Elfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

1 en 2 Konings
1 en 2 Konings dek die verhaal van Israel van die dood van Dawid af tot met die val van sy koninkryk. Die verhaal kan in 5 dele opgedeel word, waarvan die verhaal van Elia en Elisa teen die agtergrond van die verhaal van die Noordelike ryk in die derde deel vertel word:

  1. Die koninkryk van Salomo – 1 Konings 1 – 11
  2. Die skeuring van die Ryk – 1 Konings 12 – 16:20
  3. Die verhaal van die verdeelde ryk: Noordelike ryk – 1 Konings 16:21 – 2 Konings 10
    1. Elia – 1 Konings 17 – 2 Konings 1
    2. Elisa – 2 Konings 2 – 10
  4. Die verhaal van die verdeelde ryk: Die verhaal van die Suidelike ryk en ballingskap vir die Noordelike ryk – 2 Konings 11 – 17
  5. Juda se laaste jare tot by hulle ballingskap – 2 Konings 18 – 25

Die verhaal van Elia
Omri se koningskap is die begin van ’n dinastie of koningshuis, deurdat sy seun Agab hom opvolg as koning van Israel. Uit ’n politieke hoek was hy ’n gerekende koning, wat ook in buite-Bybelse bronne vermeld word. Hy het dit reggekry om binne 12 jaar die 10-stammeryk te verenig en ’n pragtige hoofstad vir hulle te vestig in Samaria, een van die weinige stede wat van nuuts af deur Israel gebou is. Die Assiriërs verwys bv. ’n 150 jaar na sy dood nog na Israel as die “land van Omri” en hy word op ’n Moabitiese stele (steen met inskripsies) vermeld.

Maar hy loop geestelik dieselfde pad as Jerobeam en die vorige konings van die Noordryk wat die Here met hulle afgodsbeelde uittart. Daarom staan die Konings skrywers baie min spasie aan hom af.

Hy word opgevolg deur sy seun Agab wat nie net so afvallig is soos sy voorgangers nie, maar nog verder gaan en Israel intensief aan die Baälgodsdiens blootstel, veral nadat hy met Isebel, die dogter van Etbaäl van Sidon trou. Dit wil selfs voorkom asof hy vir Giël van Bet-El aanmoedig om teen die wil van die Here Jerigo te herbou (Jos 6:26) met tragiese gevolge vir Giël se kinders.

Dit bring die groot profeet Elia op die toneel wat die Here se toornigheid oor Israel se afgodsdiens in geen onsekere taal verkondig. Daar is min oor Elia bekend. Dit is asof hy net skielik uit die niet uit verskyn. Geen wonder dat daar Joodse tradisies was wat hom as ’n engel uit die hemel beskrywe. Dit lyk selfs asof Jakobus dié tradisie probeer bestry as hy in 5:17 sê dat Elia ’n mens nes ons was!

Soos die eerste vers van hoofstuk 17 vertaal is, lyk dit asof hy ’n nederige afkoms het, ’n Tisbitiese bywoner (vreemdeling of setlaar) uit Gilead, wes van die Jordaan. ’n vertaling wat al meer verkies word deur geleerdes. Die frase kan egter ook vertaal word as: “Elia, ’n Tisbiet uit Tisbe uit Galilea”.

Maar in sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken “Jahwe is God”.

Elia was sterk teen enige vorm van sinkretisme gekant was. Die sinkretisme was natuurlik van altyd af ’n versoeking vir die volk, reeds in die woestyn (goue kalwers), maar het deur die optrede van Omri en Agab tot ’n wesenlike gevaar ontwikkel dat hulle die ware Jahwe aanbidding heeltemal sou versaak. Op die platteland het mense Jahwe nog steeds aanbid, maar in die koningshuis en die stadsomgewing is Baäl aanbid.

Elia konfronteer daarom vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is. Hy stel hom voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of Baäl. Die eerste teken aan Agab dat Jahwe God is, is die droogte wat op bevel van die Here oor die land kom. Die tweede teken is die vuur uit die hemel wat die offer op die berg Karmel verteer. Die derde teken is die reën wat na die gebed van Elia die droogte breek. Daarmee wys die Here onomwonde dat Hy God is, en nie Baäl nie.

Die res van die verhaal kleur vir ons Elia se lewe in as ’n man van God wat veral ’n kragtige gebedsbediening het, en vir wie die Here nie net gebruik nie, maar ook vir hom sorg. Let op dat elke wonder van die Here ’n sinvolle rol speel in sy bediening.

