Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Goeie Vrydag is die dieptepunt van Lydenstyd en die fokus van die erediens val op die kruisiging van Jesus. Die atmosfeer van die Goeie Vrydag-erediens is sober en gewyd en daar is geen versierings in die kerk op Goeie Vrydag nie. Na die viering van die nagmaal op die Donderdagaand is dit belangrik dat die kerk “gestroop” word van ikone en simbole wat in die week gebruik is om vir mense ‘n ruimte te skep waarin hulle kan nadink oor die lydensweg van Jesus. (Die “stroop” van die gebou na afloop van die nagmaal kan in ‘n mooi ritueel omskep word waaraan gemeentelede kan deelneem.) Al wat oorbly in die kerk is die Christuskers wat in doringdraad toegedraai is en op ‘n prominente plek in die kerk geplaas word.

Daar is weinig gemeentelede wat al die meditasies en dienste van Palmsondag tot Paassondag sal bywoon, tog is mense geneig om die Goeie Vrydag-diens by te woon. Daarom is dit belangrik om voort te bou op die spanningslyn van die meditasies in die week, maar om ook ‘n unieke en besondere ervaring te skep deur middel van die Goeie Vrydag-diens. Daarom is dit sinvol om die verhaal aan die orde te stel.

Benewens die RCL-tekste vir hierdie erediens, kan die verhaal soos dit in die Evangelies gevind word met groot vrug gebruik word om die gemeente in te lei in die diepte van die gebeurtenis wat ons op die dag herdenk.

Dit is belangrik om die konteks waarbinne Goeie Vrydag staan aan die begin van die erediens aan die gemeente te verduidelik. Die liturgie gaan nou die verhaal opneem vanaf die punt waar Jesus die pasga saam met sy dissipels gevier het (soos die nagmaal gisteraand). Verduidelik ook die meditatiewe en responsoriese aard van die liturgie, dat die gemeente telkens geleentheid gaan hê om, deur ‘n lied of stilte, op die Skrifgedeeltes te reageer. Gepaste beelde kan tydens die lees van die afsonderlike Skrifgedeeltes vertoon word.

Ander tekste

Psalms 22:1-32 ()
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basan
staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Hebreërs 10:11-31 ()
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.

15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

God straf die opsetlike sondes
26Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27Daar bly alleen ’n verskriklike verwagting oor van oordeel en ’n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30Ons weet tog wie Hy is wat gesê het:
“Dit is mý reg om te straf;
Ek sal vergeld;”
en verder:
“Die Here sal oor sy volk oordeel.”
31Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

Johannes 18:1-20:25 ()
Jesus word gevange geneem
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”
5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.
7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”
8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”

9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69–70; Mark. 14:66–68; Luk. 22:55–57)
15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.
18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Petrus verloën Jesus weer
(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Luk 23:44–49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.
31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Luk 23:50–56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Fokusteks

