Epifaniefees

Sections

Oorsig

Dat die nuwe Jaar op ‘n Sondag ingelei word is betekenisvol. Binne ons Christelike tradisie dui Sondag immers nie die einde van die week aan nie, maar eerder die begin van ‘n nuwe week. As opstandingsdag is Sondag vir ons ‘n dag van oorwinning, ‘n viering van die (nuwe) lewe, ‘n teken van hoop vir die toekoms. Mag iets hiervan ook aan die begin van 2017 binne die erediens aan die gemeente gekommunikeer word.

Dit is verder ook Epifaniefees, die viering van die koms van Jesus Christus na die aarde, die Een wat reggekry het wat die konings voor Hom nie kon regkry nie; in Hom sien ons uiteindelik die vervulling van die messiaanse verwagting. Dit kan ons egter net vanuit ‘n Nuwe-Testamentiese perspektief sê. Die skrywer van Psalm 72 het nie geweet dat Jesus gaan kom nie. Hy (of hulle) het die psalm geskryf met die heerskappy van ‘n spesifieke koning in gedagte (‘n Dawidiese koning). Dit is ook baie waarskynlik dat hierdie koningspsalm in later jare hergebruik sou word vir volgende konings wat die troon van Israel bestyg het.

Ander tekste

Jesaja 60:1-6
Nasies kom na jou lig toe
60 Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see
word joune,
die skatte van die nasies
kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.

Efesiërs 3:1-12
Paulus se werk onder die heidennasies
3 Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.
2Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. 13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.

Matteus 2:1-12
Besoek uit die ooste
2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:

6En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”
7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Fokusteks

Psalm 72:1-7, 10-14
Ander tekste: Jesaja 60:1-6; Efesiërs 3:1-12; Matteus 2:1-12
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.
8Mag hy heers van see tot see,
van die Eufraat af
tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners
voor hom kniel
en sy vyande voor hom
in die stof kruip.
10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
geskenke bring,
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep,
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking
en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees
in sy oë.
15Mag die koning lank lewe,
mag daar vir hom goud uit Skeba
gebring word;
mag die mense gedurig vir hom bid
en die hele dag seënbedes
vir hom uitspreek.
16Mag daar volop graan in die land
wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees
soos die Libanon,
die graan so geil opskiet
soos gras in die veld.
17Mag die koning se naam
altyd onthou word,
mag sy roem duur
so lank as die son daar is,
sodat al die nasies hulle
in sy regering verlustig
en hom prys!
18Geloof sy God die Here,
die God van Israel.
Dit is net Hy wat magtige dade doen!
19Mag sy verhewe Naam
vir altyd geloof word,
mag die hele wêreld
vol wees van sy majesteit.
Amen, ja, amen.
20Hier eindig die gebede van Dawid,
seun van Isai.

Ekstra stof

Die tweede Psalmboek fokus veral op die tema van die God as Koning van al die nasies en van die hele aarde (Ps. 46:11).  Dié tema word telkens aangeroer in die lig van die ervaring van geweldige teenstand van vyand(e) (Ps. 42:10; 43:2; 44:8,11,17; 54:5; 56:2; 59:2) en teëstanders (Ps. 42:11; 44:6,11), selfs van vriende (Ps. 54:14) wat verraderlik geword het.  Die vyande word beskryf as ‘n godlose bende (Ps. 43:1), vals en misdadige mense (Ps. 43:1), geweldenaars (Ps. 54:5), en moordenaars en bedrieërs (Ps. 55:24).  Tussen-in is daar uiteraard ook ‘n erkenning van persoonlike skuld  in die onvergelyklike Psalm 51 van Dawid.

Dit is interessant dat waar die gebruik van die persoonsnaam van God, Jahwe, in die eerste Psalmbundel  (Ps. 1-41) oorheers het (Jahwe 277 – Elohîm 48), word die algemene naam vir God, Elohîm, hier in die tweede Psalmboek (Ps. 42-72) veral gebruik (Elohîm 188 – Jahwe 31).  In die derde Psalmboek (Ps. 73-89) word dit min of meer dieselfde aantal keer gebruik (Elohîm 59 – Jahwe 43) en in die vierde (Ps. 90-106) en vyfde (Ps. 107-150) Psalmboek oorheers die gebruik van die persoonsnaam Jahwe weer (4de: Jahwe 101 – Elohîm 19; 5de: Jahwe 226 – Elohîm 28).

