Epifaniefeesdiens

Sections

Oorsig

So bekend en gewild as Kersfees by meeste van ons is, so onbekend en vreemd is Epifanie. ’n Kort aanhaling noem die onbekende tradisies, maar help ook om die bedoeling van die fees te verhelder: “Augustine called Epiphany ‘a feast worthy of most devout celebration.’ This festival completes the season of Christmas by inviting us to discern the identity of the Christ child. Three traditions—baking a Kings’ Cake, marking a door lintel with the Magi’s blessing, and elaborating worship with lighted candles—help us interpret the Christmas season appropriately.” Ons kan die woorde uit die aanhaling  ̶  “inviting us to discern the identity of the Christ child” – steeds as riglyn gebruik om die fees en seisoen van Epifanie te benader.

Die afsonderlike tradisies wat Augustinus in hierdie aanhaling noem, hoef nie voorskriftelik geag te word nie, maar dien as illustrasie van die benadering wat die vroeë kerk gevolg het. Die praktyke is vir ons vreemd, dog interessant: die “king’s cake” is byvoorbeeld ’n groot koek waarin ’n baba-pop versteek is. Dit wil illustreer hoe mens God ontdek wanneer mens Hom in die kind Jesus begin raaksien.

Prakties

  • Die Adventskrans bly steeds in die liturgiese ruimte. Al die kerse brand.
  • Wit word volop gebruik. Dit word afgewissel met goud hier en daar.
  • Daar word vooraf gereël wie die verskillende liturgiese handelinge sal lei of uitvoer.
  • In die beplanning van die liturgie, word kontinuïteit met Kersfees behou en uitgebou deur die struktuur en sekere elemente van die erediens te herhaal. Die onderstaande voorstel behou die hooflyne van die Kersdiens en herhaal ook sekere liedere.

Ander tekste

Jesaja 60:1-6
Nasies kom na jou lig toe
60 Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see
word joune,
die skatte van die nasies
kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.

Psalms 72:1-7
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.

Psalms 72:10-14
10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
geskenke bring,
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep,
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking
en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees
in sy oë.

Efesiërs 3:1-12
Paulus se werk onder die heidennasies
3 Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.
2Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.

13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.

Fokusteks

Matteus 2:1-12
Besoek uit die ooste
2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:
6En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Verwelkoming
Vandag is Epifaniefees.  Epifanie beteken “verskyning”.  Ons verkondig en vier vandag God se verskyning, teenwoordigheid en bekendwording in die wêreld.

Adventkrans en Geloofsbelydenis
Terwyl die eerste kers aangesteek word:

Liturg:  “Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek My verheug; Ek sal my Gees op Hom laat kom, en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak. .. op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.” (Matteus 12:18 en 21)
Gemeente:  Jesus is ons hoop.

Terwyl die tweede kers aangesteek word:
Liturg:  “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Lukas 2:14)
Gemeente:  Jesus is ons vrede.

Terwyl die derde kers aangesteek word:
Liturg:  ‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.  Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. Die takkie sal vreugde vind in die diens van die Here. (Jesaja 11:1-3a)
Gemeente:  Jesus is ons vreugde.

Terwyl die vierde kers aangesteek word:
Liturg:  Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar my liefde vir jou sal nooit verdwyn nie, my vredeverbond met jou sal nooit wankel nie, sê die Here, wat jou liefhet.  (Jesaja 54:10)
Gemeente:  Jesus gee ons liefde.

Terwyl die middelste kers aangesteek word:
Liturg:  Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. (Jesaja 9:5)
Gemeente:  Jesus is ons Heer.

