lê die skrywer van Hebreërs daarop klem dat hulle weer die werk van God in hulle lewe moet erken:

  • die lewende verhouding met Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (hfst. 1:2; 2:1; 10:19-22; 12:2),
  • die dinamiese werk van die Heilige Gees (hfst. 2:4; 3:7),
  • die krag van die Woord van God (hfst. 4:12),
  • die aanmoediging van hulle onderlinge byeenkomste (hfst. 10:23-25), en
  • die inspirasie van hulle onderlinge aansporing (hfst. 3:13: “elke dag“!; 12:14-17; 13:1-6), sowel as
  • die boodskap en werk van hulle leiers (hfst. 13:7-9,17).

Dít is die dinge waarop elke gelowige in hierdie gemeente moet fokus, sê die skrywer.  Daarin lê die krag van God opgesluit.  Daardeur word sy krag in hulle lewe oopgesluit. Dit is die geloofsbeginsels waaraan hulle hul moet hou.

Luister na die Skrif en die prediking
Met talle aanhalings en voorbeelde uit die skat van die Ou Testament boodskap – ‘n boodskap waarmee hulle duidelik bekend was – begrond die skrywer sy boodskap en bemoedig hulle met die evangelie van Jesus as die Leidsman van ons verlossing sowel as die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.  Daarmee word hulle aan die Skrif verbind soos dit deur die prediking aan hulle voorgehou word.

Hulle word opgeroep om almal saam te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie.  Hulle moet styf vashou aan hulle belydenis en hulle verlossing – leer en lewe – en voortdurend met vrymoedigheid in gebed die troon van genade nader.

Fokus op geestelike volwassenheid
Hulle word dus opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie – “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (hfst. 6:1-3) – maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (hfst. 12:1-2).  Gasvryheid, meelewendheid, mededeelsaamheid, gehoorsaamheid en onderlinge onderdanigheid moet hulle gemeentelike lewe kenmerk. God belowe immers dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is, sodat hulle sy wil kan doen (hfst. 13).

Hebreërs 10:16-25
In die vorige perikoop het die skrywer gefokus op Jesus wat ons heilig maak eens en vir altyd.  Die skrywer het aangehak by wyse van vergelyking aan by die offerkultus van die OT wat sy waarde gehad het, maar nooit die aanbidders tot volmaaktheid kon bring nie.  Die offers van die OT kultus kon nie die besef van sonde uitwis nie, iets wat inderdaad moontlik is in die nuwe bedeling wat Jesus gebring het.

Die besef van sonde is dus uit God se geheue weggeneem deur die offer van Jesus … dit is die omvattende betekenis van hierdie boodskap.  Dít is waarom daar ook nie meer ‘n offer vir ons sondes nodig is nie, want die vergifnis wat Jesus gebring het, het God se geheue vir ons sonde uitgewis: “Ek sal glad nie meer aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade dink nie.

Laat ons die heiligdom ingaan met vrymoedigheid
Die skrywer rond dan die tema af wat hy in hfst. 5 begin het deur die geloofsgemeenskap op te roep om nie vas te val by die basiese prediking oor Christus nie – die “melk” van “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (6:1-2) – en eerder te fokus op die “vaste kos” van onder andere “die boodskap van regverdiging“, “die aanvoeling, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad” (5:13-14) en “die volle sekerheid van die hoop” op God se beloftes (6:11).

Dit is immers waarom hy die moeite gedoen het om die omvattende waarde van Jesus se Hoëpriesterskap uit te spel in hfst. 7-10, want die regte perspektief daarop, sal hulle in staat stel om geestelike volwasse te word en die wedloop te hardloop wat vir elkeen van hulle voorlê.  Hy staan immers in vir hulle verlede, hede en toekoms.

Laat ons tot God nader met vrymoedigheid
Die onderwerp wat hy nou aanraak, is die feit dat ons vrymoedigheid het om met God gemeenskap te hou: “ons het dus vrymoedigheid deur die bloed van Jesus om in te gaan na die heiligdom langs ‘n nuwe en lewende weg wat Hy vir ons geopen het.”  Soos Paulus op soortgelyke wyse aan die Efesiërs skryf, het ons dus in Jesus Christus “deur ons geloof sekere en vrymoedige toegang tot God” (Ef. 3:12).

