Epifaniefees

Sections

Oorsig

Epifanie is ‘n fees wat in noue aansluiting by Kersfees gevier word en waar daar verder besin word oor die Seun van God wat as kind in Betlehem gebore is. Tradisioneel word hierdie fees verbind aan die besoek van die sterrekykers uit die Ooste (Matt 2:1-12) met ‘n spesifieke fokus op die universele aard van die evangelieboodskap.

In baie kerke word Epifaniefees altyd op 6 Januarie gevier, of dit nou op ‘n Sondag val of nie, terwyl dit in baie gevalle op die Sondag naaste aan 6 Januarie gevier word. Ons maak vanjaar voorsiening vir twee feesliturgieë: een vir Epifaniefees (of dit nou op 6 of  7 Januarie gevier word) en een vir die viering van die Doop van Jesus (indien Epifanie wel op 6 Januarie gevier word).

Die kleure vir hierdie fees is dieselfde as vir Kersfees, naamlik wit en goud om uitdrukking te gee aan die vreugde en lig wat met die geboorte van Christus geassosieer word.

Ander tekste

Jesaja 60:1-6
Nasies kom na jou lig toe
60 Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see
word joune,
die skatte van die nasies
kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.

Psalm 72:1-7, 10-14
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.

8Mag hy heers van see tot see,
van die Eufraat af
tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners
voor hom kniel
en sy vyande voor hom
in die stof kruip.

10Mag die konings van Tarsis
en die kuslandegeskenke bring,
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep,
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking
en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees
in sy oë.

Efesiërs 3:1-12
Paulus se werk onder die heidennasies
3 Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.

2Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. 13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.

Fokusteks

Matteus 2:1-12
Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ‘n profeet geskrywe:

6En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ‘n leier voortkom
wat vir my volk Israel
‘n herder sal wees.”

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ‘n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Die vlug na Egipte toe
13Nadat hulle vertrek het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte toe en bly daar totdat ek jou sê om terug te kom, want Herodes is van plan om die Kindjie te soek en Hom dood te maak.”

14Josef het toe opgestaan en in die nag die Kindjie en sy moeder geneem en na Egipte toe vertrek 15en daar gebly tot die dood van Herodes. So is vervul wat die Here deur ‘n profeet gesê het: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”

Die kindermoord
16Toe Herodes agterkom dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, het hy woedend geword. Hy stuur toe soldate en laat in Betlehem en die hele omgewing al die seuntjies van twee jaar en jonger doodmaak, ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het. 17Toe is die woord vervul wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het:

18″‘n Gekerm word op Rama gehoor,
‘n gehuil en groot gejammer:
Ragel treur oor haar kinders
en wil nie getroos word nie,
omdat hulle nie meer daar is nie.”
Die terugkoms uit Egipte

19Na die dood van Herodes verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte 20en sê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en gaan terug na die land van Israel toe, want die mense wat die Kindjie se lewe gesoek het, is dood.”

21Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan. 22Toe hy egter verneem dat Argelaos in die plek van sy vader Herodes oor Judea regeer, was Josef bang om daarheen te gaan. Nadat God hom in ‘n droom ‘n aanwysing gegee het, is hy na die landstreek Galilea toe. 23Daar aangekom, het hy gaan woon in ‘n dorp met die naam Nasaret. So is vervul wat deur die profete gesê is: Hy sal Nasarener genoem word.

Ekstra stof

Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom
Matteus vervolg die geboorte verhaal van Jesus deur te fokus op die reaksies van ‘n wye reeks mense op God se bekendstelling van sy herderleier, Jesus, in vervulling van die OT beloftes.  Die hele hoofstuk kom uit sy eie versameling van Jesusverhale.  Die verhale van die volkstelling en die geboorte in die krip, met die herders wat die eerste menslike getuies daarvan word, word weer net in Lukas gevind.

Die reaksies op Jesus sluit in die eerste plek verteenwoordigers van die nasies in (sterrekenners) en in die tweede plek verteenwoordigers van die Joodse volk (koning Herodes, die hele Jerusalem, die leierpriesters en skrifkenners).  Die nasies bewys aan Hom eer en bring vir Hom geskenke.  Die volk is egter ontsteld oor die nuus en Herodes só briesend dat hy ‘n tragiese kindermoord pleeg in ‘n poging om Jesus uit die weg te ruim.

