Epifaniefees

Sections

Oorsig

Advent en Kersfees is vol verwagting en verwondering. Tydens Epifaniefees ontplof die betekenis van dit waarop ons gewag het (en dit waarop ons steeds wag!) op die toneel. Die sluier word weggetrek om die verborge plan van God te openbaar (Ef 3). Die lig het gekom (Jes 60). ’n Nuwe era van liefde, deernis en geregtigheid het aangebreek in die nuwe Koning van die Jode (Ps 72). Hy sal die Herder wees, nie net vir die tradisionele volk van God nie, maar vir mense uit alle nasies wat kom na sy lig.

Ander tekste

Jesaja 60:1-6
Nasies kom na jou lig toe
60 Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see
word joune,
die skatte van die nasies
kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.
7Al die kleinvee van Kedar
word vir jou bymekaargemaak,
die ramme van Nebajot
is tot jou beskikking;
hulle is aanneemlike offers op my altaar.
So vermeerder Ek die roem van die huis
waar Ek geëer word.

Psalm 72:1-7, 10-14
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.

8Mag hy heers van see tot see, 
van die Eufraat af
tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners
voor hom kniel
en sy vyande voor hom
in die stof kruip.

10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
geskenke bring,
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep,
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.

Efesiërs 3:1-12
Paulus se werk onder die heidennasies
3 Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.
2Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan.

13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.

Fokusteks

Matteus 2:1-12
Besoek uit die ooste
2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:
6En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”
7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Liturgie

Toetrede: Lied 353 “Die Heiland is gebore”

Votum: (Jesaja 60:1-6)

Seëngroet

Lofsang: Lied 340 “Kom ons loof die Jesuskind”

Litanie
G: Sing Lied 247 “Heer, wees ons genadig “

Loflied
Lied 330 “Die volk wat in die donker wandel”

Doopherinnering
Geloofsbelydenis

Toewysingslied: Lied 376 “Wyses het u ster gesien”

Gebed

Lied 374 “‘n Ster het in die ooste”

Skriflesing: Matteus 2:1-12

Familie-oomblik
Preek
Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 372 “Hoe glansryk blind die Môrester”

Seën

Respons: Lied 372 vers 2 refrein:

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 353 “Die Heiland is gebore”
VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”

Votum: (Jesaja 60:1-6)
60 Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see
word joune,
die skatte van die nasies
kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.

Seëngroet
Liewe gemeente, genade en vrede van God de Vader wat op die eerste dag gesê het: “Laat daar lig wees.”
Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.
En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.
Amen
(Uit: Wepener, Cas 2011. Soos ’n Blom na die Son Draai. Bybel-Media, Wellington.)

Lofsang
Lied 340 “Kom ons loof die Jesuskind”
Flam 113 “Here Jesus, U Skyn Oor Almal”

Litanie
Voorganger: Laat ons tot die Here bid
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die geheimenis van die Woord wat mens geword het, tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die nederige geboorte van die Koning van lig in die stal van Betlehem, tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die heerlike verskyning van die Koning van heerlikheid aan die herders en sterrekykers tot die Here bid.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons tot die Here bid vir die vrede en verlossing wat sy geboorte bring.
Gemeente: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons tot die Here bid vir eenheid onder alle mense in wie hy ’n welbehae het.
G: Sing Lied 247 Heer, wees ons genadig 

of Flam 69 “Was My Skoon”
of VONKK 11 ‘Here, Wees Ons Genadig”
V: Help ons, red ons, troos ons, bewaar ons, Woord wat mens geword en onder ons kom woon het.
G: Amen
(Uit: 2010 Handleiding vir die Erediens. Bybel-Media, Wellington)

Loflied
Lied 330 “Die volk wat in die donker wandel”
Flam 126 “Jesus, Lig in die duisternis”

Doopherinnering
(Voorganger gaan staan by doopvont met hand in water)
Voorganger: Die Here jou God beveel jou vandag om volgens sy voorskrifte en bepalings te leef en hulle te gehoorsaam. Jy moet dit doen met hart en siel.
Gemeente: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na hom luister.

V: Die Here verklaar vandag opnuut dat jy sy eiendomsvolk is soos hy jou beloof het en sê dat jy al sy gebooie moet gehoorsaam.
Gemeente: Ons sal die Here ons God dien, ons sal na hom luister.

