Epifaniefees

Sections

Oorsig

Die fokus van dié seisoen is die viering van God se verskyning en openbaring aan ons. In dié fees gaan dit oor die “verskyning” of “Godsverskyning” en die naam word herlei uit die Griekse epiphaneia en theophaneia, wat op God se verskyning/manifestasie, in Jesus dui.

Aanvanklik is Jesus se geboorte en sy doop tydens die die fees gevier. Later is die besoek van die wyse manne en Jesus se eerste wonderwerk (te Kana) ook ingesluit. In die sewende eeu het ’n diens vir die jaarbegin gebruiklik geraak. Tydens dié fees is Christus as die Heer van die tyd verkondig. Gedurende die dertiende eeu is die gebruik om Jesus se naamgewing en besnydenis, wat in Spanje en Frankryk op 6 Januarie gevier is, algemeen oorgeneem en op nuwejaarsdag gevier.

Epifanie verkondig dat God híér is.

God se lig het in ’n donker wêreld kom skyn. Dit kan nie uitgedoof word nie en dit begelei ons op ons lewenspad (sien bv 1 Joh 1:6 en Joh 1:4-5). God praat en ons leef luisterryk. Ons het tyd nodig om in stilte by Hom te rus.

Simboliek
Kleur
Wit en goud

Simbol
’n Kroon, septer en staf kan dien as liturgiese herinnering aan God se koninklike optrede wat die gemeente in sy Naam moet voortsit. Ander simbole soos die duif as beeld van die Gees wat in en deur die doop van Christus op sy gemeente neerdaal, kan gebruik word. Hierdie simbole “in” die kerk behoort ook sigbaar uitgebeeld word in sinvolle gemeentelike aksies “buite” die kerkgebou. Aksies waarin die opsoekende liefde van God en sy verskyning gestalte vind.

Ander tekste

Jeremia 31:7-14
7So sê die Here:
Sing van blydskap oor Jakob,
die leier onder die nasies,
juig oor hom!
Laat hoor julle loflied, en sê:
Red u volk, Here,
red wat van Israel oorgebly het!
8Ek laat kom hulle uit die land
in die noorde,
Ek vergader hulle van die uithoeke
van die aarde af:
onder hulle is blindes en kreupeles,
swanger vrouens en vrouens in kraam.
’n Groot gemeente sal hiernatoe
terugkom.
9In trane sal hulle kom,
met smeekgebede,
maar Ek sal hulle lei,
Ek sal hulle by waterstrome bring,
op ’n gelyk pad,
niemand sal struikel nie,
want Ek het Israel se Vader geword,
Efraim is my eersgeborene.
10Hoor die woord van die Here, nasies,
vertel dit aan die verste eilande!
Julle moet sê:
Hy wat vir Israel verstrooi het,
sal hom bymekaarmaak.
Die Here sal hom oppas
soos ’n wagter sy trop skape oppas.
11Die Here het vir Jakob bevry,
hulle gered uit die mag van een
wat sterker as hulle is.
12Hulle sal kom
en op die Sionshoogte sing,
hulle sal straal van blydskap
oor die goeie
wat deur die Here gegee word:
oor koring, wyn en olie,
oor die aanteel van kleinvee
en grootvee.
Hulle sal floreer soos ’n tuin
wat goed natgelei word,
hulle sal nie meer na water smag nie.
13Dan sal die jong meisies
dans van blydskap
saam met die jong mans en die ou mans.
Ek sal hulle droefheid
in vreugde verander,
Ek sal vir hulle uitkoms gee:
Ek sal hulle bly maak,
hulle sal geen kommer meer hê
nie.
14Ek sal ’n oorvloed goeie kos
vir die priesters gee,
my volk sal oorgenoeg hê
aan die goeie wat Ek gee, sê die Here.
Psalm 147:12-20
12Loof die Here, Jerusalem,
prys jou God, Sion!
13Hy het die sluitbalke van jou poorte
sterk gemaak,
jou inwoners geseën,
14Hy het in jou grondgebied
vrede gegee,
jou met die beste graan gevoed.
15As Hy die aarde ’n bevel gee,
word dit vinnig uitgevoer.
16Hy gee sneeu so wit soos wol,
Hy strooi ryp uit soos as,
17Hy laat dit haelstene reën.
Wie is bestand
teen die koue wat Hy stuur?
18Maar op sy bevel smelt alles weer;
as Hy die warm wind laat waai,
dan loop die waters.
19Hy maak sy woord aan Jakob bekend,
sy voorskrifte en bepalings aan Israel.
20Dit het Hy vir geeneen
van die ander nasies gedoen nie;
hulle ken sy bepalings nie.
Prys die Here!

