Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Goeie Vrydag verteenwoordig die dieptepunt van die lyding van Christus. Hierdie dag moet daarom liturgies somber ingerig word. Die kleur vir hierdie dag is swart of bloedrooi. Dit is nie ’n dag vir enige blomme of versierings nie. Indien moontlik, bedek die kansel en dele van die kerk met swart. As daar nie reeds gedurende die Lydenstyd ’n kruis voor in die kerkgebou is nie, kan daar in hierdie diens ’n kruis aan die begin van die diens ingedra en op ’n prominente plek in die liturgiese ruimte geplaas word.

Fokusteks

Psalm 22:1-18

Ander RCL tekste

Jesaja 52:13-53:12 (Oor ons sondes is hy verbrysel);
Hebreërs 10:16-25 (
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan) of
Hebreërs 4:14-16 (
Jesus is die groot Hoëpriester);
Johannes 18:19-42 (
Die hoëpriester ondervra Jesus oor sy dissipels en sy leer)..

Psalm 22:1-18
U het my gebed verhoor

22 Vir die koorleier: op die wysie van
“Die wildsbok van die daeraad”.

’n Psalm van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basanstaan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Eksegeties

Hierdie Psalm hoort tot die groep “Die klaaglied van die enkeling”. Dit is moeilik om te bepaal waaroor die klag eintlik gegaan het, omdat hy nie baie spesifiek daaroor is nie. Hy gebruik ook baie sterk en emosioneel gelaaide beelde om ’n maklike afleiding te voorkom. Dit is redelik veilig om te praat van die eksterne bron van sy klag as “aggressiewe vyandskap”. Vers 13-22 beeld die eintlike klag uit. Vers 2-6 handel oor die ervaring van “deur God verlate” te wees, en vers 7-11 oor die “hoon van mense”. Die tweede deel (v 22-32) is ’n loflied. (Buite die bestek van hierdie studie).

Dit is opvallend dat die vyandige mense so sterk met diere verbind word. Vir die Oosterlinge van daardie tyd sou dit soveel meer betekenis hê as vir ons. Vir hulle was daar in die diere ’n geheimenisvolle krag aanwesig.

Ten opsigte van outeurskap is daar geen afdoende rede om Dawidiese outeurskap te ontken nie. Die inhoud wat hierin verwoord word, pas alleen op die lippe van ’n koning. Dit is feitlik onmoontlik om te bepaal wanneer die psalm ontstaan het. Die opbou van die psalm, veral die klaagliedtema, is besonder reëlmatig en sistematies.

Ten opsigte van indeling: Vers 2-11 vorm die inleiding wat bestaan uit ’n klag wat by vers 2 begin. Die pleitgronde vind ons in vers 4-6; weer klag van vers 7-9 en pleitgronde in vers 10 en verder. Die eerste pleitgronde in vers 4-6 sluit nou aan by die klag van vers 2. Die Here het daarin die klag van sy volk gehoor. Net so is daar ’n aansluiting tussen die tweede pleitgrond in vers 10 en verder en die tweede klag in vers 7-9.

Die smaadtaal van die spotters word deur die digter in die gebed as wapen aangewend. Die eerste klag in vers 2 (om van die Here verlaat te wees), vind aansluiting by die tweede klag naamlik, die hoon van mense. Soos die klagtes vul die pleitgronde mekaar aan: Die pleitgronde van vers 4-6 is ontleen aan die ervaring van die volk, en dié van vers 10 aan die lewe van die digter. Ook ten opsigte van styl kom dit ooreen.

Die eerste deel (v 2-6), word aan die tweede deel (v 7-11) verbind deur die kragtige teenstelling tussen “U is tog die heilige ” (v 4) en “Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie” (v 7).

Na die inleiding volg die eerste regstreekse bede: “Moet tog nie so vêr van my wegbly nie” (v 12), gevolg deur ’n lang klag waarin die digter oorgaan om sy lot te bekla. Behalwe die eerste kort inleiding van vers 12(b) bestaan die klag uit twee dele. In die eerste deel (v 13-16) skilder die digter hom as ’n man wat deur bulle en leeus aangeval en daarom van alle krag ontneem word (v 15). In ’n tweede deel (v 17-19) word hy voorgestel as halfdooie langs die pad wat deur honde en ’n bende misdadigers omsingel en vasgebind word. Die woord “omsingel” word herhaal. Vanaf vers 20 volg dan die kragtige kerngebed.

