Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Deur sy dood en opstanding het Jesus die aflê van die oue en die opneem van die nuwe lewe moontlik gemaak.

Hosea teken die gevolge van ’n keuse vir die ou lewe. God is egter goed en genadig en ontferm Hom altyd weer oor sy kinders.

Die psalm loof en dank die Here dat hy telkens weer sy volk kom haal en terug bring na die nuwe lewe.

Lukas illustreer die dwaasheid van ’n keuse vir die oue. Dit is ’n lewe wat vertrou op besittings en nie op die Here, wat sal sorg nie.

Ander tekste

Hosea 11:1-11
My liefde brand te sterk
11 Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.
2Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.
3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.
4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, 5want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.

6Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het. 7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, ’n juk wat nie afgegooi sal word nie!

8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

10Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos ’n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. 11Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië.

Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.

Prediker 1:2, 12-14; 2:18-23
2Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.
12Ek, die Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem. 13Ek het my daarop toegelê om alles wat in hierdie wêreld gebeur, te ondersoek en behoorlik te deurdink. Ek het bevind: God het ’n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou.

14Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk:
alles kom tot niks,
dit is ’n gejaag na wind.

18Ek het alles gehaat waarmee ek my in hierdie wêreld met soveel sorg besig gehou het, want ek moet dit nalaat aan dié een wat ná my kom, 19en wie weet of hy ’n wyse of ’n dwase mens sal wees?

Tog sal hy beskik oor alles wat ek met sorg en oorleg in hierdie wêreld bymekaargemaak het.

Dit kom dus ook tot niks.

20Ek het in vertwyfeling geraak oor alles waarmee ek my met soveel sorg in hierdie wêreld besig gehou het. 21’n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie.

Ook dit kom dus tot niks.
22Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?
23Elke dag bring vir hom pyn
en elke onderneming ergernis;
selfs snags kom hy nie tot rus nie.
Ook dit kom tot niks.

Psalm 107:1-9, 43
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn,
in ’n barre wêreld,
en kon die pad na ’n bewoonde stad
nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ’n bewoonde stad laat uitkom.
8Hulle moet die Here loof
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
9Hy het die dors geles
van dié wat versmag het,
Hy het die goeie in oorvloed gegee
aan dié wat honger gely het.
43Wie verstandig is,
moet op hierdie dinge ag gee,
hulle moet let op die Here se dade
van trou.

Psalm 49:1-12
Moet jou nie daaroor kwel dat mense ryk word nie
49 Vir die koorleier. Van die Koragiete.

’n Psalm.
2Luister hierna, al julle volke,
gee aandag,
julle almal wat die wêreld bewoon,
3elke mens, sonder uitsondering,
ryk en arm!
4My mond gaan suiwer wysheid praat;
wat ek gaan sê, sal van insig getuig,
5want ek hoor ’n woord
wat my wysheid gee
en terwyl ek op die lier speel,
wil ek ’n geheimenis verklaar.
6Waarom sou ek my
in moeilike tye kwel
as ek bedreig word
deur die onreg van bedrieërs,
7van mense wat net op hulle besittings
vertrou
en met hulle groot rykdom spog?
8Een mens kan tog nie ’n ander loskoop
van die dood
en aan God ’n losprys
vir hom betaal nie?
9Die prys vir ’n mens se lewe
is te hoog.
Wat hy kan betaal,
sal nooit genoeg wees
10dat hy vir altyd sal lewe
en die dood nooit sal smaak nie.
11Elkeen sien dit tog:
wyse mense sterwe
net soos dwase en sotte,
en laat hulle besittings
aan ander na.
12Die graf is vir altyd hulle tuiste;
van geslag tot geslag
is dit hulle woonplek,
al het hulle eenmaal grond
op hulle naam gehad.

Lukas 12:13-21
Die gelykenis van die ryk dwaas
13Iemand uit die menigte sê toe vir Jesus: “Meneer, sê vir my broer hy moet die erfenis met my deel.”
14Maar Hy antwoord hom: “Man, wie het My as regter of deler vir julle aangestel?”
15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ’n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

16Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. 17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: dit sal ek doen: Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’20Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’21So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

Fokusteks

Kolossense 3:1-11
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.
Die ou en die nuwe lewe

5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Ekstra stof

Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense
Paulus maak nou ‘n laaste fundamentele uitspraak oor hulle verbintenis met Christus Jesus voor hy drie van die implikasies daarvan uitspel vir : 1) hulle gedagtes oor hulleself, 2) hulle lewenstyl en gedrag, en 3) al die verhoudings waarin hulle is.

