Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Goeie Vrydag is die dieptepunt van Lydenstyd en die fokus van die erediens val op die kruisiging van Jesus. Die atmosfeer van die Goeie Vrydag-erediens is sober en gewyd en daar is geen versierings in die kerk op Goeie Vrydag nie. Na die viering van die nagmaal op die Donderdagaand is dit belangrik dat die kerk “gestroop” word van ikone en simbole wat in die week gebruik is om vir mense ’n ruimte te skep waarin hulle kan nadink oor die lydensweg van Jesus. (Die “stroop” van die gebou na afloop van die nagmaal kan in ’n mooi ritueel omskep word waaraan gemeentelede kan deel neem.) Al wat oorbly in die kerk is die Christuskers wat in doringdraad toegedraai is en op ’n prominente plek in die kerk geplaas word.

Daar is weinig gemeentelede wat al die meditasies en dienste van Palmsondag tot Paassondag sal bywoon, tog is mense geneig om die Goeie Vrydagdiens by te woon. Daarom is dit belangrik om voort te bou op die spanningslyn van die meditasies in die week, maar om ook ’n unieke en besondere ervaring te skep deur middel van die Goeie Vrydagdiens. Daarom is dit sinvol om die verhaal aan die orde te stel.

Benewens die RCL-tekste vir hierdie erediens, kan die verhaal soos dit in die evangelies gevind word met groot vrug gebruik word om die gemeente in te lei in die diepte van die gebeurtenis wat ons op die dag herdenk.

Dit is belangrik om die konteks waarbinne Goeie Vrydag staan aan die begin van die erediens aan die gemeente te verduidelik. Die liturgie gaan nou die verhaal opneem vanaf die punt waar Jesus die Pasga met sy dissipels gevier het (soos die nagmaal gisteraand). Verduidelik ook die meditatiewe en responsoriese aard van die liturgie, dat die gemeente telkens geleentheid gaan hê om, deur ’n lied of stilte, op die Skrifgedeeltes te reageer. Gepaste beelde kan tydens die lees van die afsonderlike Skrifgedeeltes vertoon word.

Ander tekste

Psalm 22
Vir die koorleier: op die wysie van
“Die wildsbok van die daeraad”.
’n Psalm van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:

9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”

10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basan
staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.

18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Hebreërs 10:16-25
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Hebreërs 4:14-16
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Hebreërs 5:7-10
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Johannes 18:1-19:24
Jesus word gevange geneem
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.

7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”

8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”

9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69–70; Mark. 14:66–68; Luk. 22:55–57)
15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.

18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Petrus verloën Jesus weer
(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.

“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.

En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”

Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”
23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.

Fokusteks

Jesaja 52:13-53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
aar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Ekstra stof

Jesaja as boek
Die indeling van Jesaja in drie dele is baie bekend: Proto-Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja.  Dit is gebaseer op die teorie van Bernard Duhm uit die laat 19de eeu n C wat deel een met die profeet Jesaja uit die 8ste eeu v C geassosieer het, deel twee met ‘n anonieme profeet tydens die ballingskap in Babilon in die vroeë 6de eeu v C, en deel drie met nog ‘n anonieme profeet na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem toe in die laat 6de eeu v C.  Die inhoud van die drie dele is dus verbind met die drie tydperke waaroor dit hoofsaaklik gehandel het, die Assiriese, Babiloniese en Persiese koninkryke.

Daar het egter in die laaste aantal jare ‘n belangrike verandering in die denke hieroor plaas gevind.  Die klem het van Jesaja as profeet geskuif na Jesaja as boek, onder andere omdat toenemend besef is dat die inligting oor die sogenaamde “3 profete” te skraps was om as basis vir die eksegese te dien.  Daarby het navolgers van Duhm se teorie die eksegese van die boek begin hanteer asof die onderskeie dele van die boek Jesaja niks met mekaar te doene gehad het nie. Hierbenewens het ander navorsers bevind dat dele van die sogenaamde Proto-Jesaja teks eintlik nie aan die profeet Jesaja self toegeskryf kan word nie, maar eerder aan redaksionele aanpassings in ‘n later tyd, wat die teorie van ‘n 3-profeet boek wankelrig gemaak het.