Naas Psalm 69 en 110, word hierdie psalm die meeste op Christus toegepas. Ons sou dit indirek-messiaans kon noem. Die rede waarom dit nie as direk-messiaans aangewys word nie, is die analogie met ander psalms en die bepaalde omstandighede. As indirek-messiaans is dit beslis messiaans. Daarvan getuig die legio aanhalings hieruit in die Nuwe Testament. Die digter kan deur sy ervaring van bitter lyding, tot verheerliking, as ’n tipe van Christus gesien word. Vele uitsprake van die psalm het in Christus dieper werklikheid gevind, eerder as in Dawid se lewe. Ons sien dit in die bekende “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Die psalm is roerend as gevolg van sy diep klagkarakter, dan weer sy heerlike lofsang, en bo alles sy duidelik  messiaanse karakter. Dit is opvallend dat daar geen bede om wraak is nie, maar eerder ’n bede dat die heidene hulle tot God sal wend.

Vers 1: Die woorde dui waarskynlik op die wysie waarop die psalm gesing moes word. Daar is ook ander vindingryke verduidelikings hiervoor, maar daar is geen sekerheid daaroor nie. Volgens een verduideliking is dit ’n lied wat die daeraad besing. Deur die skemering van die nag breek die lig van die dag. Dit is ook wat in die siel van die worstelaar gebeur. Om die grootsheid van die verlossing te verstaan moet eers gesien word hoe swaar die worsteling was.

Vers 2-11 is aan ons goed bekend omdat dit deur Jesus aan die kruis aangehaal is (Matt 27:46; Mark 15:34). Sy klag is nie oor die woede van sy vyande of sy liggaamlike toestand nie, maar daaroor dat God hom verlaat het. Dit hou egter verband met mekaar. Daarom beleef hy sy haglike toestand – veral geestelik. Dit is egter duidelik dat sy eksistensiële belewing van nood die gevolg is van sy belewing van Godverlate wees.

Dit is ook gou duidelik dat daar ’n baie noue band tussen die digter en God was. Daarom “my” God. Dit maak die klag so bitter. Die bitter kom op uit die waaromvraag. Dit gaan nie hier om die sin van lyding nie, maar om die waaromvraag as verwysing na die afstand (van God) wat hy beleef. Vir die Ou-Testamentiese mens was dit die ergste vorm van lyding – om deur God verlaat te word. Verlatenheid het gedui op die verlies van die seën van God en om uit die verbondsgemeenskap verwyder te word. Daarmee is die mens ook uitgelewer aan die destruktiewe magte. Die waaromvraag is nie ’n twyfel aan die bestaan van God of ’n uiting van ongeloof nie. Dit druk die vrees van die digter uit dat hy van God geïsoleer sou wees, en daarom van die bron van lewe self – God. Sy angs word uitgepers in ’n gebed aan God. Die oënskynlike teenstelling tussen “my God” en “waarom het u my verlaat”, is die bron van sy diepste lyding. Die klag van “verlatewees”, grens aan “in die steek laat”. Daarom die gevoel dat die klag grens aan aanklag, want God bly ver van sy hulpgeroep, ten spyte van sy hulpkrete.

Die beswaar teen ’n direk-messiaanse interpretasie is dat Christus nie geprotesteer het teen sy lyding nie, maar dit op hom geneem het – anders as die digter. Daar word egter ook op gewys dat die psalm dieselfde gees adem as Jesus se belewing in Getsemane. ’n Ander beswaar is dat Jesus nie soos die digter “dag en nag  geween” het nie.

Vers 3: “Ek kry geen rus nie.” God swyg en daarom kan die digter nie swyg nie. Dus kom dit daarop neer dat die digter hom geen rus gun nie, juis omdat God nie antwoord nie.

Vers 4: “U is tog die heilige”, dui op God as verhewe, eerbiedwaardig en die gans andere. Daarom doen hy mos nie soos die mens om in die steek te laat nie. Hy woon onder sy volk. Hoe kan Hy Hom dan vêr hou van die nood van die bidder? Wanneer hy na die heiligdom verwys, het hy heimwee na die lofsange.

