Gee-vreugde – Week 1

Vreugde-trilogie

Sections

Inleiding

Hierdie week se agtergrondinligting gaan jou help om ’n breër perspektief te kry en die vloei binne die geheel maklik te volg. Geniet dit!

Here, hoe kan ek juig oor u opstanding as ek nie deel gehad het aan u dood nie? … Daar is so baie in my wat nog moet doodgaan.
– Henri Nouwen, Lent and Easter Wisdom

Fokus: Agtergrondinligting vir meer insig

Dag 1 - Die episentrum Jerusalem

Lees Lukas 4:16-30

Lukas het twee Bybelboeke geskryf. Hy het die Lukas-evangelie en die Handelinge van die Apostels geskryf.

Handelinge is soos ’n vervolgverhaal wat op Lukas volg. Lukas was goed opgevoed en welgeleerd. Hy skryf van die beste Grieks in die Nuwe Testament en hy was baie goed bekend met die Joodse kultuur en dié se godsdienstige gebruike. Hy kon in ’n stadium ’n reisgenoot van Paulus gewees het. Dit is omdat hy vanaf Handelinge 16 die eerstepersoon-voornaamwoord “ons” ’n paar keer gebruik. Verder noem Paulus in Kolossense 4:14 en Filemon vers 24 hom ’n “reisgenoot”.

Lukas se Evangelie word dikwels die evangelie aan die armes genoem (Bosch, 1988; Stander, 2005). In Jesus se preek in sy grootworddorp Nasaret waar Hy uit Jesaja 58 en 61 aanhaal, het Hy sy roeping só uitgespel: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig” (Luk 4:18-19).

Die interessante gevolg was dat Jesus nie komplimente vir sy preek ontvang het nie. Die verstommende teendeel het gebeur. Die mense van sy dorp was só kwaad oor sy preek dat hulle Hom by ’n krans wou afgooi.

Die struktuur van Handelinge is vernuftig saamgestel om Jesus se impak in die wêreld te demonstreer. Die reisverhale in die boek kring na binne na die episentrum toe, na Jerusalem en die Paasgebeure. Van daar af kring dit dan weer uit na die “uithoeke van die wêreld” tot in Rome.

Rome was die hoofstad van wêreldoorheersing, boosheid, heidendom, wrede keisers en vervolging.

Lukas werk met drie groot periodes:

  • die tyd vóór Jesus (van die Jode)
  • die tyd van Jesus Christus en
  • die tyd van die Heilige Gees (die kerk, waar Jesus deur sy Gees en sy gelowiges regeer).

In die Lukas-evangelie begin die geografiese reisverhale na die episentrum toe in hoofstuk 3. Dit is waar Johannes die Doper Jesus doop en Hom as Verlosser bekendstel. Daarná, vanaf hoofstuk 4 tot 9 leer en bedien Jesus in Galilea en die omringende plattelandse streke en doen hy genesings. Vanaf hoofstuk 9 se laaste deel tot by hoofstuk 19 is Hy op pad Jerusalem toe. Vanaf hoofstuk 19 se tweede deel begin die Paasgebeure in Jerusalem.

Here, help my om ongewildheid meer soos Jesus te verstaan.

Dag 2 - Die roete was rof

Lees Handelinge 1:1-8

In Handelinge beweeg die evangelie van verlossing net mooi andersom as in die Lukas-evangelie. Jesus belowe in Jerusalem dat sy geloofsveldtog onder die krag van die Heilige Gees (1:8) gaan uitkring na Judea, Samaria en die uithoeke van die aarde.

In Handelinge 1–12 speel alles in Jerusalem en die streke van Judea tot by Galilea af, verby Samaria (net mooi die omgekeerde van Lukas 1–9) tot in Antiogië in Sirië.

In Handelinge 13–20 neem Paulus-hulle die evangelie na Klein-Asië en na wat ons vandag as Europa ken (na Rome tot by Griekeland, amper soos Jesus se pad na Jerusalem in Lukas 9–19).

