Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Goeie Vrydag is die dieptepunt van die lyding van Christus. Hierdie dag behoort liturgies somber ingerig te word. Geen blomme, rangskikkings of versierings word op hierdie dag gebruik nie. ‘n Kruis kan, indien moontlik, in die liturgiese ruimte neergesit word saam met die Christuskers wat in doringdraad toegedraai is.

Ander tekste

Jesaja 52:13–53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Hebreërs 10:16-25
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.

15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Johannes 18:1–19:42
Jesus word gevange geneem
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.

7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”

8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”
9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69–70; Mark. 14:66–68; Luk. 22:55–57)
15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.

18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)

19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”
23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”
24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Petrus verloën Jesus weer
(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”
27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)

19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”
27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Luk 23:44–49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” r

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” s37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” t

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Luk 23:50–56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Sleutelteks

Psalm 22
22 1 Vir die musiekleier . Op “Die rooi takbok van die dagbreek”. n Psalm. Van Dawid.
2 My God, my God,
waarom het U my verlaat? Waarom is U ver daarvan
om my te verlos,
ver van die woorde
wat ek uitskreeu?
3 My God, ek roep bedags,
maar U antwoord nie,
ook snags,
maar daar is geen rus vir my nie.
4 U is tog die Heilige ,
U heers waar die lofliedere
van Israel opklink.
5 Op U het ons voorouers vertrou,
hulle het vertrou
en U het hulle bevry.
6 Tot U het hulle om hulp geroep
en hulle het ontvlug;
op U het hulle vertrou
en hulle het nie beskaamd gestaan nie.
7 Maar ek is ‘n wurm en nie ‘n mens nie,
bespot deur die mense,
verag deur die volk.
8 d e Almal wat my sien,
dryf met my die spot;
hulle gryns f en skud die kop:
9 “Wend jou tot die Here !” en
“Laat Hy hom bevry,
laat Hy hom red
as Hy hom goedgesind is!”
10 U is immers die Een wat my
uit die baarmoeder gehaal het,
my op die borste
van my moeder laat vertrou het.
11 Op U is ek aangewese
van die moederskoot af;
van my geboorte af is U my God.
12 Moenie ver van my bly nie,
want die nood is naby;
daar is immers niemand wat help nie!
13 Baie bulle het my omsingel;
die sterkes van Basan het my vasgekeer.
14 Hulle het hulle monde
teen my oopgesper
soos ‘n leeu wat verskeur en brul.
15 Soos water is ek uitgestort,
my hele gebeente val uitmekaar;
my hart het geword soos was,
dit het in my liggaam gesmelt.
16 My krag het uitgedroog
soos ‘n potskerf,
en my tong kleef
aan my verhemelte; j in die stof van die dood laat U my lê.
17 Inderdaad, honde het my omsingel.
‘n Bende kwaaddoeners het my omring;
hulle het my hande en my voete
deurboor.
18 Ek kan al my bene tel.
Hulle staar my aan met leedvermaak.
19 Hulle verdeel my klere
onder mekaar,
en hulle loot oor my boklere.
20 U, Here, moet tog nie
ver van my bly nie;
my bron van krag,
kom my gou te hulp.
21 Red tog my lewe van die swaard,
my enigste lewe uit die mag
van die honde.
22 Red my uit die bek van die leeu,
en van die horings van buffels. U het my geantwoord.
23 Ek wil u Naam verkondig
aan my broers;
in die byeenkoms wil ek U loof:
24 “Julle wat vir die Here ontsag het, loof Hom! Julle, die ganse nageslag
van Jakob, vereer Hom!
Vrees Hom, ganse nageslag van Israel!
25 Want Hy het die lyding
van die magtelose
nie geminag of misken nie;
Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie;
maar toe hy Hom om hulp gesmeek het,
het Hy gehoor.”
26 U is die rede vir my lofprysing
in ‘n groot byeenkoms;
my geloftes sal ek nakom
in die teenwoordigheid
van dié wat vir Hom ontsag het.
27 Die verdruktes kan dan eet
en versadig word;
wie Hom raadpleeg,
kan die Here loof.
Mag julle harte vir altyd leef!
28 Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29 want aan die Here behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.
30 Ja, voor Hom sal almal
wat oordadig leef,
in aanbidding neerbuig;
voor Hom sal alle sterflinge kniel,
elkeen wat nie die lewe kan behou nie.
31 ‘n Nageslag sal Hom dien;
hulle sal van my Heer vertel
aan die volgende geslag.
32 Hulle sal kom en sy geregtigheid
bekend maak aan mense
wat nog gebore moet word:
Hy het dit gedoen.

