Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Die Goeie Vrydagdiens is steeds deel van die Triduum – die diens wat strek vanaf Wit Donderdag tot Paassondag. Dit is dus ‘n voortsetting van Wit Donderdag se diens wat ‘n oop einde gehad het. Die Goeie Vrydagdiens eindig weer oop sodat die gemeente met afwagting kan uitsien na Paassondag – die hoogtepunt van die verhaal!

Indien die nagmaal gevier word, kan die gedekte tafel gereed wees in die liturgiese ruimte, maar vandag met ‘n swart tafeldoek oor. Die kruis het steeds ‘n swart behangsel oor.

Gebruik gemeentelede as “stil akteurs” met die lees van die passienarratief hierna om die onderskeie gedeeltes van die narratief uit te beeld. Die gedagte is dat ‘n voorganger die tekste lees en die karakters van daardie betrokke teks net in een spesifieke posisie hulle plek inneem in die liturgiese ruimte om die spesifieke gedeelte van die narratief uit te beeld. Die karakters kom ook net op vir hulle teksgedeelte en verdwyn weer daarna soos die volgende teksgedeelte se karakters opkom. Soos die karakters afgaan na hulle teksgedeeltes, stroop hulle ook die liturgiese ruimte.

Ander tekste

Jesaja 52:13 – 53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.

53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie. i
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Psalm 22
U het my gebed verhoor
22 Vir die koorleier: op die wysie van
“Die wildsbok van die daeraad”.
’n Psalm van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basan
staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Hebreërs 10:16-25
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Hebreërs 4:14-16; 5:7-9
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.
4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Fokusteks

Johannes 18:1-19:42
Jesus word gevange geneem
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ‘n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.
7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”
8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”
9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”
10Simon Petrus het ‘n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69–70; Mark. 14:66–68; Luk. 22:55–57)
15Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.
18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”
22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”
23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Petrus verloën Jesus weer
(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”
26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”
27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ‘n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”
30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ‘n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”
31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”
32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.
33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”
34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”
35“Ek is mos nie ‘n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”
36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
37“Dan is jy tog wel ‘n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ‘n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”
38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”
40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ‘n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ‘n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ‘n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”
5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”
7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ‘n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ‘n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”
13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”
15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ‘n koning nie; ons het net die keiser.”
16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
19Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”
22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Luk 23:44–49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
29Daar het ‘n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ‘n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” s37En verder sê die Skrif op ‘n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Luk 23:50–56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ‘n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ‘n tuin en in die tuin ‘n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Ekstra stof 

Johannes 18:1–40 – Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir my
Die verhaal van Getsemane tot net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.

18:1-11: Let op dat Jesus nie terugdeins vir die inhegtenisneming nie, en Homself identifiseer aan die soldate en wagte.  Sy beheer van die situasie blyk ook uit die toegestane versoek dat die dissipels nie ook gevange geneem sal word nie.

Hy kies dus om dié roete van die kruis te volg, en nie met geweld die koninkryk van God te  vestig nie.  Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig.  Hy moet die lydensbeker drink – dit is sy opdrag en daaraan wil Hy gehoorsaam wees.

Let ook op hoe beide Judas en Petrus steeds ‘n prominente rol speel soos in hoofstuk 13.  Judas verraai Jesus, en verwerp daarmee die genade.  Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ‘n verkeerde manier.

18:12-14: Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester en skoonpa van die huidige hoëpriester Kajafas.  Hy was ‘n besondere invloedryke man wat ook 5 seuns gehad het wat almal op ‘n stadium hoëpriester was.

18:15-18: Petrus en Johannes (die “ander dissipel”) gaan agter Jesus aan, maar Petrus verloën Jesus dan wanneer die deurwagter diensmeisie hom konfronteer by die vuurtjie.

