Gee-vreugde – Week 7

Vreugde-trilogie

Sections

Inleiding

Hierdie week gaan jou konfronteer daarmee om op dieper vlakke oor jou lewe, jou prioriteite en jou offervaardigheid te besin.

The movement from illusion to prayer is hard to make since it leads us from false certainties to true uncertainties, from an easy support system to a risky surrender, and from the many “safe” gods to the God whose love has no limits.

– Henri Nouwen, Reaching Out

Fokus: Handelinge 7:54–8:3 – So lief, so dapper soos Jesus

Dag 1 - Waar Hy staan aan die regterhand van God

Lees Handelinge 7:56.

Stefanus se betoog het die Joodse leiers die josie in gemaak. Die krag van die Heilige Gees was so duidelik met Stefanus dat hy tot in die hemel kon sien. ’n Oomblik lank kon hy die grense tussen hemel en aarde oorsteek en met sy eie oë ’n blik in die hemel kry.

In die hemel het Stefanus vir Jesus sien staan. Hy kon eenvoudig nie stilbly oor wat hy gesien het nie. Hy het daar en dan gesê dat hy vir Jesus aan God se regterhand sien staan het (v 56).

’n Mens wonder hoekom Stefanus vir Jesus sien staan het en nie sien sit het aan die regterhand van God nie. Dit is tog wat die Twaalf Artikels bely of soos tekste soos Matteus 22:44, 26:64, Markus 12:36, Lukas 20:42-43 en Hebreërs 1:13 dit weergee. Selfs in Petrus se Pinkstertoespraak (Hand 2:25) haal hy aan uit Dawid se Psalm 110:1 om te verduidelik dat Jesus opgeneem is om aan die regterhand van God sy ereplek in te neem.

Daar kan baie redes voor wees. Die laaste woord daaroor gaan nie vinnig gespreek word nie.

Dit kan wees dat Jesus se posisie sy liefdevolle, haastige gereedheid uitbeeld om vir Stefanus te help.

Dit kan Jesus se woede wees oor die onreg wat Stefanus tref en dat Hy opstaan om die Joodse Raad te oordeel soos wat ’n regter sou opstaan om ’n vonnis uit te spreek.

Dit kan ook wees dat Hy alreeds staan om vir Stefanus te ontvang en hom met sy hemelse oorwinnaarskroon te kroon.

Die waarheid kan in enigeen of in al hierdie verklarings hier bo skuil.

Die feit dat Jesus vir Stefanus staan en inwag het, verklaar natuurlik ook in hoofletters dat Jesus die teenwoordige Christus en God is wat deur sy Heilige Gees by ons is. God is nie afwesig as ons swaarkry of teen die wind in roei nie. Hy sit nie dan houtgerus en betrag die spulletjie nie.

God sal nooit soos die drie pikkewyne in die fliek Madagascar net op die strand vir die boot wat sonder brandstof raak glimlag en wuif nie. Hy is op sy voete om by ons te wees. Hy is ons Immanuel al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Niks gaan by Hom verby nie. Hy sal deur sy Heilige Gees altyd ons Christus praesens (“die teenwoordige Christus”) wees. Wat ’n troos!

Dankie, Here, dat Jesus met ons is en ons staande inwag.

Dag 2 - Stefanus en die Seun van die mens

Lees Handelinge 7:54-56.

Dit is interessant dat dit die enigste plek in die Nuwe Testament is waar iemand anders as Jesus self na Hom as die “Seun van die mens” verwys (behalwe in Op 1 en 14 waar Johannes “Iemand soos die Seun van die mens sien”).

Die term “Seun van die mens” vertel baie van die manier van verlossing, Jesus se lydenspad en diegene vir wie Hy verlossing sou bring. Hy sou onder mense ly en die verlossing vir mense bring.

“Seun van die mens” verwys ook na Jesus se hoë gesagsposisie wat Hy ontvang het deur vir mense en onder mense te ly, te sterwe, later op te staan uit die dood en op te vaar na die hemel. Hy is nou by God in die hemel, Regter en Redder van die totale heelal. Dié hemelse bestemming by Jesus sou binnekort ook Stefanus s’n word waar Jesus hom alreeds met ope arms staan en inwag het.