Let op na ‘n paar uitstaande kenmerke van Jesus se verhaal:

  • Hy is in Betlehem, Judea, gebore as die Seun van Dawid (1:1; 2:1);
  • Hy word as koning van die Jode bekend gestel (2:2);
  • Hy word deur Herodes (nogal!) met die Christus, d.i. die Messias van die Jode, verbind (2:4);
  • Hy word as herderleier van van God se volk Israel gebore (1:6) soos deur die leierpriesters en skrifkenners aangedui;
  • Die sterrekenners ervaar ‘n onbeskryflike grootvreugde (2:10), knielvoor Hom neer, bewys aan Hom eer en gee vir Hom geskenke uit hulle skatte (2:11-12) – en Jesus is nog maar net ‘n paar dae oud!;
  • God is regdeur betrokke in die bekendstelling (2:2 – ster) en beskerming van Jesus (2:12 – goddelike waarskuwing in ‘n droom; 2:13,19 – engel van die Here verskyn aan Josef in ‘n droom en gee opdragte; 2:22 – goddelike boodskap in ‘n droom);
  • Drie keer word Jesus se geboorte in die konteks van die vervulling van die OT geplaas: sy bekendstelling as herderleier in Matt. 2:6 as vervulling van Miga 5:1; as geroep uit Egipte in Matt. 2:15 as vervulling van Hos. 11:1; die kindermoord in Matt. 2:18 as vervulling van Jer. 31:15.

Sterrekenners uit die Ooste bewys eer aan Jesus en bring vir Hom geskenke – 2:1-12
Ons weet min van hierdie sterrekykers af, of soos die Nuwe Afrikaanse Proefvertaling dit vertaal: “sterrekenners“.  In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior and Balthazar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie.  Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie.  Dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het.  Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes. 60:3: “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”

Daar is ‘n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n nuwe monoteïstiese godsdiens in wat vandag bekend staan as Iran.  Die Jode het reeds tydens die ballingskap in Babilonië met hierdie beweging kennis gemaak.  Zoroaster het nogal op ‘n unieke wyse oor God se Eenheid gepraat – een van die min monoteïstiese godsdienste van daardie tyd benewens die Joodse godsdiens – en oor die stryd tussen goed en kwaad.  Koning Kores, wat toestemming verleen het dat die Jode terugkeer na hul land, se seun Darius was ‘n Zoroaster.  Dié godsdiens het dus ‘n groot invloed in die Persiese Ryk uitgeoefen.

Indien hierdie “wyse manne” (na aanleiding van die Latynse vertaling van die Grieks met die woord magi) dus Persiese priesters was, verklaar dit hulle goeie kennis van die sterrekunde, omdat Zoroasters bekend was daarvoor.  Die Grieke het bv hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer.  Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel (Rodney Stark, The triumph of Christianity).

Hoe dit ook al sy, hulle het met passie hulle doelwit nagestreef, om die koning van die Jode op te spoor en aan Hom eer te bewys.  En hulle het dit reggekry, ten spyte van Herodes.

Terloops, ons weet nie baie van die ster af nie.  Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n natuurwonder gewees het.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – dit weet ons ook nie. Die feit is dat die sterrekenners daardeur gelei is tot by ‘n ontmoeting met Jesus.  Die nasies kom dus eerste tot insig oor Jesus, nie die Jode nie, behalwe die klompie mense vergader rondom Josef en Maria.

Let ook op dat Herodes nie die vraag van die sterrekenners bestry nie.  Trouens, dis ironies dat Herodes self verwys na die geboorte van “die Christus“, d.i. die Messias (Christus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord Messias). Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys.

Die feite was doodgewoon dat Herodes nie eers ‘n ware Jood was nie.  Hy was van Edomitiese (‘n Idumeër uit die nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie.  Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word.

Die leierpriester en skrifkenners is weer interessant genoeg tevrede om net die Bybel te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie.  Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie.  Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis.

God beskerm Jesus in Egipte – 2:13-14
God tree steeds beslissend op met die groeiende bedreiging van Herodes en laat Josef met die Kind en sy moeder na Egipte vertrek.  Let op dat Jesus vóór sy ma genoem word, ‘n aanduiding van die voorrang van dié Kind.  Toe die tyd ryp is, laat God Josef weer terugtrek, en dien dié trek sommer tegelykertyd ook as vervulling van die belofte in Hosea 11:1.

Herodes pleeg kindermoord – 2:15-18
Herodes was regtig ‘n wrede en magsbehepte karakter. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees (“vark” en “seun” is ‘n woordspel in Grieks – die twee woorde eindig dieselfde: choiros en uios). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas ‘n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunstelingvrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld ‘n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer.

Ons teks vertel vir ons hier van sy heftige reaksie op die sterrekenners se verraad. Hy kom agter dat hulle met ‘n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom ‘n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.  Dié gebeure word ook as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia (31:15) oor Ragel se kinders geïnterpreteer.

