Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vandeesweek se tekste kan in twee groepe verdeel word.

Die een groep tekste gaan oor barmhartige “uitdeel” en die ander oor magsbehepte “gierigheid” en selfs “diefstal”.

Johannes 6 vertel van brood en Jesus (“Ek is die brood wat lewe”) wat “uitgedeel” word binne die raamwerk van God se barmhartigheid, terwyl Efesiërs 4 vertel van die wyse waarop Christus die genadegawes “uitdeel” tot opbou van die liggaam van Christus.

Dawid se skuldbelydenis in Psalm 51 is dié van ‘n magtige koning wat opgetree het op ‘n manier wat presies die teenoorgestelde is van God se barmhartigheid wat in Johannes 6 en Efesiërs 4 uitgedruk word (2 Sam 11 en 12).

Ander tekste

2 Samuel 11:26-12:13a
26Urija se vrou het gehoor dat haar man dood is en sy het oor hom getreur. 27Toe die routyd oor was, het Dawid haar na sy huis toe laat haal. Sy het sy vrou geword en vir hom ’n seun in die wêreld gebring. Maar wat Dawid gedoen het, was verkeerd in die oë van die Here.

Natan kondig Dawid se straf aan
12 Daarna het die Here vir Natan na Dawid toe gestuur. Natan het by hom gekom en gesê: “Daar was twee mans in dieselfde plek. Die een was ryk en die ander arm. 2Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. 3Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou, en sy het saam met sy kinders grootgeword. Sy het van sy krummeltjies geëet, uit sy beker gedrink en op sy skoot geslaap. Ja, sy was vir hom soos ’n eie dogter. 4Daar het ’n besoeker by die ryk man gekom en hy kon dit nie oor sy hart kry om van sy eie kleinvee of beeste te vat en vir die reisiger te slag nie. Toe vat hy die ooilam van die arm man en slag haar vir sy gas.”

5–6Dawid het hom bloedig vererg oor die man en vir Natan gesê: “So seker as die Here leef, ’n man wat dit oor sy hart kon kry om so iets te doen, moet doodgemaak word, en hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.”

7“Jy is die man!” sê Natan toe vir Dawid. “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou tot koning van Israel gesalf. Ek het jou teen Saul beskerm. 8Ek het aan jou die koningskap van Saul gegee en boonop nog sy vrouens ook. Ek het die koningskap oor Israel en Juda aan jou gegee. En as dit nog te min was, sou Ek enigiets daar wou bygee. 9Waarom het jy nou die woord van die Here geminag deur so ’n verkeerde ding te doen? Jy het Urija die Hetiet met die swaard doodgemaak en toe sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met die swaard van die Ammoniete.

10“Daarom sal die swaard nou nooit meer uit jou huis weggaan nie, want jy het My geminag toe jy Urija die Hetiet se vrou vir jou gevat het.

11“So sê die Here: Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring. Ek sal jou vrouens voor jou oë vat en aan iemand anders gee. Hy sal by jou vrouens slaap oop en bloot, 12want jy het ’n ding in die geheim gedoen, maar Ek sal alles oop en bloot voor die hele Israel doen.”

13Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.”

En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie.

Psalm 51:1-12
Neem tog my sonde weg!
51 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.
13Moet my tog nie van U af wegdryf
en u Heilige Gees
van my af wegneem nie!
14Laat my weer die blydskap ervaar
van iemand wat deur U verlos is,
laat my U weer met toewyding dien.
15Dan sal ek oortreders leer
wat U van ’n mens verwag;
dat die sondaars hulle tot U sal bekeer.
16Red my van ondergang,
o God, my Redder,
dat ek kan jubel oor u verlossingsdaad.
17Here, gee my die woorde
om u lof te verkondig.
18’n Offer vra U nie,
anders sou ek dit bring;
’n brandoffer wil U nie hê nie.
19Die offer wat U wil hê, o God,
is verootmoediging:
U sal ’n hart vol ootmoed en berou
nie gering ag nie, o God.
20Laat Sion u liefde
en u goedheid ondervind:
herbou tog die mure van Jerusalem.
21Dan sal die offers wat voorgeskryf is,
weer vir U aanneemlik wees:
offerdiere wat heeltemal
verbrand word.
Dan sal hulle weer bulle
op u altare offer.

Efesiërs 4:1-16
Die eenheid van die kerk
4 Ek druk julle dit op die hart, ek wat ’n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.

4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. 5Daar is net één Here, één geloof, één doop, 6één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon.

7Aan elkeen van ons is ’n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. 8Daarom sê die Skrif:
“Toe Hy na die hoogte
opgevaar het,
het Hy krygsgevangenes
saamgeneem en gawes aan die
mense gegee.”

9Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. 10Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. 11En dit is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. 12Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. 13So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. 14Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. 15Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Fokusteks

Johannes 6:24-35
Die brood uit die hemel
22Die mense wat oorkant die see was, het gesien dat daar net een skuitjie is en geweet dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit geklim het nie, maar dat hulle alleen weggevaar het. Die volgende dag 23kom daar toe ander skuitjies van Tiberias af aan naby die plek waar die mense die brood geëet het nadat die Here daarvoor gedank het.

24Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

26Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

28Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

29En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

30Hulle sê toe vir Hom: “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen? 31Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet.”

32Jesus het hulle geantwoord: “Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. 33Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.”

34Hulle sê toe vir Hom: “Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood.”

35Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

36Maar wat julle betref, Ek het reeds gesê: Julle sien My, en tog glo julle nie in My nie.

37“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie. 38Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. 39En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. 40Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”

Ekstra stof

Johannes 6:1–71 – God gee geloof wat vir altyd hou
‘n Mens sien in hoofstuk 6-7 hoe ‘n digte verhaal Johannes vir ons vertel – alles het met alles te make.  Die verhaallyn is as volg:

  • Jesus doen die broodwonder wat Sy gestuurdheid en goddelikheid bevestig – 6:1-15.
  • Jesus loop op die see wat ‘n opening skep om verder met die skare oor die betekenis van die broodwonder te kan gesels – 6:16-21.
  • Jesus verduidelik dat Hy die brood van die lewe is en dat mense op Hom moet fokus – 6:22-40.
  • Die Jode verstaan nie Jesus se woord nie, al openbaar Jesus iets meer oor die kruis wat in die toekoms vir Hom voorlê – 6:41-59.
  • Selfs onder Jesus se dissipels is daar mense wat nie glo nie – 6:60-71.
  • Jesus se broers vind dit ook moeilik om in Hom te glo 7:1-9.
  • Jesus leer die mense by die huttefees dat Hy die Christusis, dat Hy moet ly, maar die Gees sal gee vir elkeen wat in Hom glo – 7:10-39.
  • Dit lei tot verdere meningsverskil oor Jesus en ongeloof by die Joodse leiers – 7:40-52.

6:1-15: Die verhaal van die broodvermeerdering word in al die evangelies vertel, wat aandui dat dit ‘n belangrike perspektief op Jesus se bediening gee (Matt 14:13–21; Mark 6:30–44; Luk 9:10–17), soos Jesus inderdaad die volgende dag uitspel. Dit vind plaas net voor ‘n Paasfees aan die oorkant van die See van Galilea (by Tiberias – die dorpie is in 22 nC gebou en het mettertyd die naam geword waarmee die meer benoem is: See van Tiberias).

Die groot gevolg wat agter Jesus aankom, is veral daar omdat hulle die wondertekens gesien het.  Onthou egter wat in 2:23-25 al gesê is:  Jesus “verlaat” Hom nie op mense wat in Hom glo, omdat hulle die wondertekens gesien het nie.  In vers 66 sien ‘n mens dat hierdie selfde volgelinge Hom verlaat omdat volgelingskap te veel van hulle vra.  Jesus verlaat Hom dus nie op hulle nie, want Hy weet dat hulle ‘n geloof het wat uit hulleself kom, iets wat altyd die potensiaal het om tot niet te gaan.  Dit is net die geloof wat God gee, wat vir altyd hou, soos reeds in die gesprek met Nikodemus aangeroer is.

Let op die verskillende reaksies van die dissipels op Jesus se versoek dat hulle die menigte kos gee.  Filippus gooi hande in die lug, maar Andreas bring wat daar is, hoewel hyself nie regtig weet hoe dit so baie mense kos gaan gee nie.  Maar dit is presies waarmee Jesus dan werk, met daardie seuntjie se 5 garsbroodjies en 2 vissies om die wonder van die broodvermeerdering te laat gebeur.

Jesus voorsien hier aan die menigte kos, soos wat God dit in die woestyn gedoen het met die manna (Eks 16:4; Ps 78:24; 105:40 – vgl vers 30 vv) en die kwartels (Eks 16:13), wat sy goddelikheid bewys – die skare weet nou dat Hy die Profeet is, die Een wat na die wêreld toe moes kom (:14).  Daarom word dit ook ‘n wonderteken genoem.  Daar bly ook 12 mandjies oor wat die oorvloed waarmee God mense seën simboliseer.

Die skare se aandrang om Hom direk daar en dan met geweld koning te maak, laat Hom verder op met die berg klim, om hulle wondergeloof te laat afkoel, en moontlik die gebeure te deurdink – alleen.

