Gee-vreugde – Week 6

Vreugde-trilogie

Sections

Inleiding

Hierdie week gaan variasies van mooiweersgeloof en voorspoedsvertroue op die Here krities bekyk word sodat ons Hom en sy genade anders kan verstaan.

I am struck by how sharing our weakness and difficulties is more nourishing to others than sharing our qualities and successes.
– Jean Vanier, Community and Growth

Fokus: Handelinge 7:1-53 – Gelowiges: magnete of magnate?

Dag 1 - Vreemde voorspoed

Lees Filippense 2:1-11.

Die Ou Testamentiese ankerkarakters wat Stefanus in sy toespraak gebruik het, word soms deur predikers en skrywers (Victor & Jean, 2014 en Strong in Faith, 2007) as bewyse gebruik om te demonstreer dat gelowiges wat gehoorsaam aan die Here leef, voorspoedig, ryk en suksesvol sal wees as beloning vir hulle geloof in die Here. Die term wat in teologiese kringe vir hierdie soort geloofsopvatting gebruik word, is voorspoedsteologie.

Die voorspoedsteologie is vreemd aan die lewe, liefde en verlossing van Jesus Christus en sy koninkryk. Die neiging om die strewe na mag en rykdom ook die geloofslewe binne te dra, herinner baie aan die fliek Evan Almighty waarin Evan Baxter (Steve Carell as ’n moderne Noag-karakter) ’n mantra ontwikkel: “I am successful, powerful, handsome, happy!” Met dié slagspreuk het hy homself uit God se ongewilde roeping om ’n ark te bou in ’n voorspoedsrol probeer inskreeu.

God kan mense finansieel, materieel en emosioneel baie voorspoedig maak. God is almagtig en vrymagtig. Die hele boek Job gaan daaroor dat gelowiges God se grootheid en sy soewereiniteit, soos Job en sy vriende uiteindelik agtergekom het, moes probeer kleinkry en die Here ginnam (Hebreeus vir “verniet”, “gratis” en “sonder eie voordeel”, dien (Job 1:9). Maar tog ontvang Job in die laaste hoofstuk (Job 42) dubbel soveel rykdom as waarmee hy begin het.

Dit gebeur natuurlik nie in die eerste plek as beloning vir sy gehoorsaamheid nie, maar as blyk van God se vrymagtige (v 2), groot (v 3-6) en ontfermende liefde. Dit gebeur as voortsetting van God se herstelpad toe Hy Job se drie vriende vergewe en vir Job in sy priesterlike versoeningsrol in sy nuwe gesin herstel het (v 1-10).

Die goue reël van die Bybel bly altyd dat persoonlike voordeel nie gelowiges se soeke moet wees nie.

Gelowige mense se boek is die Bybel. Die hoofkarakter daarin is Jesus Christus. Hy het ’n slaaf geword toe Hy tussen ons kom leef het (Fil 2:7). Hy het gesê dit is dwaas om te woeker vir rykdom en om groter skure te bou (Luk 12:20). Hy het ook gesê dit is wys om uit te deel, te gee en vir ander mense te woeker (Luk 19) en om jou allereers vir die koninkryk van God te beywer (Matt 6:33).

Die magnaatstatus van die Ou Testamentiese Bybelkarakters is nie die fokus van die Bybel nie. Dit was ook glad nie Stefanus s’n in sy betoog nie. Die tempel was egter ’n trotse simbool van eksklusiwiteit en onaantasbaarheid vir baie Jode. Daarom torring Stefanus in sy toespraak aan dié misplaaste eergierigheid.

Stefanus se eie verhaal het andersom gewerk. Sy geloof het nie in ’n nuttigheids- of beloningsrol op aarde geëindig nie. Sy lewe was ’n oorgang van sy ewige aardse lewe na sy ewige lewe by Jesus.

Die evangeliedienaar Sam Pascoe (Burnard, 2017) het dikwels gesê: “Christianity started in Palestine as a fellowship; it moved to Greece and became a philosophy; it moved to Italy and became an institution; it moved to Europe and became a culture; it came to America and became an enterprise.” Om in Jesus te glo, is om te géé, om óm te gee, om wég te gee en om óór te gee.

Here, help my verstaan dat geloof nie ’n skattejag is nie.

Dag 2 - Abraham: magnaat of magneet?

Lees Genesis 12:1-3, 10-13.

