Epifaniefeesdiens

Picture of Woord en Fees

Epifaniefeesdiens

Liturgiese Voorstel 1

Leesroostertekste

Sleutelteks: Matteus 2:1-12
Ander Tekste: Jesaja 60:1-6; Psalm 72:1-7, 10-14; Efesiërs 3:1-12

Inleiding

Inhoudelik
So bekend en gewild as Kersfees by meeste van ons is, so onbekend en vreemd is Epifanie. ’n Kort aanhaling noem die onbekende tradisies, maar help ook om die bedoeling van die fees te verhelder: “Augustine called Epiphany ‘a feast worthy of most devout celebration.’ This festival completes the season of Christmas by inviting us to discern the identity of the Christ child. Three traditions—baking a Kings’ Cake, marking a door lintel with the Magi’s blessing, and elaborating worship with lighted candles—help us interpret the Christmas season appropriately.” (The Festival of Epiphany in, opgemaak op 2/5/2012.) Ons kan die woorde uit die aanhaling – “inviting us to discern the identity of the Christ child” – steeds as riglyn gebruik om die fees en seisoen van Epifanie te benader.

Die afsonderlike tradisies wat Augustinus in hierdie aanhaling noem, hoef nie voorskriftelik geag te word nie, maar dien as illustrasie van die benadering wat die vroeë kerk gevolg het. Die praktyke is vir ons vreemd, dog interessant: die “king’s cake” is byvoorbeeld ’n groot koek waarin ’n baba-pop versteek is. Dit wil illustreer hoe mens God ontdek wanneer mens Hom in die kind Jesus begin raaksien.

Prakties

  • Die Adventskrans bly steeds in die liturgiese ruimte. Al die kerse brand.
  • Wit word volop gebruik. Dit word afgewissel met goud hier en daar.
  • Daar word vooraf gereël wie die verskillende liturgiese handelinge sal lei of uitvoer.
  • In die beplanning van die liturgie, word kontinuïteit met Kersfees behou en uitgebou deur die struktuur en sekere elemente van die erediens te herhaal. Die onderstaande voorstel behou die hooflyne van die Kersdiens en herhaal ook sekere liedere.

Diensorde

God versamel ons voor hom

Aanvangslied
Lied 367 “Ere aan God”

Aanvangswoord
Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid van die Here
het vir jou lig gebring.
Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn sy magtige
teenwoordigheid (Jes 60:1-2).

Seëngroet
Voorganger: Vrede vir julle!
Gemeente: En vrede ook vir jou!

Voorganger: Ere aan God in die hoogste hemele!
Gemeente: en vrede op aarde vir die
mense in wie Hy ’n welbehae het.

Loflied
Lied 330:1, 2 “Die volk wat in die donker wandel”

Skriflesing
Matteus 2:1-12

Sang
Lied 340:1-3 “Kom ons loof die Jesuskind”

Diens van die Water

Herinnering
Ons Here en Verlosser, Jesus, is baie jare gelede in Bethlehem gebore. Die besoekende wyses uit die Ooste is deur die natuur en die Skrif gelei om Hom te vereer. Hy was nie net die beloofde Koning van die Jode nie, maar die Koning wat as sodanig deur wyses in die wêreld erken word.

In die Naam van hierdie Jesus word ons kinders gedoop. Só is die duisternis wat die aarde oordek, vir ons deur sy lig verdryf. Ons kan groot word, lewe en werk in sy lig en Hy bevry ons van die duister van die verderf.

As kinders van die lig, roep ons doop ons om geen duisternis van sonde te verduur nie.

Verootmoediging 

Gebed 
Here,
Ons bring ons eie sondige lewens
en ons wêreld vandag weer na U.
In ons wêreld regeer heersers nie soos u wil nie,
en daar is baie onreg.
Min mense leef soos U dit verwag.
Maar ons verlang na regverdigheid en billikheid.
Ons smag na die dag wanneer u Kind, Jesus,
se heerskappy oral gerespekteer sal word;
wanneer elkeen wat swaar kry, billik behandel word,
armes opgehef word
en misdadigers gestuit word.
Gee aan ons florerende regspraktyke,
en ’n sin van regverdigheid by almal.
Skenk ons groot voorspoed waarby almal sal baat.
Laat almal sien U regeer:
U red die arme,
U gee aandag aan elkeen wat om hulp vra;
U staan dié by wat geen helper het nie;
U ontferm U oor swakkes,
U help behoeftiges weer op die been,
U bevry mense van onderdrukking en geweld.
Elke lewe, ryk en arm, is kosbaar in u oë.
Ons smag daarna dat ons so sal word
en ons wêreld so sal lyk.
Mag u koninkryk daarom wyd en syd erkenning geniet
en alle regerings en regeerders voor die Here buig
terwyl bevolkings U van harte eer en dien.
Vergewe ons ons traagheid om goed te doen
en bevry ons wêreld van almal wat onreg bedryf.
Amen (uit Ps 72).