Toetrede
Lied 376 “Wyses het u ster gesien” of
Vonkk 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe” of
Flam 319 “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”

Votum
Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. 2Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid. 3Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het. (Jesaja 60:1-3)

Seëngroet
Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees.” Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.  En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ins hart en verstand verlig.  Amen.  (Cas Wepener, Soos ‘n blom na die son draai, BybelMedia 2011)

Lofsang
(sing minstens twee – hierdie is ‘n feesdiens!)
Lied 367 “Ere aan God”
Lied 350 “In die stad van koning Dawid”
VONKK 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”
VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Flam 391 “Jesus, Helder Lig”

Liedere

F319. “Want ’n Kind Is Vir Ons Gebore (Immanuel)”
(RUBRIEK: Flam / Flammikidz – Kersfees)
Oorspronklik: Immanuel
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 1993 Celmar Music

1. Want ’n kind is vir ons gebore,
God het sy Seun aan ons gegee.
Die heerskappy rus op sy skouers
en sy Naam sal wees:

Refrein:
Wonderbare Raadsman, Magtige God,
Ewige Vader, die Vredevors.

Immanuel,
God met ons.
Immanuel,
God met ons,
Immanuel.

2. Want so lief het God die wêreld,
Hy het sy Seun aan ons gegee
sodat die wat nou in Hom glo
leef tot in ewigheid.

Refrein:

VONKK 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”
Teks: Gideon Brits 2010
Melodie: Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ – Peter Sohren 1668, ritmies aangepas 2001
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming: NG Kerk-Uitgewers 2001
© Teks en orrelbegeleiding: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Ons bring aan U die lof en eer,
ons sing met vreugdeklanke.
U, Heer, ons Koning, het gekom,
dit was ons hartsverlange.
Van vroeg af is dit reeds voorspel
dat U sou kom, Immanuel.
Ons Heiland is gebore!

2. Kom almal, sing jul lof en dank
aan Hom, die Kind gebore.
”Eer aan die Koning en die Heer”,
sing al die hemelkore.
Met blydskap dink ons aan dié dag
deur voorgeslagte lank verwag.
Ons Heiland is gebore!

VONKK 142 “Jesus, Verlosser, U Daal Tot Ons Neer”
Teks: Ernst Kotzé 2010
Musiek: JUDAS MACCABEUS – GF Handel 1746;  harmonisasie effens gewysig 2001
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Advent  / Kersfees en Epifanie

1. Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!
Ons kom in aanbidding, buig tot in die stof.
Heer, ontvang ons loflied, aan U al die lof!
Jesus, Verlosser, U daal tot ons neer.
Wonderbare Raadsman, U is ewig Heer!

2. Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!
In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.
Hy kom na die aarde, om ons op te rig!
Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.
Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
Nav Johannes 12:46
Teks: Jésus le Christ – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief  – Advent

Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.

Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

VONKK 176 “Let Op, Kinders, Dis Weer Kersfees!”
Teks: Weisst du wieviel Sternlein stehen – Wilhelm Hey 1837; nuwe teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: STERNLEIN – Duitse volksmelodie 1818
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verryking: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Kinderlied – Advent / Kersfees en Epifanie  / Kindwees

3. Kom nou, kinders, laat ons bly wees!
Laat ons God se liefde prys.
Laat ons soos die wyse manne
aan die Kindjie eer bewys.
God se liefde is so oneindig groot,
Hy kom red die mens uit sy sondenood.
Sodat dié wat in Hom glo
tot in ewigheid sal leef!

VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”
Nav Psalm 139 : 12
Teks: La ténèbre – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Gerrit Jordaan 2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Afrikaans in hierdie weeergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis en Genade / Kersfees en Epifanie / Lydenstyd

Al die donker is nooit net donker in u sig.
Die nag, net soos die dag, word deur U verlig.

La ténèbre n’est point ténèbre devant toi:
La nuit comme le jour est lumiére.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2.  Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3.  Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

F391. “Jesus, Helder Lig” 
(RUBRIEK: Flam – Toetrede)
Oorspronklike titel: Jezus, stralend licht
Teks en musiek: Simon Huishoff
Afrikaanse teks: 2007 Faani Engelbrecht
Kopiereg: © Simon Huishoff (Flam gebruik die lied met sy toestemming)

Jesus, helder lig
ek staan voor u aangesig.
Hier is ek, sterke Heer,
ek verlang na U.

