Elfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Om “uit die dieptes” vir onsself en vir ander te smeek, kan die eerste beweging van die liturgie rig. Die Samuel-teks is implisiet teenwoordig. Die rol van die Heilige Gees, teenwoordig in die Efesiërs-teks, sou ‘n brug kon wees tot die eucharistiese tema van Johannes by die tafel.

Die sleutelteks uit Efesiërs fokus hierdie Sondag op riglyne vir ‘n nuwe lewe in Christus. Die simbool hierdie week (sien basisliturgie) is ‘n aansteekbord met verskeie berigte oor goeie en slegte gebeure.

Ander tekste 

2 Samuel 18:5-9, 15, 31-33
5Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.”
Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het.

6Die manskappe het toe in die oop veld teen Israel opgetrek. Daar het ’n geveg in die Efraimbos ontstaan, 7en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was ’n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval. 8Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.

9Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op ’n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van ’n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.

15Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.

31en toe kom die Kussiet juis net daar aan en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”

32“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”

33Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”

Psalm 130
’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Johannes 6:35, 41-51
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. 36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie
41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?” 

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Sleutelteks

Efesiërs 4:25-5:2
Vermanings oor die alledaagse lewe 
4:25 Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. 26 Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. 27 Moenie vir die Duiwel plek gee nie. 28 Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. 29 Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. 30 En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. 31 Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. 32 Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.

5:1 Volg dan die voorbeeld van God  as geliefde kinders, 2 en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as ‘n offergawe aan God, as ‘n offerande met ‘n aangename geur.

3 Maar, soos dit heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie, 4 ook nie van skandelikhede en dwase of lawwe praatjies, wat alles onvanpas is nie, maar eerder van danksegging. 5 Want dit moet julle goed begryp: Geen hoereerder of onreine of gierigaard – so iemand is ‘n afgodedienaar – het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie. (2020-vertaling)

Ekstra stof

Paulus beweeg nou in hoofstuk 4 en 5 van die beskrywing van hoe die kerk behoort te werk, na hoe hulle lewens behoort te werk.  En in drie perikope beskryf hy hoe dié lewe daar moet uitsien: 1) ‘n heilige lewe – 4:17-24; 2) ‘n lewe in liefde – 4:25-5:5; 3) vervul met die Heilige Gees – 5:6-20.

‘n Heilige lewe – 4:17-24
Dit is interessant vir my dat Paulus se appèl op ‘n heilige lewe (vers 24) gebaseer is op wat God reeds vir hulle gedoen het (vers 20), en wat in die kerk se groei na Christus toe geïllustreer word (vers 15-16).

Paulus sê nie vir hulle: kry julle lewens reg sodat julle deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges kan word nie.  Hy sê in teendeel: julle is deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges – tree dan op as mense van wie dit waar is.  Dit is ómdat ons die Here leer ken het, en ómdat ons in ‘n gemeenskap van gelowiges tereg gekom het, dat ons eintlik nie anders kan as om regtig te breek met die ou sondige mens in ons, en ons gees en gedagtes nuut kan word.

Ons roeping om as nuwe mense te lewe wat na die beeld van God gespek is, begin by ons insluiting in die liggaam van Christus, iets wat God in ons lewens bewerk het. En dit help my verstaan dat veroordeling van mense vir hulle onkunde of selfs losbandigheid (vers 19) nie help nie, want daardeur druk jy mense weg van presies die plek waar hulle kennis en genesing kan kry.  Wat wel ongelooflik belangrik is, is dat ons ‘n ernstige beroep op mense kan maak (wat onkundig  of losbandig lewe)  dat hulle moet optree soos hulle Christus leer ken het, en moet breek met dít wat na regte agter hulle lê.