Johannes 1:(1-9), 10-18
Die Woord het mens geword
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

6Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

15Johannes getuig van Hom en roep uit: “Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.”

16Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. 17God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom. 18Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

Fokusteks

Efesiërs 1:3-14
Ons plaas hier die teks uit die Nuwe Testament en Psalms – ‘n Direkte vertaling (BDV) omdat die NAV se vertaling te veel parafraseer.  Dit laat die oorspronklike trefkrag van die teks verdwyn.

Lof aan God
3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus!  Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.  4 So het Hy ons voor die skepping van die wêreld in Hom uitgekies  sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou leef,  5 voorbestem om deur Jesus Christus as kinders vir Hom aangeneem te word,  soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het,  6 tot lof van die heerlikheid van sy genade  waarmee Hy ons in die Geliefde begunstig het.  7 In Hom het ons die bevryding deur sy bloed,  die vergewing van ons oortredinge,  uit die rykdom van sy genade,  8 wat Hy oorvloedig aan ons geskenk het saam met alle wysheid en insig.  9 Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak,  soos Hy dit goedgedink en by Homself voorgeneem het,  10 om die volheid van die tye te bestuur  en om alle dinge in Christus onder een Hoof saam te bring  — die dinge in die hemel en die dinge op die aarde — ja, alles saam in Hom.  11 In Hom is ons ook uitverkies,  voorbestem volgens die voorneme  van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur,  12 sodat ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gevestig het,  kan leef tot lof van sy heerlikheid.  13 In Hom is julle, nadat julle die woord van die waarheid,  die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het,  verseël met die Heilige Gees wat beloof is.  14 Die Gees is die waarborg van ons erfdeel  vir die bevryding van God se eiendomsvolk,  tot lof van sy heerlikheid.

Vorige materiaal

Marius Nel (2009)
Konteks
Die Efesiërbrief is nie geskryf om dwaalleer of verkeerde praktyke reg te stel, of selfs om op spesifieke vrae van die gemeente te antwoord nie.  Dit is bloot ’n brief van bemoediging.  In alle waarskynlik was dit bedoel om in die hele streek gelees te word (daar is byvoorbeeld baie min persoonlike verwysings in die brief wat vreemd is, aangesien Paulus lank in die stad gewoon het.   ’n Ander teorie is natuurlik dat Paulus nie die brief geskryf het nie).

Uitleg
Die eerste deel van Efesiërs (1:3-3:21) bevat al die elemente van ’n spesifieke Joodse gebedsvorm, naamlik die berakah wat ’n bepaalde vorm van lofgesang was.  By hierdie gebedsvorm kom altyd twee elemente voor, naamlik ’n algemene uitroep van lof, gevolg deur die redes waarom God geprys word (ander elemente wat kan voorkom is: voorbidding, belydenis van sonde en belydenis van geloof.  Die geheel kan ook afgesluit word met ’n lofsegging of doksologie).

Efesiërs 1:3-14 volg op die groet (vers 1) en seënbede (vers 2) wat die brief inlei.
Vers 3a begin met ’n algemene oproep om God te loof, wat die aanvang van die berakah is wat die inleidende element van die Efesiërsbrief vorm.  Volgens die patroon van die berakah-gebede, volg die redes vervolgens waarom God geprys word.  Eers gee vers 3b breedweg die rede deur (God het ons in Christus geseën met al die seëninge wat daar in die hemel is – wat dui op die verlossing wat Jesus gebring het), waarna verse 4 tot 14 meer detail gee.

