Elfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Lukas 12 – God sorg vir sy kinders in gevaar
Met ‘n groeiende skare wat om Jesus saamdrom waarsku Jesus nou die dissipels teen die aansteeklike skynheiligheid van die Fariseërs wat hulle ware self wegsteek agter uiterlike vertoon.

Let op hoe Hy sy dissipels sy vriende noem en aanmoedig om aan God getrou te bly, want Hy kan vir hulle sorg, nie noodwendig van gevaar nie, maar juis in gevaar. En Jesus koppel dit aan die werk van die Heilige Gees wat God nou ook aan gewone mense gee.

In twee gelykenisse skilder Jesus eerstens aan die skare die dwaasheid van ‘n gejaag na geld en nie na God toe nie (gelykenis van die ryk dwaas – 12:13-21).  In die tweede plek rig Hy Hom weer tot die dissipels en lê klem op God se sorg (gelykenis van die lelies van die veld – 12:22-34, geleen uit Matteus se weergawe van die Bergrede), waarskynlik omdat vrae hieroor by hulle sou opgekom, veral omdat hulle alles verlaat het om Jesus te volg.

Hy vervolg met ’n oproep tot waaksaamheid in die gelykenis van die waaksame slaaf (12:35-48) sowel as ’n uitspel van die onvermydelike konflik wat sal kom weens hulle getrouheid aan Hom (12:49-53).

Lukas sluit die hoofstuk af met Jesus se oproep aan die skare om die tekens van die tye te beoordeel  (12:54-56) en self te besluit wat die regte ding is om te doen (12:57-59) wat waarskynlik terugverwys na die persoon wat in 12:13 gevra het dat Jesus regter speel in erfsake, maar ook breër kon gewees het na die verskil tussen Sy lering en dié van die Fariseërs.

Ander tekste

Hosea 11:1-11
My liefde brand te sterk
11 Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.

2Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.

3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.

4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, 5want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.

6Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het. 7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, ’n juk wat nie afgegooi sal word nie!

8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

10Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos ’n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. 11Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië.
Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.

Psalm 107:1-9, 43
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn,
in ’n barre wêreld,
en kon die pad na ’n bewoonde stad
nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ’n bewoonde stad laat uitkom.
8Hulle moet die Here loof
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
9Hy het die dors geles
van dié wat versmag het,
Hy het die goeie in oorvloed gegee
aan dié wat honger gely het.

43Wie verstandig is,
moet op hierdie dinge ag gee,
hulle moet let op die Here se dade
van trou.

Kolossense 3:1-11
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Fokusteks

Lukas 12:13-21
Die gelykenis van die ryk dwaas
13Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.”
14Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”

15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

16Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. 17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’20Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’21So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangswoord 
Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Loof die vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
9Hy het die dors geles
van dié wat versmag het,
Hy het die goeie in oorvloed gegee
aan dié wat honger gely het. (uit Psalm 107)

Seëngroet 
Aan die gemeente in ………………………………………….
“Geseënd is julle wat arm is,
want aan julle behoort die koninkryk van God.
Geseënd is julle wat nou honger het,
want julle sal versadig word . . .” (Luk 6:20-21).
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Wet
Gebruik die aangrypende teleurstelling van die lewende God in Sy volk se wegdraai na afgode (Hosea 11) as spieël waarin ons ook ons afvalligheid van die lewende God by geleentheid ondersoek…

11 Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.

2Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.

3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.

4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, 5want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.

Verootmoediging

ALGEMENE BELYDENIS (Uit die Book of Common Prayer)
Almagtige en genadige Vader,
ons het van u weë afgedwaal soos verlore skape.
Ons het te veel ons eie kop gevolg;
ons het nagelaat om dinge te doen wat ons moes doen,
en ons het die dinge gedoen wat ons nie moes doen nie;
daar is niks goeds in ons nie.