Vers 5-6: Hier vind ons ’n duidelike teenstelling met vers 2. Waarom? Dit was gegrond in die groot verlossingsdade van God met Israel. Die digter plaas dan sy nood op lyn met die nood van die volk. Hy is mos ook ’n skakel in hierdie geloofstradisie en daarom geregtig om sy vertroue in God te stel – soos die volk. Hieruit sien ons hoe belangrik dit vir die vroom individu was dat die Ou-Testamentiese tradisie van die Heilsgeschichte ingebed was in die kultus van die verbond. Die digter gebruik die geskiedenis as hefboom om God te probeer beweeg tot ’n daad van redding. Die heilsrekord van God bly die diepste stuk hoop van die enkeling.

Vers 7-9: Die waaromvraag het ook te doen met die vrees van totale verlies aan identiteit en menswaardigheid. Hy is ’n wurm!
Die klag word voortgesit. Voor die eintlike nood nader beskryf word, kla die digter oor die smaad. Wanneer die gesalfde van die Here in nood verkeer, word hy deur baie gespot en gehoon. Dit word met digterlike hiperbool aangebied. Ons vind die diepste verwonding van sy smaad wanneer hy dit oor godsvertroue het. Omdat godsvertroue ter sprake is, word dit weer ’n kragtige pleitgrond.

Ook wat hier beskrywe word, vind sy vervulling in Christus se lyding. Die evangeliste sluit in hulle beskrywing hiervan aan by die psalm (bv Matt 27:39; Mark 43; Luk 23:35). Ook Jesus self het hierby aangesluit, veral in sy beskrywing van die “Kneg van die Here”-uitsprake (vgl Jes 41:14; 49:7; 52:14 en  53:3).

Let op die skerp teenstelling van vers 7a en 4a. “. . . steek vir my tong uit” is ’n verdere gebaar van hoon en veragting en “hulle skud hulle koppe”, nie met medelye nie, maar in spottende verbasing. Sy eie belydenis dat God die verlossing bring, word nou teen hom gehou. As Hy dan die digter se verlosser is, laat Hy hom nou verlos!

Vers 9: Nou word hy nie meer direk aangespreek nie, maar daar word oor hom in spottende sarkastiese terme gepraat. Op hierdie stadium is dit asof geloof en hoop mekaar bevestig. Hy volg dus die (sarkastiese) raad van sy spotters. Werp jou nou op die God van wie jy getuig dat Hy jou kan red. Dit word nou ’n duiwelse aanslag teen hom en God. Die eer van God is nou op die spel.

Vers 10-11: Wat die spotters met sarkasme onder woorde bring, gebruik die digter tot pleitgronde. Dit is mos waar dat hy ’n besondere verhouding met die Here het. Dit word sterk benadruk dat die band tussen hom en God vanaf geboorte aanwesig was. Dit word dan die gronde waarop hy pleit om die nabyheid van God.

Vers 10: Die dieper betekenis hier kan wees: Die Gees, wat op die gesalfde van die Here rus, rus in beginsel reeds van die geboorte af op die digter.

Vers 11: Hier vind ons die gedagte terug dat alleen ’n koning hierdie uitsprake kon maak, naamlik dat hy van die begin af “gewerp is op die Here”. Dat die Here vir hom “ouer” geword het.

Vers 12-(19)18 (die afsluiting van hierdie perikoop by vers 18 lyk onlogies, maar ons het dit so ontvang vir die doeleindes van hierdie studie). Hierdie perikoop bevat ’n kort gebed en ’n lang klagte.

Vers 12a: Hier kry ons die eerste regstreekse bede, die tweede kom in vers 20. Opvallend is dat die bede pleit dat die Here nie ver moet wees nie. In vers 2 was dit juis sy klag – dat die Here ver is. Let op die skerp teenstelling met die vorige vers! Benoudheid is naby en God is ver.

Vers 13: Nou praat hy oor vyande, maar wel vaag. Die beeld van beeste wat in ’n sirkelformasie bedreig, word gebruik. Basan was oos van die Jordaan en noord van Gilead met die goeie weidings. Daar was daar groot en sterk beeste met horings.

Vers 14: Die beeld van leeus kom aan die orde – dalk die aggressiefste vyand. Sommige kommentatore verwys hier na die “Babiloniese duiwels” in dierebeelde.

