Goeie Vrydag

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalms 22
U het my gebed verhoor
22 Vir die koorleier: op die wysie van
“Die wildsbok van die daeraad”.
’n Psalm van Dawid.
2My God, my God,
waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep?
3My God, ek roep bedags
en U antwoord nie,
ook snags, maar ek kry geen rus nie.
4U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel
weerklink!
5Op U het ons voorvaders vertrou.
Hulle het vertrou en U het hulle gered.
6Hulle het na U om hulp geroep
en hulle is bevry;
op U het hulle vertrou
en hulle is nie beskaam nie.
7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.
Ek word deur die mense bespot
en deur die volk verag.
8Almal wat my sien, spot my,
hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê:
9“Laat dit aan die Here oor!
Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry
as Hy dan so baie van hom hou.”
10U het my die eerste lewenslig laat sien,
my veilig laat rus
aan die bors van my moeder.
11Van my geboorte af is ek onder u sorg,
van die begin van my lewe af
is U my God.
12Moet tog nie so ver van my af weg
bly nie,
want die nood is naby
en daar is niemand wat help nie.
13’n Wreedaardige klomp mense
het my omsingel,
soos beeste uit Basan
staan hulle my toe.
14Soos verskeurende, brullende leeus
storm hulle met oop bekke
op my af.
15Ek is soos uitgestorte water,
al my bene het uitmekaar geval,
my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my.
16Ek is so min werd soos ’n potskerf,
my tong kleef aan my verhemelte,
U laat lê my asof ek dood is.
17Soos honde omsingel hulle my,
die bende misdadigers sak op my toe,
hulle bind my hande en voete vas.
18Al wat been in my is, kan ek tel;
hulle kyk na my met leedvermaak.
19Hulle verdeel my klere onder mekaar
en trek lootjies oor my mantel.
20En U, Here-
moet tog nie so ver bly nie,
Bron van my krag, help my tog gou!
21Red my van die swaard,
my kosbare lewe
uit die mag van die honde.
22Red my uit die bek van die leeu
en tussen die horings
van die wilde beeste uit.
U het my gebed verhoor!
23Ek sal tot eer van u Naam getuig
in die gemeente,
U in die volle vergadering prys.
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Jesaja 52:13-53:12
Oor óns sondes is hy verbrysel
13My dienaar sal voorspoedig wees.
Hy sal hoog in aansien wees,
hy sal baie eer ontvang.
14Baie mense was ontsteld oor hom,
hy was só misvormd
dat hy nie meer
soos ’n mens gelyk het nie,
nie meer die voorkoms van ’n mens
gehad het nie.
15Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing.
Konings sal sprakeloos wees oor hom,
want hulle sal iets sien
wat nie aan hulle vertel is nie,
hulle sal iets te wete kom
wat hulle nog nooit gehoor het nie.

53 Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?
Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?
2Die dienaar was soos ’n loot
wat voor die Here uitspruit,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
3Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
4Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Maar ons het hom beskou
as een wat gestraf word,
wat deur God geslaan
en gepynig word.
5Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
6Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
7Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
8Terwyl hy gely het en gestraf is,
is hy weggeneem,
en wie van sy mense het dit
ter harte geneem
dat hy afgesny is
uit die land van die lewendes?
Hy is gestraf oor die sonde
van my volk.
9Hy het ’n graf gekry by goddeloses,
hy was by sondaars in sy dood
al het hy geen misdaad gepleeg nie
en al was hy nooit vals nie.
10Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
As hy sy lewe as skuldoffer gee,
sal hy ’n nageslag hê en nog lank lewe,
deur hom sal die wil van die Here
sy doel bereik.
11Ná sy bitter lyding sal hy
weer die lig sien
en hy sal die Here ken.
My dienaar, die regverdige,
sal baie mense regverdig maak:
hy sal die straf vir hulle sonde dra.
12Daarom gee Ek hom ’n ereplek
onder die grotes.
Hy sal saam met magtiges
oorwinning vier
omdat hy hom in die dood oorgegee
het
en as misdadiger beskou is,
omdat hy die sondes van baie
op hom geneem het
en vir oortreders gebid het.

