Elfde Sondag in Koninkrykstyd (Seisoen van Barmhartigheid)

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 105:1-6, 23-26, 45c (Israeliete in Egipte en Moses word gestuur.); Romeine 12:9-21 (Riglyne vir die Christelike lewe . . . oorwin die kwaad deur die goeie); Matteus 16:21-28 (Jesus kondig die eerste keer sy dood en opstanding aan en om Jesus te volg).

Fokusteks

Eksodus 3:1-15
God openbaar Hom aan Moses
3 Moses het die kleinvee van sy skoonpa Jetro, ’n priester van Midian, opgepas. Hy het die kleinvee diep die woestyn in gejaag totdat hy by Horeb, die berg van God, gekom het.

2Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in ’n vlam binne-in ’n doringbos. Terwyl hy kyk, sien hy dat die doringbos aanhou brand, maar nie uitbrand nie. 3En Moses sê vir homself: “Ek wil tog ’n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?”

4Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!”
En hy antwoord: “Hier is ek.”

5Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” 6Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk.

7Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. 8Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ’n goeie en uitgestrekte land, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 9Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. 10Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”

11Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?”

12God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

13Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”

15Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.

16“Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte. 17Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na ’n land wat oorloop van melk en heuning.’

18“Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, ’n offer te bring.’

19“Ek weet dat die Egiptiese koning julle nie sal laat gaan nie, selfs nie onder dwang nie. 20Dan sal Ek my hand uitsteek en Egipte teister met die wonderdade wat Ek in hom sal doen. Eers daarna sal die farao julle laat gaan. 21Ek sal ook sorg dat die Egiptenaars goed doen aan hierdie volk van My, sodat, as julle uiteindelik wegtrek, julle nie met leë hande sal gaan nie. 22Elke vrou moet van haar buurvrou of in die huis waar sy werk, silwer- en goue goed sowel as klere eis. Laat julle seuns en dogters dit dan as buit uit Egipte uit wegdra.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede:
Lied 532 “Ons Vader, neem ons hande” of
Vonkk 102 “Mag die woorde van my mond”

Votum: Psalm 105:1-6

Lofsang
Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer” of
Vonkk 20 “Ek loof u Naam, o Here” of
Flam 45 “Die Heel Beste Rede”

Wet:Romeine 12:9-21

Toewyding
Lied 505 “Jesus, U gaan voor” of
Vonkk 56 “My God, hoe doelloos, hoe verward” of
Flam 2 “Met ons lewens, wil ons U eer”

Epiklese Gebed

Liedere

Sien onder verskillende liturgiese bewegings.
Gemeentes met ‘n CCLI nommer kan die liedere aflaai by www.vonkk.co.za en www.flam.co.za

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Vertel gewoon die verhaal van Moses se roeping. Dit het dikwels baie meer waarde om gewoon die Bybelverhale vir kinders te vertel, as om ‘n morele lessie uit elke teks te prober haal – veral die verhalende tekste. Wys mooi prente uit ‘n modern kinderbybel of gebruik hierdie prent.

Jy kan ook aansluit by die fliek “The Prince of Egypt” – wys die toneel van Moses se roeping. As jy nie die DVD kan kry nie, gebruik ‘n gratis FLV Converter om dit af te laai.

Jy kan egter ook aansluit by die gedagte dat God sien wanneer mense swaarkry – en iets daaraan doen. Wat God doen, is om ons te stuur. Soms is ons te bang om te doen wat God van ons vra. Daarom gee God vir ons mense wat saam met ons kan gaan – broers en susters, ouers, ens.

Preekriglyn

Peer Gynt is ʼn drama in vyf bedrywe deur die Noorweegse dramaturg Henrik Ibsen. Dit vertel die verhaal van ʼn jong man wat sy lewe deurbring met uitstel en die vermyding van alles wat sin gee aan mens se bestaan.

Peer se vader, Jon Gynt, verkwis al sý pa se geld, en word ʼn rondreisende verkoopsman wat sy vrou en seun (Peer) met skuld en in armoede los. Peer self maak droog en word verban uit die samelewing. Dit lei tot ʼn doellose swerftog met baie ervarings. Hy lewe egoïsties en verkwis sy tyd eerder as om homself in die oë te kyk die by die waarheid oor homself uit te kom.