Rig julle gedagtes op die dinge daarbo – 3:1-4
Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink. Want dit beïnvloed alles. Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie. Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo. Ons status verander. Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe. Trouens, ons lewe is verborge in God. En daarom is ons toekoms verseker. Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo. Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie. Dit spel hy juis in die volgende deel uit. Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid. Dit moet nie deel van ons denke wees nie. Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid. Dit moet ons denke volmaak.

Leef as nuwe mense – 3:5-17
Dit is ongelooflik hoe elke woord wat Paulus hier skryf van betekenis is. ‘n Mens kan uitvoerig uitwei oor hoe Paulus die ou lewe beskrywe wat afgelê moet word (3:5-11 – 2 groepe van 5 sondes elk word genoem) en hoe hy dan beskrywe hoe die nuwe lewe geleef moet word (3:12-17 – 15 deugdes of karaktertrekke word genoem). Eintlik kan ‘n mens ‘n paar maande hieroor nadink, en daar sal elke dag nog dinge wees wat vir jou nuut oopgaan! Tyd en ruimte ontbreek my egter. Daarom maak ek net ‘n paar opmerkings hieroor:

  • Ons het ‘n prentjie nodig van die tipe mens wat God wil hê dat ons moet wees. En die prentjie wat Paulus hier kies, is dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper. Dit beteken dat ons moet groei tot die volle kennis van God, want Hy is ons Skepper.
  • Dit is waarom dit so onsinnig is om klem te lê op jou afkoms (Griek of Jood), jou vorige godsdiens (besny of nie besny nie), jou taal of jou kultuur (onbeskaaf) of jou klas (slaaf of vry). Daar is net een ding wat belangrik is, en dit is of jy in Christus glo of nie, en of Hy in jou lewe of nie.
  • En belangrik: die prentjie wat Paulus skilder van die beeld van ons Skepper is nie sy Almag, of Alomteenwoordigheid, of sy Skeppingsmag nie … maar sy karakter. En dit is wat in ons moet groei: meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid. Dit is hoe God is. Dit is hoe ons moet wees.
  • Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want dit gebeur nie oornag nie! Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie, veral nie verskille soos afkoms, taal, kultuur of klas nie. Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.
  • Let op hoe Paulus sê dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee. Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende opsies.
  • En ek kan nie nalaat om ook op die koop toe klem te lê op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly nie. Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.
  • En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Leef in verhoudings soos die Here verlang – 3:18-4:1
Let op hoe Paulus drie tipe verhoudings beskryf: huweliksverhoudings, gesinsverhoudings en arbeidsverhoudings. Dit word deur geleerdes ‘n “huistafel” genoem, omdat al drie verhoudings tipies in ‘n huishouding voorgekom het.

Dit is belangrik om die vorige twee perikope se boodskap in berekening te bring in wat Paulus hier oor die drie verhoudings sê. Die verbintenis met Christus Jesus (3:1-4) en die karakter van God (3:5-17) moet die vertrekpunt vorm vir die wyse waarop in elkeen van hierdie verhoudings opgetree word. Dit wil sê, die spesifieke opdragte wat hy aan die onderskeie persone in die verhoudings gee, moet verstaan word in die lig van Jesus se Heerskappy en die karakter van God wat in ons gevorm moet word.

Dit beteken onder andere dat ‘n mens versigtig moet wees om die opdrag aan bv die vroue, kinders en slawe as ‘n billike en regverdige verwagting van die mans, ouers en eienaars te verstaan. Dit sou tot misbruik aanleiding kon gee deur mans, ouers en eienaars, veral as dit onafhanklik van hulle eie opdrag tot liefhê, genaakbaarheid, en regverdige, billike gedrag hanteer word. Dieselfde geld die opdragte aan die mans, ouers en eienaars. Die gebreke van mans, ouers en eienaars kan baie maklik as beskuldigings teen hulle gebruik word, sonder om ag te slaan op die vroue, kinders en slawe se eie optrede.