Daarom die oproep om hierdie vrymoedigheid aan te gryp in ons verhouding met God: “Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water.” Laasgenoemde verwys na die doop.  Let ook op die samehang van die interne reinigingswerk van God met die uiterlike teken daarvan, die doop.

Dit is dus nie genoeg om mense by geloofsekerheid uit te bring nie, hoe belangrik dit ook al is by die begin van die pad met God.  Geestelike groei kom wanneer ons vrymoedigheid voor God eksponensieel toeneem soos ons al hoe meer die voorreg om met Hom gemeenskap te hou, benut (10:22), in alles fokus daarop om sy wil te doen (10:36) en so te groei in die geloof wat lei tot behoud van die lewe (of “siel” – 10:39).

Die Griekse woord wat die skrywer hier vir vrymoedigheid gebruik, is parrēsia en dra ook die betekenisse van moed, vertroue, reguitenopenhartig (in Engels: courage, boldness, confidence, en frankness).

Vrymoedigheid is só noodsaaklik in ons kontak en gesprek met God.  Sonder dié vrymoedigheid kan ons moeilik vir Johannes navolg waar hy skryf: “En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.  En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra, weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra.” (1 Joh. 5:14-15).

Dit is net so noodsaaklik in ons omgang met mense.  Van Paulus word bv. gesê dat hy die koninkryk van God  verkondig het en die mense van Rome “met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus Christus onderrig,” het (Hand. 29:31; vgl. Ef. 6:19). En hy wys uit hoe goeie dienswerk (diakens) in die gemeente ‘n mens se vrymoedigheid in die geloof laat groei (1 Tim. 3:13).

Ons moet egter nie net persoonlik op vrymoedigheid fokus nie, maar ons moet ons ook “daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade“, boonop sonder dat ons in die proses ons eie samekomste verwaarloos, soos sommige ongelukkig die gewoonte gehad het in sy tyd (10:24-25).

Die volwasse wordende geestelike lewe bestaan dus uit 1) persoonlike toewyding, 2) aansporing en bemoediging van medelowiges tot liefde en goeie dade, sowel as 3) gereëlde samekomste as geloofsgemeenskap.  Dít is die dinge wat ons vrymoedigheid in die teenwoordigheid van die Here bevorder en ons in staat stel om die beloftes wat Hy vir ons in vervulling wil laat gaan, in ontvangs te neem.

Boodskap
In die lig van die omvattende voorsiening wat Jesus Christus vir elkeen van God se kinders gemaak het om gemeenskap met God te geniet, is dit geen wonder dat die skrywer hulle oproep om met vrymoedigheid self die heiligdom van God in te gaan.  Die pad is oop en niks moet ons verhinder om in hierdie gemeenskap te volhard nie.  Trouens, ons moet mekaar voortdurend daartoe aanmoedig.  Enigiets minder sal dislojaal wees aan dié Een wat sy lewe daarvoor gegee het.

In die volgende hoofstukke sal die skrywer ons verder herinner aan die skare van voorbeelde van vrymoedige geloofsvolharding wat ons aanmoedig en inspireer (hfst. 11), sodat ons hierdie wedloop van geloof self met volharding sal hardloop, veral in die lig van die sonde wat ons so maklik aankleef, so maklik ons vrymoedigheid wegneem, en ons geestelik moeg kan maak (hfst. 12).

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 379 of VONKK 28 of F207

Votum

Lied 401

Verootmoediging

Lied 396

Psalm 22

Lied 383

HOOR 

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 10:16-25

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Kruiswoorde van Jesus

Lied 384 of VONKK 14

Nagmaal

Geloofsbelydenis 

Slotsang: Lied 391 of VONKK of F91.

Seën

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 379 “Jesus Christus, Lam van God” of
VONKK 28 Ons Aanbid U, Jesus Heer of
F207. U Het U Heerlikheid, O Heer

Votum
Voorganger: Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
Gemeente: Tog het Hy ons lyding op Hom geneem, ons siektes het hy gedra.