  1. Die eerste is die droogte wat Elia aankondig, as teken aan Agab en die volk.
  2. Die tweede is by die Kritspruit waar die kraaie vir hom brood en vleis bring, as teken dat die Here sorg.
  3. Die derde is die meel in die kruik en die olie in die kan wat nie opraak nie, weereens as teken dat die Here sorg, net dié keer ook vir die heidense vrou in Sarfat.
  4. Die vierde is die seuntjie wat uit die dood teruggebid word, weereens as teken aan haar.
  5. Die vyfde is die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl nie.
  6. Die sesde is die reëns wat as antwoord op sy gebed kom, as teken aan Agab en die volk.
  7. Die sewende is die feit dat hy voor die wa van Agab uit kon hardloop deur die mag van die Here, as teken aan Agab.

Dit tref hoe ’n belangrike rol gebed in sy lewe speel en dat gebed ook meesal die wonders voorafgaan. Dit is in gebed dat die teenwoordigheid van God ons en ander se lewens verander.

“Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.” (Jak 5:16)

Let ook op die klein verhaaltjie van Obadja (nie dieselfde persoon as die profeet van die 6de eeu nie) wat op sy stil en pligsgetroue manier ’n 100 profete weggesteek het wat aan die Here getrou wou bly. Elia mis egter dié feit as hy in hoofstuk 19 kla dat hy al een is wat oorgebly het wat die Here bly dien.

Ander tekste

Psalms 34:1-8 ()
Die Here is naby
34 ’n Lied van Dawid. Hy het hom
kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het
hom weggejaag en hy het padgegee.
2Ek sal die Here altyd weer prys,
sy lof sal altyd op my lippe wees.
3Ek sal die roem van die Here sing;
die wat swaar kry, sal dit hoor
en daaroor bly wees.
4Sing saam met my
oor die grootheid van die Here
en laat ons saam sy Naam prys.
5Ek het die Here aangeroep
en Hy het my geantwoord,
Hy het my gered uit alle doodsgevare.
6Dié wat swaar kry, sien op na Hom
en straal van blydskap,
hulle word nie teleurgestel
in hulle verwagting nie.
7Ek is een van die ellendiges
wat geroep het.
Die Here het gehoor,
uit al my benoudhede het Hy my gered.
8Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.

Efesiërs 4:25-5:2 ()
Riglyne vir die nuwe lewe
25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.
26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.

28As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.
30En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

5 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.

Johannes 6:35, 41-51 ()
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie
41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ Elkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Fokusteks

1 Konings 19:4-8
Elia vlug vir Isebel
19 Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. 2Toe het Isebel ’n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”

3Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat.

4Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

5Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ’n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”

6Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ’n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Die engel het ’n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”

8Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.

9Hy het in ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

10Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”

Skielik was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ’n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte.

13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met u verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

15Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. 16Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. 17Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak. 18Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”

19Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom. 20Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: “Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan.”
Elia antwoord hom toe: “Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie.”

21Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

Fokus

1 Konings 19 – God lei nooit aan uitbranding nie!
Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, om na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense. In só ’n situasie werk ’n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie! Hoe ironies dat ’n leë dreigement só ’n uitwerking op Elia kon hê.

Elia sou nie veilig wees in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ’n goeie verhouding gehad het (hulle veg bv. saam in ‘n oorlog 1 Kon 22) en vlug na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl die frase “van Dan tot Berseba” wat die vêrste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20). Hier was ook ’n heiligdom waarteen Amos in die tyd van Jerobeam II uitgevaar het (Amos 5:5).

Dit is egter ook die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Melgisedek gesluit is (Gen 21:27 vv), waar Elia self nou ’n ontmoeting met ’n engel het. Dit is ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen 21).

En dit is veral ook die plek waar Moses wonderwerke beleef het.
Let op hoe Elia ’n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11). Die Here versterk hom egter deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses) wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die (ge)berg(te) Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ’n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen 3), hy later water uit ’n rots in die woestyn laat loop (Gen 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks 19-24). Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg.

Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self. Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33). Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie. Hy is in die fluistering in die windstilte.

Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?” Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …” Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom: Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit. Om die waarheid te sê, Elisa sou eintlik vir Gasael salf en iemand uit sy groep sou Jehu salf tot koning.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie. Dit is eintlik die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte. God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie!