Die opdrag tot onderdanigheid (wat natuurlik wedersyds is – in Ef 5:21 brei Paulus hierop uit om enige misverstand in hierdie brief aan Kolossense te voorkom), liefhê, gehoorsaamheid, die vermyding van foutvinderigheid, opregtheid, en reg en billikheid moet dus eerder op ‘n positiewe wyse aangegryp word om daardeur die karakter van God aan ander ten toon te stel. Dit sal ons almal motiveer en aanmoedig om te leef as nuwe mense.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord: Ps 107:1

Seëngroet: (Op 1:4 en 5)

Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet: Kolossense 3:1-11 NLV

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1

Loflied
Lied 107 “Die mense wat behou is (2e melodie) 1, 2” en/of
Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Kolossense 3:1-11

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 415 “Jesus leef en ons met Hom vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”

Aanvangswoord: Ps 107:1
“Loof die Here, want Hy is
goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Seëngroet: (Op 1:4 en 5)
“Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde”.

Lied 200 “U goedheid Heer kan ons nie peil nie 1,2,3”

Wet: KOLOSSENSE 3:1-11 NLV
“Aangesien julle saam met Christus tot ’n nuwe lewe opgewek is, streef na die dinge wat daarbo by Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur dinge op die aarde nie. Julle het mos saam met Christus gesterf en julle lewe is saam met Hom veilig by God weggesteek. Wanneer Christus, wat julle le­we is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle die volgende wêreldse dinge afsterf wat deel van julle lewe is: seksuele sondes, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid, wat van geld ’n god maak. Dit is oor sulke goed dat God se straf ongehoorsame mense tref. Vroeër was hierdie dinge ook deel van julle leefstyl. Maar nou moet julle ook nog van al die volgende ontslae raak: kwaad wees, woedebuie, gemeenheid, gevloek. Vuil taal moenie uit julle mond kom nie. Moenie vir mekaar lieg nie. Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voort­durend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk. In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaars, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is.”

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1, 2”

Vryspraak: Hosea 11
Gebruik die genadeverkondiging van Hosea 11…
8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

Geloofsbelydenis: ahv Kolossense 1
Ek glo in God die Vader-
God wat self nie gesien
kan word nie,
God wat deur die Seun alles geskep het
wat in die hemel en op die aarde is:
alles wat gesien kan word
en alles wat nie gesien kan word nie,
konings, heersers,
maghebbers, gesagvoerders.
God het besluit
om met sy volle wese in die Seun te woon
en om deur Hom alles
met Homself te versoen.
Deur die bloed van sy Seun
aan die kruis
het Hy die vrede herstel,
deur Hom het Hy alles op die aarde
en in die hemel
met Homself versoen.
Ek glo in die Seun, Jesus Christus-
Die Seun is die beeld van God,
Die Seun is die Eerste,
verhewe bo die hele skepping.
Voor alles was Hy al daar,
en deur Hom bly alles in stand.
Hy is die hoof van die liggaam,
van die kerk.
Hy is die oorsprong daarvan,
Hy is die Eerste,
die Een wat uit die dood
opgestaan het,
sodat Hy die eerste plek
in die heelal inneem.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied
Lied 107 “Die mense wat behou is (2e melodie) 1, 2” en/of
Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God 1,2”

Liedere

F14. “Jesus Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Keer op keer,
val ek neer,
deur my eie sondigheid.
Telkens weer,
wil ek self probeer,
opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan,
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.

2. Keer op keer,
buig Hy neer
en lig my uit my hulp’loosheid.
Weer en weer
wys Hy Hom as Heer,
oorweldig my met heiligheid.
Dis dan dat ek verstaan
daar is net een Naam.
Elke knie sal voor Hom buig.

