Epifaniefees

Sections

Oorsig

Epifanie is ’n Griekse woord wat met “verskyning” of “manifestasie” vertaal kan word. Die teologiese betekenis hiervan kom duidelik na vore in 2 Timoteus 1:10: “Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.” Epiphaneia word hier vertaal met “koms”. Dit verwys na God wat in Jesus Christus verskyn het. In hierdie tyd word daar veral aandag geskenk aan die besoek van die sterrekykers, die doop van Jesus en sy eerste wonderwerk. In al drie gebeurtenisse word Jesus se Godheid en koningsheerskappy sigbaar. Die klem val deurentyd op dit wat Jesus hier op aarde geleer en gedoen het. Die motief van lig is van die begin af gebruik om uitdrukking te gee aan Jesus se koms na die aarde. Hy is die Lig vir die wêreld en as Lig skyn Hy in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie. Later noem Jesus ook sy dissipels die lig vir die wêreld en gee daarmee aan hulle die verantwoordelikheid om as sy volgelinge te gaan lewe.

Ander tekste

Jesaja 60:1-6
Nasies kom na jou lig toe
60 Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see
word joune,
die skatte van die nasies
kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.

Psalm 72:1-7, 10-14
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.
8Mag hy heers van see tot see,
van die Eufraat af
tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners
voor hom kniel
en sy vyande voor hom
in die stof kruip.
10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
geskenke bring,
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep,
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking
en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees
in sy oë.

Efesiërs 3:1-12
Paulus se werk onder die heidennasies
3 Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.
2Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.

13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.

Fokusteks

Matteus 2:1-12
Besoek uit die ooste
2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:
6En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 345 “Kom alle getroues”

Votum
Die volk wat in donkerte geleef het,
Het ‘n groot lig gesien,
Oor dié wat in die donker land was,
Het ‘n lig geskyn.
(Jes 9:1)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle!

Lofsang
Lied 374 “‘n Ster het in die ooste”
Lied 376 “Wyses het u ster gesien”

Gebed

Liedere

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Opsie 1
luit aan by die verhaal van die wyse manne wat vir Jesus geskenke gegee het.  Herinner die kinders dat ons met Kersfees Jesus se verjaarsdag gevier het.  Omdat Jesus homself vir ons gegee het, gee ons met Kersfees vir mekaar geskenke.  Maar ons kan ook vir Jesus ‘n geskenk gee – onsself,  Wanneer ons ons lewens vir hom gee en leef om sy wil te doen en hom te eer.  Laat die kinders vorentoe kom en smeer hul handjies met “body glitter” om hulle te herinner dat hulle self ‘n geskenk is wat hulle vir Jesus gee.  (As jy nie “body glitter” kan kry nie, probeer Nivea Body Shimmer Lotion of enige poeier/grimering met ‘n “shimmer”-effek.  Jy behoort dit baie goedkoop te kry by enige winkel.)

Laat die gemeente Lied 349 “Kom, kinders, begin met ‘n vrolike stem” sing terwyl die kinders vorentoe kom.

Opsie 2
Sluit aan by die preek se “eureka-ervaring”.  Verduidelik vir die kinders van “stereogramme” – prente wat sommer na ‘n klomp gemorsde verf lyk.  Wanneer jy egter jou oë uit fokus laat gaan, amper ágter die prent kyk, sien jy ewe skielik ‘n drie-dimensionele prent!

  • ‘n Stereogram van ‘n kersfees-engel.
  • Kyk hier vir ‘n komp verskillende opsies om van te kies, o.a. nog Kersfees-prente.
  • Maak jou eie stereogram.

Preekriglyn

“Eureka!”  Só het die antieke Griekse geleerde, Archimedes, oor en oor geroep terwyl hy kaal in die straat af genael het.  Archimedes het pas vantevore in die bad geklim, en skielik opgelet dat die wateroppervlak styg.  Hoe gereeld hy gebad het, weet ons nie, maar dié spesifieke dag kliek hy die volume van die water wat verplaas word, is gelyk aan die volume van sy liggaam in die water.  Verder kliek hy dat die volume van ongelyke voorwerpe sodoende presies gemeet kan word.  Dit was voorheen ‘n onoplosbare probleem.  Sedertdien staan dit as die Archimedes-beginsel bekend.