Liturgie

Die bedoeling van ’n Seisoen van Barmhartigheid is om dit wat in die erediens gebeur doelbewus in verband met die nood van die wêreld te bring. Op die manier word ontdek dat die erediens nie ’n doel op sig self is nie, maar bedoel is om ons in te lei na ’n lewe wat God op elke terrein van die lewe vereer.

’n Sogenaamde hongerdoek wat in die liturgiese ruimte gedrapeer word en waarop lidmate die geleentheid kry om items soos koerantknipsels vas te maak tydens die erediens en wat die onmiddellike konteks van nood van die gemeente reflekteer. (Die hongerdoek pas tradisioneel liturgies binne die Lydenstyd en nie in Koninkrykstyd nie. Hierdie voorstel kan moontlik gesien word as ’n loslaat van daardie mooi verband, of dalk juis ’n verruiming van die gebruik van die hongerdoek).

Bring kos in natura na die erediens, veral die nagmaalviering, om dit te gebruik om die sakrament mee te vier en dit wat oorskiet na hulpbehoewendes of spesifieke projekte te neem. Die verband tussen die nagmaal en barmhartigheid kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Soos wat ons hierdie gawes, die produkte van ons arbeid, insamel, aandra en neerlê op die tafel, so lê ons ook ons lewe daar neer. Hierdie produkte van ons arbeid is nooit genoeg nie, maar op die tafel van ons Here word dit op ’n wonderbaarlike wyse vermenigvuldig sodat daar genoeg is vir iedereen. Op die tafel lê jou lewe.

Voorbidding kan in hierdie seisoen ’n besondere klem kry, weer eens en spesifiek soos geïnspireer deur die leesroostertekste en die gemeente se bepaalde konteks. Dieselfde geld vir die prediking vir hierdie seisoen.

Erediensgangers word uitgedaag om elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring wat gebruik sal word in ’n projek. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by kan betrokke raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die verhaal van Elia is dié van iemand wat uitgebrand is. Dit is ook ’n verhaal van God se sorg wat die wat lewensmoeg is, weer nuwe krag gee. Die liturgie moet op ’n manier hierdie waarheid tot sy reg laat kom. Jesus is die brood van die lewe vir ons en almal wat lewensmoeg is. (Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Aanvangswoord
4Sing saam met my
oor die grootheid van die Here
en laat ons saam sy Naam prys. (Ps 34)

Voorganger: In hierdie oomblikke, saam met hierdie familie van gelowiges, versamel die God van liefde ons.
Gemeente: Met die hoop dat Hy ons selfgeregtigheid
verander in passievolle geregtigheid vir ander.

Voorganger: Op hierdie plek, in hierdie liggaam gevorm
deur genade, roep die brood van die lewe ons tot diens.
Gemeente: In die hoop dat gemak sal verander in
omgee vir almal om ons in nood.

Voorganger: Mag die Gees ons in hart, mond en aksie met die gawe van waarheid toerus.
Gemeente: In die hoop dat ons stamelende, tastende
woorde verander sal word in die Goeie Nuus.

Seëngroet
Aan almal in …………………………………., wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Efes 1)

Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1 (herhaal)”

Verootmoediging
Die ander tekste by vandag se fokusteks leen hulle daartoe om verwonderd te staan oor God se voorsiening (ook die tema van die fokusteks). Gebruik miskien 3 lidmate om om die beurt die voorlesings te doen…
Dawid se loflied oor God se voorsiening
’n Lied van Dawid. Hy het hom
kranksinnig gehou by Abimelek. Dié het
hom weggejaag en hy het padgegee.
2Ek sal die Here altyd weer prys,
sy lof sal altyd op my lippe wees.
3Ek sal die roem van die Here sing;
die wat swaar kry, sal dit hoor
en daaroor bly wees.
4Sing saam met my
oor die grootheid van die Here
en laat ons saam sy Naam prys.
5Ek het die Here aangeroep
en Hy het my geantwoord,
Hy het my gered uit alle doodsgevare.
6Dié wat swaar kry, sien op na Hom
en straal van blydskap,
hulle word nie teleurgestel
in hulle verwagting nie.
7Ek is een van die ellendiges
wat geroep het.
Die Here het gehoor,
uit al my benoudhede het Hy my gered.
8Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle. (Psalm 34)
God se grootste voorsiening in Christus

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” (Joh 6)

Hoe ‘n dankbaarheidslewe daar uitsien

Riglyne vir die nuwe lewe
25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.
26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.
28As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.
29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.
30En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