Redder, Majesteit
ek kniel voor u heiligheid.

U alleen, Seun van God,
ek verlang na U.

Ek wil graag by U wees, my Heer,
want U is alles vir my.

U is my God, my hoop en my krag.
U gee my rus en lig in my nag.
U is Koning.

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine
Teks en musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik
© 1987 Make Way Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my, skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

2. Here, maak my ’n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my, skyn deur my.

Refrein:

Flam 69. “Was My Skoon”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Skuldbelydenis)
Teks en musiek: Hannes Grabe
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Kom en reinig my, o Heer,
week my sonde en skuld in die bloed van u Seun.
Ek staan skuldig voor U, Heer,
die verlore kind kom vra ’n tweede kans.

2. Was my skoon, maak my rein,
laat U lig weer deur my skyn.
Neem my hart, maak dit nuut,
laat my lig na ander skyn.
Was my skoon, maak my rein
laat u lig weer deur my skyn.

3. Laat u Gees my hart deurspoel,
bring u vrede en rus, u genade oor my.
Maak my wit net soos die sneeu,
ek wil heilig leef, gewy aan U, my Heer.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 2:1-12 (Jy kan kinders kry om aan te trek soos wyse manne – en een soos ‘n ster – en die teks uit te beeld terwyl jy dit lees).

Familie-oomblik

Lied
Lied 374 “‘n Ster het in die ooste”
VONKK 176 vers 3 “Let Op, Kinders, Dis Weer Kersfees!”

Preek

Familie-oomblik

Fokus op een van twee storielyne in die teks en vertel dit dramaties vir die kinders (Carolyn Brown, Forbid them not, Jaar C):

1. Vertel die verhaal van die wyse manne uit die perspektief van God wat baie moeite gedoen het om Jesus se geboorte vir ander mense in ander lande te bring.  As Jesus se volgelinge word ons dus ook daarvoor geroep.  Die waardering vir ander kulture kan ook bygetrek word.
2. Vertel die verhaal uit die perspektief van die konsternasie wat in die paleis geheers het, en fokus op God wat Herodes se planne fnuik deur die wyse manne met ‘n ander pad terug te stuur.  God sorg vir die magteloses.  Ons kan dit vier.

Of vertel die legende van die vierde wyse man:
Die Bybel sê nie daar was 3 wyse manne nie.  Omdat daar drie geskenke genoem word, het mense nog altyd maar stories vertel van 3 wyse manne.  Daar is selfs legendes wat vir hulle name gee:  Caspar, Melchior en Balthasar.

Maar daar is ook ‘n legende van ‘n vierde wyse man!  Die storie is dat sy naam Artaban was.  Hy was op pad van Persië af om die ander wyse manne te ontmoet.  Sy geskenk was juwele.  Saam met hom het hy 3 kosbare juwele gedra:  ‘n saffier, ‘n robyn en ‘n pêrel.

Langs die pad het hy ‘n ou Joodse man ontmoet wat besig was om dood te gaan van koors.  Artaban het besluit om die ou man op te pas totdat hy gesond is.  Só mis Artaban sy ontmoeting met die ander wyse manne.  Artaban het die kosbare saffier verkoop om seker te maak dat die ou man versorg is.  Die ou man het vir hom vertel dat die profete gesê het die Messias sal in Betlehem gebore word.  Daarom, toe die ou man gesond is, het Artaban op sy eie vertrek, op pad na Betlehem.

In Betlehem aangekom, vertel ‘n jong ma vir hom dat die ander wyse manne reeds weg is en dat die familie wat hy soek, gevlug het.  Terwyl Artaban nog in Betlehem is en wonder wat om te doen, arriveer Herodes se soldate om al die jong seuns dood te maak.  Artaban gee vir ‘n soldaat sy robyn om seker te maak dat die soldaat nie die jong vrou se baba seun doodmaak nie.

