Elfde Sondag in Koninkrykstyd Tabel

Sections

Oorsig

Die 2 Samuel-reeks in die Leesrooster sluit af soos dit begin het – met Dawid wat treur oor die dood van ‘n geliefde. Hierdie keer is dit sy eie bloed – sy seun Absalom wat teen hom in opstand gekom het. Hierdie Sondag het ook weer dieselfde psalm as die eerste in die 2 Samuel-reeks, Psalm 130, waar die digter begin deur in wanhoop te roep na God en uiteindelik getuig van God se trou en verlossing.

Johannes 6:35, 41-51 sluit aan by die vorige twee weke se evangelietekste wat gaan oor Jesus wat aan die mense probeer verduidelik dat Hy die enigste ware bron van lewe is. Hy sê weer: “Ek is die brood wat lewe gee,” maar daar is misverstande oor wat dit beteken wat Hy moet regstel. Wanneer die Brood wat lewe gee ons voed, leef ons ook anders. Efesiërs 4:25-5:2 is riglyne vir hierdie nuwe lewe.

Ander tekste

Psalm 130
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Efesiërs 4:25-5:2
Riglyne vir die nuwe lewe
25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.

28As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

30En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

5 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.

3Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. 4Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. 5Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

Johannes 6:35, 41-51
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.
7“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Die Jode verstaan nie Jesus se woorde nie
41Die Jode het gemor omdat Hy gesê het: “Ek is die brood wat uit die hemel gekom het.” 42Hulle het gesê: “Is dit nie Jesus die seun van Josef nie? Ons ken mos sy pa en ma. Hoe kan hy nou sê: Ek kom uit die hemel?”

43Jesus sê toe vir hulle: “Moenie so onder mekaar mor nie. 44Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 45By een van die profete staan daar geskrywe: ‘En hulle sal almal mense wees wat deur God geleer is.’ fElkeen wat na die Vader geluister en van Hom geleer het, kom na My toe. 46Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

Fokusteks

2 Samuel 18:5-9, 15, 31-33
Absalom sterf
18 Dawid het die manskappe wat by hom was, in gelid opgestel: hy het hoofde oor afdelings van duisend en honderd aangestel en die leër in drie verdeel: 2‘n derde onder leiding van Joab; ‘n derde onder Joab se broer Abisai seun van Seruja, en die ander derde onder leiding van Ittai die Gattiet.

Toe het die koning vir die leër gesê: “Ek gaan self saam met julle veg.”

3Die leër het egter geantwoord: “Nee, u moenie saamgaan nie, want as óns dalk moet vlug, kan ons maar vlug en niemand sal van ons notisie neem nie; of as die helfte van ons dalk sterf, sal dit nie saak maak nie. Maar u is soos tien duisend van ons. Dit sal beter wees as u ons van die stad af kom help.”

4Die koning sê toe: “Ek sal doen soos julle sê.”

Toe gaan staan hy langs die stadspoort terwyl die hele leër in afdelings van honderd en duisend uittrek om te gaan veg.

5Die koning het vir Joab, Abisai en Ittai beveel: “Werk om my ontwil tog saggies met my kind Absalom.”

Al die manskappe het die bevel oor Absalom gehoor toe die koning dit aan die offisiere gegee het.

6Die manskappe het toe in die oop veld teen Israel opgetrek. Daar het ‘n geveg in die Efraimbos ontstaan, 7en Israel is deur Dawid se manskappe verslaan. Dit was ‘n groot slagting. Daar het dié dag nie minder nie as twintig duisend man geval. 8Die geveg het oor die hele landstreek versprei, en op daardie dag het die bos meer lewens geëis as die swaard.

9Dawid se manskappe het op Absalom afgekom waar hy op ‘n muil gery het. Die muil het onder die digte takke van ‘n groot akkerboom deurgegaan, en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil waarop hy gery het, het aangehou hardloop en Absalom het tussen hemel en aarde bly hang.

10Iemand het dit gesien en aan Joab vertel: “Weet u, ek het Absalom aan ‘n akkerboom sien hang.”

11Toe sê Joab aan die man wat dit vir hom vertel het: “Wat? Het jy hom gesien? Waarom het jy hom dan nie net daar doodgeslaan nie? Ek sou jou dan tien silwerstukke en ‘n eregordel moes gegee het.”

12Maar die man antwoord vir Joab: “Al sou ek ook vir my duisend silwerstukke met my eie hand kon aftel, sou ek nog nie my hand teen die koning se seun opgetel het nie. Ons het immers almal gehoor hoe die koning u en Abisai en Ittai beveel: ‘Werk tog saggies met my kind Absalom.’13As ek verkeerd opgetree het, sou dit by die koning bekend geword het en dan sou ú my nie gehelp het nie.”

14Toe sê Joab: “Ek kan nie so staan en tyd mors hier by jou nie.” Hy het drie spiese gegryp en dit deur Absalom se hart gaan steek waar hy nog lewendig in die boom gehang het.

15Toe het tien wapendraers van Joab nader gestorm en Absalom heeltemal dood geslaan.

16Hierna het Joab die ramshoring geblaas en die leër het opgehou om Israel te agtervolg. So het Joab die leër laat terugtrek, 17maar die hele Israel het huis toe gevlug.

Absalom se lyk is in ‘n diep gat in die bos gegooi, en hulle het ‘n groot hoop klippe op hom gepak.

18Dit was dieselfde Absalom wat die gedenkteken in die koningslaagte opgerig het om homself te vereer, omdat hy gesê het hy het nie meer ‘n seun om sy naam in gedagtenis te hou nie. Daarom het hy die gedenkteken na homself vernoem en dit word nou nog genoem: “Absalom se Gedenkteken”.

19Agimaäs seun van Sadok het gesê: “Laat ek tog hardloop en aan die koning die goeie tyding bring dat die Here hom van sy vyand verlos het.”

20Maar Joab het vir hom gesê: “Jy is vandag nie die regte man om ‘n tyding te bring nie. Jy kan op ‘n ander dag boodskappe dra. Vandag doen jy dit nie, want dit is die koning se seun wat dood is.”

21Toe beveel Joab ‘n Kussiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.”

Nadat die Kussiet voor Joab gebuig het, het hy begin hardloop. 22Agimaäs seun van Sadok het weer vir Joab gesê: “Kom wat wil, laat ek tog net agter die Kussiet aan hardloop.”