Vers 15: Hiermee druk die digter sy totale staat van uitputting uit. Hy voel of alles in hom letterlik uitmekaar val en die kern van sy lewe “wegsmelt”. Hierdie twee verwysings kan verbind word met die liggaamsposisie waarin die gekruisigde beland en dat die moed van die digter weggesypel het onder die lyding wat hy beleef het. Dit beteken alle liggaamskrag en geestesmoed het hom verlaat.

Vers 16: Hy is gedreineer van lewensonderhoudende vog in sy liggaam. Hy skryf  sy uiterste noodtoestand aan die afwesigheid van die Here toe. Tog bly hy glo dat hierdie toestand in die hande van die Here is.

Vers 17: Honde. In en om elke Oosterse stad of dorp was daar dwalende, honger honde. Hulle het elke moontlike kans gebruik om ’n halfdooie mens of dier  te verskeur en verslind. “Hulle bind my hande en voete vas.” Oor hierdie vers heers onsekerheid. Leupold vertaal dit met “deurboor” en noem dit die mees direkte verwysing na die kruisiging. Die NRSV-vertaling gebruik die woord “shriveled” – uitgedroog, verrimpel. Weiser waarsku teen ’n sprong om die “kruisiging” in te lees. Die OAV vertaal dit met “deurgrawe”.

Vers 18: Hier is dit duidelik dat die digter deur al die lyding uitgeteer is.

Hermeneuties

Vir Christene het hierdie psalm heilige status verkry, omdat Jesus die openingswoorde daarvan gebruik tydens die mees intense en beslissende oomblikke in die geskiedenis – aan die kruis. Hoe moet ons dit verstaan en binne konteks plaas? Dit word algemeen aanvaar dat daar ’n verband tussen hierdie psalm en Jesus se kruiservaring bestaan. Ons moet versigtig wees om die Christelike aansluiting vanaf die psalm direk na Markus 15:34 te maak. Die digter se godverlatenheid was nie, soos in Christus se geval, absoluut nie. Christus het die toorn van God gedra en daarom was sy godverlatenheid absoluut. Die digter ly ook nie in die plek van die mensdom, soos Christus nie. Hy kan dus nie in daardie sin as ’n tipe van Christus beskou word nie. Die lyn van belofte na vervulling is meer verantwoordbaar as die tipologiese, alhoewel alle vorme van tipologie nie uitgesluit kan word nie.

Heilshistories is die uitsprake van Christus aan die kruis die punt waar die Bybelse uitsprake oor God se reddingsbeloftes in vervulling gaan. Die Nuwe Testament werp dus lig op die voorseggings hieroor, soos in Psalm 22 ook aan die orde kom. Hierdie lied lei ons eers in die diepste dieptes van lyding in – ’n lyding waarin die digter tot op die rand van die dood en uiterste nood beland het. Hierna voer die lied ons tot die hoogste hoogtes van lof en danksegging. Dit is die gevolg van die beantwoording van gebed en ’n ruim visie wat moontlik geword het as gevolg van triomfantelike geloof.

Ons fokus op die eerste gedeelte – die afdaal tot in die dieptes van uiterste ellende en die gepaardgaande klag. Ons moet dit sien as deel van die aanbiddingsritueel van ’n geloofsgemeenskap. Die lydensagtergrond word gestel teen die triomfantelike uitredding om daarmee uitdrukking te gee aan die omvang van God se uitredding. Dit is dan ’n getuienis in die geloofs-gemeenskap.

In die eerste deel (hier ter sprake) wissel die luim van bewende vrees en die bitter verlange, na die uitredding van God. Die digter beskik oor die talent om uitdrukking te gee aan sy lyding in terme wat die leser diep raak en beeldspraak wat ons verbeelding aangryp. Sy klaaglied is een van die roerendste gedeeltes in die psalm. Die ryk geskakeerdheid van die beeldspraak wat hy gebruik, maak dit egter moeilik vir die leser om ’n duidelike idee te kry van wat die spesifieke omstandighede van sy lyding was.

Sy noodsituasie staan voorop en die ryk uitbeelding laat ons moeilik onderskei tussen feit en verbeelding. Die lig wat Christus se aanhaling van die psalm daarop werp, hef nie die raaisel van die lyding van die enkeling op nie. Dit is dus duidelik dat sy nood nie soseer net fisiek van aard was nie. Dit behels ook die noodtoestand van sy denke as gevolg van sy dilemma. Ons kan die psalm net verstaan met inagneming van sy ernstige geloofs-vertwyfeling wat hom gepynig het. Hy is desperaat vir gemeenskap met en versekering van God.