Nou het Artaban net ‘n pêrel oor gehad, maar hy het besluit om aan te hou soek vir die Koning.  Uiteindelik, na 30 jaar van soek, kom hy tydens Paasfees in Jerusalem.  Almal was in rep en roer oor ‘n man genaamd Jesus wat beweer het dat hy die Seun van God was.  Artaban het gewonder of hy sy pêrel kan gebruik om die jong man te red.  Hy was nog op pad om te kyk wat hy kan doen, toe hy ‘n jong meisie sien huil.  Sy het hom vertel dat sy huil omdat sy as ‘n slaaf verkoop gaan word om haar pa se skuld te betaal.  Artaban kon dit nie oor sy hart kry nie!  Daarom het hy sy pêrel – sy laaste juweel – gebruik om haar pa se skuld te betaal.

Net toe kom Jesus verby gestap, besig op die kruis te dra, op pad om doodgemaak te word.  Toe Artaban in Jesus se oë kyk, het hy geweet dít is die Koning waarna hy so lank gesoek het.  Hy kon nooit sy drie geskenke vir Jesus gee nie, maar in daardie oomblik het hy geweet:  deur sy geskenke te gebruik om ander te help, hét hy dit vir Jesus gegee.

Grafika: Jewels, eiendom van Cayusa, foto geneem op 30 Januarie 2007 in  Delight, Maryland, US, met ‘n Canon EOS Digital Rebel Xti.
Kopiereg deur Creative Commons laat plasing toe.

Preekriglyn

A prison cell, in which one waits, hopes, does various unessential things, and
is completely dependent on the fact that the door of freedom has to be opened
from the outside is not a bad picture of Advent.
Dietrich Bonhoeffer, Letters and Papers from Prison

Epifanie

Ons is nou in daardie gedeelte van die kerklike jaar wat as epifanie (“verskyning”) bekend staan.  Ons aandag word na Advent en Kersfees gefokus op die betekenis van die verskyning van God se genade in Jesus Christus.

Van die vroegste eeue verstaan die Christelike kerk epifanie as ‘n tyd om die identiteit van die Christuskind te onderskei.  Deur te verstaan wie Jesus is, weet ons hoe om wys en reg voor God en met mekaar in God se wêreld te lewe.

Ons teksgedeelte help ons hiermee.  Ons word voorgestel aan die Christuskind.  Ons kyk na Jesus deur die oë van ander mense.  Herodes, die sterrekykers, priesterhoofde en skrifgeleerdes, speel almal ‘n rol.  Hierdie mense is Jesus se tydgenote.  Hulle reaksies op Jesus help ons om onsself reg te oriënteer voor God en in God se wêreld.  Wie God in aksie sien, moet reg sien sodat jy reg kan reageer.

Opvallend hoe belangrik die woord kyk of sien in ons teksgedeelte, trouens in die hele eerste deel van die Matteus-evangelie is.  Die Griekse woord idou, kyk (“behold”) kom nege keer in Matteus 1:1-4:16 voor.  As werkwoord, eidoo, kom die woord nog ‘n bykomende vyf keer voor.

Inderdaad: ons word geroep om na Jesus te kyk, en te onderskei wie Hy is.  Wat sien ons?  Eintlik: Wie sien ons? Hoe reageer ons daarop?  Eintlik: Hoe reageer ons op wie Jesus is?

Jesus is die Koning

Die koningskap van Jesus is die sentrale fokus van hierdie gedeelte.  Sy koningskap word deur herhaling beklemtoon: Hy is in Bethlehem, die koningstad, gebore (1).  Dit is dié Betlehem waar Dawid vandaan gekom het en wat in die profesie oor die opvolger van Dawid genoem word (1, 6).  Vier keer word na Betlehem verwys (1, 5, 6, 8). Betlehem beteken letterlik huis van brood. Hier het Dawid se familie gebly. Lukas noem Betlehem “die stad van Dawid” (Luk 2:4).

