Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Wat by die mond uitkom is wat onrein maak, want dit kom uit die hart, nie wat by die mond ingaan nie. Jesus ontferm Hom oor die Kanaänitiese vrou in ons sleutelteks. Josef maak homself bekend aan sy broers in Genesis 45. Die teks pas by Psalm 133: Dit is mooi wanneer broers eensgesind saamwerk. Die tempel word in Jesaja 56 as ‘n huis van gebed vir die nasies uitgeroep, Dit pas by Psalm 67: Mag die volke God loof. Romeine 11 sê as God eenmaal sy genadegawes aan mense gegee het en hulle geroep het, trek Hy dit nie weer terug nie. God ontferm Hom ook oor almal, ongeag van watter volk hulle is.

Hier is dus twee voor die handliggende temas in die versameling:
1. Woorde: om geroep te wees, om te onderhandel, om bekend te maak.
2. Die nasies: God ontferm Hom oor heidene. Die tempel word ‘n huis van gebed vir die nasies, mag die volke God loof.

Ander tekste

Genesis 45:1-15
Josef sê vir sy broers wie hy is
45 Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”

Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”

14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. 15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat. 16Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”

Psalm 133
As broers eensgesind saam woon
133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon,
skenk die Here sy seën:
’n lang, lang lewe.

Jesaja 56:1, 6-8
Ek sal nog ander byvoeg
56 So sê die Here:
Laat reg geskied, doen reg,
want die verlossing wat Ek bring,
is al aan die kom,
en die redding wat Ek bewerk,
gaan nou geopenbaar word.

2Dit gaan goed met die mens
wat die sabbat onderhou
en dit nie ontheilig nie,
wat sorg dat hy niks verkeerds doen nie.
Dit gaan goed met die mens
wat hom hieraan hou.
3’n Nie-Israeliet
wat by die volk van die Here
aangesluit het,
moenie dink: die Here sal my
van sy volk afsny nie.
’n Ontmande moenie van homself dink:
ek is maar ’n droë boom nie.
4So sê die Here:
Aan die ontmandes
wat my sabbatte onderhou,
wat kies vir wat Ek wil,
en wat lewe volgens my verbond,
5aan hulle sal Ek in my tempel
en aan sy mure
’n teken gee, ’n erenaam
wat beter is as seuns en dogters.
Ek sal aan sulke mense ’n naam gee
wat nie uitgewis sal word nie.

6Ek sal die nie-Israeliete
wat by my volk aansluit
om My te dien, om my Naam
lief te hê,
en om my dienaars te wees,
almal wat my sabbatte onderhou
en dit nie ontheilig nie,
en wat lewe volgens my verbond,
7na my heilige berg toe bring.
Ek sal aan hulle vreugde gee
in my huis van gebed,
hulle brandoffers, hulle offers
op my altaar sal vir My
aanneemlik wees,
want my tempel sal uitgeroep word tot
’n huis van gebed vir al die volke.
8Die Here my God
wat die verstrooides van Israel
bymekaarmaak, sê:
Ek sal nog ander byvoeg
by dié wat reeds bymekaargemaak is.

Psalm 67
Mag die volke U loof, o God!
67 Vir die koorleier: met snarespel. ’n
Psalm. ’n Lied.
2Mag God ons genadig wees
en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
3sodat sy dade oor die wêreld heen
bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
4Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
5Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.
6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
7Die land het sy oes gelewer.
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde
moet Hom eer.

Romeine 11:1-2a, 29-32
Die oorblyfsel van Israel
11 “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra.
Beslis nie! Ek is immers self ook ’n Israeliet, ’n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie.

29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

Fokusteks

Matteus 15:(10-20), 21-28
10Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ‘n mens onrein.”

12Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”

13Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. 14Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As ‘n blinde ‘n blinde lei, val altwee in die sloot.”

15Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”

16“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. 17“Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? 18Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. 19Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. 20Dit is die dinge wat ‘n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak ‘n mens nie onrein nie.”