Jesaja 52:13–53:12
52 Word wakker, word wakker, ruk jou reg, Sion.
Trek mooi klere aan,
Jerusalem, heilige stad!
Mense wat nie besny is nie
en mense wat onrein is,
sal nie meer in jou kom nie.
2Skud die stof van jou af
en staan op, Jerusalem,
jy wat ‘n gevangene is.
Maak los die toue om jou nek, Sion,
jy wat ‘n gevangene is.
3So sê die Here:
Ek het julle verkoop,
maar nie vir geld nie;
julle sal losgekoop word,
maar nie deur geld nie.
4So sê die Here my God:
In die begin het my volk
afgegaan na Egipte toe
en daar gewoon as vreemdelinge;
later het Assirië hulle verdruk.
5En wat kry Ek nou hier in Babel?
vra die Here.
My volk is sonder rede weggevoer,
hulle leiers huil, sê die Here.
My naam word gedurig belaster.
6Daardie dag sal my volk my Naam
bely:
dat Ek die Here is,
dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!
7Hoe wonderlik klink op die berge
die voetstappe van hom
wat die goeie boodskap bring,
wat vrede aankondig,
wat die goeie tyding bring,
wat redding aankondig,
wat vir Sion sê:
“Jou God is Koning!”
8Hoor, jou wagte roep hard,
hulle jubel almal saam,
want hulle sien dat die Here
na Sion toe terugkom.
9Jubel en juig, puinhope van Jerusalem,
want die Here het vir sy volk
uitkoms gebring,
Hy het Jerusalem verlos.
10Die Here het sy heiligheid, sy mag,
geopenbaar voor die oë van
al die nasies.
Tot aan die uithoeke van die aarde
sal hulle die redding sien
wat ons God bewerk het.
11Gee pad, gee pad,
kom uit uit Babel!
Moenie aan iets raak wat onrein is nie.
Kom uit daar! Sorg dat julle rein is,
julle wat die tempelgereedskap dra.
12Julle hoef nie haastig pad te gee nie,
julle hoef nie soos vlugtelinge
te vertrek nie:
Die Here gaan voor julle uit,
die God van Israel
kom agter julle aan.
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ‘n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ‘n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ‘n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ‘n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
‘n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ‘n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ‘n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ‘n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ‘n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het.

Liturgie

Inleiding

Goeie Vrydag is die dieptepunt van Lydenstyd en die fokus van die erediens val op die kruisiging van Jesus. Die atmosfeer van die Goeie Vrydag-erediens is sober en gewyd en daar is geen versierings in die kerk op Goeie Vrydag nie. Na die viering van die nagmaal op die Donderdagaand is dit belangrik dat die kerk “gestroop” word van ikone en simbole wat in die week gebruik is om vir mense ’n ruimte te skep waarin hulle kan nadink oor die lydensweg van Jesus. (Die “stroop” van die gebou na afloop van die nagmaal kan in ’n mooi ritueel omskep word waaraan gemeentelede kan deelneem.) Al wat oorbly in die kerk is die Christuskers wat in doringdraad toegedraai is en op ’n prominente plek in die kerk geplaas word. (Uit Bybel-Media se “Woord en Fees 2019-2020”)

RUS

Toetrede: Stilte.  Daar is geen orrel voorspel nie, geen toetredelied nie.

Votum
Seëngroet

Lied: VONKK 194 [bekend]  of Lied 377 “O Lam van God, onskuldig”

Lament (n.a.v. Psalm 22)

Lied: Lied 379 of VONKK 340 of VONKK 28

HOOR

Gebed

Skriflesing: Jesaja 52:13-53:12

Preek

LEEF

Gebed (lied) VONKK 55 [bekende melodie] of Lied 380 of Lied 381 “Voor vorste en die wêreld”

Litanie ogv Joh 18:1-19:42

Nagmaalstafel word gereedgemaak: Lied 384 of Lied 399 of VONKK 0384  [bekend – aanvullende verse by Lied 399] of Flam 333

Geloofsbelydenis

Gebed: Onse Vader – almal hardop saam

Uitdeel van tekens: In stilte of terwyl Lied 384 gesing word

Nagmaal
Gebed 

Slotsang: Lied 387 of VONKK 410 [When I survey the old wondrous cross]

Geen seën: Die gemeente verlaat die gebou in stilte.  

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Inleiding
Goeie Vrydag is die dieptepunt van Lydenstyd en die fokus van die erediens val op die kruisiging van Jesus. Die atmosfeer van die Goeie Vrydag-erediens is sober en gewyd en daar is geen versierings in die kerk op Goeie Vrydag nie. Na die viering van die nagmaal op die Donderdagaand is dit belangrik dat die kerk “gestroop” word van ikone en simbole wat in die week gebruik is om vir mense ’n ruimte te skep waarin hulle kan nadink oor die lydensweg van Jesus. (Die “stroop” van die gebou na afloop van die nagmaal kan in ’n mooi ritueel omskep word waaraan gemeentelede kan deelneem.) Al wat oorbly in die kerk is die Christuskers wat in doringdraad toegedraai is en op ’n prominente plek in die kerk geplaas word. (Uit Bybel-Media se “Woord en Fees 2019-2020”)

Toetrede
Die diens begin in stilte.  Daar is geen orrel voorspel nie, geen toetredelied nie.