Die klem is dus in die tweede en derde Psalmboeke meer op God se mag en gesag oor alle mense, vanweë die gebruik van die algemene Godsnaam, Elohîm.  Daarteenoor was die klem in die eerste, vierde en vyfde Psalmboeke meer op God se verbondsverhouding met Israel, vanweë die gebruik van die persoons- en verbondsnaam van God, Jahwe.

Dit maak sin in die lig van die klem op die vyande, waarin die bure (Ps. 44:14) en die nasies (Ps. 46:7) en hulle konings (Ps. 48:5) ‘n groot rol speel.  God se heerskappy oor alles wat leef, is dus ‘n baie belangrike perspektief wat hoop gee en vrede en berusting bring, bv. in Ps. 46:11 – “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” Let veral op dat dié Psalm ook nie net van berusting te midde van een of ander persoonlike krisis praat nie (soos baie mense geneig is om die Psalm te gebruik nie), maar van ‘n berusting vir die hele aarde, waarin oorlogsugtigheid tot rus kom, ‘n ware Messiaanse vredesryk.

Psalm 72 – Leer die koning om volgens u wil te regeer
Hierdie Psalm is een van twee Psalms wat aan Salomo toegeskryf word (vgl. ook Ps. 127).  Dit is ook een van ‘n hele aantal Psalms wat fokus op die koning.  Waar een van die ander koningspsalms, Psalm 2, fokus op die verhouding tussen die koning en God, fokus hierdie Psalm meer op die verhouding van die koning met die volk en die nasies.  Die Psalm is dus waarskynlik gebruik by die kroning van ‘n koning.

Aan die eenkant word God in die Psalm aangeroep om die koning te leer om te regeer soos God wil (vers 1), sodat die mense God kan dien van geslag tot geslag (vers 5) en daar vrede met die nasies kan wees (vers 8-11).

Aan die ander kant word die wil van God uitgespel en in praktiese terme voorgebid, waarin veral die handhawing van die reg van verdruktes (vers 2,4,12,14), armes (vers 4,12,13), swakkes (vers 13) en behoeftiges (vers 13) die prioriteite is.  Dit is die primêre dinge waarop die koning moet fokus.  Hy moet instaan vir dié wat dit nie vir hulleself kan doen nie.  ‘n Maatstaf wat ons gerus vandag nog kan aanlê vir leiers, in watter sfeer van die lewe ook al, maar natuurlik ook iets waarvoor ons moet bid en God se aangesig oor moet soek.

Dit is daarom ook ‘n Psalm wat ‘n mens onmiddellik laat dink aan die ideaal van die Messiaanse koning, dié een waarna die OT uitgesien het om dít alles waar te maak.  Die NT prentjie van Jesus pas natuurlik perfek hierby in, veral as ‘n mens sy toespraak in sy tuisdorp onthou, waar Hy die genadejaar van die Here aangekondig het vir armes, gevangenes, blindes en onderdruktes (Luk. 4).

Uitleg
Die Psalm kan in twee dele verdeel word:

  • Leer die koning om te regeer volgens u wil – vers 1-14.  Let op hoe vers 1-5 sentreer rondom die handhawing van die reg vir dié wat dit nie self kan regkry nie.   Dit het ‘n enorme effek op mense se Godsbewussyn: “sodat die mense U kan dien.” Selfs die natuur is bly as reg vir en onder mense geskied.  Vers 5-7 sentreer weer om die  lewe en voorspoed wat ‘n regverdige koning vir sy mense bring.  Dit het selfs ‘n effek op die internasionale betrekkinge van die volk (vers 8-11).  Daar is duidelike Messiaanse trekke in die beskrywing van die invloed wat die koning onder die nasies sal hê. Let ook op hoe die statuur van die koning juis groei uit sy deernis met dié wat hom nie kan terugbetaal nie: “hulle lewens sal kosbaar wes in sy oë” (vers 12-14).
  • Mag die koning lank lewe – vers 15-17.  Om dit alles met oorgawe te kan doen, word vervolgens vir die koning self gebid, trouens alle mense opgeroep om gedurig vir hom te bid dat daar volop voorsiening in mense se behoeftes sal wees en die koning se naam vir altyd onthou sal word. Iets wat ons gerus self met oorgawe kan navolg!

