Gee-vreugde – Week 8

Vreugde-trilogie

Sections

Inleiding

In hierdie week gaan jy uitgedaag word om vredesoekend vir Jesus te leef.

When we speak of our virtues we are competitors, when we confess our sins we become brothers.
– Karl Barth, The Shaping of Things to Come

Fokus: Handelinge 8–28 – Anderkant Stefanus, staak vuur!

Lukas het net ná Stefanus se episode in Handelinge 8:4 geskryf: “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.”

Dit klink baie goed, maar ongelukkig het die misverstande en die moeilikhede nie weggebly nie. In Handelinge 11:19 staan daar: “Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie.”

O gits, hierdie laaste paar woorde wat die goeie nuus net aan die Jode wou toebedeel val vreemd op gelowige ore! Dit klink soos eksklusivisme, klassisme, rassisme, elitisme en nog baie sondige -ismes. Dit klink ook vreemd in die lig van Jesus se omvangryke liefde, sy groot opdrag en Paulus se roeping (Hand 9:15).

Stefanus se dood was ’n tragiese verhaal, maar dit het die evangelie van Jesus na ander wêrelddele ver buite Jerusalem laat uitkring. Dit

het via twisgesprekke en woordestryde ’n tweede bate van Jesus se evangelie na vore gebring: die evangelie was bedoel vir alle nasies, nie net vir die Jode nie. Petrus se visioen van die doek uit die hemel in Handelinge 10, die woordewisselings in Handelinge 15 en Paulus en Barnabas se spore en hulle verhale in Klein-Asië, het die inklusiwiteit van Jesus se liefde en sy verlossing glashelder verduidelik. Daaroor hoef nooit twyfel te wees nie.

Hierdie week gaan ons uitspan onder ’n paar Bybelverhaal-koeltebome anderkant Stefanus se gebeure en waardevolle riglyne uit die afloop van die Handelingeverhaal ná sy dood beluister.

Dag 1 - Saulus se bekering

Lees Handelinge 26:12-23.

Paulus het kort na Stefanus se dood op pad na Damaskus tot bekering gekom. Ná sy geloofsmetamorfose, het hy (behalwe die Here Jesus deur sy Gees natuurlik) die hoofkarakter van die laaste twee-derdes van die Handelinge-boek geword.

In Handelinge 26 het Paulus voor koning Agrippa in Sesarea rekenskap van sy bekering gegee, van sy roeping en sy verbintenis tot Jesus Christus. Dit is die derde keer in Handelinge dat Paulus se bekeringsverhaal gelees kan word. Die ander twee keer is in Handelinge 9:1-9 en 22:4-16.

Paulus se woordkeuse herinner baie aan Jeremia en Esegiël se roepingsverhale. Lukas teken Paulus doelbewus as die Here se profeet vir ’n nuwe tyd. Hy vertel van die verblindende, hemelse lig en die stem van Jesus wat in Aramees (’n Hebreeuse dialek) twee sake aan hom meegedeel het (v 6-17). Hy sou voortaan ’n dienaar en ’n getuie van Jesus wees, en nie meer téén Jesus getuig nie. Op hierdie nuwe roepingspad sou hy baie teenstand ervaar. Die Here het hom egter duidelik verseker dat Hy hom teen die Jode en die heidennasies se vel aanslae sou beskerm.

Paulus het vir koning Agrippa verduidelik dat daar net één manier is om deel van God se nuwe volk te word. Dit is om tot bekering te kom en in Jesus Christus as die enigste Verlosser en Here te glo (v 18).

In vers 19-23 herinner Paulus die toehoorders daaraan dat hy in sy ywer vir die Here by tempels, sinagoges en nog ander plekke aangeval, verniel en byna vermoor is.

Hy het ook vir koning Agrippa verduidelik dat sy boodskap oor Jesus eintlik nie vir die Jode so vreemd hoef te wees nie. Net soos Stefanus, het hy Ou Testamentiese karakters soos Moses en nog ander profete se uitsprake gebruik. Dié het almal verkondig dat daar ’n Messias sou kom wat die eerste sou wees om uit die dood op te staan. En wie anders kon dit wees as Jesus Christus? Hy sou die lig vir Jode en nie-Jode wees wat nog in die donkerte leef.