Hebreërs 10:16-25
Die offer van Jesus Christus
11Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit. 13Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is. 14Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.
15Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:
16“Dit is die verbond
wat Ek met hulle
na daardie dae sal sluit,
sê die Here.
Ek sal hulle my wette
in die hart gee,
in hulle verstand
sal Ek dit skrywe.”
17Dan sê Hy verder:
“Aan hulle sondes
en hulle oortredings
sal Ek nooit meer dink nie.”
18Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.
Laat ons met vrymoedigheid na God gaan
19Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, 20en dit op ’n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam. 21En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het, 22laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. 23Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het. 24Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. 25Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Hebreërs 4:14-16; 5:7-9
Jesus die groot Hoëpriester
14Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 15Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 16Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.

4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron. 5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.” 
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.” 
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Fokusteks

Johannes 18:1-19:42
Jesus word gevange geneem
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.

7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”

8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”

9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus voor Annas
12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Petrus verloën Jesus die eerste keer
(Matt. 26:69–70; Mark. 14:66–68; Luk. 22:55–57)
15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”

“Nee, ek is nie!” antwoord hy.
18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas en Kajafas verhoor Jesus
(Matt 26:59–66; 27:1; Mark 14:55–64; 15:1; Luk 22:66–71)
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Petrus verloën Jesus weer
(Matt 26:71–75; Mark 14:69–72; Luk 22:58–62)
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:2, 11–21; Mark 15:1–11; Luk 23:1–5, 13–19)
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”

Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.
“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Jesus word oorgelewer om gekruisig te word
(Matt 27:22–31; Mark 15:12–20; Luk 23:20–25)
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:32–44; Mark 15:21–32; Luk 23:26–43)
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”

23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Luk 23:44–49)
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Luk 23:50–56)
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Ekstra stof

Johannes 18:1-21:25
Hoofstuk 18-20 is die verhaal van:

  1. Jesus se inhegtenisneming  en verhoor,
  2. Jesus se kruisiging,
  3. Jesus se opstanding en
  4. Jesus se verskyning aan sy dissipels.

Hoofstuk 21 sluit die evangelie af met die herstel van Petrus se verhouding met Jesus.

Johannes 18:1–40 – Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir my
Die verhaal van Getsemane tot net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.

18:1-11: Let op dat Jesus nie terugdeins vir die inhegtenisneming nie, en Homself identifiseer aan die soldate en wagte.  Sy beheer van die situasie blyk ook uit die toegestane versoek dat die dissipels nie ook gevange geneem sal word nie.

Jesus kies dus om dié roete van die kruis te volg, en nie met geweld die koninkryk van God te  vestig nie.  Daarom keer Hy ook vir Petrus toe dié met geweld Hom probeer verdedig.  Hy moet die lydensbeker drink – dit is sy opdrag en daaraan wil Hy gehoorsaam wees.

Let ook op hoe beide Judas en Petrus steeds ’n prominente rol speel soos in hoofstuk 13.  Judas verraai Jesus, en verwerp daarmee die genade.  Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ’n verkeerde manier.

18:12-14: Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester en skoonpa van die huidige hoëpriester Kajafas.  Hy was ’n besondere invloedryke man wat ook 5 seuns gehad het wat almal op ’n stadium hoëpriester was.

18:15-18: Petrus en Johannes (die “ander dissipel”) gaan agter Jesus aan, maar Petrus verloën Jesus dan wanneer die deurwagter diensmeisie hom konfronteer by die vuurtjie.

18:19-24: Dit is waarskynlik steeds Annas wat Jesus ondervra oor sy leer (vgl vers 24).  Jesus verwys hom egter net na dié wat sy lering al tevore gehoor het, onder ander natuurlik Nikodemus, en wil niks meer daarby voeg nie.  Let op hoe Jesus die onregverdige hou van die wag hanteer – hy slaan nie terug nie, maar vra na die logika daaragter en stel so die onreg daarvan bloot.

