Gee-vreugde – Week 2

Vreugde-trilogie

Sections

Inleiding

Hierdie week gaan jy op twee vlakke uitgedaag word: 1) op ’n kollektiewe vlak om nuut te dink oor hoe gemeentes behoort te wees en 2) op ’n persoonlike vlak om selfsugtige voorkeure te laat wegval.

The victory of the Church over the demonic power which was embodied in the Roman imperial system was not won by seizing the levers of power: it was won when the victims knelt down in the Colosseum and prayed in the name of Jesus for the Emperor.

– Lesslie Newbigin, The Gospel in a Pluralist Society

Fokus: Handelinge 6:1-7 – ’n vreemde gemeentefokus

Dag 1 - Wanneer gaan dit goed in gemeentes?

Lees Handelinge 5:17-42.

Die aanloop na die Stefanus-episode wat by Handelinge 6 begin, is een van die oop vensters waardeur ’n mens na die heel eerste Christelike gemeente van alle tye, die een in Jerusalem, kan loer.

Jesus het na die hemel opgevaar en die dissipels het in afwagting op die krag van die Heilige Gees bly wag en bid in Jerusalem. Mattias is in Judas se plek as apostel gekies (apostel beteken “uitgestuurde”) en die Heilige Gees is op die dissipels uitgestort, daarná op baie ander mense. Ná Petrus se Pinksterpreek het 3 000 mense tot bekering gekom en is hulle gedoop.

Die Jerusalem-gemeente het besielende tye en wonderwerke beleef. Daar was opspraakwekkende wonders, soos die genesing van die verlamde bedelaar by Mooipoort. Ná Petrus se volgende preek in Salomo se pilaargang by die tempel, het die gemeente se getalle tot 5 000 mense gegroei. Wat ’n mooi verhaal!

Hierna is Petrus en Johannes gevang en voor die Joodse leiers gebring. Dáár het hulle dapper vir Jesus standpunt ingeneem, ten spyte van die Sanhedrin se woede teenoor hulle en Jesus se Naam. Die gelowiges het bly bid en hulle twee is vrygelaat.

In Handelinge 5 betaal Ananias en Saffira ’n duur prys vir ’n oënskynlik klein bedrogsakie. Die gemeente het steeds liefdevolle versorging en aandoenlike wonderwerke beleef en die Joodse Raad het die apostels begin vervolg, soos vandag se Bybelteks uitwys.

Dit bly ’n ironiese antiklimaks dat Stefanus se tragiese marteldood en die apostels se vervolging so kort op die hakke van die gemeente se vinnige groei, massabekerings, skouspelagtige wonderwerke en Stefanus se opgang as leierdiaken gevolg het.

Die Bybelse som is nie moeilik om te maak nie. Gelowiges behoort ware geloof in Jesus Christus en die kragtige werk van die Heilige Gees (Hand 1:8) breër te verstaan as om dit net aan groot getalle en aanskoulike suksesverhale te meet.

Ed Stetzer waarsku teen die misleidende meetinstrumente wat onder die drie Engelse b-woorde wegkruip en dikwels ook in gemeentes gebruik word: bodies, budgets en buildings (Stetzer, 2014).

Uit die Nuwe Testament, soos in die Jerusalem-gemeente, blyk dat ’n getrouer maatstaf vir ware geloof en die werking van die Heilige Gees eerder die gelowiges se passievolle oorgawe aan Jesus en hulle liefde vir die Here en ander mense is, ongeag daarvan hoe goed of sleg dit met hulle self gaan.

Swaarkry is nie noodwendig God se straf op sonde nie. Baiemaal is dit die tekens van lewe van mense se geloof en groeigeleenthede daarvoor. Die gelowiges in Jerusalem het nie net tot Jesus en sy koninkryk ingestem nie; hulle het hulleself aan Hom en sy evangelie oorgegee. Tussen “instem” (commit) en “oorgee” (surrender) is ’n reuse-verskil. As gelowiges net instem, is hulle nog steeds hulle eie baas. As gelowiges oorgee, is hulle baasskap en locus van kontrole egter aan die Here oorgegee (soos in Rom 12:1 ev).