Baie navorsers het dus begin om Duhm se teorie op te skort en die boek eerder as ‘n literêre eenheid te lees en teologies te interpreteer.  Dit beteken nie dat hulle daarmee noodwendig terugkeer na die tradisionele standpunt dat Jesaja die profeet ook die outeur van die hele boek Jesaja is nie.  Maar dit beteken wel dat hulle die eenheid van die boek – waaraan verskeie mense waarskynlik eeue lank gewerk het – ernstig neem.

Indeling van die boek
Jesaja teken God as die Lewende (Jes 37:4).  Hy is die God van beide die Skepping (Jes 40:28) en die Geskiedenis (Jes 1:1; 43:15).

  • In terme van die Skepping is Hy beide Skepper (Jes 40:28) as Onderhouer (Jes 27:3, 40:26) van alles wat bestaan.
  • En in terme van die Geskiedenis tree Hy op as Regter (Jes 33:22) en Verlosser (Jes 41:14) van almal wat leef, ook die nasies (Regter: Jes 13-23;  Verlosser: 56, 60).
  • Deel 1: Jesaja 1-39

In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4).  Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word.  Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Benewens die historiese aanduidings in die boek (Jes 1:1; 2:1; 6:1; 7:1–25; 14:28; 20:1–6; 22:14–25, and 36:1–39:8.) word drie verhale midde in die profesieë geplaas om dit histories binne die meer as 50 jaar lange aktiewe bediening van die profeet Jesaja te plaas:

1. Die verhaal van koning Agas in gesprek met Jesaja tydens die Siro-Efraimitiese oorlog teen die Arameërs en Israeliete van die Noordryk (, wat teen Jesaja se raad in ’n verdrag met die opkomende wêreldmag van die Assiriërs gesluit het (Jes 7-9 – vgl 2 Kon 16; 2 Kron 28) wat voor die val van Samaria in die jaar 722 v C gedateer moet word;
2. Die verhaal van Jesaja se liggaamsprofesie teen Egipte en Kus (Jes 20:1-6) in die tyd van koning Sargon van Assirië waarskynlik in 711 v C;
3. Die verhaal van koning Hiskia, Agas se seun, wat dit weer reggekry het om stukkie vir stukkie die volk se onafhanklikheid terug te wen van Assirië en die Filistyne, en uiteindelik die bedreiging van Sanherib van Assirië in 701 v C kon afweer.  Ook die verhaal van die siekte en herstel van Hiskia word vertel wat daarna plaasvind (Jes 36-39 – vgl 2 Kon 18-20; 2 Kron 29-32).

Deel 2: Jesaja 40-66
In die tweede deel van die boek, hoofstuk 40-66, fokus Jesaja ons aandag op die verlossing wat God vir sy volk bring, onder andere deur die bediening van die Dienaar van die Here (Jes 42, 49, 50, 5253) wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66).

Daar word aangesluit by vorige heilsbeloftes in die eerste deel van die boek (Jes 2:2-5; 4:2-6), en ’n visie van ’n volkome nuwe begin geteken wat histories, internasionaal en kosmies van aard is.

Aan die een kant is dit ’n troosboodskap vir die verstrooide volk (Jes 40).  Aan die ander kant konfronteer dit ook diegene wat nie wil deelneem aan die nuwe Uittog wat God vir sy mense belowe nie (Jes 46) en nie tot inkeer wil kom nie (Jes 56-59). Tog belowe die Here dat die nuwe toekoms onafwendbaar heerlik sal deurbreek.  En die nasies sal ook daarin deel (Jes 56, 60).

Jesaja 40-66
Die tweede hoofdeel van Jesaja, hoofstuk 40-66, werk met dus God se nuwe plan om ‘n oorblyfsel te red wat Hom sal dien in ‘n nuwe bedeling waarin die dienaar van die Here ‘n sleutelrol speel.