18:25-27: Petrus verloën Jesus nog twee keer teenoor mense wat saam met hom hulself warmmaak by die vuurtjie, waarvan die laaste een familie was van Malgus, en in die tuin teenwoordig was met Jesus se inhegtenisneming.

18:28-40: Die verskyning voor Kajafas word nie vertel nie, wel die volgende verskyning voor Pilatus die Romeinse goewerneur van 26-36 nC.  Let op hoe skynheilig die Jode optree – hulle gee nie om om iemand ter dood ter veroordeel nie, maar is wel bekommerd dat hulle onrein sal word as hulle die ampswoning sou betree wat dan sou beteken hulle dan nie die paasmaaltyd kon eet en vir 7 dae nie aan die Paasfees kon deelneem nie.

Pilatus vra uit oor die aanklag, soos die wet vereis, maar kry nie baie detail by die Jode nie, net ’n verdediging van hulle optrede.  Uit Jesus se skrapse antwoorde kan Pilatus ook nie sin maak nie, hoewel dit vir die ingeligte leser duidelik blyk dat Jesus ’n sinopsis gee van sy bediening, soos Johannes in die proloog (Joh 1:1-14) al bekend gemaak het.  Hy praat oor sy koningskap wat nie van hierdie wêreld is nie, van die waarheid waarvan Hy kom getuig het, dat Hy van God af gekom het, en dat almal wat aan die waarheid behoort (onthou Jesus is self die Waarheid!) sal luister na wat Hy sê.

Pilatus vind – soos te verwagte – geen skuld in Jesus nie.  Maar, sy oordeel laat hom liederlik in die steek.  Hy wil nie moeilikheid van die Jode af hê nie, wat die gramskap van Rome sou kon ontlok, en kies om hulle tevrede te probeer stel, deur hulle ’n keuse tussen Barabbas, ’n bewese misdadiger, en Jesus te gee.  Hy meen dat hy ’n uitweg vir homself gekry het uit die dilemma met hierdie troefkaart.  Pilatus se keuse boemerang egter lelik deurdat die Jode kies om Barabbas los te laat word en nie Jesus nie.   Dit beteken dat die tafel gedek is vir die kruisiging.  Die Jode se keuse vir Jesus bevestig egter ook hulle eie misdadigheid.

Kommentaar: Watter opeenstapeling van verspilde kanse.  Judas verspeel sy kans op inkeer.  Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.  Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee.  En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen.  Hy gaan nie die verraaier teë nie.  Hy dwing die Jode nie tot verering nie.  Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie.  Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.

Johannes 19:1-42 – Dit is volbring!
In vier bedrywe word die kruisigingsverhaal vertel:

  • Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – 19:1-16;
  • Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – 19:17-27;
  • Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – 19:28-37;
  • Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – 19:38-42.

19:1-16: Jesus moet die pyn van die kruisigingsproses deurstaan (die geseling was met ’n sweep wat uit ’n klomp rieme bestaan het, waaraan stukkies been en metaal vasgewerk is), sowel as die ekstra vernedering van die doringkroon en die pers mantel met die soldate wat met Sy koningskap spot.  Hy kies ook om nie Pilatus se onskuldigbevinding en duidelike ongemaklikheid met die situasie uit te buit tot sy voordeel.  Die uitlewering van ’n onskuldige Jesus aan die Jode is eintlik ’n verkragting van die Romeinse regstelsel.  Selfs wanneer Pilatus egter bang raak vir die dreigemente van die Jode, en dit duidelik blyk dat hy ’n manier soek om Jesus los te laat, staan Jesus nie die boosheid van die Jode en die wispelturigheid van Pilatus teë nie.

Wat ’n mens dus raaksien tussen die weifelende maar ook strategiese Pilatus (sy amnestie prosedure met Barabbas het nie gewerk nie, nou probeer hy lyfstraf om hulle simpatie met Jesus te probeer ontlok, wat ook nie werk nie) en die moorddadige skynheilige Jode, is ’n kalm roepingsbewuste Jesus wat die rol wat God Hom gegee het, tot die einde toe speel.  Dít is waarvoor Hy na die wêreld gekom het – om sy lewe te gee vir sy skape, dié wat in Hom glo – en dít is waarvoor Hy Homself nou oorgee.  Let op, Hy wys Pilatus (en voor dit ook die Jode) op die betekenis van wat hulle doen, maar Hy keer hulle nie om hulle planne en keuses uit te voer nie.