Die grondtema van die psalm is om God te soek en Hom te vind. Hier gaan dit om die belang van die geloofs-gemeenskap om die verskyning en redding van God in nood te sien en te beleef. Hierin lê die primêre belang vir die gelowiges in die psalm. Dit kan egter nie net veralgemeen word asof dit die belewing van die gelowige in die algemeen is nie. Hier is net te veel persoonlike sake van die digter en die individu ter sprake om bloot te veralgemeen.

Die verlatenheidsworsteling van die individu is uiteindelik ook die unieke klag van die diepste angs en eksistensiële nood van die ganse mensdom wat in die uitroep van die Middelaar verwoord en voor God gebring word. Alle lyding word in die uitroep verwoord en in ’n gebed voorgedra aan die God wat elkeen se verlossing verlang en in Christus moontlik maak.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Angsvolle ontreddering en ekstatiese geborgenheid is die pole van menslike lewensondervinding waartussen ons menslike bestaan ons kan slinger. Almal strewe natuurlik na geborge vreugde, maar ontkom nie aan die teenpool nie. Psalm 22 neem die gelowige aanbidder en lesers deur die eeue op ’n eksistensiële reis van die belewing van uiterste menslike ervarings.

Tema: ‘n Liefde so groot  …

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ‘n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

  • Dra ‘n kruis die kerkgebou binne, waarna ‘n tyd van stilte volg om die betekenis hiervan te oordink

Die voorganger of  ’n lidmaat dra die volgende voor:
“Die hemel het ’n swart spieël geword. ’n Goewerneur buig voor die bloeddors en haat van die straat. Die onskuldige word skuldig bevind. Soos ’n misdadiger word Hy met ’n kruis toegerus. Die vonnis is gevel. Jesus loop voor om dit te gaan volbring. Al sugtend onder ’n kruis. Met sy galg op sy skouer . . . Aan die kruis wurg drie kruiselinge. Intussen is soldate al besig om die een se besittings uit te deel, asof Hy al dood is. Al wat nog van Hom oorbly en vir hulle saak maak, is sy goed. Die lot beslis wie die naatlose onderkleed kry. Hierdie ‘ontkleding’, vernedering, blootstelling is ’n prysgawe van Jesus se lewe. Hy het Hom laat ontklee om ons te klee. Jesus het Hom laat verneder, ja, tot in die dood, om ons te verhoog” (Cas Vos in Preekstudies met liturgiese voorstelle 2002,bl 130)
of
Wie roep daarbuite?  Hy?
Is dit vir my?
Ek, seun van mense, bloed uit bloed
gebore, blind.
Hy bloed uit Gees,
uit water, wind.
En tog uit bloed,
bloed van ’n vrou;
Hy óók ‘n kind.
Eloï! Eloï!
Een met ’n riet gaan nader.
Dit is donker buite.
Vader ? Vader ( I L de Villiers in Gelykenisse en ander verse 1975, bl 50).
of
Gebruik ’n dataprojektor om beelde uit Jesus se lewe en lyding uit te beeld. Gebruik ’n groot verskeidenheid van die klassieke skilders se werke (oa www.textweek.com).

  • Gebruik die kruiswoorde (in plaas van die Skriflesings) in die liturgie om diepgaande na te dink oor die betekenis van die kruis. Die kruiswoorde word deur verskillende persone voorgelees.

Eerste kruiswoord: Terwyl hulle Hom kruisig, het Jesus gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Stilte

Sing: Lied 396:1/ NSG 104.
Tweede kruiswoord: Jesus het gesê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Stilte

Sing: Lied 396:2/ NSG 104.
Derde kruiswoord: Jesus het vir sy moeder gesê: “Daar is u Seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”

Stilte

Sing: Lied 395:1/ NSG 102.
Vierde kruiswoord: Jesus het hard uitgeroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” dit is: My God, my God waarom het U My verlaat?

Stilte

Sing: Lied 389:1/ NSG 97.
Vyfde kruiswoord: Hierna het Jesus gesê: “Ek is dors.”