Die Kanaänitiese vrou
(Mark 7:24–30)
21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22‘n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ‘n bose gees, en dit gaan sleg.”
23Maar Hy het haar niks geantwoord nie.
Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”
24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”
26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

Ekstra stof

Matteus 15 – Jesus se bediening is insluitend en voorsien in baie behoeftes
‘n Mens word in dié gedeelte net weereens getref deur die omvangryke bediening van Jesus.
Jesus se bediening is insluitend.  Dit sluit nie net die Fariseërs en skrifkenners in, al dring Hy net nie deur tot hulle nie, ook nie net die skare wat om genesing en voorsiening smag nie, maar ook ‘n Kanaänitiese vrou uit die omgewing van Tirus en Sidon, wat met groot geloof Jesus beweeg tot genesing van haar kind, al wil Jesus op dié stadium nog nie sy bediening na die heidennasies uitbrei nie.

In ‘n sekere sin sien ‘n mens die gelykenis van die grond hom afspeel in die reaksies van dié mense.

  • Die Fariseërs en skrifkenners is soos die grond langs die pad, droog en glad nie ontvanklik nie, vol skynheiligheid en geldgierigheid.
  • Die skare is soos die twee ander soorte, rotsagtige en doringagtigegrond en meesal net mooiweer – en materiële volgelinge.
  • Maar, daar is diegene, soos die Kanaänitiese vrou wat goeie grond is, wat groot geloof openbaar en groot dinge van God ontvang.

Steeds hou Jesus vol met sy saaiwerk.  Sy missie is om die koninkryk van God te laat kom en Hy sal Hom nie laat afsit deur die teenstand en onbetroubaarheid van sommige nie, sodat Hy die vrug van die goeie grond kan oes!

Jesus se bediening voorsien in baie behoeftes.  Sy bediening is dus nie net insluitend van aard nie.  Hy raak ‘n wye reeks behoeftes aan en voorsien daarin.  Hy daag die intellektuele stommiteite van die Fariseër en die skrifkenners uit.  Hy lê die tradisies op sinvolle en betekenisvolle maniere uit, sodat dit lewe bring en nie verstarring nie.  Hy wys baie spesifiek die gevaar van skynheiligheid en geldgierigheid uit.  Hy genees en Hy voorsien en Hy skram terselfdertyd nie weg van robuuste lewegewende gesprekke nie.  Voorwaar ‘n Herderleier, soos God dit van Hom aangekondig het in Matteus 2.

Skynheiligheid en geldgierigheid is ‘n groot gevaar – 15:1-20
Die problematiek van skynheiligheid sowel as geldgierigheid word weer aangeroer in hierdie geskil tussen die Fariseërs, skrifkenners en Jesus oor tradisies.  Die tradisie van die voorgeslagte dui hier op die interpretasies wat die Fariseërs mettertyd rondom die OT tekste opgebou het en wat deel van die ongeskrewe reëls vir die godsdiens van die Joodse volk geword het.

Die spesifieke tradisie van handewas staan dus nie in die OT nie en was nooit ‘n voorskrif vir Israel nie.  Die enigste OT voorskrif wat daarmee in verband gebring kan word, was dat die priesters in die tempel hulle hande moes was (Eks. 30:17-20), sodat hulle rein kon wees om die tempelwerk te doen.  Die Fariseërs het dus die gewone mense se lewens aan bande gelê met ‘n voorskrif wat net vir die tempel bedoel was.  En onthou, higiëne was nie die doel daarvan nie, hoewel ons vandag weet dat dit eintlik ‘n goeie ding is om hande te was!  Die Fariseërs wou eintlik net hulle greep op die Jode selfs in die gewone loop van die lewe behou.