‘n Lewe in liefde – 4:25-5:5
Paulus brei hier uit op hoe só ‘n lewe lyk.  En hy fokus op baie praktiese aspekte:

  • Om die waarheid te praat, veral omdat ons een familie is (vers 25);
  • Om nie te sondig as jy kwaad raak, en veral nie lank kwaad te bly nie (vers 26-27);
  • Om hard te werk sodat jy iets het om die armes mee te dien (vers 28);
  • Om opbouende gesprekke te voer (vers 29);
  • Om die Heilige Gees toe te laat jou lewe te beheer (vers 30);
  • Om niks te doen wat sleg is nie (vers 30);
  • Om goedgesind en hartlik te wees (vers 32);
  • Om in liefde te lewe, soos God dit vir ons ‘n voorbeeld gegee het (5:1-2);
  • Om soos heiliges (dit is die Griekse woord wat met gelowiges vertaal is) te lewe (5:3-5).

Dit herinner aan Paulus se woorde aan die gemeente in Filippi (4:4-9).

Vervul met die Heilige Gees – 5:6-20
Paulus gebruik die baie bekende metafoor van die verskil tussen lig en duisternis om die Efesiërs te help onderskei tussen die onwaarhede waarmee mense baie keer vir ons probeer mislei.  ‘n Eenvoudige maatstaf is of ‘n spesifieke optrede in die lig gedoen kan word, en of jy dit eerder in die donker wil doen, en wil hê dat ander mense nie daarvan weet nie.  Laat ‘n mens dink aan die riglyne vir Corporate Governance (King) wat insluit dat iets wat jy in ‘n maatskappy doen aan die volgende vier toetse onderwerp moet word: deursigtigheid, verantwoordbaarheid, verantwoordelikheid, en billikheid.

Maar dit gaan nie net om ‘n eie onderskeiding wat jy moet aanlê om te weet of jy iets mag of nie mag doen nie.  Dit gaan oor die liggaam van Jesus Christus wat saam onderskei – let op die meervoud van die voornaamwoorde wat Paulus hier gebruik: “moenie dat iemand julle mislei nie”, Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is”.  En daarby moet die lig laat skyn word op dié dinge wat eerder in die geheim en in die donker gehou wil word.

“Wees baie versigtig hoe julle lewe” – vers 15 – veral deur te wete te kom wat die Here wil dat julle moet doen (vers 17).

Vanuit hierdie perspektief van ‘n heilige lewe, wat in liefde geleef word, verstaan ‘n mens dat Paulus se opdrag om die Heilige Gees toe te laat om hulle te vervul die enigste manier is waarop heiligheid en liefde ‘n werklikheid kan word (vers 18).  Let ook op dat dit nie net oor die Gees gaan nie, maar ook oor Jesus, die Here (sing tot sy eer), en ook oor die Vader (dank Hom oor alles).

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 21 of Flam 352 of Lied 306

Votum; Psalm 130:5-8

Seëngroet: n.a.v.Efesiërs 1

Lofsang: Lied 182

Wet: Efesiërs 4:25-5:2

Skuldbelydenis: Psalm 130 (Spies-beryming) of Flam 145 of Flam 461

Genadeverkondiging: Johannes 6:47-51

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4

HOOR

Gebed
Skriflesing: Efesiërs 4:25-5:2

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 280

Seën: (op grond van Efesiërs 1:13-14; 6:23-24)

Respons: Lied 280 vers 2 laaste twee reëls Vas kan ek op U vertrou

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 21 Wag op die Heer of
Flam 352 Met My Hele Hart of
Lied 306 “My lewe bly aan U gewy”

Votum: Psalm 130:5-8
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Seëngroet: Efesiërs 1
Aan die heiliges wat in (die naam van die gemeente se dorp/stad/gebied) woon, die gelowiges in Christus Jesus: Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus

Lofsang
Lied 182 “Ons wil, o Heer, U loof en eer”

Wet: Efesiërs 4:25-5:2
4:25 Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. 26 Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. 27 Moenie vir die Duiwel plek gee nie. 28 Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. 29 Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. 30 En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. 31 Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. 32 Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.