Die laaste 3 verse sluit nie net die Psalm af nie, maar ook die 2de Psalmboek.  God se Naam moet reg deur die wêreld geloof word, “Amen, ja, amen”.  Daarmee word hierdie versameling van Dawid se bydraes ook afgesluit.

Liturgie

Die Christuskers word aangesteek terwyl Kersmusiek speel.

Aanvangslied: Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”
Aanvangswoord: (Lied 72:6)

Seëngroet  

Lied 340 “Kom ons loof die Jesus kind vs 1,2,3”

Lees Matteus 2:1-12
Gee geleentheid vir 1 of 2 dankgebede dat God tot by ons gekom het (Epifanie)
(Reel dalk vooraf met 1 of 2 lidmate)

Loflied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Apostoliese Geloofsbelydenis

Epiklese
Gemeente: Sing Lied 247: “Heer wees ons genadig”.

Skriflesing: Psalm 72:1-7, 10-14

Familie-oomblik
Prediking
Gebed vir Afrika
Offergawes

Wegsending: Lied 488 “Helder skyn U lig vir die nasies vs 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Daar is in die liturgie gebruik gemaak van Bybelmedia se preekriglyne en liturgiese voorstelle.

Epifanie beteken “Godsverskyning”. Epifaniefees word deur die Westerse en Oosterse kerke op 6 Januarie gehou.
Met die viering van Epifaniefees word meer as een Godsverskyning herdenk:
Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte);
Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop);
Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana);
Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne).

Die Christuskers word aangesteek terwyl Kersmusiek speel.

Aanvangslied: Lied 353 “Die Heiland is gebore vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Lied 72:6)
Kom loof die God wat ons te hulp kom,
laat ons Hom eer bewys;
solank die son en maan bly opkom,
laat ons Hom dien en prys.
Loof God se Naam so hoog verhewe,
en lig en prag gehul.
Ja, amen, mag sy Naam wat lewe
die hele aarde vul.

Seëngroet  
Voorganger: Die Here is met julle.
Gemeente: Hy sal met jou ook wees.

Voorganger: Die heerlike lig van God skyn oor ons.
Gemeente:  Loof die Here, nou en altyd en tot in ewigheid.

Lied 340 “Kom ons loof die Jesus kind vs 1,2,3”

Lees Matteus 2:1-12
Besoek uit die ooste
2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:

6En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”
7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Gee geleentheid vir 1 of 2 dankgebede dat God tot by ons gekom het (Epifanie)
(Reel dalk vooraf met 1 of 2 lidmate)

Loflied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Liedere

F6. “HeerJesus, My Redder”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Oorspronklike titel: Shout To The Lord
Teks en Musiek: Darlene Zschech
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1993  Hillsong Publishing

1. Heer Jesus, my Redder,
Heer, daar is niemand soos U.
Laat elke dag, als wat ek doen,
volwees van U liefde, Heer.

2. My skuilplek, my trooster,
veilige vesting van krag.
Met hart en stem, als wat ek het,
bring ek aan U ewig eer.

Refrein:
Kom laat ons juig, kom ons sing voor die Here.
Sing van sy mag, van sy grootheid en krag.
Berge buig neer en die see ruis saam
by die aanhoor van sy Naam.

Ek wil U prys, want U is my Skepper.
Ek wil U loof en my lewe lank eer.
Niks vergelyk met u liefde 
en sorg vir my.

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Litanie by die opening van die Woord

Voorganger: Laat ons op grond van die wonder dat die Woord mens geword het tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Laat ons op grond van die eenvoud van die geboorte van Lig vir die wêreld in die stal van Bethlehem tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Laat ons op grond van die heerlike verskyning van die Lig vir die wêreld aan die herders en sterrekykers tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

Voorganger: Help, red, troos en bewaar ons, Woord wat mens geword en onder ons kom woon het.
Gemeente: Sing Lied 247: “Heer wees ons genadig”.

Skriflesing: Psalm 72:1-7, 10-14

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vra vir die kinders die volgende vraag:  “Wie, dink julle, regeer in ons land?”  (Waarskynlik sal die kinders  Pres. Jacob Zuma antwoord).