En hoe verskriklik klink die woorde van die Jode nie: “Ons het nie ’n koning nie, ons het net die keiser.”  En daarmee voltrek hulle ook die oordeel oor hulleself, want hulle verwerp dié
Een wat vir hulle die lewe kon gee (soos Israel destyds in Samuel se tyd – 1 Sam 8:7).

19:17-27: Die reis van Gabbata na Golgota begin.  Dit is ’n reis vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe.  Die een kies om sy lewe te behou, en sal dit verloor.  Die Ander kies om sy lewe te gee, en sal dit uiteindelik behou.

Die moordenaars wat langs Jesus gekruisig is, word wel genoem, maar Johannes kies om nie meer detail oor hulle te vertel nie.  Ironies genoeg verklaar die opskrif oor Jesus presies wie Hy in werklikheid is, al het Pilatus min daarvan besef.

Die vier soldate se verdeling van sy klere word deur Johannes as vervulling van Ps 22:19 beskou, ’n Psalm waarin ’n hele paar Messiaanse betekenisse gehoor kan word. Ironies genoeg staan daar ook vier vroue – saam met Johannes – by die kruis: 1 Maria, Jesus se ma, 2) haar suster (waarskynlik Salomé – Mark 15:40), 3) Maria, die vrou van Klopas (waarskynlik dieselfde persoon as Kleopas waarvan ons in Luk 24 lees), en 4) Maria Magdalena (van Magdala), dié een wat die voorreg sou hê om die eerste die leë graf te beleef (hfst. 20).

Let op in hoe ’n kontras Johannes Jesus teenoor Pilatus plaas.  Pilatus het uit vrees opgetree en Jesus onskuldig laat sterwe.  Jesus het uit liefde opgetree en hier in sy sterwensuur nog ’n liefdesdaad vir sy ma verrig, deur haar aan Johannes toe te vertrou – die eerste kruiswoord waarvan Johannes ons vertel.

19:28-37:  Dit bly moeilik om oor Jesus se dood te skrywe – al besef ’n mens dat Hy dit gekies het, dat God Hom daarvoor gestuur het, en dat dit die lewe vir my en duisende ander beteken het.

Die ander twee kruiswoorde wat Johannes beskryf vat egter vir my op pynlik-inspirerende wyse vas wat hier gebeur.

  • Jesus is volledig mens wat pyn en lyding ervaar presies soos wat ek dit doen: “Ek is dors” (’n aanhaling uit Ps 69:22 wat hier ’n Messiaanse betekenis kry).  En ten spyte van sy dors volhard Hy onwrikbaar op die lydenspad.
  • En met ’n laaste woord voltooi Hy sy missie en lewensroeping: “Dit is volbring”.  Hy het die wenstreep behaal en die geloof behou.

Die gebruik was om gekruisigdes se bene te breek om die dood te verhaas. Anders kon gekruisigdes vir ’n paar dae lank so lank as moontlik probeer regop staan om die dreigende versmoring (long- en hartversaking) as hulle aan hulle arms sou hang, te vermy.  Vir Jesus was dit egter nie nodig nie, omdat Hy Homself aan die kruisdood oorgegee het en reeds dood was.  Johannes verbind dit aan Ps 34:21 (hy sou ook na Eks 12:46; Num 9:12 kon verwys waar die Paaslam se bene ook nie gebreek is nie) en haal ook Sag 12:10 aan wat van die “deurboring”  praat, soos die soldate dit inderdaad uitgevoer het.

19:38-42: Josef van Arimatea en Nikodemus, die twee geheime dissipels, vra vir Jesus se liggaam en begrawe Hom in ’n tuin naby aan Golgota teen die aand van die Vrydag, Goeie Vrydag.

