Epifaniefees

Sections

Oorsig

Epifanie is van die Griekse epiphaneia afgelei en beteken “Godsverskyning”. Epifaniefees word deur die Westerse en Oosterse kerke op 6 Januarie gehou. Oosterse kerke (wat dié fees tradisioneel op 19 Januarie gevier het) aanvaar die Westerse datum om Epifaniefees as ekumeniese fees te vier.

Met die viering van Epifaniefees word meer as een Godsverskyning herdenk:
Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte)
Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop)
Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana)
Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne)

Die besoek van die wyse manne en die epifanie van Christus as Messias en Koning aan die volke (verteenwoordig deur die manne uit die Ooste), behoort tot die hart van Epifaniefees. Daarom ook die datum
6 Januarie; hierdie besoek 12 dae na Christus se geboorte. Soms word Epifaniefees ook die “Drie Koningsfees” genoem.

Ander tekste

Psalm 72:1-7, 10-14
Mag die koning lank lewe
72 Van Salomo.
Leer tog die koning, o God,
om te regeer volgens u wil,
leer die koning om die reg te handhaaf
soos U dit wil,
2sodat hy regverdige beslissings
oor u volk sal vel
en aan die verdruktes
reg laat geskied.
3Laat berge en rante hulle verbly
oor die vrede en reg vir die volk.
4Laat die koning
die reg van die verdruktes
onder die volk beskerm,
laat hy armes te hulp kom
en verdrukkers verbrysel,
5sodat die mense U kan dien
so lank as die son
en die maan daar is,
van geslag tot geslag.
6Mag die koning vir sy mense wees
soos die reën vir die plante,
soos swaar reëns
wat die aarde deurdrenk.
7Mag die reg onder sy regering floreer
en mag daar vir altyd
groot voorspoed wees.

8Mag hy heers van see tot see, 
van die Eufraat af
tot in verre lande.
9Mag die woestynbewoners
voor hom kniel
en sy vyande voor hom
in die stof kruip.

10Mag die konings van Tarsis
en die kuslande
geskenke bring,
die konings van Skeba en Seba
aan hom belasting betaal.
11Mag alle konings voor hom buig
en al die nasies hom dien.
12Hy sal die arme red
wat om hulp roep,
die verdrukte
en dié wat geen helper het nie;
13hy sal hom oor die swakke
en die behoeftige ontferm,
die lewens van die arm mense beskerm.
14Hy sal hulle van onderdrukking
en geweld bevry;
hulle lewens sal kosbaar wees
in sy oë.

Efesiërs 3:1-12
Paulus se werk onder die heidennasies
3 Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, ’n gevangene deur my diens aan Christus Jesus.

2Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. 3Hy het sy geheimenis deur ’n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, 4en as julle dit lees, sal julle ’n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. 5Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. 6En dit is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

7Van hierdie evangelie het ek ’n dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. 8Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. 9Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. 10Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, 11soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring. 12In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. 13Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as ’n eer beskou.

Matteus 2:1-12
Besoek uit die ooste
2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:
6En jy, Betlehem, gebied van Juda,
jy is beslis nie die kleinste
onder die leiers van Juda nie.
Uit jou sal ’n leier voortkom
wat vir my volk Israel
’n herder sal wees.”

