Epifaniefees

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Jesaja 60:1-6
Ander tekste: Psalm 72:1-7, 10-14; Efesiërs 3:1-12; Matteus 2:1-12

Diensorde

God bring ons byeen

Wydingslied  
Lied 372:1-3 “Hoe glansryk blink die Môrester”

Aanvangswoord
Staan op, laat jou lig skyn!
Ja, jou lig het gekom,
en die heerlikheid van die Here skyn oor jou.
Die Christuskers word aangesteek.

Groet
Efesiërs 3:1-12

Oproep tot verootmoediging
Ons kom met dit wat ons van onsself, van mekaar en van God vervreem. Ons hoef nie moedeloos te word nie. Ons kom met vrymoedigheid na God, op soek na sy vergifnis en genesing, want die lig het reeds ons donker kom verlig.

Lied
Lied 354:1 en 4 “O Christus, ons verlange”

Vryspraak
Voorganger: Vriende, God is vir ons en nie teen ons nie. Daarom stuur God sy Seun na die wêreld, nie om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Ons verklaar die goeie nuus van die evangelie:
Gemeente: In Jesus Christus is ons vergewe en vrygemaak om in Hom die nuwe lewe te leef.
Ek behoort met liggaam en siel 
in lewe en in sterwe nie aan myself nie, 
maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus.

Oproep tot lof
Mag die lig van God se liefde al die duister verdryf.
Ons kom na die lig van die suide, die noorde, die ooste en die weste.
Ons kom uit verskillende kulture en taalgroepe.
Ons almal soek op ons manier na die Lig wat na die lewe lei.
En tog is ons almal een in Jesus Christus.
Laat ons ons baie stemme saamvoeg en een van hart en gees
die drie-enige God van alle mense loof en aanbid:  

Lied 205:1-3 “Bring lof aan die Vader”

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
Wonderlike Here, soos daardie ster van ouds die wyse manne gelei en die plek waar Jesus was, verlig het, mag u Heilige Gees in ons harte en gedagtes skyn waar u Woord gelees en verkondig word. Lei ons opnuut na Christus en langs die weë van geregtigheid. Amen.

Skriflesing
Boodskap

Geloofsbelydenis
Belydenis van Nicea

Voorbidding
Voorganger:
God van verligting, verbeelding en openbaring,
waar ons hier byeen is om die heilige misterie van u teenwoordigheid te vier,
bring ons voor U die vele behoeftes van u kerk en u wêreld:

O Christus,
laat die goeie nuus oral skyn waar die Woord van die lewe nog nie ontvang is nie.
Trek die hele skepping na U toe,
sodat u verlossing oor die ganse aarde beleef mag word.
God van genade …

Gemeente: Hoor ons gebed.
Voorganger:
O Christus, Redder en Verlosser,
laat u kerk uitbrei in die ruimte wat U vir ons gegee het, en op elke plek wat aan U behoort.
Maak u kerk ’n plek wat gasvry en verwelkomend teenoor almal is.
Gemeente: Hoor ons gebed.

Voorganger:
O Christus, Heerser oor die heersers,
rig u die werk en gedagtes van die leiers van die nasies, ook in ons land Suid-Afrika:
mag hulle geregtigheid nastreef en vrede en vryheid vir almal bevorder.
Gemeente: Hoor ons gebed.

Voorganger:
O Christus, ons verlange,
onderskraag almal wat swak is,
en bemoedig dié wat swaarkry;
gee krag vir dié wat in versoeking is en hef diegene op wat geval het.
Waak oor dié wat alleen is en oor dié wat in gevaar is.
Gee hoop aan dié wat moedeloos is
en versterk die geloof van dié wat vervolg word.
Gemeente: Hoor ons gebed.

Stilte.

O Christus, die Lig wat verskyn het as die ware lig van God,
verbly ons harte op hierdie feesoggend van u heerlikheid.
Ontvang ons by die naam op die groot dag van u koms
en gee ons die genade om saam met die hemelskaar by die fees van die Lam,
u oneindige lof te besing –
U in wie alle dinge hulle voleinding vind –
nou en vir ewig.

Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer”

Diens van die Tafel

Dankoffers

Lees Psalm 72:11-14.
Ons erken God as die Een wat sorgsaam heers en met deernis na sy kinders kyk deur ons dankoffers te gee.

Toewydingsgebed vir die dankoffers
Blink Môrester,
U lig het gekom
en u geboorte, o Christus,
vervul ons met welbehae.
Mag ons soos die wyses van weleer
na U gelei word
om ons gawes en ons self aan U te wy.
Amen.

Groot nagmaalgebed
Voorganger: Die Here is met julle.
Gemeente: En ook met jou.

Voorganger: Verhef julle harte.
Gemeente: Ons verhef ons harte tot die Here.

Voorganger: Laat ons die Here dank.
Gemeente: Dit is reg en goed dat ons die Here dank.

Voorganger: God wat U bekendmaak, U stuur die lig van ’n Ster
en in daardie lig sien ons die waarheid van wie U is en wie ons is.
Soos U die wyses geroep het, roep U ons om U te aanbid,
maar soos die wyses maak ons die fout om nie te besef waar U werklik is nie,
en waar ons behoort te wees nie.
En tog lei U ons na U toe en in Jesus se vleeswording ontmoet U ons.
U word wat ons is sodat ons kan word wat U is.
Maak ons deel van die hemelskaar wat ewig u lof besing rondom u troon.
Gemeente: Sing Lied 174 “Heilig, heilig, heilig, Here, God van mag”.

Voorganger: God van Wonders, soos die wyses gawes van goud, wierook en mirre gebring het,
bring ons nou hierdie gawes van brood en wyn.
In hierdie gawes sien ons u pad van smarte: u Seun word gekruisig,
maar ons sien ook die wonder van hoe U Hom opgewek het om ewig ons Koning in heerlikheid te wees.
Stuur u Heilige Gees, sodat ons kan ontdek wat dit beteken om aan U te behoort,
om een van hart met U te lewe,
en sodat hierdie brood van ons arbeid en die wyn van ons viering vir ons
die liggaam en bloed van u Seun Jesus Christus sal wees;
u Seun wat aan tafel saam met sy dissipels brood geneem, U daarvoor gedank, dit vir hulle gegee en gesê het: “Neem, eet: dit is my liggaam wat vir julle gegee is, gebruik dit tot my gedagtenis.” Net so het Hy na die maaltyd die beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
Groot is die misterie van ons geloof.

Gemeente:
Christus het gesterf,
Christus het opgestaan,
Christus kom weer.

Voorganger:
God van wysheid, soos die wyses goud gebring het, bring u hele kerk tot aanskouing van u heerlikheid.
Soos die wyses wierook gebring het, deurdring almal wat na U soek met die skoonheid van u heiligheid.
Soos die wyses mirre gebring het, lawe wat dié wat ly se wonde, tot die tyd aanbreek dat U die hele skepping met geregtigheid en genade sal vul.
Kom na ons in hierdie feesmaal en herstel u beeld in ons, omring ons met u teenwoordigheid en berei ons voor vir die vryheid waarin ons soos U Seun sal wees, deur wie en tot wie, in die eenheid van die Heilige Gees, al die eer en die heerlikheid behoort, nou en tot in ewigheid.
Gemeente: Sing Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel”.
Uitdeel en gebruik van die brood en die wyn

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 353:1-3 “Die Heiland is gebore”

Seën
Lied 364:3 “Ere in die hoogste hemel”

Preekstudie – Jesaja 60:1-6

Teks

1. Die hele hoofstuk is waarskynlik ‘n geheel waarbinne vers 1-3 en 4-9 onderafdelings is. Ek sou dus vers 1-9 lees, eerder as om by vers 6 te eindig.

Dat die geheel uit die tyd ná die terugkeer uit die ballingskap kom, word algemeen aanvaar. Die verwysings na die nuwe dagbreek (v 3) en die terugkeer van Jerusalem se “kinders” (v 4) maak dit duidelik. Dit word verder bevestig deur die taalgebruik (laat vorme) en die feit dat hier suiwer heilsverkondiging is, sonder oordeel of waarskuwing. Al kan vers 7 denkbaar impliseer dat die tempel reeds herbou is (of in aanbou is), is dit waarskynliker ‘n toekomsblik. “Kinders” is nog besig om terug te keer, wat dui op ‘n ontstaanstyd kort na die terugkeer.