Kommentaar: Ons het baie voorbeelde van helde wat volhard het met hulle opdragte of enduit volgehou het met ’n spesifieke lewenstaak.  Maar daar is niemand wat meer gedoen het as Jesus nie, veral as ’n mens die blote vernedering van menswees vir God, en die afgryslike vernedering van ’n onskuldige kruisdood in ag neem.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Omdat die fokusteks ‘n lang Skrifgedeelte is, kies ons om dit as een stuk liturgie te gebruik, afgewissel met ander elemente. Dit sal sinvol wees om lidmate te laat deelneem aan die liturgie, van begin tot einde.

Die volgende suggesties (Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13) kan ook sinvol in die diens gebruik word.

  • Die diens begin in stilte, met so min beweging in die liturgiese ruimte as moontlik.
  • Gepaste simbole kan as fokus vir die diens in die liturgiese ruimte geplaas word – ’n kruis, ’n plek waar gemeentelede kerse kan opsteek.
  • Sagte orrelmusiek vir tien minute voor die diens help die gemeente om stil te word.

Die Tweede liturgiese voorstel (Ook uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13) koppel klank/ geluide aan die onderskeie gedeeltes, byv die voetstappe van soldate of ‘n haan wat kraai wat telkens by die gepaste teks ingevoeg word. Klankgrepe sal beslis die Skriflesing verryk en is op die internet beskikbaar, baie daarvan gratis.

Voetstappe
Murmurering van ‘n groep mense.
‘n Haan wat kraai.

Aanvangswoord
U het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na u sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van u sou hou nie.
U was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
U was verag,
ons het u nie gereken nie.
4Tog het U óns lyding op Uself
geneem,
óns siektes het U gedra…
(Uit Jes 53)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.
(Openbaring 1:4-6)

Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Liedere

F12. “Meer As Ooit”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Above all
Teks en Musiek: Lenny LeBlanc & Paul Baloche
Afrikaanse vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1999 Integrity’s Hosanna Music / LenSongs Publishing
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Meer as rykdom, meer as mag,
as die skoonheid van sterre in die nag,
meer as wat ons ooit op aarde wen,
is dit werd, o Heer, om U te ken.
Meer as silwer, meer as geld,
al die blomme, die diere in die veld,
meer as dit, so eindeloos veel meer,
was die prys wat U betaal het, Heer.

Refrein:
Aan ‘n kruis en in ‘n graf van steen,
U leef en sterf, verworpe en alleen.
Immanuel, U die God met ons
U dra die straf en dink aan ons –
meer as ooit.

F60. “U Liefdeslied Vir My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee

U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.

Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here Jesus, vandag word ons weer in verbystering stil voor u liefde: dat U gekom het na die wêreld toe om te sterf. Ons is verbyster daaroor, Here, want dis nie soos ons is nie. Dankie dat U nie soos ons is nie, Here. Dankie dat U Uself gegee het tot in die dood. Dankie dat U ons Verlosser geword het.

Ons aanbid U, Here Jesus, Koning van die kerk en van ons lewe. Wil U tog op hierdie dag opnuut Uself aan ons verbind; wil U ons asseblief deur u Heilige Gees verander dat ons soos U kan word, U kan navolg, onsself kan aflê. Word U tog meer in ons, Here Jesus, sodat dit nie meer ons sal wees wat lewe nie, maar U in ons!

Seun van God wat gekom het om u lewe vir ons af te lê, hoor ons gebed! Skenk ons die visie, o Vader, om soos U na die wêreld te kyk. Om nie die wêreld te sien as ’n probleem nie, maar as mense wat u liefde en u genade nodig het, as mense wat iewers langs die pad die spoor byster geraak het, sodat  U in Christus Jesus hulle weer kom soek het. Vergewe ons dat ons net dié liefhet wat vir ons liefhet, dat ons net vir hulle bid wat naby ons staan, dat ons tevrede is om met ons eie klein kringetjie gelowiges voort te gaan.