Jesus se antwoord ontbloot hulle skynheiligheid en ook geldgierigheid wat God se woord sy krag ontneem.  Hy wys hulle op ‘n ander tradisie – die sogenaamde korban tradisie – wat Jode toegelaat het om hulle ouers se versorging na te laat deur die onderhoud van hulle ouers eerder vir die tempel as ‘n offergawe te gee.  Die godsdienstige leiers het dus voordeel daaruit getrek en die ouers skade gely. Dié manier van doen kom dus onder dieselfde oordeel as wat Jesaja oor leiers uitspreek wat allerhande voorskrifte vir die mense leer, maar hulle eie harte is vêr van God af (Jes. 29:13).

Jesus roep dan die skare nader om hulle te leer dat reinheid iets aan die binnekant van ‘n mens is, nie iets aan die buitekant nie.  Die dissipels is egter bekommerd dat die Fariseërs aanstoot geneem het aan Jesus se woorde oor hulle skynheiligheid.  Jesus antwoord hulle dan met ‘n kort gelykenis wat sê dat die dissipels die Fariseërs moet uitlos, omdat hulle blinde leiers is.

Petrus verstaan egter steeds nie, waarop Jesus uitbrei op die idee dat reinheid met die hart te make het, nie met dit wat die liggaam uitskei nie.  Ongewaste hande maak jou egter nie onrein nie.  Petrus sou mettertyd nog dieper in dié idee ingelei word, wanneer die Here vir hom ‘n visioen gee wat hom oortuig dat reinheid eintlik met God se werk in mense verband hou (Hand. 10).

‘n Groot geloof laat groot dinge gebeur – 15:21-28
Die verhaal van die Kanaänitiese vrou uit die omgewing van Tirus en Sidon is ‘n juweel.
Sy nader Jesus vir genesing van haar demoon besete dogter en noem hom interessant genoeg: “Here, Seun van Dawid.”  Aanvanklik antwoord Jesus haar nie eers nie.  Selfs die dissipels wil haar wegstuur en Jesus is duidelik daaroor dat Hy net gestuur is na die verlore skape van Israel.  Sy laat haar egter nie daardeur afskrik nie en val voor Hom neer en smeek Hom om haar te help.  Sy antwoord is dat ‘n mens nie die kinders se brood neem en vir die hondjies gooi nie – hondjie is natuurlik ‘n woord wat ook gebruik is om na heidene te verwys.  Dit het dus ‘n dubbele betekenis.  Sy antwoord Jesus egter op ‘n briljante manier dat die hondjies darem die krummels van die tafel afeet, wat haar geloof aan Jesus demonstreer.  Haar dogter is onmiddellik genees.

Soos met die geval van die hekatontarg se seun wat genees is (Matt. 8:5-13), is die verhaal ‘n voorafskaduwing van die boodskap wat na al die nasies geneem sal word.

Jesus se wonders verheerlik God – 15:29-31
Jesus se bediening van genesing van verlamdes, blindes, kreupeles, doofstommes en baie ander neem net toe.  Dit is opmerklik dat hulle die God van Israel verheerlik.

Jesus voorsien in oorvloed vanweë sy innige meegevoel vir die skare – 15:32-39
Jesus genees nie net nie.  Hy illustreer weereens dat Hy vir sy mense kan voorsien met die tweede wonder van brood en vissies wat dié keer vierduisend mans voed afgesien van ‘n hele aantal vroue en kinders.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 176, 177 , 176 of VONKK 158 [bekende melodie]

Votum: Psalm 67

Seëngroet

Lofsang: Flam 20 of Lied 167

Oproep om God te volg: Jesaja 55:1-3(a)

Toewyding: Lied 483 of 484 of VONKK 222

Geloofsbelydenis: (Uit die Evangelie van Johannes)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Matteus 15:21-28

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Voorbidding
Hierdie is ’n goeie geleentheid om terugvoer te kry van ’n bediening in jul omgewing en om spesifiek vir dié bediening voorbidding te doen. Of voorbidding uit Cas Wepener se “Soos ’n Blom na die Son Draai”

