Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Goeie Vrydag is die dieptepunt van die lyding van Christus. Hierdie dag moet liturgies somber ingerig word. Die kleur is swart of bloedrooi. Dit is nie ’n dag vir blomme of rangskikkings nie. Slegs ’n kruis. Indien moontlik, bedek die kansel en dele van die kerk met swart en rooi.

Ander tekste

Psalm 22; Hebreërs 10:16-25; Johannes 18: 19-40

Fokusteks

Jesaja 52:13-53:12
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Vooraf:  Wys ‘n video van ‘n veldbrand.  Speel musiek soos bv. “He was despised” uit Handel se Messiah.  Laai ‘n video soos een van hierdie af met ‘n gratis FLV-converter program:
Brande in Kaapstad
Net vlamme (lae kwaliteit)
of
Wys ‘n gepaste Paas-video.  Ons hou van die strakheid van Shift Worship se “Easter Drawing”, wat jy kan koop.

Toetrede: Flam 205 / Vonkk 28

Votum: Jesaja 53:2-3 of Openbaring 5:12-13

Oordenking: Wys verskillende uitbeeldings van Jesus se lydensweg.  Dit kan of in stilte gedoen word, óf die gepaste teksgedeelte kan telkens gelees word.  Die gemeente kan ook na elke gedeelte met ‘n gepaste lied reageer.

Liedere

Flam 205 “Hier by ons”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering / Skuldbelydenis)
Teks en Musiek:  Petri de Wet, Arno de Wet, Jan de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers
Opgeneem op die CD ‘Bewe’.

1. Hier is ons gebroke, Heer
Ons kniel nou voor U neer
Vir altyd wil ons by U bly
Want U is lief vir ons.

Refrein:
Ja, U alleen is waardig
U alleen is Koning
En ons verklaar u majesteit
Ja, ons vra:  Kom, o Heer!
En bly in ons
Was ons skoon met u bloed, o Heer
Vir ewig heers U op u troon
Neem my sonde, maak my skoon
Vader, hier by ons

2. Aan die kruis het U die prys
vir ons betaal, o Heer
My vrygespreek,  die dood gebreek
Nou kan ek lewe, Heer

Refrein:

U is hier by ons
U is hier by my

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. 
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

Flam 60 “U liefdeslied vir my”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek:  Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee

U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.

Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3.  Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
em>© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Vertel vir die kinders hoekom ons Goeie Vrydag vier – vertel vir hulle van Jesus se lyding en kruisiging.  Fokus gewoon op die oorvertel van die verhaal, eerder as teologiese refleksie daaroor.  (Hier kan jy ‘n goeie oorsig kry van die waarde daarvan om gewoon die storie vir hulle te vertel.)

Hier ‘n magdom Paasfees-aktiwiteite.

Preekriglyn

Fynbos groei in ’n strook van 100 tot 200 km wyd, al teen die kus af vanaf Clanwilliam aan die Weskus tot by Port Elizabeth aan die Suid-Ooskus.  Fynbos maak deel uit van die gebied bekend as die Kaapse Blommeryk, waarvan dit die helfte beslaan, en 80% van die plantspesies voorsien.

Van die ses blommeryke wat oor die wêreld voorkom, is die Kaapse Blommeryk die kleinste, maar beskik oor die grootste variëteit per oppervlakeenheid.  Meer as 9,000 plantspesies kom hier voor, waarvan ongeveer 6,200 spesies uniek aan dié area is.  Dit kom regtig nêrens anders ter wêreld voor nie.  Fynbos beslaan 6% van die oppervlak van Suidelike Afrika, maar het die helfte van die plantspesies van die subkontinent.  Dit verteenwoordig sowat een uit vyf van die plantspesies van Afrika.

Die term fynbos is ontleen aan die fyn, naaldagtige blaartjies van baie van die plantspesies in dié gebied.  Die Protea-familie bestaan uit plante met groot blare en pragtige blomme.  Die Erika-familie is merendeels kleiner plante met talle klein, buisagtige blommetjies en naaldagtige blare.  Die Restios-plante, grasagtige plantegroei, groei in die natter gebiede.  Meer as 1,400 bolplante kom ook voor.  Gebiede waar merendeels Erikas groei, staan as renosterveld bekend.

Vuur in die vorm van veldbrande vorm ’n noodsaaklike fase in die lewensiklus van byna alle fynbos.  Baie van die saad ontkiem slegs na die intense hitte van ’n veldbrand.  Spesifiek met hierdie doel in gedagte dra Proteas hul sade aan die plant vir minstens ’n jaar.  Ander fynbos dra hul sade in ’n vorm wat aantreklik vir miere is, sodat die miere die saadjies in hul hope stoor, waar dit beskerm is teen die hitte van die veldbrand.