Toe die Here vir Abraham geroep het, het sy hele lewe en lewensfilosofie verander.

Die kanse is goed dat hy as ’n skatryk man en besitter van baie slawe en diere en ’n groot aansien van Haran af in Kanaän aangekom het. Maar al sy bekendes en sy sekerhede is met sy roeping as die Here se verbondsvader vir die volgende geslagte gelowiges agtergelaat, in ruil vir gehoorsaamheid slegs aan God.

Abraham moes wegtrek van die bekendes en bemindes af waarmee hy grootgeword het. Die Here se seën, moes hy hoor, sou nie vir homself of sy beursie wees nie, maar vir al die nasies van die aarde (Gen 12:3). Die bronne en dit waarvan hy geleef het, het só opgedroog dat hy Egipte toe moes gaan om dáár te oorleef en ’n bestaan te probeer maak – boonop met die vrees dat hulle sy mooi vrou gaan afvat en hom doodmaak. Toe lieg hy maar oor haar.

Abraham kon as magnaat uit Haran aangekom het. Wat egter vir die Here baie belangriker was, was dat Abraham sy magneet moes word. Daarmee sou Abraham se nageslag die nasies van die aarde onder die seën en roeping van die Here laat inbeweeg. Abraham was die een met wie God ’n verbond gesluit het sodat sý nageslag en al die mense tot aan die uithoeke van die aarde verbondskinders van God kon word.

Die ironie van Abraham se geseënde nageslag was dat hy ’n leeftyd lank vir sy seun moes wag. Hy het só lank gewag dat hy later self ingespring en ’n kind by ’n slavin verwek het omdat hy gereken het die Here hou nie sy woord nie. Ná Isak, sy eie beloofde seun se geboorte, kry Abraham opdrag om hom te gaan offer.

Uiteindelik word Abraham se kinders ’n slawegeslag in ’n vreemde land onder vreemde heersers. Hulle verlossingspad word ’n dodelike woestyn. Dit alles klink allermins geseënd.

God het egter nie opgegee nie. Uit die nageslag van Abraham is omtrent 1 400 jaar later ’n nuwe Verbondsverlosser gebore.

Oor hierdie verbondsroeping het in Jesus Christus eers duidelikheid gekom. Soos die keer toe Hy die tollenaar Saggeus ná sy ontmoeting met Jesus self tot ’n verbondskind kon verwelkom en ’n Hy Saggeus vir ’n duidelike nuwe roeping na armes en voorheen benadeeldes kon stuur (Luk 19:9).

Here, help gelowiges om makliker te gee as om te ontvang.

Dag 3 - Josef: geseën om te seën

Lees Genesis 37 en 45.

’n Joodse rabbi is eendag gevra wat hy van ’n video dink waarin ’n Amerikaanse evangelis vir siekes en armes in Nigerië gaan bid het (Burnard, 2017). Ná elke gebedsessie het die evangelis ’n kollekte onder die armes opgeneem, “anders sou hulle nie gesond word nie”. Hy het by elke gebedsgeleentheid met ’n helikopter in ’n wit pak opgedaag, en weer daarna teruggekeer na die vyfster-hotel waarin hy tuis was.

Die siekes het telkens teruggegaan soos wat hulle gekom het: arm, eensaam en sonder hoop. Die evangelis het elke keer ryker weggegaan as wat hy opgedaag het en baie goed gevoel omdat nóg ’n skare met die “goeie nuus oor Jesus Christus” bereik is.

Die enigste woorde wat die rabbi ná die video uitgekry het, was: “Ek bid dat die Here van die hemel ’n spesiale plek in die hel gereed sal hê vir almal wat hulleself uit die nood van ander mense verryk het.”

Die verhaal van Josef neem ’n mens se begrip maklik na Jesus se verhaal in die Nuwe Testament. Soos Josef se broers, was die Joodse leiers ook jaloers op Hom (v 4). Soos Jesus, is Josef se klere ook uitgetrek (v 23) en is hy vir omkoopgeld oorgelewer (v 28). Soos Jesus, het Josef ook sy boosdoeners (Gen 50) vergewe en vir hulle ’n nuwe lewe gegee (Gen 47, eers in Rameses en later in die vrugbare Gosenstreek). Hy het selfs die vreemde volk van Egipte se lewe met slim diplomasie gered, soveel so dat hulle in Genesis 47:25 vir hom gesê het: “U het ons lewe gered. Meneer is ons goedgesind. Ons sal die farao se slawe wees.”