“My seun, waarom wil jy tog hardloop? Daar sal nie vir jou ook ‘n boodskappersloon wees nie,” antwoord Joab.

23“Dit maak nie saak nie; ek hardloop,” sê hy.
“Nou hardloop dan,” sê Joab vir hom.
Agimaäs het toe met die pad deur die Jordaanstreek gehardloop en die Kussiet verbygegaan.

24Terwyl Dawid in die stadspoort sit, klim die wag na die uitkykpos op die poort se dak en kyk rond of hy nie dalk iets sien nie. En juis toe kom daar iemand alleen aangehardloop. 25Die wag roep toe en sê dit vir die koning.

“As hy alleen is, bring hy nuus,” sê die koning.

Terwyl hy nader kom, 26sien die wag nog iemand hardloop en hy roep na die poortwagter: “Daar kom nog iemand alleen aangehardloop.”

En die koning sê: “Ook hý bring nuus.”

27“Dit lyk my die voorste een hardloop soos Agimaäs seun van Sadok,” merk die wag op.

“Hy is ‘n goeie man, hy kom met ‘n goeie boodskap,” voeg die koning toe by.

28“Alles is reg,” roep Agimaäs en buig voor die koning en sê: “Geloof sy die Here u God, omdat Hy die mense wat in opstand gekom het teen die koning, verslaan het.”

29“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning. Hierop antwoord Agimaäs: “Ek het ‘n groot samedromming opgemerk net toe u offisier Joab my gestuur het. Verder weet ek niks.”

30Die koning het hom beveel: “Wag ‘n bietjie. Kom staan hier eenkant.”

Hy het dit gedoen
31en toe kom die Kussiet juis net daar aan en sê: “Daar is nuus vir die koning, want die Here het u vandag verlos van almal wat teen u in opstand gekom het.”

32“Gaan dit goed met my kind Absalom?” vra die koning, en die Kussiet antwoord: “Mag dit met die vyande van die koning en almal wat teen u in opstand kom en u ondergang wil bewerk, gaan soos met daardie kind.”

33Die koning het ontroerd geraak en in trane na die kamer bokant die poort opgeklim. Daar het hy heen en weer geloop en gesê: “My seun, Absalom, my seun, my seun. Absalom, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het. Absalom, my seun, my seun.”

19 Daar is aan Joab vertel: “Kan jy dit glo? Die koning huil en treur oor Absalom!”

2So het die oorwinningsdag ‘n dag van trane geword vir al die manskappe, want hulle het gehoor dat die koning bedroef is oor sy seun. 3Op dié dag het die manskappe die stad binnegesluip, soos wanneer hulle beskaamd insluip as hulle uit ‘n geveg weggehardloop het.

4Die koning het sy gesig toegehou en hardop uitgeroep: “My seun Absalom; Absalom, my seun, my seun!”

5Joab het by die koning in die kamer ingegaan en gesê: “U het vandag al die manskappe laat skaam kry, hulle wat so pas u lewe en ook dié van u seuns en dogters, u vrouens en byvrouens gered het. 6U het mos nou u haters lief en u haat die mense wat vir u liefhet. Ja waarlik, u gee vandag te kenne dat u nie vir aanvoerders en manskappe omgee nie. Vandag weet ek beslis: as Absalom maar net kon gelewe het, kon ons vandag net sowel almal dood gewees het; u sou dan in u skik gewees het! 7Kom nou, gaan stel u manskappe tevrede. Ek verklaar voor die Here: As u nie buitetoe gaan nie, sal daar vannag nie ‘n enkele man by u oorbly nie. Dit sal vir u ‘n groter ramp wees as enige ramp wat u in u hele lewe getref het.”

8Die koning het toe buitetoe gegaan en in die stadspoort gaan sit. Daar is toe aan al die manskappe vertel: “Kom kyk, die koning sit in die stadspoort.”

Toe het al die manskappe van die koning voor hom verskyn. Israel het intussen huis toe gevlug.

Meegaande preek maak in die eksegetiese gedeelte, met die oorvertel van die teks, gebruik van insigte en formulerings uit Woord en Fees.

Ekstra stof

1 en 2 Samuel handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul en die opkoms en heerskappy van Dawid, in die elfde eeu v.C.  Hulle drie is dan ook die vernaamste karakters.  Die boeke van 1 & 2 Konings voltooi die verhaal van die konings tot en met die ballingskap in 586 v.C.

Hierdie boeke vorm deel van die Vroeë profete, vertel vanuit God se perspektief op die geskiedenis van sy volk .  Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol, spesifiek Samuel en Natan.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie.  Dit het dit moontlik gemaak vir plaaslike rolspelers om na vore te tree.  Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doen gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters).  Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron.

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die boek van Samuel tot by 2 Sam 8, waar vertel word dat Dawid “die mag uit hulle hande geneem het.” (:1)

Daar is talle ooreenkomste, maar ook beduidende verskille tussen 2 Samuel en 1 Kronieke.  Die verhaal van Dawid en sy ryk word in beide vertel, maar met verskillende perspektiewe.  Waar 2 Samuel – en die verdere verloop (en verval) van Israel se verhaal in 1 en 2 Konings – uiteindelik ‘n belangrike motivering verskaf hoekom ‘n ballingskap nodig was, wil 1 Kronieke, geskrywe ná die ballingskap, die volk juis moed laat skep uit die helde van die verlede.

Betekenisvolle momente in die boek Samuel
1.  OORGANGE – Die verhaal is een van oorgange:

  • Van ‘n periodieke, gedeeltelike teokrasie van die rigterstyd,  na ‘n geïnstitusionaliseerde afkoms-gebaseerde monargie;
  • Van ‘n koning, Saul, wat soos die tipiese Midde-Oosterse konings optree na ‘n koning, Dawid, wat aan God gehoorsaam is;
  • Van veelvuldige aanbiddingsplekke na die nuwe sentrum in Jerusalem as woonplek van God se Naam.