Vra dan verdere vrae soos:
“Wie sorg dat ons nie te vinnig op die paaie ry nie?”
“Wie kyk dat jy nie op die skoolgrond geboelie word nie?”
“Wie sorg dat daar ‘regverdig geoordeel’ word/dat mense, veral as hulle hof toe moet gaan, nie onregverdig behandel word nie?”
“Wie sorg dat ons samelewing ‘vry en regverdig’ is?”

Die antwoorde sal dan waarskynlik wyer as net die regering wees.  Dan sluit dit jou ouers, die SAPD, die regstelsel, selfs die leerlingraad en die personeel van die skool in.

Kinders moet verstaan dat hierdie gebed bedoel was vir koning Salomo, sodat hy regverdig moes regeer.  Dit maak vir hulle die deur oop om ook vir vandag se regeerders en leiers te bid, sodat hulle regverdig sal wees en altyd die belange van die mense wie hulle dien op die hart sal dra.   Lê klem daarop dat hulle vir hulle leiers (die prefekte, die klas kaptein, die kaptein van die sportspan) moet bid.

Preekriglyn

World Vision International is ‘n wêreldwye Christelike organisasie wat hulpverlening, ontwikkeling en bewusmaking ten bate van kinders, vroue, families en gemeenskappe onderneem. Aangesien dit onbeskaamd Christelik is, lewer World Vision dienste aan alle mense, ongeag godsdiens, ras, etnisiteit of geslag.

Die ontstaan van World Vision het te doen met ‘n besoek van dominee Robert Pierce in 1947 aan China. Daar het hy ‘n onderwyseres, Tena Hoelkedoer, ontmoet wat hom voorgestel het aan ‘n vernielde en verlate kind, White Jade. Tena was nie in staat om self vir die kind te sorg nie, en het Pierce gevra: “Wat gaan jy doen om haar lot te versag?” Ds. Pierce het die onderwyseres sy laaste vyfdollarnoot gegee, en onderneem om van nou af elke maand vyf dollar te stuur om die onderwyseres te help om White Jade te versorg.

Die ontmoeting was ‘n keerpunt vir Pierce. Hy het begin om ‘n organisasie te bou wat die wêreld se kinders sou help. Drie jaar later, in 1950, is World Vision International gebore. Die eerste program om kinders op groot skaal te borg het nog drie jaar later begin as Christelike reaksie op die nood van honderdduisende weeskinders aan die einde van die Koreaanse oorlog.

Sedertdien het die werk uitgebrei om alle kontinente in te sluit. Vanaf die 1970’s is die verlening van noodhulp aangevul met ‘n ontwikkelingsmodel wat die oorsprong van armoede aanspreek. Gemeenskappe se behoefte aan water, sanitasie, opleiding, gesondheid, leierskapsontwikkeling en die skep van inkomste word ook hanteer.

Vanaf die 21ste eeu fokus die organisasie ook daarop om die belange van kinders, veral die oorlewing van kinders, voorop te stel. Kinderarbeid, die rol van kinders in gewapende konflikte en die seksuele uitbuiting van kinders en vroue word sterk aangespreek. Vandag werk meer as 40,000 mense (sommige vrywillig of deeltyds) vir die organisasie. Dit bevorder geregtigheid in byna 100 lande van die wêreld, en verleen hulp aan mense in nood.

Dit het alles begin by twee mense wat ‘n vernielde kind raakgesien het. Hulle wou reg aan die kind laat geskied, en vir haar ‘n geleentheid gee, Hulle het die bietjie wat hulle gehad het, die een vyf dollar per maand en die ander een tyd en aandag, bymekaar gesit.

Dit het begin omdat hulle nood kon sien met die oë van Christus, en omdat hulle gehandel het. ‘n eenvoudige daad aan een van die swakstes on onbelangrikstes onder mense, het ‘n wêreldwye effek gehad, tot vandag toe.

Pierce en Hoelkedoer het God se bedoeling met mens-wees en Christelike leierskap verstaan. Hulle het Jesus se hart verstaan. Deur hulle het God se goedheid sigbaar en tasbaar vir ‘n eenvoudige kind geword. Christus se goedheid het deur hulle verskyn, eers aan ‘n enkele kind, later aan miljoene in nood.

Epifaniefees

Vandag is ‘n baie besonderse dag in die kerklike jaar. Presies ‘n week gelede het ons Kersfees gevier. Ons het weereens Jesus se geboorte in herinnering geroep en nagedink oor wat sy menswording vir elkeen van ons beteken. Ons het gefokus op die Kindjie in die krip. Van vandag af begin ‘n nuwe tyd in die kerkjaar waar ons oor die betekenis van die Kind in die krip, wat mens geword het, gaan nadink.