Voorganger: Maar ons het Hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.
Gemeente: Oor ons oortredings is Hy deurboor, oor ons sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (uit Jes 53:1, 4-5).

Lied 401 “Wie sal ons glo as ons vertel”

Verootmoediging
Genadige God, U het u Seun gegee om die skande van die kruis te verduur. Verlos ons van die hardheid van ons harte sodat waar ons ons Heiland aan die kruis aanskou, ons onsself sal verootmoedig, wegdraai van ons sondes en U oorvloedige liefde ontvang in Jesus Christus ons Here. Amen

Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”

Psalm 22
Voorganger (V): Psalm 22:2-6.
(Stil gebed)

V: Psalm 22:7-9.
(Stil gebed)

V: Psalm: 22:10-16.
(Stil gebed)

V: Psalm 22:17-22.
(Stil gebed)

V: Psalm 22:23-32.
(Stil gebed)

Lied 383 “Die Heiland sterf; die dag word duister”

Liedere

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK: Flam – Lydenstyd / Lof) Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty Teks en musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006 © 1985 Thankyou Music (Fil 2:5-11)

U het u heerlikheid en eer, vir die wêreld prysgegee.
U het swaar gely onder sondaarshande.
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota.
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel.

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring.
O, Here, hoor my dankgebede.
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee.
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes”
Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.
1 Petrus 2:24 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: JOANIE – Francé Ludik 2003 © © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging / Nagmaal / Lydenstyd

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers © Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding) Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en musiek: Marcel Zimmer Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ’n kruis op sy rug en ’n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.
nbsp;
2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in sy oë staan,
toe Hy roep: “Dit is volbring!”

Refrein:
Ja, ek dank U vir u genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys u genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Refrein:

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Refrein:
U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Hebreërs 10:16-25

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Betrek mense van verskillende ouderdomme deur die hele diens, om bv. van die skriflesings te doen, aan die Nagmaalstafel te sit, die tekens uit te deel, ens.

Gebruik hierdie tyd om die verhaal van Jesus se kruisiging te vertel.  Jy kan videos gebruik, soos:
Wild Bible vertelling van kruisiging.

Die pragtige “Jesus Storybook Bible” (beskikbaar op Kindle) is aangrypend en heeltemal die moeite werd om aan te skaf!  Daar is ook video-weergawes van elke hoofstuk beskikbaar.  Jy kan Hoofstuk 39 “The Sun stops shining” vir $1.99 aankoop.

Hier is ‘n inkleurprent wat kinders kan inkleur tydens die preek.  Jy kan hulle dalk vra om dit na die preek vir die gemeente te kom wys.  Moedig hulle aan om na die preek te luister terwyl hulle inkleur – dis nie toestemming om nie te luister nie!

Preekriglyn

“Jong held wen talle harte!” As daar ten tye van Jesus se dood koerante in Jerusalem was, sou dit die opskrif wees wat mens nié op koerante se voorblaaie sou sien nie. Só skryf die teoloog NT Wright. Toe Jesus van Nasaret die verskriklike dood deur kruisiging aan die hand van Romeinse soldate gesterf het, het niemand gedink Hy is ‘n held nie. Niemand het gedink sy dood is ‘n oorwinning, of dat hy ‘n heldhaftige martelaar was uit wie se sterwe goeie gevolge vir die wêreld sou spruit nie.

Sy volgelinge was ook nie ‘n dinamiese beweging nie. As hy ‘n beweging wou begin, is dit saam met Hom dood. Nog ‘n voortvarende jong leier het hom teen Rome vasgeloop. Ja, dis waarmee Rome so goed was. Om moeilikheidmakers wreed te laat sterf en bewegings in die kiem te smoor.

Behalwe, in Jesus se geval, was die kruis die geboorte van ‘n nuutgemaakte wêreld. Toe Jesus se volgelinge in die lig van wat kort na die kruis gebeur het, op die kruisgebeure terugkyk, het hulle met ‘n skokkende aanspraak gekom. Die aanspraak was, soos teoloog NT Wright skryf, dat Jesus se kruis ‘n revolusie ontketen het. Jesus het die wêreld verander. Teen sononder, op Goeie Vrydag, nadat Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, was die wêreld ‘n ander plek. Niks sou weer dieselfde wees nie.