Hierdie oorgange het natuurlik met baie spanning gepaard gegaan.  Dit sien ‘n mens onder andere in:

  • die konflik tussen koningskap en die verbond – vgl. bv. die kontrasterende sentimente tussen Samuel en die volk oor die behoefte aan ‘n koning in 1 Sam 8-12, en Saul wat eerder sy eie kop volg as om lojaal te bly aan God.  Vgl. ook Dawid se verhaal, wie se verbondslojaliteit juis ‘n nuwe belofte aan hom en ‘n verbond met God tot gevolg het (2 Sam 7 – let ook op die messiaanse ondertone), waarin koningskap en die verbond geïntegreer word.
  • die konflik tussen Saul en Dawid (1 Sam 16-31) – waar dit uiteindelik nie gaan óf Israel ‘n koning moet hê nie, maar watter tipe koning Israel gaan hê.  Die sleutelperspektief hier is of die koning lojaal aan God gaan wees en God se karakter gaan vertoon of nie, omdat die koning God se verteenwoordiger op aarde gaan wees.  Saul word verwerp omdat hy dink soos elke ander koning, en dat hy verhewe is bo die wet en onafhanklik van God kan optree.  Dit is juis wat die profetiese tradisie telkens onder die volk se aandag gebring het, dat die konings nie outonoom was nie, en dat sy hooftaak was om die mense in gehoorsaamheid aan God te begelei.
  • Die konflik in Dawid se koningskap (2 Sam 1-24) – vgl. hoe kort Dawid se oorwinnings as koning vertel word (2 Sam 8) teenoor hoe lank en vol detail die verhaal van sy sonde en die tragiese gevolge daarvan vertel word (2 Sam 10-20).  Dawid se twee grootse gedigte van toewyding en lof aan God word daarom in die laaste deel (2 Sam 22-23) van die boek geplaas, as ‘n belangrike deel van die samevatting van sy lewe.  Dit gee ‘n gebalanseerde prentjie van hierdie man van geloof, wat wel aan swakhede toegegee het,  maar wanneer daarmee hy gekonfronteer is, deur gebed en offers berou en verootmoediging getoon het.

2.  AANBIDDING – ‘n Sentrale fokus in die boek is die ware aanbidding van God.  Dit begin met die profesie teen Eli (2:29), wat God se voorskrifte verag het.  Dan fokus dit op die verlies van die Ark van die verbond (hfst. 4-7), waarmee die glorie of eer van Israel weggevat is (4:22).  Aan die begin van Dawid se heerskappy, is dit dus ‘n sentrale tema om die Ark weer terug te bring na Jerusalem (2 Sam 6), waarna Dawid ‘n tempel vir God (en die Ark) wil bou, wat hom verbied word.  En die boek eindig met die altaar wat gebou word op die dorsvloer van Arauna (2 Sam 24) waar lesers sou weet, die tempel uiteindelik gebou sou word (2 Kron 3:1).

3.  KONINGSKAP – Nog ‘n sentrale perspektief om in gedagte te hou, is hoe dié verhaal in die Ou Midde-Oosterse konteks inpas.  In die Ou Midde-Ooste was ‘n koning beide ‘n verteenwoordiger van die volk by God as ‘n verteenwoordiger van God by die volk.

Israel se storie in die Vroeë Profete het raakpunte hiermee.  Die storie van die konings is die storie van die volk.  Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk.  Hy kan selfs namens die volk met God praat, soos bv. in die Psalms gebeur. En die koning kan aanspraak maak op die volk se lojaliteit, natuurlik in dié mate wat hyself gehoorsaam is aan God.

Dit loop die Nuwe Testament verhaal van Jesus vooruit, waar die Seun van Dawid gehoorsaam is aan God, as verteenwoordiger van die volk (mensdom).  En Hy as koning die volk (Sy liggaam) in die regte verhouding met God kan bring.

4.  LEIERSKAP – ‘n Belangrike perspektief in hierdie verhaal is dat God soewerein is en altyd aan die werk is, meesal “behind the scenes”.  Dit het ‘n belangrike betekenis vir hoe ons na leierskap kyk.  Die boek Samuel wys dat daar maar net een manier is om leierskap te beoefen (Saul, Dawid), of net maar jou lewe effektief te leef (Nabal, Abigajil), en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.

Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.

  • Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel.  Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd.  Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geeër word nie.  En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets.  Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap.  Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei.  En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is.  Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n hard leerskool vorm.  Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

5.  ANDER – Let ook op hoe temas wat in die Pentateug ‘n rol gespeel het, ook hier voorkom.  Bv. die motief van die kinderlose vrou (Sara, Rebekka, Ragel – Hanna) en die keuse vir die mindere (Jakob – Dawid).

Die twee-deling van die boek dateer eintlik uit die 16de eeu.  Dit was aanvanklik een boek, soos ook 1 en 2 Konings.  Dele van die boek kom moontlik van die onbekende geskrifte van Samuel en die profete Natan en Dan (1 Kron. 29:29).

Verskeie tradisies kan in die teks onderskei word, soos die Ark narratief in 1 Sam 4-7 en 2 Sam 6, die Opkoms van Dawid in 1 Sam 16 – 2 Sam 5, en die Opvolgingsverhaal van 2 Sam 9-20 wat in 1 Konings 1-2 voortgesit word.  Dit kan verband hou met die wyse waarop hierdie verhale by die onderskeie heiligdomme Gilgal, Mispa,  en Silo bewaar is.  Die finale redaktor het dit egter as een verhaal saamgestel.

2 Samuel 18
2 Samuel 16-18 handel oor die tema dat God agter alles besig is om sy wil uit te werk in die doen en late van mense.

Let op hoe die intriges eskaleer met ‘n verskeidenheid rolspelers wat hulle lojaliteite wys in die wyse waarop hulle optree in die konflik tussen Absalom en Dawid.  Let ook op hoe die Eintlike Rolspeler, God self, sy wil uitwerk in die groeiende chaos.  Midde in die strategiese en politiese spel van die onderskeie rolspelers, Dawid met Gusai en die priesters, Absalom met Agitofel en die opstandelinge – waarin Dawid die oorhand kry – staan die kort opmerking in 17:14 wat ‘n dieper perspektief gee op die verloop van sake: “Maar eintlik was dit die Here wat die goeie raad van Agitofel verydel het, omdat die Here onheil oor Absalom wou bring.”