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Fokusteks

Nasies kom na jou lig toe
60 Kom, Jerusalem, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom,
die magtige teenwoordigheid
van die Here
het vir jou lig gebring.
2Daar is donkerte oor die aarde,
duisternis oor die nasies,
maar oor jou gee die Here lig,
oor jou verskyn
sy magtige teenwoordigheid.
3Nasies kom na jou lig toe
en konings na die glans
van die nuwe dag
wat vir jou aangebreek het.
4Kyk rondom jou, kyk,
hulle kom almal bymekaar,
hulle kom na jou toe:
jou seuns kom van ver af,
jou dogters word met liefde gebring.
5Jy sal dit sien en van vreugde straal,
jy sal bewe van blydskap,
want die rykdom van die see
word joune,
die skatte van die nasies
kom in jou besit.
6Jou land sal vol kamele wees,
jong kamele uit Midian en Efa.
Almal wat uit Skeba kom,
bring goud en wierook
en verkondig die lof van die Here.
7Al die kleinvee van Kedar
word vir jou bymekaargemaak,
die ramme van Nebajot
is tot jou beskikking;
hulle is aanneemlike offers op my altaar.
So vermeerder Ek die roem van die huis
waar Ek geëer word.
8Wat kom hier aangesweef soos wolke,
soos duiwe na hulle neste toe?
9Dit is die skepe van die eilande
wat na My toe op pad is;
heel voor is die skepe van Tarsis af.
Hulle bring jou seuns van ver af,
en ook silwer en goud,
tot eer van die Here jou God,
die Heilige van Israel,
omdat Hy jou roem wil vermeerder.
10Uitlanders sal jou mure herbou,
en hulle konings sal in jou diens wees.
Ek het jou in my toorn gestraf,
maar in my genade ontferm Ek My
oor jou.
11Jou poorte sal altyd oop staan,
dag of nag sal hulle nie gesluit word nie
sodat die rykdomme van die nasies
na jou toe gebring kan word,
en hulle konings as gevangenes
na jou toe gelei kan word.
12Die nasie, die koninkryk
wat jou nie dien nie, sal verdwyn,
dié nasies sal heeltemal tot niet gaan.
13Die hoë bome van die Libanon
sal na jou toe kom,
sipresse, platane en denne,
om die roem van my heiligdom
te vermeerder,
om luister te verleen aan my tempel:
14dié wat jou verdruk het,
sal na jou toe kom en buig,
almal wat jou met minagting
behandel het,
sal by jou voete kniel.
Hulle sal jou noem:
Stad van die Here,
Sion van die Heilige van Israel.
15Jy sal nie meer verstoot
en gehaat wees nie,
‘n plek waar niemand kom nie,
want Ek gee blywende roem aan jou,
vreugde sonder einde.
16Jy sal deur nasies en konings
versorg word
soos ‘n kind wat aan sy moeder se bors
gevoed word.
Dan sal jy besef dat Ek die Here is,
jou Redder,
dat die magtige God van Jakob
jou Verlosser is.
17Ek gee vir jou goud
in die plek van brons,
silwer in die plek van yster,
brons in die plek van hout,
yster in die plek van klip.
Ek laat vrede oor jou regeer,
Ek laat geregtigheid jou bestuur.
18Daar sal nie meer gehoor word
van geweld in jou land nie,
of van ondergang en verwoesting binne jou grense nie.
Jy sal jou mure noem: Redding,
jou poorte: Lof.
19Bedags sal dit nie die son wees
wat vir jou lig gee nie,
snags sal dit nie die maan wees
wat oor jou skyn nie:
die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees,
en jy sal roem in jou God.
20Jou son en jou maan is die Here,
Hy gaan nie onder nie
en word nie dof nie.
Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees,
jou dae van smart is verby.
21Al jou inwoners sal regverdiges wees,
hulle sal die land vir altyd besit.
Hulle is die loot
wat Ek self daar geplant het,
die werk van my hande
om my roem te vermeerder.
22Die kleinste onder hulle
sal duisende word,
die swakste ‘n sterk nasie.
Wanneer die tyd daarvoor kom,
doen Ek dit.
Ek is die Here.

Ekstra stof

Jesaja 60 – Nasies kom na jou lig
Die opskrif van vandag se teks spel die tema van die hoofstuk uit: Nasies kom na jou lig toe. In vier perikope word die boodskap tuisgebring:

  1. God gee lig in Jerusalem vir die nasies – 60:1-3;
  2. Jerusalem word weer vol van sy mense en geskenke van die nasies – 60:4-7;
  3. Jerusalem word weer gebou en deur almal geëer – 60:8-12;
  4. Die tempel word herbou as die stad van die Here waarin Hy as ewige lig sal bly – 60:13-22.

60:1-3: Dit is interessant hoe baie die tema van lig in Jesaja gebruik word.  Dit word verbind aan God as die bron van lig (Jes 2:5; 9:2).  Dit word gekontrasteer met die duisternis (Jes 5:20).  En die dienaar van die Here word spesifiek as God se lig vir die nasies uitgespel (Jes 42:6; 49:6).

Hier word Jerusalem nou opgeroep om hulle lig vir die nasies te laat skyn.  Hoekom?  Want, “vir jou het die lig gekom” (60:1).  En dié lig is niks anders as die magtige teenwoordigheid van die Here wat vir ewig hulle lig sal wees (60:19,20).