Vers 4-14 bestaan uit drie onderafdelings wat elkeen ’n gevolgsin bevat wat verklaar dat ons God moet prys (verse 6, 12 en 14).
Die drie onderafdelings is:
1. Ons verkiesing en kindskap (vers 4-6)
2. Ons redding en bestemming tot God se eiendom (vers 7-12)
3. Ons versekering en inskakeling by God se eiendom (vers 13-14).
1. Ons verkiesing en kindskap (vers 4-6)

Die eerste rede waarom gelowiges God se glorie moet prys (vers 6), is omdat Hy gelowiges uit die Jode en die heidendom (almal “wat aan God behoort” – vers 1) verkies het om Sy kinders te wees deur Jesus (vers 5).  Al het die verkiesing deur Jesus ’n werklikheid geword, is gelowiges in werklikheid reeds uitverkies om in liefde geheilig voor God te leef voor die wêreld nog geskep is (vers 4)!  Die verkiesing het alleen geskied op grond van God se soewereine genade wat Hom vrymaak om te kies wie Hy wil volgens sy welbehae (vers 5).  

Ek wil net enkele opmerkings maak oor die verwysing na die uitverkiesing in die gedeelte, naamlik dat dit ten doel het om gelowiges te vertroos en om hulle God te laat loof.  Dis nie ’n leer wat mense met vrees en ongemak moet vul nie, maar eerder met ’n diep dankbaarheid teenoor God wat hulle uit vrye guns alleen gered het.

2. Ons redding en bestemming tot God se eiendom (vers 7-12)
Die tweede, dubbele rede om God se glorie te prys (vers 12), is omdat ons God se eiendom is wat deur Hom vrygekoop is van ons oortredinge en omdat ons beskik is om ons hoop op Jesus te stel (vers 11).  Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe deur sy genade (vers 7).  Verder het God aan ons wysheid en insig gegee het (vers 8) in die geheimenis van Sy wil, soos geopenbaar deur Sy verlossingswerk in Jesus Christus (vers 9), op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het (vers 10).  Die verse beklemtoon dus dat ons verlossing nie te danke is aan ons eie geestelike nadenke of ontdekkings nie, maar op grond van God se besluit en openbaring.

God se heilsplan van verlossing, wat reeds voor alle tye by Hom bestaan het, het in Christus sy volle sin en doel bereik.  God het naamlik deur Jesus die gebrokenheid van die hele skepping (mense en engele, hemel en aarde) in Christus herstel tot die toestand van harmonie van voor die sondeval, deur alles onder Sy heerskappy te stel (vers 10).

3. Ons versekering en inskakeling by God se eiendom (vers 13-14).
Die derde rede waarom gelowiges God se glorie moet prys (vers 14) is omdat ons, saam met die eerste gelowiges wat hulle hoop op Christus gestel het (vers 12) toe hulle die Woord gehoor en geglo het, ook deur die Heilige Gees verseël is.  Die Heilige Gees bevestig naamlik aan ons dat ons saam met die Jode, die volk van God, deel sal hê aan die verdere beloftes van God by die voltooiing van sy verlossingswerk (vgl. 4:30; 2 Kor. 1:22; Gal. 3:5).

Die Gees is God se arrabon (Ef. 1:13-14).  Die begrip stam uit die ekonomiese- en reg-sfere van die samelewing.  ’n Arrabon was tegelyk ’n geborgde belofte (“ek sal alles betaal”), en ’n reeds teenwoordige werklikheid (“hier is die eerste paaiement”).  Die Gees is daarom tegelykertyd ’n teken dat God sy belofte van die herstel van alles gestand sal doen, asook die eerste paaiement daarvan.  Ons deel dus nou reeds in God se herskepping van alles.