Vandaar Archimedes se “Eureka!”  “Ek het die lig gesien!”  Só opgewonde, dat hy kaal deur die strate van Sirakuse genael het.

Archimedes se insig het gelei tot die oplossing van ‘n probleem wat deur Hiero van Sirakuse geformuleer is, naamlik hoe om die suiwerheid van ‘n goudvoorwerp te bepaal.  Hiero het suiwer goud aan sy goudsmid voorsien om ‘n kroon te maak.  Hy het die goudsmid egter daarvan verdink dat hy ‘n gedeelte van die goud met ‘n gelyke gewig silwer vervang het.  Voorwerpe kon teen daardie tyd akkuraat geweeg word, maar met Archimedes se ontdekking kon die volume van ‘n voorwerp met die gewig daarvan verbind word, om so die digtheid daarvan te bepaal.  Die digtheid van goud gemeng met silwer verskil van dié van goud alleen.  Probleem opgelos.  Goudsmid uitgevang!  (Bron: Wikipedia)

“Eureka!”  “Ek het die lig gesien!”

Om lig te sien

Ons ken almal ‘n “A-ha” moment waar jy skielik die lig sien.  Vandag is die eerste Sondag in dié tyd van die kerkjaar wat ons epifanie noem.  Epifanie is ‘n Griekse woord wat openbaring, manifestering, of verskyning beteken.  Ons dink na Advent en Kerstyd aan die verskyning van Jesus Christus in die wêreld.

Epifanie het egter ook ‘n tweede betekenis, naamlik die skielike insig wanneer jy iets verstaan.  Jy kliek skielik iets, en dit verander jou lewe.  “A-ha!” Ons praat hier van ‘n geloof-eureka.  Aan die een kant verskyn God se openbaring (eerste betekenis van epifanie), maar aan die ander kant kliek ons dit, snap ons die betekenis van God se openbaring.  “Eureka!”  Die lig gaan vir jou aan.  Jy sien die ewige lig in die lig wat van Christus uitstraal.

Verhale van lig sien

Die kerk se geskiedenis wemel van die verhale van mense wat die lig in Christus gesien het.
‘n Bekende voorbeeld is Martin Luther wat uit die Romeinebrief ontdek het ons word geregverdig deur die vrye guns van God
Dink aan Paulus wat die lig op die pad na Damaskus gesien het.  Hy het Jesus ontmoet, en in ‘n oogwink verander van ‘n vervolger na ‘n apostel in diens van die lewende Here.

Die sterrekykers sien die lig

Ons teks vertel van die sterrekykers uit die ooste wat in Jerusalem opdaag en vra: Waar is die pasgebore Koning van die Jode?  “Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”  Die sterlig was reeds vir die sterrekykers ‘n eureka-moment, reeds in die sterlig sien hulle die Lig.

Wie was hierdie sterrekykers?  Hulle was volgelinge wat deur Zoroaster begin is, wat bekend staan aan – hou vas – Zoroastrianisme.  Die Jode het reeds tydens die ballingskap in Babilonië met hierdie beweging kennis gemaak.

Zoroaster het in die 6de eeu v.C. opgegroei in wat vandag bekend staan as Iran.  Op 15 het hy ‘n heidense priester geword, en vyf jaar later ‘n pelgrimsreisiger wat gefokus het op intense geestelike nadenke en ‘n soeke na waarheid.  Op dertig het hy ‘n openbaring ontvang dat die enigste ware God Ahura Mazda is.  Zoroaster word sodoende die stigter van ‘n monoteïstiese godsdiens, d.w.s. ‘n godsdiens wat glo dat daar net een God is.

Volgens Zoroaster is die ware God in stryd met ‘n vyandige gees.  Mense het ‘n vrye keuse om goed of kwaad te kies.  Watter kant mense kies, sal uiteindelik bepaal watter kant – die goeie God of die vyandige gees – wen.  Maar diegene wat die goeie kies, sal die hemel beërwe, en die wat die slegte kies sal in die hel gestort word.

Zoroastrianisme het soos ‘n veldbrand deur die destydse ooste versprei.  Koning Kores, wat toestemming verleen het dat die Jode terugkeer na hul land, se seun Darius was ‘n Zoroaster.  Dié godsdiens het dus geweldige invloed in die Persiese Ryk uitgeoefen.  Met die aanstap van die eeue het Zoroastrianisme egter gekwyn, sodat daar net ‘n paar volgelinge oor was teen die tyd dat Jesus gebore is.