Die sterrekykers se vraag in vers 2 onderstreep Jesus se koningskap: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?  Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”  Die klimaks van die verhaal is wanneer die sterrekykers voor Jesus buig en geskenke bring (11).

In Woord en Fees (publikasie van Bybel-Media) se toeligting van ons teks word ‘n paar aanhalings uit verskeie bronne gegee om die punt verder te onderstreep:

  • “Jesus as die Koning van die Jode wat ’n keuse of beslissing vereis.”
  • “Matteus wil aantoon dat Jesus Heer oor alle mense is, en dat dit gepas is dat selfs as kind mense van ’n ander nie-Joodse land sou kom om aan Hom hulde te bewys.”
  • “Hierdie spesifieke Jesus het hierdie spesifieke effek op mense: Hy is ’n Koning, al lyk Hy nie so nie.”
  • “The aim of the evangelist . . . was to show that the child, who was born of the lineage of David to fulfil the ideal of kingship associated with the name of Israel’s greatest king, was acknowledged even in His infancy, and by representatives of the non-Jewish world, to be, par excellence, the King of the Jews.”
‘n Publieke koning

Jesus se geboorte was ‘n publieke gebeurtenis, ‘n konkrete gebeurtenis in die egte geskiedenis, waarvan ons ook deel is.  So sê Matteus: “Jesus is in Bethlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes.”

Daarom is Jesus se koningskap ‘n publieke koningskap.  Dit omvat alles.  Dit is ‘n koningskap oor God se ganse wêreld.  Niks is daarvan uitgesluit nie.

Jesus se koningskap is belangrike nuus vir alle mense.  Almal wat oë het om te sien, moet leer om Jesus raak te sien.

Ons moet mekaar oor en oor hieraan herinner.  Die rede is die moderne Westerse neiging om godsdiens te privatiseer tot ‘n geestelike waarheid of twee in my individuele verhouding met God.  Dan het Jesus iets vir my hart en my geestelike lewe te sê, maar niks vir my wêreld nie.  Jesus word my individuele ervaring, en reflekteer waardes wat vir my persoonlik sin maak.

As Jesus slegs die Jesus van my hart is, is Jesus ook nie vir die hele wêreld belangrik nie.

Reaksies op Jesus se koningskap

Teen hierdie agtergrond kan ons gaan kyk na die verskillende mense in hierdie gedeelte se reaksies op Jesus se koningskap.

Die sterrekykers

Matteus vertel dat die sterrekykers onverwags uit die ooste in Jerusalem aankom.  Dit was ’n groot verrassing. Hulle het sommer net verskyn.  Die verskyning ontstel Jerusalem, want hierdie manne vra allerhande vrae!

Die sterrekykers verskyn in Jerusalem, want ’n ster het verskyn.  Hulle het die verskyning van die ster vanuit hulle tuisdorp waargeneem.  Dit motiveer hulle om na Jerusalem te reis.

Matteus vertel hierdie verrassende verhaal om vir sy lesers en hoorders meer van die eintlike verskyning te vertel.  Die eintlike verskyning waaroor dit hier gaan, die hart van Epifanie, is die verskyning van Jesus.  Reeds in die voorafgaande verse (1:18-25) het Matteus van die geboorte van Jesus vertel.  Die gedeelte sluit af met die mededeling dat Josef wel met Maria getrou het, dat sy geboorte geskenk het aan ’n Seun, en dat Josef Hom Jesus genoem het.

Wie is hierdie Kind, Jesus? Waarom is sy geboorte of verskyning so belangrik? Dit is die vrae wat Matteus met die verhaal van die sterrekykers wil beantwoord.