Behalwe in vers 7b, waar al die ou vertalings die Qumran-manuskrip volg, asook vers 9a, is die Hebreeuse teks nie problematies nie. Die vertaling van digterlike taal is egter altyd moeilik. Die NAV vertaal dikwels verklarend, wat voor- en nadele inhou. Die meer letterlike OAV is meestal beter in digterlike gedeeltes, maar hierdie is kwalik groot digkuns. Enigeen van die twee kan dus gebruik word.

2. Die struktuur is redelik eenvoudig. Vers 1-3 begin met ‘n oproep tot Jerusalem en word beheers deur die gedagte van ‘n nuwe dagbreek (die “opgaan” in die OAV dui in Hebreeus dikwels op sonsopkoms). Vorme van die woorde vir “lig” en “sonsopkoms” kom elk drie maal voor. Jerusalem moet lig uitstraal, want Jahwe het nuwe lig gebring daarvoor (v 1). Die lig word verbind met Jahwe se “heerlikheid” (OAV, beter as NAV se “teenwoordigheid”). Waar dit is, is daar lig; waar dit ontbreek, heers duisternis (v 2). Daarom stroom alle nasies en konings na Jerusalem (v 3).

Vers 4-9 brei uit op vers 3. Die tweede oproep tot Jerusalem is om bloot te kyk hoe alles nou soontoe stroom, eerstens oor land (v 4-7) en tweedens van die see af (v 8-9). Naas die verstrooide “kinders” wat terugkeer (v 4,9), kom daar ook die skatte van die nasies, kosbaarhede en vee. Dit alles dien om enersyds Jahwe te vereer en andersyds om Jerusalem te verhef (v 7b,9b). Wat begin by God se heerlikheid en die verheerliking van Jerusalem, eindig met die steeds groter glorie vir God en Jerusalem.

3. Aangesien die ommekeer essensieel Jahwe se werk is, is dit interessant dat die eerste woorde Jerusalem tot handeling oproep. Die eerste woord, letterlik “staan op!” (OAV), is in Hebreeus die standaard manier om iemand tot handeling aan te spoor, soos die Afrikaans “kom” (NAV). Jerusalem moet die lig wat God daaroor laat skyn, reflekteer. Jahwe se “heerlikheid” ( kavōd ), wat volgens Esegiël 11:23 die tempel verlaat het vóór die verwoesting van die stad, het teruggekeer (vandaar die NAV). Sommige sien hier eggo’s van die epifanie (Godsverskyning), maar eintlik is net een element daarvan teenwoordig: Waar Jahwe verskyn, is daar lig.

Al geld hierdie “nuwe dagbreek” vir Jerusalem, trek dit ook die aandag van die ganse wêreld wat in duisternis gehul is. Die gedagte dat Jahwe se heilswerk vir Israel ‘n “sendinguitwerking” sal hê, kom ook in Jesaja 40-55 soms voor. Weens die goddelike lig wat daar vertoon word, word Jerusalem ‘n magneet vir ander.

4. Die tweede oproep (v 4) is nie tot handeling nie. Jerusalem kan bloot toekyk hoe die herstel plaasvind. Eerstens kom die “seuns en dogters” terug, sommige uit die ballingskap en ander stellig uit die plekke waarheen hulle destyds gevlug het (v 4b).

Die gedeelte oor die dogters skep vertaalprobleme, dus verskil moderne vertalers van mekaar. Dat hulle “op die heup gestut” word (na aan die OAV), maak vir my die beste sin – ouer kinders word immers dikwels so gedra. Die NAV is dalk net moontlik reg in die sin van “op die heup vertroetel”. Diegene wat destyds uit hulle land verdryf is, word nou met sorg teruggebring. Oor die seksistiese aanname dat juis die vroue sorg verdien het, swyg ek! Die bewing van vrees (voor die ballingskap) word nou die bewing (ontroering) van blydskap (v 5a).