Vandag is Epifaniefees. Dit is die eerste Sondag na Kersfees en hierdie feesdag lei ‘n tydperk in die kerklike jaar in waar ons spesifiek fokus op Jesus se koms as Koning na die aarde en op die werk wat Hy hier kom doen het. “Epifanie” kom van ‘n Griekse woord wat “verskyning” of “bekendstelling” beteken. Ons vier die goedheid en koningskap van God wat in Jesus Christus verskyn het.

Die Kind in die krip ís die Koning van die mensdom. Die wyse manne uit die ooste het met Jesus se geboorte reeds die Kindjie as Koning herken en aan Hom hulde gebring (Matt 2). Daar kom ‘n tyd wanneer alle mense sal erken dat Jesus Christus Koning, Heerser, Here is (Fil 2).

Die woord “epifanie” is oorspronklik in die Grieks-Romeinse wêreld gebruik as aanduiding van ‘n amptelike staatsbesoek van ‘n koning of heerser aan ‘n stad van ‘n provinsie, veral in gevalle waar die koning homself aan die burgers wou bekend stel. Ons sou kon sê dat Jesus met sy geboorte, met sy koms as koning na die aarde, Homself op ‘n persoonlike manier aan ons kom bekend stel het, vir ons kom wys het wie Hy is en wat vir Hom belangrik is.

Leiers in die Ou Testament

Behalwe vir Jesus wat die groot Koning is, was daar van die vroegste tye af al leiers, heersers, regeerders, konings onder ons wat die taak het om ‘n land of ‘n groep mense met wysheid te begelei en te beskerm en te versorg. Ons lees van verskeie konings en ander leiersfigure in die Ou Testament. Onder die bekendstes is waarskynlik die leier Moses, die priester Eli, die profete Elia, Jesaja en Jeremia, en die konings Saul, Dawid en Salomo.

Nader aan ons eie dag en tyd kan ons dink aan die Britse koningshuis, aan ministers en presidente en ander parlementêre figure – almal mense wat die verantwoordelike taak opgelê word om met wysheid oor ‘n land en sy mense te regeer.

Die werk van hierdie leiers was in die Ou Testament al só belangrik dat daar nege psalms in die Psalmboek is wat spesifiek aan die werk van die koning gewy word. Dié psalms staan bekend as die koningspsalms. Psalm 72, wat as ‘t ware ‘n gebed is wat waarskynlik voorgebid is by die kroningsplegtigheid van ‘n nuwe koning, val binne hierdie groepering.

Psalm 72

Die Ou Testamentiese koning waarvan Psalm 72 melding maak, word geroep om God se wil te doen, om mense so te regeer dat God daarin behae sal vind.

Kernwoorde in die psalm is “reg”, “geregtigheid” en “vrede”. Reg en geregtigheid is twee kante van dieselfde munt. Hierdie twee woorde word dikwels saam gebruik in die psalms. Dit verwys na ‘n konteks waar reg geskied en waar mense nie na hulleself kan omsien nie – gewoonlik omdat hulle geen sosiale status gehad het nie. Daarom word die wese, die weduwees en die vreemdelinge so dikwels hier uitgelig. Die koning sien hulle raak; dat hy handhaaf hulle reg; hy gee hulle ‘n stem of wees hulle ter wille in die regsuitsprake wat hy lewer. Die koning het die taak om toe te sien dat die armes versorg word.

Vrede (verse 3 en 7) is die resultaat van die koning se ideale heerskappy:

  • Laat berge en rante hulle verbly
    oor die vrede en reg vir die volk (3).
  • Mag die reg onder sy regering floreer
    en mag daar vir altyd
    groot voorspoed wees (7).

Die vrede is meer as die blote afwesigheid van konflik. Die vrede (shalom) waarvan hier gepraat word, is baie meer omvattend as dit. Dit gaan om mense en ‘n samelewing se algehele welsyn, hulle welwese, dat hulle in harmonie saamleef en floreer. Dit hou verband met die gedagte van verlossing, hulp en redding in vers 4 en 12. Die regverdige koning se heerskappy red mense en dit bring hulle in ‘n lewensruimte van shalom.