Dankoffer

Slotsang
Flam 95 of VONKK 234 of VONKK 112 of Lied 266

Seën

Respons: Lied 278

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 176, 177 , 176 “Halleluja! U is Koning en Jesus, gróót bo almal”
VONKK 158 Ons Wy Onsself Aan Christus Toe [bekende melodie]

Votum: Psalm 67
2Mag God ons genadig wees
en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
3sodat sy dade oor die wêreld heen
bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies.
4Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
5Mag die nasies bly wees en jubel
omdat U hulle regverdig regeer
en hulle op die aarde lei.
6Mag die volke U loof, o God,
mag al die volke U loof!
7Die land het sy oes gelewer.
God, ons God, het ons geseën.
8God het ons geseën.
Die mense op die hele aarde
moet Hom eer.

Seëngroet

Lofsang
F20. U Is Die Lig
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Oproep om God te volg
Jesaja 55:1-3(a)
Kom, almal wat dors is,
kom na die water toe,
selfs ook dié wat nie geld het nie, kom,
koop en eet;
ja, kom, koop sonder geld
en sonder om te betaal,
wyn en melk.
2Waarom betaal julle vir iets
wat nie brood is nie,
waarom werk julle vir iets
wat nie kan versadig nie?
Luister aandagtig na My,
sodat julle kan eet wat goed is
en versadig kan word
met die beste wat daar is.
3Gee aandag en kom na My toe,
luister, en julle sal lewe.

Toewyding
Lied 483 of 484 of
VONKK 222 Almal Wat Dors Het, Kom Geniet

Geloofsbelydenis 
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit:  Vir die Erediens – ’n handleiding – in die Nederduits-Gereformeerde Kerk)

Liedere

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 © Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 183 Orrelbegeleiding:  Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

VONKK 222 “Almal Wat Dors Het, Kom Geniet”
Nav Jesaja 55 Teks: Attie van der Colf 1978/2001 ©; aangepas VONKK Werkgroep 2012
Melodie: FRIENA – Friena Maritz 2010  Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2012
Musikale verryking: Friena Maritz 2012 © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Voorbereiding om God se Woord    te hoor / Nagmaal / Geloof en Vertroue

1. Almal wat dors het, kom geniet
die grootste guns bewys;
neem wat die Here gee, verniet –
kom koop dit sonder prys;
God gee jul water, wyn en melk –
Hy gee dit as geskenk.

2. Waarom betaal en waarom werk
en dit nie eens vir brood?
Luister met aandag, en Ek breek
vir jul die lewenswoord.
My liefde, goddelik en trou,
sal jul herstel en bou.

3. Vra na sy wil; kom soek die Heer,
terwyl Hy Hom laat vind.
Ontdek Hy maak, genadig weer,
die sondaar tot sy kind.
Wie hul bekeer, dié word vergeef;
die Here laat hul leef.

4. Hy maak die doringbos sipres;
die distel mirtestruik.
Wie sleg is, maak Hy nuut – ’n mens
wat Hy met vrug gebruik.
Hy gee hul vreugde, vastigheid –
nou, en in ewigheid.

5. Soos wat die wolke kom met reën –
op aarde lewe giet,
so kom die woord van God met seën
dit doen wat Hy gebied.
Dit bly ’n teken tot sy eer –
die Here, Hy is Héér!

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK: Flam / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding) Teks en musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers (Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, U laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
daarvoor kom prys ek U Naam!

2. U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is.

Refrein:

VONKK 234 “Abba, Vader, Hemelheer”
Nav Matteus 6:9-13 (Die Ons Vader) Teks:  Hannes van der Merwe 2013 © Musiek: MARLETTE – Cecilia van Tonder 2013 ©
© 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Gebede

1.Abba, Vader, Hemelheer,
ons buig voor U neer.
Laat u Naam geheilig word.
Laat u koninkryk kom.
Laat u wil ook hier geskied
soos in die hemel by U.
Laat ons lewe dit vertoon
wat U vir ons leer.