Die land wat herbevolk word, moet ook weer voorsien word van die kosbaarhede wat destyds as buit geroof is. Die kamele van vers 8 dui waarskynlik op die kameelkaravane wat die rykdomme van vers 5b vervoer. Die Midianiete en Efatiete, ‘n Midianitiese groep, was kameelnomade, eerder as ‘n ryk nasie. Die verwysing na Skeba, ‘n handelstad in Suid-Arabië, mag sinspeel op die herstel van Salomo se gloriedae. Vers 6b suggereer dat hierdie geskenke nie afgepers is nie, maar as vrywillige gawe gebring word om Jahwe as koning te vereer (die skatting wat aan die heerser toekom).

Juis daarom word die kleinvee uit Kedar en Nebajot (bekend vir hulle kuddes) nie as besittings geskets nie, maar as offerdiere. Hulle “dien” Jerusalem (OAV) deur as’t ware vrywillig die altaar as aanvaarbare offers te bestyg (Westermann). So sal die tempeldiens volkome herstel word en sal die “heerlike huis” – altyd heerlik as Jahwe teenwoordig is – weer verheerlik word. Die OAV is hier beter as die NAV. In die agtergrond staan die gedagte dat die tempel die paleis van die goddelike Koning is. Dat Jahwe hier aan die woord is, gee die hele gedeelte die aard van ‘n toesegging.

5. Vers 8-9 herhaal die temas van die vorige gedeelte, met die klem op die toestroming van die see af. Tarsis was vir die seehandel wat Skeba vir die karavaanhandel was. “Kinders” sowel as skatte kom, met Jahwe se heerlikheid as die eintlike trekpleister. Jahwe se “Naam” (hier “roem”) is weer gevestig deurdat Jahwe Israel verheerlik het (9b). Hierdie magtige daad bevestig Jahwe se heerskappy. Soos by vers 4-7 sluit die gedeelte dus met God se verheerliking. In hierdie gedeelte is die NAV in vers 9a (klein tekswysiging) beter en die OAV beter in vers 9b.

Konteks

1. Al het slegs ‘n breukdeel van Juda se bevolking, die gesiene en bekwame deel, in ballingskap gegaan, het die ramp almal getref. Die simbole van volksidentiteit (Jerusalem, die tempel, die koningskap, besit van die land) was verlore. Sommige was ballinge (nie slawe nie!) in die vreemde. Ander het uitgewyk na plekke soos Egipte. Nog ander was leierlose onderhoriges aan die Babiloniërs in ‘n land wat nie werklik meer hulle eie was nie.

Om weer hoop by moedelose mense te kweek, is nooit maklik nie. Die naamlose profeet wat in Jesaja 40-55 die terugkeer uit ballingskap aankondig, het as’t ware ‘n tweede Eksodus, ‘n “wedergeboorte” van Israel beloof. Al het die terugkeer werklikheid geword, het hierdie werklikheid nie aan die grootse verwagtinge voldoen nie. Die “tuisland” waarvan hulle gedroom het, was inderwaarheid die klein Persiese provinsie Jehud. Die wonderlike Jerusalem waarvan hulle gehoor het, was sonder stadsmure of tempel. Die ballinge kon ook nie eenvoudig hulle “erfenis” terugeis nie. Ander mense het reeds die grond bewerk. Van hulle was sommige Judeërs wat die ballingskap vrygespring het, ander was vreemdelinge uit omliggende gebiede, en nóg ander waarskynlik van gemengde afkoms. Die gebied was immers net maar ‘n onderdeel van die groot ryk waarvan hulle almal onderdane was.