God is agter alles besig om sy wil uit te werk in die doen en late van mense.
Die afloop van die verhaal het tragiese gevolge beide vir die raadgewer Agitofel en die kroonprins Absalom.
Let ook op hoe verdraagsaam Dawid teenoor Simeï se vervloeking optree met ‘n beroep op die Here se regverdigheid, moontlik ook omdat hy dit as deel van God se oordeel oor sy eie wandade sien (1 Sam 12:10-12).  Hy sien die episode selfs oor as Simeï om verskoning vra (hoofstuk 19), moontlik as deel van sy belofte om goedgesind te wees teenoor Saul se nageslag en ter wille van goeie verhoudinge met die Benjaminiete. Let op hoe Dawid vir Abisai keer om Simeï dood te maak, net soos hy doen toe dieselfde Abisai vir Saul wou doodmaak (1 Sam 26).

Dit bly egter ‘n raaisel dat wat hier ‘n lofwaardige en navolgingswaardige optrede is, so omvergewerp kan word deur die laaste opdragte aan Salomo aan die einde van Dawid se lewe, waar Dawid onder andere vir Simeï laat boet vir sy wandade (1 Konings 2).  Dit lyk asof Dawid uiteindelik tog toegegee het aan wraakgedagtes.

Let ook op hoe slim Gusai optree.  Aanvanklik gaan hy nie vir Agitofel, oupa van Batseba, teë nie.  Eers later begin hy baie diplomaties en met baie woorde twyfel saai in Absalom se gemoed oor wat die beste optrede sou wees, streel selfs sy ego deur voor te stel dat Absalom self teen Dawid opruk, en slaag daarin om Agitofel se raad te verydel. Gusai maak selfs voorsiening vir geval sy raad nie gevolg word nie deur die twee priesterseuns opdrag te gee om Dawid deur die Jordaan, 30 km van Jerusalem af, te laat trek.

Om by Dawid se byvroue te slaap, was ‘n openlike bewys van die nuwe koningskap, en goeie raad van Agitofel.  Dit druis egter teen die ou tradisies van Israel in, soos verskeie kere te vore uitgespel: (Vgl Ruben se oortreding in Gen 35:22 met Jakob se straf daarvoor in 49:4; ook die verbod in Lev 18:8 en Deut 22:30).

Absalom word uiteindelik deur Joab doodgemaak in die Efraimsbos tot Dawid se groot verdriet.  Hy is selfs meer geraak deur Absalom se dood as deur die dood van die eerste kind by Batseba.

Agitofel se selfmoord is een van vier gevalle in die Bybel – Saul (1 Sam 31:4), Simri (1 Kon 16:18) en Judas (Matt 27:5).

Liturgie

Aanvangslied: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 130)

Seëngroet: (Efesiërs 1)

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Wet: (Efesiërs 4:25-5:2)

Skuldbelydenis: (Psalm 130)

Vryspraak: (Johannes 6)

GELOOFSBELYDENIS: AHV KOL 1

Lofliedere
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”
Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: 2 Samuel 18:5-9; 15; 31-33

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 464 “Heer my God 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 470 “U Here is ons Koning 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 130)
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.

Seëngroet: (Efesiërs 1)
Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Wet: (Efesiërs 4:25-5:2)
Riglyne vir die nuwe lewe

25Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam.

26As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. 27Moenie die duiwel vatkans gee nie.

28As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.

29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

30En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.

31Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

5 Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. 2Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was.

3Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. 4Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. 5Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

Skuldbelydenis: (Psalm 130)
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?

5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.

Vryspraak: (Johannes 6)
35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

47“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. 48Ek is die brood wat lewe gee. 49Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. 50Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat ’n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. 51Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.”

GELOOFSBELYDENIS: AHV KOL 1
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.

En ek glo in die Seun wat die beeld van God is,
van God wat self nie gesien
kan word nie.

Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
God het deur Hom alles geskep
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.

Ek glo Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.

Ek glo dat God besluit het
om met sy volle wese in Hom te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.

Ek glo dat God deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
die vrede herstel het,
en deur Hom alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen het.

Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Lofliedere
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”
Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994  Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën  –  Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

1. Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

2. As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,  
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F189. “Vul My Hart, O Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Gebed / Verootmoediging)
Oorspronklike titel: Change My Heart, Oh God
Teks en musiek: Eddie Espinosa
Afrikaanse teks: Pieter Malherbe 2007
Kopiereg:  © 1982 Mercy/Vineyard Publishing/Adm. by CopyCare.

Vul my hart, o Heer
met ‘n nuwe gees
Heer, verander my
Laat my soos U wees

Heer, in U hande is ek soos klei
Vorm my en maak my
laat my soos U wees

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: 2 Samuel 18:5-9; 15; 31-33

Prediking

Familie-oomblik

Carolyn Brown meen dat tov 2 Samuel 18 volwassenes oor die algemeen oorweldig word deur Dawid se hartseer en rou oor die dood van sy opstandige seun Absalom. Nie so met kinders nie- hulle is eerder gefassineer met Absalom se hare wat in die boom vassit!

Gebruik gerus die bokraaisel ahv Die Boodskap se weergawe van die fokusteks.

2 Samuel 18 (DB)
“Goed, as julle so dink, sal ek dit doen,” sê die koning. Die koning het toe by die stad se ingang gaan staan en al die groepe van die leër het by hom verbygestap. Die koning het vir Joab en Abisai en Ittai duidelik gesê: “Moet asseblief nie te rof wees met die jongman, met Absalom, nie.” Al die manskappe het gehoor wat die koning vir die generaals oor Absalom gesê het. So het die manskappe dan uitgegaan veld toe om teen die Israeliete te veg. Die geveg het in die Efraimbos begin. Die Israeliete het die geveg teen Dawid se manskappe verloor. Daar is daardie dag baie van die Israeliete daar in die bos dood, omtrent 20 000. Die gevegte was naderhand oor ’n wye gebied en daar is meer mense in die bos dood soos hulle gevlug het, as wat daar met die swaard doodgesteek is. Absalom het hom in Dawid se manskappe vasgeloop. Hy het op ’n muil gery. Toe die muil onder die digte takke van ’n groot boom deurgaan, het Absalom se kop in die takke vasgehaak. Die muil is onder hom uit sodat hy daar tussen hemel en aarde bly hang het. Een van Dawid se manne het dit gesien en vir Joab gaan vertel. Hy het gesê: “Ek het Absalom daar aan ’n boom sien hang.”

Tien van Joab se wapendraers het op Absalom toegesak en hom doodgeslaan.

Hulle het Absalom se lyk gevat en dit in die bos in ’n groot gat gegooi. Toe het hulle hom met ’n groot hoop klippe toegepak. Intussen het al die Israeliete na hulle huise toe gevlug.