Die wyse manne of sterrekykers van Matteus 2 was professionele Persiese priesters, bekend vir hulle goeie kennis van die sterrekunde, en bewaarders van die geskrifte van Zoroastrianisme.  Die Grieke het hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer.  Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel. (Rodney Stark, The triumph of Christianity, p 11vv)

Hierdie sterrekykers het ernstig op God gefokus en was geleerdes van formaat.  Ten spyte van hul soeke na God, het hulle nog nie ‘n geestelike “a-ha”-moment ervaar nie.  Hulle geestelike eureka kom eers wanneer hulle die teken van die nuutgebore Koning van die Jode in die sterre sien, en die reis na die stal aanpak.

Zoroaster se pelgrimstogte en worsteling met geestelike waarheid, en sy strewe na die dien van die enige en ware God, oor 600 jaar voortgesit deur sy formidabele volgelinge, vind vervulling wanneer die drie sterrekykers by die krip in Betlehem buig en hulle goud, wierook en mirre voor die Baba neerlê.

In Christus sien hulle die lig.  Zoroaster se soektog kom by die ware God uit, deur die weg wat die Vader in die mensgeworde Jesus berei het.

God se wegwysers na die Lig

Die wyse waarop die sterrekykers by Christus uitkom, belig die karakter en aard van God se werk in die wêreld.  Die sterrekykers staar na die sterre om wysheid te kom.  Daar, op die plek waar hulle soek, kry hulle ‘n wegwyser, ‘n roete-aanwyser, ‘n bordjie langs die pad, wat die weg na Christus wys.  Vir voormalige Zoroasters moet die mooiste verse in die Bybel die volgende wees:

En kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was.  Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly.  Hulle het in die huis ingegaanen die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys.  (2-9-10)

God betree die wêreld van die Zoroasters en wys vir hulle die pad.  God raak die plek van hulle soeke aan, en skenk hulle ‘n Eureka-moment in Christus.

Dit beteken dat  ons mense se worsteling om God te vind altyd ernstig moet neem.  God is gereed om mense te die weg na die Weg te wys op die plekke waar hulle soek.

Die antieke wêreld van die Jode, die ou Nabye Ooste, en later die Grieke, en nog later die Romeine was ‘n wêreld behep met offerandes.  Offers was die manier waarop mens God se guns verkry het.  God stuur God se Seun as offer vir ons sonde.  Jesus Christus se offer word die wegwyser vir miljoene om God deur Jesus te vind.

Die bekende missioloog Lamin Sanneh, self ‘n bekeerling uit Islam, toon uitvoerig in sy navorsing aan hoe die Christelike geloof soos ‘n veldbrand deur Afrika versprei het spesifiek waar Bybelvertalers die tradisionele kulturele naam vir God oorgeneem het in die Bybelvertaling.  Waarom is dit so?  Sanneh sê God het die sendelinge en Bybelvertalers vooruitgegaan.  God het in die tradisionele kulturele gewerk en God self bekend gemaak lank voor die getuies oor Christus opgedaag het.  Toe die boodskappers kom, en die ware God verkondig, het die plaaslike mense Hom herken.  Hulle was gereed daarvoor.

Christene uit alle kulture van die wêreld vertel verhale hoedat hulle pad met God gekruis het in hul soeke na die waarheid.  God laat God vind op grond van God se openbaring.

Die gawe om die Lig te sien

Paulus, Luther, die sterrekykers, mense van alle kleure en geure, ontdek dat ons God ontdek omdat God God self gee en tot by ons kom.  God doen dit deur die baba wat in Bethlehem gebore is en deur sy moeder in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê is.  God skenk die eureka-moment.

Ons vind God nie omdat ons so bekwaam is nie.  Ons kan nie self die pad na God oopbreek nie.  Ons het wegwysers nodig.  God gee dit.  Dit is ‘n gawe om die Lig te sien, te herken, en voor die Lig te buig.

Om voor die Lig te buig

Nie alle mense wat die Lig sien, herken die Lig, of buig daarvoor nie.