In 53 n.C., op pad terug Jerusalem toe na sy eerste sendingreis, het Paulus vir die eerste keer vinnig daar aangedoen (Hand 18:19–21).  Hy het ’n jaar later, tydens ’n volgende reis (ongeveer 53–57 n.C.) weer daar aangedoen en toe ’n volle drie jaar daar gewerk.  Die oudste dokumente maak ook geen melding in vers 1 dat dit aan die gemeente in Efese gerig was nie.

Liturgie

RUS

Toetrede (terwyl die wit kers van die Adventkrans aangesteek word)
Lied 373 of VONKK 147

Votum: Johannes 1:14

Seëngroet

Lofsang: Lied 365 of VONKK 68

Skuldbelydenis
Toewyding
Genadeverkondiging
Geloofsbelydenis

Respons: Lied 371

HOOR

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 1:3-14

Familie-oomblik

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 563

Seën

Respons: Lied 369 of VONKK 65

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede (terwyl die wit kers van die Adventkrans aangesteek word)
Lied 373 “U, Jesus, eersgebore Kind” of
VONKK 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”

Votum: Johannes 1:14

Seëngroet
Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees.” Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.  En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.  Amen.
(uit:  Wepener, Cas.  2011.  Soos ’n blom na die son draai.  Wellington, BybelMedia.)

Lofsang
Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied” of
VONKK 68 “Ere Aan God, Bring Hom Die Eer!”

Skuldbelydenis
Gee geleentheid vir stil refleksie.  Laat lidmate nadink oor die jaar wat verby is.  Wat is die dinge wat hulle wil agterlaat, wil aflê?  Gee geleentheid dat hulle dit in gebed vir God gee.

Toewyding
Voorganger (V): Laat ons tot die Here bid.
Gemeente (G): Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die geheimenis van die Woord wat mens geword het, tot die Here bid.
G: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die nederige geboorte van die Koning van lig in die stal van Betlehem, tot die Here bid.
G: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons op grond van die heerlike verskyning van die Koning van heerlikheid aan die herders en sterrekykers tot die Here bid.
G: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons tot die Here bid vir die vrede en verlossing wat sy geboorte bring.
G: Heer, wees ons genadig.

V: Laat ons tot die Here bid vir eenheid onder alle mense in wie Hy ’n welbehae het.
G: (Sing Lied 247: Heer, wees ons genadig.)

V: Help ons, red ons, troos ons en bewaar ons, Woord wat mens geword en onder ons kom woon het.
G: Amen.
(Uit Handleiding vir die Erediens 2010, Bybel-Media)

Genadeverkondiging
En was dit nie juis so dat
hy ons geskaad het nie?  Maar
toe alles wat lieflik on ons was,
ewewigtig en nederig en klein,
soos ‘n uitmekaargerukte blom
voor daardie verslindende blik
in bleek fyn flardes val
het ‘n verskriklike Toorn uit sy eie hart gebars
in ‘n roos van vlees.
Uittreksel uit Sheila Cussons se gedig “Advent” uit die bundel ‘n Engel deur my kop, voorgestel as skuldbelydenis in Wepener, Cas.  2011.  Soos ’n blom na die son draai.  Wellington, BybelMedia.

Geloofsbelydenis

Respons
Lied 371 “Redder van ons lewe”

Liedere

VONKK 147 “Ons Bring Aan U Die Lof En Eer”
Teks: Gideon Brits 2010
Melodie: Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ – Peter Sohren 1668, ritmies aangepas 2001
Orrelbegeleiding: Werkgroep Kerkmusiek UOVS 1978. Gebruik met toestemming: NG Kerk-Uitgewers 2001
© Teks en orrelbegeleiding: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1.  Ons bring aan U die lof en eer,
ons sing met vreugdeklanke.
U, Heer, ons Koning, het gekom,
dit was ons hartsverlange.
Van vroeg af is dit reeds voorspel
dat U sou kom, Immanuel.
Ons Heiland is gebore!

2. Kom almal, sing jul lof en dank
aan Hom, die Kind gebore.
”Eer aan die Koning en die Heer”,
sing al die hemelkore.
Met blydskap dink ons aan dié dag
deur voorgeslagte lank verwag.
Ons Heiland is gebore!