18:19-24: Dit is waarskynlik steeds Annas wat Jesus ondervra oor sy leer (vgl vers 24).  Jesus verwys hom egter net na dié wat sy lering al tevore gehoor het, onder ander natuurlik Nikodemus, en wil niks meer daarby voeg nie.  Let op hoe Jesus die onregverdige hou van die wag hanteer – hy slaan nie terug nie, maar vra na die logika daaragter en stel so die onreg daarvan bloot.

18:25-27: Petrus verloën Jesus nog twee keer teenoor mense wat saam met hom hulself warmmaak by die vuurtjie, waarvan die laaste een familie was van Malgus, en in die tuin teenwoordig was met Jesus se inhegtenisneming.

18:28-40: Die verskyning voor Kajafas word nie vertel nie, wel die volgende verskyning voor Pilatus die Romeinse goewerneur van 26-36 nC.  Let op hoe skynheilig die Jode optree – hulle gee nie om om iemand ter dood ter veroordeel nie, maar is wel bekommerd dat hulle onrein sal word as hulle die ampswoning sou betree wat dan sou beteken hulle dan nie die paasmaaltyd kon eet en vir 7 dae nie aan die Paasfees kon deelneem nie.

Pilatus vra uit oor die aanklag, soos die wet vereis, maar kry nie baie detail by die Jode nie, net ‘n verdediging van hulle optrede.  Uit Jesus se skrapse antwoorde kan Pilatus ook nie sin maak nie, hoewel dit vir die ingeligte leser duidelik blyk dat Jesus ‘n sinopsis gee van sy bediening, soos Johannes in die proloog (Joh 1:1-14) al bekend gemaak het.  Hy praat oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie, van die waarheid waarvan Hy kom getuig het, dat Hy van God af gekom het, en dat almal wat aan die waarheid behoort (onthou Jesus is self die Waarheid!) sal luister na wat Hy sê.

Pilatus vind – soos te verwagte – geen skuld in Jesus nie.  Maar, sy oordeel laat hom liederlik in die steek.  Hy wil nie moeilikheid van die Jode af hê nie, wat die gramskap van Rome sou kon ontlok, en kies om hulle tevrede te probeer stel, deur hulle ‘n keuse tussen Barabbas, ‘n bewese misdadiger, en Jesus te gee.  Hy meen dat hy ‘n uitweg vir homself gekry het uit die dilemma met hierdie troefkaart.  Pilatus se keuse boemerang egter lelik deurdat die Jode kies om Barabbas los te laat word en nie Jesus nie.   Dit beteken dat die tafel gedek is vir die kruisiging.  Die Jode se keuse vir Jesus bevestig egter ook hulle eie misdadigheid.

Watter opeenstapeling van verspilde kanse.  Judas verspeel sy kans op inkeer.  Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.  Pilatus verspeel sy kans om Jesus ‘n regverdige verhoor te gee.  En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen.  Hy gaan nie die verraaier teë nie.  Hy dwing die Jode nie tot verering nie.  Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie.  Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.

Johannes 19:1-42 – Dit is volbring!
In vier bedrywe word die kruisigingsverhaal vertel:

  1. Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – 19:1-16;
  2. Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – 19:17-27;
  3. Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – 19:28-37;
  4. Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – 19:38-42.

19:1-16: Jesus moet die pyn van die kruisigingsproses deurstaan (die geseling was met ‘n sweep wat uit ‘n klomp rieme bestaan het, waaraan stukkies been en metaal vasgewerk is), sowel as die ekstra vernedering van die doringkroon en die pers mantel met die soldate wat met Sy koningskap spot.  Hy kies ook om nie Pilatus se onskuldigbevinding en duidelike ongemaklikheid met die situasie uit te buit tot sy voordeel.  Die uitlewering van ‘n onskuldige Jesus aan die Jode is eintlik ‘n verkragting van die Romeinse regstelsel.  Selfs wanneer Pilatus egter bang raak vir die dreigemente van die Jode, en dit duidelik blyk dat hy ‘n manier soek om Jesus los te laat, staan Jesus nie die boosheid van die Jode en die wispelturigheid van Pilatus teë nie.