Ekstra stof

Psalm 22 – My God, my God, waarom het U my verlaat?
Dit is moeilik om dié Psalm te lees, sonder om die lyding, kruisiging en opstanding van Jesus so duidelik hierin te hoor. En natuurlik is dit ‘n Messiaanse Psalm wat in die lewe van Jesus vervul is. Maar dan vergeet ons te maklik dat dit ook ‘n Psalm van Dawid is, en dat dit in die eerste plek vir hom in sy lewe betekenis gehad het.

Dit is ook ‘n lied wat in die liturgie van die geloofsgemeenskap gebruik is (vers 23), spesifiek by die offermaaltyd (vers 26-27) waartydens ook na die armes omgesien is (vgl 1 Kor 11 waar dieselfde sentimente gegeld het vir die nagmaal, dat vir die armes omgegee is).

Die Psalm begin met die diep en donker klag van Dawid dat hy deur God self verlaat voel (vers 2–3).  Hy kan dit nie klein kry dat hy bid, en daar is geen antwoord nie, selfs nie as hy dag en nag daarmee volhard nie.

Dié klag word opgevolg deur ‘n belydenis van vertroue, gebou op sy ervarings van die verlede, dat God teenwoordig is waar Sy lof besing word, en dat Hy Hom op soveel wyses al in die verlede bewys het vir die verbondsvolk (vers 4–6).

Daarna beskryf Dawid sy lyding, nie net in sy eie ervaring van minderwaardigheid nie: “ek is ‘n wurm, nie ‘n mens nie”, maar ook in terme van hoe mense hom laat voel met hulle spot en venyn (vers 7–9).

Maar sy diepste krisis is eintlik dat sy verhouding met God só anders was in die verlede.  Van sy geboorte af was hy in God se sorg (vers 10–11) en hy kan nie anders as om sy lot te bekla voor dié God en om hulp te smeek nie (vers 12).

In pynlike metafore beskryf hy sy smart en lyding, waarin ‘n mens natuurlik nie anders kan as om die kruisigingstoneel van Jesus te herken nie … maar probeer om dit eers net met Dawid te verbind (vers 13-19).  Die vyande is soos ‘n trop beeste wat hom toestaan.  Soos ‘n trop oop-bek leeus storm hulle op hom af.  Hy is soos uitgestorte water wat in die sand verdwyn, sy bene val uitmekaar, sy hart smelt weg uit sy binneste, sy tong kleef aan sy verhemelte … hy is soos iemand wat dood is. Soos ‘n trop honde omsingel hulle hom, en soos ‘n trop misdadigers sak hulle op hom toe.

Maar weereens is sy grootste klag dat in hierdie onhoudbare lyding, hy die ervaring van God se teenwoordigheid verloor het, en vra hy dat God hom sal red, van die honde, die leeus en die wilde beeste (vers 20–22a).  Uitnemende digwerk!

En dan kom die wending in die Psalm met die belydenis dat die Here sy gebed verhoor het (22b). En is Dawid se eerste reaksie om vir die gemeente te vertel wat hy deurgemaak het (vers 23).

Maar dié oproep slaan gou oor in ‘n oproep tot die geloofsgemeenskap om saam met hom die Here te loof (vers 24–27).  Wat met Dawid gebeur het, illustreer vir almal, dat dít is hoe God is.  Hy verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie; Hy trek Hom nie terug van iemand wat om hulp roep nie.

En dan breek die universele boodskap hiervan deur, dat dié God regoor die wêreld geëer sal word, gerugsteun deur die getuienis van sy mense van geslag tot geslag.  En in eskatologiese taal word uitgesien na dié dag wat selfs die rykes sal aansit by God se maaltyd, trouens alle mense, selfs al is hulle sterflik en verganklik (vers 28-32).

Mensig!  Dit is ‘n Psalm dié!  Van die beste digkuns ooit!  En die vergesigte van Dawid, wat die grense van sy eie beperktheid en dié van sy geloofsgemeenskap, trouens van sy volk en tyd oorspoel … joe, dit maak my opgewonde!