5:1 Volg dan die voorbeeld van God  as geliefde kinders, 2 en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad, en Homself ter wille van ons oorgegee het as ‘n offergawe aan God, as ‘n offerande met ‘n aangename geur.

Skuldbelydenis
Psalm 130 (Spies-beryming) of
Flam 145 Hier Is Ek of
Flam 461 Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U)

Genadeverkondiging: Johannes 6:47-51
47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
soos Hy dit vooruit al bestem het.
So het Hy Hom dit voorgeneem- Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
toe ons die waarheid wat aan ons verkondig is,
die evangelie van ons verlossing, gehoor het
en tot geloof gekom het.

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as die eiendom van God beseël.

Daar is net één liggaam en net één Gees,
soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het.
Daar is net één Here, één geloof, één doop,
één God en Vader van almal:
Hy wat oor almal is,
deur almal werk
en in almal woon.

Liedere

VONKK 21 “Wag op die Heer”
Nav Markus 13:33,35,36 Teks: Wait for the Lord – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009 Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse  in hierdie weergawe en musiek) © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

Wag op die Heer,
sy dag kom gou.
Wag op die Heer:
bly bid en waak.

Wait for the Lord,
whose day is near.
Wait for the Lord:
keep watch, take heart!

F352. “Met My Hele Hart”
(RUBRIEK: Flam – Lof; Toewyding; Gebed) Teks en musiek: Riaan van Jaarsveld Kopiereg: Ó Flam Musiek-Uitgewers

1. Hier is ek, o Heer, doen met my soos U wil,
U wat my hart vervul.
Hier is ek, o God, neem my lewe in u hand
en laat u vlam in my brand.

Refrein:
Met my hele hart wil ek u Naam loof en prys,
U liefde is al wat ek begeer.
Vir al ons sondes het u Seun gesterf aan die kruis,
hoe wonderbaar is u Naam o Heer!

2. Laat my volhard, o Heer, met elke dag se stryd
en maak my voorbereid.
Laat my weer sien, o God, dat U alles vir my is,
moet nooit u vlam in my blus.

F145. “Hier Is Ek”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis) Teks en musiek: Retief Burger © 2005 Urial Publishing (Luk 15:11-32, Jer 3:19-22, Jes 1:18, Ps 130)

1. Hier is ek met my sondesak en die stof klou aan my kleed.
Ek’t ver gekom en die reis het my gebreek.
Die verbode land van skuld en seer het my alleen gelos
en ek soek weer na my Pa se diepe sielekos …

Refrein:
Hier is ek, gebroke,
hier is ek, verlore in myself,
hier is ek, by u voete Heer,
want hier is lewe en genade vir ’n kind.

2. Soveel keer het ek geval en my skouers deurgeskaaf
want ek bly nog glo die las moet ek self dra.
Tog is dit weer U wat na my toe aangehardloop kom
en u arms van liefde en vergifnis om my vou.

F461. “Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)  Teks en musiek: Louis Brittz Kopiereg: © Urial Publishing

Uit die dieptes roep ek na U,
hoor my hulpgeroep, o God.
Sou U my sonde my toereken
wat sou van my oorbly, Heer?

Maar by U is daar vergifnis
daarom sal ek U bly dien.

Refrein:
Ek stel vertroue in die Here
op die vervulling van u Woord.
Meer as wat die wagters op die môre wag
wag ek op U,
wag ek op U

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Efesiërs 4:25-5:2

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

John Stevens stel voor dat jy focus op Ef 5:1 – Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders. Sommige  Engels vertalings praat van “immitate”. Daar is allerhande lekker maniere waarop jy kan gesels oor iemand se voorbeeld volg. Julle kan “Simon Says” speel, waar almal jou voorbeeld moet volg – maar nét wanneer jy sê “Simon says”.  Of julle kan op sekere maniere aantrek en mense namaak: jy kan ‘n plastiek tiara opsit en ‘n prinses namaak; ‘n kind met ‘n toga op ‘n preekstoel; iemand in ‘n Superman mantel, ens. Dan kan julle gesels oor hoe ons God se voorbeeld volg – deur lief te hê soos God liefhet. Probeer aan praktiese kind-vriendelike voorbeelde dink, soos tafel dek, vir iemand waai, ens.