‘n Tergende vraag wat geleerdes besig gehou het die afgelope eeu is die identiteit van die sogenaamde “dienaar van die Here” in Jesaja 40-66.  Nie dat dit ‘n splinternuwe vraag is nie.  Die Ethiopiese finansiële amptenaar het dit al vir Filippus op die pad na Gasa gevra, terwyl hy Jesaja 52-53 gelees het (Hand 8:34).  Filippus het dit duidelik met Jesus geïdentifiseer, soos Paulus waarskynlik ook in Filippense 2:5-11 doen (vgl ook Lukas daaroor in Luk 22:37 en Hand 3:13, 26 [Jesus word Sy dienaar genoem], sowel as Petrus in 1 Pet 2:22; 3:18).

Duhm het in die 19de eeu Jesaja 42:1–4; 49:1–6; 50:4–9; 52:13–53:12 uitgesonder as die 4 fokustekste vir dié vraagstuk, wat meesal slaafs nagevolg word deur kritiese geleerdes.  Interessant genoeg kom die frase dienaar van die Here glad nie in die Hebreeuse grondteks van dié gedeeltes voor nie!  Die Hebreeuse frase kom eintlik net een keer in Jesaja voor, nl in Jes 42:19.  Daar kan dit waarskynlik met Israel geïdentifiseer word, wat waarskynlik verklaar waarom Duhm dit nie ingesluit het in sy seleksie nie.  Verbasend dat geleerdes hulle steeds deur hom laat begelei.

Daar is egter vele verwysings na my/sy dienaar (in die enkelvoud of die meervoud) in die tweede deel van Jesaja, wat beteken dat ‘n mens die Jesaja teks as ‘n geheel moet lees om sin van die verwysings te maak.  Jy kan nie net fokus op die vier Duhm tekse nie.  Baie keer is dit duidelik dat met hierdie dienaar Israel (Jakob, Sion) of die gelowiges/geroepenes bedoel word, soos die konteks duidelik maak, maar soms is dit steeds onseker wie hierdie dienaar is.  Terloops, Kores word nooit die dienaar van die Here genoem nie, maar wel herder en gesalfde.

Douglas Stuart wys hoe daar ‘n progressie in die idee van die dienaar van die Here is – aanvanklik word nog met die idee van Israel as die onwillige dienaar van die Here gewerk, maar veral in 49-53 word dit op ‘n Individu van toepassing gemaak, wat nie net vir Israel instaan nie, maar deur sy lydende gehoorsaamheid hulle verlos sowel as die nasies. Dit doen hy deur spesifiek die probleem van die sonde aan te spreek en versoening tussen God en die volk/nasies te bewerk.

Tussendeur word Kores as God se gesalfde herder-verlosser bekendgestel wat die terugkeer na die Beloofde Land moontlik maak.

Jesaja 52:13-53:12
Ons maak baie moeilik vrede met lyding.  Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.  Tog is daar iets fassinerends in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.  En ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.  Dink aan verhale uit die vorige eeu: Ghandi, moeder Theresa, Mandela.  Hulle het met groot persoonlike opoffering hulle aan hulle lewenstaak gewy.  En baie mense is daardeur geïnspireer.

En dit is nie net die groot leiers wat só ‘n inspirasie is nie; ook die gewone mense wat geduldig volhard het onder groot lyding – agter die Ystergordyn tot en met die val van die Berlynse muur en nou onlangs in Egipte, Tunisië en Libië wat ‘n enorme effek op die regerings gehad het, en reeds tot die val van die eerste twee gely het – dié inspireer ons.

En dit is die krag van hierdie verhaal van die lydende dienaar van die Here.

Tog is dit juis iets wat volgens Jesaja vir baie mense verborge sal wees, dat hulle die hand van die Here nie daarin sal raaksien nie.  Baie mense sal ontsteld wees oor sy voorkoms en konings sal sprakeloos wees oor hom, omdat hulle sy rol nie sal kan kleinkry nie.  Terloops, 52:13 se “voorspoedig wees” kan ook vertaal word met  “wys wees” wat beter in die konteks inpas.

Maar dit is juis in hierdie onaansienlike, veragte en verstote mens wat God sy krag ten toon sal stel, die transformasie van lyding, siektes, oortredings en sondes.  Deur Hom sal God vrede vir ons bring en ons van ons eie pad bekeer na Sy pad toe.