Neem my vrees vir oorgawe weg, Here!

Dag 2 - Probleme en uitdagings

Lees Handelinge 6:1.

Nuwe gemeentes kry maklik klagtes. As hulle vinnig groei, ontstaan daar allerhande organisatoriese uitdagings.

So was dit ook in Jerusalem. Binne die bestek van sewe verse (Hand 6:1-7) skets Lukas ’n gemeenteklagte, die vergadering daaroor, die besluit wat die probleem moes oplos, die oplossing self en die praktiese uitvoering en gevolge daarvan.

Dit is opvallend dat die apostels wat toe gemeenteleiers was, nie die klaers, die benadeeldes of diegene wat die foute gemaak het uitgesnuffel en blameer het nie. Dit lyk of niemand pak gekry het nie. Die probleem is eerder onbevange, biddend, deelnemend en in afhanklikheid van die Here uitsorteer.

Die Jode het in die tyd van die Nuwe Testament wyd verspreid oor die wêreld gewoon. Die wêreldtaal (omtrent soos Engels vandag) was Grieks. Selfs in Palestina het baie akkommoderende Jode Grieks gepraat.

Anders as met die Griekssprekende Jode, was daar baie nasionalistiese Jode wat net Aramees gepraat het. Dié taalstryd het veroorsaak dat daar sinagoges was waar nét Grieks gepraat is, en ander weer nét Aramees. Die mooi verhaal van inklusiwiteit by die Jerusalem-gemeente was dat Griekssprekende én Arameessprekende Jode by hulle aangesluit het. Vinnig-vinnig het die Griekssprekende Jode gevoel hulle weduwees word tydens die daaglikse gesamentlike maaltye waartydens kos en klere uitgedeel is met die hulpverlening afgeskeep.

In die destydse Joodse wêreld het weduwees baie swaargekry. ’n Vrou is nie toegelaat om buite die huis te woeker nie. Haar lewensruimte was die privaatheid van haar huis waar sy moes kosmaak en die gesin versorg. Wanneer haar man sterf, was sy finansieel broos en totaal afhanklik van haar familie en ander mense om haar te versorg.

Die Jerusalem-gemeente het barmhartigheid as prioriteit hanteer en baie mense liefdevol bygestaan.

Here, gee my ’n innige liefde vir alle mense.

Dag 3 - Die oplossing

Lees Handelinge 6:2-4.

Die apostels het spoedig ’n gemeentevergadering belê. Op dié vergadering het die apostels dit duidelik gemaak dat hulle hooftaak was om die evangelie te verkondig en aan te hou bid. Dit was vir hulle absoluut duidelik dat hulle dit glad nie kon afskeep nie.

In gemeentes gebeur dit soms dat ’n klein groepie betrokkenes (soms skertsend na verwys as die KGB omdat hulle dikwels net so vernietigend en na binne gekeer kan wees soos in ’n geheime organisasie) ontstaan wat al die aksies en aktiwiteite in die gemeente bywoon en bedryf. So ’n situasie waar twintig persent van die gemeente tagtig persent van die aktiwiteite bedryf, dui op ’n siektetoestand in die gemeente en ’n valse verstaan van die Bybelse gemeentebegrip. In Jerusalem was dit duidelik nie die geval nie.

Die omvang van gemeentebediening moes nie krimp nie; die grootte van die bedieningspan moes uitbrei. Méér gelowiges moes hulle roeping verstaan en met die bediening kom help. Die apostels se wyse insig was dat sewe ander persone aangewys moes word wat by hulle hierdie taak van alimentasie (alimentos beteken hulpverlening en versorging) kon oorneem. Hierdie persone moes aan twee kwaliteite voldoen: vol wees van die Heilige Gees en oor wysheid beskik.

Dit is interessant dat Lukas dikwels wysheid in verband bring met belangrike Bybelkarakters soos Salomo (Luk 11:31), Jesus (2:40), Stefanus (Hand 6:10) en Josef (7:10-22).