Carolyn Brown stel voor dat jy gesels oor al die reëls waarvolgens ‘n mens moet leef. Jy kan bv lekker gesels oor die reëls by die skool of die Covid-veiligheidsreëls. Dan kan jy verwys na die “reëls” van die fokusteks. Vir kinders, sê sy, sal die reëls vertaal as:

  • Always tell the truth, no matter what.  Don’t tell lies.  Be honest.
  • When you are angry, work it out.  Don’t carry a load of anger around with you.
  • Don’t steal other people’s stuff or work (cheating is stealing)
  • Be careful about what you say.  Words can hurt.  So, no gossip, lies about what others do, or name calling.
  • Don’t be bitter, mad at someone all the time, a name caller, or become full of hurt and angry, evil thoughts.
  • Do be kind to everyone and forgive others when it is needed.

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preek werk met ‘n teksindeling wat by Efesiërs 5:5 afsluit.]
C. Austin Miles het ‘n ongelooflike lied geskryf: I come to the garden alone. Kom ons lees dit saam:
I come to the garden alone
1. I come to the garden alone
while the dew is still on the roses,
and the voice I hear falling on my ear
the Son of God discloses.

Refrain:
And he walks with me, and he talks with me,
and he tells me I am his own;
and the joy we share as we tarry there,
none other has ever known.

2. He speaks, and the sound of his voice,
is so sweet the birds hush their singing,
and the melody that he gave to me
within my heart is ringing. (Refrain)

3. I’d stay in the garden with him
though the night around me be falling,
but he bids me go; thru the voice of woe
his voice to me is calling. (Refrain)

C. Austin Miles (1913)
Dit is ‘n ongelooflike raak beskrywing van die ervaring wat ‘n mens het as jy in ‘n noue gemeenskap met die Here wandel. Daar is ‘n stuk ontsluiting van God wat in gebed kom wat nie met woorde beskryf kan word nie. En daar is altyd ‘n stuk roeping daarin, “he bids me go” en dit sluit baie keer moeilike tye in “thru the voice of woe”. Maar, die vreugde van die intimiteit met God is onvergelykbaar met enigiets anders.

En dít is die roeping van elke kind van God. Dít is die deel van elke kind van God. Dít is waarvoor ons geskape is. Dít is waarvoor ons verlos is. Om in ‘n ononderbroke gemeenskap met God te lewe.

Maar, dié lied van C. Austin Miles roep twee Skrifgedeeltes na vore, een van verlies, en een van vreugde. Skrifgedeeltes wat nodig is om die omvang van die betekenis van Miles se lied te kan verstaan.

Tuin van Eden

Die eerste is die tuin van Eden. Genesis 3. Adam en Eva wat wegkruip vir God, omdat hulle bang was vir Hom. Hulle het gesondig teen God deur van die verbode boom te eet. En hulle het agter gekom dat hulle kaal is – nie net letterlik kaal nie, maar kaal voor God, en daarom skaam weens hulle sonde. En daarom vrees hulle die stem van God, kruip hulle weg vir die God wat vra: “Waar is jy?” Hulle het dié ervaring van die lied gehad, maar dit verloor, weens hulle sonde.

Tuingraf

Die tweede is die tuin van Josef van Arimatea op Golgota (Joh. 19:41). Johannes 20. Maria Magdalena wat huil by die graf “omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom sou begrawe het nie.” (Joh. 20:13). Die verrassing was groot toe sy die stem van die Here Jesus herken, wat vir haar sê: “Maria!” En sy gryp sy voete en aanbid Hom (Matt. 28:10).