Maar, terug by die Psalm, Messiaans is die Psalm wel.  En dit is verstommend om in die verloop van die Psalm eintlik die hele evangelie van Jesus Christus te hoor, selfs die verwagting van die universele impak van Sy boodskap.  Lees weer vers 13-19 asof dit deur Jesus aan die kruis gesê is, en aanbid Hom vir die pyn wat Hy bereid was om vir ons te vat …

Terloops: die keuse om die Psalm op die wysie: “Die wildsbok van die daeraad” te sing, wys waarskynlik daarop dat geestelike liedere soms op gewone wysies gesing is.

Liturgie

Pers is die liturgiese kleur van Lydenstyd. Daar is ook dae waarop ander kleure gebruik kan word. Tydens die Groot Lydensweek word donkerrooi gebruik, maar op Donderdagaand vir die viering van die instelling van die nagmaal word wit gebruik. Op Aswoensdag is die kleur grys en op Goeie Vrydag swart saam met grys.

Goeie Vrydag is die dieptepunt van die lyding van Christus. Hierdie dag behoort liturgies somber ingerig te word. Geen blomme, rangskikkings of versierings word op hierdie dag gebruik nie. ’n Kruis kan, indien moontlik, in die liturgiese ruimte neergesit word saam met die Christuskers wat in doringdraad toegedraai is.
of
Dra ‘n kruis die kerkgebou binne, waarna ‘n tyd van stilte volg om die betekenis hiervan te oordink

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord:  Uit Jesaja 53

Seëngroet:  Galasiërs 1:3-4

Lied 392 “O Lam van God onskuldig 1”

Skriflesing: Jesaja 53

Profetiese beskrywing van ‘n middelaar

Vrymoedigheid om tot God te nader Hebreërs 10

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan

Gebed: Ahv Psalm 22

Lied 582 “Bly by my Heer vs 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Psalm 22

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: (Gedig as alternatief)
Golgota (WEG Louw)

Apostoliese Geloofsbelydenis (opsioneel)
Offergawes

Wegsending :Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord:  Uit Jesaja 53
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.

Seëngroet: Galasiërs 1:3-4
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus, 4wat Homself vir ons sondes gegee het om ons te verlos uit hierdie goddelose wêreld en so die wil van God ons Vader te volbring.

Lied 392 “O Lam van God onskuldig 1”

Skriflesing: Jesaja 53
Profetiese beskrywing van ‘n middelaar
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Vrymoedigheid om tot God te nader Hebreërs 10
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Gebed: Ahv Psalm 22
Here- U is die heilige…
U Here is die bron van my eerste lewenslig;
U is my God wat altyd sorg.
U is die bron van my krag…

Ons voorvaders het op U vertrou…
Hulle het geroep en U het bevry!
Hulle is nie beskaam nie…

As die nood naby is, en
daar niemand is wat kan help nie,
is en bly U my God!
U is die bron van my krag wat help…

U verontagsaam nie die nood van die hulpelose nie;
U trek U nie daarvan terug nie en skat dit nie gering nie;
U hoor my hulpgeroep wanneer ek soos uitgestorte water is,
wanneer dit voel asof my bene uitmekaar val;
as my hart soos was word en
wegsmelt in my…

Saam met die nageslag van Jakob
sal ek aan U eerbied betoon;
saam met die vergadering van die gemeente
sal ek tot eer van U naam getuig!

Mense sal U erken en hulle tot U bekeer;
volke sal U erken as koning, want
die koningskap behoort aan U.
U heers immers oor die volke.

Laat die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!

Lied
Eerwaarde Henry Francis Lyte was die skrywer van die lied wat ons ken as “Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal …”  Hy was op die rand van moedeloosheid.  Hy was predikant van ‘n klein gemeentetjie en hy het gevoel na al sy jare van arbeid daar het niks gebeur nie.  Hyself was nie gesond nie en sy dokter het hom meegedeel dat hy nog net ‘n paar maande sou lewe.  So het hy eendag teneergedruk in sy studeerkamer gaan sit en deur sy Bybel begin blaai tot by die gedeelte oor die Emmausgangers wat Jesus gevra het om nie verder te gaan nie, maar om by hulle te bly omdat dit al aand was.  Skielik het hy krag gekry om sy lot te aanvaar, om sy gemeente te aanvaar, en om die sin van sy lewe te ontdek.  Tóé het hy dié onvergeetlike woorde neergeskryf:

Abide with me; fast falls the eventide;
The darkness deepens; Lord, with me abide;
When others helpers fail, and comforts flee,
Help of the helpless, oh abide with me.