Die boodskap dat die Koning gebore is, bereik die sterrekykers, en deur hulle ook vir Herodes, die mense van sy paleis en die elite van Jerusalem.  By Herodes en sy kring skep die boodskap van Lig afguns en vrees.  Hy beraam sluwe planne om die nuwe Koning uit die weg te ruim.

Die sterrekykers herken die Lig, kniel, en bewys hulde.  Hulle gee geskenke as eerbetoon.  Daardie geskenke, die goud, wierook en mirre, verteenwoordig hulle lewens.  Dit bevestig hul eureka-moment.

“A-ha”-momente in die nuwe jaar

Dit is die tyd van epifanie.  Ons sien met geloofsoë die verskyning van die goedheid van die Here 2,000 jaar gelede.  Ons kliek waaroor dit gaan.  Nou moet ons daaruit lewe.

Elkeen van ons moet spesifiek op hierdie stadium van ons lewe Christus opnuut weer raaksien, met nuwe begrip oor die roete wat die Here vir ons wys, nuut uitgedaag om hulde aan Christus te bring en fasette van ons lewe, ons talente en ons vermoëns vir Christus te gee.

Watter wegwysers gee die Here in jou lewe en jou wêreld vir jou oor die koers wat Hy wil hê jy moet inslaan?  Waarheen wys die bordjie langs jou lewenspad?  ‘n Paar toepassingsmoontlikhede:

Een: In die moderne Westerse kultuur is baie gelowiges nog vasgevang in ‘n verstikkende rasionalisme.  Ons wil alles verstaan.  Sien is glo.  Wat ons nie kan kleinkry nie, staan ons nie aan nie.  Baie mense verloor hulle geloof hieroor.  Daar is te min wat konkreet bewys kan word.  Watter sterre wat koers vir rasionaliste aanwys, sal ons na Christus en na aanbidding en verwondering oor die goedheid van God lei?  Dalk ‘n beter en dieper lees van die evangelies in die komende jaar?  Sal die sterretekens dalk ‘n paar goeie boeke wees met gelowige navorsing oor die bediening van die historiese Jesus?  Sou NT Wright se nuwe “Simply Jesus” ‘n baken kan wees wat na toewyding en geloof lei?

Twee:  Ons kultuur prys selfsug en gierigheid aan.  “Dis tog so mooi as mense die waarde van geld besef en goed doen vir hulleself.”  Hoe daag die Here jou vanjaar uit om goud, wierook en mirre op Jesus, en die voortgaande bediening van Jesus in die wêreld te spandeer?  Hoe daag die prys wat God betaal het om God se goedheid in die vleesgeworde Jesus in hierdie wêreld te laat verskyn, jou uit om te belê – met geld, tyd en talente – in wat God belangrik ag in hierdie wêreld?

Drie:  Elkeen van ons moet God dank vir die eureka-momente rondom geloof wat ons reeds in ons lewens beleef het.  Ons kon Christus as Verlosser van die wêreld sien, herken en toeëien.  Tog is daar nog plekke en terreine in jou lewe waar die Gees klop en besig is om “a-ha” te bewerkstellig.  Iemand vertel nou die dag van ‘n deurbraak in sy huwelikslewe.  Daar was ‘n “a-ha” in sy verhouding met sy vrou en drie seuns wat hulle gesinslewe verdiep het – omdat hy verander het.  Wat is God besig om vir jou te sê, en hou sou jy jouself kon oopstel daarvoor?

Vier:  Die Westerse kultuur en kerk is vasgevang in verstikkende indiwidualisme.  Die toepassing van die teksgedeelte kan nie net met indiwidue en hul privaat geloofslewe te doen hê nie.  Dit is ook bedoel vir gemeentes, oftewel geloofsgemeenskappe.  Wat is God besig om vir ons as gemeente te leer?  Hoe kan hierdie gemeente, in hierdie konkrete jaar wat voorlê, vanuit God se ontluikende eureka-momente leef?