Hulde bewys

Die sterrekykers se reaksie is belangrik.  Hulle het Jesus se ster gesien, en gekom om hulde te bewys.  Sonder om die talle vra oor wie die sterrekykers was en waarom die ster hulle gemotiveer het, vertel Matteus dat selfs mense wat nie Jode was nie, kom om hulde aan die koning van die Jode te bewys.  Die koning Jesus, as kindjie, word reeds deur die nasies as koning herken, erken en gehuldig.

Die sterrekykers vertoon die regte ingesteldheid teenoor koning Jesus.  Hulde, eer en geskenke.  Hulle was baie bly om Jesus te ontmoet, en hulle kniel voor Hom.

Aangesien die geboorte van die koning goeie nuus vir die heidense sterrekykers was, is hulle aanbidding ‘n voorspel van die Here se uitreik na alle nasies.  Jesus se geboorte is goeie nuus vir almal, en roep almal op om hom aanbiddend as koning te ontvang, en te huldig.

Koning vir alle nasies

Jesus is die koning van al die nasies. Die sterrekykers kom uit ’n ver land en vertrek weer terug daarheen na hulle Jesus aanbid het. Dis duidelik dat die verskyning van Jesus vir almal op aarde betekenis het.  Wanneer Matteus sy evangelie afsluit met Jesus se opdrag om na al die nasies te gaan, word dit finaal bevestig dat Jesus koning van alle mense is.

Daarom is baie kerke lief om Efesiërs 3:1-12 met Epifaniefees te lees.  Hier verduidelik Paulus dat die evangelie van God se genade aan hom openbaar is.  Dit is die evangelie wat beteken dat Jesus die skeidsmuur tussen Jode en nie-Jode afgebreek het.  Nou versamel God mense uit al die nasies as sy huisgesin.

Herodes

Herodes en die hele Jerusalem is ontsteld wanneer hulle by die sterrekykers hoor die koning van die Jode is gebore.  Hy is natuurlik ontsteld, want sy eie posisie as heerser word bedreig.  Darem maak hy vinnig planne om die pasgebore koning uit te sorteer.

Matteus se lesers en hoorders weet dat Herodes eintlik meer van ’n despoot as ’n koning was. Hy was wreed. Hy was slinks. Hy het net in sy eie posisie as koning belang gestel. Enigiets wat sy posisie sou bedreig, het hy met mag en geweld uit die weg geruim.

Herodes weet Jesus is nie maar net die koning van mense se harte nie.  Hy weet Jesus is nie net ‘n geestelike leier wat niks met politiek en politieke maghebbers te doen sal hê nie.  Daar is onmiddellik konflik in die lug.  Jesus moet hanteer word.  Dit beteken: Jesus moet verwyder word.

Hiermee word ons reeds voorberei op die latere konflik tussen Jesus en die leiers van Israel.  Konflik speel ’n prominente rol regdeur die evangelie.  Met die besoek van die sterrekykers uit die ooste kom die spanning na vore (vgl 2:3).  Die beroering in Jerusalem wys vooruit op die beroering wat rondom Jesus sou ontstaan en wat tot sy kruisiging sou lei.

Jesus versus Herodes

Jesus is die Koning van geregtigheid en van vrede.  Jesus, is die ware koning. Hy sal sy volk soos ’n herder lei, haal Matteus die profesie aan. Eintlik het die profeet dit nie presies so gesê nie, maar Matteus interpreteer die profesie en beklemtoon wat sy lesers en hoorders moet weet.

Jesus is die ware koning. Daarom is baie kerke lief om Psalm 72 met Epifaniefees te lees. Nie maar net omdat die verhaal van die sterrekykers so baie lyk na die vervulling van vers 11 en 15 nie, maar omdat dit in hierdie psalm handel oor ’n koning wat met geregtigheid regeer en ware vrede vestig. Dis presies wat Jesus as koning doen.