Twee aspekte wat duidelik van Paulus se verhaal uitstaan, is die radikale ommeswaai wat in sy lewe plaasgevind het, asook die absolute toegewyde verbintenis waarmee hy sy roeping tot heel aan die einde volvoer het.

Paulus het onder meer vir Timoteus in 2 Timoteus 4:7-8 uitvoerig van sy wedervaringe vertel. Toe was hy al naby sy einde.

Sy lewensreis was soos ’n uitmergelende hinderniswedloop. Hy was ongewild, hy is geboei en in tronke gestop, onregverdig aangehou, verhoor en gevonnis. Hy het 39 houe lyfstraf gekry, hy is gestenig en vir dood agtergelaat. By meer as een geleentheid het hy op ontoereikende skepies in rowwe seestorms vir sy lewe gevrees.

Paulus se lewensroeping was “om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins” (Fil 1:21). Dit is nie moeilik om in hierdie geloofsbelydenis vanuit die tronk sy totale oorgawe aan Jesus Christus raak te sien nie. Paulus sou werklik nie daarvan beskuldig kon word dat hy homself eerste gestel het nie, dat hy ’n louwarm gelowige of ’n mooiweer-Christen was nie!

Here, seën u gestuurdes om selfs ongewilde take aan te pak.

Dag 2 - Steeds wonderwerke en verhorings

Lees Handelinge 20:7-12.

In die vroeë kerkleiers se ywer om getuies vir Jesus tot aan die uithoeke van die wêreld te wees, het Goddelike wonderwerke ’n groot rol gespeel. Gelukkig droog wonderwerke nooit op nie.

Een van die wonderwerke wat gewoonlik minder aandag kry, is die keer in Troas op pad tussen Masedonië en Milete tydens Paulus se derde sendingreis. Paulus se aandboodskap ná die agapé (die daaglikse, gesamentlike liefdesmaaltyd) was só lank dat Eutigus onder die klank van Paulus se woorde in ’n diep slaap verval en drie verdiepings ver uit die vensterbank na sy dood geval het. (Ek wonder of Paulus met ’n reputasie van sulke lang skolingsgeleenthede vandag ’n beroep sou kry!)

Nietemin, Paulus het afgegaan, op hom gaan lê en bid soos wat Elia met die weduwee van Sarfat se seun gedoen het (1 Kon 17) en Eutigus lewend verklaar. Daarná het hulle het verder gaan brood breek en tot die volgende oggend toe na Paulus geluister.

Wonderwerke en gebedsverhorings in die Bybel was soos brandstof wat die koninkryksmotor momentum gee.

In Handelinge 9 bemiddel Petrus Eneas (bedlêend en verlam) se wondergenesing. Daarná het die volgende gebeur (v 35): “Al die mense van Lidda en die Saronvlakte het hom gesien en hulle tot die Here bekeer.”

Tabita wat kort ná Eneas se genesing in Joppe uit die dood opgewek is, se wonderwerk het tot gevolg gehad (v 42): “Die hele Joppe het hiervan gehoor, en baie mense het tot geloof in die Here gekom.”

Toe Paulus en Barnabas op die eiland Ciprus in Pafos (Hand 13) die skelm Joodse towenaar Elimas wat onder die valse naam Barjesus (letterlik “seun van Jesus”) mense verwar het, berispe het en hy met tydelike blindheid getref is, was die uiteinde daarvan (v 12): “Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.”

Net so lees ons in Handelinge 20 dat die gelowiges in Troas waar Eutigus homself doodgeval en weer lewendig geword het, die rede was waarom gelowiges daar uitermatig bemoedig was.

Die belofte in Johannes 15:7 dat gelowiges vir die Here kan vra net wat hulle wil en hulle dit sal kry, moet binne die verband van die tema van hoofstuk 15, die hele Johannes-evangelie en die hele Bybel as sodanig verstaan word.

Dit gaan daarin oor gelowiges wat in Jesus bly en sy woorde in hulle, oor mense wat vrugte dra waardeur die Vader verheerlik word (v 8). Die Bybelse betekeniswydte hiervan is nie die verhoring van luukse, selfstrelende behoeftes nie.