Handelinge 21–28 vertel ons van Paulus se verhore wat ons duidelik aan Jesus se verhore in Lukas 20–24 herinner. Soos met Jesus gebeur het, verskyn Paulus ook voor dieselfde drie tribunale, te wete die Sanhedrin (Luk 22; Hand 22), die Romeinse goewerneur (Luk 23; Hand 25) en een van die Herodes-konings, Julius Markus Agrippa (Luk 23; Hand 25). Die resultaat was dat die evangelie deur ’n pad vol dorings, versperrings en doodsgevare tot in die hart van die Romeinse ryk versprei het. Niks en niemand kon egter Jesus se beloftes of sy gestuurdes se roeping en passie onderkry nie.

Die reis van Galilea na Jerusalem en van Jerusalem na Rome was ’n reis deur ’n stukkende wêreld met ongenaakbare onreg teenoor Jesus en sy volgelinge. Plek-plek het dit broekskeur gegaan en is Jesus verlaat, verloën, verraai en vermoor. Maar die Goeie Nuus oor God se verlossing deur sy Seun het nooit laaste stuiptrekkings gekry nie.

Here, moenie dat onreg my geloof uitdoof nie.

Dag 3 - When the going gets tough

Lees Handelinge 14:1-28

In Lukas se Handelinge was dit amper altyd vasgeloopte situasies en konflik met (hoofsaaklik) astrante Jode wat die spreekwoordelike lont was agter die voortgesette vuur van die evangelie.

Dink aan die mense in Nasaret (Luk 4), Jesus se verhore (22:66 ev; Luk 23) en Petrus en Johannes se verhoor (Hand 4). Dink aan die apostels wat gevang en in die tronk gegooi is (5:18) en aan Stefanus se verhoor (Hand 6–7). Dink aan die Grieke in Jerusalem wat vir Paulus wou doodmaak (9:29), aan die Jode van die sinagoge in Antiogië in Pisidië (13:50-51) en aan die Jode van die sinagoge in Ikonium wat Paulus gestenig het (Hand 14).

Jesus se evangelie het steeds verder en verder bly uitkring. Dit het gebeur danksy voorvalle soos dié waar Paulus en Silas in Filippi, Masedonië, gegryp en na die owerhede in die markplein gesleep is (16:19) en hulle klere afgeskeur en hulle met stokke geslaan en in die tronk gegooi is.

In Handelinge 17 was dit weer oproerige bendes en leeglêers wat Paulus-hulle uit Tessalonika Athene toe laat vertrek het. Van Athene af is hulle na Korinte (Hand 18), en vandaar na Antiogië waar weerbarstige Jode Paulus voor die hof gesleep het.

Tussen Jerusalem en Sesarea in Handelinge 23–26 was dit komplot op komplot om Paulus dood te maak. Maar so was dit ook met sy vertrek Rome toe as gevolg van al hierdie voorvalle wat die evangelie na die uithoeke van die wêreld geneem het. Male sonder tal was dit hoe die draers van Jesus se goeie nuus ’n stad verlaat en na ’n volgende roeping vertrek het – om hulle daar in nóg moeilikheid vas te loop, en dan eenvoudig weer met dieselfde goeie nuus verder te gaan.

Ongeag of dit maklik of moeilik vir Paulus-hulle was, hulle was nie die lugblasie in die waterpas nie. Die bouwerk aan Jesus se koninkryk het haaks gebly en gevorder danksy hulle Geesvervulde oorgawe aan Jesus, hulle fokus op sy roeping van hulle en hulle liefde vir sy nuwe koninkryk.

Here, laat u ryk selfs in swaarkrytye groei.

Dag 4 - Nie gekom vir pawiljoenspeletjies nie

Lees Lukas 19:1-9

Jesus het op twee strategiese plekke tydens sy reis in Lukas (Luk 5:31; 19:10) duidelik laat blyk dat Hy nie mens geword het om godsdienstige mense se geloof te streel nie, maar vodde-mense (soos Saggeus) te red.

Anders as verwag, was daar in sy geval geen kroon op ’n troon of ’n goue septer in sy hand met hofknapies en paleisknegte wat vir sy koningsbehandeling rondskarrel nie. Jesus het nie die keiser van ’n keiserryk geword wat in die Emperor’s Palace gewoon het nie.