Stilte

Lied 389:2/ NSG 97
Sesde kruiswoord: Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Stilte

Sing :Lied 389:3/ NSG 97.
Sewende kruiswoord: Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Stilte

Sing :Lied 395:2, 3/ NSG 102 (Woordwyser II 2009, bl 72).

Lied

‘n Lied wat uitstekend aan die begin van die diens sal pas:

Flam 19. “Heer, Hoe Lank”
(RUBRIEK:  Kersvlam – Klag)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Heer, hoe lank gaan U vergeet?
t’Voel of U nie van my weet nie.
Hoor my smeek, Heer, antwoord my.
Maak my van my onrus vry.

Refrein:
Here, hoor U wat ek sê?  Sien U hoe ek ly?
Luister wat u kinders vra.
Here, gee weer hoop; gee weer hoop in my.

2. Daar’s iets in my wat stadig kwyn,
soos die dag in nag verdwyn.
Help my op, Heer, sien my raak.
Sal U my weer méns kom maak?

Refrein:

3. Ek kan maar net na U toe kom.
Niemand anders gee meer om nie.
In my nood roep ek U aan.
Smekend kom ek voor u staan, want . . .

4. U is liefde, U’s getrou.
Ek weet U sal my bly onthou.
Ek wil van my geloof getuig.
Ek wil oor U verlossing juig.

Refrein:
Here, U hoor wat ek sê! U sien hoe ek ly!
U luister wat u kinders vra.
Heer, U gee weer hoop; U gee weer hoop in my.

Familie-oomblik

Dit is ‘n dag vir storie-vertel.
Gebruik stories wat vertel van liefde wat nie moed opgee nie en koppel dit aan die liefde wat Jesus demonstreer aan die kruis.
Om die gedagte van Godverlatenheid oor te dra, kan jy vir die kinders vra of hulle al ooit in die middel van die nag in die donker wakker geword het en gevoel het hulle is alleen.  Laat hulle vertel hoe dit voel.  Verduidelik dat dit amper is hoe Jesus aan die kruis gevoel het – en hoe ons ook soms voel.  Ons voel alleen en dink God is nie by ons nie.  Net soos wat Pappa en Mamma tog naby is, al voel ons alleen, is God ook steeds naby.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

In die donkerste oomblik in die wêreld se geskiedenis, wanneer Jesus gebroke aan die kruis hang, kies Hy die woorde van Psalm 22 om sy ellende voor God te verwoord:  “My God, my God, waarom het U my verlaat?“  Hierdie psalm gee aan Hom woorde om sy diepste gevoel, sy klaaglike toestand, voor God se troon uit te stort.

Die belewenis van Godverlatenheid

Mens ken die donker gevoelens van Godverlatenheid.  In sy boek A Grief Observed, skryf CS Lewis oor sy eensaamheid na die dood van sy vrou.  Wanneer jy ‘n slag van God onthou in tye van geluk en vreugde, voel dit of God jou met ope arms ontvang, sê hy.  Maar wanneer jy in desperaatheid na God toe gaan, wanneer alle ander hulp van nul en gener waarde blyk te wees, vind jy ‘n deur wat in jou gesig toegemaak word, die sleutel wat aan die binnekant gedraai word. En dan stilte.  Jy kan net sowel wegstap, want hoe langer jy wag, hoe duideliker sal die stilte word.  Daar is geen lig in die vensters nie.  Dit kon maar net sowel ‘n leë huis gewees het.  Waarom, vra Lewis, is God so teenwoordig in ons voorspoed en so afwesig in tyd van smart?

Die digter van Psalm 22 ken hierdie Godverlatenheid.  Op ‘n kunstige manier, met die gebruik van baie beelde, beeld Hy sy verlatenheid uit:

  • Ek is ‘n wurm wat deur mense bespot word;
  • Wreedaardige mense, soos beeste uit Basan, slaan op my toe (die beeste uit Basan was bekend vir hul krag en sterkte);
  • Verskeurende, brullende leeus storm met oop bekke op hom af;
  • Soos die dwalende, honger honde wat so bekend was in elke Midde-Oosterse stad, word hy omsingel en bekyk vir die geskikte oomblik om die doodslag toe te dien;
  • Hy is liggaamlik uitgeteer, net been en vel.