In Johannes 16:23-24 belowe Jesus sy dissipels: “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.” In Jesus se Naam bid niemand vir persoonlike en selfsugtige begeertes nie.

Net so is Jesus se belofte in Matteus 18:19-20: “Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Dit is nie bedoel om ’n ongebonde, lukrake vra-wat-jy-wil-uitnodiging en belofte te wees nie. In hoofstuk 18 gaan dit duidelik en spesifiek oor God wat deur sy gelowiges vir ander wil omgee en dat hulle op diep vlakke met baie liefde na mekaar sal uitreik.

Hoofstuk 18 vorm deel van die vierde (van vyf) groter preekeenhede in Matteus. ’n Gepaste tema vir dié eenheid is: “Gee regtig om vir mekaar.” Die onderafdelings “moenie mekaar verwaarloos nie” (v 1-20) en “onbeperkte liefde” (v 21-35) is sprekend van dié tema. Die bedoeling van vers 19 is dat gelowiges wat as twee of meer in gestuurde, soekende liefde (missionaal) in gebed saam is, sal bid en in Christus se teenwoordigheid na sondaars en stukkendes uitreik.

Natuurlik is die Here se wonderwerke en gebedsverhorings vér bo mense se begrip. Natuurlik is sy almag en sy vrymag nie aan ons begrip daarvan gebonde nie. Oor die misterieë van sy Goddelike volmaaktheid is dit wys om eerder stil te word en in verwondering te wees.

Dit is glad nie moontlik om klinkklare uitsluitsel oor gebedsverhoring te gee nie. Maar dit kan nie wegredeneer word nie dat wonderwerke en gebedsverhorings God en sy koninkryk bo alles wil verheerlik. Jakobus help gelowiges op ’n praktiese manier met gebed as hy in Jakobus 4:3 kort en kragtig verklaar: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”

Laat elke verhoring en elke wonderwerk u naam loof, Here.

Dag 3 - Voortgesette swaarkry en opwinding in ’n onverstaanbare balans

Lees Handelinge 20:17-38.

In Paulus se afskeidsboodskap in Milete het hy sy roeping en oorgawe aan die Here verduidelik as ’n lewe wat “die Here dien met alle nederigheid en met trane en deur die beproewinge wat gekom het as gevolg van die sameswerings van die Jode” (v 19). In vers 29 waarsku hy die gelowiges dat hulle waaksaam moet bly omdat daar altyd “wrede wolwe” sal wees wat die boodskap van Jesus wil verdraai, al is dit net om hulle kerke vol te kry. Op ’n manier was Paulus se bediening en sy lewe ná Damaskus ’n worstelstryd.

Reeds tydens Paulus se bekering het Jesus hom geroep om baie te ly. Hy het hom verseker dat hy die Here se beskerming nodig gaan hê (Hand 26:17).

Maar die belangrikste frases in Paulus se roepingsgesprekke was by verre nie die swaarkry of sy roemryke hantering daarvan nie. Die helderste was vir Wie en in Wie se Naam hy die swaarkry sou deurmaak.

En dit het Jesus baie duidelik uitgespel: “Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel. Jy moet getuie wees van wat jy van My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien. Ek sal jou beskerm teen die volk Israel en teen die heidennasies na wie toe Ek jou stuur.” Die kalklig was nie bedoel om op die dienaar of die swaarkry te val nie, maar op die Een wat roep, op die Een aan wie Paulus behoort en aan Wie hy homself oorgegee het.

In Johannes 16:33 het Jesus vir sy dissipels in sy afskeidsgesprekke verduidelik dat hulle dit in hierdie wêreld moeilik gaan hê. Kan jy jou indink hoe vreesaanjaend dit moes gewees het om uit Jesus se mond te hoor: “Die mense sal julle uit die sinagoges ban. Daar kom selfs ’n tyd dat elkeen wat een van julle doodmaak, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys” (Joh 16:2)?