Jesus verdryf haar vrees en gee haar die opdrag om vir die ander te gaan vertel Hy het opgestaan. Daar is nuwe lewe moontlik. Sy was die eerste wat die ervaring van die lied weer kon omarm, weens Jesus se opstanding.

Kontras

Die twee tuine verteenwoordig twee verhale:

  • Die een verhaal is een van vrees. Die ander verhaal is een van vreugde.
  • Die een verhaal vertel vir ons van die effek van sonde. Die ander verhaal vertel vir ons van die effek van versoening.
  • Die een verhaal wys die problematiek van die ou mens. Die ander verhaal wys die moontlikhede van die nuwe mens.
  • Die een verhaal is gebaseer op die dwaasheid van die keuses van die ou lewe. Die ander verhaal is gebaseer op die gawe van die opstanding in ‘n nuwe lewe.
  • In die een verhaal het Adam en Eva die misleiding van die Satan as waarheid aanvaar. In die ander verhaal het Maria Magdalena die openbaring in Christus as waarheid aanvaar.
  • Die een verhaal vertel van die vrees vir die stem van God. Die ander verhaal vertel van die vreugde wat God se stem bring.

Hierdie twee tuine help ons ons teks verstaan.

‘n Prentjie vir ons teks

En dit is met dié prentjie in ons kop wat ons na Efesiërs moet luister. Want, God het ‘n droom vir ons. Hy wil die vrees vir Hom weens ons sonde wegneem en ons in die vreugde van sy teenwoordigheid laat wandel. Hy wil met ons ononderbroke gemeenskap hê.

Hy wil die skuld en skande van ons ou mens verander sodat ons in die nuwe lewe kan wandel in alle waarheid en heiligheid. Hy wil die beeld van God wat in ons beskadig is deur die sonde herstel en ons maak soos Hyself is, sonder sonde, heilig, onbesproke.

Daarom moedig Paulus ons aan: “Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (4:24). Ons prentjie van Christenwees moet wees om “soos God” te wees, om God se navolgers te wees, om soos Hy lief te hê, om soos Hy alles wat sleg is te haat en te leef vir die goeie, die opbouende, die verheffende.

Dít wat ons in Eden verloor het, en op die opstandingsmôre terug gekry het, dít moet ons doelwit wees, om herskep te word na die beeld van God, in ware geregtigheid, in ware heiligheid, trouens, in die waarheid, soos Paulus dit hier uitspel.

Wat is waarheid?

Paulus spel die waarheid uit as iets wat in Jesus is. Die waarheid is in die persoon en lering van Jesus, wat, sê Paulus, die gemeente van Efese leer en onderrig om nie langer soos heidene te lewe nie, om nie meer met die leë gedagtes en duister denke wat kom uit ‘n harde hart op te tree nie, dinge wat hulle verlei om hulleself oor te gee aan losbandigheid (porneia) om, soos Paulus dit stel: “onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg” nie. (4:19).

Dít, sê Paulus, is nie soos julle Christus leer ken het nie. Só ‘n lewe is nie in die waarheid nie.

  • Die waarheid het iets te sê vir jouself. Die “waarheid wat in Jesus is” – vers 21 – leer die geloofsgemeenskap om die ou mens en sy sondes af te lê – vers 22 – en in hulle denke vernuwe te word – vers 23 – en die nuwe mens aan te trek wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is – vers 24.
  • Die waarheid het iets te sê vir jou verhouding met jou naaste. Die waarheid wat in Jesus is, sluit in dat gemeentelede die waarheid moet praat met hulle naaste, want ons is lede van een liggaam – vers 25. Wees goed vir mekaar, sê Paulus, welwillend, terwyl julle mekaar vergewe soos God in Christus julle ook vergewe het – vers 32. Dit is hoe ‘n mens in liefde by die waarheid bly, oop en eerlik oor die waarheid wat in die Here Jesus is.
  • Die waarheid het ook iets te sê vir jou lewenstyl. Hierdie waarheid sluit in dat die gevolge van ‘n lewe wat nie in Christus is nie, en wat nie volgens sy waarheid gelewe word nie, dat dit vir hulle uitgespel word. Soos Paulus in hfst. 5 sê: “Soos dit heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie … Want dit moet julle goed begryp: Geen ontugtige of onreine of gierigaard – so iemand is ‘n afgodedienaar – het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (5:3-5).