Jesus word ‘n Nasarener – 2:19-23
God lei hulle uit Egipte na ‘n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret.  Die dorpie in Galilea is ná die dood van Herodes onafhanklik van Juda deur Antipas (“Herodes” genoem in Matt 14:1-12), ‘n ander seun van Herodes, geregeer.

Dié skuif word deur Matteus aan die vervulling van die woorde van die profete (meervoud – dui op die hele boodskap van die OT) verbind (2:23). Dit is daarom ook die hoogtepunt van ons teksgedeelte.  En die toppunt daarvan is dat Matteus Jesus die Nasarener noem.  Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag gevang het, sê Matteus, is die Nasarener.

Nou, ‘n mens moet dié woord onderskei van die woord Nasireër, soos dit in die OT die geval was met Simson (vgl. Rigt. 13:5, 7; Num. 6; Jer. 7:29). Jesus het nie volgens die Nasireër-eed geleef nie.  Hy het sy hare geskeer, en wyn gedrink.

Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van ‘n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken.  In Jes. 11:1 word die woord neser gebruik in ‘n Messiaanse betekenis: “‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra …” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus …”.  In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl. ook Jes. 53:2).

Die term “Nasarener” het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf ‘n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is.

Nasaret was immers ‘n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Seporis, ‘n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea.  Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Matteus.

Dié uitspraak is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem, die uitverkore herderleier van God. Wié sou dit nou kon verwag?!

Liturgie

Epifanie beteken “Godsverskyning”. Epifaniefees word deur die Westerse en Oosterse kerke op 6 Januarie gehou.

Met die viering van Epifaniefees word meer as een Godsverskyning herdenk:
Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte);
Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop);
Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana);
Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne).

Die Christuskers word aangesteek terwyl Kersmusiek speel.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: Jes 60

Seëngroet

Lied: 335 “Die Heiland is gebore vs 1,2”

Litanie by Epifanie

Lied: 355 “Al was ek nie daar nie vs 1,2”

Vryspraak:  Johannes 1

Geloofsbelydenis

Toewyding: Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 2:1-12

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 340 “Kom ons loof die Jesus kind vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Epifanie beteken “Godsverskyning”. Epifaniefees word deur die Westerse en Oosterse kerke op 6 Januarie gehou.
Met die viering van Epifaniefees word meer as een Godsverskyning herdenk:

Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte);
Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop);
Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana);
Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne).

Die Christuskers word aangesteek terwyl Kersmusiek speel.

Aanvangslied: Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord: Jes 60
Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.

Seëngroet
Gemeente van die Here Jesus Christus,
bedags sal dit nie die son wees
wat vir julle lig gee nie,
en snags sal dit nie die maan wees
wat oor julle skyn nie;
die Here sal vir julle ’n ewige lig wees!

Lied: 335 “Die Heiland is gebore vs 1,2”

Litanie by Epifanie
Voorganger: Here, ons bid vir die leiers wat ons land regeer. Gee aan hulle die wysheid om volgens u wil die reg te handhaaf.
Gemeente: Laat u Lig, Heer, op ons skyn.

Voorganger: Here, ons bid dat ons land se regsbanke deur regverdige en wyse regters gelei sal word.
Gemeente: Laat u Lig, Heer, op ons skyn.

Voorganger: Here, ons smag na geregtigheid. Ons roep tot U, Here, sodat U aan die verdruktes reg sal laat geskied. Ons roep tot U, o Here, dat U ons land van alle vorms van geweld en korrupsie sal bevry.
Gemeente: Laat u Lig, Here, op ons rus.

Voorganger: Met berg en oseaan, met plant en dier, reik ons tot U, o Heer. Ontferm U oor ons.  Hoor ons smeekgebed.
Gemeente: Laat u Lig, Heer, op ons rus.

Voorganger: Mag ons, o Heer, U ligdraers wees in ’n wêreld vol konflik, pyn en seer.
Gemeente: Laat u Lig, Heer, deur ons kom (Ps 72).

Lied: 355 “Al was ek nie daar nie vs 1,2”

Vryspraak: Johannes 1
Die ware lig wat elke mens verlig,
het na die wêreld toe gekom.
Hy was in die wêreld,
maar tog het die wêreld Hom nie erken nie.
Hy het na sy eiendom toe gekom,
en tog het sy eiendom Hom nie aangeneem nie.
Maar aan almal wat Hom aangeneem het,
dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee
om kinders van God te word.

Geloofsbelydenis
Ons glo in God,
die Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge,
wat gesê het: “Laat daar lig wees!”
en daar was lig.
Ons glo in Jesus Christus,
die ware Lig wat na die wêreld toe gekom het,
wat in die duisternis skyn
en wat nie deur die duisternis uitgedoof kon word nie.
Ons glo in die Heilige Gees
wat die lig van God se Woord
op ons lewenspad laat skyn
en ons nuut maak
sodat ons ook lig vir die wêreld kan wees.