Wat ‘n mens dus raaksien tussen die weifelende maar ook strategiese Pilatus (sy amnestie prosedure met Barabbas het nie gewerk nie, nou probeer hy lyfstraf om hulle simpatie met Jesus te probeer ontlok, wat ook nie werk nie) en die moorddadige skynheilige Jode, is ‘n kalm roepingsbewuste Jesus wat die rol wat God Hom gegee het, tot die einde toe speel.  Dít is waarvoor Hy na die wêreld gekom het – om sy lewe te gee vir sy skape, dié wat in Hom glo – en dít is waarvoor Hy Homself nou oorgee.  Let op, Hy wys Pilatus (en voor dit ook die Jode) op die betekenis van wat hulle doen, maar Hy keer hulle nie om hulle planne en keuses uit te voer nie.

En hoe verskriklik klink die woorde van die Jode nie: “Ons het nie ‘n koning nie, ons het net die keiser.”  En daarmee voltrek hulle ook die oordeel oor hulleself, want hulle verwerp dié
Een wat vir hulle die lewe kon gee (soos Israel destyds in Samuel se tyd – 1 Sam 8:7).

19:17-27: Die reis van Gabbata na Golgota begin.  Dit is ‘n reis vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe.  Die een kies om sy lewe te behou, en sal dit verloor.  Die Ander kies om sy lewe te gee, en sal dit uiteindelik behou.

Die moordenaars wat langs Jesus gekruisig is, word wel genoem, maar Johannes kies om nie meer detail oor hulle te vertel nie.  Ironies genoeg verklaar die opskrif oor Jesus presies wie Hy in werklikheid is, al het Pilatus min daarvan besef.

Die vier soldate se verdeling van sy klere word deur Johannes as vervulling van Ps 22:19 beskou, ‘n Psalm waarin ‘n hele paar Messiaanse betekenisse gehoor kan word. Ironies genoeg staan daar ook vier vroue – saam met Johannes – by die kruis: 1 Maria, Jesus se ma, 2) haar suster (waarskynlik Salomé – Mark 15:40), 3) Maria, die vrou van Klopas (waarskynlik dieselfde persoon as Kleopas waarvan ons in Luk 24 lees), en 4) Maria Magdalena (van Magdala), dié een wat die voorreg sou hê om die eerste die leë graf te beleef (hfst. 20).

Let op in hoe ‘n kontras Johannes Jesus teenoor Pilatus plaas.  Pilatus het uit vrees opgetree en Jesus onskuldig laat sterwe.  Jesus het uit liefde opgetree en hier in sy sterwensuur nog ‘n liefdesdaad vir sy ma verrig, deur haar aan Johannes toe te vertrou – die eerste kruiswoord waarvan Johannes ons vertel.

19:28-37:  Dit bly moeilik om oor Jesus se dood te skrywe – al besef ‘n mens dat Hy dit gekies het, dat God Hom daarvoor gestuur het, en dat dit die lewe vir my en duisende ander beteken het.

Die ander twee kruiswoorde wat Johannes beskryf vat egter vir my op pynlik-inspirerende wyse vas wat hier gebeur.

  • Jesus is volledig mens wat pyn en lyding ervaar presies soos wat ek dit doen: “Ek is dors” (‘n aanhaling uit Ps 69:22 wat hier ‘n Messiaanse betekenis kry).  En ten spyte van sy dors volhard Hy onwrikbaar op die lydenspad.
  • En met ‘n laaste woord voltooi Hy sy missie en lewensroeping: “Dit is volbring”.  Hy het die wenstreep behaal en die geloof behou.