5 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. (Efesiërs 4)

Lof
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2” en/of
Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Liedere

F230. “Ek het vir die Heer gesê (Here U Is My Lewe)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

Ps 16
1. Ek het vir die Heer gesê
U is my Here
U is my Rots
Daar is geen ander god
Wat my lof verdien nie
Vir wie ek wil besing

Refrein:
Here, U is my lewe
U sorg vir my
En wat ek ontvang kom alles van U af
’n Pragtige deel is vir my afgemeet
Wat ek by U erf, is mooi vir my

2. U Heer, lei my deur U Gees
En ek slaap rustig
U is by my
Elke oomblik van die dag
Is U in my gedagtes
En my hart is juigend, bly

Refrein:

Brug 1:
Heer, U red my siel uit die dood
En in blydskap, leer U my leef

Brug 2:
Lieflikheid kom uit U hand
Juig vir alle ewigheid!

F267. “As Ek Kon Sing (Sy Woorde)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
© 2008 Urial Publishing

1. As ek kon sing soos die eng’le sing
en die hemel se taal verstaan
Dan sou ek
die Here God kon prys
Maar al praat ek in aardse taal
met die vlekke van ‘n mens
luister Hy
na die woorde van my hart

Refrein:
Want Hy leer my weer ‘n lied
met die woorde wat Hy bied
om te sê die Vader is hier by my
Hy’s die Heer wat oor my waak
wat my nooit nie sal verlaat
Hy’s die Een wat ewig sorg vir my

2. Here wat oor die aarde strek
oor elke mens oor elke plek
hoor die lied
wat ek bring om U te prys
En as my woorde somtyds faal
om U grootheid te bepaal
luister tog
na die woorde van my hart

Brug:
In die aand buig ek my neer
om te sing tot Sy eer
al my note skiet tekort
maar Sy Gees word uitgestort
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Hoe diep stel ons U nie teleur nie. U gee ons ’n hart van vlees, maar ons bly ons hart verhard. Dit is u wil dat ons woorde van hoop spreek. Dit is u begeerte om vir U ’n tuiste in ons harte te maak, maar ons is gastekamers ingerig vir bitterheid, woede en valsheid. Vergewe al ons oortredinge. Skenk ons u genade. Help ons om te wag vir die nuwe lewe wat ons erfenis is. Ons wil ons hoop vestig op die Woord van vreugde en vrede. Die Woord wat Jesus Christus, ons Redder is. Amen
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Skriflesing: 1 Konings 19:4-8

Prediking

Familie-oomblik

Dit is nog ‘n verhaal wat uitstekend op ‘n dramatiese wyse vertel kan word. Die perikoop indeling fokus op Elia se ervaring van uitbranding en benoudheid vir die gevaar wat Isebel, die wreedste koningin in die Bybel, vir hom bied. Kinders sal uitstekend identifiseer met die wyse waarop God hom help met kos, rus en krag.

Die toneel op die berg kan ook gebruik word om kinders te leer hoe om na God te luister. Hy praat nie in die groot gebeure nie, maar in die “fluistering van die windstilte”.

Preekriglyn

Die profeet Elia se lewe is materiaal vir ‘n wonderlike promosievideo. Sou Elia ‘n staatsman wees, sou die regering se departement vir kommunikasie ‘n blink video oor hom kon maak. Sy lewe het besondere hoogtepunte opgelewer:

  • Elia profeteer teen die koningshuis se afgodediens in opdrag van die Here, en sy profesieë word op kragtige wyses bevestig:
  • Hy kondig ‘n droogte as teken aan, en wanneer die wêreld verdroog versorg die Here hom met kraaie, wat brood en vleis by die Kritspruit bring.
  • In Sarfat word hy verder versorg met meel en olie uit die heidense vrou se kruik, wat net nie opraak nie. Haar seuntjie word ook uit die dood teruggebid.
  • Nog ‘n teken is die vuur uit die hemel wat die offer op Karmelberg verteer, teenoor die vrugtelose gespook van die Baälprofete om vuur uit die hemel af te bid.
  • Na gebed deur Elia word die droogte deur wonderbaarlike reëns gebreek.
  • Hy illustreer ook die mag van die Here deur voor die wa van Agab uit te hardloop, as teken aan Agab.