Toewyding : Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Liedere

F6. “HeerJesus, My Redder”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Oorspronklike titel: Shout To The Lord
Teks en Musiek: Darlene Zschech
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1993  Hillsong Publishing

1. Heer Jesus, my Redder,
Heer, daar is niemand soos U.
Laat elke dag, als wat ek doen,
volwees van U liefde, Heer.

2. My skuilplek, my trooster,
veilige vesting van krag.
Met hart en stem, als wat ek het,
bring ek aan U ewig eer.

Refrein:
Kom laat ons juig, kom ons sing voor die Here.
Sing van sy mag, van sy grootheid en krag.
Berge buig neer en die see ruis saam
by die aanhoor van sy Naam.

Ek wil U prys, want U is my Skepper.
Ek wil U loof en my lewe lank eer.
Niks vergelyk met u liefde
en sorg vir my.

F51. “Koning Van My Hart”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Gebed)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart
Koning van my lewe
U wil ek bemin
U lof besing vir ewig
U het my bevry
My sondeskuld vergewe
Koning van my lewe
Koning van my hart.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Ons dank U, Here ons God,
dat U ’n ster gestuur het om mense van ver
na die Christuskind te bring.
Ons dank U dat U in elke eeu en elke geslag
tekens en getuies gee
wat ook ons na Christus toe lei.
Ons dank U vir u Seun, Jesus Christus,
die Woord wat mens geword het
en onder ons kom woon het.
Ons dank U vir die Heilige Gees
wat ons herinner aan alles wat Jesus vir ons gedoen het
en wat ons in die volle waarheid lei.
Ons dank U vir u Woord
wat vir ons ’n lamp is wat in ’n donker plek skyn
en vir ons rigting vir ons lewe aanwys.

Skriflesing: Matteus 2:1-12

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Agtergrond oor die wyse manne uit die Bybelse Ensiklopedie 1975: Onder redaksie van W.H. Gispen, B.J. Oosterhoff, H.N. Ridderbos, W.C. van Unnik, P. Visser.

Magiërs
Magi is die Lat. vorm v.d. Gr. woord wat gewoonlik met wyse manne, meer bepaald: die wyse manne uit die Ooste, Mt. 2:1 e.v., vertaal word. Oor die plek waar hierdie wyse manne vandaan gekom het, bestaan daar verskil van mening. Reeds in die Oudheid is aan Arabië * gedink, waarby ook die woestyn suidoos van Palestina * gereken is. Dit sal egter beter wees om aan Babilonië * of Persië * te dink, omdat dit bekend is dat sterrewiggelaars in hierdie lande gewoon het. Die groot vraag, hoe die wyse manne deur die Ster * op die geboorte van Jesus gewys is, is moeilik om te beantwoord. Die waarskynlikste is dat die ster nie ’n sg. nova, ’n nuwe ster of ’n komeet was nie, maar ’n sterrekundige verskynsel. Ong. die tyd van Jesus se geboorte het daar een of twee maal ’n konjunksie van Jupiter en Saturnus in die sterrebeeld v.d. Visse plaasgevind. Ons kan verder aanneem dat die—*d.m.v. Daniël *, wat ook aan hulle groep behoort het, Dn. 2:48; 4:7, 8; 5:15, 16, iets v.d. geboorte van ’n Messias *-koning in die Weste geweet het. Waarskynlik was die profesie van Bíleam *, Nm. 24:17, aan hulle bekend. Dit staan egter vas dat die wyse manne miskien deur die studie v.d. sterrehemel op die gedagte gekom het dat die profesie aangaande die geboorte v.d. langverwagte Koning vervul was, maar dat hulle alleen deur goddelike aanwysing, al is dit met die ster as gids, na Betlehem * gelei is en Jesus as Koning vereer het. Simon * Magus, Hd. 8:9, en die Jood Bar-Jesus *, Hd. 13:6, het volgens hulle bynaam, ook tot die—*behoort. Dit wil nie sê dat hierdie—*alleen in die Ooste gewoon het nie. Hierdie 2 kon egter uit die Ooste gekom het.

Vertel die verhaal van die wyse manne dramaties- gebruik dalk die teks van Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Belangrike Mense uit die Ooste kom Kuier by Jesus
2     1–2 Jesus is in Betlehem gebore. Dit is ’n dorp in die provinsie van Judea. Herodes was hulle koning. Kort nadat Jesus gebore is, het ’n klompie slim mense uit die ooste wat baie van die sterre af geweet het, na Jerusalem toe gekom. Hulle het oral in die stad vir die mense gevra: “Waar is julle nuwe koning? Ons het ’n belangrike ster daar in ons eie land gesien. Hierdie ster sê vir ons dat julle nuwe koning hier iewers gebore is. Ons wil graag vir hom geskenke kom gee om vir Hom te wys hoe bly ons is oor sy geboorte.”