Die stof wat Jesus (Luk 10:11) en Paulus (Hand 13:51; 18:6) van hulle voete afgeskud het, vertel genoeg van die afjakke op hulle reise. Jesus se roeping op aarde was ’n reis van toenemende teenstand, selfontlediging en uitdagings.

Die roete na verlossing was deur die dood. Die dood was egter nie iets wat net met Jesus moes gebeur nie. Gelowige volgelinge moet ook aan hulleself sterf (Matt 16:24-25).

Geloof in Jesus Christus was nooit ’n gemaklike, louwarm egoresies nie. Volgens buite-Bybelse bronne het minstens elf uit die twaalf eerste draers van Jesus se boodskap iewers in die tweede helfte van die eerste eeu ’n marteldood gesterf. Die indrukwekkende hiervan is dat niks en niemand hulle van hulle geloof in Jesus kon laat afsien nie

Here, leer my onderskei tussen troon en doringkroon.

Dag 5 - Diversiteit en ongemak is bates

Lees 1 Korintiërs 12:12–13:1

Toesprake speel ’n belangrike rol in Handelinge. John Contabile (2011) lys 36 toesprake in Handelinge. Lukas gebruik Jesus (Hand 1), Petrus, Stefanus en Paulus se toesprake om aan verskillende gehore in verskillende style die evangelie van Jesus as vervulling van die Ou Testamentiese beloftes te verduidelik. Hierdie toesprake speel feitlik almal in situasies van erge konflik af. Verder vertoon hulle ’n diepe verbintenis tot inklusiwiteit.

In gesprek met die Jode (Hand 2–3; 7; 13) word baie aanhalings en karakters uit die Ou Testament en ook Johannes die Doper gebruik. In gespek met heidense gehore (soos in Listra, Atene en Sesarea) figureer die Ou Testament weer glad nie.

Met heidense gehore redeneer Paulus graag vanuit die skepping, algemene openbarings of filosofiese teorieë om eventueel by Jesus Christus uit te kom.

’n Mens kan inderdaad sê: In sy evangeliese ywer was Paulus sensitief vir kultuurverskille. Hy was skerp met “teks en konteks”.

In Lukas se geloofsjoernale is daar ’n aangrypende episode waarin ’n afwaartse reis van selfbelang en ’n opwaartse reis van oorgawe en geloof neergepen is. Dit is die verhaal in Handelinge 6 en 7 waarin Stefanus Jesus se hoofkarakter was. Dit is die kern van hierdie paar weke.

Laastens, moenie dink Stefanus het eers ná sy dood in God se heerlikheid aangeland nie. Hy het nie by sy dood eers die ewige lewe ontvang nie. Hy het in Jerusalem reeds ewig geleef. Jesus het dit in Johannes 5:24 mooi verduidelik: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”

Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 22, vraag en antwoord 58, kleur hierdie koninkryksbeginsel mooi in.

Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit – ’n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys (2 Kor 5:2-3 en 1 Kor 2:9).

Here, laat ongemak en andersheid my nooit terughou nie.

Gesels saam

Vir die denkers
Hoekom dink jy wou die Jode vir Jesus in Nasaret van ’n krans afgooi nadat Hy gepreek het (Luk 4)?

Vir die gevoelsmense
Die nuwe samelewingsorde wat Jesus op aarde gebring het, was die teenoorgestelde van wat mense verwag het hoe sy koninkryk sou lyk. Die koning het nie regeer nie, maar gedien. Hy was nie baas nie, maar slaaf. Hy oefen geen mag uit nie, maar word die minste. Hy hang meer by die stukkende afvlerkmense rond as by die elite. Sy koningskroon word ’n doringkroon aan ’n kruis.

Watter emosies maak hierdie andersheid van Jesus se Messiasskap by jou wakker?

Vir die doeners
Paulus het anders met Jode as met Grieke en heidene gewerk. Dink jy dit is belangrik om eers mense se agtergrond, kultuur en konteks te probeer verstaan vóórdat jy na hulle uitreik en Jesus se liefde na hulle toe neem?

Vir die verwonderaars
Dink jy die Bybelgeleerdes het ’n punt beet as hulle die Evangelie van Lukas ook die evangelie aan die armes noem?

Ons moet hard werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus wat self gesê het: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand 20:35).