Hulpbronne vir die “hervestiging” was stellig skaars. Die klompie teruggekeerdes kon hulleself beswaarlik handhaaf. Vir ander in die verstrooiing, het die terugtog onaantreklik gelyk. Die ballinge was immers nie (in die moderne sin van die woord) slawe nie. As mense met vaardighede, het heelwat seker goed gevaar in hulle nuwe tuistes. Ook diegene wat na ander gebiede gevlug het, het reeds vir hulleself nuwe lewens geskep. Vir hulle om agter te laat wat hulle gehad het om ‘n onseker toekoms tegemoet te gaan, sou ‘n geloofsdaad soos dié van Abraham wees (vgl Gen 12: 1-3). (In Hebreeus word een woord, meestal met “dienaar” of “dienskneg” vertaal, gebruik om alle verhoudinge van onderhorigheid aan te dui. “Dienaar van die koning” kon beteken “slaaf” of “hoë amptenaar”. In die breedste sin was alle onderdane “dienaars” van die koning. Daar is geen rede om te glo dat die ballinge “slawe” in die moderne betekenis was nie.)

2. Jesaja 60 maak alleen in hierdie konteks sin. Voor die ballingskap is sulke ongekwalifiseerde heilsboodskappe met valse profete verbind, terwyl ware profete (minstens ook) die volk op hulle sondes gewys het. Profetiese woorde is nie tydlose waarhede nie, maar Godswoorde wat aan spesifieke mense in spesifieke situasies gerig is. Wat in een konteks nuttig en noodsaaklik is, is in ‘n ander konteks misleidend en selfs gevaarlik.

Praat God dus uit twee monde? Hendrikus Berkhof praat in hierdie verband van God se “veranderbare trou”. Wanneer God op verskillende tye verskillend praat en optree, is dit telkens om binne daardie konteks God se onwrikbare trou aan mense te herbevestig. Die gedagte is glad nie so vreemd nie. Menslike ouers doen presies dieselfde met hulle kinders. Die astrante kind word in die bek geruk; die verpletterde, moedelose kind word aangemoedig. Albei optredes toon die ouer se besorgdheid oor die kind se behoeftes. Dit sou verkeerd wees om die besonderhede van die heilsbeloftes in Jesaja 60 los te skeur van die kernbelofte van God se troue sorg. Die “geskenke” (lig, rykdom, heerlikheid) kan nie van die Skenker geskei word nie, maar is juis uitvloeisels van Jahwe se teenwoordigheid.

3. Sulke heilswoorde kan vir ons gevaarlik wees. Dit is maklik om in ons voorregte God se lig oor ons te sien en ander se lyding ligtelik op te neem. Wat in ons bankrekeninge invloei, is mos wat ons beloof is, of hoe? Volgens die welvaartsevangelie is ander se duisternis die natuurlike gevolg van hulle goddeloosheid, terwyl ons welvaart suiwer tot verheerliking van God dien. Dit is alles in die Bybel!

Dié woorde was destyds al gevaarlik. Die teruggekeerdes wou hulle ou status en welvaart (wat seker met die oorvertel gegroei het) terughê. Hulle was mos die elite. As die omliggende nasies ryklik wou voorsien, sou dit wonderlik wees. Intussen was die beskikbare eiendom in die land in die hande van ander mense – wat ook geswoeg het om dit te verwerf. Dit was gerieflik om sulke mense as vreemdelinge (koloniste!), “basters” of afvalliges te beskou, bloot die werkersklas wat weer hulle plek moes ken. Hierdie verhaal, soos baie verhale in ons land, het baie kante.

Selfs destyds kon sommige hoorders bloot beloftes van welvaart hoor. Volgens Haggai 1:4 en Maleagi 1:13 het die teruggekeerdes hulle weinig aan die herbou van die tempel en die herstel van die offerdiens gesteur. Wat ander in hulle raakgesien het, was nie God se heerlike teenwoordigheid nie, maar bloot selfsug en selfverryking – gans te gewoon om oor gaande te raak. Tussen die verduistering van valse hoop vóór die ballingskap en die duisternis van wanhoop tydens die val van Jerusalem, was ‘n smal treetjie. So ook tussen verslaenheid en verwaandheid ná die terugkeer.