V: Die Here verklaar vandag dat jy ’n volk sal wees wat aan die Here jou God gewy sal wees soos hy beloof het.
G: Amen
(Uit: 2010 Handleiding vir die Erediens. Bybel-Media, Wellington)

Geloofsbelydenis

Toewysingslied
Lied 376 “Wyses het u ster gesien”
VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”

Liedere

VONKK 23 “Jesus, U is die lig in ons lewe”
Nav Johannes 12:46 Teks: Jésus le Christ – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Advent

Jesus, U is die lig in ons lewe;
laat tog nie toe dat die donker oor ons kom.
Jesus, U is die lig in ons lewe;
Maak ons ontvanklik vir u liefde, o Heer.

Jésus le Christ, lumière intérieure,
ne laisse pas mes ténèbre me parler.
Jésus le Christ, lumière intèrieure,
donne moi d’accuellir ton amour.

Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let not my doubts nor my darkness speak to me.
Lord Jesus Christ, your light shines within us.
Let my heart always welcome your love.

F69. “Was My Skoon”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Skuldbelydenis) Teks en musiek: Hannes Grabe © MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Kom en reinig my, o Heer,
week my sonde en skuld in die bloed van u Seun.
Ek staan skuldig voor U, Heer,
die verlore kind kom vra ’n tweede kans.

2. Was my skoon, maak my rein,
laat U lig weer deur my skyn.
Neem my hart, maak dit nuut,
laat my lig na ander skyn.
Was my skoon, maak my rein
laat u lig weer deur my skyn.

3. Laat u Gees my hart deurspoel,
bring u vrede en rus, u genade oor my.
Maak my wit net soos die sneeu,
ek wil heilig leef, gewy aan U, my Heer.

VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig” 
Teks: Jannie Hougaard 2003 © nav Kyrie eleison Melodie: MINKIE-ANNE — Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief — Skuldbelydenis

Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig,
wees ons genadig.
Kyrie eleison.
Kyrie eleison.
Kyrie eleison, eleison.

F126. “Jesus, Lig in die duisternis” 
(RUBRIEK: Flam – Toewyding en Verwondering) Oorspronklike titel: Jezus, Licht In De Duisternis
Teks en musiek: Peter van Essen Afrikaanse vertaling: Faani en Gerda Engelbrecht
© Unisong Music Publishers geadministreer deur Small Stone Media South Africa

1. Jesus, lig in die duisternis,
Jesus, oorsprong van als wat is
Jesus, liefde wat ewig is,
ek prys U.

2. Jesus, weg waarop U my lei
Jesus, waarheid, U maak vry
Jesus, lewe by U te kry
ek prys U.

Refrein:
Waar sou ek gaan sonder U?
Waarom bestaan sonder U?
Jesus, my hoop en my krag
U is my Heer,
U is my Heer.

3. Jesus, tot die tyd só bestem,
Jesus, totdat ek U kan ken,
Jesus, gee ek my hart en stem,
Ek prys U.

Refrein:

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal” 
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine Teks en musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik © 1987 Make Way Music (Opgeneem in Jeugsangbundel II)

1. Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my, skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

2. Here, maak my ’n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my, skyn deur my.

Refrein:

VONKK 30 “Al die donker is nooit net donker”
Nav Psalm 139 : 12 Teks: La ténèbre – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Gerrit Jordaan 2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Frans, Afrikaans in hierdie weeergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genade / Kersfees en Epifanie / Lydenstyd

Al die donker is nooit net donker in u sig.
Die nag, net soos die dag, word deur U verlig.

La ténèbre n’est point ténèbre devant toi:
La nuit comme le jour est lumiére.

F393. “Ons Is Die Herders” 
(RUBRIEK: Flam – Kersfees) Teks en musiek: Jeanette Lewis
© Popps Musique (geadministreer deur Flam Musiek-Uitgewers)

1. Ons is die herders,
met skaap en staf.
Ons soek die Koning,
kom van ver af.
Ons bring ons skape, ons hulde, Heer,
ons bring onsself, kom lê ons neer.

2. Ons is die wyses,
ons kom van ver.
Ons soek die Koning,
ons sien sy ster.
Ons bring ons goud, ons wierook, Heer,
ons bring onsself, kom lê ons neer.

Refrein:
Ere aan God, in die hoogste hemele,
ere aan God, hier op die aarde.
Ere aan God, saam met al die engele,
en vrede vir die wat Hom vind.