Lied 582 “Bly by my Heer vs 1,2,3,4,5”

Liedere

F253. “U Is My Helper”
(RUBRIEK:  Flammikidz – Toewyding)
Teks en Musiek: Retief Burger
© Urial Publishing / Weaver
(Opgeneem op Luidkidz)

U goedheid en liefde, Vader,
staan steeds deur al die jare
U sal my nooit vergeet nie
nooit verlaat nie

Wie kan dan teen my wee
as Christus vir my is?

U is my Helper,
wie sal ek vrees?
U is my Helper,
U sal altyd daar wees
Altyd daar wees

Ek sal nie vrees,
ek sal nie vrees
Ek sal vir niemand
bang wees nie.

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Psalm 22

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Om die gedagte van Godverlatenheid oor te dra, kan jy vir die kinders vra of hulle al ooit in die middel van die nag in die donker wakker geword het en gevoel het hulle is alleen.  Laat hulle vertel hoe dit voel.  Verduidelik dat dit amper is hoe Jesus aan die kruis gevoel het – en hoe ons ook soms voel.  Ons voel alleen en dink God is nie by ons nie.  Net soos wat Pappa en Mamma tog naby is, al voel ons alleen, is God ook steeds naby.
of
Jesus sterwe… Uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Slegte Mense Kruisig Jesus
17–22 Jesus het met die kruis van die vesting van Pilatus na die Plek van die Kopbeen (in Hebreeus* is die naam Golgota) gestap. Daar het hulle Hom gekruisig*. Twee ander mans is saam met Hom gekruisig*, een aan elke kant.

Pilatus het ’n nota aan Jesus se kruis laat vassit. “Jesus van Nasaret. Die koning van die Jode” het daarop gestaan. Die nota is in drie tale geskryf: Hebreeus*, Latyn en Grieks. Die Joodse leiers het nie daarvan gehou nie. “Moenie skryf: “Koning van die Jode” nie. Skryf liewer: “Hierdie man het gesê: Ek is die koning van die Jode,” vra hulle.
“Wat ek geskryf het, bly net so,” antwoord Pilatus toe.

23–24 Nadat hulle Jesus gekruisig* het, vat die polisie Jesus se klere. Hulle sit toe sy klere in vier hopies sodat elkeen wat gehelp het iets kry. Die een stuk klere was baie mooi. Die soldate wou dit nie stukkend sny nie. Hulle trek toe lootjies. Hulle het dit nie besef nie, maar die Bybel het lankal voorspel dat hulle dit gaan doen: “Hulle het my klere onder mekaar uitgedeel. Oor my kledingstuk het hulle lootjies getrek,” staan daar iewers geskryf.

25–27 Daar was ook ander mense by die kruis. Jesus se ma en sy tannie Maria (wat met Klopas getroud was) en Maria Magdalena was ook daar. Jesus sien toe sy ma. Saam met haar was sy baie spesiale vriend. Hy sê toe: “Ma, hy moet van nou af jou seun wees.”

Hy kyk toe na sy vriend: “Laat my ma van nou af ook jou ma wees.” Maria het toe by hom gaan bly. Hy het vir haar gesorg.

28–31 Jesus was toe klaar met alles wat Hy moes doen. Hy sê toe: “Ek is dors.” Die Bybel het mos gesê Hy gaan dit sê. Die mense vat ’n spons en doop* dit in suur wyn. Hulle lig toe die spons op ’n hisoptakkie na Jesus se mond toe en maak sy lippe daarmee nat. “Alles is nou gedoen,” sê Jesus. Sy kop het gesak en Hy het sy asem uitgeblaas.

Preekriglyn

Lydenstyd 2021 gedenk die tweede jaar waarin die wêreld in die knyptang van Covid-19 verkeer. Ons ken almal viende of familielede wat hul lewens weens Covid-19 verloor het of dit oorleef het maar bly worstel met ernstige, moontlike lewenslange komplikasies.

Waar kry ons woorde om hieroor met God te praat?

In die donkerste oomblik in die wêreld se geskiedenis, wanneer Jesus gebroke aan die kruis hang, kies Hy die woorde van Psalm 22 om sy ellende voor God te verwoord:  “My God, my God, waarom het U my verlaat?”  Hierdie psalm gee aan Hom woorde om sy diepste gevoel, sy klaaglike toestand, voor God se troon uit te stort.