Hy dryf langs die pad handel, onder andere in slawe, word vir ʼn profeet aangesien, besluit om ʼn historikus te word en reis daarom na Egipte. As seuntjie wou hy ʼn keiser word. Hier in Egipte besef hy hy is inderdaad ʼn keiser – die keiser van die self en selfsugtigheid.

Hy keer terug na Noorweë, nou ʼn ou man, en wil graag sy sonde bely. Hy kan niemand vind teenoor wie hy dit kan bely nie – almal meen hy het nie juis iets ernstig verkeerd gedoen nie. (Bron: http://en.wikipedia.org/wiki/Peer_Gynt)

Peer Gynt het baie ervarings gehad, maar ʼn lewe sonder fokus, ʼn verkwiste lewe, ʼn lewe sonder betekenis. Vir hom het dit oor homself gegaan. Daar was geen singewende doel nie. Hy het God nie gehad nie, en het homself nie aan ʼn lewensroeping gewy nie.

God roep Moses

In Eksodus 3 se roepingsverhaal ontmoet ons God in gesprek met Moses. In hierdie gesprek leer ons verstaan dat ʼn mens se identiteit ten nouste saamhang met die aanvaarding van jou roeping voor God. Dit wat betekenis gee aan jou lewe, is om voor God te verstaan wie jy is en wat God deur jou lewe wil doen.

Merkwaardig genoeg werk God deur mense. Ons kan so bewus wees van menslike swakheid en tekortkoming dat jy kan wonder of God God self nie in die voet skiet deur mense te gebruik nie. Dit is egter die patroon reg deur die Bybel. God skakel Noag in by sy planne om ʼn nuwe begin met die wêreld te maak. God wil die nasies seën en roep Abraham. In die derde roepingsverhaal in die Ou Testament, hierdie verhaal van Moses se roeping, blyk opnuut weer hoe helder God se keuse is om deur mense te werk.

Gold se roeping is nie maar net ʼn taak vir ʼn sekere tyd en plek nie. God se roeping staan sentraal in ons selfverstaan en ons identiteit. Dit is wie ons is: geroepenes en gestuurdes van God. Ons roeping definieer wie ons is.

Só was dit met Moses. Hoewel hy hier reeds ʼn ou man is, blyk duidelik dat sy hele lewensverhaal enersyds voorbereiding vir hierdie roeping was, en andersyds (na Eksodus 3) die uitspeel van hierdie roeping is.

Kenmerke van roepingsverhale

God se roeping is ʼn gewigtig gebeurtenis. Die tipiese kenmerke van ʼn Bybelse roepingsverhaal is hier in Eksodus 3 aanwesig:

  • Daar is ʼn verskynsel wat die aandag trek, wat die geroepene laat besef God is hier aan die woord. Hier is dit ʼn brandende doringsbos.
  • Die geroepene word dringend by die naam genoem: “Moses, Moses!” Jy as geroepene weet, soos Moses, dit gaan oor jóú.
  • Die persoon wat geroep word, beleef vrees en respek in die teenwoordigheid van God. Moses word bang. Die heerlikheid en wonder van God se aanwesigheid is oorweldigend.
  • ʼn Duidelike uitspel van die roeping en die motivering daarvoor word gegee. Hier het God die noodkrete van Israel gehoor en stuur Moses om hulle te bevry.
  • Die geroepene is huiwerig, voel oorweldig en maak verskonings.
  • Die Here beloof sy teenwoordigheid en gee versterking.

Ja, ʼn mens se roeping is ʼn gewigtige gebeurtenis, en jy wéét dit gaan oor jou. Elke gelowige kan ʼn roeping van God verwag. Die Gereformeerde tradisie sien die Bybels waarheid baie helder dat elke mens geroep is. God het ʼn taak vir ons elkeen. Die natuurlike verbande waarin ons leef, soos ons huwelik, gesin, werkplek, ontspanning, vriendekring – al hierdie terreine – is deel van die speelveld van ons roeping.