Sang
Lied 354:1 “O, Christus, ons verlange”

Genadeverkondiging
Gedagtig aan die geheimenis van God wat met Christus se geboorte geopenbaar is, skyf Paulus die volgende om te verduidelik hoe dit ons raak:

“En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het” (Ef 3:6).

Geloofsbelydenis (Nicea)

Sang
Lied 353 “Die Heiland is gebore”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Vader,
Ontsluit deur u Woord vir ons die geheimenis van Christus wanneer ons dit nou lees. Amen.

Skriflesing
Matteus 2:1-12

Preek

Diens vandie Tafel

(Dit is dieselfde as met Kersfees met uitsondering van die loflied aan die einde.)

Voorbereiding
Die tafel word gereed gemaak
Indien die tafel bedek is, verwyder iemand die tafeldoek.

Sang
Lied 358:1-3 “Welkom, o stille nag van vrede”

Gebed
Here God,
Soos die somer vol vrug is uit die aarde,
so is Christus se geboorte vir ons die vrug van u liefde
wat ons aan hierdie tafel kan ontvang.
Soos warm somersdae ons nooi om te werk en ook te rus,
so is Christus se geboorte vir ons ’n uitnodiging om te werk en te rus in die krag van u genade.
Soos die vrug ryp word op die lande en aan bome en wingerdstokke,
So word die vrug van geloof  in ons ryper deur die diens van u liefde.
Soos somerreën die land verkwik,
so verkwik die offer van Christus ons hoop.
Soos ons daagliks met vreugde voeding en gemeenskap geniet,
so voed u tafel ons met vreugde en vrede
in die gemeenskap van die heiliges. Amen.
Gemeente: Amen.

Iemand bring brood na die tafel en die voorgangers ontvang dit.

Dankgebed (met die brood in die hand)

Voorganger: Ons Vader wat in die Hemel, heilig is u Naam.
Gemeente: Uit u hand ontvang ons die lewe.

Voorganger: U het u Seun gegee sodat ons sy liggaam kan ontvang.
Gemeente: Ons ontvang die liggaam van Jesus, ons Here.

Iemand bring wyn na die tafel en die voorganger ontvang dit.

Voorganger: Ons Vader wat in die hemel is, heilig is u Naam.
Gemeente: Uit U en deur U en tot U is alle dinge.

Voorganger: Uit U vloei die lewe wat in u Seun vir ons gegee is.
Gemeente: Ons ontvang die bloed van Jesus, ons Here.

Gebed
Voorganger: Neem brood en wyn in die hand en bid soos volg:
Heilige Gees van God,
Laat die brood vir ons waarlik die liggaam van Christus wees.
Laat die wyn vir ons waarlik die bloed van Christus wees.
Laat ons u lewende teenwoordigheid in die brood en die wyn beleef.
Laat ons gemeenskap ondervind met Jesus Christus wat in Nasaret gebore is.
Laat ons ons eenheid met elke mens wat op aarde gebore is, beleef.
Laat ons ons eenheid met die ganse skepping beleef.
Mag die nuwe seisoen wat gebore word, mense na die heilige gemeenskap met U lei.
Gemeente: Amen

Instelling van tekens

Voorganger breek die brood.

Voorganger: Die brood is die Liggaam van die Here.
Dit is vir ons gebreek. Neem dit. Eet dit.
Daardeur het ons gemeenskap met Jesus Christus in sy geboorte, dood en opstanding.
Onthou dat sy liggaam gebreek is as volkome versoening van al ons sondes.
Glo dit van harte.
Gemeente: Ons glo van harte.

Diakens deel brood uit vir gebruik.

Gemeente antwoord
Lied 333 “Groot is die Heer”

Voorganger: Die wyn is die bloed van ons Here Jesus Christus.
Dit het vir ons gevloei. Neem die beker. Drink daaruit.

Onthou dat sy bloed God se ewige verbond met ons verseël.
Glo dit van harte.
Gemeente: Ons glo van harte.

Diakens deel wyn uit vir gebruik.

Gemeente antwoord
Lied 333 “Groot is die Heer”

Diakens word bedien.