Votum
Wat is Goeie Vrydag en waarom het ons hier bymekaargekom? Goeie Vrydag is ‘n dag van teenstrydighede.  Ons is altyd gelyk besig om te sterf en op te staan ​​na ‘n nuwe lewe, maar veral vandag.  Ons is almal akteurs in hierdie verhaal: die mense wat skree “Kruisig hom!” en die vroue wat waaksaam staan ​​aan die voet van die kruis; die soldate wat loot vir sy kleed en Josef van Arimathea wat sy eie graf vir Jesus se begrafnis gegee het.

Ons treur vandag oor die pyn van hierdie wêreld en ons ervaar ons medepligtigheid aan daardie pyn.             Ons streef daarna om getuies te wees van – en deel te neem aan – God se helende krag in hierdie wêreld.

Seëngroet
Dit is die regte tyd (2 Kor 6:2) – die tyd wanneer Christus se dood ons bevry om die lewe te ontvang.

Lied
VONKK 194 Was Jy Daar of
Lied 377 “O Lam van God, onskuldig”

Lament: (n.a.v. Psalm 22)
Voorganger:  My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.
Gemeente:  My God, my God, waarom het U my verlaat

Voorganger:  Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered.
Gemeente:  My God, my God, waarom het U my verlaat

Voorganger:  U het my die eerste lewenslig laat sien, Van my geboorte af is ek onder u sorg, is U my God. Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,
want die nood is naby
Gemeente:  My God, my God, waarom het U my verlaat

Voorganger:  Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my. My tong kleef aan my verhemelte.
Gemeente:  My God, my God, waarom het U my verlaat

Voorganger:  die bende misdadigers sak op my toe, Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel.
Gemeente:  My God, my God, waarom het U my verlaat

Voorganger:  En U, Here- moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou!

Lied
Lied 379 Jesus Christus, Lam van God of
VONKK 340 Eloï, lemá sabagtani
VONKK 28 Ons Aanbid U, Jesus Heer

Liedere 

VONKK 340 “Eloï, lemá sabagtani”
Nav Matt 27:46 Teks: Tradisioneel SeTswana, Afrikaans en Aramees nav Matt 27:46
Melodie, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: Tradisioneel Suid-Afrika SeTswana teks en musiek: openbare besit
Afrikaanse teks: Gerrit Jordaan 2016 RUBRIEK:  Multikultureel – Lydenstyd en Goeie Vrydag
Setswana:
Voorsanger(s):  Modimo waka,
Gemeente:   Ntate on tahle steng?

Voorsanger(s): Modimo waka,
Gemeente: Ntate on tahle steng?

Voorsanger(s): Eloï,
Gemeente: Eloï, lemá sabagtani?
Eloï, lemá sabagta,
lemá sabagtani?

Afrikaans:
Voorsanger(s): My Here, waarom?
Gemeente: Waarom het U My verlaat?

Voorsanger(s): My Here, waarom?
Gemeente: Waarom het U My verlaat?

Voorsanger(s): Eloï
Gemeente:  Eloï, lemá sabagtani?
Eloï, lemá sabagta,
lemá sabagtani?

VONKK 194 “Was Jy Daar”
Teks: Were you there when they crucified my Lord? – tradisioneel Afro-Amerikaans; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: WERE YOU THERE  – tradisioneel Afro-Amerikaans Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)

Kantoryverwerking: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
© Teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Multikultureel – Lydenstyd en Goeie Vrydag

1. Was jy daar toe die Heer gekruisig is?
Was jy daar toe Hy wreed mishandel is?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?

2. Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly –
al die haat waardeur Hy geduldig bly?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Kan jy sien hoe Hy daar vir jou moes ly?

3. Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur –
al die pyn, al die spot, sy donker uur?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Sien jy raak wat Hy als vir jou verduur?

4. Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?
Kan jy hoor hoe Hy roep in al sy nood?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Kan jy sien hoe Hy worstel met die dood?

5. Weet jy nou waarom hang Hy aan ‘n kruis?
Weet jy nou waarom Hy so swaar moes ly?
Daar aan die kruis het Hy betaal vir al ons sonde, al ons sonde.
Weet jy nou Hy’t dit als vir jóú volbring?

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers © Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

F333. “Om Die Tafel Van My Heer”
(RUBRIEK: Flam – Nagmaal / Paasfees) Teks en musiek: Neil Büchner Kopiereg: Ó 2009 Urial Publishing
(Opgeneem op By Die Kruis)

1. Om die tafel van my Heer
kniel ek, ’n sondaar, voor U neer.
Geliefd genooi, grensloos gered.
O Heiland hoor, my dankgebed.

2. Daar is geen brood, selfs geen wyn
– wat kan gelyk staan aan U pyn?
Tog neem ek, sondaar, tekens aan,
Christus U red my, ja, ek verstaan!

Refrein:
Sonder U genadedood
was ek gekruisig, self deurboor.
Sonder u verlossingsbloed,
sou ek as sondaar, ewig boet.

3. Ek eet die brood, ek drink die wyn
herdenk u lewe, u hart so rein.
Spys en drank – die dood verteer
dit is volbring, ja, en ek leef weer!

Refrein:

VONKK 384 “Aan die tafel met die Paasmaal”
(Strofes 1 en 7 is aanvullende strofes by die strofes van Liedboek #399)
Teks: Lied oor die laaste nag van Jesus – Hannes van der Merwe © 2017
Musiek: BLAENWERN – William Penfro Rowlands 1905 Musikale verryking: Pieter van den Berg 2017 ©
© Musiek: Openbare besit © Teks en musikale verykking: 2017 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Klassiek – Lydenstyd en Goeie Vrydag / Paasfees

1.  (Voetwassing)
Jesus bind ‘n handdoek om Hom,
neem die skottel, kniel dan neer,
en Hy was dissipelvoete
soos ‘n slaaf doen vir sy heer.
“Wat Ek nou vir jul gedoen het,
moet jul aan mekaar bewys.
Dis my voorbeeld – ook vir julle:
selfopofferend aan die kruis.”

2. Aan die tafel met die Paasmaal
breek die Here self die brood:
“Dis my liggaam, dis vir julle;
dink aan My en aan my dood.
Drink nou almal uit die beker,
dis my bloed wat vryspraak bring.
So verkondig jul my sterwe,
so sal redding wyer kring.”

3. In die tuin aan die Olyfberg
het die Heer beangs gaan bid
en geworstel met sy Vader
tot sy sweet soos bloed bly drup:
“Vader, neem die lydensbeker,
neem dit tog by my verby!
Tog geskied u wil, o Vader!
My verraaier is naby.”

4. Met ‘n soen word Jesus Christus
deur ‘n volgeling verraai;
nog ‘n volgeling verloën Hom
voor die haan se derde kraai.
Sonder volgeling of vriende
is die Heer alleen dié nag.
In die steek gelaat, moes Jesus
op sy kruis, sy sterwe wag.

5. Na ‘n nag van ondervraging,
na ‘n nag van géseling,
word die Heer ter dood veroordeel,
word Hy na die kruis gebring.
Met die spykers, met die slae,
deur die marteling, die spot,
wys die diepte van die liefde
van ons Here, van ons God.