Niemand wat God se wil vir verhoudings en die lewe oortree, niemand wat die waarheid ontken en dwaalleer omhels, en daarin volhard, het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie. Niemand nie.

  • Die oortredings sluit onsedelikheid (porneia) in – seksuele losbandigheid.
  • Die oortredings sluit onreinheid (akatharsia) in – die ontering van ons liggame onder mekaar, wat in Rom. 1:24 duidelik uitgespel word.
  • Die oortredings sluit alle gierigheid (pleonexia) in – enige lewenstyl waarin God nie die botoon voer nie, maar waar jou eie begeertes na meer jou lewe beheer.
Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie

Dit is harde woorde dié. Dit kan ongenaakbaar oorkom. Maar, dit is natuurlik doelbewus só.

Paulus is bekommerd oor die dwaalleringe wat die gemeente van Efese van die spoor gaan afneem. Hy kan nie bekostig om doekies om te draai en die waarheid op ‘n bedekte manier of met ‘n omweg aan hulle te bring nie.

Anders sal hulle nie groei in hulle verhouding met Christus nie. Dan praat hy nie meer die waarheid in liefde nie. Dan sal hulle nooit die samebindende krag van die vrede ken nie. Dan sal hulle nooit die eenheid van die Gees kan bewaar nie. Dan sal hulle nooit vol word met die volheid van God nie.

En dít is die doel, om só vol van God se wese te word dat sy beeld herstel word in jou. Dat as iemand na jou kyk, hy of sy nie net vir jou raaksien nie, maar vir God, en die volheid van sy volheid.

Anders, sal hulle die Heilige Gees van God bedroef, dié Een deur wie hulle met die oog op die dag van bevryding verseël is, dié een wat hulle voorberei vir die dag van die openbaarmaking van die kinders van God.

God kan dus bedroef raak – in jou – omdat jy nie groei in die rigting wat sy Gees jou wil neem nie. Watter ongelooflike verontrustende gedagte!

Dink jou in in die ervaring wat die inwonende Gees in jou het as Hy gedwarsboom word deur jou hardkoppigheid en ongehoorsaamheid.

  • As Hy jou wil heilig maak, en jy kies om in onreinheid, onsedelikheid en gierigheid te volhard.
  • As Hy jou wil leer om opbouend te leef, en jy kies om negatief te praat, en jy volhard in bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met ‘n mond wat oorborrel van vuil taal.

Dit bedroef die hart van God. Veral omdat sonde nie net jou hart ‘n ongure plek maak om in te bly nie – by wyse van spreke – maar ook omdat dit die eenheid in die liggaam van Christus dwarsboom, sodat die Gees ook nie die kerk kan inspireer om God se wil te doen nie.

Bedroef in die Bybel

Efesiërs is die enigste plek in die Nuwe Testament waar gepraat word van die Heilige Gees wat bedroef word. In die Ou Testament word dieselfde gedagte egter verbind aan die rebellie van die volk teen die leiding van die Heilige Gees, soveel só dat God hulle teenstanders geword het (Jes. 63:10). En as ‘n mens dié konteks uit Jesaja in ag neem, dan wil Paulus hier op soortgelyke wyse die gelowiges waarsku dat hulle moet rekening hou met die feit dat die koninkryk toegesluit kan word vir mense wat afdwaal en aan hulle sonde vas bly klou.