Wat spesifiek besonders van hierdie dienaar is, is dat hy die hoogste prys betaal – “afgesny uit die land van die lewendes … graf gekry by goddeloses … by sondaars in sy dood” – (53:8-10a) EN daarna nog lank sal lewe (53:10b-11).  Op ‘n verskuilde manier voorspel dit die opstanding uit die dood van hierdie dienaar van die Here.  En God aanvaar sy skuldoffer (53:10 – vgl Lev 5:14-6:7 waar die offer selfs vir onopsetlike sondes voorgeskryf word) as ‘n losprys vir baie.

Let ook op dat die dienaar in stille vertroue sy lyding tegemoet stap (53:7) terwyl hy vir oortreders bid (53:12).  Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jes 30 waar stilwees, vertroue en gebed die gelowige respons op groot uitdagings is.  Geen wonder dat die Here hierdie offer so hoog aanslaan, trouens aan Hom die ereplek gee onder die grotes en magtiges (53:12).  Want die geduld in lyding dra groot vrug.

Die Nuwe Testament maak daarom hierdie woorde van Jesaja op vele plekke van toepassing op Jesus, omdat die skrywers in sy lewe die vervulling van hierdie gedeelte gesien het: 53:1 in Joh 12:38; 53:4 in Matt 8:17; 53:7-8 in Hand 8:32-33; 53:9 in 1 Pet 2:22.

Inderdaad, Jesus self het ‘n vers hieruit op Homself van toepassing gemaak aan die kruis: bv. 53:12 in Luk 22:37.

Voetnota: Verbasend baie geleerdes identifiseer steeds hier die dienaar as Israel (korporatiewe interpretasie), terwyl dit regdeur duidelik is dat dit ‘n individu is wat ter wille van ander ly, en dan ook nog spesifiek ter wille van die volk van Israel (53:8).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede
 Lied 391 “Vervul, o Heer, my hart” of
Vonkk 194 “Was jy daar?” of
Flam 208 “U Het Nie Gewag Op My”

Votum: Jesaja 53:1-5
53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.

Seëngroet: (of geen seëngroet, twv die somberheid van die diens.)

Jesus se lydensweg
(Wys uitbeeldings van Jesus se lyding tydens die Skriflesing.  Ons kies die onderstaande indeling t.w.v. die aangrypende kunswerke deur Ken Cooke wat jy kan kry by http://www.st-george-newbury.org/stations.htm  Jy sou egter ook ‘n ander indeling kon gebruik, of selfs Jesus se kruiswoorde.)

Jesus word gevange geneem: Iemand lees Johannes 18:3-9, 12 (Cooke se kunswerk nr I op skerm)
Lied 379 Versreëls 1 & 2 (Jesus Christus, Lam van God, wat die las van sonde dra, wees ons genadig) of 
Vonkk 11 “Heer wees ons genadig”

Jesus word bespot:  Iemand lees Matteus 27:27-31 (Cooke se kunswerk nr VII of IX op die skerm)
Lied 379 Versreëls 3 & 4 of 
Vonkk 11 “Heer wees ons genadig”

Jesus word gekruisig:  Iemand lees Johannes 19:17-20 (Cooke se kunswerk nr XI)
Lied 379 Versreëls 1 & 2 of 
Vonkk 11 “Heer wees ons genadig”

Jesus se klere verdeel:  Iemand lees Johannes 19:23-24 (Cooke se kunswerk nr X)
Lied 379 Versreëls 3 & 4 of
Vonkk 11 “Heer wees ons genadig”

Jesus sterf:  Iemand lees Johannes 19:28-30 (Cooke se kunswerk nr XII)
Lied 379 Versreëls 1 & 2 of 
Vonkk 11 “Heer wees ons genadig”

Jesus se liggaam word van die kruis afgehaal:  Iemand lees Johannes 19:31-34 (Cooke se kunswerk nr XIII)
Lied 379 Versreëls 3 & 4 of 
Vonkk 11 “Heer wees ons genadig”

Jesus word begrawe:  Iemand lees Johannes 19:38-42 (Cooke se kunswerk nr XIV)
Lied 379 volledig of 
Vonkk 11 “Heer wees ons genadig”

Liedere

VONKK 194
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?
Was jy daar toe hy wreed mishandel is?
Daar aan die kruis het hy betaal vir al ons sonde sonde sonde.
Was jy daar toe die Heer gekruisig is?