Die smeltkroes van vuur is verantwoordelik vir die ryk plantelewe in Kaapse fynbos.  Wanneer vuur die veld swart en verwoes agterlaat, lyk dit asof verwoesting aan die wenkant is.  Die swart geskroeide aarde dek egter die tafel vir die wonderbaarlike skoonheid van die fynbosveld.
Uit die pyn en verwoesting van vuur, word skoonheid gebore.  Verbasend, maar waar.

Verrassende skoonheid
Jesaja 53:2 laat ons in geen twyfel oor die voorkoms van die dienaar van die Here nie:
Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit.
soos ’n plant wat wortel skiet
In droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons
na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie
Die dienaar van die Here was – om presies te wees – misvormd, sodat hy nie langer soos ’n mens gelyk het nie (52:14).  Hy het nie skoonheid of prag gehad nie (53:2).  Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie mense die gesig wegdraai.  Hy was verag, ons het hom nie gereken nie ((53:3)

Tóg het daar uit die veragte dienaar genesing en herstel gekom.  Uit die smeltkroes van die dienaar se lyding, het daar verrassende skoonheid en seën vir ons gekom!
Voordat ons meer oor die werk van die dienaar sê, eers iets oor sy identiteit:

Wie is die dienaar van die Here?

Vir Christene is hierdie teks ’n beskrywing van wat met Jesus van Nasaret, die Here, gebeur het.

Dit is belangrik om die historiese konteks van Jesaja 52 en 53 ernstig te neem.   In die eerste plek is hierdie dienaar van die Here die volk Israel.  Teen die tyd dat Jesaja begin profeteer, was die verhouding tussen die Here en Israel  byna onherstelbaar beskadig.  Israel was veronderstel om God se getuies van trou, waarheid, heiligheid, geregtigheid en vrede te wees, maar is dit nie. Die Here het alles probeer. 2 Kronieke 36:15, 16 dui dit so aan: “En die Here, die God van hulle vaders, het vroeg en laat na hulle gestuur deur die diens van sy boodskappers; want Hy het medelyde met sy volk en met sy woning gehad.  Maar hulle het die boodskappers van God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete gespot, totdat die grimmigheid van die Here teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing meer was nie” (15, 16).

Teen hierdie agtergrond word Israel deur die smeltkroes van die ballingskap gestuur.  Dit reinig hulle en berei hulle voor om weer in die egte sin van die woord die dienaar van die Here te wees.

Die ballingskap was verskriklik.  Baie van die Ou Testamentiese profete beskryf die ontsettende verwoesting en lyding met Nebukadneser se invul van Israel en die verwoesting van die land en die hoofstad, Jerusalem.   Na sewentig jaar in ballingskap keer ’n oorblyfsel terug en maak die Here ’n nuwe begin met die volk.

In Jesaja 40 word die eerste hoopvolle klanke gehoor wanneer die volk in ballingskap die aankondiging dat die swaarkry verby is.  Deur die suiwering van die pyn en lyding breek ’n nuwe fase van diensbaarheid en gehoorsaamheid vir Israel as dienaar van die Here aan.

Aangesien die dienaar van die Here in die eerste plek die volk van die Here is, is daar in hierdie gedeelte ’n belangrike boodskap vir ons opgesluit oor die manier waarop die Here met ons werk, hoe hoog sy verwagtinge vir ons is, maar ook watter rol die opvoeding van die Here in ons lewe as sy kerk speel.

Die lied oor die dienaar van die Here, saam met ander dienaar-van-dieHere-liedere in Jesaja, veronderstel egter deurgaans méér as net die volk Israel.  Daar is duidelike kante van die lief wat net deur ’n dienaar-as-individu vervul kan word.

Hier word verwys na die plaasvervangende lyding van die dienaar van die Here.  Een ly vir baie.  Uit die gehoorsaamheid en lyding van Een kom seën vir baie voort.  Daarom word hierdie teks vanuit die Nuwe Testament verklaar as ’n profesie wat heenwys na die plaasvervangende lyding van Christus in ons plek.

Só verstaan, is Jesus Christus die finale vervulling van hierdie Skrifgedeelte se boodskap oor die lydende dienaar van die Here, ’n gepaste teks om op Goeie Vrydag te lees.

Dit gaan in hierdie teks oor Jesus.  Maar dit gaan ook oor God se werk met ons, sy volk.

Verwerp en verstoot

Die hele Israel het ’n Messias verwag.  Regdeur Jesus se bediening was daar mense wat Hom as die Messias bely het.  Tog was dit vir almal ondenkbaar dat die Messias moes ly en sterf.  Vir ’n lydende Messias was daar onder die gelowiges van Jesus se tyd nie ruimte nie.  Daarom lees ons dat Jesus deur Petrus bestraf word wanneer Hy sy lyding en dood aankondig (vergelyk bv. Matt 16:31-33).