Wie is Jesus werklik?  Hy is die Messias wat van God kom deur wie God se beloofde koningskap ‘n werklikheid word.  God se koningskap bevry van tirannie en magsmisbruik.  Mens buig óf voor hierdie koningskap, en eien dit toe, of jy weerstaan dit en veg daarteen.

Herodes gefnuik

Herodes is geslepe.  Sy jakkalsstreke word egter gefnuik deur God wat in ‘n droom met die sterrekykers praat.  Sy gruwelike moord op die jong seuntjies, waarvan die volgende paragraaf vertel, misluk.  Josef vlug met Jesus na Egipte.  Uiteindelik kom Herodes se verset tot niks.

Herodes teken mense wat hulle ten alle koste ter wille van eie mag en voordeel teen Jesus verset.  Dit is ‘n keuse wat op niks en niksheid uitloop.

Priesterhoofde en skrifgeleerdes

Die priesterhoofde en skrifgeleerdes word vir die eerste keer in vers 4 van die evangelie genoem.  Hierdie leiers van die volk maak hier in die verhaal ’n kort verskyning.  Later speel hulle ’n belangrike en bepalende rol in die ontvouing van die verhaal.  Die leiers wys hier reeds sommige van hulle karaktereienskappe wat later duidelik word.

Hulle belangrikste eienskap is hulle ken die Skrifte.  Die Skrifte bepaal egter glad nie hulle gedrag nie.  Sou die Skrif ‘n werklike impak op hulle maak, sou hulle self na Betlehem gaan.   Hulle sou dan self geskenke aan die nuutgebore koning gee, voor Hom kniel en Hom aanbid.  Dit doen hulle nie.

Die rede hiervoor is dat hulle gesag ten nouste met Herodes se gesag verweef is.  Herodes regeer namens die Romeinse oorheersers van die land.  Die Romeine verleen ook plaaslike godsdienstige bevoegdheid aan die godsdienstige leiers.  Hulle is dus maar te gewillig om Herodes se vrae te beantwoord, maar hulle gaan geensins teen Herodes kies nie.  Hulle gesag is ten nouste met sy gesag verweef.  Hy is die koning wat hulle verkies, nie die beloofde koning wat van God kom nie.

Vandaar hulle apatie teenoor Jesus, die koning.

Uiteindelik

Wat van die sterrekykers word, weet ons nie.  Ons ken egter die uiteinde van Herodes se verset teen Jesus.  Ons ken die afloop van die skrifgeleerdes en die priesterhoofde se verset teen Jesus.  Ons weet wat gebeur het met die Romeinse Ryk wat deur Pontius Pilatus met die Koning van die Jode wou afreken.

Deur Jesus se gehoorsaamheid aan die Vader, word God se koningskap ‘n werklikheid.  God se koningskap word beliggaam in die geloofsgemeenskap wat na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart deur die krag van die Gees tot stand kom.  Hierdie gelowiges neem die evangelie na die uithoeke van die bekende wêreld.  Mense kom tot geloof, volg en erken Jesus as Here.

Die weerstand teen Jesus se koningskap word ook gefokus op sy volgelinge.  Vir eeue word hulle vervolg en vernietig.  Tog loop die Romeinse Ryk hom te pletter teen die kruis en die leë graf.  Teen die derde eeu n.C. is die Romeinse Ryk gekersten.

Ook die priesterhoofde en skrifgeleerdes se apatie teenoor Jesus kon hulle duur te staan.  Teen 70 n.C. word die tempel verwoes en kom die priesterhoofde se magspeletjies vir altyd tot ‘n einde.