Die belewenis van Godverlatenheid

Mens ken die donker gevoelens van Godverlatenheid.  In sy boek A Grief Observed, skryf CS Lewis oor sy eensaamheid na die dood van sy vrou.  Wanneer jy ‘n slag van God onthou in tye van geluk en vreugde, voel dit of God jou met ope arms ontvang, sê hy.  Maar wanneer jy in desperaatheid na God toe gaan, wanneer alle ander hulp van nul en gener waarde blyk te wees, vind jy ‘n deur wat in jou gesig toegemaak word, die sleutel wat aan die binnekant gedraai word. En dan stilte.  Jy kan net sowel wegstap, want hoe langer jy wag, hoe duideliker sal die stilte word.  Daar is geen lig in die vensters nie.  Dit kon maar net sowel ‘n leë huis gewees het.  Waarom, vra Lewis, is God so teenwoordig in ons voorspoed en so afwesig in tyd van smart?

Die digter van Psalm 22 ken hierdie Godverlatenheid.  Op ‘n kunstige manier, met die gebruik van baie beelde, beeld Hy sy verlatenheid uit:

  • Ek is ‘n wurm wat deur mense bespot word;
  • Wreedaardige mense, soos beeste uit Basan, slaan op my toe (die beeste uit Basan was bekend vir hul krag en sterkte);
  • Verskeurende, brullende leeus storm met oop bekke op hom af;
  • Soos die dwalende, honger honde wat so bekend was in elke Midde-Oosterse stad, word hy omsingel en bekyk vir die geskikte oomblik om die doodslag toe te dien;
  • Hy is liggaamlik uitgeteer, net been en vel.

Met die beelde en metafore beskryf die psalmdigter verlatenheid as ‘n werklikheid wat jou hele bestaan raak.  Jy is sosiaal geïsoleer, fisies uitgeteer, geestelik uitgeput, psigies afgestomp, sonder hoop en sonder raad.  Eensaamheid oorweldig jou.

Ons ken almal – in mindere of meerdere mate – die gevoel van Godverlatenheid.  Ja, dit raak ons hele bestaan, elke faset.

Mens sal dalk nie graag Psalm 22 wil aanhaal in ‘n pamflet wat die voordele van die Christelike geloof besing nie.  Maar dis hoe die Bybel is: geen diepte van menslike lyding en ervaring bly ongesê nie.  Ons mag praat oor die diepe ellende waarin ons ons dikwels bevind.  Die kernmomemt van ons geloof, Jesus aan die kruis, was deur hierdie ervaring gestempel.

Jesus was van God verlaat

Vandag is Goeie Vrydag.  Ons herdenk Jesus se sterwe aan die kruis.  Jesus neem die gebroke en vervalle bestaan van die skepping vrywillig op Hom.  Hy dra ons skuld, namens ons, ter wille van ons, voor God.  Hy kies vrywillig daarvoor om die ellende waarin die mensdom homself gedompel het voor God op Hom te neem.

Deur ons sonde, opstanding en vervreemding van God op Hom te neem, word Hy vervreem van God.  Maar deur sy sterwe aan die kruis ban hy die Godverlatenheid uit die wêreld uit in die hel. Jesus was van God verlaat, sodat ons nooit van God verlaat sal wees nie.

Daarmee is die angel uit ons Godverlatenheid gehaal.  Sou ons ook al ‘n diepe Godsverduistering beleef, beteken dit nie dat ons van God geskei is nie.  God se teenwoordigheid is ‘n belofte, selfs al beleef ons dit nie.

Soos Jesus die reisigers na Emmaus (Lukas 24) – al kon hulle Hom nie nie herken nie, en al het hulle ‘n diepe gevoel van verlatenheid – na die lig gelei het, so begelei Hy ons vandag steeds deur sy Woord en Gees in ons gevoelens van verlatenheid en verlorenheid.  Ons kan dit glo.  Dit is ‘n belofte van God, op grond van die kruis.

Om Godverlatenheid te verwoord

In sy Godverlatenheid roep Jesus uit na God.  Hy kies hierdie aangrypende psalm om sy bestaanskrisis voor God onder woorde te bring.  Sommige skrifverklaarders meen selfs dat Jesus die hele psalm aan die kruis geprewel het, onder andere omdat daar soveel verwysings na die psalm in die lydensverhaal is.  Hoe dit ook al sy, die psalm word Jesus se noodkreet voor God se aangesig.