3. Ek is ’n volg’ling,
ek kom van vêr.
Ek soek die Koning,
ek sien sy ster.
Ek bring my liefde, my hulde, Heer,
Ek bring myself, kom lê my neer.
Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Lied 374 “‘n Ster het in die ooste”

Skriflesing: Matteus 2:1-12

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Kry ’n groepie tieners om tydens dankoffers ’n stukkie bordkryt en die volgende verduideliking op papier aan elke gesin/huis uit te deel:

“Kom ons as huis neem deel aan ’n wonderlike ou tradisie van Epifanie. Met hierdie stukkie bordkryt gaan ons die volgende bo ons voordeur skrywe: 20 + C + M + B + 14. Die 20 en 14 verteenwoordig ons jaartelling. 2014 jaar gelede het die Christuskind gekom en Hy woon steeds onder ons! Die C, M en B staan, volgens oorlewering, vir die name van die drie wyse manne (Caspar, Melchior en Balthasar), maar dit staan ook vir die Latynse Christus mansionem benedicat, wat beteken Christus seën hierdie huis! As ons hierdie teken sien onthou ons op ons lewensreis dat ons altyd op soek moet wees na die Kind van Kersfees en dat ’n mens Hom veral op onverwagse plekke en by onverwagse mense vind. Ons onthou ook dat Hy altyd deel is van ons alledaagse lewe.

Wanneer ons dit as gesin vandag saam bo ons deur gaan skryf, bid ons hierdie gebed: “Here Jesus, mag almal wat in hierdie jaar ons huis binnekom vind dat U tussen ons en in ons leef; mag ons U soek en dien in almal wat ons ontmoet. Amen.

Julle kan ook ‘n “Chalking the Door” in die erediens doen. Hier is ‘n verduideliking daarvan, asook ‘n gebed wat jy kan gebruik.

Jy kan ook die legende van Ouma Befana vertel. Dit is ‘n bekende Italiaanse legende wat gewoonlik in Italië op Epifanie vertel word. Ouma Befana was ‘n befoeterde tannie wat alleen gebly het en dag in en dag uit gevee het. Wanneer die wyse manne by haar huis verby kom, word sy genooi om saam die Baba Koning te gaan besoek. Sy bak eers heerlike koek, koekies en lekkers om vir die Koning te vat en vee eers weer alles uit. Gevolglik is sy te laat om die Baba Koning te besoek. Maar tot vandag toe, elke Epifanie, besoek sy kinders en gee vir hulle lekkers, koekies en koek.

Jy kan Tomie dePaola se pragtige oorvertelling van die legende bestel.

Preekriglyn

Eerste Preeklyn:

[Nota: Hierdie preekriglyn is in Januarie 2011 as deel van die Seisoen van Luister gepubliseer. Aangesien hierdie teks elke jaar by die Leesrooster ingesluit word, dui punt 1.3 hierbo ook ander preekriglyne aan.]

Prins William is op 21 Junie 1982 in die St Mary’s Hospitaal in Londen, Engeland gebore. Hy was die eersgebore van die Prins en Prinses van Wallis, Charles en Diana, en die derde kleinkind van Koningin Elizabeth II en Prins Philip, die Hertog van Edinburgh. Op 4 Augustus 1982 doop die aartsbiskop van Canterbury, Robert Runcie, hom in die musiekkamer van die Buckingham Paleis. Aangesien hy gebore is in die manlike afstammingslyn van die monarg, en as seun van die Prins van Wallis, die troonopvolger, staan William bekend as Sy Koninklike Hoogheid, Prins William van Wallis. Sy ouers noem hom egter Wombat of Wills.

William is weer in die nuus. Hy trou in 2011 met Kate Middleton. Dis goeie nuus. Die manlike geslagslinie van Windsor lyk veilig.

Koninklike geboortes bevestig die voortgang van die koninklike lyn. Dit is goeie nuus, want dit stabiliseer die monargie. Die koning kan rustig slaap, daar is ’n opvolger.

Jesus se koninklike geboorte
Jesus se geboorte was slegte nuus vir die koning. Koning Herodes en die hele koninklike huishouding is hewig ontsteld wanneer die sterrekykers vra: Waar is Hy wat as Koning van die Jode gebore is? (2:2).