3–5 Nie lank nie, of koning Herodes het ook gehoor van die slim manne daar uit die ooste. Hy was baie omgekrap oor wat hulle gesê het. Die mense van Jerusalem was ook ontsteld. Almal het gewonder wat is aan die gang. Herodes het toe sy eie slim mense wat die Bybel goed ken, bymekaar geroep. “Sê my, waar gaan die Redder* gebore word wat God na ons toe sal stuur?” het hy hulle gevra.

6–7 “In Betlehem, in die provinsie van Judea,” het hulle gesê. Miga, ’n boodskapper van God het mos al lank terug geskryf:

“Betlehem, jy is nie meer ’n onbelangrike dorpie iewers in Juda nie.

’n Baie belangrike man sal van jou af kom.

Hy sal sorg dat Israel doen wat die Here sê.”

8 Koning Herodes het toe ’n plan gemaak. Hy het die slim manne uit die ooste stilletjies na sy paleis toe genooi. Toe hulle daar aankom, vra hy ewe onskuldig vir hulle wanneer hulle die ster gesien het. Nadat hy na hulle geluister het, sê hy vir hulle om na Betlehem toe te gaan. “Gaan soek die nuwe koning daar. Laat weet my wanneer julle Hom kry. Want ek wil ook vir Hom gaan kuier om vir Hom te wys hoe bly ek is oor sy geboorte,” het Herodes gesê. Maar hy het gejok.

9–11 Die manne is vinnig na Betlehem toe. Toe dit donker word, sien hulle weer dieselfde ster van vroeër in die lug. Dit het stadig voor hulle uit beweeg totdat hulle by die plek kom waar Jesus en sy ouers was. Hulle was baie bly toe hulle hierdie ster sien. Want die ster het hulle reguit na Jesus toe gevat. Toe hulle vir Jesus daar by sy ma sien, het hulle dadelik op hulle knieë geval. Hulle het baie groot respek vir Jesus gehad. Hierdie slim manne het ook die presente uitgehaal wat hulle saamgebring het. Dit was baie duur geskenke wat van goud gemaak is, en ook parfuum wat baie lekker ruik.

12 Die slim manne het hierna ’n droom gehad. Die Here het vir hulle gesê om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Want Herodes wou Jesus doodmaak. Hulle het toe besluit om met ’n ander pad na hulle eie land toe terug te gaan.

Die inkleurprent is hier beskikbaar.

Preekriglyn

In Jerusalem is Herodes die magtige koning. Hy regeer met Romeinse gesag oor Israel, met ‘n ysterhand. Herodes was egter in die oë van baie Jode allermins ‘n legitieme heerser. Hy was immers nóg uit die stam van Dawid nóg ‘n volbloed Jood. Hy was ook die politieke handlanger van die gehate Romeinse oorheersers van Israel. Hy het die Romeinse staatskapers se vuilwerk vir hulle gedoen.

In dié tyd van Romeinse oorheersing via hulle lakei, het die Jode steeds aktief verlang na die herstel van die Huis van Dawid.

In die plofbare situasie kom ‘n groep sterrekenners uit die Ooste, ‘n gebied wat nie onder Romeinse beheer was nie, in Jerusalem aan. Hulle het ‘n teken tussen die sterre gesien – ‘n nuwe, vreemde, bewegende ster – wat hulle oortuig het dat ‘n nuwe heerser gebore is. Daarom reis hulle na Jerusalem om hulde aan dié nuwe koning te bring.

Hulle koms vul egter sowel vir Herodes as die ganse Jerusalem met vrees. Die heersende wêreldorde word immers bedreig deur die gerug van ‘n magtige wêreldheerser wat uit die Jode kom en nie net oor die Jode sou heers nie, maar oor die hele wêreld.

Ons teks

Die gebeure waarvan ons teks vertel, gee die plaaslike politieke implikasies van Jesus se geboorte weer deur Herodes en die inwoners van Jerusalem se reaksie daarop bekend te maak. Die gedeelte bestaan uit tonele wat ‘n geografiese basis het:

  • In vers 1-6 kom die sterrekenners vanaf die Ooste na Jerusalem waar hulle Herodes ontmoet en inligting inwin oor die profesie wat vervul is.
  • In vers 7-12 neem die ster die sterrekenners weer weg van Jerusalem na Bethlehem waar Jesus gebore is.
  • Na hulle hulde aan Hom bewys het, reis hulle met ‘n ompad terug na die Ooste waarvan hulle gekom het.
Wie was die wyse manne?