Kan jy sien hoe hy daar vir jou moes ly?
Al die haat waardeur hy geduldig bly?
Daar aan die kruis het hy betaal vir al sonde sonde sonde.
Kan jy sien hoe hy daar vir jou moes ly?

Weet jy nou waarom het hy daar gehang?
Weet jy nou waarom hy so swaar moes ly?
Daar aan die kruis het hy betaal vir al ons sonde sonde sonde.
Weet jy nou hy het dit alles vir jou volbring?

VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig”
Teks: Jannie Hougaard 2003  © nav Kyrie eleison
Melodie: MINKIE-ANNE — Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief — Skuldbelydenis

Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig,
wees ons genadig.

Kyrie eleison.
Kyrie eleison.
Kyrie eleison, eleison.

VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”
Teks: Adoramus te Christe – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 1994
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Gebed / Nagmaal / Lydenstyd

Ons aanbid U, Jesus Heer.
Ons besing u heil’ge Naam.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.
Deur al u bitter lyding
gee U ons bevryding.

Adoramus te Christe,
benedicimus tibi,
quia per crucem tuam
redimisti mundum,
quia per crucem tuam
redemisti mundum.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes” 
1 Petrus 2:24
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

F208. “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd)
Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en Musiek: Mark Altrogge
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise
CCLI Song No. 24047;  CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam:  “Kom na My”

Vir ewig is ek dankbaar, O, Heer
Dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra

F91. “U Genade Vir My Is Genoeg”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Dankbaarheid / Lydenstyd / Opstanding)
Oorspronklike titel: Uw genade is mij genoeg
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music

1. Sien hoe Jesus daar loop in Jerusalem,
met ‘n kruis op Sy rug en ‘n doringkroon.
Hoor die menigte skreeu en roep: “Kruisig Hom!” –
so betaal Hy die sondeloon.

2. Sien die Lam aan die kruis daar op Golgota:
God wat mens word en ly, die vernedering.
Sien die liefde vir ons in Sy oë staan,
toe Hy roep:  “Dit is volbring!”

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en dis meer as wat ek kan vra.

3. In die ryk van die dood het Hy neergedaal.
Ja, uit liefde vir ons wat ons nie verstaan.
Maar die steen van die graf is nou weggehaal –
Jesus leef, Hy het opgestaan!

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.

4. En nou kom ek tot U met vrymoedigheid;
met ontsag en respek, kniel ek voor U neer.
U is Koning en God tot in ewigheid
U is Jesus die hoogste Heer.

Ja, ek dank U vir U genade, o Heer,
U het die kruis gedra.
U bewys U genade aan my telkens weer
en is meer as wat ek kan vra.

U genade’s vir my genoeg!
U genade’s vir my genoeg!

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Jesaja 52:13-53:12

Familie-oomblik

Geen familie-oomblik vir hierdie Goeie Vrydag diens nie.

Preekriglyn

Hy is deesdae regdeur die Arabiese wêreld beroemd.  Sy droom was om genoeg geldjies bymekaar te maak om ‘n bakkie te huur of te koop.  Nie om die wêreld te verken of die omgewing plat te ry nie, maar om sy werk te doen.  Mohammed Bouazizi was ‘n groenteverkoper.  “Hy het gereeld saans huis toe gekom gedaan gesukkel om sy groentekarretjie heeldag die wêreld vol te stoot.  Al wat hy wou gehad het, was ‘n bakkie,” vertel Mohammed se tante, Radia Bouazizi.  Mohammed het nooit sy bakkie gekry nie.  In plaas daarvan het hy ‘n revolusie ontketen wat die Arabiese lente ingelui het.

Mohammed se verhaal lees presies soos honderde ander jong mans in hul harde, verarmde woonplek, Sidi Bouzid, 300 km suid van die Tunisiese hoofstad, Tunis.  Op 26 was hy gelukkig om ‘n inkomste te kon verdien uit die verkoop van groente, anders as baie van sy portuur wat desondanks universiteitsgrade werkloos is.