Lofprysing
Lied 371:1-3 “Redder van ons lewe”

Uitsending

Slotsang
Lied 376:1-2 “Wyses het u ster gesien”

Seën
Voorganger: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met elkeen.
Gemeente: Sing die laaste strofes van Lied 358:3 –  vanaf “Christus kom, gee aan God die eer”

Liturgiese voorstel 2

Leesroostertekste

Sleutelteks: Matteus 2:1-12
Ander tekste: Jesaja 60:1-6; Psalm 72:1-14; Efesiërs 3:1-12

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Vooraf musiek en sang.
“Awake The Trumpet’s Lofty Sound” en “Welcome, Welcome Mighty King” van G F Händel op CD Jesu, Joy of Man’s Desiring van Mormoonse Tabernakel-koor.
Flam 87
Lied 342
Lied 353 (NSG 71)
Vonkk 142

Aanvangswoord.
Jesaja 60:1-2

Aanvangslied.
Lied 360:1-3 “Vanuit die hemel is gebring”
Lied 365:1, 2 “Hoor die blye eng’lelied”; (NSG 69)

Genadeverkondiging
Efesiërs 3:1-12

Dank en lof.
Lied 367 “Ere aan God”
Vonkk 68:1, 2

Diens van die Woord

Gebed
O Heilige Gees, wat Here is en lewend maak –
oorwin die doodsheid in ons harte, ons denke, ons lewe, en vernuwe u ganse skepping!
O Heilige Gees, wat van die Vader en die Seun uitgaan – kom woon onder ons, bly in ons, werk deur ons!
O Heilige Gees, wat gespreek het deur die profete –
fluister ook vandag nog deur u Woord
die lewende en kragtige evangelie in ons ore!
O Heilige Gees, wat u kerk versamel, bou en lei –
maak ons saam tog sigbaar één en heilig,
en getrou aan u waarheid!
O Heilige Gees, wat ons doop tot vergifnis
en ons voed en versterk met brood en wyn
– verseker ons elkeen van ons verlossing en ons roeping!
O Heilige Gees, voorsmaak van die koninkryk,
waarborg van die toekoms
– leer ons sug, en help ons hoop!
O Skepper-Gees,
wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word – ons roem u heilige Naam!
Amen.
(Dirkie Smit in Stukkies van die Hemel, Lux Verbi, 2005, bl 181)

Gebed om die opening van die Woord
Flam 87

Skriflesing
Matteus 2:1-12

Woordverkondiging

Diens van die Tafel

Herinnering
1 Korintiërs 11:23-26

Voorbereiding en toetrede.
“Immanuel” van Annelise Wiid op haar CD Sterre In Ons Oë
Vonkk 147:1, 2

Instelling
Kommunie

Lofprysing
U is waardig!
U is waarlik waardig
om bely te word deur elke mond,
geloof te word met elke tong, aanbid te word deur elke skepsel.
Ons loof u glorieryke Naam,
o Vader, Seun en Heilige Gees in Een,
want U het in u genade nie net die wêreld geskep nie,
maar ook uit barmhartigheid en medelye
die wêreld gered en herskep.
Voor u majesteit en liefde, o God,
buig tienduisend maal tienduisend wesens neer,
om U sonder einde te prys en te besing:
Heilig, heilig, heilig is U, Here,
Heer van die leërskare!
Hemel en aarde is vol van u lof,
van u magtige teenwoordigheid.
Hosanna in die hoogste!
Amen. (Nestoriaanse liturgie uit die 5de eeu in Gebedeboek vir die lewe, Lux Verbi, 2007, bl 424)

Uitsending

Antwoordlied
Lied 370:1, 3, 5 “Eng’le uit die hoogste hemel”

Seën
Soos jy vanoggend by die tafel gevoed is, gaan uit en voed dié wat honger is.
Soos jy vrygelaat is, bevry die gevangenes.
Soos jy ontvang het, gee.
Soos jy gehoor het, verkondig.
Die seën van die Vader, die Seun en die Heilige Gees sal altyd by jou wees.
(Cas Wepener, Soos ’n blom na die son draai, Bybel-Media, 2011, bl 66)

Sang
Lied 314 “Amen”

Preekstudie: Matteus 2:1-12

Teks

Daar is al baie oor hierdie verhaal van die besoek van die sterrekykers uit die ooste gepreek en geskryf. Kritiese vrae word oor die historiese betroubaarheid van die verhaal gevra en baie interessante antwoorde is al gegee. Die prediker wat meer hieroor, asook oor die detail bespreking van elke vers wil lees, kan dit in kommentare nagaan. Hier word gekies om die teks as integrale onderdeel van die groter verhaal van die evangelie te lees. Die vraag wat spruit uit hierdie keuse is wat Matteus as verteller onder die leser en hoorder se aandag wil bring deur die insluit van hierdie verhaal in sy groter verhaal.