Die hoofkarakters in 2:1-12 is die magoi: wyse manne of eerder sterrekenners. Die Nuwe Testament en Psalms – ‘n Direkte Vertaling vertaal dit met “sterrekenners”. Sterrekenners was algemeen in Egipte, Babilonië, Persië en Arabië. Die sterrekenners in Matteus se verhaal het waarskynlik uit die Ooste gekom moontlik, spesifiek Babilonië of Persie.

Babilonië is ‘n moontlikheid in die lig van die geskenke van wierook en mirre wat hulle saamgebring het. Laasgenoemde is naamlik twee soorte boomgom wat hoofsaaklik uit dié area afkomstig is.

Persië is weer ‘n moontlikheid vanweë hulle benoeming as magoi. In Persië was hulle as towenaars of sterrekenners deel van die adelstand. In die Persiese wêreld was hulle veral bekend gewees vir hulle uitleg van drome (so ontvang hulle in vers 12 ‘n boodskap in ‘n droom van die Here af) (vgl Dan 1:20; 2:2, 10, 27).

Vir Matteus is die presiese herkoms van die sterrekenners egter onbelangrik. Hy vermeld nie hoeveel hulle was nie. Daar is geen rede om te aanvaar dat elkeen ‘n geskenk gebring het en dat daar daarom drie magoi was nie. Hulle vertrek ook weer so gou as wat hulle gekom het.

Die blote teenwoordigheid van die manne uit die Ooste is wel belangrik. Geen Jood, soos Matteus, sou hulle in die geboorteverhaal van Jesus geplaas het as daar nie een of ander historiese basis vir die vertelling van hulle koms was nie. Hulle was immers heidene wat ‘n verbode professie beoefen het.

Ons weet uit die geskiedenis dat magoi wel besoeke aan nuwe konings gebring het. Só het ‘n groep, wat Pliny die Oudste ook magoi noem, bestaande uit Tiridates (die koning van Armenië) met ‘n groot geselskap (3000 ruiters) in 66 nC na Rome gegaan om aan Nero hulde te gaan bewys as gevolg van wat hulle in die sterre gesien het. Nero ontmoet vervolgens vir Tiridates by Napels waar die Armeense koning voor die keiser neerbuig om aan hom hulde te bring. Die doel van die besoek was om ‘n vredesverdrag met Nero te sluit.

Polities en riskant

Die sterrekenners se koms na Jerusalem was daarom polities sowel as riskant gewees. Dit kon naamlik maklik gesien gewees het as die smee van ‘n nuwe alliansie deur die Perse, wat nie deel van die Romeinse ryk was nie, en die nuwe Joodse koning. Vir Rome en hul politieke handlanger, Herodes, sou dit die horries gee.

Ons wil die verhaal oor die koms van die sterrekenners dus te maklik in die kinderafdeling van die Bybel liasseer. Dit is egter ‘n verhaal wat die vraag na ons diepste lojaliteit stel. Voor wie buig ons? Wie is ons koning? Wie regeer oor die lot van mense?

‘n Bewys

Vir Matteus vervul die koms van die sterrekenners ook ‘n spesifieke teologiese rol en is hulle teenwoordigheid nie net ‘n historiese voetnota nie. Hulle geskenke herinner byvoorbeeld aan Jesaja 60:5-6 se uitbeelding van hoe die nasies aan die komende Messias eer sou betoon.

Vir Matteus dien hulle optrede dus as ‘n bewys dat Jesus die langverwagte Messias was en dat Hy as sodanig ook deur die heidene vereer is. Die besoek van die groep heidene roep die besoek van die koningin van Skeba aan Salomo (1 Kon 10:1-10) in herinnering. Dié tipe besoek het die aansien van die koning wat besoek is aansienlik verhoog.

Die ster is ‘n geheimenisvolle teken van God in die Skrifdeel. Dit verskyn en verdwyn oënskynlik na willekeur. Verder beweeg dit soos geen ster kan nie. Maar hoe wonderlik die ster ook al is, dit bly bloot ‘n instrument in God se hand om die boodskap van Jesus se geboorte aan die sterrekenners te bring op ‘n manier wat hulle sou verstaan.

Nadat hulle aandag getrek is, reis hulle na Jerusalem om hulde aan die nuwe koning te bring deur voor Hom te buig en geskenke geskik vir ‘n koning te gee. Hulle het oënskynlik in die sterre iets gesien wat hulle oortuig het dat daar ‘n verskuiwing in die wêreld se magsbalans was, en soos dit hulle gebruik was, het hulle aan dié koning kom hulde bewys.

