Gee-vreugde – Week 5

Vreugde-trilogie

Sections

Inleiding

Hierdie week gaan jy jou begrip van die Bybelse term “seën” krities bekyk (Abraham was mos geseënd) en hopelik verruim.

The ultimate purpose of the redemption which God will bring about in Israel is that of bridging the gulf between God and the entire human race.

– Gerhard von Rad oor Abraham se seën in Genesis 12:3, Abraham, Blessing and the Nations

Fokus: Handelinge 7:1-53 – ’n duidelike roeping weergalm ver

Ons gaan hierdie week in die skaduwee van Stefanus se woorde bly stap en koershou deur die bladsye van Israel se geskiedenis. Dit was dié geskiedenis waarmee Stefanus probeer het om die Joodse leiers aan hulle eie patetiese geloofsgeskiedenis te laat verstik. Die gevolg was nie sommer ’n geruislose stormpie in ’n glas water nie.

Dag 1 - Vreemde voorspoed en eienaardige seën

Lees Handelinge 7:1-8.

Stefanus het hulle begin vertel hoe God Abraham uit Mesopotamië na Haran geroep het, en vandaar na Kanaän. Hy het die geloofswonders in Abraham se lewe beklemtoon. Abraham het nooit getwyfel nie, maar aan God se beloftes vasgehou:

  • al was hy van sy bekende sekerhede weggeroep
  • al het hy die belofte van ’n reuse-grondgebied gekry en nog nie eens ’n erf op sy naam gehad nie
  • en al het hy die belofte van ’n nageslag so talryk soos die sand van die see ontvang, terwyl hy self nog geen kind by sy vrou Sara gehad het nie.

Abraham se seën was ’n unieke seën wat duidelik méér oor die Here as oor Abraham gegaan het. Abraham se geloof in God was nie afhanklik van hoe die verbondsbeloftes op sy eie voorstoep uitspeel nie, maar hoe hy ten spyte van vertwyfeling en rowwe tye, bly glo het dat God sy beloftes gestand sal doen.

Israel was min of meer in dieselfde bootjie as Abraham toe hulle 400 jaar lank slawe in Egipte was, sonder enige grond van hulle eie. As teken daarvan dat God vir Abraham met sy verbond geseën het, het Hy vir hulle die besnydenis as ’n herinneringsteken en ’n waarborg van sy beloftes gegee.

Deur die skeptiese bril van mense wat vinnige resultate najaag, het God se beloftes aan Abraham na ’n mislukking gelyk omdat hulle nie waar word nie. Maar daar is ’n ander waarheid waarna gelowiges moes kyk: Deur God se bril bekyk was daar deur Abraham en sy nageslag ’n ander hoop, ’n Goddelike hoop. Dit was die hoop op ’n anderster soort lewe van ’n nuwe mensdom wat opreg en naby die Here lewe en die hele aarde sou vernuwe. God wou mense op die aarde plaas wat Hom en ander mense liefhet. Daartoe het Hy by Abraham begin.

Here, maak my hele lewe ’n rigtingwyser in u rigting.

Dag 2 - Wie se planne gaan die verste?

Lees Handelinge 7:9-16.

Stefanus het in die verhaal oor Josef benadruk hoe God sy planne deurgevoer het, ten spyte van sy broers (verwysende na Israel se leiers) wat hom as ’n slaaf verkoop het. Josef se uiteindelike aanstelling in Farao se hoogste regeringspos, sy vergifnis, sy ontferming oor sy broers, sy besorgdheid oor sy gryse ou vader Jakob en hulle vestiging in Egipte was vir Stefanus belangrik om te vertel. Wie soos Josef (en soos Jesus Christus) midde-in die ontvangs van onreg en swaarkry bly reg doen, laat die Here se koninkryk kom en sy wil geskied.

Gelowige mense verstaan soms moeilik dat die ruimtes waarbinne ons leef, gereeld vir hulle onreg en swaarkry kan inhou. Dit maak sin om te redeneer dat die Here gelowiges behoort te beskerm en van trauma, slegte nuus en van leed te bewaar. Hy is dan almagtig en liefdevol. Hy belowe dan in Matteus 10:29 dat nie eens ’n mossie op die grond sal val sonder die wil van die Vader nie. Vers 30 bevestig dat selfs die hare op ons koppe getel is.