Dawid het tussen die eerste en die tweede groot deur by die ingang van die stad gesit. Die man wat op wag was, klim toe op in een van die uitkyktorings op die dik muur wat om die stad was. Toe hy uit die toring kyk, sien hy skielik iemand wat alleen aangehardloop kom.

Hy was nog ’n ent weg toe skree hy al vir die koning: “Als is reg!” Toe hy met sy gesig teen die grond voor die koning buig, sê hy: “U Majesteit, ons moet die Here, u God, prys, want Hy het die mense wat teen u opgestaan het, op hulle plek gesit.”

“Wat van Absalom? Is my kind veilig?” vra die koning. Daarop antwoord die man: “Ek hoop dieselfde sal gebeur met U Majesteit se vyande en met almal wat slegte planne teen u het, as wat met daardie jongman gebeur het.” Die koning was platgeslaan. Hy het na ’n kamer bo-op die stad se muur gegaan en in trane uitgebars. Hy het heen en weer geloop en gesê: “My seun, my Absalom, my seun, my seun, my Absalom. Ag, as ek maar dood was in jou plek, Absalom, my seun, my seun.” (2 Samuel 18:4-10, 15, 17, 24, 28, 32-33 DB)

Vul die korrekte antwoorde in die gemerkte blokkies om die geheime woord te ontrafel wat van bo na onder lees.
1. Die naam van Absalom se pa
2. Waar die koning se seun sy hare vasgehaak het
3. Die emosie van Koning Dawid toe hy die slegte nuus verneem
4. Hùlle het Absalom uiteindelik doodgemaak
5. Die naam vir die verloorders in die geveg
6. Die plek waar die veldslag begin het
7. ‘n Ander naam vir soldate

Preekriglyn

Ons teks lees soos die hoofberigte op koerante se voorblaaie nog elke dag lees.

Net vroeër vandeesweek was daar weer ‘n berig van ‘n ryk sakeman op die voorblad van ons koerant. Hy kom al jare glad nie oor die weg met sy suster se gewese man nie. Oor die naweek raak hy toe blykbaar in ‘n hewige argument met sy suster se volwasse dogter betrokke. (Dis nou as die koerant sy feite reg het.) Die dogter raak ontsteld, bel haar pa en die sekuriteitsmaatskappy. Toe haar pa opdaag, dis nou ons sakeman se suster se gewese man, pluk die sakeman ‘n skietding uit en skiet vir pa in die maag.

Dié bloei hom amper dood. Omdat die sekuriteitsmaatskappy die straat afgesper het (hulle moes seker die skietding al vroeër opgemerk het), sukkel die ambulans om by die gewonde te kom. Hy het darem oorleef. Sakeman word in hegtenis geneem en bring ‘n paar dae in die selle deur.

Sy suster, wie se eks-man ‘n noodoperasie moes ondergaan om sy lewe te red, die bekommerde moeder van ‘n hoogs-ontstelde dogter, sê die twis tussen haar broer en haar eks-man kom al jare. Nou het dit egter oorgekook.

‘n Paar dae later is die soort insident natuurlik vergete. Nie omdat dit nie sensasioneel is nie. Daar is net soveel nuwe voorvalle elke dag!

Dalk nog erger

Ons teks, 2 Samuel 18 is nie ‘n maklike teks om oor na te dink nie. Dit begin sleg en dit eindig nog slegter. Dis asof die leser daarvan in ‘n wrede verhaal inklim om nie weer uit die afskuwelikhede te kan uitkom nie. Dis die verhaal van ‘n seun wat teen sy pa in opstand kom. Hy inisieer ‘n oorlog wat skeefloop en hom sy eie lewe kos. Dit laat die pa gebroke. Hy wens sy lewe eerder as dié van sy seun kon in die slag gebly het.

Die hartseer is dat alles wat hier gebeur, en wat dit voorafgegaan het, deel is van die samelewing waarbinne ons vandag leef. Niks vreemds speel voor ons af nie – ‘n seun rebelleer teen sy pa, is in ‘n magspel met hom betrokke, neem wat nie aan hom behoort nie (steel van sy pa) en dan probeer hy boonop nog ook sy hand aan moord op sy pa

Verder spruit hierdie gedrag voort uit ‘n geskiedenis van familieprobleme en geweld. Kwaad baar kwaad. Die vernietigende effek van wraak is so omvangryk dat niks of niemand in die proses onaangeraak bly nie.

Wat hierdie verhaal en sy gevolge so erg maak, is die mag en verantwoordelikheid wat ter sprake is. Die familietwis dompel die hele land in die ellende.

Vrouedag

Ironies genoeg is ons Leesroosterteks vir vandag – op Nasionale Vrouedag – ‘n teks waarin soveel geweld die botoon voor. En soos ons sal sien, herinner ons teks aan die verskriklike werklikheid waarmee soveel vroue in ons land elke dag moet saamleef. Ons kom aan die einde weer terug na Vrouedag.

Die agtergrond

Net soos die twis tussen die sakeman en sy suster se eks al jare kom, en nou oorgekook het, kom die spanning in Dawid se huis ook al baie, baie lank aan.

Die aanloop van die tragedie kry ons reeds in 2 Samuel 13. Eintlik moet ons dit terugneem na hoofstuk 11 toe, waar Dawid owerspel pleeg met Batseba en die verskriklike gevolge daarvan, as Dawid toesien dat Urija (Batseba se man) in ‘n geveg sterf. Nadat Batseba klaar gerou het oor Urija se dood, het Dawid haar laat haal en sy het sy vrou geword.

Hierdie hele gebeurtenis was verkeerd in die oë van die Here. Die Here het vir Natan na Dawid toe gestuur om sy straf aan te kondig (2 Sam 12). As deel van Dawid se straf sou “die swaard nooit meer uit sy huis weggaan nie” (daar sal altyd onderlinge stryd wees; 2 Sam 12:10-11), iemand anders sal oop en bloot met Dawid se vrouens slaap (2 Sam 12:11), en die eerste kind wat Dawid by Batseba verwek, sal sterwe (2 Sam 12:14).

Voor die einde van hoofstuk 12 sterf die kindjie al. Dis maar net die begin.