Die koning gooi onmiddellik die staatsmasjinerie in die hoogste rat. Die priesterhoofde en skrifgeleerdes kom verduidelik waar die Christus gebore sou word. Skielik is daar ’n alternatief vir sy koninklike posisie. Herodes is gedisoriënteerd en bedreig. Antwoorde moet gevind word.

Herodes
Koning Herodes die Grote was koning was van Judea, Idumea en Samaria. Hy was die seun van Antipater en het ongeveer 37 jaar in Judea, Idumea en Samaria regeer. Jesus is in die laaste jaar van sy regering gebore. Hy was met tien vroue getroud en het etlike kinders gehad. Herodus het in ongeveer 40 v.C. van die Romeinse owerheid die titel “koning van Judea” ontvang. Herodus was ’n Idumeër en dus nie van Joodse koninklike agtergrond nie. Hy is in die verkeerde afstammingslyn gebore, en was bloot koning by grasie van die Romeinse onderdrukkers na wie se pype hy gedans het.

Herodus vrees dat die geboorte van Jesus, die koning van die Jode, sy eie heerskappy sou bedreig.

Jerusalem en Jesaja 60
Waarom belê Herodus ’n konferensie met Ou Testamentiese skrifkenners wanneer die sterrekykers opdaag?

Walter Brueggemann, moderne Ou Testamentikus van formaat, verduidelik: Herodus kom hom op ’n Skrifteks beroep waarin die heerlikheid van Jerusalem besing is: Jesaja 60. Jesaja 60 was ’n trooswoord aan die Jode nadat Jerusalem in die sesde eeu v.C. met die ballingskap verwoes is. Die Jode wat 70 jaar later teruggekeer het, moes ’n toekoms in ’n kompeterende wêreldekonomie skep uit die ruïnes van ’n verwoeste stad.

Jesaja 60 voorspel dat konings en rykdom na Jerusalem sal kom. Die rykdom van die see en die skatte van die nasies sal aan Jerusalem gegee word. Jong kamele sal die land vul, en almal wat uit Skeba (die ooste) kom sal goud en wierook bring.

Dalk het die sterrekykers uit die Ooste Jesaja 60 geken. Wanneer hulle die sterretekens sien, weet hulle om die Koning in Jerusalem te gaan soek. Hulle kom met kamele, en hulle weet om goud, wierook en mirre (’n rare spesery) volgens Jesaja 60 as geskenke te bring.

Herodus het Jesaja 60 geken. Die nuus van ’n koninklike geboorte ontstel hom. Die ou orde word bedreig. Die stabiliteit van Jerusalem en die heersende elite is in die weegskaal.

Verkeerde teks
“Wat is die storie met kamele en goud, wierook en mirre,” wil Herodus by die skrifgeleerdes weet. “Vertel my van Jesaja 60!” Die geleerdes, sê Brueggemann, het nie veel van ’n keuse nie: “Koning, jy het die verkeerde teks beet. Die wyse manne daar buite gebruik ook die verkeerde teks. Jesaja 60 mislei julle want dit voorspel Jerusalem sal groei en met groot stedelike rykdom bloei, en herstel word as die sentrum van die wêreldwye ekonomie. Dié teks skep ’n scenario waar die stedelike elite en koninklike maghebbers kan voortgaan om mag en prestige te versamel. Vir gewone mense verander niks.

Herodes, sê Brueggemann, hou niks van die praatjies nie. Hy wil weet of hulle ’n beter teks het. Die akademici is benoud oor wat nou kom. Met angs en bewing – sê hulle die regte teks is Miga 5:
En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”

Miga 5 verteenwoordig die stem van hoop vir die toekoms. Hoop dat die ekonomiese supermoondhede, die politieke maghebbers, die toringblokke van banke, die stedelike politieke magspeletjies nie die laaste woord sal spreek nie. Uit Betlehem-Efrata, klein onder die families in Israel, sal daar een kom wat as Herder regeer. Hy sal ware heil bring, nie deur politieke ambisie nie, maar deur goed te doen aan gewone mense, en deur vir hulle ’n toekoms te gee.

Weer Brueggemann:
Herod tells the Eastern intellectuals the truth, and the rest is history. They head for Bethlehem, a rural place, dusty, unnoticed and unpretentious. It is, however, the proper milieu for the birth of the One who will offer an alternative to the arrogant learning of intellectuals and the arrogant power of urban rulers.
Jesus se geboorte ontwortel ons almal

Herodus het skielik ’n nuwe werklikheid waarmee hy rekening moes hou. Op sy sluwe manier probeer hy die wyse manne inspan om die koning te identifiseer, sodat hy Hom kan doodmaak. Sy eie belange mag nie skade ly nie.