VONKK 68 “Ere Aan God, Bring Hom Die Eer!”

Teks: Joy to the world – Isaac Watts 1719; Tom Gouws 1993; gewysig VONKK Werkgroep 2009
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
Musiek: ANTIOCH – Lowell Mason 1848, in aansluiting by GF Handel (1658-1759)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Kersfees en Epifanie

1. Ere aan God, bring Hom die eer!
Hy buig in liefde neer.
Profete se verwagting
gaan heerlik in vervulling.
‘n Kind vir ons geskenk!
‘n Seun vir ons gegee!
‘n Koningskind is vir ons gegee!

2. God is met ons, Immanuel!
‘n Engel deel dit mee.
Uiteindelik het Hy gekom,
Verlosser van die mensdom.
Kom buig nou almal neer!
Kom buig voor God, die Heer!
‘n Koningskind is vir ons gegee!

3. Buig voor die Kindjie in die stal.
Hy heers oor die heelal.
Ons wonderbare Raadsman,
ons Vredevors, ons Vader.
Verheerlik Hom tesaam!
Verheerlik Hom tesaam!
‘n Koningskind is vir ons gegee!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 1:3-14

Familie-oomblik

Carolyn Brown sê:  Children will not follow Paul’s story as it is told here.  But, it is a story they appreciate and need to hear.  They therefore depend on worship leaders to retell it for them.  The broad strokes of that story are that Paul grew up believing that his people, the Jewish people, were the only people God loved.  Nobody else mattered.  When he heard Jesus’ message that God loved all people, at first he really, really did not like it.  But, he finally got it.  And, then he spent the rest of his life telling people who were not Jewish that God and Jesus love them.  What an amazing, wonderful change!  His work changed the whole church forever.  Tell this story in your own words, then challenge the children (and other worshipers) to listen for that story as you read it from the Bible. Older children will catch significant phrases here and there. 

Efesiërs praat pragtig van God se genade en liefde.  Die ideaal is natuurlik om nié “object lessons” te gebruik nie, aangesien kinders nie metafore verstaan nie.  Maar John Stevens gee hierdie pragtige idee wat tog die moeite werd is om te oorweeg:

Kry ’n goedkoop speelgoed “magic milk bottle” (beskikbaar vir R40 by Toys R Us).  Jy kan die bottel verbind aan babas en die nuwe jaar.  Jy kan ook praat oor die feit dat ons aangeneem is as God se kinders.

Die magic bottle werk so dat wanneer jy die bottel omdraai en die “baba” voer, loop die melk uit.  Wanneer jy dit weer omdraai, kom die melk weer terug.  ’n Mens kan dalk dink dat jy liefde kan opgebruik, dat jy so baie liefde deel dat jy bang is jy kan leeg raak, dat jy jou liefde kan opgebruik.  Maar liefde is ’n wonderwerk. God se liefde en genade maak ons vol en vol en vol.  God stort so baie liefde oor ons uit sodat ons dit met almal kan deel.  Dit sal nooit opraak nie.

Preekriglyn

Die eerste droom van die jaar

Hatsuyume (初夢) is die Japanese woord vir die eerste droom van die nuwe jaar.  Tradisioneel word dié droom beskou as ‘n aanduiding van die geluk wat die dromer die jaar sal ervaar.  Omdat baie Japannese die Oujaarsnag nie geslaap het nie, was dit gewoonlik die droom van die eerste nag van die nuwe jaar, die 1ste Januarie.  Daarom heet die 2de Januarie Hatsuyume op die tradisionele Japannese kalender.

Wonder wat die inhoud van jou eerste droom dié jaar was?  Vir Japanners sou hulle jaar besonder gelukkig wees as hulle ‘n droom sou hê van die hoogste berg in Japan, Berg Fuji, óf ‘n droom van ‘n valk wat as ‘n slim en sterk voël bekend staan, óf ‘n droom van ‘n eiervrug waarvan die Japanese naam daarvoor, nasu, iets groots of uitsonderliks beteken.