Die psalm is ‘n gebed vir die wêreld soos dit veronderstel is om te wees, soos wat God se bedoeling daarmee was toe Hy geskep het. Dit is ‘n gebed dat die koning aktief sal meewerk daaraan om so ‘n wêreld te skep.

Koning, priester en profeet

Die koning van Israel was in die Ou Testament God se verteenwoordiger op aarde. Hy het die taak gehad om volgens God se wil te regeer oor die volk vir wie God baie lief was. Tog kon die amp en taak van die koning nie losgemaak word van die amp en taak van die priesters en die profete nie. Hierdie drie groepe leiers was almal deur God geroep om saam na sy volk om te sien en toe te sien dat sy wil geskied in die daaglikse handel en wandel van die volk Israel.

Dikwels, as die koning aan die wil van die Here ongehoorsaam was, het dit die Here baie hartseer gemaak en is die koning, en soms ook die volk, gestraf. Waar die koning beskryf sou kon word as die politieke leier van die volk of land, was die priesters die geestelike leiers wat by God ingetree het vir die volk en ook vir die koning voorbidding gedoen het. Die profete moes weer toesien dat die koning reg en geregtigheid in die land laat geskied. Hulle moes dikwels die koning attent maak op sy roeping om vrede en geregtigheid te laat seëvier. Die profete moes sosiale ongeregtigheid in die samelewing uitwys en hulle taak was ook om die koning namens God aan te spreek wanneer hy nie verantwoordelik met sy amp en take omgaan nie.

Alhoewel Psalm 72 ‘n koningspsalm is wat handel oor die amp en pligte van die koning, kom die amp en pligte van die priesters en profete ook duidelik aan die orde. Dit kan immers nie van mekaar geskei word nie.

Alle gelowiges koning, priester en profeet

Die psalm is van besondere belang omdat dit ook vandag op ons lewe van toepassing gemaak kan en móét word. Die hervormer, Calvyn, sê reeds dat alle gelowiges geroep is om priester, profeet en koning te wees en dat hierdie drie ampte nie net in die Bybelse tye bestaan het nie, maar vandag nog deur elke Christen beklee moet word.

1. Ons is geroep om priesters te wees. Dit beteken ons moet voorbidding doen vir die konings van ons tyd. Dit vra dat ons sal bid vir ons leiers, vir die parlement, die ministers en die president. Dit vra ook dat ons sal intree by God vir ander leiers in ander lande. Ons moet bid dat ons leiers volgens God se wil sal regeer, dat hulle die reg sal handhaaf, dat hulle regverdige beslissings sal neem (1-2). In vers 15 word die wens uitgespreek: ” . . . mag die mense gedurig vir hom (die koning/leier/president) bid en die hele dag seënbedes vir hom uitspreek . . .”

2. Ons is geroep om profete te wees. Ons moet die regering voortdurend herinner aan sy sosiale taak, dat die leier die reg van die verdruktes sal beskerm, die armes te hulp sal kom, dié wat geen helper het nie sal bystaan, dat hy hom oor die swakke en die behoeftige sal ontferm, die lewe van arm mense sal beskerm.

3. Ons is geroep om konings te wees. As gelowiges mag ons nie ophou by die voorbidding vir ons leiers en die uitwys van nood in ons samelewing nie. Ons moet self ook die eienskappe van konings vertoon. Soos ons land se leiers word ook ons geroep om ons te beywer vir reg en vrede, die versorging van die armes, die swakkes en verstotenes, die ongehude moeders, vigswesies en die verslaafdes. Ons moet nie net bid om God se wil nie; ons moet lewe volgens God se wil!

Leierskap werk anders by ons

Dit is duidelik dat ons polities nie meer vandag ‘n Ou Testamentiese stelsel van koningskap in stand hou nie. Ons het nie meer sterk manne, soos die ou konings, wat basies kan doen wat hulle wil net.

Tog speel leierskap op alle vlakke vandag nog in ons samelewing ‘n geweldige belangrike rol. Daarom moet ons hierdie psalm dalk nie net ‘n koningspsalm noem nie, maar ‘n leierskapspsalm. Wat hier uitgespel word, is God se verwagting van alle leiers en mense wat in gesagsposisies staan. Mense wat het, moet sensitief wees vir diegene wat op die rand van die samelewing verkeer.