6:16-21: Die dissipels keer terug na Kapernaum en beleef ‘n verdere wonder dat hulle in die onstuimige see vir Jesus na hulle toe sien aangeloop kom op die water.  Hulle vrees word deur Hom besweer en hulle kom saam aan die oorkant aan.  Dié wonder word as een van die sewe gereken, hoewel die woord wonderteken nie hier voorkom nie.

6:22-40: Dit word egter duidelik deur die skare as ‘n wonder ervaar – om die waarheid te sê, dit is waarskynlik presies ter wille van hulle wat die wonderteken gedoen is, sodat Jesus met hulle verder kon gesels oor die betekenis van die wonder van die broodvermeerdering, soos Hy dan inderdaad ook doen.

Jesus wys hulle dan daarop dat hulle die gevaar loop om HOM te mis deurdat hulle fokus op die brood wat hulle honger gestil het, dws die wonderteken as sodanig en nie dit waarna die wonderteken verwys nie. Hulle moet eerder fokus op die Wonderdoener, Jesus, en in Hom glo, want Hy kan vir hulle ewige lewe gee, Hy is die Brood wat lewe gee.  Daardeur bekom hulle die ewige lewe met die laaste dag se opstanding.

6:41-59: Let op hoe die Jode (op die sabbatdag in die sinagoge in Kapernaum – vers 59) nie die verband getrek kry tussen Jesus se aardse en sy hemelse afkoms nie, soos Nikodemus vroeër.  Jesus haal dan uit Jesaja 54:13 aan dat hulle dit net sal kan begryp as hulle dit deur God geleer word.

Die Jode wys hulle weerstand teen God se lering deur konsekwent Jesus se lering mis te verstaan.  Dit terwyl Jesus hier eintlik oop kaarte met hulle speel en van sy naderende dood in terme van sy liggaam en sy bloed te praat, die tekens van die nagmaal (onthou, Johannes vertel nie vir ons van die “laaste avondmaal” nie, net van die voetewas-episode in Joh 13).

Dit is dié wat die betekenis daarvan begryp en omhels, wat inderdaad in God is en ervaar dat God in hulle bly (dinge waaroor Jesus verder sal uitbrei in sy onderrig aan sy dissipels in hoofstukke 14-17).

6:60-71: Die Jode is egter nie die enigste wat moeite het met hierdie woorde van Jesus nie.  ‘n Hele paar van sy dissipels het hieroor gemor.  Interessant dat Jesus reageer deur van nog dieper dinge te gesels, sy Hemelvaart en per implikasie van die uitstorting van die Heilige Gees.  Die punt wat Hy maak is egter steeds, jy sal dié dinge nie verstaan as Godself dit nie vir jou duidelik maak nie.

Die gevolg is dat ‘n hele paar van die dissipels Hom op hierdie punt verlaat – behalwe die twaalf , waarvan Jesus geweet het dat een Hom nog sou verraai, Judas, die seun van Somon Iskariot.  Geloof is inderdaad ‘n geskenk wat God gee!

Die vraag is seker vir vandag: hoe weet ek dat ek ‘n geloof het wat God gegee het?  ‘n Baie belangrike vraag!

Die antwoord lê in die paradoks van vers 35 en 65: “Wie na My toe kom … niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.”

Geloof lê aan die een kant in die keuse wat ek vir Jesus maak … EN aan die ander kant getuig my keuse van die geloof wat God vir my gegee het.  Ek glo, omdat God geloof vir my gegee het.

Albei kante van die paradoks is nodig, maar God se kant van die paradoks is die primêre oorsaak van die geloof wat ek in myself ervaar.  Daarom kan ek God net dank vir geloof, en nie daarop roem nie, asof ek beter is as hierdie Jode of dissipels nie.

Geloof is om vas te gryp aan God, al kan jy niks daarmee verdien en niks daarmee regkry nie … maar vertrou dat God dit kan gebruik, God dit waar kan maak.  Soos ‘n Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 450 “Vader Seun Heil’ge Gees vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 121

Seëngroet: Efesiërs 1

Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Wet: Matteus 22:34-41

Skuldbelydenis: (Uit Psalm 51)

Vryspraak: Romeine 8:1-2

Toewyding: Efesiërs 4

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4

Loflied
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2” en/of
Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 6:24-35

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die bedoeling van ’n Seisoen van Barmhartigheid is om dit wat in die erediens gebeur doelbewus in verband met die nood van die wêreld te bring. Op die manier word ontdek dat die erediens nie ’n doel op sig self is nie, maar bedoel is om ons in te lei na ’n lewe wat God op elke  terrein van die lewe vereer.