2. Gee ons tog vandag se brood.
En vergeef ons skuld,
soos ons ook vir hul vergeef
wat teen ons oortree.
En ons smeek: beskerm ons,
breek tog die bose se mag.
Só afhanklik van U, Heer,
kniel ons voor U neer.

3. Al die majesteit en lof
kom U toe, o Heer.
Al die heerskappy en mag –
dit behoort net aan U.
Al u grootheid, al u mag,
dit laat ons sing tot u eer.
Abba, Vader, hoor ons bid.
Ons  buig voor U neer.

F95. “Onse Vader”
(RUBRIEK: Flam – Gebed) Teks en musiek: Marina du Toit © Urial Publishing

Ons Vader wat daar in die hemel woon
heilig is u Naam, heilig is u Naam.
Laat ook nou u koninkryk hier kom.
Laat u wil geskied by ons,
net soos in die heem’le.
Gee vandag ons daagse brood,
vergewe ons ons skuld,
net soos ons ook dié vergeef
wat skuldig is teen ons.
En red ons van versoekings, Heer.
Hou u hand oor ons.
Verlos ons van die Bose,
dat U kinders sterk kan staan!
Want aan ons Koning behoort die mag en majesteit
en aan ons Koning behoort die krag en heerlikheid.
Vir ewig! Vir ewig! (tweede keer x2)
Amen!

VONKK 112 “Ons Vader In Die Hemel”
(Matteus 6)
Matteus 6:9 – 13 (effens gewysig) Teks: Karien Pretorius 2009 (nav Matt 6:9-13)
Melodie: KAMEELDRIFT – Karien Pretorius 2009 © (gewysig) Orrelbegeleiding: Daleen Kruger 2010 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2010 (Pro Deo) © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed

Ons Vader in die hemel, laat u Naam geheilig word.
Laat u wil geskied in die hemel so ook op aarde.
Gee ons vandag ons dag se brood en vergeef ons ons skulde.
Lei ons nie in versoeking, maar verlos ons van die bose.
Want aan U behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid,
vir ewig en ewig.
Amen.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Matteus 15:21-28

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Onthou, ons hoef nie altyd “morele lessies” uit veral die narratiewe van die Bybel te haal nie.  Lees/vertel gewoon die skrifgedeelte op ’n manier wat kinders innooi.  Laat twee mense hierdie week se Skriflesing doen – iemand lees die vrou se woorde en iemand anders Jesus se woorde.  Hulle kan selfs die gedeelte opvoer.

Vertel Max Lucado se pragtige verhaal “Al wat jy nodig het”.  As jy nie oortuig is dat vandag die dag is wat jy ‘n storie gaan lees nie, kyk die video.  Die boek is nie elektronies beskikbaar nie.  As jy dit nie by ‘n plaaslike boekwinkel kon kry nie en bestel het, maar dit gaan nie betyds by jou uitkom nie, kan jy dit solank hier leen (12.5MB).

Hier is ’n inkleurprent vir kinders om tydens die preek (terwyl hulle luister!) in te kleur.

Preekriglyn

Die Matteus-evangelie is byna seker vir die Christelike gemeente in Antiogië geskryf. In hierdie gemeente is daar vir die eerste keer mense uit die heidendom, nie-Jode, ontvang. Dit het verskeie vrae en krisisse opgeroep. Vir die Joodse gelowiges – selfs ook in Antiogië –  was die grootste en belangrikste onderskeid dié tussen Jood en nie-Jood. Jood was aanvaarbaar, ons mense, en nie-Jood moes op ‘n afstand bly – spesifiek as dit by geloofsake kom.

In sy Evangelie roep Matteus die woorde en dade van Jesus in herinnering om die gemeente in Antiogië te help om Jesus te volg, om op te tree soos wat dit pas by leerlinge van Jesus, die Here.