O Heer, betoon tog aan ons ellendige sondaars genade;
o God, verlos díe wat hulle sonde bely,
vernuwe díe wat berou toon
volgens U beloftes aan die mensdom deur Jesus Christus ons Here;
en gee, o genadige Vader, dat ons om Sy onthalwe
van nou af ‘n goddelike, regverdige en rein lewe sal lei,
tot eer van U Heilige Naam.
Amen

Vryspraak: (Hosea 11)
8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel?
Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim?
Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk.
9Ek sal my gloeiende toorn bedwing,
Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie,
want Ek is God, nie ’n mens nie.
Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

Riglyn om te lewe
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal. (Kolossense 3)

Lof
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”
Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F257. “U Alleen”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Teks en Musiek: JA de Beer en Z van der Westhuizen
©  2007 Urial Publishing

U’s my huis, U’s my see
Niemand gee soos U gee
U’s my somer, U’s my reën
Elke dag, ek’s nooit alleen

En ek begeer U alleen
ek begeer U alleen

Nuwe more, eerste lig
U is beter as selfs dit
Niks wat ek kan begeer
Vergelyk met U, my Heer

So, hier is ek soos ek is
Ek lê my lewe neer voor U

F294. “Neem My Lewe”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Gebed / Toewyding)
Teks & Musiek: Marina du Toit
©  2008 Urial Publishing

Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die lewe en U is die lig
U gee die water en ek dra die vrug

Neem my lewe laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die Skepper en ek is die klei
Maak vir u hart, Heer, ’n woning in my

Snoei my vom my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat al die vuilheid wegbrand, Heer
Laat ek weer skoon word al is dit seer

Snoei my, vorm my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat ek die vrug dra om heilig te wees
’n Lewende offer gevul met u Gees

’n Lewende offer vir U
’n Lewende offer gevul met u Gees

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
(Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.)

Skriflesing: 1 Konings 19:1-15

Prediking

Familie-oomblik

Kindertyd: Die vier hoeke van die liefde
Tema: God se liefde moet meer soos dit weggegee word.
Benodighede: Groot vel karton met die woorde “God se liefde” daarop geskryf en ’n skêr.

Begin (voor jy die papier wys) met ’n wiskunde oefening. Vra die kinders: As ek vyf smarties het en ek gee twee vir jou en een vir ’n ander, hoeveel het ek oor?

Wys nou die papier waarop daar geskryf is: “God se liefde”. Sê: Hier is iets wat ons almal behoort weg te gee – God se liefde.

Julle kan sien dat God se liefde vier hoeke het. Hier is nou ’n vreemde ding. Kom ons gee een van die hoeke weg (sny een van die hoeke af en gee aan een van die kinders).  Vra dan hoeveel hoeke daar nou is? Drie? Is julle seker. Tel hulle: een, twee, drie, vier vyf! Kan julle glo! Ons het met vier hoeke van God se liefde begin en nou het ons vyf. Ek wonder wat sal gebeur as ek nog een van die hoeke weggee? Nou het ons ses. Dit lyk vir my hoe meer hoeke van God se liefde ons weggee, hoe meer hoeke is daar uiteindelik. Ons het met vier begin en eers net een weggegee en kyk nou hoeveel is daar (tel). Laat een van die kinders een van die hoeke van God se liefde wat afgesny is ophou. Vra die kind om die hoeke te tel en daarna elkeen wat ’n driehoekie gekry het. Laat hulle al die hoeke saamtel. Die driehoeke is nou al te saam 12. Hoe het dit gebeur? Dit gebeur deurdat ons God se liefde weggegee het en hoe meer ons dit doen, hoe meer is daar.

Preekriglyn

In ‘n sekere nomadiese stamgroep kom die pa van drie seuns skielik te sterwe. Die erfporsie wat hy aan sy drie seuns nalaat, bestaan uit sewentien kamele. Volgens die pa se laaste wense moet die oudste seun die helfte van die kamele kry, die tweede seun een derde, en die derde seun ‘n negende.

Die drie seuns spook met die erfporsie, maar daar is geen manier waarop hulle die kamele volgende oorlede pa se wens verdeel kan kry nie. Nie een wil ook skiet gee nie. Dalk moet die oudste seun ‘n halwe kameel minder vat – hoe deel jy tog sewentien lewende kamele deur twee? Hy weier, want dan kry die ander twee seuns stukkies kameel te veel.

Hoe nou gemaak? Hulle gaan spreek toe ‘n wyse man. Die krap so bietjie kop, en sê toe: “Kom ek gee vir julle drie een kameel. Nou het julle agtien kamele. Die oudste seun kry nege, die helfte, die tweede seun ses, ‘n derde, en die derde seun twee kamele, een negende. Nege, ses en twee tel op na sewentien kamele, wat beteken ek kry my geskenk terug.”

“Tevrede?”