4. “So is mense maar!” Daarmee omarm ons die halflig waarmee goedkoop sinisme as wêreldwysheid deurgaan en elke teken van God se dagbreek as deel van die godskemering geld. Hierdie skemerbestaan, al is dit onopwindend, is minstens “rein” – sonder afskuwelike sonde (alles “bloot menslik”) of skrikwekkende hoop (alles “blote illusies”). As daar maar ‘n tikkie egte desperaatheid in hierdie steriele bestaan kon inkruip, sou ons dalk God se dagbreek kon sien kom – en dalk selfs gewone dagbreke raakgesien het.

Om Eliot se woorde om te keer, tussen vals hoop en wanhoop, tussen verslaenheid en verwaandheid, val God se lig. Wanneer ons dit per ongeluk raaksien, bêre ons dit nadat ons dit kortliks geniet het, versigtig in die laai gemerk “vir latere aandag”, “abnormale gebeurtenis” of “nostalgie” – of in een of ander leerstelling. Die gedagte dat ons daardeur verlig kan word, dat die lig vastrapplek in ons kan kry, is net té vreemd. “Oh, see the darkness yielding that tore the light apart” (Leonard Cohen) klink vir ons verkeerd, want vir ons is die duisternis, eerder as die lig, die norm. Maar “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig” bly spook by ons.

5. “Staan op; word verlig (skyn)” is ‘n eienaardige bevel. Die eerste oproep is tot aktiwiteit, maar om lig te word of te skyn, is skaars ‘n doelbewuste aktiwiteit. Trouens, die Hebreeuse werkwoord word nie elders so in die bevelsvorm gebruik nie. Hierdie oproep tot “passiewe aktiwiteit” staan vóór die beloftes en beheers as’t ware die hoofstuk. Die ommekeer vir die ballinge was God se werk alleen. Hulle “opstaan” was nie ‘n opstand teen hulle oorheersers nie. So het daar, sonder hulle medewerking, vir hulle relatiewe verligting gekom. Om egter “ligmense” te word, moes hulle uit die duisternis opstaan. Die heerlikheid van God word immers nie volkome in objekte en gebeurtenisse vertoon nie, maar slegs in mense wat daardeur verlig is. Die nasies kom na God se lig omdat dit in Jerusalem – die mense – weerspieël word.

Om presies te sê wat hier aangaan, gaan my vermoëns te bowe. Tog is dit wat ook die Nuwe Testament dikwels sê. Die vraag wat dringender is, is of ons ver genoeg uit ons halflig kan opstaan om God se dagbreek deel van ons lewe te maak. Om te getuig “En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig [of eens begryp] nie” (Joh 1:5), is altyd ‘n geloofsdaad. Dit lê ver anderkant sonde en straf, deugde en belonings.

Preekvoorstel

1. Om bogenoemde redes sou ek vers 1 as sleutelvers kies en “lig, verligting, lig vertoon” as kerngedagtes. Die kontras tussen lig en duisternis (v 2) is vanselfsprekend. Die halflig van ons lewe verdien egter ook aandag.

2. Skets eers die toestand ná die ballingskap. Die teruggekeerdes het “lig na die duister” verwag, maar hulle werklikheid was bra vaal. Vir sulke mense – verslae eerder as desperaat – word ‘n nuwe dagbreek belowe. Die beloftes is asemrowend: hereniging van die volk (kinders wat terugkeer), rykdom en eer onder die nasies, die heerlike teenwoordigheid van God.

3. Dié beloftes is verregaande, sou ons wou sê. So gebeur dit nooit en het dit ook nie destyds gebeur nie. In elke dagbreek, is daar mos ‘n tikkie skemer. Die skerp kontraste van die Bybel het met die werklikheid min te make. Hier kan voorbeelde van misleidende “dagbreke” uit ons land genoem word. Mense kry hulle “erfgrond” terug, maar sonder hulpbronne, en hulle sukkel veel méér. Boonop kom elke stukkie vordering ten koste van ander – soos destyds ná die ballingskap. Aan albei kante skyn “verligte eiebelang” die vernaamste lig te wees.