6. In die pyn, daar aan die kruishout,
klink sy woorde, sewe keer –
woorde van vergifnis, liefde,
en aanvaarding deur die Heer;
ook die woorde van alleenheid
en die uitroep: “Ek het dors!”
“Dis volbring”,  “Ek gee my gees oor”
en sy hoof sak op sy bors.

7. (Opstanding)
Dou-voor-dag die Sondagmôre
gaan die vroue na die tuin
om sy liggaam te gaan balsem,
maar die liggaam het verdwyn.

Soos Maria Jesus eien,
val sy voor sy voete neer.
Jesus leef! Hy is Oorwinnaar!
Hy’s die Meester en my Heer.

VONKK 410 “Hier waar ons voor die kruis kom staan”
Teks: When I survey the wondrous cross – Isaac Watts 1707; Afrikaanse weergawe – Hannes van der Merwe 2018 ©
Musiek: MORTE CHRISTE – Emrys Jones Musiek: Openbare besit © Afrikaanse teks: 2018 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Klassiek – Lydenstyd en Goeie Vrydag

1. Hier waar ons voor die kruis kom staan
waaraan die Prins van Vrede hang,
buig ons in eerbied voor Hom neer –
Hy gee Homself in ons belang.

2. Sien op sy hoof die doringkroon.
Sien hoe deurboorde voete bloei.
Sien hoe sy hande sondaars seën.
Sien uit sy hart sy liefde vloei.

3. Help my, o Heer, om nooit te roem
op iets wat ek op aarde doen,
maar slegs in Jesus aan die kruis,
wat ook my sonde kom versoen.

4. Vir so ‘n liefde – ver en wyd –
buig ek in eerbied voor U neer.
Vir so ‘n liefde – hoog en diep –
gee ek myself, my alles, Heer.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Jesus, hou ons naby aan die kruis,
sodat dat ons na u kan terugdraai,
en genees kan word. Amen.

Skriflesing: Jesaja 52:13-53:12

Preek

Familie-oomblik

Hier is ‘n oulike storieboek-weergawe van die pad na die kruis, met aflaaibare boekmerke en inkleurprent.

Preekriglyn

Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerends in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Ghandi, moeder Theresa, Nelson Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.

En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunesië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.

En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Onaansienlik, verag, verstoot

Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie.  Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.  Terloops, 52:13 se “voorspoedig wees” kan ook vertaal word met  “wys wees” wat beter in die konteks inpas.

Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes.  Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe.

Lewe uit lyding

Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny uit die land van die lewendes … graf gekry by goddeloses … by sondaars in sy dood” – (53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (53:10b-11).  Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die opstanding uit die dood van hierdie dienaar van die Here.  En God aanvaar sy skuldoffer (53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die offer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (53:7) terwyl hy vir oortreders bid (53:12).  Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jes 30 waar stilwees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is.  Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (53:12).  Want die geduld in lyding dra groot vrug.

Toegepas op Jesus

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het:

  • 53:1 in Joh 12:38: So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word: “Here, wie het geglo wat ons gehoor het? En aan wie is die mag van die Here geopenbaar?”
  • 53:4 in Matt 8:17: So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”
  • 53:7-8 in Hand 8:32-33: Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit: “Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word; en soos ‘n lam wat stil is as hy geskeer word, het Hy nie sy mond oopgemaak nie. In sy vernedering het daar nie reg aan Hom geskied nie. Wie sal van sy nageslag kan vertel? Sy lewe op aarde word beëindig.”
  • 53:9 in 1 Pet 2:22: “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie.”

Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37: Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”

“Ons lyding op Hom geneem”

Ons teks is vol daarvan dat die dienskneg van die Here ons lyding op Hom geneem het.

Op hierdie sober dag vier ons die uitkoms uit ons ellende, gebrokenheid en sonde wat die groot Dienskneg van die Here, Jesus Christus, deur sy kruisdood moontlik gemaak het.