Die gebruik was om gekruisigdes se bene te breek om die dood te verhaas. Anders kon gekruisigdes vir ‘n paar dae lank so lank as moontlik probeer regop staan om die dreigende versmoring (long- en hartversaking) as hulle aan hulle arms sou hang, te vermy.  Vir Jesus was dit egter nie nodig nie, omdat Hy Homself aan die kruisdood oorgegee het en reeds dood was.  Johannes verbind dit aan Ps 34:21 (hy sou ook na Eks 12:46; Num 9:12 kon verwys waar die Paaslam se bene ook nie gebreek is nie) en haal ook Sag 12:10 aan wat van die “deurboring”  praat, soos die soldate dit inderdaad uitgevoer het.

19:38-42: Josef van Arimatea en Nikodemus, die twee geheime dissipels, vra vir Jesus se liggaam en begrawe Hom in ‘n tuin naby aan Golgota teen die aand van die Vrydag, Goeie Vrydag.

Ons het baie voorbeelde van helde wat volhard het met hulle opdragte of enduit volgehou het met ‘n spesifieke lewenstaak.  Maar daar is niemand wat meer gedoen het as Jesus nie, veral as ‘n mens die blote vernedering van menswees vir God, en die afgryslike vernedering van ‘n onskuldige kruisdood in ag neem.

Liturgie

Omdat die fokusteks ‘n lang Skrifgedeelte is, kies ons om dit as een stuk liturgie te gebruik, afgewissel met ander elemente. Dit sal sinvol wees om lidmate te laat deelneem aan die liturgie, van begin tot einde.

Die volgende suggesties (Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13) kan ook sinvol in die diens gebruik word.

  • Die diens begin in stilte, met so min beweging in die liturgiese ruimte as moontlik.
  • Gepaste simbole kan as fokus vir die diens in die liturgiese ruimte geplaas word – ’n kruis, ’n plek waar gemeentelede kerse kan opsteek.
  • Sagte orrelmusiek vir tien minute voor die diens help die gemeente om stil te word.

Aanvangswoord

Seëngroet: (Openbaring 1:4-6)

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing/ Prediking: Johannes 18:1-19:42

Gebed: Apostoliese Geloofsbelydenis

Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Offergawes

Wegsending: Lied 385 “Loof die Here, dis volbring 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Omdat die fokusteks ‘n lang Skrifgedeelte is, kies ons om dit as een stuk liturgie te gebruik, afgewissel met ander elemente. Dit sal sinvol wees om lidmate te laat deelneem aan die liturgie, van begin tot einde.

Die volgende suggesties (Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13) kan ook sinvol in die diens gebruik word.

  • Die diens begin in stilte, met so min beweging in die liturgiese ruimte as moontlik.
  • Gepaste simbole kan as fokus vir die diens in die liturgiese ruimte geplaas word – ’n kruis, ’n plek waar gemeentelede kerse kan opsteek.
  • Sagte orrelmusiek vir tien minute voor die diens help die gemeente om stil te word.

Aanvangswoord
U het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na u sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van u sou hou nie.
U was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
U was verag,
ons het u nie gereken nie.
4Tog het U óns lyding op Uself
geneem,
óns siektes het U gedra…
(Uit Jes 53)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
(Openbaring 1:4-6)

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Liedere

VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”
Nav Psalm 139 : 12
Teks: La ténèbre – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Gerrit Jordaan 2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Afrikaans in hierdie weeergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Al die donker is nooit net donker in u sig.
Die nag, net soos die dag, word deur U verlig.

La ténèbre n’est point ténèbre devant toi:
La nuit comme le jour est lumiére.