Die sterrekenners het egter by die verkeerde adres aangeklop. Hulle soeke na die nuwe koning in Jerusalem by die heersende koning, was gebaseer op die redelike aanname dat die nuwe koning in die heersende koning se huishouding as sy seun gebore sou word.

‘n Vroeëre profesie

Hulle ontstel egter vir Herodes en die hele Jerusalem, want hulle en hy het waarskynlik van ‘n profesie deur ‘n ander man uit Babilon, meer as ‘n duisend jaar van te vore, geweet (vgl die verwysing na die Eufraat in Num 22:5). ‘n Man met die naam van Bileam wat ook van ‘n Bethlehemster gepraat het. Bileam is deur die koning van Moab gevra om Israel te vervloek. Hy het egter gekies om hulle te seën. In Numeri 24:17-19 lees ons Bileam het toe met hierdie uitspraak gekom:

Ek sien hom, maar hy kom nie nou al nie, ek kyk na hom, maar hy is nie naby nie, daar kom ‘n ster uit Jakob, daar staan ‘n heerser in Israel op. Hy verpletter die voorkop van Moab, hy vernietig al die opstandiges. Edom sal verower word, Seïr, die vyand van Israel, sal ingeneem word, maar Israel sal al sterker word. Een uit Jakob sal heers en hy sal dié vernietig wat uit Edom se hoofstad wegvlug.

In alle waarskynlikheid het Bileam na Dawid, wat in Betlehem gebore is, verwys. In die geval was hy die ster gewees. Die ster het nie bloot na sy geboorte verwys nie. Herodes sou egter die verwysings na ‘n nuwe koning uit die nageslag van Jakob onthou en dat hy die stam van Edom sou verower.

Herodes se vervolgingswaan

Een van die redes waarom Jerusalem so ‘n gevaarlike plek was om te wees, was Herodes se paranoia rondom sy koningskap. Herodes was naamlik ‘n half-Edomiet wat in 37 vC deur die Romeine aangestel is en dus nie uit die koningsgeslag van Dawid of Jakob gekom het nie (sien Josephus Ant 15.373; 16.311). Hy het sy eie planne gehad oor wie hom sou opvolg. Sy gebied sou naamlik tussen drie van sy seuns verdeel word. Hy sou dus nie gunstig op manne uit die ooste wat vra na ‘n nuwe koning gereageer het nie.

Herodes was bekend vir sy wreedheid teenoor die wat sy troon bedreig. Hy het byvoorbeeld drie van sy eie seuns en Mariamne, sy vrou, laat vermoor om hulle te elimineer as moontlike bedreigings. Volgens oorlewering sou keiser Augustus gesê het dat hy eerder Herodes se vark (hus) as sy seun (hios) wou wees!

Om die impak van ‘n groep vreemdelinge wat na ‘n nuwe koning kom soek reg te verstaan, moet ons onthou dat konings in die tyd van Jesus se geboorte nog regerende konings was. Hulle het daadwerklike magte gehad en nie net seremoniële magte nie. Die navrae van die sterrekenners na die nuwe koning van die Jode sou Herodes rasend gemaak het. Dit sou sy onsekerheid en paranoia gevoed het.

Geen wonder dat sy eerste instink was om Jesus te laat doodmaak nie. Herodes het in reaksie op die navraag van die sterrekenners, kenners geraadpleeg oor waar die Messias gebore sou word. Hulle antwoord hom op grond van Ou-Testamentiese profesie en nie geskiedenis nie. Waar Jerusalem wel histories die stad van Dawid was, sou die Messias volgens Miga 5:3 en 2 Samuel 5:2 in Betlehem gebore word. Bethlehem in Judea was ongeveer 9 km suid van Jerusalem. In Matteus is die presiese geografie van Jesus se geboorte ‘n belangrike bewys vir die aanspraak dat Hy wel die Messias was.

Skrille kontras

Matteus maak dit baie duidelik dat daar ‘n skrille kontras tussen die sterrekenners en Herodes se ingesteldheid was. Só soek hulle die kind om Hom te “vereer”, maar Herodes soek die kind om Hom “dood” te maak. Dit is hulle wat Jesus “vereer” deur aan die Hom hulde en eer te bewys, terwyl die Jode Hom “verwerp”. Terwyl die hele Jerusalem “ontsteld” was oor die geboorte van Jesus (3), was die sterrekenners “verheug” oor die geboorte (10).

Reeds as kind was Jesus se lot dus volgens Matteus duidelik gewees. Soos met sy geboorte, sou Israel Hom verwerp, terwyl die heidene Hom sou aanbid. Só is Jesus se geboortetitel “Koning van die Jode” (2) ook sy sterwenstitel in Matteus 27:28 en 37.