Hierdie ontsteltenis en verbasing  word reeds deur die lied in Jesaja 52 en 53 verwoord.  Baie mense is ontsteld oor die lyding wat die dienaar van die Here misvorm.  Daar is verbasing, want die dienaar is ’n lydende dienaar.  Die hoop en lewe wat die dienaar bring, word uit lyding gebore (52:14-15).  Die dienaar dra die verlossing wat die Here gee, maar mense herken dit nie.  Die voorkoms van die dienaar, sy smart en lyding, mislei hulle.  Hy was verag, verstoot, mense het die gesig weggedraai, hy is nie gereken nie (53:3).

Hierdie woorde pas presies op die verwerping wat Jesus van Nasaret moes deurleef.   Mense hét Hom só hanteer.

Wanneer ons terugkyk op sy lyding, doen ons dit nie uit die morele hoë grond nie.  Ons sou Hom ook só hanteer as ons daar was.  Die hand wat die spykers ingeslaan het, sou ons hand wees.  Ons het die kapasiteit om Hom te verraai of te verloën.  Ons sou ook ons koppe wegdraai.

In ons plek

Tog is dit ons sonde wat die dienaar so afstootlik gemaak het.  Hy is verag en verstoot, omdat Hy óns sonde op Hom geneem het (53:4-5):
Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom…

Óns het gedwaal soos skape … en Hy is in ons plek mishandel.
Ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op Hom laat afkom (53:6).

In ’n stygende crescendo word beskryf hoedat die Dienaar van die Here ons sonde op Hom geneem het.  Dit vervul ’n mens met verstomming.  En met dankbaarheid en verwondering.

’n Verrassing uit die smeltkroes

Wanneer ’n verwoestende veldbrand die aarde swart geskroei het, word mens verras deur die eerste tekens van nuwe l ewe.

Net so bring die straf en verwoesting van die Dienaar nuwe lewe voort vir diegene wat op Hom ingeplant word.

Die verwondering dat daar deur die lyding van Een genesing vir baie kom, is ’n stygende lyn wat in ons teks oorgaan in nóg ’n magtige crescendo:

  • Deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom (5);
  • Hy gee sy lewe en skuldoffer en verkry so ’n nageslag en ’n lang lewe (10)
  • Hy maak baie mense regverdig (11)
  • Hy gee hom in die dood oor en vier daarom die oorwinning saam met magtiges (12)

Uit die dood kom nuwe lewe.

Goeie Vrydag bring ons voor hierdie wonderlike misterie te staan.  Wie kan die weë van die Here deurgrond dat ons rasioneel kan uitspel hoe die versoening wat die Dienaar verkry, werk?  Ons kan nie.  Maar die versoening is ’n saak vir geloof.  Deur sy dood kom daar vir ons lewe.  Die smeltkroes waardeur Hy moes gaan, is ons bron van lewe.

Lof en aanbidding

Die styl waarin die Dienaar ly, is verstommend.  Soos ’n lam ter slagting en ’n skaap wat geskeer word, het Hy nie gekla nie.  Terwyl Hy mishandel is, het Hy geduldig gebly en nie gekla nie (7).

Vir die Nuwe Testament is hierdie vrywillige, liefdevolle selfoorgawe van die Lam ’n bron van lof en aanbidding.  Uit eie keuse en gedryf deur liefde neem die Lam ons sonde op Hom:
Die Lam wat geslag was, is waardig
om die mag en die rykdom,
die wysheid en die sterkte,
die eer, heerlikheid en lof
te ontvang.
Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
behoort die lof en die eer,
die heerlikheid en die krag,
tot in alle ewigheid. (Open. 5)

Goeie Vrydag staan in die somber teken van die dood van die Here Jesus aan die kruis.  Ons is stil voor die Here, want dit is ons sonde wat sy dood gekos het.  Hy is verwerp vanweë ons oortredinge.

Tog is dit ook ’n dag waarop ons in Christus kan roem, die Een wat as dienaar van die Here vrywillig in ons plek, en vir ons, gesterf het.

Ons bring ook dank aan die Vader wat sy Seun ter wille van ons oorgegee het.  Presies hoe die logika van die versoening werk, is nie duidelik nie.  Ons versoening in Christus is ’n plan wat nie in ‘n menslike hart opgekom het nie.  Tog is dit die wil van die Here God om ons sonde op die Here Jesus te laat neerkom.  God die Vader se regverdige oordeel kom op Christus neer, en so kom daar versoening vir ons sonde.
Die vuur van lyding wat Christus tref, bring vir ons wonderbaarlike insluiting in die pragtige koninkryk van God.
Daarvoor loof ons Vader, Seun en Heilige Gees.