Weereens was die klem nie op die wrede moeilikheid, die taai sendelinge of die hindernisse op hulle pad nie. Die klem was op die Oorwinnaar wat die wêreld reeds oorwin het (hoe onverstaanbaar dit ook al klink as nuusberigte ’n ander storie verkondig). Die klem was op sy Gees wat by die dissipels sou wees en hulle in die volle waarheid van Jesus Christus tot volkome blydskap sou lei. Die Bybelse fokus is daarop dat Hy die Oorwinnaar gaan wees wat die laaste sê gaan hê. In die tussentyd gaan Hy al die dae lank by sy gelowiges wees. Soos wat dinge gebeur, sal Hy sáám met die gelowiges wees en bly. Hy sal by hulle wees in hulle stryd teen sonde en alles wat aaklig is – tot by die vreugdevolle, finale oorwinningsfees by die bruilof van die Lam.

Bly bou aan u ryk Here, al lyk dit soms of die teendeel waar is.

Dag 4 - Steeds strydbyle onder die gelowiges

Lees Handelinge 15:36-41.

In Handelinge 15 het Paulus en sy geswore medestryder, Barnabas, so hewig aan die stry geraak dat hulle paaie geskei het en hulle van toe af in verskillende spanne en in verskillende rigtings hulle bediening gaan beoefen het. En dit net oor die vraag of Johannes Markus, wat hulle vroeër in Perge in die Pamfilië-streek in die steek gelaat het, in hulle uitreikspan moes wees of nie. Ná Handelinge 15 lees ons nie weer in die boek Handelinge van Barnabas nie.

Paulus en Barnabas wou op hulle tweede sendingreis al die gemeentetjies weer gaan besoek en gaan brûe bou, bemoedig, ondersteun en hulle verder onderrig in die waarheid. Hulle stry egter toe so hewig dat Paulus saam met Silas Silisië toe reis en Barnabas saam met sy neef, Johannes Markus, na Siprus (Kol 4:10).

Dit bly ’n eienaardige en ironiese toedrag van sake, maar die kerk van Jesus Christus, die Vredevors (Jes 9:5), was nog nooit sonder verskille, geskille, skermutselings en strydbyle nie. Dit bly onbegryplik dat die Here dwarsdeur alle gevegte en oor alle tye heen gemaklik en liefdevol in en deur sy kerk bly regeer.

Hier volg nou ’n klompie Bybelse en kerkhistoriese brokkies vol gevegskuns. Die goeie nuus is dat dit nooit Jesus se kerk sal toemaak nie. Die Hoof van die kerk is nie uitgelewer aan mense se gewere, grille of giere nie.

In Markus 10 lees ons van ’n geskil onder die twaalf dissipels. Die ander tien het baie kwaad geword vir Johannes en Jakobus. Hulle twee wou in Jesus se koninkryk vir hulle magsbasisse afbaken. Wat ’n misverstand!

In die eerste deel van Handelinge 15 was die strydbyle ook skerp geslyp. Die kerkleiers het so verskil dat Paulus en Barnabas van Antiogië af Jerusalem toe moes kom vir ’n vergadering met Petrus-hulle oor die besnydenis en die wet van Moses. Daar was in Antiogië en in Jerusalem woordestryde “wat hoegenaamd nie onbenullig was nie” (Hand 15:2). Eers was dit Paulus en Barnabas met die ander in Antiogië in Sirië, en toe Paulus, Barnabas, Petrus en Jakobus met die ander klomp in Jerusalem.

In die baie vroeë kerk het die kerkleiers erg verskil oor Jesus se twee nature. Was Hy God, of was Hy mens? Een kerkvader, ene Marcion (85-160 nC, Sinope, Turkye) se aanbeveling was dat net die God van die Nuwe Testament aanvaar moes word. Die God van die Ou Testament is wreed, lief om te straf, oorlogsugtig en liefdeloos. Gelukkig het kerkleiers soos Athanasius-hulle die saak vir die kerk gered.

Hierdie stryd oor die ware natuur van Jesus se wese was ’n felle stryd wat bykans 500 jaar lank gewoed het. Philip Jenkins skryf in sy boek Jesus Wars (Jenkins, 2011) dat die monnike tydens die tweede konsilie in Efese in 449 nC die patriarg van Konstantinopel oor sy standpunt doodgeslaan het. Dit staan in die geskiedenis bekend as die “Gangster Synod”.

In 1814 het die NG Kerk besluit om evangeliese gesange in eredienste te gebruik en nie net meer toonsettings van Bybelse psalms te sing nie (Van der Watt, 1976). Natuurlik was daar teenkanting en ongelukkigheid daaroor, soveel so dat ’n klomp beswaardes in 1859 onder ds Postma afgestig en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika tot stand gebring het.