Die Nuwe Testament verwys 88 keer na Jesus as die Seun van die mens. Hierdie term kom al uit die Ou Testament. Die Here het Esegiël “seun van die mens” genoem. In Daniël 7 word die Messias in Daniël se nagtelike visioen voorspel as ’n “menslike (seun) wese (met) heerskappy en eer en koningskap … sodat al die volke, nasies en taalgroepe Hom sou dien.” Soos Jesus, het Stefanus ook by wyse van spreke as martelaar van en onder mense gesterf. In hulle navolging van Stefanus en Jesus se voorbeeld, behoort gelowiges insgelyks dienaars en verskilmakers onder mense te word.

’n Mens kan maklik die fout maak om te dink dat Jesus, Paulus en Stefanus op aarde sonder die heerlikheid van God swaargekry het en eers anderkant die dood die ewige lewe beërwe het. Daarvolgens sou geloof egter ’n tipiese “pie in the sky when you die” wees.

Nee, gelowiges leef reeds op aarde ewig as hulle glo dat Jesus die Seun van God is (1 Joh 5:12-13). Stefanus se lewe in Jerusalem en omstreke was propvol van die heerlikheid van God. Daarvan getuig sy oorgawe aan Jesus, sy dapper standpunt-inname vir Hom, sy gesig wat soos ’n engel s’n gegloei het, sy blik op Jesus in die hemel en sy kruiswoorde, sy verhore en onregverdige marteldood wat baie soos Jesus s’n afgeloop het. Jesus was tegelyk op aarde Seun van die mens en Seun van God. Daar skuil dalk waarheid in die liedjie van Belinda Carlisle as sy sing “heaven is a place on earth”.

Here, laat u wil deur u gemeentes op die aarde geskied.

Dag 3 - Stefanus sterf – wreed en onregverdig

Lees Handelinge 7:57-58.

Stefanus se betoog was vir die Jode een te veel. Hulle het soos een man op hom afgestorm en hom tot buite die stadsmure gesleep om hom oor sy “godslasterlike” uitsprake te stenig. Die wet (Lev 24:10; Num 15:25) het hulle verbied om iemand binne die mure van Jerusalem te stenig. Daarom het hulle hom uitgesleep en spontaan met klippe begin doodgooi.

Volgens ’n Joodse Misjna-traktaat, die “Sanhedrin”, weet ons dat by so ’n steniging die eerste getuie (’n ooggetuie van die oortreding) die aangeklaagde op die grond moes neergooi. Die tweede getuie moes ’n klip na die gevonnisde se hart gooi. Daarna het almal ingespring en die veroordeelde soos ’n ondier doodgegooi. Dit was onmenslik wreed.

Die wreedheid het nie daar opgehou nie. Die liggaam van ’n gestenigde mag nie verwyder en eervol begrawe geword het nie. Die jakkalse, aasvoëls en aasdiere moes die liggaam opvreet en wegdra.

Dit vra besondere toewyding om soos Jesus en soos Stefanus in oomblikke van opperste benoudheid en wrede onreg nie op jou eie onskuld staat te maak nie, maar die saak van die Here se liefde en sy verlossing enduit hoog te hou.

Dankie vir geloofshelde wat meer op U fokus as op hulleself, Here.

Dag 4 - Saulus, Stefanus en Jesus

Lees Handelinge 7:59.

Lukas vertel dat Saulus (v 58), wat later een van die hooffigure van die vroeë kerk en Handelinge sou word, ook by die steniging van Stefanus teenwoordig was. Lukas het met sy eie ore gehoor hoe Stefanus (net soos Jesus vroeër – Luk 23:46) gesê het dat hy sy gees oorgee om te sterf.

Anders as Jesus wat sy gees aan sy Vader oorgegee het, het Stefanus sy gees in Jesus se hande oorgegee. Dit kom op dieselfde neer. Die Vader en die Seun is een.

In Handelinge 22:20 het Paulus sy vorige lewe se roekelooshede bely. Hy het gebid: “En toe Stefanus, u getuie, se bloed vergiet is, het ek self daarby gestaan. Ek het dit goedgekeur en sy moordenaars se klere opgepas.”

Daar is baie oorwinning daarin vir gelowiges wat die waarde daarvan verstaan om te bely, vergifnis te ontvang, reg te maak, oor te gee en weg te gee. En om dikwels jou trots te sluk, minder in beheer te wees, weerloser en sonder gesag, om vir die Here soos lammers onder die wolwe (Luk 10) ingestuur te word.

Here, lei die kerk om weerloos en selfloos oor te gee.

Dag 5 - Stefanus ly en sterf soos Jesus

Lees Handelinge 7:60.