Die gekruisigde Jesus is due sentrum van die wêreld en van die geskiedenis. Deur die kruis is daar versoening vir ons sonde en hoop vir die wêreld. Jesus sluit die deur na God en God se nuwe wêreld oop. Die kruis versoen ons met God, maar ook met mekaar.In Christus word vyande vriende.

Die kruis ontmasker en oorwin geweld. Die kruis prioretiseer versoening.

Ons reaksie

Daarom pas dankbaarheid en aanbidding op ‘n dag soos hierdie. Ons kan by die kruis kniel en ons lewe in Jesus se hande gee.

Radikale navolging

Eerstens: Die kruis roep ons tot ‘n lewe van radikale navolging van Jesus. Christen-wees gaan oor meer as normale ordentlike Christelike lewe, oor die doen van sekere dinge en die nalaat van ander. Dit het nie vooraf uitgewerkte voorskrifte vir elke situasie nie. Christen-wees vra elke keer juis wat navolging van die lydende Kneg híér vir my beteken. Sentraal vra die kruis van ons selfprysgawe ter wille van ander — die angel (adder) in ons eie bors.

Volgens ons teks kan radikle navolging van Jesus miskenning, misverstand en verguising en sosiale uitsluiting meebring. Ons kan verwerp word, soos Jesus. Desondanks fokus ons op die navolging van Jesus.

Versoening

Tweedens moet ons as gemeente nadink oor spesifieke omstandighede waarin ons die kruis vandag radikaal moet lewe. Miskien is dit die behoefte aan versoening op verskillende vlakke en die skep of herstel van menswaardigheid van lydendes in sekere segmente van die gemeenskap. Dalk is dit sosiale strukture of gevestigde waardes in die gemeenskap wat met ons andersoortige lewenswyse teengestaan moet word – téén dinge wat dikwels ook in ons eie lewe hulle kom nesmaak het? Hoe help ons mekaar as liggaam van Christus om die gekruisigde liggaam van ons Heer te beliggaam?

Daar is baie magte wat eerder verdeeldheid wil saai. “Ons” teen “hulle” wil opstel. Wat vra die lydende kneg van die Here van ons?

Geen goedkoop genade

Derdens sien ons op Goeie Vrydag hoe duur God se genade is. God se genade is gratis, maar dit het God ‘n duur prys gekos. Daarom moet ons nie die genade goedkoop maak deur dit te ontvang, maar nie daardeur verander te word nie.

Jesaja 53 sê dat diegene wat van buite kyk, nie vir God herken het in die lyding van die kneg nie. Baie herken steeds nie in die lewe en dood van Christus vir God nie. Die rede? Omdat mense ‘n populêre beeld van God het, van ‘n God van “goedkoop genade”: God is die een wat (moet) seën en net dit wat volgens ons behoeftes is (kan) doen.

Die kruis toon dat daar nie goedkoop genade is nie. Om voor die Gekruisigde te buig, beteken om jou eie kruis op te neem en Jesus na te volg. Dit is duur, maar daarin lê die sin van die lewe.

Die lewe van radikale navolging, van “duur genade”, van eg belydende kerk wees, is die sterkste getuienis na buite toe.

Hoe ons die wêreld sien

Vierdens: Vanuit die kruis lyk die wêreld anders. Sonder die kruis is die wêreld ‘n plek waarin ek die beste vir myself moet behaal, waarin ekself en my groep moet wen, waarin ek ‘n front van die suksesvolle, uitgesorteerde self moet voorhou.

Vanuit die kruis besien, is die wêreld ‘n plek waarin ek God se wil moet soek, myself moet verloën en die Here voluit moet dien. Al kos dit wat.

God stuur ons om te leef

Gebed (lied)
VONKK 55 Jesus, Toe U Mens Geword Het [bekende melodie] of
Lied 380 “Jesus, Lam gelei ter slagting” of
Lied 381 “Voor vorste en die wêreld”

Litanie: ogv Joh 18:1-19:42
Een stem: Toe Jesus klaar in die tuin gebid het, gaan hy sy toekoms tegemoet – versekerde dood, veersekerde verraad.
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?” [Oorspronklik:  “Wat is die waarheid?”] 