Moderne politieke spindokters sou egter ook ‘n paar feite uit sy lewe wou wegsteek, soos ons teks.
Die Bybel is egter veel eerliker as promosietegnieke. Die Bybel draai nooit doekies om oor mense se swakhede en donker oomblikke nie. Ook nie oor Elia s’n nie.
Ook in Elia se donker oomblikke sorg die Here vir hom. Ons swakhede, mislukking en vrees hoef nie weggesteek te word nie – allermins vir die Here. Ook in ons donkerste oomblikke is die Here
by ons, bly God getrou, en versorg Hy ons.
Maskers is onnodig. Voor die Here kan ons oor ons swakhede openlik en eerlik wees.

Moeg en verlate onder ‘n besembos

Die kontras tussen 1 Konings 19 en die vorige hoofstuk is merkwaardig. Aan die einde van hfs. 18 ontmoet ons ‘n triomfantelike Elia. Die Here bewys Homself as die ware God. Vuur verteer die brandoffer van Elia, terwyl die valse profete van Baäl wat heeldag bid dat Baäl die Baäloffer moet verteer, moet toekyk. Daarna word al die Baäl profete doodgemaak, oorvloedige reën breek die droogte, en Elia hardloop voor Agab se strydwa uit.

Dit klink of dit nie beter met ‘n profeet kan gaan nie.

Agab se bose vrou, Isebel, borg van die Baälprofete, reageer deur Elia met die dood te dreig. Elia word deur vrees vervul en slaan aan die begin van hfs 19 op die vlug.

Vrees bring die ommekeer. Hy eindig in die woestyn onder ‘n besembos. Daar oorval ‘n doodsbegeerte hom. Elia bid selfs dat die Here sy lewe neem.

Wat ‘n kontras!

Roeping moet beliggaam word

Die pad van gehoorsaamheid speel hom in ‘n mens se liggaam uit. Jy moet jou lyf op die spel plaas. Elia moet langs ‘n spruit gaan skuil, by ‘n weduwee tuisgaan, voor die koning verskyn, die geslepe koningin trotseer, by ‘n groot “kompetisie” tussen die valse Baälprofete en profeet van die ware God opdaag. In al hierdie situasies moes hy liggaamlik dáár wees.

Ja. Dissipelskap is nie ‘n mooi teorie nie of ‘n paar geestelike waarhede nie. Jy moet jou lyf op die spel plaas.

Ons is só geskep dat ons liggaamlik op bepaalde maniere op bepaalde situasies reageer. Die groot uitdagings waaraan Elia blootgestel was, eis uiteindelik sy tol. Verskillende verklarings word vir sy reaksie aangebied:

  • Dalk het hy aan uitbranding gely – hy kon net nie verder nie;
  • Hy was ooreis en het rus nodig gehad;
  • Moontlik het Elia post-adrenalien depressie gehad (die vorige dag sou sy liggaam met adrenalien gevul wees, wat hom selfs voor die strydwa kon laat uithardloop, die dag daarna is die adrenalien weg en is dit nodig om te rus).

Die detail van Elia se kondisie is nie so belangrik nie. Die eintlike punt is: roeping word beliggaam, en eis liggaamlik ‘n tol. Gehoorsaamheid verg dat ons ons lyf op die spel plaas.

Geestelik is die belangrike punt dat God Elia nie verwerp nie. God ken ons, weet dat ons stof is, en dat ons op ‘n spesifieke maniere fisiologies aanmekaar gesit is. God reageer daarom met die grootste begrip. Hy gee Elia kans om te slaap. Dan word Elia met roosterkoek en water versorg. Die slaap- en eetsiklus word ook herhaal (verse 5 tot 7).

Agter hierdie gebeure bespeur ons ‘n deernisvolle God. Wat vanuit menslike perspektief na elia se mislukking lyk, is vanuit God se perspektief ‘n geleentheid om Elia te omhels en te versorg. God beskaam Elia nie deur hom aan te spreek oor sy vlug nie.

Mislukking

Die manier hoe vrees, moegheid, doodsbegeerte, voedsel, water, slaap en bemoediging in hierdie Skrifgedeelte vermeng word, gee ons die geleentheid om werklik diep oor die menslikheid van gehoorsaam na te dink.

Dit lyk of Elia heeltemal perspektief verloor. God was in soveel situasies getrou, mens sou verwag Elia moes deur Isebel se dreigement kon sien. Die Baälprofete is uitgeroei, die afgodediens het ‘n nekslag gekry.