Terwyl hoofstuk 1 met “Josef het Hom Jesus genoem” eindig, begin 2:1 met dieselfde naam. Hieruit is dit reeds duidelik dat Matteus meer omtrent hierdie Jesus wil meedeel.

’n Aspek van Matteus se vertelstyl wat in meeste vertalings verlore gaan, is sy gebruik van die Griekse word idou. Die 21st Century King James vertaal Matteus 2:1 so: “Now when Jesus was born in Bethlehem of Judea in the days of Herod the king, behold, there came wise men from the East to Jerusalem”. Idou (“behold”) kom nege keer voor in Matteus 1:1-4:16 (1:20, 1:23, 2:1, 2:9, 2:13, 2:19, 3:16, 3:17 en 4:11). Voeg hierby die voorkoms van die Griekse werkwoord eidoo in 2:2, 2:9, 2:20, 3:16 en 4:16, en dit word duidelik hoeveel moeite Matteus doen om sy lesers en hoorders se aandag te vestig op wat hy meedeel.

Hierdie is ’n merkwaardige verhaal wat ons volle aandag vra. Dit is ’n verhaal met ingrypende gebeure. Die talle werkwoorde in die gedeelte verhoog die dramatiese effek. Die sterrekykers kom, vra en gaan, hulle ontdek, is verheug en aanbid, Herodes roep en stuur, die ster verskyn en wys die weg, die profesie voorspel een wat sal kom en sy volk as herder sal lei.

In vers 1, 3 en 9 word Herodes koning genoem. Dit beklemtoon die kontras tussen Herodes as (valse) koning en Jesus as die ware koning. Die koningskap van Jesus word deur herhaling beklemtoon: Hy is in Betlehem gebore (1). Dit is dié Betlehem waar Dawid vandaan gekom het en wat in die profesie oor die opvolger van Dawid genoem word (1, 6). Vier keer word na Betlehem verwys (1, 5, 6, 8). Betlehem beteken letterlik huis van brood. Hier het Dawid se familie gebly. Lukas noem Betlehem “die stad van Dawid” (Luk 2:4).

Ook deur middel van die vraag wat die sterrekykers in vers 2 vra, bring Matteus onder sy lesers en hoorders se aandag dat Jesus koning is en dat hulle aan Hom hulde moet bewys. Die klimaks van die verhaal is wanneer die sterrekykers voor hom buig en geskenke bring (11).

Hoewel die sterrekykers ’n voorbeeldige rol vervul – soos hulle die Kind aanbid het, moet ons ook – word hulle nie weer in die evangelie genoem nie. In die res van die evangelie word ons opgeroep om ware dissipels van Jesus te word.

Die sterrekykers se benoeming van Jesus as “Koning van die Jode” staan in kontras met 27:37 waar hierdie woorde volgens Matteus bo die gekruisigde Jesus gespyker is.

Die beroering wat die sterrekykers se opwagting en vraag in Jerusalem tot gevolg het, belig dat koning Herodes geen opposisie sou duld nie – en waarskynlik het die inwoners dit goed geweet.

Dis ironies dat Herodes in vers 4 navraag doen oor die geboorte van “die Christus”. Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys. Hoewel Herodes volgens vers 8 verklaar dat hy aan die kind hulde wil betoon, vertel vers 13 en 16 dat sy eintlike motief was om seker te maak dat hy enige bedreiging van sy posisie as heerser sal kan uitwis.

Die owerpriesters en skrifgeleerdes word vir die eerste keer in vers 4 van die evangelie genoem. Hierdie leiers van die volk maak hier in die verhaal ’n kort verskyning. Later speel hulle ’n belangrike en bepalende rol in die ontvouing van die verhaal. Die leiers wys hier reeds sommige van hulle karaktereienskappe wat later duidelik word. Hulle ken die Skrifte. Hulle gedrag word egter nie direk hierdeur bepaal nie, want hulle gaan nie self na Betlehem nie. Hulle is gewillig om Herodes se vrae te beantwoord, want hulle gesag is ten nouste met sy gesag verweef.

Matteus se aanhaling in vers 6 stem nie presies met die oorspronklike Hebreeus of die Griekse LXX ooreen nie. Dit wil voorkom of  Matteus Miga op so ’n wyse aanhaal dat hy die oorspronklike profesie in die lig van die gebeure interpreteer. “Matthew is quoting freely, in such a way as to point out the application of the text” (France). (Gundry bespreek Matteus se wysigings in detail.)