Een stem: Hy is deur soldate en valse beskuldigers ontmoet.
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?”

Een stem: Judas het die maaltye en myle wat hulle saam deurgebring het, weggesoen.
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?”

Een stem: Petrus het hom probeer beskerm teen ‘n onvermydelike en voorspelde einde.
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?”

Een stem: Toe Petrus Jesus nie kon beskerm nie, het Petrus se vrees Jesus verloën.
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?”

Een stem: Van saal tot saal en van hart tot hart het hulle hom in die donker van die nag na gebroke geregtigheid en valse getuies gelei.
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?”

Een stem: Wat moes Pilatus doen vandat hy die Waarheid met sy oë gesien het, maar nie die moed gehad het om dit te bevry nie?
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?”

Een stem: “Kruisig hom!”, klink nog steeds oor tyd heen, omdat die waarheid wat nie erken word nie, altyd gestraf word.
Almal: Rondom Jesus vra mense: “Wat sal dit kos?”

(Verwerk vanaf:  21st Century Africana Liturgy Resources: “Worship Resources for Good Friday” Copyright 2008, 2009, 2010 Valerie Bridgeman Davis. All Rights Reserved. Posted with Permission.)

Nagmaalstafel word gereedgemaak
Lied 384 “Jesus, o dink aan my” of
Lied 399 “Aan die tafel met die Paasmaal” of
VONKK 0384  Aan die tafel met die Paasmaal [bekend – aanvullende verse by Lied 399] of
Flam 333 Om Die Tafel Van My Heer

Geloofsbelydenis
V: Saam met dié wat getuies was van die gebeure van die eerste Goeie Vrydag bely ons in die geloof … Saam met Judas Iskariot …
G: dat ons soms self ’n onskuldige Man verraai.

V: Saam met Simon van Sirene …
G: dat wanneer jy Jesus volg, sy kruis ook jou kruis word.

V: Saam met die Romeinse soldaat …
G: dat ook ons afgestomp raak vir ander se nood.

V: Saam met Maria …
G: dat ons mekaar nodig het om Jesus enduit te volg.

V: Saam met die sterwende misdadiger …
G: dat ’n regverdige Man gesterf het.

V: Saam met die Romeinse offisier …
G: dat hierdie Man werklik die Seun van God is.

V: En nou bely ons ook saam met die wolk van geloofsgetuies deur die eeue heen …
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. En in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het. Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe. Amen.

Gebed
Onse Vader – almal hardop saam

Uitdeel van tekens
In stilte of terwyl Lied 384 gesing word

Nagmaal
Die Here Jesushet in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: ‘Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.’
“Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: ‘Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.’
“Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom.”
Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem, eet, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.
Die beker van danksegging is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem, drink, dink daaraan en glo dat sy kosbare bloed vergiet is tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.

Gebed
Almagtige God,
u Seun Jesus Christus is verhoog aan die kruis
sodat hy die hele wêreld na homself kan trek.
Gee dat ons wat uit hierdie dood leef as verlostes,
Hom ook sal eer in sy oproep om ons kruis op te neem en Hom te volg;
deur Jesus Christus, onse Here. Amen.

Slotsang
Lied 387 “O Heer, uit bloed en wonde” of
VONKK 410 Hier waar ons voor die kruis kom staan [When I survey the old wondrous cross]

Geen seën
Die gemeente verlaat die gebou in stilte.
As die gemeente nie gewoond is hieraan nie, kan jy waarsku hoe ongemaklik dit gaan voel.  Hoe dit gaan voel asof die diens nie afgehandel is nie.  Asof alles verkeerd verloop, omdat ons mekaar as’t ware  “ignoreer” in die stilte.  Verbind dit aan die dissipels se ongemak daardie Vrydagaand en die afwagting op pad na Sondag.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.