Later in hoofstuk 19 sê Elia vir die Here hy is die enigste ware profeet wat oorgebly het, en nou is hy ook op die punt om doodgemaak te word (10). (Dit was ‘n feite-fout, daar was nog duisende ware aanbidders oor.) Elia het dus gedink die hele projek om die ware aanbidding van die ware God onder die aanslag van afgodediens te red, was gedoem. Alles was tevergeefs.

Wie oor die menslikheid van gehoorsaamheid dink, moenie die rol van mislukking onderskat nie.

Volgens breinfisioloë kry (persepsies van) mislukking ‘n lewe van hul eie in mens se belewing van jouself. Die brein onthou onafgehandelde take en mislukkings baie langer as sukses of afgehandelde take. Dit word die Zeigarnik-effek genoem. Wanneer ‘n projek afgehandel is, plaas die brein dit in ‘n spesiale geheuebank. Dit geen nie langer aandag aan daardie data nie, werk nie meer met die inligting nie, en die detail van dit wat jy bereik het, begin vervaag.

Mislukking word nie deur die brein afgesluit en weggebêre nie. Herinnering aan mislukking word voortdurend in die brein rondgeskommel, soos die brein probeer om die mislukking op te los en die data van ‘n aktiewe na onaktiewe status te skuif.

Dit klink vreemd om breinnavorsing op ‘n Ou Testamentiese profeet van toepassing te maak. Mens wonder of dit nie bloot spekulasie is nie. Dalk. Dalk nie. Wat waar is, is dat ons mense is. En dat ons gehoorsaamheid aan God, en die prys wat ons daarvoor betaal, altyd ons menslikheid – waaronder ons breine – ter sprake bring. Ook die worsteling van ons mens-wees om mislukking te hanteer.

Mag ons oorweldig word deur die gerusstelling dat God ons deur en deur ken. Die manier waarop God Elia met begrip vertroos, bemoedig, uiteindelik die feitefoute en verkeerde beoordeling regstel, en Elia weer bemoedig uitstuur, is bedoel om ons ook bemoedig.

Vrees

Elia reageer met vrees op Isebel se dreigement om hom dood te maak. Die rol van vrees in dissipelskap moenie onderskat word nie.

Prof Dirkie Smit skryf (Geestelike Waardes, DB, 14 Jul 2012) oor vrees wat ‘n slegte raadgewer is. Hy verwys na Franklin D Roosevelt se eerste inhuldigingsrede as president van die VSA in 1933. Dit is die maer jare van die Groot Depressie. In hierdie rede sê Roosevelt sy gevleuelde woorde: “al wat ons hoef te vrees, is vrees self.” Vrees is ‘n slegte raadgewer, dit verblind mens, maak jou paniekbevange, veroorsaak dat jy jou gesonde oordeel verloor. Jy gee moed op, raak verlam, herken nie meer uitweë nie, en sien nie moontlikhede raak nie. Vrees in die hart, vervolg Roosevelt, is erger as enige dreiging van buite. Dié kan jy aandurf, as jy net nie vertroue verloor en in paniek verval nie.

In hierdie opsig struikel en val Elia regtig hard. Maar ook hier help God hom aangrypend. Die “teenmiddel” vir vrees is, geestelik gesproke, om jou identiteit in God (Christus) te verstaan, om opnuut te ontdek hoe groot God is, en wie jy voor God se aangesig is.

Voordat ons in groter diepte op ons identiteit as gelowiges ingaan, nog eers ‘n ander aspek van Elia se menslikheid in sy soeke na gehoorsaamheid.

Selfbejammering

Elia se doodsbegeerte onder die besembos is deels uit selfbejammering gebore. Die engel van die Here staan Elia by, voed en versorg hom, maar bevestig nooit sy selfbejammering nie. Behoeftes soos sy honger, moegheid en uitsigloosheid kry aandag. Elia se vrese word ook later besweer. Sy aanval van selfbejammering word bloot weggekalwe met rus en voedsel.

Selfbejammering bring ons nêrens nie. Sy selfbejammering word vervang met ‘n nuwe besef van identiteit en roeping.

Identiteit en roeping

Elia vlug nie net van Isebel af nie, maar ook van sy roeping wat hom in konflik met haar gebring het. Elia het genoeg gehad, maar God bewys sy getrouheid, ook aan Elia se roeping. God werk te midde van menslike vrees, isolasie en verlies van identiteit.