Hoewel Matteus nie by sy aanhaling uit die Ou Testament in vers 6 beklemtoon dat die profesie vervul is nie (soos hy in 1:22, 2:15, 2:17 en 2:23 doen), is dit duidelik dat sy bedoeling ook hier is om die vervulling van profetiese woorde te beklemtoon. So beklemtoon Matteus dat hierdie ’n kardinale oomblik in die geskiedenis is. Die verskyning van Jesus was van ingrypende belang vir die volk Israel en is steeds van kardinale belang vir “al die nasies” (28:18).

Die rol wat die ster in hierdie verhaal speel, dui vir Cilliers op “die vrymag van God wat ook die skepping in diens van die heilsgeskiedenis neem. Die kosmos wys na die Messias heen, en die heidendom soek Hom op.”

Die sterrekykers se blydskap word in vers 10 in oortreffende trap beskryf. Hoewel hulle uitermate bly was om die ster weer te sien (vgl 21st Century King James se “When they saw the star, they rejoiced with exceeding great joy”), wil dit tóg voorkom of hierdie blydskap ten diepste sinspeel op die vreugde om die uiteindelik die Kind te kan vind. Deur hulle vreugde hier te noem, kan Matteus die sterrekykers se aanbidding van Jesus in die volgende vers beklemtoon.

Die beskrywing van die geskenke van die sterrekykers as “goud en wierook en mirre” in vers 11 beteken nie noodwendig dat daar drie persone was nie. Verskeie betekenisse is al aan hierdie geskenke gekoppel, maar dis eerder inlegkunde as inherente betekenis. So word daar byvoorbeeld in Nuwe Sionsgesang 85 vers 4 en 5 gesing: “Die wierook eer sy heerlikheid, die goud sy koningsrang, maar mirre – dit voorspel sy stryd waar Hy as offer hang. Neem, Kindjie, Koning, wat ons het: ons mirre van berou, ons stille wierook van gebed, ons goud van liefde, trou.”

Samevattend moet gevra word wat die skopus van hierdie perikoop is? Die bronne wat geraadpleeg is, stem ooreen dat die fokus hier op die koningskap van Jesus val. ’n Paar aanhalings: “Jesus as die Koning van die Jode wat ’n keuse of beslissing vereis.” “Matteus wil aantoon dat Jesus Heer oor alle mense is, en dat dit gepas is dat selfs as kind mense van ’n ander nie-Joodse land sou kom om aan Hom hulde te bewys.” “Hierdie spesifieke Jesus het hierdie spesifieke effek op mense: Hy is ’n Koning, al lyk Hy nie so nie.” “The aim of the evangelist . . . was to show that the child, who was born of the lineage of David to fulfil the ideal of kingship associated with the name of Israel’s greatest king, was acknowledged even in His infancy, and by representatives of the non-Jewish world, to be, par excellence, the King of the Jews.”

Konteks

Met die frases, “van toe af het Jesus begin” (4:17 en 16:21), as merkers, val die verhaal in drie dele uiteen: “The presentation of Jesus (1:1-4:16); the ministry of Jesus to Israel and Israel’s repudiation of Jesus (4:17-16:20); the journey of Jesus to Jerusalem and his suffering, death and resurrection (16:21-28:20)” (Kingsbury, onder andere). Die hele gedeelte van 1:1 tot 4:16 het die bekendstelling van Jesus as tema. Ons Skrifgedeelte of fokusteks vorm ’n onderdeel van Matteus se bekendstelling van Jesus.

Dit behoort dus maklik te wees om Matteus 2:1-12 tydens Epifanie aan die orde te stel. Eintlik sou mens die hele gedeelte van 1:1-4:16 of enige onderafdeling hiervan tydens Epifanie of die tyd na Epifanie kon benut. Epifanie fokus op die verskyning van Jesus Christus aan die mensdom. Hoewel Jesus volgens die verhaal eers vanaf 4:17 aan Israel verskyn (wanneer Hy met sy openbare bediening begin), “verskyn” Jesus reeds in die eerste gedeelte aan die leser of hoorder van die evangelie. Terugskouend het Jesus met sy geboorte aan ons mense verskyn. Die verteller van die evangelie gebruik hierdie eerste gedeelte om Jesus Christus aan sy lesers en hoorders bekend te stel.