Jesus het hierdie effek op alle mense. Tot vandag toe. Wanneer ons die betekenis van sy geboorte bedink, vra dit van ons almal ’n heroriëntasie aan die goddelike kompas. Niks minder nie as ons eie bekering is op die spel.

Jesus, die baba sonder getuigskrifte, daag ons uit om na te dink waarop ons ons lewens bou. Hoe lewe ons: vir onsself en ons belange, of gerig op God se werk deur Jesus. Is dit ons koers?

Een: Die sterrekykers verander van koers
Die sterrekykers was akademici van formaat. Hulle wysheid het gebou op eeue van kundige bestudering van sterre en natuurverskynsels. Hulle verteenwoordig die beste wat die Ooste kon oplewer in terme van kennis en waarneming.

Hulle mis die teiken met 14 kilometer, die 14 kilometer tussen Jerusalem en Betlehem.

Van die wyse manne vra dit om af te sien van hul kennis en insigte, en weg te draai van Jerusalem na Betlehem toe. Dis ’n stowwerige, slaperige dorpie sonder enige universiteit of aanspraak op geleerdheid. Hulle offer hulle kennis op om hulde aan die regte Koning te bring. Hulle loop die risiko om hul bestaande godsdienstige oortuigings in te boet en hul lewens te heroriënteer aan ’n baba sonder getuigskrifte.

Die wyse manne bring die koningsgeskenke aan hierdie Kindjie: goud, wierook en mirre.

Hulle gaan reguit terug huis toe, met ’n ander pad, ’n nuwe koers. In Betlehem, wat letterlik “huis van brood” beteken, het hulle die Brood van die Lewe ontmoet. Niks is meer dieselfde nie.

Twee: Buitestanders herken Jesus
Merkwaardig genoeg, is dit buitestanders wat Jesus herken en hulde aan hom bring. Die binnekring bring geen eerbetoon nie. Die Joodse akademici laat spat nie Betlehem toe nie. Hulle het die teks, maar nie die verwagting nie. Hulle het kennis sonder aanbidding. Hulle verstaan die Skrifopenbaring, maar dit beweeg hulle nie tot lofprysing nie.

Die buitestanders doen dit.

Vir gemeentes het dit geweldige implikasies. Ons is in ons gemeente so dikwels so besig met ons eie belange. Ons noem dit die werke van die Here, maar eintlik is dit ons eie voorkeure en maniere van doen wat op die spel is.

Ons kan dikwels net met afkeur na mense buite die kerk kyk. Die eintlike rede waarom baie van hulle nie saam met ons in die kerk is nie, ontglip ons. Ons het onaantreklik, dalk afstootlik geword, want ons skep ’n kerk na ons eie beeld en gelykenis.

Die weerlose baba in die krip gee vir ons ’n sleutel om kerk-wees te verstaan. Anthony Robinson, bekende gemeente-kenner, skryf onlangs: “Let’s get less organized!” Dalk moet ons regtig minder organiseer en net meer weerloos as gelowiges in die wêreld leef. Minder doen en meer wees. Dalk moet ons minder aspireer in Jerusalem se rigting, en meer leef in Betlehem se rigting.

Ons moet leer om te gee, soos die wyse manne, eerder as om te versamel. Ons moet ons kennis minder gebruik om onsself te bevestig, en meer – soos die wyse manne – om op ’n reis te gaan wat ons kennis en oortuigings mag relativeer, destabiliseer en verander.

Ons eie belange moet vervang word met verwondering oor die brose God in die krip. Dalk het ons dan minder om formeel te doen, en meer gesigte wat gloei van die heerlikheid van God wat ons aanskou het.

Dalk moet ons op reis gaan? Die 14 kilometer tussen Jerusalem en Betlehem aflê?

Drie: Boosheid is ’n werklikheid
Ons is as Christene is dikwels so idealisties. Ons glo alles sal regkom as ons planne net uitwerk.