Aangesien ons fokusteks afsluit by vers 8, beperk ons die opmerkings oor die wyse waarop Elia sy identiteit en roeping herontdek. Genoeg om te sê dat die uitgeputte Elia voedsel en krag ontvang om na Horeb te reis, die berg van God. Berge is in die Ou Testament die ruimtes vir openbarings van God. Op Horeb ontvang Elia ‘n nuwe ontmoeting en visie (roeping) van God.

Die verskillende maniere waarop die menslikheid van ons gehoorsaamheid in ons lewens uitspeel, vra altyd dat ons oop bly vir ontmoetings met God. So bly ons geestelik gesond. Geestelike self-definisie is die wyse waarop ons menslikheid op koers bly na gehoorsaamheid.

Die genade is dat ons nie self die ontmoetings met God hoef op te tower nie. Hierdie ontmoetings is nie die produk van ons kapasiteit om God op te roep nie. Ons kan onsself net oopstel daarvoor. Ons kan net met God kontak maak deur Bybellees en gebed, en ons oopstel vir God se stem.

Die mens Elia het op ’n punt gekom waar hy sy profetiese roeping wou afgooi. God por hom weer aan en herbevestig sy roeping.

Toepassing

Ons sluit met ‘n paar vrae af:
Waaroor het ons vandag nodig om met God in gesprek te tree? Watter bemoediging het ons nodig? Watter aansporing?

Vir wie het ons nodig om vandag ‘n engel te wees? Wie moet ek gaan wakkerskud, met brood en water voed, en aanmoedig om ‘n ontmoeting met God op te soek?

Waar het ek nodig om myself en my tipiese menslike reaksies op die eise van gehoorsaamheid beter te leer ken? Sodat ek vinniger verlos kan word van die negatiewe kante daarvan?

Watter hulp moet ek gaan soek om uit die donker dieptes van my lewe te kom? Wat gaan ek daaroor vir God sê? Vir my medemense? Vir die mediese dokter, sielkundige of psigiater wie ek sien as ‘n engel van God wat genesing in my lewe laat help deurbreek?

Hoe leer ek God in my donkerste tye opnuut ken as betroubaar? ‘n God wat altyd vir my lewe, ‘n lewe in oorvloed, kies!

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
In plaas van gesamentlike geloofsbelydenis kan die pragtige gedig gebruik word:
Dit was net ’n ligte wind
Baie rustig, nes ’n briesie
Dit het ’n haar oor my voorkop gewaai
En ek het geweet dit was God.
Ek is wakker gemaak deur ’n klein straaltjie lig
Dit het deur die gordyn geglip, op my gesig
Dit het my laat opstaan, met gordyne oopgetrek
Het die oggend saggies in my kamer ingehuppel
Ek het geweet dit was God.
Midde-in my eensaamheid het die foon gelui
’n Stem wat ek goed ken, sê:
“Hallo, ek’s lief vir jou.”
Liefde het deur my siel gevloei
Ek het geweet dit was God.
Reën het saggies op die dorstige grond geval
Op ’n aarde wat bedelend daarvoor wag
Deur die heilige druppels het ek geloop,
Vreesloos sonder ’n sambreel
Ek het geweet dit was God.
Dit was net ’n bietjie bitterheid het ek gedink
Maar dit wou nie my hart verlaat nie
Dit het om my siel vir lank gehang
totdat ’n storm my diepste wese geruk
en al my bitterheid weggewaai het
Ek het geweet dit was God.
Dit was net ’n akkerboom
Oortrek met rooi herfsblare
Maar in die oggendlig
Was dit gevul met hemel
Ek het oopmond verwonderd gestaan
Ek het geweet dit was God.
Ek het my Bybel oopgemaak
In stilte bekende woorde gelees
In die bladsye hoor ek ’n geluid, ’n fluistering
Ek het geweet dit was God.
O Here God, het ek uitgeroep
Ek het U lief
U wil nie vir my wegkruip nie
Tussen die krake van elke dag
Vind ek U wagtend, om deur my aanbid en bewonder te word
U glip in my lewe soos nag en dag, soos sterre en sonskyn
Ek weet dat U God is!
Marina Wiederkehr se gedig “Harvest of God” (Tree full of Angels, Harper Collins, 1988)

Offergawes

Wegsending: Lied 563 “Aan U o God my dankgesange 1,2,3,4”

Seën
Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (Uit Ps 34, 2 Kor 13)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.