God is in daardie mense geïnteresseerd. Dat sommige lopende water het, en ‘n higiëniese lewe kan lei, moet ons nie laat vergeet van diegene wat nie water het nie. Dat sommige voldoende lewensmiddele het, mag ons nie laat vergeet dat almal dit nie het nie.

Ons het baie “brille” in ons koppe wat maak dat ons nie die verdruktes en armes “sien” nie. Ons sien nie die wat ondersteuning en sorg nodig het nie. Miskien woon hulle elders, in ‘n area waar ons nooit kom nie. Dalk het ons al so gewoon geraak aan hulle, dat hulle ons nie meer vreemd opval nie – dit hoort vir ons maar só.

Hierdie psalm is besorg oor gelykheid in die samelewing. Daarom was van die grootste Christelike leiers ooit diegene wat besorg was dal almal daagliks ‘n goeie maaltyd kan geniet, basiese onderwys het, as klein kinders die regte ontwikkelingsmoontlikhede, e.s.m.

God se gemeente moet ook so wees.

Robert Pierce se eenvoudige daad van omgee vir ‘n kind, wat tot ‘n wêreldwye organisasie gelei het, kan vir ons ‘n voorbeeld wees.

Jesus, die volmaakte koning

Kersfees het ons aan God se Messias-koning herinner. Jesus Christus is Here. In Hom het God se koninkryk, sy heerskappy oor alle dinge sigbaar geword. Sy koninkryk het inderdaad aangebreek. Daarom behoort ons te bid dat dit ook onder ons sigbaar sal wees, dat dit in ons land en regering sigbaar sal wees. Ons behoort die regering te help om die nood in die land raak te sien en om na die landgenote om te sien. Ons behoort self die moue op te rol en, aangevuur deur die wil van God, werklik medemens te wees vir diegene wat ons nodig het.

Wanneer ons ons ampte as priesters, profete en konings uitleef, word die gebede vir ons leiers en ons regering, ‘n bede om die koms van God se koninkryk in ‘n land en ‘n wêreld waar hierdie koninkryk nie altyd so sigbaar is soos wat dit behoort te wees nie.

Jesus het vir ons kom wys wat koning wees beteken:

  • As Priester het Hy vir sy dissipels gebid,
  • as Profeet het Hy sosiale ongeregtigheid aangespreek,
  • as Koning het Hy Hom ontferm oor die siekes en die swakkes, die wese en die weduwees, die sondaars en die tollenaars. As Koning het Hy sy lewe geoffer vir ‘n volk en ‘n wêreld omdat Hy hulle (ons) belange op die hart gedra het. Die Kind in die krip eindig aan ‘n kruis en bo sy kop staan “Koning van die Jode”. Hierdie Koning het na die aarde gekom om God se koninkryk sigbaar te maak. Mag elkeen van ons daagliks meewerk aan die koms van hierdie koninkryk.

Laat ons dan ook met alle erns konings, priesters en profete vir ander wees.

God stuur ons om te leef

Gebed vir Afrika
Here, laat u lig skyn oor ons kontinent –
Vader, seën Afrika,
beskerm ons kinders,
transformeer ons leiers,
genees ons gemeenskappe,
herstel die natuur,
en gee ons vrede.

Offergawes

Wegsending: Lied 488 “Helder skyn U lig vir die nasies vs 1,2,3,4”

Seën
“Mag die Here jou seën met ongemak
oor maklike antwoorde, halwe waarhede en
oppervlakkige verhoudinge
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede
oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane
om te stort vir mense in pyn, wat verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag die Here jou seën met genoeg dwaasheid
om te glo dat jy ’n verskil in hierdie wêreld kan maak
sodat jy die dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.”
(Ou Franciskaanse seënbede)
Of
Voorganger: Die Here sal vir jou wees soos reën vir die plante,
soos swaar reëns wat die aarde deurdrenk.
Hy sal jou red as jy om hulp roep,
Hy sal jou help as daar geen helper is nie.
Hy sal Hom oor jou ontferm en jou beskerm
Want jy is kosbaar in sy oë (uit Ps 72:6, 12-14).

Gemeente: Want aan U kom toe alle heerlikheid, eer en aanbidding: aan die Vader en die Seun en die Heilige
Gees, nou en altyd en tot in ewigheid.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.