Ongelukkig kulmineer die gebrokenheid van ons planeet, die bose wat net “gebind is” (Op 20:2) en die rol wat sonde, onreg en onvolmaaktheid speel in ’n mensdom wat selfs Jesus nie gespaar het nie, maar Hom vermoor het. Jesus het in Johannes 16:33 aan sy dissipels die ironiese spanning van die werklikheid waarin gelowiges leef só probeer verduidelik: “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”

Dit klink teenstrydig om Jesus se vrede te geniet in ’n konteks waar gelowiges verdruk word. Dit is egter presies wat Josef se voorbeeld ons leer en wat Jesus vervolmaak het, naamlik dat ons allereers bly fokus op die koninkryk van die Here en op sy menssoekende geregtigheid, en daarná aan die ander uitdagings aandag gee (Matt 6:33). Die teenwoordigheid van swaarkry beteken nie die afwesigheid van die Here nie. Hy bly vir altyd by ons.

Jesus, U ken swaarkry. Leer ons om dit op u manier te dra.

Dag 3 - Kan koninkrykswerk vol dorings wees?

Lees Handelinge 7:17-43.

Stefanus het ’n lang beskrywing van Moses se optrede gegee en dit goed aangevul met die betekenisvolle, simboliese “veertig” wat dikwels in die Bybel opduik.

  • Vers 17-22 – Hier kry ons ’n stukkie splinternuwe nuus oor Moses se persoonlike lewe wat nêrens anders in die Bybel voorkom nie. Moses was tot op die ouderdom van 40 jaar in die paleis van die Farao. Sy lewe het in drie fases van 40 afgespeel.

Die eerste tydperk was sy grootwordjare, die tweede sy tyd in die woestyn, gevolg deur die derde waartydens hy sy eintlike taak, naamlik om die volk deur die woestyn te lei, volvoer het.

  • Vers 23-29 – Moses het op 40-jarige ouderdom Israelitiese slawe besoek, ’n Egiptiese man doodgeslaan en toe na Midian gevlug.
  • Vers 30-34 – God het hom op 80-jarige ouderdom uit die woestyn geroep om Israel se slawe uit Egipte te bevry.
  • Vers 35-38 – Moses het, ten spyte van hewige teenstand, aangehou en sy volk verlos. Stefanus het die terme “leier” en “verlosser” vir hom gebruik. Die feit dat Moses deur sy eie mense verwerp is, het Stefanus gebruik om hom doelbewus as Jesus se voorloper te skilder. In sy toespraak het Stefanus ’n lysie van Moses se groot dade uitgelig:
  • hy het Israel uit Egipte verlos
  • hy het 40 jaar lank in die woestyn baie wonders en tekens vir die Here bemiddel
  • hy het die koms van die Messiaanse profeet voorspel (v 37)
  • hy het die wet van God op die berg Sinai ontvang.
  • Vers 39-43 – Stefanus het ook vertel hoedat die Israeliete Moses verwerp en afgode begin aanbid het. Daarmee het hy nóg ’n vinger vir Israel se leiers wat na hom sit en luister het gewys.

Moses se geloofsverhaal, soos Paulus s’n, laat ’n mens goed verstaan dat vir iemand wat aan die Here toegewy is dié toewyding elke sentimeter van sy lewe en lewensfokus behoort op te neem. Die spreekwoordelike hobbels in die pad mag nooit die hooffokus van die Here se koninkryk vervaag nie.

Leer my om my rol in u koninkryk te verstaan, Here.

Dag 4 - Aanbidding moet op God se grootheid en ons geringheid fokus

Lees Handelinge 7:44-50.

In vers 44-50 fokus Stefanus op die bou van die tempel. Hy sê die volk het die tent van die afgod Molek, die Kanaänitiese afgod (v 43) sowel as die tent van die Here by hulle gehad. Uiteindelik het God vir Salomo geroep om die tempel in Jerusalem te bou.

Stefanus gebruik hier in sy toespraak ’n retoriese tegniek wat ook op ander plekke in die Bybel aangewend word. Hy gebruik ’n abstrakte geloofsbegrip (die Here se onbegryplike grootheid) om ’n mensgemaakte, fisiese werklikheid (die tempel) te verkleineer. Daarmee kap hy na die leiers en hulle hoog aangeskrewe tempelkultus as hy verduidelik dat God té groot is om in mensgemaakte geboue soos die tempel te bly.

Om dit verder te beklemtoon, verwys hy na God as “Allerhoogste”. Daarmee wil hy die laagheid van hulle aardse woonplek teenoor God se hemelse hoogheid uitwys. Hy benadruk dit verder as hy uit Jesaja 66:1-2 aanhaal waar God se grootheid wat só groot en heilig is besing word dat dit nie inpas in mensgemaakte geboue soos die tempels waarin die afgode hier op aarde aanbid word nie.