Met die beelde en metafore beskryf die psalmdigter verlatenheid as ‘n werklikheid wat jou hele bestaan raak.  Jy is sosiaal geïsoleer, fisies uitgeteer, geestelik uitgeput, psigies afgestomp, sonder hoop en sonder raad.  Eensaamheid oorweldig jou.

Ons ken almal – in mindere of meerdere mate – die gevoel van Godverlatenheid.  Ja, dit raak ons hele bestaan, elke faset.

Mens sal dalk nie graag Psalm 22 wil aanhaal in ‘n pamflet wat die voordele van die Christelike geloof besing nie.  Maar dis hoe die Bybel is: geen diepte van menslike lyding en ervaring bly ongesê nie.  Ons mag praat oor die diepe ellende waarin ons ons dikwels bevind.  Die kernmomemt van ons geloof, Jesus aan die kruis, was deur hierdie ervaring gestempel.

Jesus was van God verlaat

Vandag is Goeie Vrydag.  Ons herdenk Jesus se sterwe aan die kruis.  Jesus neem die gebroke en vervalle bestaan van die skepping vrywillig op Hom.  Hy dra ons skuld, namens ons, ter wille van ons, voor God.  Hy kies vrywillig daarvoor om die ellende waarin die mensdom homself gedompel het voor God op Hom te neem.

Deur ons sonde, opstanding en vervreemding van God op Hom te neem, word Hy vervreem van God.  Maar deur sy sterwe aan die kruis ban hy die Godverlatenheid uit die wêreld uit in die hel. Jesus was van God verlaat, sodat ons nooit van God verlaat sal wees nie.

Daarmee is die angel uit ons Godverlatenheid gehaal.  Sou ons ook al ‘n diepe Godsverduistering beleef, beteken dit nie dat ons van God geskei is nie.  God se teenwoordigheid is ‘n belofte, selfs al beleef ons dit nie.

Soos Jesus die reisigers na Emmaus (Lukas 24) – al kon hulle Hom nie nie herken nie, en al het hulle ‘n diepe gevoel van verlatenheid – na die lig gelei het, so begelei Hy ons vandag steeds deur sy Woord en Gees in ons gevoelens van verlatenheid en verlorenheid.  Ons kan dit glo.  Dit is ‘n belofte van God, op grond van die kruis.

Om Godverlatenheid te verwoord

In sy Godverlatenheid roep Jesus uit na God.  Hy kies hierdie aangrypende psalm om sy bestaanskrisis voor God onder woorde te bring.  Sommige skrifverklaarders meen selfs dat Jesus die hele psalm aan die kruis geprewel het, onder andere omdat daar soveel verwysings na die psalm in die lydensverhaal is.  Hoe dit ook al sy, die psalm word Jesus se noodkreet voor God se aangesig.

Daarmee leer Jesus ons om te doen wat die digter van Psalm 22 gedoen het: om ons verlatenheid voor God te verwoord.

Die Duitse teoloog, Jürgen Moltmann, vertel dat hy na die tweede wêreldoorlog as ‘n jong en ongelowige man in ‘n Geallieerde konsentrasiekamp was.  Daar was ‘n kapelaan wat aan hulle Bybeltjies uitgedeel het. Hy het begin om die Evangelies te lees maar dit het vir hom geen raad te midde van sy omstandighede gehad nie. Gelukkig was daar ook Psalms agter in die Bybeltjie. Daarin het hy tot sy verwondering sy eie ellende in verwoord gevind, daar het hy gelees van sy vrese en sy hulpeloosheid. En langs hierdie weg het hy vir God gevind.

Walter Brueggemann, Ou Testamentikus van formaat, skryf dat psalms soos hierdie ons uitnooi om elke menslike ervaring voor God te verwoord, om niks ongesê te laat bly nie.  Ons word uitgenooi, en die psalms verskaf aan ons die woorde om dit te doen.

Iemand sê by geleentheid dat hy meer gehelp is deur mense wat hom gehelp het om sy nood te verwoord, as deur mense wat vir hom raad gegee het.

Om aan God self te bly vashou

Om met God te bly praat, veronderstel dat ons aan God bly vashou.  Martin Luther het gesê dit is ‘n aanvegting vir ons geloof dat God vreemd voorkom, verborge en bedek.  Die geloofskuns is om te bly reken met die goeie, genadige, barmhartige en geopenbaarde God.  Hy gebruik die beeld van die son wat agter die wolke bedek word, maar tog daar is, al sien mens dit nie, of ervaar dit nie.  Die kuns vir geloof is om in jou hart die son te bly sien wat jou oë nie kan sien nie.