60:4-7: Dit is nie net die mense van Jerusalem wat terugkom nie.  Die nasies sal met hulle skatte ook hul goedkeuring gee aan wat God vir sy volk doen. Midian, Efa en Kedar is in Noord-Arabië, en Skeba in Suid-Arabië.  Efa was ‘n Midianitiese stam (Gen 25:4) en Nebajot een van Ismael se seuns (Gen 25:13).

60:8-12: Die middele om Jerusalem te bou, kom van so ver as Tarsis in Spanje af.  Jerusalem se eer en roem word daardeur vermeerder.

60:13-22: Let op hoe die hele gedeelte afstuur op die beskrywing van God wat weer die middelpunt van die stad en die volk sal wees.  Hy is die ware sentrum van die stad en volk, wat nie net die inisiatief geneem het om Hom oor hulle te ontferm nie, maar baie spesifiek gesorg het dat sy optrede nie ‘n nuwe eksklusiewe gemeenskap skep nie, maar ‘n inklusiewe een.

Nuwe Testament: Soos die geval is met Jesaja 9:2, word hierdie lig, die teken van die magtige teenwoordigheid van God, in die NT met Jesus verbind.  Om die waarheid te sê, Johannes gebruik die tema van lig nie net in sy voorwoord van sy evangelie om Jesus se bediening te beskryf nie (Joh 1:1-14).  Jesus self eien dit vir Homself toe: “Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12 – sien ook Joh 9:5; 12:35-36, 46 – ook Matt 5:14; 1 Pet 2:9–10; Open 21:24).

Liturgie

Aanvangslied: Lied 335 “Die Heiland is gebore vs 1,2”

Aanvangswoord: (Jesaja 12)

Seëngroet

Lied 338 “Weer dink ons saam aan daardie nag vs 1,2,3,4”

Epifanie
Epifanie is van die Griekse epiphaneia afgelei en beteken “Godsverskyning”. Epifaniefees word deur die Westerse en Oosterse kerke op 6 Januarie gehou. Oosterse kerke (wat dié fees tradisioneel op 19 Januarie gevier het) aanvaar die Westerse datum om Epifaniefees as ekumeniese fees te vier.

Met die viering van Epifaniefees word meer as een Godsverskyning herdenk:

  • Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte)
  • Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop)
  • Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana)
  • Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne)

Hierdie momente word dan ook nou in die liturgie gebruik.

  • Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte)
    Johannes 1

Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

  • Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop)
    Matteus 3:13-17

Gebed: ahv Jesaja 9

  • Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana)
    Johannes 2

Geloofsbelydenis: Ek glo in Jesus Christus

  • Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne)
    Matteus 2

Toewyding: Here, ons is hier in u teenwoordigheid bymekaar 

Liedere
Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3” en/of
Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Epiklese

Skriflesing: Jesaja 60:1-6

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 335 “Die Heiland is gebore vs 1,2”

Aanvangswoord: (Jesaja 12)
2God is my redder;
Ek vertrou op Hom,
ek is nie meer bang nie.
Die Here my God is my krag
en my beskerming;
Hy is my redder.”
3Met blydskap sal julle water skep
uit die fonteine van redding.
4Op dié dag sal julle uitroep:
“Loof die Here,
roep sy Naam aan,
maak sy dade onder die volke bekend
en verkondig dat sy Naam groot is.
5Sing tot die eer van die Here,
want Hy het groot dinge gedoen,
maak dit aan die hele wêreld bekend.
6Jubel en juig,
inwoners van Sion,
want groot is die Heilige van Israel
en Hy is by julle!”

Seëngroet
Aan almal wat deur Christus Jesus aan God behoort- Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Uit Filippense 1)

Lied 338 “Weer dink ons saam aan daardie nag vs 1,2,3,4”

Epifanie
Epifanie is van die Griekse epiphaneia afgelei en beteken “Godsverskyning”. Epifaniefees word deur die Westerse en Oosterse kerke op 6 Januarie gehou. Oosterse kerke (wat dié fees tradisioneel op 19 Januarie gevier het) aanvaar die Westerse datum om Epifaniefees as ekumeniese fees te vier.

Met die viering van Epifaniefees word meer as een Godsverskyning herdenk:

  • Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte)
  • Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop)
  • Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana)
  • Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne)

Hierdie momente word dan ook nou in die liturgie gebruik.

  • Jesus se aardse verskyning (Christus se geboorte)
    Johannes 1

Die Woord het mens geword
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1,2,3,4”

  • Vader en Heilige Gees teenwoordigheid (tydens Jesus se doop)
    Matteus 3:13-17

Die doop van Jesus
(Mark 1:9–11; Luk 3:21–22; Joh 1:31–34)
13In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word. 14Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word en U kom na my toe?”

15Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Daarna het Johannes ingestem. 16Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ’n duif sien neerdaal en op Hom kom. 17Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.”

Gebed: ahv Jesaja 9
Inderdaad Here-
Vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee;
Hy heers
Hy is Wonderbare Raadsman,
Magtige God,
Ewige Vader,
Vredevors.
Sy heerskappy is aan die uitbrei, en Hy bring vir altyd vrede en voorspoed.
Hy regeer oor sy koninkryk aan die regterhhand van God; Hy vestig die koninkryk en hou dit in stand deur reg en geregtigheid, vir altyd…
Dankie Here Jesus dat u met ons kom assosieer het;
dat U in die doop in ons plek kom staan het;
dat U dit ook later aan die kruis sou doen.
U is Jesus- God met ons, Immanuel!
Amen

  • Vertoning van Christus se mag (met die eerste wonderwerk te Kana)
    Johannes 2

Die bruilof in Kana
2 Op die derde dag was daar ’n bruilof in Kana in Galilea, en die moeder van Jesus was daar. 2Jesus en sy dissipels is ook na die bruilof toe genooi.

6Daar het ses klipkanne gestaan vir water wat die Jode by hulle reiniging gebruik het. Elkeen het tussen negentig en honderd liter gehou. 7Jesus sê toe vir die kelners: “Maak die kanne vol water.”

Hulle het dit tot bo toe volgemaak.

8Toe sê Hy vir hulle: “Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester.”

Hulle het dit gedoen.

Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom 10en sê vir hom: “’n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”

11Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana in Galilea gedoen. Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom.

Geloofsbelydenis: Ek glo in Jesus Christus
Voorganger: Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente: Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2015)

  • Openbaarmaking aan die nasies (met die besoek van die wyse manne)
    Matteus 2

Besoek uit die ooste
2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

Die sterrekykers het toe vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre…

Toewyding: Here, ons is hier in u teenwoordigheid bymekaar
Voorganger: Here, ons is hier in u teenwoordigheid bymekaar.
Gemeente: Ons bring ons nood en die nood van die wêreld met ons saam na U.

V: Ons kom na U want U kom na ons in Jesus Christus.
G: U weet hoe ons lewe op aarde is.

V: Ons kom na U met ons geloof en met ons twyfel.
G: Ons kom na U met ons hoop en met ons vrees.

V: Ons kom net soos ons is, want U het ons genooi om hier te wees.

G: U het belowe om ons nooit te begewe of te verlaat nie.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2015)

Liedere
Lied 358 “Welkom o stille nag van vrede vs 1,2,3” en/of
Lied 367 “Ere aan God vs 1”

Liedere

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en Musiek: Noel & Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht & Jacques Louw
© 1987,1997  Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

F240. “U’s Die Rede”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof & Verwondering/ Geloof & Vertroue)
Teks en Musiek: H Berner
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Sing Uit!)

U’s die rede dat ek leef.
U’s die rede dat ek sing.
En as ek oor U dink,
Weet ek niemand is soos U.
Ek wil U loof
Met alles in my, Heer.
U goedheid nooit vergeet.

Koning oor alles wat leef,
U is die Heer van my hart.
U hou die groot heelal vas in u hand.
En tog leef U in my.
Wie kan met U vergelyk?
Wie kan u grootheid oortref?
Ek wy my hele lewe net aan U.
U is my beste vriend.

En wanneer ek U soek
Laat U my deur U vind.
Dan voel ek soos ‘n kind
Wat in sy pa se arms rus.
Ek smag na U.
U is al wat ek begeer.
Ek verlang na U, o Heer.

U is heilig,  U is heilig.
U is heilig en verhewe, Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
“Lewende Here, ons bid nou dat u lewende woorde nie by ons ’n hart van klip en ’n kop van yster sal aantref nie, maar ’n leergierige gees wat soek na die betekenis van nuwe lewe in U. Laat ons hier ervaar dat U ons Vader is (wat ons as u kinders aangeneem het), dat U ons Verlosser is (wat namens ons gesterf en weer opgestaan het) en dat U deur u Gees ons harte verlig om u stem te hoor. Amen.”
(uit Johannes Calvyn se Straatsburgse liturgie – 1545)

Skriflesing: Jesaja 60:1-6

Prediking

Familie-oomblik

Vertel die pragtige storie van “Star Bright” deur Alison McGhee, illustrasies Peter Reynolds.  Dit is net ‘n mooi fabel wat goed pas by Epifanie. Dit vertel van ‘n engeltjie wat graag iets vir Jesus wou gee en op die ou end die lig van die helder ster was wat die wyses gevolg het.  Koop die Kindle weergawe by Amazon.