Vyf:  Eureka-momente, die sien van die Lig, verg ‘n risiko.  Die sterrekykers moes op ‘n reis vertrek waarvan hulle die uiteinde en die sukses nie vooraf kon bepaal nie.  Paulus het in die stof geval, verblind, en moes baie agterlaat.  Luther het Europa omgekeer, maar dit kon op verskeie momente sy lewe kos.  Daar is altyd ‘n risiko.  Selfs Archimedes – op ‘n ligter noot – het sy waardigheid ingeboet toe hy straat af is.  Dit is wat Eureka-momente so wonderlik vars, lewensveranderend en uitdagend maak.  Daarom moet die gemeente die jaar begin met die gebed dat God die krag en dapperheid sal gee om vanuit die verrassende verskyning van sy goedheid en lig te lewe.

Vorige preekriglyn 2011

[Nota:  Hierdie teks was ook verlede jaar op die preekrooster aangebring.  Die preek wat by daardie geleentheid by Seisoen van Luister gepubliseer is, word hiermee herhaal – vir diegene wat daarna wil kyk en dit dalk nie verlede jaar gebruik het nie.]

Prins William is op 21 Junie 1982 in die St Mary’s Hospitaal in Londen, Engeland gebore.  Hy was die eersgebore van die Prins en Prinses van Wallis, Charles en Diana, en die derde kleinkind van Koningin Elizabeth II en Prins Philip, die Hertog van Edinburgh.  Op 4 Augustus 1982 doop die aartsbiskop van Canterbury, Robert Runcie, hom in die musiekkamer van die Buckingham Paleis.  Aangesien hy gebore is in die manlike afstammingslyn van die monarg, en as seun van die Prins van Wallis, die troonopvolger, staan William bekend as Sy Koninklike Hoogheid, Prins William van Wallis.  Sy ouers noem hom egter Wombat of Wills.

William is weer in die nuus.  Hy trou in 2011 met Kate Middleton.  Dis goeie nuus.  Die manlike geslagslinie van Windsor lyk veilig.
Koninklike geboortes bevestig die voortgang van die koninklike lyn.  Dit is goeie nuus, want dit stabiliseer die monargie.  Die koning kan rustig slaap, daar is ’n opvolger.

Jesus se koninklike geboorte

Jesus se geboorte was slegte nuus vir die koning.  Koning Herodes en die hele koninklike huishouding is hewig ontsteld wanneer die sterrekykers vra:  Waar is Hy wat as Koning van die Jode gebore is? (2:2).

Die koning gooi onmiddellik die staatsmasjinerie in die hoogste rat.  Die priesterhoofde en skrifgeleerdes kom verduidelik waar die Christus gebore sou word.  Skielik is daar ’n alternatief vir sy koninklike posisie.  Herodes is gedisoriënteerd en bedreig.  Antwoorde moet gevind word.

Herodes

Koning Herodes die Grote was koning was van Judea, Idumea en Samaria. Hy was die seun van Antipater en het ongeveer 37 jaar in Judea, Idumea en Samaria regeer.  Jesus is in die laaste jaar van sy regering gebore. Hy was met tien vroue getroud en het etlike kinders gehad.  Herodus het in ongeveer 40 v.C. van die Romeinse owerheid die titel “koning van Judea” ontvang.  Herodus was ’n Idumeër en dus nie van Joodse koninklike agtergrond nie. Hy is in die verkeerde afstammingslyn gebore, en was bloot koning by grasie van die Romeinse onderdrukkers na wie se pype hy gedans het.

Herodus vrees dat die geboorte van Jesus, die koning van die Jode, sy eie heerskappy sou bedreig.

Jerusalem en Jesaja 60

Waarom belê Herodus ’n konferensie met Ou Testamentiese skrifkenners wanneer die sterrekykers opdaag?

Walter Brueggemann, moderne Ou Testamentikus van formaat, verduidelik:  Herodus kom hom op ’n Skrifteks beroep waarin die heerlikheid van Jerusalem besing is: Jesaja 60.  Jesaja 60 was ’n trooswoord aan die Jode nadat Jerusalem in die sesde eeu v.C. met die ballingskap verwoes is.  Die Jode wat 70 jaar later teruggekeer het, moes ’n toekoms in ’n kompeterende wêreldekonomie skep uit die ruïnes van ’n verwoeste stad.

Jesaja 60 voorspel dat konings en rykdom na Jerusalem sal kom.  Die rykdom van die see en die skatte van die nasies sal aan Jerusalem gegee word.  Jong kamele sal die land vul, en almal wat uit Skeba (die ooste) kom sal goud en wierook bring.