’n Mens kan maklik uit Josef se verhaal die gevolgtrekking maak dat geloof en gehoorsaamheid in sukses, status en voorspoed behoort uit te mond. Josef se gehoorsaamheid het hom dan tot onderkoning van die groot ryk van Egipte bevorder.

Die klem wat die Bybel op Josef se verhaal plaas, is egter veeleer op sy radikale (45:1-10) vergifnis en versoening teenoor sy boosdoenerbroers. Die Bybelse klem is op Josef se verstaan dat sy lewe deur God tot vergifnis geroep is, eerder as wraak (hy voer die ongemaklike gesprekke en noem die seer waarhede sommer op hulle naam, vers 4-5: “Julle het my verkoop”).

Die Bybelse klem is op Josef se nuwe insig oor ’n nuwe roeping wat gevier moes word. God vertolk hierin anderkant die vernederings die hoofrol (vers 5, 7: “God het my … gestuur … om lewens te red … en sodat baie aan die dood sal ontkom”). Josef moes soos ’n gestuurde bly sorg en vir sy nuwe volksgenote, sy familie en sy gryse ou vader (hy voldoen aan Jakob se versoek om nie in Egipte begrawe te word nie, maar in die Makpela-grot in Kanaän, volgens Gen 47:29-30 en 50:18-21). Hierin herken ’n mens maklik vir Jesus en die versoenende liefdesrol wat Hy vervul het.

In Genesis 41 verduidelik Josef aan die farao dat dit God is wat die drome uitlê (v 18), en nie hy nie. In vers 39 beaam die farao dat dit God is wat vir Josef die wysheid gegee het.

In Genesis 45:9 en verder interpreteer Josef sy aanstelling in Egipte direk as God se werk, ’n werk en ’n roeping waaruit hy liefdevol vir ander moet omgee en hulle versorg. “Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie.’” Josef het nie sy mag vir homself gebruik nie. Jesus ook nie.

Here, laat vergifnis vir my meer tel as verdienste.

Dag 4 - Moses – om te lei is baiemaal om te ly

Lees Numeri 11:11-15.

Moses se verhaal bring hoop en kalmte vir mense met gewone alledaagse frustrasies en tekortkominge midde-in hulle roeping en beskikbaarheid vir die Here.

Moses het ’n moord op sy kerfstok gehad (Eks 2:14-15) en hom amper, soos Jakob, as voortvlugtende in God se roeping vasgevlug. So kom ’n mens agter dat God selfs sondaars en vlugtendes gebruik om sy koninkryk te laat kom.

Behalwe vir sy misdaadgeskiedenis, was Moses ’n swak spreker (Eks 4:10, 13). As hy vandag geleef het, sou hy waarskynlik ’n sertifikaat van mediese ongeskiktheid voor sy mondelinge eksamens probeer indien het. Tog het dit nie die Here daarvan weerhou om hom as geloofsleier te gebruik nie. Van glans, heldeverering en verhoogkuns was daar in Moses se leiersrol nie sprake nie.

Die verhaal van die pastorale spreekkamer in Eksodus 18 met die massa trekkendes deur die woestyn vlek nog ’n swakpunt in Moses se leierskapsmondering oop. Hy was ’n swak delegeerder en organiseerder in soverre dit baie mense aangegaan het. Sy skoonpa Jetro moes hom oor organisasiestrukture en deelnemende leierskap leer sodat meer mense deur bekwame leiers gehelp kon word (Eks 18:18).

In Numeri 11:11-15 lees ons dat Moses erg oorlaai gevoel het en beleef het dat die Here hom met sy leierskap straf, eerder as seën.

Sielkundiges sal vers 15 kan interpreteer asof Moses iemand met duidelike selfdoodneigings en uitbrandingsimptome was.

Moses het God geken en sy opdragte uitgevoer, maar dit het hom nie gevrywaar van frustrasies en swaarkry nie. Tesame daarmee dat hy die volk gelei het, het hy gely onder hulle ongehoorsaamheid. Daar was talle opstande teen sy leierskap. As gevolg daarvan is hy self nie toegelaat om die beloofde land binne te gaan nie.

In dieselfde asem kan Paulus se roepingsverduideliking genoem word toe die Here vir Ananias na hom gestuur het (Hand 9:16) en hy uit God se mond moes hoor: “Ek self sal vir hom (Paulus) wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.”