Onderlinge stryd

Die onderlinge stryd in Dawid se huis begin in 2 Samuel 13. Hier lees ons hoedat Amnon, Dawid se seun, slinkse planne beraam en sy halfsuster Tamar (Dawid se dogter) verkrag. Tamar is in ‘n toestand en sy vertel vir haar broer Absalom wat gebeur het. Alhoewel Absalom vir Tamar aanmoedig om liewer maar stil te bly oor die hele affêre en hy self ook nie een woord met Amnon daaroor gepraat het nie, het hy Amnon gehaat oor wat hy Tamar aangedoen het. Absalom het Tamar in sy huis ingeneem. Sy het daar gebly en sy was ‘n wrak gewees.

Koning Dawid (die pa van Amnon, Tamar  en Absalom) het van alles gehoor wat gebeur het en hy was woedend, maar ook hy het niks gedoen nie. Die moontlikheid bestaan volgens Bybeluitleggers dat Dawid, nadat hy self ook skuldig was aan owerspel, dalk gevoel het dat hy nie die reg het om vir Amnon aan te spreek of te straf vir sy daad nie.

Aangesien Amnon glad nie gestraf is vir sy verkragting van Tamar nie (‘n straf wat na regte deur Dawid opgelê moes word), het Absalom reg in eie hande geneem en Amnon vermoor (sien 2 Sam 13:23-38, veral 32). Hierna het Absalom, uit vrees vir wat Dawid aan hom kon doen, gevlug. Vir drie jaar het Absalom in Gesur gebly. Dawid het intussen vrede gemaak met Amnon se dood en hy het verlang daarna om weer vir Absalom te sien (2 Sam 13:39).

Absalom kry politieke ambisie

Die verhaal neem sy verloop. Al wil Dawid die vrede tussen hom en Absalom herstel, het Absalom bedekte motiewe om die Israeliete weg te steel van Dawid af (sodat hulle hul lojaliteite kan skuif en oorloop na hom toe, dat hy hulle nuwe koning kan word (hfst 14 en 15). Die opstand van Absalom was so ernstig dat Dawid en sy mense vir hulle lewe uit Jerusalem gevlug het (2 Sam 15:14). Dawid het egter sy tien byvrouens agtergelaat om die paleis op te pas.

2 Samuel 16:21-22 vertel dat Absalom ‘n tent op die dak van sy pa se paleis opslaan en daar, voor die oë van die hele Israel, by Dawid se byvrouens geslaap het. So word nog ‘n straf wat Natan in hoofstuk 12 aangekondig het, waar.

Absalom was daarop uit om Dawid om die lewe te bring sodat hy die nuwe koning van die hele Israel kon word. Dit is om hierdie rede dat die oorlog van 2 Samuel 18 uitbreek, die oorlog waartydens Absalom se manne verslaan word en hy sy eie lewe verloor.

Die storie van ons teks

Mens moet eintlik die hele 2 Samuel 18 lees om iets van die dinamika van hierdie store te verstaan.

Dawid en sy manskappe staan op die vooraand van ‘n oorlog teen Absalom en sy volgelinge (die Israeliete). Die nodige voorbereidings word getref. Aanvanklik was Dawid van plan om saam te gaan veg, maar sy manskappe het hom afgeraai (3). In vers 5 gee Dawid wel aan sy bevelvoerders Joab, Abisai en Ittai die bevel: “Werk om my ontwil tog saggies met die jongman Absalom,” of letterlik vertaal: “Saggies om my ontwil met die jongman, met Absalom”.

Wanneer Dawid hier bevele uitdeel aan die leër en aan sy bevelvoerders, doen hy dit in sy amptelike hoedanigheid as koning. Dit is egter so dat sy amptelike rol as koning hier vervleg word met sy persoonlike rol as vader. Dit is immers sy eie seun Absalom wat teen hom in opstand kom en aan die ander kant van die oorlogslinie gaan staan. Alhoewel sy seun so opstandig is dat hy Dawid se dood verlang, wil Dawid as ‘n vader nie hê dat sy seun doodgemaak moet word nie, selfs al sou hy dit dalk verdien.

Ons sien aan die einde van die verhaal, na die tragiese afloop van die gebeure, hoedat Dawid geen professionele afstand meer kan handhaaf nie wanneer sy emosies as vader die oorhand oor hom kry in vers 33 (in so ‘n mate dat dit dreig om sy beeld as koning skade te berokken).

Lang hare en oorlog meng nie

Nadat Dawid se manskappe die Israeliete in die Efraimbos verslaan het, het hulle op Absalom afgekom waar hy op ‘n muil ry. Die muil het onder die digte takke van ‘n akkerboom deurgegaan en Absalom se kop het in die boom vasgehaak. Die muil het aangehou met loop en Absalom het in die boom “tussen hemel en aarde” bly hang (9) – geheel en al uitgelewer aan die genade van die mense wat op hom sou afkom.

Toe Joab hoor wat Absalom oorgekom het, het hy koning Dawid se bevel (“Saggies om my ontwil met die jongman, met Absalom”) verontagsaam. Van genade was daar geen teken nie. Hy het Absalom met sy swaard gaan steek en daarna het sy tien wapendraers Absalom heeltemal dood geslaan.

Absalom is nie in die familiegraf van die koningshuis begrawe soos wat die gebruik was nie, maar hy is begrawe soos wat ‘n vervloekte persoon begrawe sou word – sy lyk is in ‘n diep gat in die bos gegooi, en hulle het ‘n groot hoop klippe op hom gepak (17).

Boodskappers

Twee boodskappers hardloop om die nuus van die oorwinning aan Dawid oor te dra. Dawid se eerste vraag aan elke boodskapper is na die welstand van die jongman Absalom. Die eerste boodskapper (een van die manskappe in Dawid se leër) wil nie die slegte nuus aan Dawid oordra nie en sê dat hy nie kennis dra van Absalom se welsyn nie.

Die tweede boodskapper, ‘n Kussiet, weet nie dat dit inderdaad slegte nuus sal wees vir Dawid nie. Uit sy antwoord is dit vir Dawid onmiddellik duidelik dat die jongman Absalom gesterf het.

Diepe droefheid

Ons lees in vers 33 dat koning Dawid ontroerd geraak het. Die Hebreeuse werkwoord wat hier gebruik word, kan letterlik vertaal word met “hy het begin bewe” of  “hy het versteurd geraak”. Hy het opgeklim na die kamer bokant die poort (waarskynlik om, in sy diepe droefheid, nie so in die openbare oog te wees nie) en daar het hy gehuil. Terwyl hy heen en weer geloop het, het hy gesê: “My kind, Absalom, my kind, my kind, Absalom. Wie sal tog gee dat ek sterf in jou plek? Absalom, my kind, my kind.”