Konflik met die Fariseërs

In die gedeelte van Matteus 15 wat ons teks voorafgaan, word vertel hoe Jesus in konflik verkeer het met die Fariseërs. Die konflik het gegaan oor die tradisies van ouds, die oorlewering van die ou mense (15:2). Hierdie tradisies het reinheid vasgelê deur sekere maniere van optrede van mense te verwag.

Var Matteus se Joods-Christelike gemeente in Antiogië was die kwellende vraag steeds wat om met die Joodse oorlewerings te maak. Aan watter tradisies moet hulle vashou, en watter kan hulle laat vaar?

Die konflikte tussen Jesus en die Fariseërs en Skrifgeleerdes, waarvan ons bv. in Matt 15:1-20 (die gedeelte net voor ons teks lees), was ongetwyfeld ook lewendig in Matteus se gemeente. Wie is rein en wie is onrein? Aanvaarbaar of onaanvaarbaar? Die spanning in die gemeente is verhoog deur die groot hoeveelheid nie-Jode, heidene, wat toegang tot die gemeente gesoek het.

Wat het Jesus gedoen en geleer wat hierdie spanning kan help uitsorteer? Matteus vertel Jesus het gesê dis nie jou uitwendige kenmerke, jou Joodse gelaat of jou Joodse gene, wat jou rein maak nie, maar wat binne-in jou leef. Dit is nie alleenlik uitwendige dade en gebruike wat jou in die regte verhouding met God bring nie. Dit is wat in jou hart leef, en by jou mond uitkom, wat jou onrein maak.

‘n Heidense vrou

Nadat Matteus van hierdie lering vertel het, skuif die toneel in die Evangelie na ‘n ontmoeting tussen Jesus en ‘n Kananése, of liefs ‘n Kanaänitiese, vrou wie se dogter in die mag van ‘n bose of onrein gees was.

Onmiddellik is al die grense tussen mense, wat soveel spanning in Matteus se gemeente geskep het, weer aan die orde. Dit is die grense tussen Jood en heiden, man en vrou, siek en gesond, heilig en demonies, die ou geslote Joodse benadering en die nuwe benadering wat Jesus gebring het.

Matteus vertel dat Jesus op pad was na Tirus en Sidon. Hy loop ‘n Kanaänitiese vrou raak. Die Kanaäniete was die ou inwoners van die land Israel, die mense wat die Jode soveel grys hare gegee het. Hulle was onverdund die vyand.

“Wees my barmhartig”

Die vrou se kreet, “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid!” (22), herinner ons aan ander noodkrete in die Evangelie:

  • Toe die dissipels rondgegooi is in ‘n storm op die See van Galilea het hulle Jesus gesmeek om hulle te help (8:25). Destyds het Jesus die wind en die see bestraf en hulle vermaan oor hulle kleingeloof;
  • In nog ‘n episode nooi Jesus Petrus om op die water na Hom te loop, maar toe hy die wind en water sien raak Petrus bang en begin hy te sink. Hy roep om Jesus se hulp (14:30). Weer reik Jesus dadelik ‘n helpende hand uit en moedig Petrus aan om gelowig te wees.
  • Die vader van ‘n seun wat waarskynlik aan epilepsie ly, roep om Jesus se hulp (17:15). Die dissipels kon die seun nie gesond maak nie, maar Jesus help onmiddellik en genees die seun.
Jesus antwoord nie

Regdeur die Evangelie reageer Jesus onmiddellik wanneer iemand na Hom roep vir genesing, redding of verlossing. Daarom verbaas Jesus se aanvanklike stilte teenoor die Kanaänitiese vrou. Die heidense vrou gebruik selfs Jesus se Joodse titel, “Seun van Dawid” en noem Jesus “Here”. Tog reageer Jesus nie. Dit is die enigste plek in die Evangelie waar Jesus iemand ignoreer wat in nood verkeer.