Die belangrikste hoeksteen in gemeentes is nie die marmerklip in die muur langs die hoofingang nie, maar die Een “wat deur die bouers afgekeur is, juis Hy het die belangrikste klip in die gebou geword” (Luk 20:17; Hand 4:11).

Help my om altyd eerste u wil te soek, Here.

Dag 5 - Die wet is nie net op Sinai gegee nie

Lees Handelinge 7:51-52.

Stefanus het die Joodse Raad self in sy visier gehad toe hy sy lang preek met praktiese toepassings begin afsluit het. Hy het gesê hulle was hardkoppig en hulle harte en hulle ore was nie besny nie. Hulle was kliphard teenoor die Heilige Gees se sagte stem.

Stefanus het gesê hulle het selfs verder as hulle voorvaders gegaan, want hulle het Jesus – die Een wat God se wil op die aarde kom bekend maak het – vermoor. Niemand sou verder as dit verkeerd kon gaan nie, maar húlle het. En daarby het hulle nog gereken hulle doen die regte ding! Dit ten spyte daarvan dat hulle God se wet by Moses en die engele gekry het. Hulle het dit nooit gehoorsaam nie.

In Matteus 5:17-20 verduidelik Jesus dat Hy nie gekom het om die wet ongeldig te verklaar nie, maar tot sy volle konsekwensie te vervul. Hy sê dat sy volgelinge se gehoorsaamheid anders moet wees as die Skrifgeleerdes en die Fariseërs s’n.

Jesus het geleer dat mense nie sy liefde weerspieël as hulle hulle gehoorsaamheid op hulleself of op iemand anders se nadeel rig nie. Jesus soek gehoorsaamheid wat alle mense insluit en alle mense liefhet soos Hy hulle liefhet.

Here, laat my nooit my geluk op ander se leed bou nie.

Dag 6 - Jesus moet meer word en ek minder

Lees Johannes 3:30.

In hierdie stadium van die hofverrigtinge was Stefanus nie die aangeklaagde nie, maar die aanklaer. Hy het dié posisie ingeneem as een wat vol was van die Heilige Gees, téénoor die Joodse Raad wat die Heilige Gees teengestaan het (Hand 7:51, 55).

’n Mens herken maklik vir Jesus in Stefanus se optrede toe hy hom nie verwerdig het om hom teen die valse aanklagte te verweer nie. Vóór sy kruisiging het Jesus ook so voor die Joodse Raad opgetree.

Stefanus het waarskynlik gereken dit dra meer waarde as hy die raadslede se skynheilige praktyke ontmasker. Dit was asof hy besef het dat daar hemelse waarde daarin was om homself nie te verontskuldig nie – so asof hy oortuig was daarvan dat sy God in Jesus só groot en heilig is dat hy eerder net daaroor kon getuig en oor homself en sy eie onskuld stilbly.

Dit herinner ook aan Johannes die Doper wat met sy verwondering oor Jesus en sy besef van sy eie kleinheid die pad vir Jesus gelykgemaak het. Hy het alle vrae oor homself na Jesus se grootsheid wegreflekteer. Johannes was nie goed genoeg om Jesus se sandaalriempies vas te maak nie. Jesus was die Verlosser, nie hy nie. Hý moes minder word, Jesus méér. Jesus alleen was die Lam van God.

Stefanus se stilte oor homself spreek boekdele oor sy geloof. Selfs nie die dood kon Stefanus afstamp van daardie smal Jesus-pad wat Johannes die Doper kom oopmaak het nie.

Here, ek bely dat ek dikwels te belangrik is in my eie oë.

Gesels saam

Vir die denkers

Hoe werk dit dat Abraham as geseënde van die Here nie ’n vaste blyplek gehad het nie, so lank moes wag vir kinders en moes wegtrek van al sy sekerhede af na ’n vreemde land net om te probeer oorleef?

Vir die gevoelsmense

Josef het hard gehuil (Gen 45 en 50) toe hy hom aan sy broers ontmasker en hulle hom vergifnis gevra het. Watter mengelmoes van emosies dink jy het toe deur sy gemoed gegaan?

Vir die doeners

Die Here het aan Moses ’n taak opgelê wat hy nie goed kon doen nie. Hy moes met die Farao gaan praat, spraakgebrek en al (Eks 4:10). Hoe pak ’n mens ’n duidelike opdrag van die Here aan as dit iets van jou vra wat jy (volgens jou oordeel) nie goed kan doen nie?

Vir die verwonderaars

In Handelinge 7:51 reken Stefanus dat die Sanhedrin se ore en hulle harte nie besny was nie. Wat het hy bedoel? Oordink dit rustig en aanhoudend hierdie week.

© Missio 2024 | All rights reserved.