’n Sogenaamde hongerdoek wat in die liturgiese ruimte gedrapeer word en waarop lidmate die geleentheid kry om items soos koerantknipsels vas te maak tydens die erediens en wat die onmiddellike konteks van nood van die gemeente reflekteer. (Die hongerdoek pas tradisioneel liturgies binne die Lydenstyd en nie in Koninkrykstyd nie. Hierdie voorstel kan moontlik gesien word as ’n loslaat van daardie mooi verband, of dalk juis ’n verruiming van die gebruik van die hongerdoek).

Bring kos in natura na die erediens, veral die nagmaalviering, om dit te gebruik om die sakrament mee te vier en dit wat oorskiet na hulpbehoewendes of spesifieke projekte te neem. Die verband tussen die nagmaal en barmhartigheid kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie. Soos wat ons hierdie gawes, die produkte van ons arbeid, insamel, aandra en neerlê op die tafel, so lê ons ook ons lewe daar neer. Hierdie produkte van ons arbeid is nooit genoeg nie, maar op die tafel van ons Here word dit op ’n wonderbaarlike wyse vermenigvuldig sodat daar genoeg is vir iedereen. Op die tafel lê jou lewe.

Voorbidding kan in hierdie seisoen ’n besondere klem kry, weer eens en spesifiek soos geïnspireer deur die leesroostertekste en die gemeente se bepaalde konteks. Dieselfde geld vir die prediking vir hierdie seisoen.

Erediensgangers word uitgedaag om elke week tydens die Seisoen van Barmhartigheid een ete gedurende die week prys te gee en die waarde van daardie ete in die vorm van droë produkte na die erediens te bring wat gebruik sal word in ’n projek. Die produkte word nie sommer net in ’n mandjie by die deur geplaas nie, maar word tydens die derde beweging van die erediens (tafeldiens) fisiek vorentoe gebring en op die tafel geplaas. Dit kommunikeer ook baie ten opsigte van God se omgee en solidariteit in Jesus met mense in nood.

Hierdie seisoen is uiteraard ook ’n ideale geleentheid om projekte waar lidmate by kan betrokke raak, bekend te stel of dalk opnuut bekend te stel met verhale en getuienisse oor die projekte.

Aanvangslied: Lied 450“Vader Seun Heil’ge Gees vs 1,2”

Aanvangswoord: Psalm 121
Ek kyk op na die berge:
waarvandaan sal daar
vir my hulp kom?
2My hulp kom van die Here
wat hemel en aarde gemaak het.

Seëngroet: Efesiërs 1
Aan almal in …………………………………., wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Wet: Matteus 22:34-41
Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: (Uit Psalm 51)
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Vryspraak: Romeine 8:1-2
Lewe deur die Gees
Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.

Toewyding:  Efesiërs 4
Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. 2Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
soos Hy dit vooruit al bestem het.
So het Hy Hom dit voorgeneem- Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
toe ons die waarheid wat aan ons verkondig is,
die evangelie van ons verlossing, gehoor het
en tot geloof gekom het.

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as die eiendom van God beseël.

Daar is net één liggaam en net één Gees,
soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het.
Daar is net één Here, één geloof, één doop,
één God en Vader van almal:
Hy wat oor almal is,
deur almal werk
en in almal woon.

Loflied
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2” en/of
Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Liedere

F179. “Regeer In My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1 .Skepper van hemel en aarde
Lewensbron, lig en genade
Kom regeer in my
Kom regeer in my

Die hemele verkondig u werke
U almag word vertoon in die sterre
Kom regeer in my
Kom regeer in my

Refrein:
Regeer in my
dat hierdie hart u huis kan wees
Regeer in my
dat hierdie vlees u Woord kan spreek
Regeer in my
dat hierdie lewe brood mag wees
Woord vir die wêreld,
bring lewe deur my

U is die eerste Woord
U kry die laaste woord
U is die Lewenswoord
wat alles onderhou

F230. “Ek het vir die Heer gesê (Here U Is My Lewe)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

Ps 16
1. Ek het vir die Heer gesê
U is my Here
U is my Rots
Daar is geen ander god
Wat my lof verdien nie
Vir wie ek wil besing

Refrein:
Here, U is my lewe
U sorg vir my
En wat ek ontvang kom alles van U af
’n Pragtige deel is vir my afgemeet
Wat ek by U erf, is mooi vir my

2. U Heer, lei my deur U Gees
En ek slaap rustig
U is by my
Elke oomblik van die dag
Is U in my gedagtes
En my hart is juigend, bly

Refrein:

Brug 1:
Heer, U red my siel uit die dood
En in blydskap, leer U my leef

Brug 2:
Lieflikheid kom uit U hand
Juig vir alle ewigheid!