Vir Lukas was dit wys om jou plek voor die Here te ken, liefdevol en gehoorsaam aan Hom te wees en in alle situasies reg en regverdig teenoor ander mense op te tree. Die oplossing van die apostels onder leiding van die Heilige Gees was om die regte mense aan te stel en hulle deel van die gemeente se bedieningspan te maak ter wille van die versorging van die armes.

Gee baie blymoedige arbeiders vir u werk, Here.

Dag 4 - Die oplossing is gedoen

Lees Handelinge 6:5-6.

Die Jerusalem-gemeente het nie net vergaderings gehou nie. Hulle het liefdevol geluister, geglo, gebid, gedink, vergadering gehou én gedoen. Hulle het sewe bekwame manne, toevallig almal met Griekse name (nie dat alle McGyvers van Ierland af kom of alle Jean-Pierre’s van Frankryk af nie!) gekies wat sáám die verantwoordelikheid aanvaar het. Dit bly toevallig dat Griekse weduwees afgeskeep is en die sewe nuwe ampsdraers Griekse name gehad het.

Dit wil voorkom of die lidmate die sewe manne sonder veel moeite uit hulle eie geledere gekies het. Dit lyk nie of die apostels druk uitgeoefen of voorkeure vir die sewe gehad het nie. Dit lyk verder asof die apostels deelnemende leierskap voorgestaan en die gemeentelede en hulle oordeel (oor die sewe) vertrou het.

Stefanus met al sy opvallende geloofskwaliteite se naam word eerste genoem. Hy was waarskynlik die leiersfiguur van hierdie sewetal.

Die nuwe manne is na die apostels toe gebring waar vir hulle gebid en die hande opgelê is. Die ritueel van handoplegging het beteken dat

die sewe manne geroep, afgesonder en deur God vir ’n spesifieke taak in die kerk bekwaam sou word. In die Romeinse tyd is handoplegging buite ’n geloofskonteks gebruik as slawe van hulle juk vrygemaak is.

Onder dié sewe was daar uiteindelik, soos ook onder Jesus se dissipels, mooi en minder mooi verhale. By Jesus se kruisiging byvoorbeeld het van sy binnekring-volgelinge Hom verraai, Hom verloën en van Hom af weggevlug.

Onder die sewe was Stefanus die voorbeeldige leier. Filippus het later as Filippus die Evangelis bekendgestaan, aangesien hy Jesus se Naam oral verkondig het. Hy het die evangelie na Samaria geneem (Hand 8:5), die Ethiopiër gedoop (8:27), in Asdod en Sesarea ook die Woord verkondig (8:40) en in Sesarea vir Paulus-hulle ’n gasvrye heenkome gebied (21:8).

Daar was Nikolaus die proseliet (uit die heidendom tot geloof gekom) wat van Antiogië af gekom het. Sy naam het volgens die vroeë kerkvaders Irenaeus, Hippolitus (Knight & Losch, 2016; Burton Coffman, 2001) en James Moffat (Nuwe Testamentikus en Bybelvertaler) as afgeleide groepnaam voortgeleef vir die weerbarstige Nikolaïete wat onder andere in Efese en Pergamum aktief was (Op 2:6, 15).

Bybelgeleerdes verskil van mening hieroor (Coffman, 2001). Die ou Afrika-kerkvader Clemens van Alexandrië het gereken die Nikolaïete het niks met diaken Nikolaus te doen gehad nie. Die Nikolaïete kon om ander redes so genoem gewees het.

Die Griekse woord nikolah (letterlik “volk wat oorwin”) het blykbaar baiemaal iets soos “laat ons eet” onder vrolike geselskappe opgeroep. Die Grieke het mekaar gereeld tot groot happe afgodsoffervleis aangespoor met die woorde “laat ons eet” (Towns, 2003). Die Nikolaïete het geglo gelowiges mag tempelprostitusie beoefen en afgodsoffervleis eet.