Op 17 Desember 2010 is Mohammed en sy familie se lewensonderhoud bedreig toe ‘n polisievrou sy ongelisensieerde groentekarretjie met die vrag daarop gekonfiskeer het.  Dit was nie die eerste keer nie, maar dit sou die heel laaste keer wees.  Nie tevrede met die R50 boete wat Mohammed probeer betaal het nie (‘n goeie dag se inkomste vir ‘n groenteverkoper), het die polisievrou die jong man na bewering geklap, in sy gesig gespuug en sy oorlede pa belaster.

Vernederd gaan Mohammed na die provinsiale regeringskantore om te kla, maar hy kry niemand te sien nie.  Om 11:30, reg voor die gebou, gooi hy brandstof oor hom en steek homself aan die brand.  Hy is nie dadelik dood nie, eers weke later in die hospitaal, op 4 Januarie 2011.  Daar was soveel woede oor sy lot dat selfs die diktator, pres. Zine el Abidine Ben Ali, Mohammed op 28 Desember in die hospitaal besoek het.  Hy wou die verontwaardiging van die massas probeer kalmeer.  Die opstand kon egter nie gekeer word nie.  Op 14 Januarie 2011, slegs 10 dae na Mohammed Bouazizi se dood, was Ben Ali se 23-jaar lange regering op ‘n einde.

Hier sou dit nie eindig nie.  Mohammed se daad van wanhoop het die Arabiese Lente ingelui wat tot die val van verskeie korrupte regerings gelei het.  Diktators het hulle te pletter geloop teen sy groentekarretjie.  Hy het sy lewe nie verniet gegee nie. (Bron)

Die ooreenkoms

Die aangrypende lied in Jesaja 52 sing van die gebroke mens, sonder aansien, wie se lyding dramatiese gevolge het.  Hierdie dienskneg van die Here ly en beland in die graf, sonder dat daar ook aansien en eer aan hom toegeken is.  Hy was verag en deur mense verstoot, niemand het hom gereken nie.  Tog het sy lyding vrug gedra vir ander.  Sy lyding het seën gebaar.

Merkwaardig genoeg het die lyding en dood van ‘n groenteverkoper met ‘n nederige groentekarretjie ‘n revolusie ontketen.  Daar is ‘n venster op beter geleenthede vir ‘n hele wêrelddeel geopen.  Die krag van die individu se lyding en dood kan nie onderskat word nie.

Die verskil

Die lyding van Jesus van Nasaret was sonder weerga.  Hy was onskuldig, maar die volle geweld van die wêreld se selfgerigtheid, magsbeheptheid en opstand teen God het op Hom neergekom.  Niemand in die wêreld se geskiedenis het die lyding geken wat op Jesus neergekom het nie.  Hy het vrywillig gekies om die lydingspad te loop, ons te dien deur ons sonde op Hom te neem.  En die oordeel van God oor die sonde het op Hom gerus.  Hy het ons lyding op Hom geneem, oor ons oortredings is Hy deurboor.

Geen ander mens se lyding kan in hierdie opsig ooit met Jesus s’n vergelyk word nie.  Die Onskuldige dra die skuld van ander.

‘n Antieke lied

Ons teks is ‘n antieke dokument.  Dit kom uit die tyd van Juda se krisis tydens die ballingskap in Babilonië.  Dit is die vierde van vier sg. “Dienaar van die Here”-liedere in Jesaja.

Op hierdie stadium is die volk in ballingskap (ongeveer 587-539 v.C.).  Jerusalem en Juda is verwoes.  Die Babiloniërs is in beheer.  Kores, die Persiese koning, verteenwoordig die opkomende politieke mag wat die Babiloniërs se wurggreep op die destydse wêreld gaan verbreek.

Die “Dienaar van die Here”-liedere beklemtoon dat die Here menslike instrumente gebruik om sy verlossing te bring.  Die dienaar kan sy volk wees.  Ook mense buite sy volk, soos einste Kores en die Perse.  Daar is deurgaans die bewussyn dat – hoewel die dienaar God se volk is – die dienaar meer as net die volk is, ook ‘n spesifieke persoon deur wie God aan die werk is.

God aan die werk

‘n Sentrale tema van ons teks is dat God aan die werk is deur God se dienaar.