Refrein:

F199. “Ek Sal Sing”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Stass van Veuren
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Jesus, ek gee my alles net vir U,
Vir U my Koning
Jesus, my hart se vuur brand vir U,
Vir U my Koning
En vir u Naam
Sal ek staan

Refrein:
En ek sal sing, ja, ek sal sing,
Want u liefde trek my nader, en u Gees wys die pad
En ek sal sing, ja,ek sal sing,
Want ek leef deur u genade
Want ek leef deur u genade
Elke dag sal ek my lewe gee vir U
En ek sal sing

God praat met ons en ons luister

Epiklese
God van vrede, U het ons Here Jesus Christus uit die dood uit opgewek. Sy dood het ons dood vernietig. Sy opstanding het vir ons die lewe gebring. Hy is ons goeie Herder. Here Jesus, laat ons oplet na u stem. Vorm ons soos U ons wil hê. Doen dit deur ons u stem in u Woord te laat hoor.

(Uit Bybelmedia se Woord en Fees (Basisliturgie vir Kolossense): Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Skriflesing: Kolossense 3:1-11

Familie-oomblik
Prediking

Gebed
Daar is baie te leer uit Paulus se gebed in sy brief aan die Kolossense. Daarvolgens kan soos volg gebid word:

  • Dank die Here vir geloof en veranderings in mense se lewens.
  • Vra die Here dat Hy sy kinders sal help sodat hulle kan weet wat sy wil is.
  • Vra die Here om vir hulle geestelike insig te gee.
  • Vra die Here om vir hulle meer kennis oor Hom te gee.
  • Vra die Here om hulle te help om vir Hom te leef.
  • Vra die Here om vir hulle die krag te gee om te volhard.
  • Vra die Here om hulle met blydskap, krag en dankbaarheid te vul.

(Uit Bybelmedia se Woord en Fees (Basisliturgie vir Kolossense): Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Familie-oomblik

Hier word ’n illustrasie gedoen met ’n bord water, peper wat bo-op die water gemaal is en wat in ’n oogwink op die kante bymekaarmaak wanneer ’n vinger met “Sunlight” gedoop aan die wateroppervlak raak.

Eerste keer as die vinger ingedruk word, is dit ou mens gedrag waar mens jou besig hou met al die dinge van die wêreld. Maar wanneer ons, ons vul met Jesus, Sy liefde en waarheid stoot ons die dinge van die wêreld en die ou mens weg. En ons lewe soos ‘n nuwe skoon mens. Dit salgoed werk as jy ‘n groot glas/deurskynende bak hiervoor gebruik
of
Gebruik die storie van die radio-beheerde karretjie hieronder om die idee van 1 bestuurder wat beter is as 2 te illustreer. As jy natuurlik met ’n karretjie in die kerk kan demonstreer sal dit nog beter werk.

Brei dan uit op die gevolge in ’n mens se lewe: as jy Jesus in die beheersentrum toelaat gebeur met jou wat in vers 10-17 beskryf word en kry jy dit reg om dié dinge te vermy wat in vers 8-9 beskryf word.

Die radio-beheerde karretjie
Almal van ons het iewers al radio-beheerde karretjies of vliegtuigies in aksie gesien. Ek het eendag na ʼn wedren van hierdie motortjies staan en kyk en dit was baie opwindend. Die goedjies is volgens die eienaars redelik presies op skaal gebou, maar ry “op skaal” baie vinniger as hul lewensgroot eweknieë. Dit veroorsaak dat jou tydsberekening en reflekse baie skerp moet wees. Dit het die bestuurder se volle konsentrasie geverg en hulle kan nie eintlik met ander gesels terwyl hulle jaag nie. Ek het die boodskap gekry en maar eenkant gaan staan en kyk hoe hulle jaag.

Hoe moeilik dit werklik is, sou ek ʼn paar jaar later uitvind toe een van my kinders so ʼn motortjie persent gekry het. Hy was nog jonk, maar een middag het hy in die tuin gestaan en die affêrentjie het oral gery. Hy was gemaak om oor goed te klim, die neus van die karretjie met die voorwiele het kon roteer, letterlik wawiele doen. Soms gelyk of hy rugslag swem soos was sy voorkant wawiel gedraai om ʼn draai te kom of oor ʼn klip te klim. Dit het weereens baie opwindend gelyk en ek wou hierdie keer saam speel. Ek kon ook, ek was ten minste die eienaar se pa. Ek het dan ook stadig begin, maar my seun se opmerking oor ou toppies se bestuursvermoë het my al hoe vinniger laat ry. Dit was moeiliker was wat ek gedink het. Ek het óf te laat gedraai, óf te vroeg, óf te skerp óf te slap, óf te vinnig óf soos ʼn ou toppie wat niks van bestuur af weet nie. Dit was nog net die eerste tien treë, die moeilikheid het regtig begin toe ek probeer omdraai en terugbestuur. Toe is my links en die kar sʼn nie meer dieselfde nie. As ek dink ek gaan links, gaan die kar regs en dan oor-korrigeer ek en voor ek my kom kry swem die ding skielik rugslag. Hy lyk kompleet soos ʼn knapie wat volspoed in ʼn bos duwweltjies in gehardloop en nou probeer om al twee voete in die lug te hou terwyl hy die duwweltjies probeer uittrek.