Daarmee leer Jesus ons om te doen wat die digter van Psalm 22 gedoen het: om ons verlatenheid voor God te verwoord.

Die Duitse teoloog, Jürgen Moltmann, vertel dat hy na die tweede wêreldoorlog as ‘n jong en ongelowige man in ‘n Geallieerde konsentrasiekamp was.  Daar was ‘n kapelaan wat aan hulle Bybeltjies uitgedeel het. Hy het begin om die Evangelies te lees maar dit het vir hom geen raad te midde van sy omstandighede gehad nie. Gelukkig was daar ook Psalms agter in die Bybeltjie. Daarin het hy tot sy verwondering sy eie ellende in verwoord gevind, daar het hy gelees van sy vrese en sy hulpeloosheid. En langs hierdie weg het hy vir God gevind.

Walter Brueggemann, Ou Testamentikus van formaat, skryf dat psalms soos hierdie ons uitnooi om elke menslike ervaring voor God te verwoord, om niks ongesê te laat bly nie.  Ons word uitgenooi, en die psalms verskaf aan ons die woorde om dit te doen.

Iemand sê by geleentheid dat hy meer gehelp is deur mense wat hom gehelp het om sy nood te verwoord, as deur mense wat vir hom raad gegee het.

Om aan God self te bly vashou

Om met God te bly praat, veronderstel dat ons aan God bly vashou.  Martin Luther het gesê dit is ‘n aanvegting vir ons geloof dat God vreemd voorkom, verborge en bedek.  Die geloofskuns is om te bly reken met die goeie, genadige, barmhartige en geopenbaarde God.  Hy gebruik die beeld van die son wat agter die wolke bedek word, maar tog daar is, al sien mens dit nie, of ervaar dit nie.  Die kuns vir geloof is om in jou hart die son te bly sien wat jou oë nie kan sien nie.

Eerwaarde Henry Francis Lyte was die skrywer van die lied wat ons ken as “Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal …”  Hy was op die rand van moedeloosheid.  Hy was predikant van ‘n klein gemeentetjie en hy het gevoel na al sy jare van arbeid daar het niks gebeur nie.  Hyself was nie gesond nie en sy dokter het hom meegedeel dat hy nog net ‘n paar maande sou lewe.  So het hy eendag teneergedruk in sy studeerkamer gaan sit en deur sy Bybel begin blaai tot by die gedeelte oor die Emmausgangers wat Jesus gevra het om nie verder te gaan nie, maar om by hulle te bly omdat dit al aand was.  Skielik het hy krag gekry om sy lot te aanvaar, om sy gemeente te aanvaar, en om die sin van sy lewe te ontdek. Tóé het hy dié onvergeetlike woorde neergeskryf:
Abide with me; fast falls the eventide;
The darkness deepens; Lord, with me abide;
When others helpers fail, and comforts flee,
Help of the helpless, oh abide with me.

Hierdie selfde beweging kom voor in Psalm 22: die klag skuif later in die Psalm na ‘n posisie van hoop.  Die Here verhoor uiteindelik die digter se gebede.  Net so is Jesus uit die dood opgewek.

Daarom rig ons die klagtes en gevoelens van Godverlatenheid na die Bron van hoop.  Ons troos is nie in antwoorde en in verduidelikings geleë nie, maar in die Een op wie ons hoop gerig is.  Hy wat dit nie ontsien het om self van God verlaat te wees nie – ter wille van ons – sodat ons nooit weer van God verlaat sal wees nie.  Ook nie in ons donkerste oomblikke nie.

Geen oorvereenvoudiging

Psalm 22 herinner ons daaraan dat ons geloof nie in oorvereenvoudigde oorwinning gegrond is nie. Christus se oorwinning was moeilik, vol pyn, seer en lyding. Die psalm gee ons ‘n blik op presies wat ons verlossing God gekos het. Jesus wat sy lewe vir ons neerlê, bewys die onvoorwaardelike liefde wat ons nie self kan begryp nie.