Dit was omdat God in Jesus, en in sy sterwe, aan die werk was. “Goeie Vrydag,” sê NT Wright, “is die dag waarop God se wêreldwye revolusie begin.”

Waarom dink die skrywers van die Nuwe Testament met soveel vreugde aan Jesus se dood? Waarom is dit vir mense ‘n bron van lewe? Omdat Jesus se dood die versoening tussen God en wêreld is, en die pad na God se volkome herstel van God se skepping, mense ingesluit, moontlik maak.

Vandag gaan ons nie op al die fasette van hierdie wonderlike boodskap ingaan nie. Ons gaan veral fokus op die aspekte van die vreugde oor Jesus se dood soos ons spesifieke teks dit uitlig.

‘n Volkome offer vir ons sonde

Ons teks beklemtoon in vers 17 dat God, op grond van Christus se offer aan die kruis, nooit meer aan ons sondes en oortreding dink nie. Dit is omdat Christus se offerdood die volkome versoening vir ons sondes is. Vers 18: “Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.”

Waarom is dit goeie nuus? Verbeel jou jy is ‘n Joodse man of vrou wat in die Ou Testament, ten tye van die tempel, leef. Jy gaan vandag weer tempel toe, weer om ‘n offer te bring vir jou skuld. Jy hoor weer die offerdiere, jy betaal weer verhoogde pryse vir ‘n geskikte offerdier en dan stap jy vorentoe. Jy sien weer die priesters wat reeds by die altaar staan met ander offerdiere, wat weer vir jou en ander se skuld gegee word. Jy sien weer hoe die priester jou offerdier verbrand en hoor weer hoe jou skuld vergewe is.

Dan stap jy weg. Maar weer met die gevoel dat alles nog nie heeltemal pluis is nie, dat wat hier gebeur het net gedeeltelik was, voorlopig. Met die wete dat jy waarskynlik weer binnekort deur die ritueel moet gaan, want om een of ander rede bly jy sukkel om te doen wat God wil, sukkel jy om Hom te volg. Asof wat God vra net nie wil insink in jou hart nie.

Geen gerusstelling nie

Vanaf hoofstuk 10:11 vertel die Hebreërbriefskrywer hoe hierdie ou offerstelsel geen finale gerusstelling vir mense kon bring nie. Hy wys op die duidelike verskil tussen die priesters en offers van die ou verbond en Jesus Christus, die Priester van die nuwe verbond. Een van die verskille is dat die priester staan en offer, terwyl Jesus sit nadat Hy Homself geoffer het (verse 11-12). Die priesters se werk moet daagliks voortgaan, terwyl Jesus se werk (sy offer) klaar en afgehandel is.

Die priesters bring daagliks dieselfde offers, oor en oor, offers wat nie werklik effektief is nie. Jesus het egter net een offer gebring, wat volkome effektief en finaal is.

Afgehandelde versoening

Goeie Vrydag is dus die goeie nuus dat Christus ons wat Hom volg vir eens en altyd volkome met God versoen het. Die goeie nuus is dat niks verder nodig is nie, dat mens nooit weer deur die herhaling van een of ander offerstorie hoef te gaan nie. Ons is werklik vergewe en vry is, vir altyd.

Hierdie boodskap kan vir ons so bekend raak, dat ons die radikale aard daarvan mis. Op ‘n eenmalige manier, op ‘n Vrydag in Jerusalem, toe almal teen die Gesalfde van God saamgespan en Hom gekruisig het, het God se Gesalfde ‘n volkome en finale offer vir ons sonde gebring.

Die geloof in Jesus, wat God in ons werk, is die leë hande wat ons uitsteek om hierdie volkome verlossing te omhels en ‘n werklikheid in ons lewens te laat word. Ons hoef dit nie te verdien nie, dit word gegee. Ons hoef God nie eers te plesier om dit te ontvang nie. Ons hoef onsself nie eers te verbeter nie. Ons steek net ons sondige hande uit.