As jy dit nog niw het nie, laai die gratis Kindle vir jou rekenaar by Amazon af.  Neem screenshots van die storieboek en gebruik dit in jou powerpoint.

Jy kan ook die preek se inleiding gebruik en aanpas.  Speel met verskillende soorte ligte en gesels oor hoe sterk dit is.  Steek lampies en/of kerse aan.
of
Dramatiseer die besoek van die sterrekykers ahv Matteus se weergawe soos in Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Belangrike Mense uit die Ooste kom Kuier by Jesus
2     1–2 Jesus is in Betlehem gebore. Dit is ’n dorp in die provinsie van Judea. Herodes was hulle koning. Kort nadat Jesus gebore is, het ’n klompie slim mense uit die ooste wat baie van die sterre af geweet het, na Jerusalem toe gekom. Hulle het oral in die stad vir die mense gevra: “Waar is julle nuwe koning? Ons het ’n belangrike ster daar in ons eie land gesien. Hierdie ster sê vir ons dat julle nuwe koning hier iewers gebore is. Ons wil graag vir hom geskenke kom gee om vir Hom te wys hoe bly ons is oor sy geboorte.”

3–5 Nie lank nie, of koning Herodes het ook gehoor van die slim manne daar uit die ooste. Hy was baie omgekrap oor wat hulle gesê het. Die mense van Jerusalem was ook ontsteld. Almal het gewonder wat is aan die gang. Herodes het toe sy eie slim mense wat die Bybel goed ken, bymekaar geroep. “Sê my, waar gaan die Redder* gebore word wat God na ons toe sal stuur?” het hy hulle gevra.

6–7 “In Betlehem, in die provinsie van Judea,” het hulle gesê. Miga, ’n boodskapper van God het mos al lank terug geskryf:

“Betlehem, jy is nie meer ’n onbelangrike dorpie iewers in Juda nie.

’n Baie belangrike man sal van jou af kom.

Hy sal sorg dat Israel doen wat die Here sê.”

8 Koning Herodes het toe ’n plan gemaak. Hy het die slim manne uit die ooste stilletjies na sy paleis toe genooi. Toe hulle daar aankom, vra hy ewe onskuldig vir hulle wanneer hulle die ster gesien het. Nadat hy na hulle geluister het, sê hy vir hulle om na Betlehem toe te gaan. “Gaan soek die nuwe koning daar. Laat weet my wanneer julle Hom kry. Want ek wil ook vir Hom gaan kuier om vir Hom te wys hoe bly ek is oor sy geboorte,” het Herodes gesê. Maar hy het gejok.

9–11 Die manne is vinnig na Betlehem toe. Toe dit donker word, sien hulle weer dieselfde ster van vroeër in die lug. Dit het stadig voor hulle uit beweeg totdat hulle by die plek kom waar Jesus en sy ouers was. Hulle was baie bly toe hulle hierdie ster sien. Want die ster het hulle reguit na Jesus toe gevat. Toe hulle vir Jesus daar by sy ma sien, het hulle dadelik op hulle knieë geval. Hulle het baie groot respek vir Jesus gehad. Hierdie slim manne het ook die presente uitgehaal wat hulle saamgebring het. Dit was baie duur geskenke wat van goud gemaak is, en ook parfuum wat baie lekker ruik.

12 Die slim manne het hierna ’n droom gehad. Die Here het vir hulle gesê om nie na Herodes toe terug te gaan nie. Want Herodes wou Jesus doodmaak. Hulle het toe besluit om met ’n ander pad na hulle eie land toe terug te gaan.

‘n Inkleurprent is hier beskikbaar.

Preekriglyn

[Nota: Indien moontlik kan die prediker die boodskap (of die erediens) begin deur die gebou te verdonker en ‘n klein olielampie aan te steek (‘n kers sal seker ook doen).]

Ons is so gewoond aan ‘n oorvloed lig dat ons ons die nagdonkerte van die antieke wêreld baie moeilik kan voorstel. Beurtkrag stel ons ‘n slag weer aan duisternis bloot. Maar met ons sonpanele, battery-banke, kragopwekkers, gaslampe of helder LED-flitse druk ons die grense van die duisternis weer terug.