Die gevaar is dat mens boosheid miskyk. Boosheid is ’n werklikheid. Herodus die Grote probeer die sterrekykers mislei om uit te vind waar die Koning is. Sy planne werk nie uit nie. Later in die hoofstuk word vertel hoe alle seuntjies jonger as 2 jaar in Betlehem uitgemoor word.

Die magte in die wêreld, of dit politieke, ekonomiese, godsdienstige of kerklike magte is, laat hulle nie maklik destabiliseer nie. Wie koers hou na Jesus toe, mag seerkry. Mag ly en sterf.

Hierdie teks sny alle moralisering by die wortel af. Die keuse of die ster van Betlehem te volg, om te wandel in die lig van Jesus, het ’n prys. Die duisternis haat dié lig.

Langs die pad ontdek mens hoe die duisternis ook in jouself woon. Daar is ’n deel van jou wat die lig haat. Daar is weerstand teen die sterf aan jouself en die navolg van Jesus. Voortdurende kompromieë doen hulleself as oplossings aan die hand. Boosheid is ’n werklikheid in elkeen van ons.

Boosheid word nie met mag en geweld beveg nie. Die Kindjie in die krip het met sy broosheid en sy eindelike dood aan die kruis die bose oorwin. Liefde, broosheid, selfoorgawe is die wapens wat die poorte van die hel laat val.

Vier: Onafhanklik en selfversorgend?
Ons teks onderstreep dat self-versorgendheid en onafhanklikheid die dood in die pot is.

Weer Walter Brueggemann:
Our task is to let the vulnerability of Micah 2 disrupt the self-congratulation of Isaiah 60. Most of us are looking in the wrong place. We are off by nine miles. We are now invited to travel those hard, demanding miles away from self-sufficiency. Epiphany is a good time to take the journey…. The way beyond is not about security and prosperity but about vulnerability, neighborliness, generosity, a modest future with spears turned into pruning hooks and swords into plowshares.

The wise men, and the eager nations ready for an alternative, made the trip. It would be ironic if the “outsiders” among us made that move and we who are God’s own people resisted. Imagine a fourteen-kilometer trip . . . and a very different way home.

Waar word jy vanjaar gebore?
Die teks daag ons uit om ’n nuwe geboorteplek te kies. Dalk hang mense koninklikes so aan omdat hulle met koninklike geboortes wil assosieer? Dalk wil jy ook in Kensington, Londense rykmansbuurt, gebore wees? Wil jy ook prins of prinses sus of so wees? In Buckingham bly?

Wie wil nou gebore word in Langa, Danville, Sharpeville, Triomf, Sophiatown, Boipatong, Klipplaat of Distrik 6?

Wie wil nou gebore word in Betlehem, op Golgota, of in Nasaret?

Ons teks daag jou uit om vanjaar vir jou ’n nuwe geboorteplek te kies. Met wie gaan jy assosieer? Onder wie se nood gaan jy jou skouer plaas?

Betlehem of Jerusalem?

Tweede Preeklyn:

[Nota: Hierdie preekriglyn is uit vanjaar se Woord en fees oorgeneem.]

Die preekvoorstel bou op die tema: God lei ons tot by Jesus en verder.

Alice, die karakter in die vertelling Alice’s Adventures in Wonderland, vra op ’n stadium by ’n vurk in die pad vir ’n ander karakter watter pad sy moet neem. Op sy vraag waarheen sy op pad is, antwoord sy dat sy nie weet nie. Hy reageer dan met die opmerking dat dit dan nie saak maak nie.

Soos Alice is ons ook op pad iewers heen. Party van ons het die nuwe jaar ingestrompel, ander het dit met onsekerheid of ’n klomp bagasie op die rug binnegestap en nog ander is doelgerig op pad. Aan die begin van ’n nuwe jaar is ons op pad die jaar in al weet ons nie wat dit gaan inhou nie.

Volg ‘n ster
Die besoekers wat uit die ooste in Jerusalem aangekom het, het nie geweet waarheen hulle reis hulle sou neem nie. Hulle het wel geglo dat hulle agter ’n ster aan trek wat deur God gerig word om hulle by die nuwe koning van die mense in Judea uit te bring. Uiteindelik het hulle gedoen wat hulle wou: hulle het voor die kleine koning gekniel en aan hom geskenke gegee. Aan die einde van ons teks is hulle weer op pad; nou huis toe. Hulle volg egter ’n roete wat hulle nie self sou kies nie. Hulle is eintlik ongehoorsaam aan ’n direkte opdrag van die koning, omdat hulle ag slaan op wat hulle glo God vir hulle gesê het: “Moenie na Herodes toe teruggaan nie.”