Die eienaar van die karretjie het begin om nog snaakser geluide as die kar self te maak en het probeer om sy pa te help, sodat die kar se lewe gered kan word. Ek het na die tyd besef dat een slegte bestuurder is altyd beter as twee bestuurders. Met al die geruk en gepluk aan die “bestuurstang” het karretjie begin bokspring, kompleet soos ʼn kat wat Sellotape aan sy voorpote vasgeplak gekry het. Daar is tye wat ek kon sweer die voorwiele kyk in verskillende rigtings. Met ʼn desperate oerkreet van ʼn elf jarige, op ʼn toonhoogte wat deur oordrom en sinaps blits en ʼn ontploffing net agter jou linkeroog veroorsaak, het die man die beheer oorgeneem en eenkant gaan staan en sy karretjie met ʼn sagte stemmetjie aangemoedig om terug te kom na sy baas en het hom belowe dat niemand anders ooit weer beheer oor hom sal neem nie. Die kar het skielik verbasend normaal voorgekom so asof hy alles verstaan wat nou gesê word. Hy het gelyk of hy verstaan dat hy nou weer veilig is en dat niemand soveel vir hom omgee soos die basie wat nou in beheer is nie. Ek het later gesien hoeveel sy kleinbaas uit hom haal en hoeveel plesier hulle twee saam het. Hulle het mekaar verstaan en mekaar geniet.
Uit die bydrae van 1 Augustus 2010 by seisoenvanluister.co.za

Preekriglyn

Wayne Messmer, 49, was reeds vir twee dekades die seremoniemeester en sanger by groot sportgeleenthede toe die koeël hom tref. Dit het een middag gebeur in die winderige stad van die VSA, Chicago, net nadat hy die Amerikaanse volkslied gesing het. Twee tienerseuns het op hom geskiet, en die koeël het deur sy keel geskeur. Die dokters was onseker of Wayne ooit weer sou kon sing. Verstommend genoeg was hy ses maande later weer agter die mikrofoon.

Wayne vertel dat sy fisiese herstel baie makliker verloop het as sy emosionele en geestelike genesing. Hy het sterk gevoelens van haat, wrewel en geweldige afkeur teenoor sy aanvallers beleef. Wat uiteindelik gehelp het, was om sy identiteit in Christus in gedagte te hou. Hy moes vashou aan Kolossense 3 wat onderstreep dat hy saam met Christus uit die dood opgewek is, en daarom vanuit ‘n hemelse perspektief oor die lewe kan dink.

Wayne moes Christus, sy Verlosser, vertrou om uiteindelik sy aanvallers te vergewe. Toe hy dit na ‘n lang proses kon regkry, het hy vrede gevind. Hy vertel hoe hy na ‘n tydperk van afsondering, besinning en gebed vry kon kom van die kettings van wraak wat hom aan die aanval vasgebind het.

Een van die seuns is na ‘n pleitooreenkoms vrygelaat, maar die ander een – James Hampton – was nog in die tronk toe Wayne by vergifnis uitgekom het. Om aan homself te bewys dat hy sy aanvallers vergewe het, het hy die rit van 360 km na die Galesburg-gevangenis aangepak en gevra om James Hampton te sien.

Dit was nou reeds ‘n paar jaar later, maar Messmer kon die moed bymekaar skraap om te sê: “James, ek is hier om te sien hoe dit met jou gaan.” Na ‘n emosionele besoek van twee ure, het hy omgedraai om uit te stap. Hy het James se voorarm kon aanraak en gesê: “James, ek bid jou vrede toe.”