Die wêreld van Jesaja was ‘n wêreld sonder al hierdie ligte. Feitlik al wat beskikbaar was, was olielampies wat met olyfolie gewerk het. Saans, met verskeie lampies aan die brand, was die gemiddelde huis nie helderder verlig as wat ons vandag met ‘n outydse 40W gloeilamp sal beleef nie. Die vuurherd, waar gekook is, sou ook bietjie lig verskaf. Die olielampie was egter die hooflig.

Ons verstaan eers werklik die impak van Jesaja 60 se simboliek omdat ons nou van tyd tot tyd sonder elektrisiteit en ander maklike maniere van ligmaak moet klaarkom. Lig is lewe. Lig is hoop. Kyk na die bietjie lig van hulle kleilampe waarmee die mense moes leef. Niks gebeur as dit nag is nie. Jy is uitgelewer aan jou lampies en die maan daarbuite.

Antieke olielampe was ovaalvormig en plat aan die bokant. Dit was eintlik aan die een kant ‘n klein bakkie, met een punt wat aan die ander kant in ‘n tuit gevorm is waar die pit van die lamp kon lê. Sommige lampe het ‘n dekseltjie oor die bakkie gehad. Die lampie is gewoonlik van klein gemaak, maar duurder modelle kon uit brons en selfs goud bestaan.

Daar was nie vuurhoutjies nie, sodat lampies dikwels vir lang tye aan die brand gehou is. Hulle het ook ‘n soeterige geur afgegee.

Donker en hooploos

In ons teks is die volk Israel terug uit ballingskap, maar figuurlik is dit vir hulle steeds donker. Hulle het met groot opgewondenheid teruggekom om die tempel en stad te herbou. Dit was egter gou vir hulle ‘n groot antiklimaks. Swak oeste, droogtes, onderlinge konflik en ander energietappende gebeure het gemaak dat die volk apaties raak.

Hulle het die hoop en wil om te lewe verloor. Heel moontlik, soos Israel van ouds terug verlang het na Egipte, het hulle begin terugverlang na Babilonië.

Woorde van lig

In die donkerte van hulle gemoed spreek God deur die profeet woorde van lig. Lig is die sentrale simboliek van die eerste verse. Verskillende vertalings van die teks bied ‘n opeenhoping van sinonieme: “verlig”, “jou lig kom”, “heerlikheid”, “stralende opgang”, “straal”, “shine”, “light”, “glory”, “brightness of your dawn”, “radiant”.

Waar hulle gevoel het hulle is midde-in duisternis, vorm die bogenoemde woorde ‘n nuwe werklikheid; die lig sal skyn in Jerusalem en die donkerte sal buite wees. Jerusalem sal uitstaan en skyn. Almal sal daarheen stroom, met hulle rykdom en al. Jerusalem sal nou die ligpunt word.

Bron van die lig

Maar wat is die belangrikste? Die lig of die bron van die lig? Wie is die bron van die lig? God. God is self die lig. God se heerlikheid gaan oor hulle opkom. As mens verder lees in Jesaja 60:19-20, word God as bron van lig verder onderstreep: “Bedags sal dit nie die son wees wat vir jou lig gee nie, snags sal dit nie die maan wees wat oor jou skyn nie: die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, en jy sal roem in jou God. Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en Hy word nie dof nie. Die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.”

Die lig kom uit ‘n ander bron. Daarom gee dit hoop. Die gevolg van die lig is “ommekeer” (“reversal”). Maar die ommekeer vra ook ‘n nuwe ingesteldheid. Die volk wat dit ervaar, ervaar ook in hulle harte dat dit “ontroer en verruim” word. Maak hulle hulle harte ook nou oop vir dié van buite wat God na hulle toe stuur? Verwelkom hulle nou uit dankbaarheid die hordes wat hulle God raaksien en kom?

Stad op ‘n berg

God leer Israel hier wat Jesus sy kerk in die Nuwe Testament sou leer. Ons is ‘n lamp wat nie onder ‘n maatemmer weggesteek kan word nie. Ons is ‘n stad op ‘n berg wat ‘n tuiskoms van ver vir mense bied. Ons is die lig wat ander met lig bedien, die lig wat van God uitstraal.