Die drie seuns het beide skaam en dankbaar huis toe gegaan, elkeen met sy erfporsie kamele. Die vrygewigheid van die wyse man het die dooiepunt ontsluit.

Gefokus op die koninkryk

So pas, in Lukas 11, het Jesus sy dissipels leer bid (waaroor verlede week se erediens gehandel het). Die kern van gebed is die fokus van ons lewens op God se koninkryk, en ‘n lewe ooreenkomstig die wil van God, sodat die Naam van God verheerlik en geheilig kan word.

Die kragte wat mens van hierdie fokus van jou lewe kan wegtrek, is groot. Jesus praat vroeër in hfs. 12 oor die gevare van:

  • godsdienstige vertoon en geveinsdheid – dit is ‘n vorm van selfgerigtheid;
  • vrees vir vervolging en swaarkry, waar jou eie oorlewing die fokus word van jou lewe;
  • geldsug en eie sekuriteit: Jesus kom in ons teksgedeelte uit by die gevaar van gierigheid en die skep van jou eie sekuriteit, onafhanklik van God.

Hierdie praktiese, alledaagse oorwegings kan die koninkryksfokus uit ons lewens wegneem.

‘n Vraag en ‘n gelykenis

Die Joodse gebruik in daardie tyd was dat, wanneer ’n vader sou sterf, daar van die broers verwag is om “in eensgesindheid saam te woon” (Ps 133:1). Indien die broers die erfporsie wou verdeel, is die hulp van die rabbi as godsdienstige leermeester (Num 27:1-11; Deut 21:15-17) gewoonlik ingeroep om die verdeling van die erfporsie te laat slaag.

In ons teks vra ’n toeskouer Jesus se hulp met die wettige verdeling van sy erfporsie. Jesus weier, want die verhouding tussen die broers is vir Hom belangriker as die verdeling van geld en besittings. Dit gaan vir Hom eerder oor die omgee vir mekaar deur middel van die erfporsie as op die blote feit dat daar ’n erfporsie is wat verdeel moet word.

Die dinamika in die teks verloop as volg:

  • Gesprek in die vorm van ’n versoek en Jesus se antwoord daarop (13-14);
  • Wysheidspreuk (15);
  • Jesus se verduideliking dat besittings ’n geskenk van God is (16);
  • Drie “toesprake” deur die ryk man (17-19);
  • Die gevolg van ’n gierige ingesteldheid (20);
  • ‘n Wysheidspreuk (21).

Jesus het dit in sy antwoord teen ‘n ingesteldheid waar ek meer wil hê as wat ek kan gebruik.  Dit is die behoefte om deur eie voorsiening sekuriteit te verskaf vir jou lewe – sekuriteit wat net God kan gee. Dit is ook gierigheid: om meer te versamel as wat jy nodig het. Om dié lewensuitkyk op geld en goed reg te stel, vertel Jesus vir die man en al die omstanders ’n gelykenis oor gierigheid.

As mens hieroor nadink, besef jy daar’s niks nuuts onder die son nie! Kyk net hoe gierigheid ook eie is aan Suid-Afrika vandag.

Gierigheid is die gevolg van ’n mens wat sy eie waarde, maar ook die waarde van ander mense, in terme van geld en goed meet. Hoe meer besittings, hoe belangriker is die mens in sy eie oë. Die omgekeerde is egter ook waar. Hoe minder besittings en geld – met ander woorde, hoe armer – hoe minder die mens se waarde in sy eie en ander se oë. En hoe meer of minder die waarde, hoe groter die skade aan so ’n mens se selfbeeld. Maar uiteindelik gaan beide die ryke en die arme die dood op dieselfde manier tegemoet, herinner Psalm 49 ons.

Gierigheid

Ons leef inderdaad in ’n samelewing wat deur gierigheid gekenmerk word.

Iemand het vroeër vir die multi-miljoenêr Rockefeller gevra wanneer weet mens jy besit genoeg grond? Rockefeller sê toe dis wanneer jy die grond, wat tans aan jou grond grens, óók besit. Gierigheid is om alle perspektief te verloor op wat jy regtig nodig het, wat genoeg is, en wat nie.