Dalk het die sterrekykers uit die Ooste Jesaja 60 geken.  Wanneer hulle die sterretekens sien, weet hulle om die Koning in Jerusalem te gaan soek.  Hulle kom met kamele, en hulle weet om goud, wierook en mirre (’n rare spesery) volgens Jesaja 60 as geskenke te bring.

Herodus het Jesaja 60 geken.  Die nuus van ’n koninklike geboorte ontstel hom.  Die ou orde word bedreig.  Die stabiliteit van Jerusalem en die heersende elite is in die weegskaal.

Verkeerde teks

“Wat is die storie met kamele en goud, wierook en mirre,” wil Herodus by die skrifgeleerdes weet.  “Vertel my van Jesaja 60!”  Die geleerdes, sê Brueggemann, het nie veel van ’n keuse nie: “Koning, jy het die verkeerde teks beet.  Die wyse manne daar buite gebruik ook die verkeerde teks.  Jesaja 60 mislei julle want dit voorspel Jerusalem sal groei en met groot stedelike rykdom bloei, en herstel word as die sentrum van die wêreldwye ekonomie.  Dié teks skep ’n scenario waar die stedelike elite en koninklike maghebbers kan voortgaan om mag en prestige te versamel.  Vir gewone mense verander niks.

Herodes, sê Brueggemann, hou niks van die praatjies nie.  Hy wil weet of hulle ’n beter teks het.  Die akademici is benoud oor wat nou kom.  Met angs en bewing – sê hulle die regte teks is Miga 5:
En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”

Miga 5 verteenwoordig die stem van hoop vir die toekoms.  Hoop dat die ekonomiese supermoondhede, die politieke maghebbers, die toringblokke van banke, die stedelike politieke magspeletjies nie die laaste woord sal spreek nie.  Uit Betlehem-Efrata, klein onder die families in Israel, sal daar een kom wat as Herder regeer.  Hy sal ware heil bring, nie deur politieke ambisie nie, maar deur goed te doen aan gewone mense, en deur vir hulle ’n  toekoms te gee.

Weer Brueggemann:
Herod tells the Eastern intellectuals the truth, and the rest is history. They head for Bethlehem, a rural place, dusty, unnoticed and unpretentious. It is, however, the proper milieu for the birth of the One who will offer an alternative to the arrogant learning of intellectuals and the arrogant power of urban rulers.

Jesus se geboorte ontwortel ons almal

Herodus het skielik ’n nuwe werklikheid waarmee hy rekening moes hou.  Op sy sluwe manier probeer hy die wyse manne inspan om die koning te identifiseer, sodat hy Hom kan doodmaak.  Sy eie belange mag nie skade ly nie.

Jesus het hierdie effek op alle mense.  Tot vandag toe.  Wanneer ons die betekenis van sy geboorte bedink, vra dit van ons almal ’n heroriëntasie aan die goddelike kompas.  Niks minder nie as ons eie bekering is op die spel.

Jesus, die baba sonder getuigskrifte, daag ons uit om na te dink waarop ons ons lewens bou.  Hoe lewe ons: vir onsself en ons belange, of gerig op  God se werk deur Jesus.  Is dit ons koers?

Een: Die sterrekykers verander van koers
Die sterrekykers was akademici van formaat.  Hulle wysheid het gebou op eeue van kundige bestudering van sterre en natuurverskynsels.  Hulle verteenwoordig die beste wat die Ooste kon oplewer in terme van kennis en waarneming.

Hulle mis die teiken met 14 kilometer, die 14 kilometer tussen Jerusalem en Betlehem.

Van die wyse manne vra dit om af te sien van hul kennis en insigte, en weg te draai van Jerusalem na Betlehem toe.  Dis ’n stowwerige, slaperige dorpie sonder enige universiteit of aanspraak op geleerdheid.  Hulle offer hulle kennis op om hulde aan die regte Koning te bring.  Hulle loop die risiko om hul bestaande godsdienstige oortuigings in te boet en hul lewens te heroriënteer aan ’n baba sonder getuigskrifte.

Die wyse manne bring die koningsgeskenke aan hierdie Kindjie: goud, wierook en mirre.

Hulle gaan reguit terug huis toe, met ’n ander pad, ’n nuwe koers.  In Betlehem, wat letterlik “huis van brood” beteken, het hulle die Brood van die Lewe ontmoet.  Niks is meer dieselfde nie.