Met die oog op die ereplek

Christus se lyding as dienaar van die Here loop uit op heerlikheid (53:12):
Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Die Nuwe Testament sluit by hierdie tema aan:
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,
sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,
en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader. (Fil 2:8-11)
Christus kon ly, omdat die heerlikheid wat die Vader gee Hom gedra het.

Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God (Hebreërs 12:2).

Ons moenie die heerlike uitkoms van die lyding gebruik om die verskrikking en egtheid van die lyding te verdun nie.  Om ter wille van ons onder God se toorn te ly, is ’n verskrikking wat ’n mens jouself nie kan indink nie.  Die belofte van heerlikheid beteken egter dat die lyding nie tevergeefs is nie, en dat God die gehoorsaamheid aan sy wil (vers 10) ryklik seën.

Ons eie lyding

Die volk van God, die Here se kerk, is ook ’n dienaar van die Here.  Ons loop vandag ook langs paaie van gehoorsaamheid wat vir ons lyding inhou.

Soms bring ons hierdie lyding oor onsself vanweë ons eie sonde, soos Israel destyds.  Dan verdra ons die lyding as die opvoeding van die Here.  Soms ly ons vanweë gehoorsaamheid aan die Here.  Daardie lyding geskied onder die belofte van God se seën en oorwinning.

Laat ons in alles die geduldige en gewillige lyding van Christus voor oë hou. Soos Hebreërs 12:3 sê:
Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie (Hebreërs 12:3).
Ons hoop is die misterie van die vuur wat geboorte gee aan wonderbaarlike lewe.

God stuur ons om te leef

Nagmaal

Flam 55  “Nagmaalslied”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Nagmaal)
Teks en Musiek: Willie Joubert
© 1990  Brettian Productions
(Opgeneem op Treffers van Willie Joubert)

1. Ek staan skuldig voor U, Heer
Voor U, my Vader, wat regeer
Ek is ned’rig in my hart
En my siel is so verward
En my lewe is vuil voor U troon

Refrein:
O, Heer, vergewe my
Heer, kom maak my vry
Van die sondelas
o, kom na my om dit skoon te was
Want ek wil weer vlekloos voor U staan

2. Die wyn en die brood wat ek nou neem
Is ‘n teken van U rykdom en U seën
Al die oorvloed binne my
Kom en borrel in my vry
En die oorsaak is die Gees wat in my bly

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes” 
1 Petrus 2:24
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

Alternatiewe Nagmaal Formulier 
(Verwerk deur Marius Lourens, gebaseer op hoofstuk 10 (p113 vv) van Piet Naudé se boek “Brug na môre”, 1994: Lux Verbi, Kaapstad.)

(‘n Addisionele Powerpoint met die formulier is beskikbaar, Foto deur Wicus Wait, aangepas mbv Picasa 3. Let op die embleem van die kruis in die skaduwee van die wyn en brood.)

Formulier
God het geweet dat dit vir ons as mense uiters moeilik is om entoesiasties te bly in die geloof. Daarom het Hy vir ons die Nagmaal gegee, en die tekens van die brood en die wyn, om ons te herinner aan die Here Jesus se liggaam wat vir ons gebreek is, en sy bloed wat vir ons gevloei het.

Want God het geweet, as ons siele nie gevoed word nie, en ons as mense nie goed eet en drink nie, dan is dit vir ons moeilik om in ‘n feestelike stemming te bly.

En daarom gee Hy vir ons die brood van die kruis om ons lam knieë sterker te maak, en streel Hy ons kele met die wyn van die kruis, om ons droë kele te lawe sodat ons nie van uitputting omkom nie.

Daarom, wanneer die feesgangers bymekaar is, moet ons die brood neem en die wyn drink en moet ons ons oë rig op die ewige feesmaal, en dan sien ons ‘n onbeskryflike mooi gesig, en tussen die feesgangers staan die Lam van God. Hy het die kruis wat op die heuwel geplant was uit die grond getrek, en Hy neem dit in Sy hand, en dit word die Groot Komponis se dirigeerstok waarmee Hy die maat aandui…

En so begelei die kruis ons van noot tot noot, van maatstreep tot maatstreep, totdat ons lied saamvloei in een magtige akkoord aan die voete van die Lam: SACTUS DOMINUM: Heilig is die Here God.
OF gebruik die stasies van die kruis hier.  
Tydens die Nagmaal kan ‘n video gewys word soos Shift Worship se Painted Communion.

Wegsending
Flam 208 “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd)
Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en Musiek: Mark Altrogge
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise
CCLI Song No. 24047;  CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam:  “Kom na My”

Vir ewig is ek dankbaar, O, Heer
Dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra

Wys die [briljante, kragtige] videoThe Last Painting”.  

Gemeente verlaat die kerk in stilte, sonder die seëngroet of orrelspel

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.