Want dit moet julle goed begryp: Geen ontugtige of onreine of gierigaard —so iemand is ‘n afgodedienaar —het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (Ef. 5:5). En in vers 6 sal Paulus aangaan om hulle te waarsku dat die toorn van God kom oor dié wat ongehoorsaam is, sonder uitsondering.

Genade en volharding

Ek kan nie anders as om dié gedagtes van Paulus sterk te onderstreep nie. Dit ís so dat God se genade onweerstaanbaar is. Dit ís so dat God instaan vir die volharding van die heiliges. Só leer die Leerreëls van Dordtons.

Maar, dieselfde Leerreëls leer ons dat die toorn van God bly op dié wat die evangelie nie glo nie, nie omarm nie, nie as die beginsels van hulle lewe aanvaar en daarvolgens begin lewe nie (hfst. 1.4). En die skuld vir daardie ongeloof – dit is om nie jou lewe daarop te bou, om nie op die verlossende aanbod wat God gee in Christus, te reageer nie, om nie die openbaring van die Skrif te aanvaar as die riglyn vir jou lewe nie – dít bly doodgewoon die mens s’n, nie God s’n nie: “Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens.” (hfst. 1.5).

Die ware kinders van God: “verootmoedig hulle daagliks voor die aangesig van God, aanbid Hom vir die diepte van sy barmhartigheid, reinig hulleself voor Hom, om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê.

En die ware kinders van God vind die volgende: “Dit is dan ook onmoontlik dat … die kinders van God sal (laat) ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei.” (hfst. 1.13).

Die boom van die lewe

Om met God gemeenskap te hê, is die doel van ons lewe. Ons moet telkens vra, waarmee het die Here my geseën? Watter gawes het ek waarmee ek die Here kan dien? Wat is daar nog wat ek vir God kan doen?

Maar, die belangrikste is dat ons resloos aan God sal behoort. Hom sal opsoek en ons in sy teenwoordigheid sal verlustig. Daagliks. Altyd.

Hoekom?

Nuwe, derde tuin

Want, daar is ‘n derde “tuin” waaraan die lied I come to the garden alone my herinner. Dit is die “tuin” in die nuwe Jerusalem waar die boom van die lewe weer sy opwagting maak. Die boom wat Adam en Eva in die tuin van Eden geïgnoreer het, dié boom dra elke maand van die jaar in die stad van God sy vrugte. Die boom van die lewe se blare is tot genesing van die nasies.

Dit is waarheen ons as God se kinders op pad is. Niemand wat onrein is, of iets losbandigs en vals doen (Openb. 21:27), sal van dié boom se vrugte kan eet nie, net dié wie se klere in die bloed van die Lam gewas is: “Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.” (Openb. 22:14). “Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.” (Openb. 22:15).

Elkeen wat hom of haar in dié lewe gee om skoon gemaak te word, wat die klere van die ou mens voortdurend uittrek, en die klere van die nuwe mens aantrek, wat navolgers van God word, en nie die Gees bedroef nie, sal daar in ‘n bo-aardse seremonie as die bruid van Christus met Hom verenig word. In plaas van Adam en Eva, sal dit Christus en sy bruid wees, Jesus en ons, wat vir ewig in die tuin van God sal lewe en met God sal wandel. Sonder vrees. Vir altyd.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig”

Seën
(op grond van Efesiërs 1:13-14; 6:23-24)
V: In Hom is julle, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees wat belowe is.
G: Ons wil leef tot lof van God se heerlikheid!

V: Die Gees is die waarborg van ons erfdeel vir die bevryding van God se eiendomsvolk.
G: Ons wil leef tot lof van God se heerlikheid!

V: Vrede vir julle, en liefde en geloof van God die Vader en van die Here, Jesus Christus. Wie se genade onverganklik bly saam met almal wat ons Here Jesus Christus liefhet.
G: Amen.

Respons
Lied 280 vers 2 laaste twee reëls “Vas kan ek op U vertrou”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.