Die eerste gedeelte van die evangelie is meer as net ’n bekendstelling van Jesus. Op kunstige wyse skets Matteus die agtergrond waarteen en die konteks waarbinne die res van die verhaal gaan afspeel. Die leser of hoorder word voorberei op die konflik tussen Jesus en die leiers van Israel. Konflik speel ’n prominente rol in die verhaal wat Matteus vertel. Die besoek van die sterrekykers uit die ooste bring die spanning na vore (vgl 2:3). Die beroering wat die sterrekykers in Jerusalem ontketen, wys vooruit op die beroering wat rondom Jesus sou ontstaan en wat tot sy kruisiging sou lei. “The effect of these warning passages is to lead the reader to anticipate that Jesus will not, finally, succeed in winning the crowds over to his side” (Kingsbury).

Die vlug na Egipte is nodig omdat Herodes die kind wil doodmaak. Hierin is ’n vooruitskouing na Jesus se veroordeling deur Pilatus. Die vraag waaroor die konflik met die leiers van Israel sal gaan en wat Jesus uiteindelik voor die troon van Pilatus sou bring, word reeds in hierdie eerste gedeelte deur Matteus aan die leser of hoorder meegedeel: Wie is Jesus werklik?

Matteus vertel sy verhaal op so ’n wyse dat die leser of hoorder in staat sal wees om die konflik in die res van die verhaal te volg en steeds self die regte keuses te maak. Hieruit volg dat die belangrike vraag wat ons aandag vra wanneer ons spesifiek 2:1-12 lees, is: Hoe help hierdie gedeelte ons om die identiteit van Jesus beter te verstaan? Hoe gebruik Matteus juis die gebeure van 2:1-12 om Jesus bekend te stel?

Die ster, die sterrekykers, die skrifgeleerdes en Herodes vervul almal funksies om die sentrale fokus van die perikoop te versterk. Daarom moet daarteen gewaak word om so op die ster of enige van hierdie persone te fokus dat Jesus op die agtergrond beland. Voorbeelde van hierdie verskuiwings is talryk. Wanneer Epifanie gevul word met die verskyning van die ster of die klem val op “die fees van die heilige drie konings”, het dié ongelukkige verskuiwing plaasgevind. Die prediker moet waak teen die versoeking om sy of haar hoorders te beïndruk met interessante stories (oor die sterrekykers of Herodes) en/of interessante teorieë (oor die ster).

Ander RCL tekste.
Jesaja 60:1-6. Hierdie perikoop handel oor die verskyning van die Here – die deurbraak van sy lig – in ’n situasie van donkerte. God kom na sy mense as Lig en Heerlikheid. Die verskyning van lig in donkerte simboliseer die skep van iets nuuts (met sinspeling op Gen 1). Anders as die verskyning van die Here in Eksodus om Israel uit slawerny te bevry (sodat hulle vryheid en ’n eie land sal ontvang), sal hierdie verskyning vir die verstrooide Israeliete en die nasies tot voordeel wees. Jerusalem (Israel) ontvang lig en word ’n ligbron waarheen die nasies sal stroom. Mense uit baie nasies sal na Jerusalem kom (4, 6) en sal die verstrooide kinders van Israel asook skatte saambring. Dit sal tot lof van God wees (6c) en die roem van sy huis vermeerder (7c).

Jerusalem word dus ’n middelpunt van die wêreld omdat die teenwoordigheid en heerlikheid van God daar verskyn. Vir Israel was hierdie belofte eerstens een van troos in ’n donker tyd. Wanneer hierdie teks met Epifanie gelees word, belig dit die manifestasie van God se lig asook die effek wat dit op die wêreld het (kan hê), sodat hulle na die lig kom. Dit beklemtoon ook dat die lig wat God bring van sy volk ligdraers maak.

Die interessante ooreenkomste van goud en wierook wat uit Skeba gebring word met die gawes wat die sterrekykers uit die ooste bring, moet versigtig hanteer word. Die vervulling van die beloftes van Jesaja 60:1-7 lê veel meer in die betekenis van Jesus Christus as die ware lig van God wat in ons wêreld verskyn het as die voorspelling van die gebeure van Matteus 2:1-12. Dit lê ook veel meer in die terugkeer van mense na die lewende God deur die eeue heen. Die verhaal van die sterrekykers is dus een van baie, baie meer verhale.

Hou ook in gedagte dat die temas van Jesaja 60 weer in Openbaring 21 terugkom wanneer van die nuwe Jerusalem vertel word.

Psalm 72:1-7, 10-14. Dit wil voorkom of dit die oënskynlike vervulling van vers 11 en 15 in die verhaal van Matteus 2:1-11 is wat raakgesien word (konings sal voor hom buig en goud uit Skeba sal na hom gebring word) en wat van hierdie psalm ’n “Epifaniepsalm” maak. Dit alleen sou egter ’n ernstige verskraling van die Psalm tot gevolg hê.