Eerwaarde Henry Francis Lyte was die skrywer van die lied wat ons ken as “Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal …”  Hy was op die rand van moedeloosheid.  Hy was predikant van ‘n klein gemeentetjie en hy het gevoel na al sy jare van arbeid daar het niks gebeur nie.  Hyself was nie gesond nie en sy dokter het hom meegedeel dat hy nog net ‘n paar maande sou lewe.  So het hy eendag teneergedruk in sy studeerkamer gaan sit en deur sy Bybel begin blaai tot by die gedeelte oor die Emmausgangers wat Jesus gevra het om nie verder te gaan nie, maar om by hulle te bly omdat dit al aand was.  Skielik het hy krag gekry om sy lot te aanvaar, om sy gemeente te aanvaar, en om die sin van sy lewe te ontdek. Tóé het hy dié onvergeetlike woorde neergeskryf:

Abide with me; fast falls the eventide;
The darkness deepens; Lord, with me abide;
When others helpers fail, and comforts flee,
Help of the helpless, oh abide with me.

Hierdie selfde beweging kom voor in Psalm 22: die klag skuif later in die Psalm na ‘n posisie van hoop.  Die Here verhoor uiteindelik die digter se gebede.  Net so is Jesus uit die dood opgewek.

Daarom rig ons die klagtes en gevoelens van Godverlatenheid na die Bron van hoop.  Ons troos is nie in antwoorde en in verduidelikings geleë nie, maar in die Een op wie ons hoop gerig is.  Hy wat dit nie ontsien het om self van God verlaat te wees nie – ter wille van ons – sodat ons nooit weer van God verlaat sal wees nie.  Ook nie in ons donkerste oomblikke nie.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

  • Nagmaalviering – Die volgende gebede kan gebruik word: 
  • Psalm 22:23-32
  • OF:

Here, dit is u nagmaalfees dié,
ons het dit voorberei omdat U dit so begeer,
die tafel is gedek op u bevel.
Ons woon dit by omdat U ons genooi het.
As Gasheer seën u woorde hierdie tekens
van wyn en brood.
U hande deel dit vir ons uit.
Dit is die ewige herinnering
aan u offer aan die kruis.
Dit is die volle gawe van u ewige liefde,
wat ons daaraan sal herinner totdat U kom.
Here, dit is brood uit die hemel dié,
die brood van die lewe.
Elkeen wat daarvan eet,
sal in alle ewigheid nooit weer honger wees nie.
Hier is die beker van vergifnis, Here,
van genesing, vreugde, en krag –
elkeen wat daarvan drink,
sal in alle ewigheid nooit weer dors wees nie.
Daarom, o Here, sit ons nou by u tafel aan,
met dank en vreugde.
Here Jesus, kom na ons toe. Amen (Olive Wyon Gebedeboek vir die lewe  2007, bl 293).
OF:
Hemelse Vader,
dankie dat ons weer nagmaal kon gebruik.
Here, U weet ons het na dié viering toe gekom
sonder veel van ’n verwagting
dat iets groots kan gebeur.
Ons het gedink dat ons maar weer
hier sal uitgaan
net soos ons ingekom het.
Toe gebeur die wonder!
U Woord begin met ons praat
en wys vir ons hoe bankrot ons bestaan is,
hoe korrup ons gedagtegoed,
hoe nodig ons het om gevoed te word –
en dat die Brood wat ons nodig het,
U self is.
Ons Vader, ons het nie besef
dat U die brood vir ons gebreek het
deur  u Seun vir ons te gee nie.
Ons het ook nie besef dat sy kosbare bloed
ons van alles kan reinig nie.
Maar in genade het U ons bymekaargebring
om opnuut oor u sorg te sing,
om weer vir mekaar te sê:
‘Die einde is dit nie,
alleen is ons ook nie –
ons leef nie tevergeefs nie.
Ons het ’n nuwe toekoms –
in en deur Jesus Christus alleen. Amen (Johann Symington in Gebedeboek vir die lewe 2007, bl 573).

Seën
Geen seën of afsluiting nie – daar bly die openheid na Paasfees toe! Moedig die lidmate aan om blomme saam te bring vir Paassondag.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.