Die Grieke, so vertel Johannes Chrisostomos, het oor hulle besittings nagedink in terme van ’n sirkel. Alles binne die sirkel kan mens vir jouself gebruik, want dit is genoeg vir jou om van te lewe. Dit wat buite die sirkel is, is egter ’n teken van oorvloed – wat jy nie self nodig het nie, maar wat bedoel is vir ander mense. En dis presies hier waar gierigheid sy tande kan inslaan. Jy kan die sirkel waaruit jyself moet leef al hoe groter trek sodat daar al hoe minder vir ’n ander mens oorbly.

Wanneer is mens gierig? Dit is wanneer ek so begerig is om dit wat ek besit ten alle koste te behou, dat ek nie God of my naaste raaksien nie. En dit gebeur omdat ek die waarde van my lewe meet aan dit wat ek besit. Gierigheid beteken daarom dat ek meer en weer wil verwerf en besit. Die omgekeerde is ook waar – as ek min het, is ek onbelangrik en sien mense op my neer. Ek streef dus daarna om soveel moontlik te besit.

Gierigheid bou op die geloof dat besittings sekuriteit, status, aansien en ‘n toekoms skep.

Net ryk mense gierig?

Die tiende gebod sê ons mag nie gierig wees nie. Mens hoor dit moeilik, want jy is mos nie gierig nie. Dis immers iets waaraan ryk mense skuldig is (Pred 5:9). Gierigheid dra baie maskers; dit gaan nie net oor my geld en my besittings nie. As my werk my alles is, dan kry ek net nooit klaar gewerk nie. As my huis my alles is, dan is my huis nooit mooi of groot genoeg nie. So is dit ook met my motor, my plaas, my beleggings, my erfporsie, my sport en dan het dit alles te make met gierigheid!

Maar pasop, dit veroorsaak dat ek leef met die illusie dat ek niks en niemand nodig het nie. Ek is in beheer van my lewe. En in die proses vertrou ek eerder myself en dit wat ek besit, as vir ander mense en vir die Here. En hierteen waarsku Jesus in Lukas 12:15.

Jesus kritiseer nie die ryk man se rykdom nie, ook nie sy goeie oes of my mooi huis of nuwe motor nie. Hy is ook nie kwaad dat ek my kinders bederf of met vakansie gaan nie. Ek kan ook my sport beoefen en die mooi dinge van die lewe geniet. En om vir my toekoms te sorg, is geen sonde nie. Die boer sou ook dwaas gewees het om nie sy oes in te bring of sy skure te vergroot nie. Om te beplan hoe om jou besittings te behou, is normaal en verstandig.

“Ek”-taal

Hierdie boer het egter ’n groot probleem – sy houding is verkeerd. Dit gaan vir hom oor die “ek” wat dit en dat sal doen, die “ek” wat sal afbreek, die “ek” wat sal opgaar en die “ek” wat vir myself sal sê dit gaan goed want ek besit baie goed. Dit gaan vir die boer oor sy oes en sy skure. En selfs wanneer hy praat, is dit nie met ander mense nie, maar met homself, so asof hy ietwat tred met die werklikheid verloor het.

En so kom staan die oes tussen die ryk man en God, en tussen hom en sy medemens. In die proses word hy ’n eensame, verbitterde, toekomslose mens wat in werklik-heid arm is, al besit hy baie!

So lyk gierigheid. Dit is wanneer ek die “ek”-taal praat. Dit gaan oor myself en wat vir my belangrik is, nie oor God of my naaste nie. Soos die man in Lukas 12, wil ek ook nie hierdie boodskap hoor nie. Hy wil nie met sy broer versoen nie, want, glo hy: “As ek maar net my deel van die erfporsie kan kry, dan sal ek gelukkig wees.” Hy wil vir Jesus gebruik om sy broer te dwing om die verdeling van die erfporsie af te handel sodat hy met sy lewe kan aangaan. En volgens die Joodse wette, het hy die reg daartoe.

Jesus ontmasker sy gesindheid wat net onder die oppervlak lê. Op die oog af is hy besig om vir sy toekoms voorsiening te maak, maar, en dit was sy fout, hy doen dit sonder God. Die Here is nie by sy toekomsplanne ingesluit nie en dit maak hom blind vir God se wil en sy naaste se behoeftes. God sê vir hom: “Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?”

My eerste vraag moenie wees wat maak ek met dit wat ek besit nie. My eerste vraag moet wees: Wat wil God hê moet ek doen met wat ek besit? Met my geld en goed. Met my gawes, die liefde, vergifnis, reën, droogte, want God is die Eienaar van dit alles. Ek is maar net dié een aan wie Hy dit leen om namens Hom te bestuur (Gen 1:28; Ps 8:3-4, 7).