Hoe dit ook al sy en wie ook al van die ou kerkvaders reg is, ’n mens lees ongelukkig maklik die tragiese waarheid raak dat daar onder die gelowiges in Jerusalem ook krom stokke was. Dink maar aan Ananias, Saffira en aan Markus (Hand 15) wat Paulus-hulle in die steek gelaat het.

Die Here probeer in ’n stukkende wêreld met verinneweerde siele altyd reguit houe slaan. So word die heiligste aanstellings en die mees Christelike instellings dikwels nie van onheil en gebrokenheid gespaar nie. Dit beklemtoon

  • dat ons in ’n stukkende wêreld leef
  • dat Jesus almal insluit
  • dat Hy alle mense liefhet
  • en dat Hy enigiemand kragtig kan gebruik.

Here, ontmasker my skuilplek van verskonings uitdink.

Dag 5 - Die gevolge van die oplossing

Lees Handelinge 6:7.

Dit lyk of die alimentasieklagtes voldoende uitgesorteer is en of almal gelukkig was met die nuwe reëlings. Handelinge 6:7 sê dat die Woord van God steeds in die gemeente bly groei en hulle getalle vermeerder het. Dit lyk of die klagtes oor die Griekssprekende weduwees nie die gemeente laat struikel het nie.

Lukas berig dat selfs priesters wat in die tempel gewerk het, by die gemeente aangesluit het en op dié wyse die samestelling daarvan nog méér inklusief gemaak het.

Dit opsigself was ’n wonderwerk. Joodse tempelpriesters was meestal vyande van Jesus en sy volgelinge. In hierdie gemeente was almal egter welkom. Daar was arm en ryk, Aramees- en Griekssprekendes, vrygelate slawe en ook base, gewone mense, bekeerde priesters en boonop apostels ook.

Eienaardig genoeg was dit onder meer hierdie mooi verhale van priesters en Fariseërs wat tot bekering gekom het wat die haat en jaloesie teenoor die gelowiges so hoog laat opvlam het dat hulle wreed begin vervolg is.

Here, gee vir ons harte van liefde teenoor ander gelowe.

Bylae

Meer oor missionale gemeentes
Gemeentes wat die Bybel nougeset wil uitleef, begeer baiemaal ’n spieëlbeeld van die een in Handelinge 2:41-47 (Day, 2015; Hybels 1995, hfst 10). Dit is deels goed so. ’n Gemeente wat soveel liefde, uitreiking en oorgawe wys, doen reg.

Dit kan egter ook verwarrend wees. Die vertellings in Handelinge 2 waartydens indrukwekkende geloofswonders gedy, was slegs ’n fase in die groter lewensloop van Jerusalem se gemeente. Sinkronies (vir die oomblik) beskou, verreken dit nie die langer evangeliese aspekte van Stefanus se dood, van Jesus se lydenspad of dié van die apostels en die gelowiges ná die uitstorting van die Heilige Gees in Jerusalem nie.

Gelowiges kan Handelinge 2:41-47 fragmentaries as ’n gemeentelike einddoel beskou. Hulle kan dan reken dat gemeentes wat missionaal met die Bybel in oorstemming is plaaslik ook sulke seën ten opsigte van getalle en gunstige gebeurtenisse moet beleef.

Die waarheid is dat Handelinge 2:41-47 slegs een oorgangsfase (van baie ander) in die lang verloop van Jerusalem se gemeenteverhaal was. Die hooffokus van dié Handelinge 2-gedeelte was die vraag na die betekenis van Jesus se goeie nuus tot aan “die uithoeke van die aarde” (Hand 1:8). Dit stel nie ’n einddoel van plaaslike voorspoed en goeie guns nie.

Om gemeentes in ooreenstemming met die Bybel te bring, moet hulle diakronies (deur die tye) met die volle verhaal van Lukas en Handelinge bly reken. Hieronder is ’n tabel met die kernfeite en horisontale nadenke oor die hoofmomente van die Lukas-Handelinge se verloop vir gemeentes. Die pyl op die tydlyn verteenwoordig die gemeentefase wat in Handelinge 2:41-47 beskryf word.