Hierdie werk van God bring vir die dienaar uiteindelik voorspoed, aansien en eer mee (52:13).  Die pad na hierdie eer en heerlikheid is egter ‘n pad van lyding en opoffering.

Die lyding van die dienaar word met ‘n waterval van opmerkings en metafore beskryf.  ‘n Paar voorbeelde:

  • Hy sal misvormd wees, en nie meer die voorkoms van ‘n mens hê nie (52:14);
  • Hy is verag en deur mense verstoot (53:3);
  • ‘n Man van lyding en pyn (53:3);
  • Beskou as iemand wat gestraf en deur God geslaan en gepynig word (53:4).

Die eensame lydingspad wat hierdie dienaar bewandel, is tot heil van God se mense.  ‘n Paar voorbeelde:

  • Die straf wat vir ons vrede bring was op hom (53:5);
  • Deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (53:5);
  • Die Here het ons almal se sonde op hom laat neerkom (53:6);
  • Hy is verbrysel en het gely om ‘n nageslag vir die Here te skep (53:10);
  • Hy maak baie mense regverdig (53:11).

Hierdie lyding verdoesel as’t ware die goddelike beweging agter die dienaar se opoffering.  God gebruik die dienaar, die dienaar se lyding is betekenisvol.  Maar dis nie vanselfsprekend dat mense dit sal raaksien nie.  Daarom vra 53:1:

Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

Toegepas op Jesus

Van die vroegste tye af het die Christelike kerk Jesaja 52-53 verstaan as van toepassing op Jesus Christus.  Een voorbeeld: Die hofdienaar in Handelinge wat waarskynlik persoonlik weens sy gebrek gely het, wil weet wie hierdie man in Jesaja 53 is (Hand 8:32-34).  Filippus verduidelik aan hom dat dit Jesus is.

Hoewel die dienaar van die Here in die tyd van die ballingskap vir volk kon wees, en selfs ook magshebbers uit daardie tyd, roep hierdie teks vooruit na Jesus van Nasaret se lydingsweg.  Aan die hand van hierdie teks sien die Christelike kerk God in Jesus aan die werk.

Die eerste Christene was verstom oor die feit dat die Messias moes lei.  Almal het ‘n Messias verwag.  Die onverwagse was dat die Messias se pad in lyding en dood sou eindig.

Vandaar die belangrikheid van Jesaja se vraag: “Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?”

Ons teks is vir Christene die gids om Jesus se lyding te ontsluit.   Dit help ons om God se werk in die lydende Jesus te sien en te glo.

Verheerliking omraam lyding

Vandag is Goeie Vrydag.  Ons staan verslae by Jesus se kruis.  Verslae, by die aanskoue van soveel liefde, diens en omgee.  In ‘n wêreld waar almal iets vir beloning wil doen, is die gratis liefde van Jesus verbysterend.

Hierdie Ou Testamentiese lied beeld die offer en gesindheid van Jesus uit.  Die Nuwe Testamentiese weergawe hiervan staan in Filippense 2:

Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,
maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.
Op Goeie Vrydag sien ons die wonde, hoor ons die slae, voel ons die eensame lydensweg, en weet ons: dit is vir ons.

Natuurlik is dit nie die einde nie.  Ons teksgedeelte begin juis met die belofte (52:13):
My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
Hy sal baie eer ontvang.

Ná die beskrywing van die dienaar se lyding, word belowe:
… sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe (53:10), en
Na bitter lyding sal hy weer die lig sien (53:11), en
My dienaar sal baie mense regverdig maak (53:11), en
Daarom gee Ek hom ‘n ereplek onder die grotes.
Hy sal saam met die magtiges oorwinning vier,
omdat hy hom in die dood oorgegee het (53:12).

Die Nuwe Testamentiese weergawe hiervan, weer eens uit Filippense 2 (9-11), klink as volg:
Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Die vrug van Jesus se lyding

Baie mense verander die wêreld deur hulle lyding.  Mohammed die groenteverkoper is ‘n sprekende voorbeeld.

Volgens die lied in Jesaja 52-53 deel mens in die vrug van die Dienaar van die Here se lyding deur jou sonde te bely.  Die volk bely dat hulle skuldig was soos skape wat weggedwaal het (53:6). Hulle sonde was die oorsaak van die lyding van hierdie mens (53:5). Hy het in hulle plek gely en gesterf (53:6,8). Hy was hulle plaasvervanger (53:11). Sy dood het vir hulle soveel seëninge gebring. Hy het hulle lyding en siektes gedra, is deur sy wonde genees en het vrede gekry (53:4, 5).