Wayne se bitterheid is met vergifnis vervang omdat hy sy lewe kon herbedink vanuit sy identiteit in Christus. Aangesien hy nuut is in Christus … daarom kon hy nuut leef.

Dink nuut

Wayne het beleef wat Paulus in Kolossense 3:1=4 beskryf: ons moet leer om ons gedagtes op Christus te rig.

Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink. Want dit beïnvloed alles. Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie. Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo. Ons status verander. Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe. Trouens, ons lewe is verborge in God. En daarom is ons toekoms verseker. Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo. Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie. Dit spel hy juis in die volgende deel uit. Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid. Dit moet nie deel van ons denke wees nie. Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid. Dit moet ons denke volmaak.

Radikaal nuut

Julle is radikaal nuutgemaak, herinner Paulus hulle. Die woord “radikaal” kom van die Latynse woord “radix”- wat wortel beteken. Ons is uit die diepste wortels van ons bestaan in Christus nuutgemaak. Ons het vanuit een bestaanswyse oorgegaan na ’n ander. Ons ou, sondige mens is nie maar net mooi gegrimeer nie. Ons is van harte, wortelgewys, nuut.

Paulus herhaal in ons teks basies sy lering in 2:12 oor wat in die doop met hulle gebeur het (vgl Rom 6:3-8). Hy sê eintlik weer: In die doop het julle gesterwe en is uit die dood opgewek, saam met Christus, die Here, wat nou aan die regterhand van God sit. Julle self as Christus se liggaam is onder sy heerskappy (1:13). Daarom, oriënteer aan Hom! Want julle lewe is gebêre (verborge) by Hom! Hy het beheer oor julle lewe. Die beloftes wat vir gelowiges met Christus se wederkoms saamhang, is natuurlik wonderlik, maar die verwagting van die eindtyd is nie die punt hier nie. Die punt is dat Jesus ons lewe in sy besit het, en dat dít ingrypende gevolge vir ons lewe het, juis hier en nou! Kolossense 3:1-4 is ’n wentelpunt. Vooraf is ons basies georiënteer aan wie ons in Christus is. In wat volg, kry ons riglyne vir hoe ons moet lewe.

Leef as nuwe mense

Paulus skryf in 3:5-11 hoe ons as nuwe mense moet lewe. Hy beskryf hier watter sonde ons moet agterlaat, en van vers 12 tot 17 hoe die nuwe lewe positief moet lyk.

Dit is ongelooflik hoe elke woord van betekenis is. Vers 5-9 leer dat ons van daardie dinge wat die ou sondige lewe kenmerk (afgodiese gedragspatrone soos onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes en gierigheid) en wat dalk nog van ons lewe deel is, ontslae moet raak, dit letterlik moet doodmaak. Nog ’n reeks moenies wat aan ons voorgehou word, is dinge soos woede, haat, nyd, gevloek, vuil taal en leuens wat ons moet laat staan.

Waarom? Iets radikaal het mos met ons gebeur, sê Paulus (10). Dit is met ons soos met iemand wie se ou, vuil klere alles uitgetrek is en ons is nuut aangetrek. Paulus beskryf dit só (Die Boodskap, 10):

God het egter vir julle ook ’n nuwe stel klere gegee. Hierdie klere maak julle heeltemal nuut. Dit bring julle al hoe nader aan God. Julle leer Hom al hoe beter ken. Hoe beter julle Hom leer ken, hoe meer word julle soos Hy. So kom julle al hoe nader aan die doel waarvoor God julle gemaak het. God het ons gemaak om almal soos Christus te wees.

Die boodskap vir die gemeente in Kolossense en vir ons is baie duidelik: As my en jou lewe deur die Gees in Jesus gewortel is en opgebou word, word alles anders. Ons is sonder ons toedoen deur God uit die mag van die duisternis weggeruk en onder die heerskappy van Jesus gestel (1:13). En ons lewe word nou daagliks vernuwe, meer en meer, om aan Jesus gelyk te word en om volle kennis van God te verkry (3:10).