Elkeen van ons se lewe word gestempel deur die feit dat God ons roep en stuur. Enersyds om ʼn goeie lewensmaat, ouer, werkgewer of werknemer e.s.m. te wees. Andersyds gee God se roeping ook ʼn bykomende fokus aan ons lewe. Daarom wy sommige hul lewe aan die verligting van armes se swaarkry, ander wy hulle aan die verspreiding van die evangelie oor allerlei grense, nog ander lê hulle toe op die geestelike vorming van jongmense. Ons doen hierdie dinge op verskeie plekke en tye, by die kerk, huis, werkplek, sportveld, oral waar ons ons voete sit.

Roeping bring die fokus en die sin in ons lewe. Dit stempel ons. Dit bewaar ons van die betekenislose ronddobber van ʼn Peer Gynt.

Waarom roep God mense?

Waarom roep God mense as medewerkers? Ons teks gee die aangrypende motivering:
Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.” (Eks 3:7-10)

Ons teks, en in ’n sin die hele Bybel, ken die belangrikste rede waarom God mense roep. God sien die nood en behoefte van ander mense (verse 7 en 9). God sien en weet dat mense swaarkry en seerkry. God neem die nood van mense ter harte. Dit raak Hom diep om mense in ellende en lyding te sien.

Derhalwe roep God mense ter wille van ander mense. Jan Woest skryf:
Omdat Israel in die steengroewe van Egipte gely het, het Hy vir Moses kom roep, omdat Israel telkens onder las van die Filistyne gely het, het Hy die Rigters geroep om bevrydingsaksies te loods, omdat die volk swaar gely het vanweë hulle eie sonde en ongehoorsaamheid, het Hy telkens profete geroep om te vermaan en te oortuig van sy bedoeling, omdat die ganse aarde en sy inwoners sug onder die gebrokenheid as gebrokenheid as gevolg van die sonde het God sy eie Seun geroep tot Middelaar en daarna sy Geesbeheerde kerk tot draer van die evangelie van bevryding.

God word telkens deur die nood en gesukkel van mense gemotiveer om ander mense te roep as sy helpers en medewerkers om hierdie nood aan te spreek en mense vry te maak.

Juis om hierdie rede gee roeping soveel sin aan ʼn mens se lewe. Dit mag jou met vrees vervul, maar dit is altyd ʼn geleentheid om deel te neem aan die genesing wat God in die wêreld inweef.

Waarom deins geroepenes terug?

Moses deins terug vir sy roeping. Hy maak allerlei verskonings. Baie gelowige mense doen dit ook. Waarom is dit moeilik om positief te reageer wanneer die Here ons roep? Waarom ignoreer mense hul roeping, stuur daarvan weg, of sukkel om sover te kom om die roeping te begin leef en dit uit te voer?

Eerstens weet mens gehoorsaamheid aan jou roeping gaan nie maklik wees nie. Soos Moses later sou ondervind, weet mens dinge gaan moeilik en taai wees. Jy gaan teenstand ervaar. ʼn Roeping verg opoffering, toewyding, en persoonlike ontbering. Dietrich Bonhoeffer, wat self vir sy roeping in ʼn Duitse tronk gesterf het (hy het Hitler se bewind teengestaan), het geskryf: “Wanneer Christus mense roep, roep Hy hulle om te kom en aan hulleself te sterf” (The cost of discipleship).

Tweedens is ons geneig om te veel van onsself – en veral ons eie gebreke – bewus te wees. Soos Moses wonder mens wie jy nou eintlik is, of jy oor die nodige talente beskik, en hoe jy nou eintlik iets sal kan regkry. Sal die Here my kan gebruik:? Mens dink daar is baie beter en bekwamer mense as jy beskikbaar. Daarmee hoop ons om los te kom van ons roeping en los te kom van die Here se aanspraak op ons lewens.

Derdens word ons gewoonlik nie maklik geraak en geroer deur die nood en deur die swaarkry van ander nie. Soms kan ander se lyding vir jou so normaal voorkom – jy kan so gewoond raak daaraan – dat jy dit nie meer raaksien nie. Soms kan jy mense selfs jammer kry, sonder om werklik ʼn diepe deernis te hê wat jou tot aksie laat oorgaan. Ons het ʼn gebrek aan liefde wat tot goeie dade oorgaan. Ons is traag om ons roeping in die nood van ander te erken. Dis soos Moses wat rustig kon skape oppas nadat hy uit Egipte gevlug het, wetende hoe swaar dit met die Israeliete gaan.