Vrymoedigheid

Die vrug van Christus se volkome offer is dat ons die heiligdom, dit is die teenwoordigheid van God, met “vrye toegang” (vers 19) kan betree. Die Ou Afrikaanse vertaling vertaal met “vrymoedigheid”. Die Griekse woord is “parrésia”

Prof. Dirkie Smit verduidelik dat parrésia ‘n objektiewe en subjektiewe betekenis het. Ons het – objektief – vrye toegang tot God, die deur staan in Christus oop. Niks verhinder meer dat ons by God kan uitkom nie. Subjektief moet ons dan vrymoedigheid neem om deur daardie deur te gaan, in gemeenskap met God te lewe.

Vir Hebreërs is die objektiewe betekenis verskriklik belangrik. Christus se offerbloed het die deur oopgemaak. Christus is ons vrymoedigheid. Ons het in onsself geen regte of gronde om op te steun nie. Ons verkry hierdie toegang op grond van Christus se volmaakte offer aan die kruis.

Hebreërs moedig ons aan om hierdie reg – subjektief – te gebruik. In vers 22 sê hy: “Laat ons tot God nader…”

Moenie wegbly nie

Aangesien Christus ons volkome vergifnis en vrye toegang tot God skenk, moet ons nie laks wees nie. Ons moet dit toe-eien en dit gebruik. Daarom bestaan die laaste gedeelte van ons teks aan aanmoedigings om dit wat aan ons geskenk is, te gebruik:

  • Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. (22)
  • Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. (23)
  • Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. (24)
  • Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (25).

Dit is soos ‘n lewe lyk wat gebou is op die Rots, Jesus Christus. Dit is ‘n lewe wat gebou is op gemeenskap met God, en ook gemeenskap met medegelowiges. Christus red immers nie net individue nie, maar bind deur sy redding individue saam tot familie van God en familie van mekaar.

Mag ons vandag opnuutversterk word deur wat Christus vir ons gedoen het, en leer om vanuit Christus se groot verlossingsdade te lewe.

Só word ons deel van die lewensvernuwende revolusie wat die jong held, Jesus Christus, een maal op ‘n Goeie Vrydag begin het.

God stuur ons om te leef

Kruiswoorde van Jesus:
Voorganger (V): Jesus het gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”
(Stil nadenke)

V: Jesus het gesê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
(Stil nadenke)

V: Jesus het vir sy moeder gesê: “Daar is u Seun.” Daarna sê hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
(Stil nadenke)

V: Jesus het hard uitgeroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” dit is: My God, my God waarom het U My verlaat?
(Stil nadenke)

V: Hierna het Jesus gesê: “Ek is dors.”
(Stil nadenke)

V: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
(Stil nadenke)

V: Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”
(Stil nadenke)

OF voorbidding aan die hand van die kruiswoorde – sien Woord en Fees.

Lied
Lied 384 “Jesus, o dink aan my” of
VONKK 14 Hy Het Self Ons Sondes

Nagmaal

Geloofsbelydenis
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n Blom na die Son Draai”)
V: Saam met dié wat getuies was van die gebeure van die eerste Goeie Vrydag bely ons in die geloof … Saam met Judas Iskariot …
G: dat ons soms self ’n onskuldige Man verraai.

V: Saam met Simon van Sirene …
G: dat wanneer jy Jesus volg, sy kruis ook jou kruis word.

V: Saam met die Romeinse soldaat …
G: dat ook ons afgestomp raak vir ander se nood.

V: Saam met Maria …
G: dat ons mekaar nodig het om Jesus enduit te volg.

V: Saam met die sterwende misdadiger …
G: dat ’n regverdige Man gesterf het.

V: Saam met die Romeinse offisier …
G: dat hierdie Man werklik die Seun van God is.

V: En nou bely ons ook saam met die wolk van geloofsgetuies deur die eeue heen …
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe. Amen.

Slotsang
Lied 391 “Vervul, o Heer, my hart” of
VONKK 55 Jesus, Toe U Mens Geword Het of
F91. U Genade Vir My Is Genoeg

Seën
V:  Dit is volbring!
G:  Amen

V:  Ons gaan hiervandaan in stilte huis toe.  [Die stilte is ‘n herinnering aan die onvoltooidheid – ons het vandag Jesus se kruisdood herdenk, maar dit is nie die einde nie.  Sondag lê voor!]