By 1857 se NG sinode was daar ’n agendapunt of wit en bruin en swart lidmate moes voortgaan om gesamentlik nagmaal te gebruik. Die debat was so hewig dat die sinode uiteindelik besluit het dat wit en swart mense maar voortaan afsonderlike nagmaal (nie eredienste nie) mag hou “ter wille van die swakheid van sommige”. Die NG Kerk sukkel nou nog om dit weer reg te stel.

In 1859 het die Hervormde Kerk in die Transvaalse Republiek van die NG Kaapse Kerk afgestig. Hulle wou nie met die Kaapse Kerk saamwerk en hulle kerkorde aanvaar nie. Daar was ook ander geskille, soos dat die Kaapse Kerk daarvan beskuldig is dat hulle nie ’n leraar aan die Hervormde Kerk wou voorsien nie.

Dag 5 - Metodiek versus oorgawe en liefdevolle verhoudings

Lees Handelinge 10:44-48.

Daar was jare lank debatte en strydgesprekke tussen gelowiges en kerke oor bekering, belydenisaflegging, verbondsdoop, bekeringsdoop, doop met die Heilige Gees, spreek in tale en die gawes van die Heilige Gees. Dit is daarom verfrissend om in die afloop van Handelinge, ná Stefanus se dood, agter te kom dat die metodes en nougesette prosedures vir die ontvangs van genade en vervulling met die Gees minder belangrik blyk te wees as die fokus op die Goddelike veelkantigheid van heiligmaking, vervulling en oorgawe aan die Gees.

Aan die een kant was Paulus volgens Handelinge 10 by Kornelius, die Romeinse offisier se huis in Sesarea, besig om oor Jesus te preek. Terwyl hy preek, is almal wat sit en luister het (Jode en heidene) met die Heilige Gees vervul. Hulle het net daar gelowig geword (of hulle besny was of nie) en God in verskillende tale begin loof en prys. Eers daarná is hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop.

Aan die ander kant het Petrus in Handelinge 2:38 ’n oënskynlike ander verloop van gebeure voorsien (of dit dalk nie as so ’n presiese verloop van gebeure bedoel nie) toe hy gesê het: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.”

Lukas het waarskynlik nie bedoel dat die Here se verlossing van mense en vervulling met die Heilige Gees in ’n presiese prosedure verpak hoef te word vir gelowiges om gered en heilig te word nie.

Die NG Kerk glo dat “die doop ’n eenmalige gebeurtenis is wat: (a) in die vorm van die kinderdoop kinders van gelowige ouers in die genadeverbond inlyf; en (b) in die vorm van die doop aan mense wat van buite die kerk tot geloof kom en hulle in die genadeverbond inlyf” (Kerkorde en Reglemente, 2015, Reglement 5 no 11.1).

’n Ander kerkgroep glo weer “eerstens in die Bybel en dat alles wat daarin staan waar is; dat mense ná bekering na die Christendom gedoop word deur middel van totale onderdompeling en daarna in tale kan begin praat wanneer hulle met die Heilige Gees gedoop word” (Apostoliese Geloofsending, 2003).

As Bybeltekste soos ’n sjabloon gebruik sou word om al twee genoemde kerke se dooppraktyke te merk en punte toe te ken, behoort al twee deels reg en deels verkeerd te wees. Dit gaan egter oor baie meer. Ook die doopgesprek behoort oor die deernisvolle werking van die drie-enige God te gaan wat mense liefhet, verlos en insluit, al sou hulle kerklike handelinge ontoereikend wees.

Pogings om God se genadewerke in verstaanbare kerklike prosedures te verpak wat aanspraak maak op die alleenreg van Bybelse korrektheid, gaan mank daaraan God se misterieuse grootheid en soewereiniteit in ag te neem. Dit is die Here wat dit laat gebeur (en nie die korrektheid van die kerklike handelinge nie), ongeag die skewe pogings van mense en kerke.