Die dissipels se reaksie is ook vreemd. Hulle wil hê Jesus moet van die lastige vrou ontslae raak. Mens weet nie of hulle bloot wil hê Jesus moet waar wegstuur, en of hulle wil hê Jesus moet haar gee wat sy wil hê sodat sy die pad kan vat nie. Jesus se antwoord is dat sy nie deel is van Israel na wie Hy gestuur is nie.

Die vrou is werklik in ‘n doodloopstraat. Sy is vasgevang tussen haar dogter se siekte, Jesus se onwilligheid om te help, en die dissipels se irritasie met haar. Ten spyte van Jesus se vermaning kom kniel sy weer voor Hom en vra hulp. Net soos die:

  • Wyse manne (2:11)
  • Die man met melaatsheid wat Jesus genees het (8:2)
  • Die raadslid wie se dogter Jesus lewend gemaak het, en
  • Die dissipels wat sien hoe Jesus die sinkende Petrus uit die water red (14:33),

kom buig hierdie moeder voor Jesus en herhaal haar pleit: “Here, help my!”.

Die kinders se brood

Jesus se tweede reaksie is selfs skerper. Hy sê dis nie mooi om die kinders se brood te vat en dit vir die honde te gooi nie. Die kinders is die Jode vir wie Hy genade, brood, gebring het. Die honde is die heidense Kanaäniete wat nie onder God se volk gereken is nie. Die brood moenie vir die honde gegooi word nie.

Hierdie is ‘n belediging, want die destydse wêreld het nie skatlike skoothondjies geken nie. ‘n Hond was ‘n hond. Jesus sê die honde kan nie by die tafel aansit nie, daar is nie vir hulle brood nie.

Aanhouer wen

Die vrou laat haar nie keer nie. Ja, maar die honde kry darem die broodkrummels wat van die tafel af val. Jesus kan weet dat daar ook vir haar genade moontlik is, al is sy nie ‘n Jood nie. Die vrou daag Jesus uit oor die grense van sy genade. Hy is die Messias van Israel, maar in sy groot liefde moet daar tog ook vir haar dogter hulp wees?

Deur aan te hou, onderstreep die vrou Jesus se lering aan sy dissipels. Hy het hulle geleer om te volhard in die aangesig van vervolging en verwerping (Matt. 5:10–12; 10:16–25); om belediging geduldig te verduur eerder as om te vergeld (5:38-48); om ‘n lewe van diensbaarheid te lei, selfs diens aan die heel kleinste en eenvoudigste (10:42). Terwyl sy eie dissipels stadig is om te kliek, hou hierdie uitlander, heiden, vrou, aan. Sy verduur dit om onder die honde gereken te word en reageer, nie met vergelding nie, maar met geloof.

Jesus reageer

Uiteindelik reageer Jesus: “Mevrou, jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was haar dogter gesond.

Op hierdie manier skuif Jesus sy bediening aan al die nasies vorentoe in terme van tyd. Wat eers bedoel was vir na sy krusiiging en opstanding (“Gaan dan na aldie nasies toe”) word nou reeds werklikheid. Daar is nou reeds genade vir heidene.

Wat hierdie vrou beleef, is wat die heidennasies later sou beleef. Die genade en genesing van Jesus strek verby die grense van Israel. Ook Afrikaners, Engelse, Zoeloes, Xhosas, Sotho’s, Duitsers, Spanjaarde, Hollanders word ingesluit in God se genade.

Matteus se gemeente

Met hierdie gebeure wil Matteus sy eie gemeente help terwyl hulle wonder oor die grense van hul eie bedieninge. In Antiogië, ‘n stad met verskeie etniese groepe, moes hulle besluit of hulle Joodse identiteit grense gaan skep wat ander uithou. Of gaan hulle Jesus toelaat om hulle eie bediening te laat verbreed. Gaan hulle bloot stilbly teenoor nie-Jode, of gaan hulle gehoor gee aan die Groot Opdrag aan die einde van die Matteus-evangelie: “Gaan dan na al die nasies en maak die mense my dissipels….” (28:19).

