Gee-vreugde – Week 4

Vreugde-trilogie

Sections

Inleiding

Hierdie week gaan jy uitgedaag word om jou prestasies, medaljes en unieke begaafdhede aan hulle regmatige Eienaar terug te besorg.

God created the world out of nothing, and so long as we are nothing, He can make something out of us.
– Martin Luther, The Holman Student Bible

Fokus:  Handelinge 7:1-53 – Stefanus loop oor van sy eie leegheid

Dag 1 - Geloof verduidelik en geloof geleef

Lees Handelinge 7:52.

Toe die hoëpriester vir Stefanus gevra het of hy skuldig is, het hy nie die vraag direk geantwoord nie. Hy het vasgeskop en via ’n klompie hoofkarakters en hoofmomente van die Ou Testament sy liefde en lojaliteit vir Jesus verduidelik.

Sy uitgelese gehoor was nog vasgevang in die Ou Testament sonder die vervulling van ’n Verlosser. Hy het soos Petrus (Hand 3:15-16; 4:10-11; 4:26) en Paulus (13:26 ev) by ’n paar geleenthede probeer doen het, die Joodse leiers se blindheid vir Jesus se Messiasskap en hulle halsstarrigheid deur Hom te laat vermoor probeer ontmasker. Ongelukkig kon die Joodse leiers dit nie insien nie.

Niks van die Joodse Raad se gevreesde status, hulle gesag of hulle aansien het ’n millimeter aan Stefanus se toewyding aan Jesus verander nie. Die teendeel lyk waar. Stefanus het hóé langer hy gepraat het hóé meer vertroue gewys. Later het hy soos ’n wafferse aanklaer teenoor ’n skare beskuldigdes gepraat.

Een van die vroeë kerkleiers en voorloper van die Protestantse Reformasie, John Knox (oorlede in 1572), het eenkeer gesê sáám met die Here is hy altyd in die meerderheid (Millar, 2002). Toe die Here koning Dawid uit Saul se kloue gered het (2 Sam 22:30) het hy gesê: “Want met U loop ek ’n bende storm, met my God spring ek oor ’n muur.” Stefanus het voor die Joodse Raad sovéél oorgawe en geloof in Jesus gewys dat dit voorgekom het of hy in Jesus se meerderheidspan was, al was hy oënskynlik heeltemal alleen.

Here, help my verstaan hoe werklik u teenwoordigheid is.

Dag 2 - ’n Verhaal wat van ver kom en wyd loop

Lees Handelinge 3:25; Matteus 24:1-2.

Stefanus se toespraak beslaan ’n hele vyf persent van die boek Handelinge. Dit bied ’n goeie sinoptiese oorsig van God se pad met Israel in sy aanloop tot die vervulling van sy beloftes in Jesus Christus.

Die meeste toesprake in Handelinge gaan haal God se verhaal met sy mense ver terug in die Ou Testament. Kyk na Petrus se Pinkstertoespraak (Hand 2), Paulus se gesprekke in Antiogië in Pisidië (Hand 13), in Athene (Hand 17:24) en in Rome (28:23). Kyk na Jakobus se toespraak in Jerusalem en sy verwysing na hoe Petrus dié saak hanteer het (15:15-18).

Lukas beklemtoon dat God se meesterplan vir sy volk uiteindelik in die lyding, sterwe en opstanding van Jesus Christus waar geword het. Dit beteken dat God se volk uit alle mense van oor die hele wêreld geroep behoort te word. Hulle moet met die volle waarheid en liefde van Jesus na alle mense oor die hele aarde gestuur word. Só lui die klassieke definisie van wat die kerk se missionale roeping is: “Wanneer die hele kerk die hele evangelie na die hele wêreld neem” (Hancke, 2010).

Dit is indrukwekkend hoe God nooit van sy belofte afgesien het om sy seën na al die volke van die aarde te laat uitkring nie. In Genesis 12:3 het Abraham gehoor dat die Here se verbondsbelofte vir al die volke van die aarde bedoel is. Jesus het in Matteus 28 aan sy volgelinge opdrag gegee om dissipels van mense uit alle nasies te maak. In Handelinge 1:8 lees ons dat die krag van die Heilige Gees ’n krag is wat mense vir Jesus se koninkryk uitstuur. Dit is nie ’n krag ten bate van menslike koninkryke nie.

In Openbaring 5:9, 7:9, 13:7 en 14:6 kry ons die soet eggo’s van die hemelse oorwinning van die skares wat oorwin het en nog gaan oorwin, mense “uit elke stam en taal en volk en nasie”.

Help ons om nie net vir onsself te lewe nie, Here.

Dag 3 - Geen verhaal is volledig sonder Jesus s’n nie

Lees Handelinge 7:53.

Stefanus het soos ’n kind van sy tyd gepraat. Mense het hulle teenswoordige omstandighede vanuit die verlede begryplik probeer maak. Stefanus het kort-kort in sy toespraak lig op die hede vanuit God se weg met sy volk in die verre verlede tot by die kruis van Jesus gaan soek.