Twee:  Buitestanders herken Jesus
Merkwaardig genoeg, is dit buitestanders wat Jesus herken en hulde aan hom bring.  Die binnekring bring geen eerbetoon nie.  Die Joodse akademici laat spat nie Betlehem toe nie.  Hulle het die teks, maar nie die verwagting nie.  Hulle het kennis sonder aanbidding.  Hulle verstaan die Skrifopenbaring, maar dit beweeg hulle nie tot lofprysing nie.

Die buitestanders doen dit.

Vir gemeentes het dit geweldige implikasies.  Ons is in ons gemeente so dikwels so besig met ons eie belange.  Ons noem dit die werke van die Here, maar eintlik is dit ons eie voorkeure en maniere van doen wat op die spel is.

Ons kan dikwels net met afkeur na mense buite die kerk kyk.  Die eintlike rede waarom baie van hulle nie saam met ons in die kerk is nie, ontglip ons.  Ons het onaantreklik, dalk afstootlik geword, want ons skep ’n kerk na ons eie beeld en gelykenis.

Die weerlose baba in die krip gee vir ons ’n sleutel om kerk-wees te verstaan.  Anthony Robinson, bekende gemeente-kenner, skryf onlangs: “Let’s get less organized!” Dalk moet ons regtig minder organiseer en net meer weerloos as gelowiges in die wêreld leef.  Minder doen en meer wees.  Dalk moet ons minder aspireer in Jerusalem se rigting, en meer leef in Betlehem se rigting.

Ons moet leer om te gee, soos die wyse manne, eerder as om te versamel.  Ons moet ons kennis minder gebruik om onsself te bevestig, en meer – soos die wyse manne – om op ’n reis te gaan wat ons kennis en oortuigings mag relativeer, destabiliseer en verander.

Ons eie belange moet vervang word met verwondering oor die brose God in die krip.  Dalk het ons dan minder om formeel te doen, en meer gesigte wat gloei van die heerlikheid van God wat ons aanskou het.

Dalk moet ons op reis gaan?  Die 14 kilometer tussen Jerusalem en Betlehem aflê?

Drie:  Boosheid is ’n werklikheid
Ons is as Christene is dikwels so idealisties.  Ons glo alles sal regkom as ons planne net uitwerk.

Die gevaar is dat mens boosheid miskyk.  Boosheid is ’n werklikheid.  Herodus die Grote probeer die sterrekykers mislei om uit te vind waar die Koning is.  Sy planne werk nie uit nie.  Later in die hoofstuk word vertel hoe alle seuntjies jonger as 2 jaar in Betlehem uitgemoor word.

Die magte in die wêreld, of dit politieke, ekonomiese, godsdienstige of kerklike magte is, laat hulle nie maklik destabiliseer nie.  Wie koers hou na Jesus toe, mag seerkry.  Mag ly en sterf.

Hierdie teks sny alle moralisering by die wortel af.  Die keuse of die ster van Betlehem te volg, om te wandel in die lig van Jesus, het ’n prys.  Die duisternis haat dié lig.

Langs die pad ontdek mens hoe die duisternis ook in jouself woon.  Daar is ’n deel van jou wat die lig haat.  Daar is weerstand teen die sterf aan jouself en die navolg van Jesus.  Voortdurende kompromieë doen hulleself as oplossings aan die hand.  Boosheid is ’n werklikheid in elkeen van ons.

Boosheid word nie met mag en geweld beveg nie.  Die Kindjie in die krip het met sy broosheid en sy eindelike dood aan die kruis die bose oorwin.  Liefde, broosheid, selfoorgawe is die wapens wat die poorte van die hel laat val.

Vier: Onafhanklik en selfversorgend?

Ons teks onderstreep dat self-versorgendheid en onafhanklikheid die dood in die pot is.

Weer Walter Brueggemann:
Our task is to let the vulnerability of Micah 2 disrupt the self-congratulation of Isaiah 60. Most of us are looking in the wrong place. We are off by nine miles. We are now invited to travel those hard, demanding miles away from self-sufficiency. Epiphany is a good time to take the journey…. The way beyond is not about security and prosperity but about vulnerability, neighborliness, generosity, a modest future with spears turned into pruning hooks and swords into plowshares.