Hier vind ‘n verskuiwing plaas. Tot hiertoe het Dawid herhaaldelik na Absalom verwys as “die jongman”. Noudat hy die verskriklike nuus kry dat hierdie jongman dood is, laat val hy alle professionele skanse en treur hy as ‘n pa wat vir sy seun baie lief was en wat hom nou aan die dood afgestaan het. Om sy openbare beeld te handhaaf, gaan sonder hy homself af in die kamer bo die poort sodat hy daar aan sy emosies uitdrukking kan gee.

Die koning worstel van die begin van die hoofstuk af met die balans tussen sy rolle as koning en as vader. Hy behou deurentyd ‘n professionele afstand wat vir die manskappe aanvaarbaar is. Selfs al wil Absalom oorlog voer teen die koning wat ook sy pa is, kan Dawid in sy vaderlike hoedanigheid, nie maar net toelaat dat hierdie seun van hom omkom in die oorlog nie. Hy wil hom steeds beskerm. Maar wanneer die nuus kom dat Absalom wel gesterf het, verloor Dawid vir ‘n tydjie al sy koninklike professionaliteit en is hy slegs ‘n vader wat treur.

Die onheil van morele verval

In situasies van morele verval, waar mense onmenswaardig hanteer word, die afwesigheid van reg en geregtigheid, waar daar met mag gespeel word en lewens geminag word – vanuit hierdie situasies kan niks goed kom nie. Nooit nie! Die een ly op die ou end swaarder as die ander, die een kry seerder as die ander, die lewe hou op en mense begin bloot veg om oorlewing. Selfs dit is nie vir almal moontlik nie.

‘n Nuwe Testamentiese perspektief

Die manier waarop Absalom sterf is vanuit ‘n Nuwe-Testamentiese perspektief opvallend. Hy hang aan ‘n boom tussen hemel en aarde, hy word met spiese gesteek en dan vermoor. ‘n Boodskapper dra die slegte nuus aan sy pa oor (heeltemal onwetend dat dit slegte nuus is en nie goeie nuus nie) en sy pa is gebroke.

Deur die Ou-Testamentiese geskiedenis heen het mense mekaar keer op keer te na gekom, onregverdig hanteer, geminag, selfs vermoor. Binne die geledere van die volk wat anders moes leef, die volk wat ‘n voorbeeld moes wees wat andere na hulle toe trek, die volk wat ander jaloers moes maak op hulle (enigste ware) God, die volk Israel, was dinge ook nie beter daaraan toe nie. Daarom is hulle gestraf. Daarom het hulle alles verloor en in ballingskap beland.

Jare later sou daar weer ‘n man wees wat hang aan ‘n boom, tussen hemel en aarde. Nie omdat sy muil onder Hom uitgery het nie, maar omdat mense Hom daaraan gekruisig het. En Hy sterf ter wille van die liefdeloosheid van die hele mensdom, ter wille van die wrede vergrype van mense teenoor mekaar.

Ware Israeliet

Waar Israel soveel keer gefaal het, het God in Jesus die ware Israeliet voorsien wat Israel se roeping om ‘n seën vir die nasies te wees tot volle uitvoering sou bring.

Hierdie Jesus sterf, maar word opgewek uit die dood. Hy oorwin. Sy kruisiging maak uiteindelik die verkondiging van goeie nuus vir ons moontlik. Die skuld vir die sonde is betaal en ‘n nuwe bedeling breek aan. Dinge is nou heeltemal anders. God het Homself in ‘n mens aan ons kom bekendstel, Hierdie mens is ‘n voorbeeld van ware, egte menswees, soos wat God dit bedoel het. Ons het die vergestalting van liefde gesien.

Die vraag is nou: As alles anders is, hoekom is niks dan anders nie? Hoekom is daar niks van hierdie verandering (in Christus) wat die geskiedenis van die mensdom omgeswaai het, sigbaar in die samelewing en die wêreld rondom ons nie? Wat sê dit vir ons . . . van die wêreld, van onsself, wat sê dit van God?

Toepassing

Daarom moet ons vra: wat leer ons uit hierdie teks, wat mens so verslae laat?

Sonde het gevolge

Dit is opvallend hoedat sonde gevolge het. Dawid maak Batseba buite-egtelik swanger, en vermoor haar man.  Amnon, Dawid se seun, verkrag sy halfsuster, Tamar. Dawid, dalk omdat hy skuldig oor sy eie sonde voel, straf Amnon nie en kom nie vir Tamar op nie. Absalom, Dawid se ander seun, ontwikkel ‘n wrok, en vermoor Amnon.

Daar gebeur soveel sonde, onreg en misbruik van gesag, sonder dat die sake ooit behoorlik uitgesorteer word. Hierdie opbouende spanning kook uiteindelik oor.

Optrede, spesifiek sonde, het wrange gevolge. As daardie sonde nie bely en die dade nie uitgesorteer word nie, en as daar nie behoorlike regstellende geregtigheid geskied nie, dra die sonde wrange vrugte.

As ons na ons eie verhoudingslewens kyk, is daar waarskynlik ook onuitgesorteerde bagasie wat ons saamdra. Hoewel nie een van ons konings is, of waarskynlik aansprake op ‘n troon iewers het en nie daarom leërs kan aanvoer nie, kan ons sonde en versteurde verhoudings ook van kwaad tot erger gaan.

Dink weer aan ons sakeman wat sy skietding uitgepluk het. Hierdie verskriklike gebeure het ‘n lang aanloop gehad. Hoeveel anders sou dit nie kon wees as die verhouding vroeër uitgesorteer kon word, die wrokke oorkom en die verkeerde optredes vergewe kon word nie?

Breek die siklus van geweld 

Hier is ‘n spiraal van geweld aan die gang wat eskaleer omdat dit nêrens langs die pad deurbreek word nie. Dawid slaap by Batseba. Baie skrifkenners sê dis eintlik prakties-gesproke ‘n verkragting. Amnon verkrag sy halfsuster, Tamar. Absalom vermoor dan vir Amnon. Op die ou end wil Absalom Dawid vermoor. ‘n Geveg breek uit, baie sterf, en Absalom word wreed doodgemaak, ja, doodgeslaan.