God gee oorvloedig

J P Versteeg, ’n Nederlandse teoloog, skryf dat “die egte God, ’n gewende God is. Dat egte mense, gewende mense is. Daarteenoor is nemende mense onmense.” By die kruis op Golgota ontmoet ek die gewende God wat gee; sy genade, liefde en vergifnis. Ek ontvang dit gratis. Ek moet my hande oopmaak, dit aanvaar en ’n gewende mens wees wat dit uitdeel aan myself en aan ander.

Met die uitstorting van die Heilige Gees ontmoet ek weereens dié gewende God wat my oorlaai met sy gawes. Al wat ek moet doen, is om te erken dat dit van God af kom en as gewende mens dit uitdeel aan ander sodat die Here se kerk effektief kan funksioneer (1 Kor 12:5). As dit gebeur, gaan dit nie meer vir my, soos Richard Foster dit stel, oor my geld, besittings, mag of ambisies nie, maar oor God. En as dit regtig oor Hom gaan, is die lewe nie meer ’n nimmereindigende gejaag na meer nie.

Dan gaan dit nie oor my skuur wat nie groot genoeg is of nooit vol genoeg is nie, of oor hoe min tyd ek het om die grond te bewerk, te saai en te oes nie; My medemens is ook nie meer vir my ’n las nie. Ek word nie bedreig as daar ’n oproep is om te help nie, en my tyd is ook nie te min nie; Ek is nie oor-optimisties oor my eie vermoëns of verpletter deur my gesukkel nie, maar ek vertrou dat God vir my sal sorg, en vir ander, deur my.

Die kerkvader Ambrosius het tereg opgemerk: “Die ryk man het goeie skure gehad – die monde van die armes.” En Moeder Teresa het gesê: “Wanneer ’n arm mens van honger doodgaan, is dit nie omdat God nie vir daardie persoon gesorg het nie. Dit is omdat ons nie instrumente in die hande van God was om vir die arme ’n stukkie brood of klere te gee toe hulle dit nodig gehad het nie.”

Die kern van gierigheid is om altyd meer te wil hê as wat ek reeds het. Jesus vat dit saam as Hy volgens Lukas 12:32-34 my uitdaag om rekenskap te gee van my hart. As my skat by God is, dan is my hart ook daar. Maar as my hart by my skatte is, dan steel ek van God en van my medemens. En so trek ek ’n streep deur die tiende gebod, maar ook deur die agtste gebod!

Waar lê die oplossing?

In die woorde van Toyohiko Kagawa, ’n Japanse prediker, moet ek my kapitaal “doop”. Ek moet al my geld en besittings doop deur dit onder die heerskappy van Christus te plaas. Solank my kapitaal en besittings onder my eie heerskappy is, is dit skadelik vir my medemens, my omgewing, my verhouding met God en vir myself. Dit is daarom dodelik gevaarlik om met “ongedoopte geld” in my sak rond te loop. Dit het in wese met die hemel en die hel te doen.

En sê Luther, mense het twee bekerings nodig: “Een van die hart en een van die beursie.” Augustinus vat dit ondubbelsinnig saam: “Ontvang wat God jou gee met vreugde. Gebruik daarvan wat jy nodig het. Die res word deur jou naaste benodig.”

Daarom is die oplossing om tot die besef te kom dat Jesus my met hierdie gelykenis uitdaag om te glo dat my hele lewe met alles wat ek het en is, ’n geskenk van God is. En as ek dit glo, te vertrou dat die Here se Gees my sal help om anders te dink oor my goed, geld, huis, salaris, plaas, kerk, lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis
V: Glo jy in God die Vader?
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

V: Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God?
G: Ek glo in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe.
V: Amen.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011:65)

Offergawes

Wegsending   Lied 251 “Salig dié wat arm voor God is”

Seën
Kinders van die Here
Weèt dit: Hy kan jou nie prysgee nie- Sy liefde brand te sterk!
Hy kan jou nie vernietig nie; Hy sal jou nie laat vaar nie.
Hy kan dit nie oor Sy hart kry nie,
want Hy is God, nie ‘n mens nie. (Uit Hosea 11)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.