‘n Nuwe prentjie

Ons het ‘n prentjie nodig van die tipe mens wat God wil hê dat ons moet wees. Die prentjie wat Paulus in vers 10 kies, is dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper. Dit beteken dat ons moet groei tot die volle kennis van God, want Hy is ons Skepper.

Dit is waarom dit so onsinnig is om klem te lê op jou afkoms (Griek of Jood), jou vorige godsdiens (besny of nie besny nie), jou taal of jou kultuur (onbeskaaf) of jou klas (slaaf of vry). Daar is net een ding wat belangrik is, en dit is of jy in Christus glo of nie, en of Hy in jou lewe of nie.

En belangrik: die prentjie wat Paulus skilder van die beeld van ons Skepper is nie sy Almag, of Alomteenwoordigheid, of sy Skeppingsmag nie … maar sy karakter. En dit is wat in ons moet groei: meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid. Dit is hoe God is. Dit is hoe ons moet wees.

Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want dit gebeur nie oornag nie! Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie, veral nie verskille soos afkoms, taal, kultuur of klas nie. Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.

Let op hoe Paulus sê dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee. Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende opsies.

En ek kan nie nalaat om ook op die koop toe klem te lê op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly nie. Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.

En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Goeie nuus vir almal om te sien

Ons as Christene word dus opgeroep om ‘n lewe te lei wat ons onderskei van die mense rondom ons. Terwyl baie mense in sonde volhard, leef ons vanuit ‘n hemelse werklikheid. Terwyl die wêreld rondom ons vasval in verdeelheid en verskeurdheid, is ons een in Christus. Niks kan helderder toon dat ons uit die wortel van ons lewe vernuwe is nie.

Ons teks gaan nie net oor nuutgemaakte individue nie, maar ook oor nuutgemaakte gemeenskappe, die kerk van die Here. Waar kry sulke mense die sigbare voorbeelde van heel, nuutgemaakte gemeenskappe, waar kan hulle die nuwe gemeenskap onder Jesus se heerskappy sien, dit beleef en glo Hy is die Here? Dit was die Kolossense se besondere uitdaging. Dit is vandag ons s’n.

Die boodskap van Kolossense is eenvoudig en helder. Elke gemeente behoort hulleself daarin te spieël. Ons almal is ledemate van een liggaam, behoort wesenlik en sigbaar aan mekaar, het nie mekaar gekies nie, maar is vir mekaar gegee, is ’n wonderlike gemeenskap vol verskeidenheid, wat ons baiemaal diep vreugde gee as ons as Godgegewe gawes vir mekaar tot seën is. Soms is ons al te bewus van wonde en verwondheid in ons kerklike en gemeenskapslewe en gee ons versorgend en genadig daarop ag soos ons daartoe geroep word.

Die feit is dat alles van almal as ons eie vreugdes en lydinge by ons in die gemeente behoort. Ons behoort ook saam om dit alles geloofwaardig te hanteer. So lank ons ledemate hulle eie voorkeur gange kan gaan, en nie vir die ander sorg hoef te dra nie, aan die een of die ander se vreugde of swaarkry kan verbygaan, skiet ons getuienis te kort.

Die toetssteen vir die geloofwaardigheid van ons gemeente, ons onderlinge diensbetoon en getuienis, bly die sigbare eenheid van ons kerk. As dit wel by ons gebeur, sal die wêreld verbaas staan en glo, Jesus is die Here!

‘n Reis

Natuurlik is hierdie radikale vernuwing ‘n reis. Dit geld beide ons individuele lewe s gelowiges en ook ons gesamentlike lewe as gemeente. Ons sal ook terugval. Maar die nuutheid moet in ons gesien kan word. Ons is vernuwe. Laat ons ons met mag en mening toelê om ons vernuwing te leef.

God stuur ons om te leef

Offergawes

Wegsending: Lied 415 “Jesus leef en ons met Hom vs 1,2,3”

Seën
Mag God se hoop vir jou ’n anker wees te midde van die hooploosheid van die wêreld.
Mag God se vrede oor jou hart en verstand die wag hou.
Mag God se vreugde jou dra ook deur hartseer tye.
Mag God se liefde vir jou so ’n werklikheid wees dat ander God in jou sal beleef. Amen.
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13, Basisliturgie vir Avent)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.