Ons sal in ons konteks verseker ander drome hê wat die dinge wat ons mense op prys stel, verteenwoordig. Miskien sal dit vir sommige meer materiële verlanges wees wat na vore kom.  Vir ander drome oor hulle kinders of drome van ‘n beter toekoms.

Vir ons wat aan die begin van ‘n nuwe jaar staan, is daar egter ‘n ander droom wat ons geluk gaan bepaal.  Dit is die droom wat Gód vir ons het.  ‘n Droom nie net vir elkeen van ons persoonlik nie, maar vir ons as ‘n gemeenskap op reis na die koninkryk van God.

Grafika: Japanese Sparrowhawk, eiendom van Hiyashi Haka, foto geneem op 9 November  2014. Kopiereg laat plasing toe.

God se droom vir ons

Dié droom van God is vir ons opgeteken in die brief aan die gemeente in Efese.  Dit is die brief met die duidelikste uiteensetting in die Nuwe Testament van wat die kerk is, en hoe die kerk moet funksioneer.  Dit is duidelik dat Paulus alles wat hy by die Here oor die kerk geleer het, en in die praktyk gesien het dat dit werk, aan die gemeente deurgee om hulle te motiveer om as gemeente te groei in volwassenheid, sodat hierdie wêreld kan glo.

Die brief is waarskynlik deur Paulus geskrywe, maar vanweë die meer onpersoonlike aard van die brief (hy noem niemand by die naam nie, behalwe Tigikus wat die brief aflewer) moontlik aan meer gemeentes gerig as net aan Efese.   Soos die ander gevangenskap briewe is Rome die meer waarskynlike plek vanwaar hy die brief geskryf het, hoewel Seserea of Efese ook moontlikhede is.

Die brief val duidelik in twee helftes uiteen:

  • ‘n Teologiese begronding van die evangelie van Christus Jesus wat ‘n nuwe mensheid tot stand gebring het oor die grense van nasies heen – hoofstuk 1-3.
  • Praktiese riglyne oor die eenheid van die kerk, die gebruik van gawes, die uitdagings van dissipelskap, die eise van ‘n lewenstyl in die lig, ‘n fokus op verhoudinge en ‘n oproep tot publieke standvastigheid – hoofstuk 4-6.

Die goeie nuus is dat Paulus ons oproep om God te prys vir die droom wat Hy reeds voor die wêreld tot stand gekom het, vir ons gehad het.  Dié droom is:

1. dat Hy óns uitgekies het: “sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou leef” (vers 4) en
2. dat Hy sy wil aan ons bekend gemaak het :“om alle dinge in Christus onder een Hoof saam te bring – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – ja, alles in Hom” (vers 10).

Vóór daar nog só iets was soos ‘n nuwe jaar, vóór daar trouens nog só iets was soos tyd, het Hy dit goedgedink om ons uit te kies en in te trek in wat Hy in Christus gaan doen.

Wat ‘n droom!  Wat ‘n geluk!  Dát God óns in Christus uitkies en deel maak van sy plan met die wêreld.

En die boodskap van hierdie eerste hoofstuk is dat God ons seën om alles in almal te vervul. Dít is sy droom vir ons – dat ons met die seën wat Hy ons gee, die hele wêreld sal laat deel in die seëninge wat Hy op só ‘n besondere en mildadige manier oor ons uitstort.

Paulus bid God se droom vir die kerk

Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye.  Historici bereken dat daar ongeveer 250 000 mense gewoon het aan die begin van ons jaartelling.  Die tempel van Artemis (vgl. Hand. 19), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was ook daar.  Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Paulus begin sy brief aan hulle met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed.  Hy sien dus God se droom vir die kerk en vir elkeen van ons raak, en loof God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (1:3-14).  In sy gebed bid hy dat die droom van God in vervulling sal gaan, en dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (1:15-23).