Dit is belangrik om hiervan kennis te neem, aangesien die verhaal van die besoekers uit die Ooste dikwels in Advent gelees word as deel van opvoering deur kinders en die gevaar daarom bestaan dat dit verwyder kan word van die konteks van geweld en vrees waarbinne dit afspeel. Matteus wou egter spesifiek uitbeeld dat God betrokke is by sy volk juis in die donkerste van tye. As dit lyk asof die bose seëvier, is dit wanneer God op ‘n vreemde, verrassende wyse ingryp. Hy stuur in Matteus 2:1-12 egter nie ‘n magtige leermag van engele om sy koninkryk te vestig nie, maar eerder sy Seun as ‘n weerlose baba.

Vervulling van profesie

Vir Matteus is die geboorte van Jesus egter niks anders as die vervulling van wat in die Ou Testament deur die profete voorspel is nie. So verkondig hy in vers 5, 15, 17 en 23 dat alles wat gebeur, vervulling is van wat deur die profete voorspel is. God sou deur sy aangewese dienaar sy volk uit die greep van haar vyande red en die koningshuis van Dawid herstel.

Die heilsplan van God, wat ook die heidene sou insluit, was besig om in vervulling te gaan. Matteus 1:1 se verwysing na Jesus as die Seun van Abraham én Dawid, herinner aan beide die spesifieke verbond met Dawid wat op die Jode as God se uitverkore volk fokus, én die algemene verbond met Abraham wat op die seën van alle volke dui (Gen 12:3).  Jesus is dus die besondere vervulling van God se algemene en besondere beloftes.

Vrees versus aanbidding

Die vertelling van Jesus se geboorte kontrasteer die optrede van Herodes direk met dié van die sterrekenners. Waar Herodes uit vrees met geweld optree teenoor die weerloses van sy eie mense (jong seuntjies), kom die sterrekykers om hulde aan Jesus te betoon. Hulle gee aan Hom geskenke geskik vir ‘n koning en aanbid Hom. Die positiewe reaksie van die heidene teenoor dié van Herodes en die Jerusalem-elite, dien as voorskou vir hoe Jesus se sending uiteindelik na die heidene uitgebrei sou word terwyl die leiers in Jerusalem sou saamsweer om Hom te vermoor.

Ook die identifisering van Jesus as koning en die gewelddadige reaksie wat dit ontlok, herinner aan Jesus se kruisiging. Jesus word immers as die koning van die Jode in Jerusalem gekruisig. In kort staan die uitbundige vreugde van die sterrekenners (10) teenoor die vrees van Herodes (3). Matteus wil hierdeur aan sy lesers toon dat mense nie volgens verwagting op die koms van Jesus sou reageer nie. So sou sy familie hom verwerp (Matt 12:46-50), terwyl die hekatontarg wat toesig oor sy kruisiging gehou het, Hom as die Seun van God sou herken (Matt 27:54).

Heidene ook ingesluit

Dit is opvallend hoedat die sterrekykers in die gedeelte uitgebeeld word as die ontvangers van God se leiding. Nie alleen kommunikeer God aan hulle deur die ster nie, maar ontvang hulle ook ‘n waarskuwing van Hom en ‘n droom om met ‘n ander pad na hulle tuisland terug te keer (12). Hulle reageer deurgaans, in die geboorteverhaal, gepas op God se leiding.

In dié sin is hulle een van die eerste tekens daarvan dat, terwyl Jesus se sending na die verlore skape van Israel is (Matt 10:5-6; 15:24), die sending na die heidene, wat die Matteusevangelie omraam (2:1-12 en 28:19), ‘n al belangriker aspek van Jesus se bediening sou word (sien 8:5-13, 28-34; 15:21-28). In dié sin dien dit as begronding van die sending na al die nasies waarmee die evangelie afsluit.

Jesus is die fokus

Dit is belangrik dat in die prediking van die gedeelte nóg die sterrekenners nóg die ster, die fokus word ten koste van Jesus. God se verlossing breek aan deur die geboorte en sterwe van Jesus. Dit is nie so dat Jesus bloot moes sterf nie, en dit daarom geen verskil maak of Jesus aan die hand van Herodes of Pilatus sou sterf nie.

Volgens Matteus moes Jesus onder spesifieke omstandighede aan die kruis sterf, na Hy in woord en daad die teenwoordigheid van God se koninkryk verkondig het. Die evangelie van Jesus is groter as dat Hy net vir sy mense gesterf het. Hy het ook vir hulle geleef en hulle geleer en genees.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 340 “Kom ons loof die Jesus kind vs 1,2,3”

Seën
Mag die lig van die evangelie
in ons harte skyn,
ons lewe vernuwe
en die hele wêreld verlig.
Die seën van die Almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
Sal met ons elkeen wees en bly.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1 .Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.