O Vader wat nie behae het in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom bekeer en kan lewe, hoor ons gebed!

En nou, o Gees van God, bid ons dat U in ons sal werk, sodat Christus in ons lewe verheerlik sal word. Bly met ons besig, o Gees, totdat die dag kom waarop elke knie voor Christus sal buig en elke tong sal bely: Jesus is Here!

Dit alles vra ons met die gebed dat U verheerlik sal word in ons.
Amen.
(Communitas, 29 Maart 2002)

SKRIFLESING EEN
Jesus word gevange geneem– Joh. 18:1-11;
18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.
“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.
Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.

7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”
En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”

8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”

9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh. 18:12-14; (Foto van ’n venster in Newcastle Cathedral deur Lawrence OP by flicker.com – Creative Commons License)

12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

SKRIFLESING TWEE
Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh. 18:15-18;
15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”
“Nee, ek is nie!” antwoord hy.

18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh. 18:19-24;
19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Lied 384 “Jesus o dink aan my Afr + Eng”

SKRIFLESING DRIE
Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh. 18:25-27;
25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”
Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Geleentheid vir stilte/ stilgebed

SKRIFLESING VIER
Pilatus verhoor Jesus – Joh. 18:28-40.
28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”
Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.

“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.
En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Lied 392 “O Lam van God onskuldig 1”

SKRIFLESING VYF
Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – Joh. 19:1-16;
19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”

Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”
Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Ruim geleentheid vir stilte/ stilgebed

SKRIFLESING SES
Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – Joh. 19:17-27;
17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”

23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:
“Hulle het my klere
onder mekaar verdeel,
en vir my kleed het hulle geloot.”
Dit is wat die soldate gedoen het.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”
Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2,3”
Lied 387 “O Heer uit bloed en wonde 1,2,3,4”

SKRIFLESING SEWE
Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – Joh. 19:28-37;
28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”
Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” 37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.”

Tyd vir stilte/ oordenking

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

SKRIFLESING AGT
Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – Joh. 19:38-42
38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Gebed
Almagtige en ewige God
U het ons deur die triomfantelike dood en
opstanding van Christus
tot die lewe herstel:
gaan voort met hierdie genesende werk in ons
en gee dat ons wat in hierdie bediening deel
nooit ophou om U met toewyding te dien nie;
ons vra dit deur Christus onse Here. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Prediking (indien u dit enigsins oorweeg)

Familie-oomblik

Hierdie verhaal is wel lank, maar verdien om uit die hoek van al die karakters wat daarin optree, vertel te word.

Preekriglyn

[Nota: Aangesien die voorlesing van die teks lank is, maar aanbeveel word dat die hele teks voorgelees word, word slegs kort prediking voorgestel.]

Die verhaal van Getsemane tot met Jesus se begrafnis word in ons teks in tien episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh. 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh. 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh. 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh. 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh. 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh. 18:28-40.
  • Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – Joh. 19:1-16;
  • Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – Joh. 19:17-27;
  • Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – Joh. 19:28-37;
  • Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – Joh. 19:38-42.
Jesus as hoofkarakter

Jesus, die Seun van die lewende God, word as hoofkarakter in die gebeure uitgebeeld.  Dit is Jesus wat kies om die Vader te gehoorsaam.  Jesus sê “ja” vir sy roeping om Homself ter wille van ons oor te gee.

Johannes getuig in sy weergawe van die lydensverhaal van die waardigheid en majesteit van Jesus se optrede, teenoor die soldate en andere wat Hom in die tuin kom arresteer.  Daar is geen sprake van doodsangs nie. Jesus gaan sy vyande met waardigheid en kalmte tegemoet.

Dieselfde waardigheid vind ons tydens die verhoor voor Annas en sy reaksie wanneer Simon Petrus die oor van die slaaf van die hoëpriester afslaan.  Die hele verhoor voor Pilatus is ’n openbaring van die koninklike majesteit van die gevangene.  Die weg van smarte word ’n oorwinningsmars. Nêrens lees ons by Johannes dat Jesus gestruikel of geval het nie, maar slegs: “Jesus het self sy kruis gedra . . .” (19:17).