4. En dit is mos normaal. Behalwe in dagdrome, was die verlede g’n suiwer lig nie; die hede is maar middelmatig; van die toekoms kan ons hoogstens effense verligting verwag. Gelukkig het die doemprofete ook oordryf: Vir byna almal van ons is die duisternis nie so oorweldigend nie. Vir die uitsonderings voel ons innig jammer. Ons eie grysheid kan ons hanteer, want ons amuseer onsself, seksueel en andersins, met “fifty shades of grey”. “Multiply variety in a wilderness of mirrors”? Daarmee is ons uitstekend.

5. Die valse profete in Jeremia en Esegiël se tyd het die volk verseker dat hulle die Babiloniërs kon weerstaan. Daaruit het hulle nasate seker ‘n dure les geleer, soos ons geleer het uit ons ondervindings met piramiedskemas en welvaartsevangeliste. “What sounds too good to be true, is untrue.”

Dwaalligte sal ons nie weer verblind nie. Ons is gepantser teen hoop. Hoe jammer dat party ou en nuwe profetewoorde nog verloklik op die oor val, dat ou beelde van dagbreek en lig sulke diep wortels in ons persepsie het dat ons aan verstrooide “rumours of angels” nie heeltemal kan ontkom nie. Ons kan darem soos Plato die digters (en profete en sommige pop-sterre) uit ons skemerstad verban na die buitewyke wat ons net met vakansies besoek.

6. Met “staan op, word verlig” weet ons nie raad nie. Die beloftes wat daarná volg, kan ons nog afmaak: Presies so het dit immers nie gebeur nie. Maar gestel die dagbreek was daar en niemand het dit raakgesien nie? Miskien was niemand daarvoor opgewasse nie, “they did not rise to the occasion”. Dalk het die lig getaan omdat dit in geen mense vastrapplek gekry het nie. Dit word nie in die geskiedenis gereflekteer nie omdat dit in geen lewe gereflekteer is nie. Of het ‘n paar, ‘n minderheid, dalk destyds die lig beleef, daaruit geleef en dit in hierdie hoofstuk uitgestraal? Enkele menselewens is klaar méér as ‘n biblioteek vol geskiedenisboeke.

7. Dan weer: Wat word eintlik van ons gevra? Almal vra ons om vir iets op te staan. Heelwat vra ons om in opstand te kom. Ons is minstens soms bereid om aktiviste te wees, veral as dit ons in die kollig bring.

Kan ons nog leer om aktief ontvanklik te wees, om God se lig so op te neem dat dit ons omstraal? Ons glimlag nou oor die stralekranse oor ou heiliges se koppe en Moses se stralende gesig. Vertel dit ons niks meer van die indruk wat sulke mense op ander gemaak het nie? Minstens maak dit volgens ons leer heeltemal sin dat die gesig van iemand wat in God se heerlike teenwoordigheid was, daarna sou straal. Dalk lag ons bloot uit verleentheid. Niemand sal ons só uitbeeld nie.

8. Die volkere en hulle skatte stroom deesdae nie juis na die kerk toe nie (vgl 3-6). Al kry die kerk nog effens aftrek as “stem van die stemloses”, as morele kompas en as welsynsorganisasie, soek niemand juis dáár lig nie. Bogenoemde kerklike aktiwiteite is nuttig, nodig en bowenal uiters respektabel, aangrypend is dit egter nie. Trouens, die aktivisme is soms skril, die moralisme eng en die goeie werke halfgebak. Die kerk steek kersies op (en moet dit ook doen), maar toon selde iets van God se heerlike teenwoordigheid. Die “star act” makeer.

9. Praat Jesaja 60 nog met ons? Ja, mits ons nog nie finaal vrede gemaak het met die skemerlig nie en steeds, soos David Copperfield sê: “I want more!”
(In hierdie preekstudie het ek my heelwat sarkasme veroorloof, omdat ek skryf uit die wêreld waarin ek fisies en meestal ook geestelik, leef. Ek preek vir myself.)

Bibliografie

Kommentare: J Blenkinsopp (Anchor Bible), BS Childs (OTL), PD Hanson (Interpretation), JL Koole (HCOT), JN Oswalt (NICOT), CR Seitz (NIB), JDW Watts (Word), C Westermann (ATD), RN Whybray (NCB).

© Missio 2024 | All rights reserved.