In Bybelse tye het mense spreekwoordelik die toekoms agteruit binnegestap, met hulle rûe vorentoe en hulle oë na die verlede (Burden & Deist, 1986). Stefanus het besef hy is besig om met Joodse leiers te praat wat dieselfde heilsgeskiedenis as hy ken, maar dit nie vanuit ’n Christelike perspektief wou verstaan nie. Daarom het hy in sy rede aangesluit by die volgende hooftemas van Israel se geskiedenis:

  • God se beloftes aan Abraham (Hand 7:2-8)
  • die geskiedenis van Josef (7:9-16)
  • die roeping en optrede van Moses (7:17-43)
  • die bou van ’n heiligdom vir God (7:44-50)
  • sy verwyt teenoor die Joodse Raad omdat hulle vir Jesus vermoor het (7:51-53).

Here, dankie vir mense wat U onverskrokke liefhet.

Dag 4 - Om te lei is om te volg

Lees Handelinge 7:51.

Stefanus het in sy toespraak getuienis opgestapel dat Israel nog altyd ’n geskiedenis gehad het van mense wat God se leiers in die steek laat en vermoor. Hierin volg hy in Jesus se voetspore wat in Matteus 23:31-37 die Fariseërs en Skrifgeleerdes oor dieselfde saak geroskam het. Die Sanhedrin moes kon insien dat Stefanus ook van hulle praat en hulle in sy beskuldigings insluit

Hy verduidelik dat alhoewel hulle God se volk was, hulle nie daarin kon slaag om God se leiers te respekteer of hulle riglyne te volg nie. Op dié manier was hulle aan God self ongehoorsaam, want:

  • hulle het hulle rug op Moses se boodskap gedraai;
  • Josef se eie broers het hom verkoop;
  • Israel het profete links en regs vervolg en doodgemaak; en
  • daarom is dit nie snaaks dat hulle ook uiteindelik vir Jesus verwerp en doodgemaak het nie.

Help ons om vir kerkleiers te bid en hulle te respekteer.

Dag 5 - Kerkgeboue is lanseerbasisse

Lees Handelinge 7:49-50.

Stefanus het beklemtoon dat die Joodse Raad die Here verkeerd verstaan het en Hom verkeerd aanbid het toe hulle die tempel tot iets groters as die Messias verhef het. Om God te aanbid en te dien, gaan volgens Stefanus nie oor kultiese rituele sonder Jesus of oor feeste en godsdienstige geleenthede wat op menslike prestasies fokus nie.

Met hierdie argument het Stefanus abstrakte en konkrete denke vermeng om ’n geloofspunt te illustreer.

Die kern van sy argument is: Jesus moet onverdun as die enigste Verlosser verstaan en aanbid word. Sy boodskap van liefde en verlossing moet uitkring en nie met allerhande applous vir oënskynlik indrukwekkendhede besoedel word nie. Die groot opdrag van Jesus Christus is juis om gelowiges uit hulle aanbiddingsgeboue uit te kry en hulle die wêreld in te stuur.

In Handelinge 17 het Paulus in Athene op soortgelyke manier na aanleiding van Jesaja 66 verduidelik (aan heidene met hulle afgodstempels en altare) dat sy God nie soos hulle oorlede filosowe en dooie gode in mensgemaakte geboue aanbid word nie. Hy is nie dood nie. Hy lewe en Hy is onbegryplik groot.

Die punt is dat kerkgeboue en aanbiddingsruimtes nie die fokus op Jesus se rol of die wonder van sy liefde, sy verlossing en sy opdragte mag verduister nie, maar moet verhelder. Lidmate behoort in aanbiddingsgeboue só te sit dat hulle haastig is om op te staan en uit te reik.

Here, gebruik ons geboue om tot aan die uithoeke lief te hê.

 

Gesels saam

Vir die denkers
Stefanus het met die oorgawe van ’n volstrekte meerderheid voor die Joodse Raad gestaan en praat. Kan jy nog Bybelkarakters onthou wat in God se oënskynlike minderheidspan groot bresse vir die koninkryk geslaan het?

Vir die gevoelsmense

Stefanus het die Joodse leiers en hulle voorsate daarvan beskuldig dat hulle onwetend goddeloos was en teen die Here gewerk het. Hoe kan gelowiges toets of hulle geloof in ooreenstemming met Jesus se riglyne en sy innige liefde vir mense is?

Vir die doeners

Gemeentes is baiemaal geseën met mense wat kan vasvat en projekte organiseer. Waar lê die korrekte Bybelse balans tussen die uitbreiding van die gemeente se eie fasiliteite en dié van projekte wat na buite gerig is?

Vir die verwonderaars

Openbaring beskryf die skares mense wat die hemelse oorwinning behaal as komende uit elke stam en nasie, volk en taal van oor die hele wêreld. Gaan ondersoek tydens jou stiltetye hierdie week die openheid van jou hart se deure vir almal. Skuil daar dalk nog oorblyfsels van klassisme of hoogmoed?