Stefanus se laaste woorde as hy vir die mense rondom hom bid wat besig is om hom dood te gooi, is ’n weerklank van Jesus se eerste kruiswoorde (Luk 23:34). Hy het gebid dat Jesus nie hulle sondes aan hulleself moes toereken nie. Die eerste Christenmartelaar sterf dus net soos sy Verlosser nie met haat op sy lippe nie, maar met vergifnis. Sy lewe was, net soos sy Meester s’n, tot reg aan die einde ’n verwerkliking van Markus 10:45 waar Jesus van Homself gesê het: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

In die tweede eeu ná Christus, toe duisende gelowiges vir hulle geloof doodgemaak is, het Tertullianus (’n teoloog en kerkleier van Noord-Afrika) gesê: “Die bloed van die martelare is die saad van die Kerk” (Thelwall, 1869).

Hoe kan ek en jy in die 21ste eeu, te midde van onregverdige boeliepraktyke wat die kleintjies in die lewe seermaak, die vrugbare koninkryksaad word wat die kerk van Jesus laat groei?

Ons kan onsself minder ernstig opneem, ons kosbare goed minder werd ag en makliker weggee. Ons kan ons voorkeure en afkeure teenoor mense laat staan. Ons kan saam bly wees waar feesgevier word en saam huil en vashou waar die trane loop. Ons kan hardnekkig na Jesus se liefde bly terugkeer as alles ons teengaan. Ons kan soos Hanna (of die weduwee in die gelykenis van Lukas 18) by die Here bly smeek en aanhou bid wanneer dit lyk of gelowiges die wind van voor het.

Here, help ons lief te hê, selfs waar gemoedere vlam vat.

Dag 6 - Wat is in ’n naam?

Lees Handelinge 8:1-3.

Lukas verwys tot in Handelinge 13:9 na Paulus met sy Hebreeuse naam “Saul” of “Saulus”. Soos die meeste Romeinse burgers, het Paulus waarskynlik drie name gehad: ’n voornaam (praenomen), ’n familienaam (nomen gentilicum) en ’n noemnaam (cognomen).

Ons ken vandag sy cognomen of noemnaam die beste, naamlik Paulus. Tydens die Macedoniese tyd is daar ’n vierde amptelike naam (signum of supernomen) deur familielede aan mekaar gegee. Daar is ’n vermoede dat Paulus se pa aan hom so ’n signum, naamlik “Saul” of “Saulus” gegee het (Du Toit, 1984).

In die koninkryk van die Here gaan dit nie oor my eie naam wat aan my prestasies gekoppel word, my roemryke familie of my besondere stand tussen die mense op die stadsplein nie. In die koninkryk van die Here gaan dit oor die altaar waarop ek myself en my naam as ’n welgevallige offer wat vir God aanneemlik is (Rom 12), gaan weggee het. Dit is sodat sy Naam geheilig kan word, sy wil kan geskied en sy koninkryk kan kom. Dit gaan in Jesus se koninkryk oor sy Naam – die Naam bó elke ander Naam, Christus die Here.

Ek wil graag hê mense moet u naam in my sien, Here.

Gesels saam

Vir die denkers
Wat is vir jou die beste verklaring(s) vir die feit dat Jesus aan die regterhand van God gestaan en nie gesit het nie? Is dit dalk onbenullig om daaroor te tob?

Vir die gevoelsmense
Hoe voel jy in jou hart oor die marteldood van vroeë gelowiges, of oor hedendaagse gelowiges wat in die Midde-Ooste of in Afrika onder Islam-ekstremiste vir hulle geloof sterf?

Vir die doeners
Wat sou jy fisies gedoen het vir die nabye vriende of familie van Stefanus as jy in sy tyd geleef het? Probeer volgende keer wanneer iemand sterf om vir die familie saam met jou omgee ’n geskenkie te gee, sonder om raad te gee.

 

 

 

 

 

 

Vir die verwonderaars

Jesus word in die Bybel die Seun van die mens en die Seun van God genoem. Hy was tegelyk God en mens. Hierdie twee benamings vir Jesus bevestig op ’n manier die versugtinge in die Ons Vader-gebed vir ’n lewe waar sy wil op die aarde net soos in die hemel geskied.

 

Probeer in die week wat voorlê om elke keer dat jy tande borsel, te besin oor hoe om op die aarde so binne God se wil te leef soos wat dit in die hemel gebeur.