Matteus verstaan dat die oopgaan van die grense ‘n proses is. Selfs Jesus moes beweeg word deur die Kanaänitiese vrou. Net so ook die gemeente. Die vraag is nie met watter houdings ons begin wanneer ons die nood van ander raaksien nie, die vraag is met watter gesindheid ons eindig.

Kreet van die wêreld

Die dissipels het nie geweet wat om met die vrou se krete te maak nie. Hulle moes leer om dit te hoor en met liefde en genade daarop te reageer.

Dieselfde is vandag van ons waar.

Die noodkrete van die vrou open ‘n uitsig op die massiewe kreet wat uit die geteisterde en gebroke wêreld se oorlogsvelde opklink. Ook die angsgevulde krete van mense wat in geweldsmisdade en moorde wreed vermink en om die lewe gebring word. Daar is in die wêreld miljoene verhongerdes, vlugtelinge, ontworteldes, onderdruktes, vergete en verwaarloosde kinders wat pleitend huil om hulp. ‘n Magtige geskreeu klink uit die weerlose mensdom op, wat pleit om “ontferming!”

Ons

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

Eerstens raak ons bewus van die rol van volhardende gebed. Die Kanaänitiese vrou is soos die weduwee en die onregverdige regter in Jesus se gelykenis. Uiteindelik verhoor die regter die vrou se smeking. Hier luister Jesus na die vrou, al beteken dit Hy moet sy bedieningsfokus wysig. Ons teks help ons om die belang van volhardende gebed te onderstreep. Dit is iets anders as pogings om God met gebed te manipuleer.

Tweedens help hierdie teks ons om vir oog- en gehoortoetse te gaan. Hoor en sien ons die nood van ander? Sien ons dit werklik? Ons moet vir die Here oogsalf vrae sodat ons ander en hul situasie werklik kan sien.

Derdens leer ons hoe belangrik konkrete reaksie is. Ons moet daadwerklik – met dade – reageer op dit wat ons sien en hoor.

Vierdens is ons “boks”-denke dikwels ons grootste vyand. Minder belangrike oorwegings kry dikwels die oorhand. Of ons Jode is – soos in die Matteusgemeente se geval – of ons Afrikaans praat, tot ‘n spesifieke sosio-ekonomiese groep met eiesoortige belange behoort, kan ons optrede begin bepaal. Dit is nie onbelangrik nie, maar God en God se evangelie het ander prioriteite. Ons moet versigtig wees dat belange wat tweede-belangrik is nie die oorhand begin kry nie.

God stuur ons om te leef

Voorbidding
Hierdie is ’n goeie geleentheid om terugvoer te kry van ’n bediening in jul omgewing en om spesifiek vir dié bediening voorbidding te doen.
Of
V: Here Jesus, U is die brood wat lewe gee.
U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat moeg en afgemat is.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat genesing vir stukkende verhoudings soek.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat sukkel met spanning in hulle lewe.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen vir wie geloof ’n moeilike stryd is.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat hulle dag ná dag met moeisame werk afsloof.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat heling soek vir ’n stukkende verlede.
V: U is die Een wat ware rus en heling bring. Daarom bid ons vir …

G: elkeen wat liggaamlik siek is.
V: Here Jesus, U is die brood wat lewe gee. Neem, seën, breek en deel Uself aan ons uit.

G: Neem, seën, breek en deel ook vir ons uit.
V: Gee wat U vra en vra dan wat U wil.
A: Amen.
(Uit Cas Wepener se “Soos ’n Blom na die Son Draai”)

Dankoffer

Slotsang
F95. Onse Vader of
VONKK 234 Abba, Vader, Hemelheer of
VONKK 112 Ons Vader In Die Hemel of
Lied 266 “Ons Vader”

Seën
”Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!

Respons
Lied 278 “Hoor ons bid, o Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.