Teen magtiges se wense
Wanneer “op pad-mense” God se leiding volg, sal hulle soms in situasies wees waar hulle teen magtige mense se wense moet ingaan. Herodes die Grote het sy mag gebruik. Ook godsdienstige leiers van sy dag het gespring wanneer hy sy vingers klap. Hy het nie geskroom om blatant te lieg nie. “Ek wil doen net soos wat julle wil doen,” sê hy aan die besoekers ; “Laat weet my waar die nuwe koning gebore is sodat ek ook aan hom kan gaan hulde bring.” Nadat hulle by Jesus was het hulle geweet hulle moet kies vir gehoorsaamheid aan God se leiding eerder as die opdrag van ’n magtige man wat deur die Romeinse owerheid aangestel is.

Die ware koning?
Die besoekers se vraag oor waar die koning van die Jode gebore is, lei tot ’n nuwe vraag: “Wie ís die ware koning oor Judea?” Die magtige regeerder Herodes of die brose baba Jesus? Die vreemdelinge in Judea was by ’n kruispad tussen die sogenaamde Romeinse Vredesryk en God se koninkryk.

Ook Herodes sou ’n keuse oor die nuus wat die besoekers saamgedra het, moes maak. Hy was goed ingelig sodat hy die nuus wat gebring is met die verwagtinge rondom “die Christus” kon verbind. Die wyses soek die een na wie hulle gelei word. Herodes vertolk die tekste. Die destydse “kerkleiers” gee goddelike sanksie aan die koning se siening. Soos Herodes, tree hulle anders as die wyses op. Die politieke en die godsdienstige leiers gebruik taal wat Jesus eer, maar dit bly by woorde. Hulle belydenisse gaan nie in beweging saam met die vreemdelinge agter God aan nie.

Uitdaging
Matteus wil ons uitdaag. God is in ons wêreld teenwoordig en aktief. Net soos by Jesus se geboorte, is God hier en nou by ons teenwoordig en betrokke. Waarheen jy vanjaar ook al op pad is kan jy glo: God is reeds daar en daar besig. Ons kan ook glo dat God ons sal lei na waar Hy alreeds is.

Matteus daag ons uit om in beweging te kom. Herodes raadpleeg en konsulteer, maar versit nie ’n voet om saam met die besoekers op weg agter God aan te gaan nie.

Moenie die voorbeeld van Herodes, die priesterhoofde en skrifgeleerdes navolg nie, sê Matteus vir die vroeë gelowiges. Hierdie gelowiges was besig om hulleself ná die verwoesting van Jerusalem en die tempel wat Herodes klaar gebou het, te reoriënteer. In hulle op pad-wees kon hulle nie meer by die tempel offers bring, om God se wil en leiding bid, of na die verkondiging van sy Woord luister nie.

Kort ná die viering van die Paasfees – wanneer hierdie teks in die vroeë Christen-byeenkomste voorgelees is – het hulle gehoor hulle het nie ’n tempel en offerstelsel nodig nie. Hulle hoef nie ’n tempel te bou en ’n kultus te vestig nie. Soos God die besoekers uit die ooste gelei het, het Hy die gelowiges ook gelei tot waar hulle nou in Antiogië is. God is daar waar Jesus is, sê Matteus. Hy is die nuwe Moses, die nuwe Dawid, die nuwe tempel, sê Matteus. Gaan sonder vrees terug na julle huise toe.

Implikasies van God se teenwoordigheid
God se teenwoordigheid in en deur Jesus het persoonlike en politieke implikasies vir plaaslike en breër kontekste. Om Christen te wees is ’n keuse teen mag. Dis ’n keuse teen godsdiensgebruike en geloofsgewoontes wat ons nie in beweging bring om God te vertrou en sy leiding te volg nie. Om Christen te wees plaas ons aan die kant van die brose Jesus.

God lei ons na Jesus toe. En ook verder. Mag jou op pad-wees, geseënd wees.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 372 “Hoe glansryk blink die Môrester”
Flam 393 “Ons Is Die Herders”

Seën

Respons
Lied 372 vers 2 refrein: “Christus Jesus, Lig en Lewe, hoor my lied en hoor my bede: O bestraal my pad met vrede!”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.