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en Musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het U heerlikheid en eer, vir die wêreld prys gegee
U het swaar gely onder sondaarshande
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring
O, Here, hoor my dankgebede
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here Jesus, vandag word ons weer in verbystering stil voor u liefde: dat U gekom het na die wêreld toe om te sterf. Ons is verbyster daaroor, Here, want dis nie soos ons is nie. Dankie dat U nie soos ons is nie, Here. Dankie dat U Uself gegee het tot in die dood. Dankie dat U ons Verlosser geword het.
Ons aanbid U, Here Jesus, Koning van die kerk en van ons lewe. Wil U tog op hierdie dag opnuut Uself aan ons verbind; wil U ons asseblief deur u Heilige Gees verander dat ons soos U kan word, U kan navolg, onsself kan aflê. Word U tog meer in ons, Here Jesus, sodat dit nie meer ons sal wees wat lewe nie, maar U in ons!
Seun van God wat gekom het om u lewe vir ons af te lê, hoor ons gebed! Skenk ons die visie, o Vader, om soos U na die wêreld te kyk. Om nie die wêreld te sien as ’n probleem nie, maar as mense wat u liefde en u genade nodig het, as mense wat iewers langs die pad die spoor byster geraak het, sodat  U in Christus Jesus hulle weer kom soek het. Vergewe ons dat ons net dié liefhet wat vir ons liefhet, dat ons net vir hulle bid wat naby ons staan, dat ons tevrede is om met ons eie klein kringetjie gelowiges voort te gaan.
O Vader wat nie behae het in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom bekeer en kan lewe, hoor ons gebed!
En nou, o Gees van God, bid ons dat U in ons sal werk, sodat Christus in ons lewe verheerlik sal word. Bly met ons besig, o Gees, totdat die dag kom waarop elke knie voor Christus sal buig en elke tong sal bely: Jesus is Here!
Dit alles vra ons met die gebed dat U verheerlik sal word in ons.
Amen.
(Communitas, 29 Maart 2002)

Skriflesing/ Prediking
Jesus word gevange geneem– Joh. 18:1-11;
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.
3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.
7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”
8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”
9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”
10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh. 18:12-14
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh. 18:15-18;
15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.
18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh. 18:19-24;
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”
22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”
23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Lied 384 “Jesus o dink aan my” Afr + Eng

Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh. 18:25-27;
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”
26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”
27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Geleentheid vir stilte/ stilgebed
Pilatus verhoor Jesus – Joh. 18:28-40.
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”
30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”
31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”
32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.
33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”
34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”
35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”
36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”
38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”
40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Lied 392 “O Lam van God onskuldig 1”

Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – Joh. 19:1-16;
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.
4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”
5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”
6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”
7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”
8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”
11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”
12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”
13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”
15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”
16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Ruim geleentheid vir stilte/ stilgebed
Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – Joh. 19:17-27;
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.
19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”
22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.
25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2,3”

Lied 387 “O Heer uit bloed en wonde 1,2,3,4”

Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – Joh. 19:28-37;
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”
29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.
35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

Tyd vir stilte/ oordenking

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – Joh. 19:38-42.
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.
41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Alternatief: Die Passienarratief  kan ook gebruik word of met bogenoemde kombineer word.
Met die lees van die onderstaande passienarratief, kan gemeentelede gebruik word as “stil-akteurs” om die onderskeie gedeeltes van die narratief uit te beeld. Die gedagte is dat ‘n voorganger die tekste lees en die karakters van daardie betrokke teks net in een spesifieke posisie hulle plek die liturgiese ruimte inneem om die spesifieke gedeelte van die narratief uit te beeld. Die karakters kom ook net op vir hulle teksgedeelte en verdwyn weer daarna soos die volgende karakters opkom.

Passienarratief
Sameswering teen Jesus
Voorganger lees Markus 14:1-2.

Uitbeelding
Leierpriesters staan in halfsirkel en lyk asof hulle saamsweer.

Die salwing in Betanië
Voorganger lees Markus 14:3-9.

Uitbeelding
Jesus sit op stoel en vrou staan met fles oor sy kop. Mense, onder andere Judas van die volgende uitbeelding, staan met hande voor monde en aankyk.

Judas Iskariot onderneem om Jesus te verraai
Voorganger lees Markus 14:10-11.

Uitbeelding
Weer halfsirkel van leierpriesters met Judas Iskariot hierdie keer by.

Die pasga
Voorganger lees Markus 14:12-21.