The wise men, and the eager nations ready for an alternative, made the trip. It would be ironic if the “outsiders” among us made that move and we who are God’s own people resisted.  Imagine a fourteen-kilometre trip . . . and a very different way home.

Waar word jy vanjaar gebore?
Die teks daag ons uit om ’n nuwe geboorteplek te kies.  Dalk hang mense koninklikes so aan omdat hulle met koninklike geboortes wil assosieer?  Dalk wil jy ook in Kensington, Londense rykmansbuurt, gebore wees?  Wil jy ook prins of prinses sus of so wees?  In Buckingham bly?

Wie wil nou gebore word in Langa, Danville, Sharpeville, Triomf, Sophiatown, Boipatong, Klipplaat of Distrik 6?

Wie wil nou gebore word in Betlehem, op Golgota, of in Nasaret?

Ons teks daag jou uit om vanjaar vir jou ’n nuwe geboorteplek te kies.  Met wie gaan jy assosieer?  Onder wie se nood gaan jy jou skouer plaas?

Betlehem of Jerusalem?

God stuur ons om te leef

Oordenking
Gee tyd vir stilte dat mense nadink oor die jaar wat verby is.  Laat hulle dink wat die “a-ha” oomblikke van 2011 was en watter lig dit op 2012 laat val.  Jy kan gerus foto’s wys van gebuere van die jaar – nuusgebeure en gebeure in jul gemeente.

Reël ‘n paar mense van verskillende ouderdomme, geslag en kleur, om die gemeente in gebed voor te gaan.  Iemand sê dankie vir die afgelope jaar.  Dink dan aan spesifieke sake waarvoor daar gebid moet word:  die gemeente, die land, kinders en onderwysers, ens. en laat mense vir die spesifieke sake intree.

Dankoffer

Slotlied: Lied 372 “Hoe glansryk blink die Môrester”

Seën

Respons: Lied 367 :Ere aan God:

Hou vir die volgende twee weke as gesin Huisgodsdiens rondom die volgende twee temas:

Huisgodsdiensmateriaal – 1 Januarie

Rus
Vertel vir mekaar wat vir julle die hoogtepunt van Kersfees was vanjaar.
Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor
Lees Matt 2:1-12 (julle kan dit gerus uit ‘n eenvoudiger vertaling lees).

  • ­Gesels oor die teks.  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan – wat sê dit vir julle?
  • Dis vreemd dat die Jode, wat juis die Messias verwag het, nie die teken van sy koms kon raaksien nie!  Vertel vir mekaar hoe dit kan gebeur dat Christene vandag nog nie Jesus se teenwoordigheid raaksien nie.  Hoe kan ons so leef dat ons altyd Jesus se teenwoordigheid in ons lewe raaksien?

Leef
Gaan een-een deur die hele familie en laat elkeen sê wat hulle in die ander waardeer.  As julle kan, verwys na hoe familielede in spesifieke situasies opgetree het die afgelope jaar en bevestig positiewe optrede soos liefde, vergifnis, dapperheid, integriteit, ens.
Gaan deur jul gebedslys – is van jul gebede al beantwoord?  Sê dan dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.

Huisgodsdiensmateriaal  – 8 Januarie 2012

Rus
Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor
Lees Handelinge 19:1-7 (julle kan dit gerus uit ‘n eenvoudiger vertaling lees).

  • ­Gesels oor die teks.  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan – wat sê dit vir julle?
  • Hierdie verse vertel vir ons hoe die evangelie buite Jerusalem versprei is:  Apollos het die evangelie in Korinte verkondig en Paulus het dit in die binneland tot by Efese verkondig.  (As julle vrae het oor die praat in tale, lees 1 Kor. 12:7-11; 14:1-5.  Onthou, die praat in tale is NIE ‘n teken van vervulling meet die Heilige Gees nie.)
  • Is daar mense vir wie julle kan help om God beter te verstaan?  Hoe kan julle dit doen?

Leef
Vertel vir mekaar wat julle hoop vir hierdie jaar.  Gee genoeg tyd om spesifiek vir elkeen se behoeftes vir die jaar te bid.
Gaan deur jul gebedslys – is van jul gebede al beantwoord?  Sê dan dankie!  Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid  saam vir mekaar en die ander dinge op jul lys.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.