Lig in ‘n donker wêreld

Die verhaal van die verskyning van Jesus is ’n wonderlike verhaal!  Dis die verhaal van God se genade wat in ons stukkende wêreld deurbreek.  En watter mooier beeld is daar as om te sê dis God se lig wat in ons donker wêreld inkom?  Daarom is baie kerke lief om Jesaja 60:1-6 met Epifaniefees te lees.  Hier beskryf die profeet hoe wonderlik dit sal wees wanneer God se lig in ons donker wêreld in-skyn.  Die wonder van hierdie lig is dat Jerusalem soos ’n ligbaken en sy volk soos ligdraers word.  Die lig wat met Jesus se geboorte in ons donker wêreld verskyn het, skyn steeds in en deur sy kerk in die wêreld.

Epifanie is dus ’n fees van blydskap dat ons nie meer in duisternis hoef te lewe nie, en dit is ook ’n fees wat ons oproep om draers van hierdie lig te wees.  Dit is die regte reaksie op Jesus, die koning, soos ons Hom in hierdie gedeelte ontmoet.

Die verhaal wat Matteus vertel, is uiteindelik daarop gerig om sy lesers en hoorders te oortuig om ware dissipels van Jesus te wees en ook ander mense dissipels van Jesus te maak. Laat ons dan getroue dissipels van Jesus, die Koning, wees!

Op hierdie manier deel ons in die vryheid wat koning Jesus ons gebring het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Gee geleentheid vir stil gebed, waartydens lidmate hul “duisternis” – bekommernis, vrese, ens – aan die Here kan opdra.

Laat lidmate, wanneer hulle gereed is, kersies (tea lights kan werk) by die Adventkrans se middelste kers kom aansteek en iewers in die liturgiese ruimte plaas (dalk by die doopvont).  Hiermee getuig ons dat Jesus ook in ons lewens verskyn het, dat God se genade ook ons stukkende realiteit deurbreek het, dat die lig wat met Jesus se geboorte in ons donker wêreld verskyn het, steeds in en deur ons skyn.

Terwyl dit gedoen word, kan gepaste musiek saggies gespeel word.

Wanneer almal klaar is, sing die gemeente sonder aankondiging:
Lied 488 “Helder skyn u lig vir die nasies” verse 1, 3, 4 en 5 9 (‘n baie opgewekte opsie!) of
Lied 272 “Stuur nou u lig” of
Vonkk 30 “Al die donker is nooit net donker”
Flam 69 “Was My Skoon”

Dankoffer

Chalking of the Door
Deel bordkryt uit en verduidelik dat sommige denominasies op Epifanie ‘n tradisie het wat bekend staan as die “Chalking of the door”.  Op dié dag bid families dat die Here hulle in die komende jaar sal seën.  Dan vat hulle bordkryt en skryf bokant hulle voordeur:   20 + C + M + B + 12  (elke lid van die familie kan een van die letters/syfers/+ skryf).  Dit simboliseer ‘n gebed wat sê:

Die drie wyse manne
C Caspar,
M Melchior,
B and Balthasar het die ster gevolg van God se Seun wat mens geword het
20 tweeduisend
12 en 12 jaar terug.
++ Mag God ons seën
++ en heel jaar by ons bly. Amen.

Slotsang 
Lied 330 “Die volk wat in die donker wandel” of
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Flam 113  “Here Jesus, U Skyn Oor Almal”

Seën
Voorganger : Mag die God van die engele wat Jesus se geboorte aangekondig het,  vreugde in ons harte bring op hierdie dag en vir altyd.
Gemeente: Amen.

V: Mag die God van liefde wat sy enigste Seun vir ons gegee het, ons lewens met vrede vul.
G: Amen.

V: Mag Immanuel, God met ons, met ons wees in alles wat ons doen, totdat ons eendag aan sy tafel gaan aansit.
G: Amen.

V: Die almagtige God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, seën ons elkeen. Amen
(Effens aangepas uit Cas Wepener, Soos ‘n blom na die son draai, BybelMedia, 2011)

Respons
Lied 488 vers 1 laaste reël:  “Mag u lig, Heer, deur óns skyn”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.