Die gebed vir die koning in Psalm 72 fokus op geregtigheid en vrede. Daarom moet die koning onder andere ’n hulp aan die hulpeloses wees (vgl 2, 4, 12-14). Die psalm is relevant in elke nuwe konteks waar God se mense as burgers vir hulle regeerders bid of waar God se mense aan regerings deelneem.

Efesiërs 3:1-12. Paulus skryf oor die manifestering of verskyning van God se genade. Wat voorheen ’n geheimenis was, is nou bekend. Die “geheim” is dat almal nou deel word van die huisgesin van God (2:19). Die nuutheid en uniekheid van hierdie “nuwe verskyning” is dat Jode en nie-Jode saamgebind word in een nuwe mensheid (2:14-15). Paulus is ’n draer van hierdie evangelie (3:7), maar hy sien die kerk as die eintlike boodskapdraer (3:10). Paulus se opdrag om die “geheim wat bekend geword het”, te verkondig, het hom tot geweldige opoffering aangespoor (3:1) en dit is vir die lesers van die brief tot groot troos en bemoediging (3:13).

Preekvoorstel

In vorige Preekstudies is verskeie goeie en bruikbare voorstelle vir prediking oor Matteus 2:1-12 (asook Jes 60:1-6, Ps 72 en Ef 3:1-12) gemaak. Die prediker wat toegang tot van hierdie bronne het, kan dit gerus raadpleeg. Hierdie voorstel dien dus as nog ’n voorstel.

Epifanie beteken verskyning. Matteus vertel in hierdie klein verhaaltjie, wat deel vorm van die groter verhaal van Matteus 1:1 tot 4:16, dat sterrekykers skielik hulle opwagting in Jerusalem gemaak het. Hulle aankoms was ’n groot verrassing. Niemand het so iets verwag nie. Hulle het sommer net verskyn. “(B)ehold, there came wise men from the East to Jerusalem”! vertaal die 21st Century King James vers 1. En hierdie verskyning het Jerusalem ontstel, want hierdie manne vra allerhande vrae!

Wie is hierdie sterrekykers? Waar kom hulle vandaan? Hoeveel was hulle? Wat het hulle alles geweet? Baie vrae is al oor hulle gevra en baie interessante antwoorde is gegee. Maar Matteus is nie in al hierdie vrae geïnteresseerd nie. Hy vertel dat hulle in Jerusalem verskyn het omdat hulle die verskyning van ’n ster waargeneem het.

Agter die verskyning van die sterrekykers in Jerusalem, hoor ons van die verskyning van ’n ster. Hoe het hierdie ster gelyk? Het dit sigbaar beweeg? Hoe het die sterrekykers geweet die ster dra ’n boodskap? Baie vrae is al oor hierdie ster gevra en baie interessante antwoorde is gegee. Maar as ons na Matteus luister, kry ons min inligting oor hierdie ster. Ons lees dat die sterrekykers die verskyning van die ster vanuit hulle tuisdorp waargeneem het en dat dit hulle gemotiveer het om na Jerusalem te reis. Ons lees ook dat hulle die ster weer gesien het toe hulle van Jerusalem na Betlehem gereis het.

Matteus vertel hierdie verrassende verhaal om vir sy lesers en hoorders meer van die eintlike verskyning te vertel. Die eintlike verskyning waaroor dit hier gaan en waaroor Epifaniefees gaan, is die verskyning van Jesus. Reeds in die voorafgaande verse (1:18-25) het Matteus van die geboorte van Jesus vertel. Die gedeelte sluit af met die mededeling dat Josef wel met Maria getrou het, dat sy geboorte geskenk het aan ’n Seun en dat Josef Hom Jesus genoem het.

Wie is hierdie Kind, Jesus? Waarom is sy geboorte of verskyning so belangrik? Dit is die vrae wat Matteus met die verhaal van die sterrekykers wil beantwoord.

Jesus is die Koning van die Jode. Dit vertel Matteus deur middel van die vraag wat die sterrekykers in Jerusalem vra. Ja, Hy is inderdaad die Koning van die Jode, bevestig die skrifgeleerdes, met hulle antwoord op Herodes se navraag. Die Messias sal in Betlehem gebore word, het die profeet voorspel – en dit is presies waar die sterrekykers die kind vind.

Jesus is die Koning van geregtigheid en van vrede. Dit vertel Matteus ons wanneer hy koning Herodes in hierdie verhaal teenoor Jesus stel. Herhaaldelik noem hy Herodes ’n koning. Matteus se lesers en hoorders weet dat Herodes eintlik meer van ’n despoot as ’n koning was. Hy was wreed. Hy was slinks. Hy het net in sy eie posisie as koning belang gestel. Enigiets wat sy posisie sou bedreig, het hy met mag en geweld uit die weg geruim. Dit het die latere verhaal van die kindermoorde te Betlehem bevestig.