Wat sou dit verg om iewers langs die pad deur hierdie groeiende siklus van geweld te breek? Wie sou nederig om verskoning moes vra? Wie sou wie moes kompenseer? Hoe sou sigbare geregtigheid die saak kon verander? Hoe sou afsien van geweld van die wêreld ‘n beter plek kon maak?

‘n Groeiende spiraal van geweld is nóóit onafwendbaar nie. Kommunikasie, nederigheid, skuldbelydenis, vergifnis, om jouself van geweld te weerhou – dit is alles meganismes wat ‘n verskil kan maak.

Dit help ook baie as mens verstaan die wêreld is nie ‘n regverdige plek nie. Slegte dinge gebeur, en dit is altyd beter om te vergewe en te vergeet. ‘n Mens se wrokke, verbittering en wraak kom altyd terug om jou te byt.

Jesus het ons skuld en skande gedra

Ons teks speel in die Ou Testament af. Ons leef in die Nuwe Testament. Ons het ‘n veel helderder perspektief op God se plan om skuld, skande, twis, die aantasting van ons eer en weerwraak te hanteer.

Die sentrale gebeure in die wêreldgeskiedenis is die geboorte, lewe, lering, kruisiging, opstanding, hemelvaart en wederkoms van Jesus. In Jesus het God ons skande en ons sonde op Hom geneem. In Jesus het daar vir ons bevryding gekom. Jesus bring versoening tussen God en mens, en tussen mens en mens.

Jesus se bloed het gespat. Dit is nie meer nodig dat ons mekaar se bloed moet laat spat om sonde, skuld en ellende uit te sorteer nie. Ons kan dit na God neem en voor God met mekaar versoen raak.

Natuurlik leer ons ook die geregtigheid van God in Jesus ken. Daar is kante van onreg wat sekerlik nooit op ‘n menslike vlak op aarde uitgesorteer sal word nie. Wanneer Jesus weer kom, vind God se eindoordeel plaas. Presies hoe dit gaan werk, weet ons nie. Maar in die eindoordeel sal God self die geregtigheid soos watergolwe aanbring, en sal God deur God se geregtigheid die genesing, herstel van skade, skuld en skande bring op ‘n manier wat die hele kosmos vry sal maak – ook ons as slagoffers en ons as beoefenaars van onreg.

Daarom kan ons bekostig om vooruit te sien na ons eie bevryding, saam met soveel ander, van onreg, skuld en skande.

Dit is uiters belangrik om geregtigheid en herstel in hierdie lewe te soek. Die eindoordeel onthef ons nie van hierdie verantwoordelikheid nie. Maar ons moet dit doen met ‘n oog op God se eindoordeel. Ons moet seker maak ons strewe na geregtigheid hou rekening met die manier hoe God dit hanteer, en hoe God dit reeds in Jesus se lering en lewe aan ons openbaar het. Jesus – binne die konteks van die hele Bergrede – noem immers die wat honger en dors na geregtigheid die geseëndes van God.

Jesus leer nie-gewelddadigheid

Jesus se lering is belangrik vir mense wat uit die siklus van geweld wil breek, en mense wat die mag van sonde wat gebreek is, prakties in hul lewe wil ervaar. Jesus leer ons om nie geweld as verlosser te sien nie. Hy leer ons om geweld te ontkrag deur nie-gewelddadig op te tree. Dink aan sy opdrag dat wanneer ‘n (gehate) Romeinse soldaat jou dwing om sy bagasie vir ‘n myl te dra, jy dit vir twee myl moet doen. Hy leer ons om die ander wang te draai. As iemand ons bokleed eis, om die onderkleed te gee.

As mens die kulturele agtergrond verstaan, blyk dit duidelik dat hierdie soort optrede die geweldenaar help om sy eie gewelddadigheid raak te sien, en hom/haar die geleentheid te gee om self daaruit te breek.

Dit is deel van ons gebrokenheid dat ons geweld sien as ‘n opsie om die goeie voort te bring. Teoloë sê dat ons eintlik baie diep glo aan “redemptive violence.” Daarom skiet ons lande en geboue plat, en dink dit gaan ‘n goeie saak dien. Dit is ‘n leuen. Jesus leer ons so.

God het sy Gees oor ons uitgestort

Nie alleen het ons die Woord van Jesus nie. Ons het ook die Heilige Gees ontvang, wat ons kom oortuig van sonde, geregtigheid en vrede. Ons het die krag van God in ons om die goeie te doen, vrede en herstel na te jaag, en sonde uit te sorteer.

Ons moet prakties vanuit die krag van God lewe om uit die siklusse van geweld en wraak te kom. Ons kan. God gee dit aan ons deur sy Woord en Gees.

Vrouedag

Op Vrouedag dink ons aan die kwesbaarste mense in ons samelewing. Ons dink aan vroue en kinders, en wat die siklus van geweld aan hulle doen. In die groter konteks van ons teks sien ons hoe maklik vroue die onderspit delf. Batseba verloor haar man en haar kind wat deur Dawid gebore is, sterf. Tamar word verkrag, en niks konstruktief word gedoen om die situasie uit te sorteer nie.

Mens sien ook die omgekeerde geweld. Die seun Absalom probeer sy pa onttroon en doodmaak. Hy het openlik gemeenskap met sy pa se byvroue waar almal kan sien, om daarmee sy pa te onteer en te beskadig.

Dit maak almal wat omgee regtig woedend – juis omdat ons omgee en liefhet. Dit moet ons ook wakker, opmerksaam en kreatief maak om waar daar geweld is, dit raak te sien en iets daaraan te doen. Hier moet ons ons veral deur ons vroue laat lei.

Die kerk het die gesag van God ontvang om versoening te bedien. Ons is geroep om God se liefde en geregtigheid na te jaag. Binne elke gemeente, ook ons gemeente, moet ‘n gesprek op leiersvlak ontstaan oor wat ons hieraan gaan doen. Die siklus van geweld moet gebreek word. Mense moet die geleentheid kry om hul potensiaal te verwesenlik. As dit nie veilig is vir die swakste onder ons nie, is dit vir niemand veilig nie.

Jesus ons sy Woord en Gees gegee om van die wêreld ‘n veiliger, meer betroubare plek te maak.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Seën
Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
Mag God julle lewe met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewe is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie.
Amen.
(uit: Ef 3:18, NAV, Ef 3:19, Die Boodskap)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.