Die kern van Moses se verhaal is dat God ’n unieke leierskapsbeleid het. Niemand kan dit uitpluis of volledig verstaan nie. Wat ons wel raaksien, is dat God baie liefdevol met mense werk en reguit houe met krom stokke slaan. Uiteindelik sien ons in Moses se lewensloop God se besondere almag en liefde die duidelikste raak. Dit is nie Moses se besondere vermoëns, sy gesukkel of die mate van sy voorspoed of teenspoed wat voorop staan nie.

Dankie, Here, dat U my neem en gebruik net soos ek is.

Dag 5 - Die tempel – selftrots bots

Lees Matteus 24:1-2.

Die bedeling sedert Jesus Christus se menswording het ’n oorgang van besnydenis na doop gebring, van ’n lewe van dood en bloed aan toewydingsrituele na water en afwassing van sondes en ’n offer op die altaar van ’n lewe van liefde en gehoorsaamheid. So het dit ook ’n besliste oorgang van ’n tempelkultus na ’n nuwe kultuur van liefde, verhoudings en saamkuier gebring.
Die Jode en die Fariseërs was baie trots op die tempel van Herodes. Die eerste tempel wat Salomo ingewy het (ongeveer 957 vC) is in 586 vC deur die Babiloniërs verwoes.

Die tweede tempel het Haggai, Sagaria en Serubbabel-hulle ná die ballingskap voltooi en in 515 vC feestelik ingewy. Hierdie tweede tempel het Herodes die Groote in 20 vC uitgebrei, versterk en met ’n goue beslag en pragtige groen-en-wit marmer versier. Daarom het hulle dit die “tempel van Herodes” genoem.

Die Fariseërs het gesê: “As iemand nog nie die tempel van Herodes gesien het nie, het hulle nog nie ’n mooi gebou gesien nie.” Die geskiedskrywer Josefus (37-100 nC) het geskryf dat die goue fassades van die tempel mooier was as die mooiste sonsopkoms (Whiston & Maier, 1999). Die tempel was vir hulle ’n versekering van God se teenwoordigheid en sy beskerming. Dit was hulle trots.

Hierdie tweede Herodes-tempel het die Romeine in 70 nC vernietig. Dit is nooit weer herbou nie.

In Matteus 24:1-2 lees ons hoe Jesus sy rug op die tempel draai. Hy het nooit weer soontoe teruggegaan nie. Die dissipels het nog sy aandag op hulle indrukwekkende vertoonstuk vir offerrituele en aanbiddingseremonies probeer vestig, maar Hy het botweg geweier: “Julle sien al hierdie dinge [die tempel]? Dit verseker Ek julle: Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word.” Dit het in 70 nC geskied.

Stefanus praat in sy betoog in Handelinge 7:48 die Joodse Raad aan oor hulle godsdienstige en argitektoniese tempeltrots waarvan God nie deel is nie. Dit behoort ons die gevaar te laat besef wat daarin skuil om met aanbiddingsnorme van selftrots en indrukwekkende vertoon sonder God, gemeentes van Jesus te probeer wees. Stefanus se verhaal verduidelik God se evangelie juis op so ’n wyse dat dit duidelik is dat die evangelie nie middelpuntsoekend is nie, maar middelpuntvlietend. Die evangelie moet liefdevol van binne na buite tot in die uithoeke van die wêreld geneem word.

Laat ons meer op U roem as op ons mooi uiterlikhede, Here.

Gesels saam

Vir die denkers

Josef het op diep vlakke vergifnis en versoening uitgeleef. Wat laat mense besef dat gelowiges hulle kwaaddoeners moet vergewe en eerder vir hulle moet bid (Matt 5:44) as om terug te slaan?

Vir die gevoelsmense

Watter emosies dink jy het deur Abraham se gemoed gegaan toe hy by die Here die opdrag gekry het om sy enigste seun, Isak, te gaan offer?

Vir die doeners

Hoe kan ’n kerkgebou ontwerp word om nie ’n vertoonstuk te wees nie, maar steeds missionaal en vriendelik? Ontwerp op ’n A4-papier jou ideale kerkgebou.

Vir die verwonderaars

Moses het getrou God se volk gelei, al was daar baie uitdagings en hindernisse. Is daar hindernisse op jou geloofspad? Maak hierdie week tyd om vir die Here te verduidelik wat jou geloofspoed so maklik breek.

© Missio 2024 | All rights reserved.