Jesus, daarteenoor, is die ware koning. Hy sal sy volk soos ’n herder lei, haal Matteus die profesie aan. Eintlik het die profeet dit nie presies so gesê nie, maar Matteus interpreteer die profesie en beklemtoon wat sy lesers en hoorders moet weet.

Jesus is die ware koning. Daarom is baie kerke lief om Psalm 72 met Epifaniefees te lees. Nie maar net omdat die verhaal van die sterrekykers so baie lyk na die vervulling van vers 11 en 15 nie, maar omdat dit in hierdie psalm handel oor ’n koning wat met geregtigheid regeer en ware vrede vestig. En dis presies wat Jesus as koning doen.

Jesus is die koning van al die nasies. Dit verduidelik Matteus wanneer hy aan ons die verhaal vertel van hoe hierdie sterrekykers uit ’n vreemde land voor Jesus buig en aan hom geskenke bring wanneer hulle hom uiteindelik vind. Naas Jesus self is die belangrikste karakters in hierdie verhaal die sterrekykers. Hulle is nie-Jode. Hulle kom uit ’n ver land en vertrek weer terug daarheen na hulle Jesus aanbid het. Dis duidelik dat die verskyning van Jesus vir almal op aarde betekenis het. En wanneer Matteus sy evangelie afsluit met Jesus se opdrag om na al die nasies te gaan, word dit finaal bevestig dat Jesus koning van alle mense is.

Daarom is baie kerke lief om Efesiërs 3:1-12 met Epifaniefees te lees. Hier verduidelik Paulus dat die evangelie van God se genade aan hom openbaar is. Dit is die evangelie wat beteken dat Jesus die skeidsmuur tussen Jode en nie-Jode afgebreek het. Nou versamel God mense uit al die nasies as sy huisgesin.

Die verhaal van die verskyning van Jesus is ’n wonderlike verhaal! Dis die verhaal van God se genade wat in ons stukkende wêreld deurbreek. En watter mooier beeld is daar as om te sê dis God se lig wat in ons donker wêreld inkom? Daarom is baie kerke lief om Jesaja 60:1-6 met Epifaniefees te lees. Hier beskryf die profeet hoe wonderlik dit sal wees wanneer God se lig in ons donker wêreld in-skyn. Die wonder van hierdie lig is dat Jerusalem soos ’n ligbaken en sy volk soos ligdraers word. Die lig wat met Jesus se geboorte in ons donker wêreld verskyn het, skyn steeds in en deur sy kerk in die wêreld.

Epifanie is dus ’n fees van blydskap dat ons nie meer in duisternis hoef te lewe nie, en dit is ook ’n fees wat ons oproep om draers van hierdie lig te wees.

Die verhaal wat Matteus vertel, is uiteindelik daarop gerig om sy lesers en hoorders te oortuig om ware dissipels van Jesus te wees en ook ander mense dissipels van Jesus te maak. Laat ons dan getroue dissipels van Jesus, die Koning, wees!

Bibliografie

Die fokusteks het voorheen in die Preekstudies op 6 Januarie 2002 (Kobus Smit), 1 Januarie 2006 (Eugene Beukes) en 2 Januarie 2011 (Mary-Anne Plaatjies van Huffel) ter sprake gekom; Woord teen die Lig I/7 behandel die fokusteks met die oog op 2de Advent (JH Cilliers en CW Burger); Kommentare: RT France (Tyndale New Testament Commentaries); RH Gundry (A Commentary on His Literary and Theological Art); W Hendriksen (New Testament Commentary); HN Ridderbos (Korte verklaring); RVG Tasker (Tyndale New Testament Commentaries); Ander: JD Kingsbury, Matthew as Story (second edition).

Wat die ander tekste betref, is Jesaja 60:1-6 in Preekstudies vir 31 Desember 2000 (Kobus Smit) en 4 Januarie 2009 (Jan Steyn) bespreek. Psalm 72 is (onder andere) vir 2 Januarie 2000 (Ian Nell), 9 Desember 2007 (David Carlse) en 3 Januarie 2010 (Jan Marais) behandel. Preekstudies oor Efesiërs 3:1-12 is vir 5 Januarie 2003 (Chris Jones), 2 Januarie 2005 (Pieter Grové) en 6 Januarie 2008 (Johan Botha) gedoen.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.