God bemoedig en versterk

Hoe reageer God op ons onwilligheid? Kyk na verse 11 en 12:
Toe sê Moses vir God: “Wie is ék dat ek dit by die farao sou waag en dat ék die Israeliete uit Egipte sou bevry?” God het Moses geantwoord: “Ek sal by jou wees en die bewys dat Ek jou gestuur het, sal dít wees: wanneer jy die volk uit Egipte bevry het, sal julle My by hierdie berg aanbid.”

Die Here gee aan die mense wat Hy roep die belofte en versekering van sy teenwoordigheid en sy bystand. God se teenwoordigheid gee die moed en bekwaamheid wat ons nodig het. God se teenwoordigheid bestaan daaruit dat Hy saam met ons gaan, voor ons uit, met ons, en ook agter ons.

In Matteus 28:18-20 word hierdie teenwoordigheid in die groot opdrag op onvergelyklike wyse uitgespel. Jesus gee die opdrag om na die nasies te gaan, en raam die opdrag met die mededeling dat alle mag op aarde en in die hemel aan Hom gegee is, en dat Hy by ons is tot aan die einde.

Die Here is in beheer van ons roeping, Hy gebruik ons, maar ons is God se medewerkers. Ons roeping is altyd ʼn vennootskap waar God direk teenwoordig is. Soms mag ons moedeloos en terneergedruk raak, maar die Here sê sy teenwoordigheid aan ons toe. Dit troos ons.

Uiteindelik gee die Here ook Aäron as menslike vennoot vir Moses. Ook dit kenmerk dikwels die manier waarop God ons op die pad van roepingsvervulling begelei. Elke geroepene kan daarom weet dat God ons nooit alleen stuur nie. Dit troos ons ook.

Ons reaksie

Die Here roep elkeen wat glo. Elkeen van ons is God se geroepenes.
ʼn Belangrike deel van ons roeping is generies. Dit geld vir alle gelowiges. Ons moet die Here dien in ons verhoudings en op al die plekke waar ons ons bevind. Ons doen dit deur liefde te betoon en die vrug van die Gees te dra. Hierdie roeping staan in die Bybel en ons hoef nooit daaroor te wonder nie. Ons moet dit net doen.

Daar is ook ʼn unieke kant aan ons roeping. Die Here dra bepaalde take aan ons op.
Hoe identifiseer mens hierdie roeping? Sommige mense het ʼn helder brandende doringbos-ervaring waar jy God se leiding duidelik beleef. Ander voel ʼn oortuiging in hulle groei, beleef dat ʼn bepaalde diens hulle vul met lewe en energie en passie in hulle opwek. Nog ander word aangegryp deur ʼn situasie en reageer met toewyding daarop.

Belangrik is om jou roeping ʼn saak van gebed te maak. Wag biddend op die Here. God sal antwoord.
Onthou, dit gaan oor God. Dit gaan oor jou. Dit gaan oor God se bystand aan mense rondom jou. Dit gaan oor die koms van God se koninkryk. Dit gaan oor die geleentheid om iewers anders as Peer Gynt te eindig.

God stuur ons om te leef

Stil gebed
Sluit die preek af met geleentheid vir stil gebed, sodat mense bidded op die Here se roeping kan wag.

Seisoen van Barmhartigheid
Ons is tans in die Seisoen van Barmhartigheid – laat een of ‘n paar mense terugvoer gee van jul gemeente se barmhartigheidsbedieninge. Of laat iemand van ‘n plaaslike barmhartigheidsinstansie kom vertel van hul werk.

Gebed
Bid vir die bediening/instansie.
Vonkk 74 “Die Here sal jou seën”
Flam 41 vers 1 “Beeld van God”

Dankoffer

Slotlied
Vonkk 109 “Wees ‘n lig vir Jesus” of
Lied 524 “God roe pons om met woord en daad” of
Flam 70 “Lig vir die wêreld”

Seën
Lied 533 of 534 “Stuur ons Here” of
Vonkk 62 “Sing amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.