Nogtans doen kerke nie verkeerd om liturgiese ordes vir toepassing van hulle sakramente te bepaal nie. Om boonop lojaal en trots te wees op ’n kerktradisie, het baie waarde. Kerke wat nie mekaar se sakramente beledig en mekaar se ordes verdag te maak nie, vaar beter in die interkerklike wedloop om eenheid en liefde. Hulle vaar ook beter in die beklemtoning van die Een oor wie dit éintlik gaan en wat dit éintlik doen. Dit behoort regtig nie saak te maak wie die meeste reg is nie, maar wel wie vir wie in hulle verskillende toepassings en interpretasies kan vashou en liefhê.

Die pot met gesprekke oor vervulling met die Heilige Gees en kerke se Bybelse funderings daarvoor kan goed deurmekaar geroer word as ons Johannes die Doper, sy ma, Elisabet, en sy pa, Sagaria, se vervullingsverhale bysleep (Luk 1:15, 41, 67). Dit was toe tannie Maria (Jesus se ma) vir hulle gaan kuier het.

Johannes was van sy geboorte af met die Heilige Gees vervul. Elisabet is met die Gees vervul toe Maria haar groet en klein Johannes in haar moederskoot beweeg. Oor Sagaria lees ons dat hy ook met die Heilige Gees vervul was. Die nadruk lê vir seker nie in ’n analitiese studie oor die metodiek nie.

 

In Handelinge 1:5 (vgl 11:16) gebruik Jesus self die term “doop” ten opsigte van die uitstorting en vervulling met die Heilige Gees wat kort daarna sou volg. Die gelowiges is daarná gedoop.

 

In Handelinge 2, ná die uitstorting van die Heilige Gees, het Petrus-hulle in verskillende tale soos Arabies en Kretensies (v 11) getuig sodat alle nasies van God se groot dade in hulle eie taal kon hoor. Daarná is 3 000 gelowiges gedoop toe hulle tot bekering gekom het.

 

In Handelinge 8 skryf Lukas dat Petrus en Johannes Samaria toe gestuur is omdat die mense daar die Woord van God begin aanvaar het. In Samaria tref ons egter ’n eienaardige kroniek van gebeure aan. By hulle aankoms het Petrus en Johannes vir die Samaritane begin bid dat hulle die Heilige Gees moes ontvang, want hulle was net in die Naam van Jesus Christus gedoop. Dit het beteken dat die Heilige Gees nog nie voorheen op een van hulle gekom het nie. Die apostels het hulle gevolglik die hande opgelê en hulle het die Heilige Gees ontvang.

 

In Handelinge 19 weer het Paulus in Efese op gelowiges afgekom wat niks van die Heilige Gees geweet het nie en net die doop van Johannes ondergaan het. Hulle is toe in die Naam van Jesus oorgedoop. Daarná het Paulus hulle die hande opgelê, waarna hulle die Heilige Gees ontvang en in ongewone tale of klanke begin praat en begin profeteer het. Dié gebeure is nóg ’n ander verloop van die Here se vervullingsgebeure.

 

Die verhale van Handelinge 8 en 19 klink strydig met Petrus se opdrag in Handelinge 2:38 en met ons verstaan van die Drie-Eenheid van God. Gelukkig is dit nie strydig met die almag en die vrymag van die Here God en sy liefdevolle verbintenis aan alle mense op die aarde om hulle te verlos, te vervul en in sy diens te gebruik nie.

 

Here, verruim my klein begrip van u groot, groot liefde.

 

 

Gesels saam

Vir die denkers

Paulus skryf (Rom 8:18) dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Is die Here se heerlikheid ook vir hierdie lewe bedoel (Joh 5:24)?

Vir die gevoelsmense

Wat was die geheim agter Paulus se radikale omswaai en sy diep verbintenis tot Jesus Christus se roeping vir hom?

Vir die doeners

Die wêreld was nog nooit sonder moeilikheid nie. Jesus het vir die dissipels in Johannes 16:33 gesê dat hulle dit in hierdie lewe moeilik gaan hê. Sien jy kans om iemand anders met moeilike praktiese en emosionele probleme te gaan bystaan?

Vir die verwonderaars

Raak volgende week elke dag 15 minute lank iewers alleen stil en verlustig jou in al die wonderwerke en gebedsverhorings in jou eie lewe waarvan jy kan onthou.

© Missio 2024 | All rights reserved.