Dit is al genoeg om oor na te dink!  God het ons geseën met alles wat ons nodig het vir hierdie lewe. Die kern daarvan is dat ons God kan ken en met Hom in verhouding kan lewe.  Ons oë moet net al hoe meer daarvoor oopgaan.

Maar dit is iets waarvoor ons self kan en moet bid, soos wat Paulus hier doen.  Om die waarheid te sê, dít is die dinge waaroor ons moet droom, wanneer ons wakker is, én wanneer ons slaap.  En dit is iets wat ons van God kan verwag – ook vandag.

God gee aan ons sy rykdom

Paulus herinner hulle aan die rykdom wat daar in God is as Vader, Gees en Seun.  Dit is hierdie tipe uitsprake wat die vroeë kerk oortuig het van die lering van die Triniteit.  God die Vader seën hulle; God die Seun verlos hulle; God die Gees sorg dat hulle alles kry wat belowe is.

Maar let ook op dat Paulus nie probeer om die lering regtig te verduidelik nie.  Hy erken dit net, maak die gemeente opgewonde daaroor en raai hulle aan om hierdie God te loof en te leer ken.  Soos oor die uitverkiesing kan ‘n mens net die Here dank en prys oor die feit dat Hy Homself as die Drie-enige openbaar het.

Dit is ook interessant om op te let die werkwoorde waarmee Paulus God se werk in ons beskryf in vers 4-6: uitverkies, bestem, prys.  God het ons met die hand uitgesoek; Hy het sy kinders gemaak; Daarom moet ons Hom prys.  Dit beteken vir ons dat ons nie God se arm hoef te draai om vir ons lief te wees nie.  Ons hoef Hom ook nie te probeer beïndruk met wat ons doen nie.  Ons kan maar net rustig sy geselskap opsoek en  met Hom in gemeenskap lewe.

Wat veral tref – en waaroor ‘n mens die res van die jaar kan nadink – is dat God ons gekies het om heilig en onberispelik voor Hom te wees (vers 4).  Dit sê vir ons drie dinge:

  • dat ons iets van God moet uitstraal vandag en elke dag (heilig);
  • dat ons in alles sal streef daarna om reg te doen (onberispelik);
  • dat ons bewus van God sal lewe in alles wat ons doen (voor Hom).

Dit is hoe prakties die geestelike lewe is.  Laat ‘n mens dink aan Miga 6:8 wat in soortgelyke taal sê dat al wat God van ons vra is:

  • om reg te laat geskied,
  • liefde en trou te bewys en
  • bedagsaam te lewe voor God.
God het ons uitverkies in Christus

Dít is waarvoor God ons uitgekies het “in Christus”, soos vers 4 sê.  Die feit dat God dit voor die skepping van die wêreld besluit het, beteken dat God se besluit van die begin af vasstaan.  Hy het vooraf besluit wat Hy gaan doen, en dit nie op grond van wat óns sóú of gáán doen nie, maar enkel en alleen op grond van wat Hy sou doen.

Ons kan dus daarop reken dat dit vir ons as ‘n geloofsgemeenskap ook waar is.  Die feit dat dit “in Christus”  is, beteken dat alles aan ons binne die verhouding met Christus geskenk word.  Dit is waarom dit so uiters belangrik is om in ‘n verhouding met Hom te lewe.  Sonder dié verhouding loop ons die gevaar om God se gawes aan ons te mis.

Let ook op hoe Paulus in 12 tot 14 met die voornaamwoorde die eenheid beklemtoon wat in Christus gekom het.