Op ‘n dag soos hierdie pas dit dat ons ons sonde bely, en Jesus vasgryp as die Een wat vir ons sonde betaal het.  Ons ontvang sy versoening langs die weg van skuldbelydenis en die erkenning dat Hy ons sonde gedra het. Meer as dit, een het vir almal gesterf en daarom het almal gesterf (2 Kor 5:15).  Ons begin verstaan dat Jesus plekke geruil het, die onskuldige vir die skuldiges (2 Kor 5:21), die geseënde vir die vervloektes (Gal 3:13), die regverdige vir die onregverdiges (1 Pet 3:18). Luther noem dit die groot ruiltransaksie!

Ons staan by Jesus se graf en onthou dat Hy as onskuldige gely het. Dit help ons nie net deur moeilike tye nie. Ek weet dat sy onskuldige lyding vir my was. Vir my was daardie wonde; vir my moes Hy daar staan; ja, die smarte en die hoon, dis vir my! Dis ’n vraag hoe ons met ons eie mislukkings, skuld en nalatigheid omgaan. Daar is net een manier. Skuld-belydenis. Dit is die goeie nuus van Goeie Vrydag. Dat ons bevry en versoen is met God. Ons onderstreep ons sonde voor God deur ons belydenis. Hy trek ’n bloedstreep daardeur.

Wanneer ons van die kruis wegstap, is ons ander mense.  Ons is aangeraak en gereed om self ook ons naaste liefdevol te dien.

God stuur ons om te leef

Nagmaal
(Uit Handleiding vir die Erediens)
Die nagmaal is ’n gedagtenismaaltyd. Die Here het by die instelling van die nagmaal gesê: “Gebruik   dit tot my gedagtenis.” In die nagmaal dink ons terug aan die lewe van Jesus, en in die besonder ook   sy dood op Golgota. Wanneer ons die brood en wyn sien, sien ons in ons gedagtes die hele  lydensweg van Jesus voor ons afspeel: hoe Hy Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word; hoe hierdie vernedering telkens tydens sy aardse bestaan verdiep en uiteindelik daarop uitgeloop het dat Hy Homself verder verneder het deur gehoorsaam te wees tot in die dood, ja, die dood aan die kruis (Fil 2:7-8). Ons dink daaraan, en verkondig dit aan almal: hoe Jesus sy lewe vir ons gegee het; hoe Hy soos ’n koringkorrel in die grond geval en gesterf het; hoe Hy die lydensbeker gedrink het; hoe Hy van God verlate was en uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Mark 15:34), sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

Gereedmaak van die tafel
Lied 384 “Jesus, o dink aan my” of
VONKK 28 “Ons Aanbid U, Jesus Heer”

Tafelgebed
Instelling en Nagmaal

Litanie
(Uit Aan tafel met Jesus deur Cas Wepener)
Voorganger:  Jesus, dink aan my, wanneer U in u ryk kom.  Hoor ons gebede.  Vir u kerk oor die wêreld heen…
Gemeente:  … vra ons nuwe lewe.

V:  Vir almal wat dien in u kerk
G:  vra ons genade en wysheid.

V:  Vir Christene in elke land
G: vra ons eenheid in u Naam.

V:  Vir mense van ander gelowe
G:  vra ons ook u seën.

V:  Vir almal wat sukkel om te glo
G:  vra ons u liefde.

V:  Vir die leiers en regeerders van ons land
G:  vra ons leiding.

V:  Vir mense wat ly en truer
G:  vra ons u troos en helende vrede.

V:  En vir myself
G:  vra ek dat U ook aan my sal dink.

Lied 384 “Jesus o dink aan my”

V:  Amen
G:  Amen

Slotlied
Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis” of
VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes” of
Flam 91 “U Genade Vir My Is Genoeg”

Geen Seën 
Gemeente verlaat die erediens in stilte, met die gevoel van onvoltooidheid wat ons na Paassondag dra.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.