Kernfeite om gemeentes in ooreenstemming met Lukas en Handelinge te bring

Lukas Handelinge
Redding deur Jesus en die Heilige Gees tot ’n nuwe, wyer Israel vat vlam na Jerusalem. Jesus se redding vlam uit deur die Heilige Gees en die kerk van Jerusalem tot in Rome.
Lukas 1–2: Alle Ou Testamentiese beloftes van redding vir Israel word in Jesus vervul. Dit sluit heidene in en ’n God wat omgee vir armes en stukkendes. Dit is goeie nuus, maar dit wek teenstand. Handelinge 1–12: Die evangelie versprei vanaf Jerusalem tot in die streke van Judea. Dit gebeur ná die uitstorting van die Gees, bekerings, liefde, wonderwerke, Stefanus se dood en genadelose vervolgings.
Lukas 3:4-13: Jesus word as gedoopte en versoekte
Oorwinnaar bekendgestel met
’n geslagsregister tot by Adam wat selfs heidene gaan bereik.
Handelinge 13–20: ’n Reisverhaal waarin Paulus-hulle die evangelie deur vervolgings, ontberings en weerbarstige Jode tot in Europa en Asië neem.
Lukas 4:14–9:50: Jesus genees en onderrig rondom Galilea. In Nasaret gebeur ’n prototipe van wat gaan volg: Ou Testament-beloftes gaan in vervulling, die Gees is in Hom, Hy is goeie nuus vir armes, heidene word ingesluit en baie in Israel sal Hom verwerp. Handelinge 21–28: Paulus neem as persona non grata en voortvlugtige die evangelie van Jesus Christus langs tribunale en koningsverhore af tot in Rome, die hart van die Romeinse Ryk, en van heidense wreedheid, sonde en vervolgings – sprekend van die “uithoeke van die wêreld” (1:8).
Lukas 9:51–19:44: Op pad na Jerusalem versamel Hy dissipels en leer hulle om God nie soos Fariseërs te verstaan nie. Hy word deur godsdienstige en politieke leiers verwerp. Kerke se gestuurdheid kom al uit die Ou Testament uit: “Die dinge waarvan die profete gepraat het, is vir julle bedoel …” Hy het vir Abraham gesê: “Jou nakomeling sal vir al die volke van die aarde tot ’n seën wees” (Hand 3:25).
Lukas 19:45–24:53: Jesus word in Jerusalem verwerp, mishandel en gekruisig. Sy opstanding bevestig die nuwe Israel se redding, sy hemelvaart stuur hulle uit en bevestig vir die dissipels hulle roeping en vreugde. Kerke se missionale roeping kom ’n lang pad – al van Amos 9 af: “sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen” (Hand 15:17).

“Julle sal my getuies wees tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).


’n Beknopte Bybels­missionale weergawe uit Lukas en Handelinge

Gesels saam

Vir die denkers

Onder die sewe nuut verkose diakens was daar die toegewyde evangeliese woekeraars soos Stefanus en Filippus. Daar was Nikolaus wat dalk die grense van Christelike waardes getoets het. Hoe kan gelowiges hulle onderlinge verskille en strydige standpunte opbouend laat uitspeel?

Vir die gevoelsmense

Watter gevoelens en gewaarwordings wek mense wie se geliefdes gesterf het en geen finansiële voorsorg het nie by jou op? Ken jy soortgelyke gevalle, byvoorbeeld waar jong kinders se ouers gesterf en die kinders alleen agtergebly het?

Vir die doeners
Wat sal jou aanbeveling vir die kerkraad wees as die probleem van die eerste Jerusalem-gemeente dat die Arameessprekende weduwees bo die Griekssprekendes voorgetrek word op julle agenda beland?

Vir die verwonderaars
’n Ou sendeling uit die Oosbloklande het eenkeer gesê gelowiges moet nie net instem (commit) tot die Here nie. Gelowiges moet hulle ook oorgee (surrender). Dit is volgens hom die vroeg-Christelike en Bybelse riglyn vir dissipelskap. Wat sou die verskil wees tussen commit en surrender en hoe het dit in Jesus se lewe gewys?

© Missio 2024 | All rights reserved.