  • Hy praat eers van die Jode met die gebruik van die voornaamwoord ons: “ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het”.
  • Dan praat hy van die gelowiges uit die heidense volkere met die gebruik van die voornaamwoord julle: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God”.
  • Dan praat hy van die Heilige Gees wat “julle as die eiendom van God beseël (het)” (die gelowiges uit die heidene) en op soortgelyke wyse van die Heilige Gees wat die “waarborg (is) dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het” (die gelowiges uit die Jode).In taal wat ‘n mens nogal sterk herinner aan Petrus se woorde op Pinksterdag (Hand 2:38-39) begrond Hy dus die eenheid tussen gelowiges uit die Jodedom en die heidendom in die geloof in Christus en in gawe van die Heilige Gees.  Daarmee spel Paulus die praktiese implikasies uit van die eenheid waarop God die Vader besluit het, om “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” (vers 10).  Dit is ‘n eenheid wat kosmies van aard is, en nie net kerklik nie.
God se droom troos en aktiveer ons

Hierdie brief het dit dus ten doel om gelowiges te vertroos en om hulle God te laat loof.  Die gedagtes oor God se seën en die uitverkiesing is nie iets wat mense met vrees en ongemak moet vul nie, maar eerder met ’n diep dankbaarheid teenoor God wat hulle uit vrye guns alleen gered het.

1. Ons kan dit doen omdat God gelowiges uit die Jode en die heidendom (almal “wat aan God behoort” – vers 1) verkies het om Sy kinders te wees deur Jesus (vers 5).  God het ons een met mekaar gemaak.  Daaroor kan ons bly wees.  Daaroor kan ons droom vir die jaar wat kom, dat dit al hoe meer in die praktyk waar sal word.

2. Ons kan dit doen omdat ons God se eiendom is wat deur Hom vrygekoop is van ons oortredinge en omdat ons beskik is om ons hoop op Jesus te stel (vers 11).  Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe deur sy genade (vers 7).  Verder het God aan ons wysheid en insig gegee het (vers 8) in die geheimenis van Sy wil, soos geopenbaar deur Sy verlossingswerk in Jesus Christus (vers 9), op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het (vers 10).

Paulus beklemtoon dus dat ons verlossing nie te danke is aan ons eie geestelike nadenke of ontdekkings nie, maar op grond van God se besluit en openbaring.  God se heilsplan van verlossing, wat reeds voor alle tye by Hom bestaan het, het in Christus sy volle sin en doel bereik.  God het naamlik deur Jesus die gebrokenheid van die hele skepping (mense en engele, hemel en aarde) in Christus herstel tot die toestand van harmonie van voor die sondeval, deur alles onder Sy heerskappy te stel (vers 10).

Daaroor kan ons bly wees.  Daaroor kan ons droom vir die jaar wat kom, dat dit al hoe meer in die praktyk waar sal word.

3. Ons kan God prys omdat ons ook deur die Heilige Gees verseël is.  Die Heilige Gees bevestig aan ons dat ons saam met die Jode, die volk van God, deel sal hê aan die verdere beloftes van God by die voltooiing van sy verlossingswerk (vgl. 4:30; 2 Kor. 1:22; Gal. 3:5).

Die Gees is God se arrabon (Ef. 1:13-14).  Die begrip stam uit die ekonomiese- en reg-sfere van die samelewing.  ’n Arrabon was tegelyk ’n geborgde belofte (“ek sal alles betaal”), en ’n reeds teenwoordige werklikheid (“hier is die eerste paaiement”).  Die Gees is daarom tegelykertyd ’n teken dat God sy belofte van die herstel van alles gestand sal doen, asook die eerste paaiement daarvan.  Ons deel dus nou reeds in God se herskepping van alles.

Dit maak dus nie saak wat jy gedroom het die eerste paar aande van die nuwe jaar nie.  Wat nodig is, is dat jy God se droom vir jou en vir die kerk joune sal maak.  Hom daarvoor sal loof en daarvoor begin werk as God se medewerker.

God seën ons om alles in almal te vervul.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 563 “Aan U, o God, my dankgesange”

Seën

Respons 
Lied 369 “Ere aan God” of
VONKK 65 “Ere Aan God In Die Hoogste (kanon)”
Teks: Gloria in excelsis Deo – Lukas 2:14 Melodie: Ludwig Ernst Gebhardi 1830 © Teks en melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Kanon – Kersfees en Epifanie

1. Ere aan God in die hoogste,

2. vrede op aarde, op aarde,

3. in die mense ‘n welbehae.

4. Amen. Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.