Laastens word die kruis ’n troon. Jesus gaan nie passief of sonder stryd na die kruis nie.  Veel eerder aanvaar Hy liefdevol en met groot waardigheid sy bestemming uit die hand van die Vader, volledig bewus van die messiaanse sending wat Hy tot die einde toe moet volvoer.  Vir Hom is hierdie uur die uur van die Vader, die uur van openbaring, van lig en van lewe.

Fokus bring vryheid

Aangesien Jesus so duidelik op sy roeping fokus, en vanuit sy roeping leef, is Hy vry om gehoorsaamheid aan die Vader te kies.  Maak nie saak wat dit kos nie.

Lambert Jacobs skryf hieroor: “Wat in die Johannespassie opval, is dat Jesus deurgaans in beheer van die situasie is. Hy word nie teen wil en dank na die kruis gesleep nie. Nee, Hy konfronteer die afdeling soldate wat in die tuin na Hom toe kom (Joh. 18:4) en stel Hom herhaaldelik aan hulle voor (Joh. 18:5, 8). Hy kies om die lydensbeker van sy Vader te drink (18:11). In die verhore voor Annas (18:19-24), Kajafas en Pilatus (18:28-19:16), skroom Hy nie om te sê wie Hy is en waarvoor Hy hier is nie. Aan die kruis reël Hy nog vir die versorging van sy moeder (19:26-27). Heel aan die einde kan Hy uitroep: “Dit is volbring!” (19:30).

Dit is duidelik dat die kruisiging in Johannes se oë geen verloorstryd was nie. Regdeur vertel hy die verhaal as een van oorwinning, van Jesus wat as Seun van God en Koning van die wêreld verheerlik en vereer word.

Leer by Jesus

Hoewel ons nie geroep is om vir die wêreld se sonde te sterf nie, kan ons baie by Jesus leer.  Ons leer om getrou te bly aan God, om te fokus op ons roeping, en nie terug te deins vir die lyding wat dit inhou nie

Só het talle martelaars vir die evangelie deur die eeue Jesus se roepingsbewustheid voor oë gehou.  Ook hulle het gekies om getrou te bly aan God.  Mag die Here ons ook bekragtig om Hom te gehoorsaam.

Leer by die ander karakters

Ons kan ook baie by die anders karakters in die lydensgebeure leer.  Die Joodse leiers, Pilatus, en veral Judas en Petrus kom in mens se gedagtes op.

Judas verraai Jesus, en keer nie terug na Jesus met berou oor wat hy gedoen het nie.  Hy verwerp die genade.  Petrus verdedig Jesus deur Malgus se oor af te kap, en bevestig nog hier sy verbintenis aan Jesus, al is dit op ’n verkeerde manier.  Later verloën Petrus Jesus wanneer die deurwagter diensmeisie hom konfronteer by die vuurtjie.  Hy verloën Jesus nog twee keer teenoor mense wat saam met hom hulself warm maak by die vuurtjie.

Watter opeenstapeling van verspilde kanse.  Judas verspeel sy kans op inkeer.  Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.  Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee.  En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen.  Hy gaan nie die verraaier teë nie.  Hy dwing die Jode nie tot verering nie.  Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie.  Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.

Vereer Jesus

Mislukking is menslik.  Aangesien Jesus vir ons gesterf het, kan ons na hom draai, en met ons sonde na hom gaan.  Op ‘n dag soos hierdie – waar ons onthou dat ons hande ook die spykers sou kon inkap – maak dit daarom sin om Jesus te vereer vir sy getrouheid.  Hy het God se roeping volbring.  Hy is ons hoop!

God stuur ons om te leef

Oppergawes

Wegsending: Lied 385 “Loof die Here, dis volbring 1,2”

SEËN
Here,
stort u oorvloedige seën oor u mense uit
wat met toewyding die dood van u Seun herdenk het
in die vaste hoop van die opstanding:
skenk hulle vergifnis, en troos hulle:
mag hulle geloof sterker word
en hulle ewige verlossing verseker wees. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.