Uitbeelding
Jesus en sy dissipels sit rondom gedekte nagmaaltafel gereed om te eet.

Jesus stel die nagmaal in
Voorganger lees Markus 14:22-31.

Uitbeelding
Jesus en sy dissipels bly sit rondom die tafel, maar Jesus tel nou die nagmaalbeker op en hou dit in die lug.

Jesus in Getsemane
Voorganger lees Markus 14:32-42.

Uitbeelding
Jesus sit eenkant en bid en drie dissipels sit-lê in ander hoek teen mekaar en slaap.

Jesus word gevange geneem
Voorganger lees Markus 14:43-52.

Uitbeelding
Judas staan eenkant en toekyk hoe soldate Jesus gryp en die drie voorheen slapende dissipels lyk bang.

Jesus voor die Sanhedrin
Voorganger lees Markus 14:53-72.

Uitbeelding
Leierpriesters sit nou in ‘n halfsirkel op stoele en kyk na Jesus wat in die soldate se hande voor hulle staan.

Jesus verskyn voor Pilatus
Voorganger lees Markus 15:1-15.

Uitbeelding
Jesus in soldate se hande staan nou voor Pilatus. Met die lees van vers 15, kan Pilatus sy regterhand oplig as bevel dat Jesus gekruisig moet word.

Die soldate bespot Jesus
Voorganger lees Markus 15:16-20.

Uitbeelding
Jesus staan in die middel met soldate rondom Hom wat lag.

Jesus word gekruisig
Voorganger lees Markus 15:21-41.

Uitbeelding
Jesus staan teen kruis – arms op. Soldate is nog steeds laggende rondom Hom, maar daar is ook vroue en dissipels wat huil. Met die lees van vers 34 kan Jesus opkyk en met die lees van vers 37 sy kop laat sak asof hy sterf.

Jesus word begrawe
Voorganger lees Markus 15:42-47.

Uitbeelding
Jesus lê nou in ‘n “graf” met Josef van Arimatea en twee vroue wat by kruis gehuil het wat ook toekyk.

Familie-oomblik

Preekriglyn

[Nota: Dit word aanbeveel dat die lang teksgedeelte ten volle in die erediens voorgelees word. Daar word dan kort gepreek.]
Johannes het in sy evangelie ‘n ander perspektief op die kruisverhaal in vergelyking met die eerste drie evangelies.
Terwyl die eerste drie (Matteus, Markus en Lukas) baie sterk op die gewelddadigheid van die toneel fokus, bied Johannes ‘n weergawe wat spreek van Jesus se gesag en beheer, selfs in die benouendste oomblikke op sy lydensweg.

Jesus is in beheer

Reeds so vroeg as 12:23 het Jesus aangekondig dat sy uur nou gekom het. Hierdie is egter ‘n uur vir verheerliking. Dit sal blyk dat Jesus dat Jesus in beheer bly en kies om sy lewe te gee in diens van ander.

Wanneer die bekende voetwassing in Johannes 13 aanbreek, word dit ingelui met die bevestiging dat Jesus besef sy tyd om die aarde verlaat, het nou aangebreek. Anders as in die eerste drie Evangelies is dit gevolglik ook nie Judas wat stilletjies uitglip nie. Jesus stuur hom gewoon uit (Joh 13:27). Na die ete van hoofstuk 13 is daar ‘n afskeidstoneel met voorbidding en nie die angstoneel van Getsemane nie.

Wanneer die soldate en Judas Jesus in die tuin naby die Kedronspruit aantref, stap Jesus nader en kondig drie keer aan: “Ek is (die Een).” Daar is geen soen van verraad nie; Jesus help trouens die soldate om te doen waarvoor hulle gekom het.

Selfs tydens sy ondervraging, eers deur Annas en later deur Pilatus, is Jesus nie die stom(me) lydende met wie ons medelye moet hê nie. Hy is die Seun van God wat onderweg is om verheerlik te word aan die kruis. Daar sal Hy opgelig word om ten aanskoue van almal daar rond die aanbreek van die heil (vgl Joh 12) aan te kondig.