Swaarkry

Ons dink egter nie net aan Jesus se lyding nie. Psalm 22 herinner ons daar is mense in ons gemeenskappe en samelewing wat self hierdie gebed bid. Dit is hulle wat die slagoffers van die pandemie is, of van vooroordeel en ongeregtigheid, wat onder onregverdige wette, beleide en sosiale norme ly wat nie vir hulle ruimte laat nie en veroorsaak dat hulle deur die samelewing uitgeskuif word.

Dit is hulle wat nie toegang het tot die ekonomie nie: nie kan werk en ‘n goeie bestaan maak nie. Hulle wat nie eers verstaan hoe die reëls werk nie.

Goeie Vrydag is ‘n dag om saam met Jesus te huil en klagtes te uiter oor die pyn en lyding van die wêreld en om na die Here om genesing uit te roep. Die uitroep van Psalm 22 herinner ons daaraan dat boosheid nog steeds in ons wêreld teenwoordig is en selfs in ons eie harte skuil. Daarom hef ons ons stemme op in klagtes, wagtend op die dag wanneer die Here uiteindelik ‘n einde aan die pyn, lyding en boosheid van hierdie wêreld sal bring.

Gemeenskap

Die psalm verwys ook na die belangrikheid van gemeenskap, na ‘n groep gelowiges wat méér as net ‘n ondersteuningsgroep is, maar met deernis na mekaar omsien, veral in tye van lyding. Die psalm beskryf die gemeenskap van hierdie medegelowiges. Dit dink terug aan die gemeenskap van die verlede, verwys na die gemeenskap van die hede en sien uit na die voortgaande gemeenskap in die toekoms.

Vrae bly vrae

Ons besef ook dat die “hoekomvrae” aan die begin van die psalm nooit beantwoord word nie. Nooit lees ons van ‘n stem wat uit die hemel ‘n antwoord gee oor die pyn en lyding wat ervaar word nie. Vrae bly vrae. Maar in hierdie psalm gebeur daar teen die einde iets goeds. Die vrae bly weliswaar vrae, maar op ‘n manier het die psalmdigter nie soseer meer antwoorde nodig nie. Hy kan ten spyte van die vrae aangaan. Iets het gebeur.

Daar is die verhaal uit die Tweede Wêreldoorlog van ‘n groep Joodse rabbi-gevangenes in Auschwitz. Hulle besluit om God op verhoor te plaas oor die letterlike hel wat die Jode as die volk van God in die konsentrasiekampe moes deurgaan. Die storie lui dat die verhoor die hele nag aangehou het, terwyl die Jode dodelik ernstig was oor hulle klag teen God. Hulle het niks teruggehou van hulle gevoel en ervaring dat God hulle verlaat het nie. Toe die nuwe dag aanbreek, was hulle uiteindelik klaar met hulle verhoor van God, maar ook totaal uitgeput. Hulle het God skuldig bevind. En toe hulle klaar was, het daar stilte oor die groep gekom. Daarná gaan sit die rabbi’s saam met die res van die groep – en begin hulle met die oggendgebede …

Ons weet Jesus bid ook hierdie psalm aan die kruis. As Jesus self ervaar het dat Hy Godverlate was en ver van God, is dit nie so vreemd dat ons as gelowiges ook by tye so voel nie. Ons vrae en klagtes mag vrae en klagtes bly, maar op ‘n manier ervaar ons dat, nádat ons tot die Here geroep het, ons weer kan aangaan …

God stuur ons om te leef

Gebed (Gedig as alternatief)
Golgota (WEG Louw)
Met rooi, gewonde voete en die pyn
van dorings wat sy hoof in spot omsluit,
het Hy- gelaaf met mirre en bitter wyn-
teen Golgota sy droewe gang gestuit.

Soldate het sy klere uitgetrek
en luid getwis oor kleed en lendedoek;
sy naakte liggaam het hul oopgevlek
oor stam en balk en dit met smaad vervloek.

Die wrede spykers word deur vlees en been
met felle slae ingejaag: sy hande,
verstrak in laaste, goddelike seën,
het Hy wyd, uitgebreik oor álle lande…

Die vroue roep in duisternis en treur
Die aarde beef… Die tempelvoorhang skeur.

Apostoliese Geloofsbelydenis (opsioneel)

Offergawes

Wegsending: Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Seën
Genade en vrede vir u van God die Vader
aan Sy liefde is daar geen einde nie
genade en vrede vir U van die Seun
Hy het ons skuld gedra
genade en vrede vir  u van die Gees
Hy maak ons nuut!

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.