Uitnodigend

God as bron van die lig van God se volk. Die beeld van God se volk as lig werk so dat dit moet lok. Uitnodigend, lewegewend. Hierdie beeld verwys na God se woorde en beloftes lank terug, maar dit is tog ook uitnodigend.

Die Nuwe Testament noem Christene mense van die Lig. Hoe lyk sulke mense? Vol hoop, verwelkomend, lewegewend, inspirerend. Te midde van Epifanie word ons herinner dat God in Christus finaal en vas lig gebring het. Nie net lig gebring het nie maar Lig is. Ons bely nie verniet in die Belydenis van Nicea, “God uit God, Lig uit Lig” nie.

Donker tye

Dis nie altyd so maklik om jou lig-identiteit te onthou nie. In ons lande hier is Suider-Afrika lyk dit soms of duisternis oorwin. Dink aan Zimbabwe, en ook Suid-Afrika.

Mense van alle kleure en geure in Suid-Afrika voel of dit nou vinnig donker begin word. Miskien beliggaam twee boeke wat onlangs verskyn het, ons gevoel. Justice Malala se boek beliggaam duisternis: “We have now begun our descent: How to stop South Africa losing its way.” Van RW Johnson het verskyn: “How long will South Africa survive?”

Die waarde van die Rand het geval. Lewenskoste gaan op. Nuwe lokomotiewe is ten duurste gekoop, maar pas nie by ons toestande nie. SAL slurp oor die afgelope jare tesaam meer aan reddingsboeie op as wat gratis studie aan universiteite ons sal kos. Die Gautrein kos R1.5 miljard per jaar aan subsidie, meer as wat dit sou kos om die Gautengse paaie te bou waarvoor ‘n mislukte e-tolstelsel nou moet probeer instaan.

Verruimde harte

Dit is ongelukkig so dat ons in tye van wanhoop en bedreiging eerder ons harte vernou en verklein. Dat dit tye word wat ons Bybels-spreekwoordelik ons lig onder die maatemmer wegsteek, skanse bou om onsself te beskerm en die “ander” uit te hou. Die tye van wanhoop is tye wat ons geneig is om nader te kyk.

Die profeet nooi die inwoners van Jerusalem en vir ons uit om juis in sulke tye verder te kyk. Hoop het tog te make daarmee om teen jou persepsies en ervarings in te droom en te glo. Hoekom? Omdat jy vertrou op die Bron. Die Bron wat skeppend en verlossend ook in duisternis werk, want vir God is ook duisternis lig. Daarom moet ons gedurig herinner word; deur die Woord en bymekaarkom van gelowiges. God is altyd en gedurig reddend en skeppend teenwoordig. Ons mag dit nie vergeet nie. As ons onthou, leef ons anders en dan is ons ook lig en hoop vir ander.

Bethlehemster van lig

In die Kerstyd het ons sopas gesing van die Bethlehemster wat lig uitstraal. Die ster het die wyse manne gelok, mense uit ander volke. Hulle het kom kniel, met hulle kosbaarhede en ‘n nuwe bestel het aangebreek. ‘n Bestel van innooi en nie uitstoot nie, van vryspraak en lewe.

Mag ons wat so pas in die Kerstyd weer die goeie nuus gehoor het, se harte ook so verryk word soos die woorde in Jesaja 60 toe die inwoners van Jerusalem die karavane sien aankom het: “Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word.

Kom ons bid hierdie gebed uit ‘n Nieu-Seelandse gebedsboek op ‘n daaglikse basis:
Jesus, as we travel far and fast,
lead our minds back to the [magi] following your star,
and forward to the day
when all see your shining light.
“Jesus, light of the world,
let your bright star stand over the place
where the poor have to live;
lead our eager sages to wisdom and our rulers to reverence.
“O, God by the leading of a star
you revealed your Son Jesus Christ to the gentiles;
grant that your Church may be a light to the nations,
so that the whole world may come to see
the splendour of your glory;
through Jesus Christ our Lord.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 371 “Redder van ons lewe vs 1,2,3”

Seën
“Mag die Here jou seën met ongemak
oor maklike antwoorde, halwe waarhede en
oppervlakkige verhoudinge
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede
oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane
om te stort vir mense in pyn, wat verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag die Here jou seën met genoeg dwaasheid
om te glo dat jy ’n verskil in hierdie wêreld kan maak
sodat jy die dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.”
(Ou Franciskaanse seënbede)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.