Nadat Hy self sy kruis gedra het, rig Hy selfs ‘n finale woord aan sy geliefdes onder die kruis wanneer Hy die nuwe familiebande tussen die geliefde dissipel en Maria toelig. Aan die einde van sy lyding op die punt van sterwe, rapporteer Johannes die finale oorwinnings-kreet, “dit is volbring”, nie die angswekkende woorde van die Sinoptici nie.

Troos en bemoedig

Johannes skets ‘n toneel wat troos en bemoedig. Terwyl die wêreld in rep en roer is en die ergste dinge Jesus toeval, bly Hy triomfantelik. Hy wyk nie af van sy lydensweg nie. Johannes help ons met ‘n belangrike perspektief aangesien brutaliteit sonder die troosvolle verwysing na Jesus se (triomfantelike) pad van verheerliking bloot brutaal sou wees. Sonder Johannes se perspektief sou ons kwalik van ‘n Goeie Vrydag kon praat. Ons sou verder beswaarlik onsself in die toneel kon inleef. Met dit gesê, is daar egter die gevaar dat ons kan verdwaal in ‘n ontvlugting van die werklike betekenis.

Jesus se medelye

Johannes bied ‘n verhaal om ons bewus te maak van die heil in die kruisdood van Jesus. ‘n Verhaal van die sterwe van die Paaslam en die heil vir die wêreld. Dit is daarom ‘n verhaal wat vertel van die medelye van die Seun van God met die wêreld in nood, eerder as ‘n verhaal wat ons oproep om medelye te hê met die Seun van God wat ly en sterf. Die verskil is subtiel maar deurslaggewend!

Kyk ons na die kruis en kry Jesus jammer, of sien ons die gewelddadige dood, die bloed en wonde met die besef dat dit spreek van God se medelye met slagoffers van brutaliteit en geweld? Johannes se triomfantelike lydensverhaal help ons om te fokus op die God van medelye en die koste van ons heil, eerder as ons medelye met hoe erg Christus moes ly. Daar is immers genesing vir ons in sy wonde.

Volg Jesus

In ‘n verrassende wending roep die verhaal volgelinge van die triomfantelike lydende Seun van God op om Hom te volg in sy lyding. Hierop het Hy reeds in Johannes 12:26 gesinspeel! Verder bemoedig Jesus se voorbeeld elkeen wat Hom volg en uitgelewer is aan die magte van die wêreld, om nie te swig nie maar te volhard. Dit is immers deur Hom te volg, dat ons sal wees waar Hy is.

Goeie Vrydag is daarom presies dit: ‘n GOEIE Vrydag. Deur die vrywillige dood van die Goeie Herder wat sy lewe vrywillig vir sy skape aflê, het God die finale stryd oor die dood en boosaardigheid behaal; selfs waar dit lyk asof die boosaardigheid die oorhand het. Aan die hand van die Johannesevangelie is dit ‘n dag om die triomfantelike verhoging van die Seun van God te herdenk. Ek wens jou daarom in sy Naam ‘n Goeie Vrydag toe!

God stuur ons om te leef

Gebed
Almagtige en ewige God
U het ons deur die triomfantelike dood en
opstanding van Christus
tot die lewe herstel:
gaan voort met hierdie genesende werk in ons
en gee dat ons wat in hierdie bediening deel
nooit ophou om U met toewyding te dien nie;
ons vra dit deur Christus onse Here. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Lied 400“Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Offergawes

Wegsending: Lied 385 “Loof die Here, dis volbring 1,2”

Seën
Here,
stort u oorvloedige seën oor u mense uit
wat met toewyding die dood van u Seun herdenk het
in die vaste hoop van die opstanding:
skenk hulle vergifnis, en troos hulle:
mag hulle geloof sterker word
en hulle ewige verlossing verseker wees. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.