God praat met ons en ons luister

Epiklese                             
Woord van God, Woord van die lewe,
Woord vir ewig vas en waar,
Woord onfeilbaar en verhewe
waarin God Hom openbaar!
Woord betroubaar, vas en waar
deur miskenning, deur gevaar
wat sou ons dan ooit laat bewe?
In dié Woord het ons die lewe! (Lied 255:1)

Skriflesing: Johannes 6:24-35

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vra vir die kinders wie van chips hou (gewone droë aartappel skyfies soos Lays & Simba).  Wie van hulle kan nie ophou eet as hulle eers begin het nie?  Die meeste van ons kan nie ophou eet nie en stop nie voor die bak nie leeg is nie.  Of wat is jou swakheid (sommiges s’n is sjokolade, marshmallows – wat is joune?)

Neem ’n groot pak skyfies en (terwyl jy daaruit eet) lees agter op die pak die “ingredients”.

Iewers sal jy die letters MSG lees.  Dit staan vir Mono Sodium Glutamate.  Wikipedia beskryf MSG so: “MSG is used as a food additive and is commonly marketed as a flavour enhancer.”

Daar is baie studies wat sê dis eintlik sleg vir jou en is amper verslawend van aard.  Dis iets wat natuurlik in koringkiem voorkom, maar dit word deesdae deur die fermentasie van bakterieë vervaardig.  Wikipedia klassifisseer dit as ’n chemiese bestanddeel.

In Joh. 6 sê Jesus Sy uitwerking op mense is soos geestelike MSG.  Hulle volg Hom nie omdat hulle die wondertekens gesien het nie (v 26), maar omdat hulle versadig geword het.  Omdat hulle aan die brood van die lewe, Jesus self, geproe het.  Hy is verslawend!  Wanneer jy Hom ontmoet, is daar chemistry!  Kom net na Hom toe (vers 35) en daar sal chemistry tussen jou en Jesus wees.

Sit ’n paar bakke chips (skyfies) op die Nagmaal tafel en laat die kinders vorentoe kom en alles opeet!

Preekriglyn

Ons is vandag vir die tweede Sondag met Johannes 6 besig. Dit is ‘n besondere ryk hoofstuk uit die Woord van die Here. Verlede Sondag het ons gefokus op die eerste deel van die hoofstuk, waarin vertel word:

  • Van die groot hoeveelheid mense wat Jesus berg-op by die See van Galilea gevolg het, omdat hulle die wondertekens gesien het wat Hy aan siekes gedoen het;
  • Dit was in die tyd dat die Paasfees van die Jode naby was;
  • Soos die goeie herder van Psalm 23 laat Jesus die mense toe op die gras, die groen weivelde, gaan sit;
  • Jesus vermeerder toe die vyf garsbrode en die twee vissies van ‘n seuntjie, sodat die mense net soveel brood en vis gekry het as wat hulle wou hê;
  • Twaalf mandjies vol brood bly oor.
  • Toe die mense die wonderteken sien, wil hulle Jesus met geweld koning maak. Jesus onttrek Hom toe en gaan verder teen die berg op;
  • Jesus se dissipels vertrek op hulle eie na die oorkant van die see, en raak vasgevang in ‘n storm. Jesus kom in die nag oor die see geloop. Die dissipels neem Hom in die boot, en hulle kom veilig by hulle bestemming aan.
Moses getuig oor Jesus

Die vermeerdering van die brood en vis en die begeleiding van die dissipels oor die stormsee volg op Jesus se opmerking in Johannes 5:46v dat Moses van Jesus getuig. Jesus verwys daarmee na die eerste vyf boeke van die Ou Testament. Hy sê Moses se geskrifte verwys na Hom, na Jesus. Hy beliggaam die bedoelinge van God waarvan die Ou Testament reeds getuig.

Wanneer Jesus die skare voed, bevestig dit dat Hy die hoop op verlossing is waarna die hele Ou Testament sug.

Die teken van die vermeerdering van die brood staan in lyn met gebeure uit die Ou Testament. Ons het verlede week reeds verwys na die gebeure rondom Elisa in 2 Konings 4:42-44. Die broodwonder gebeur ook wanneer die Paasfees, die fees van die Jode, naby is. Die Paasfees het te doen met die wonderbaarlike leiding van die volk uit Egipte, en God se versorging in die woestyn toe hulle manna en kwartels uit die Here se hand ontvang het.

Die kos wat die vrygemaakte slawe in die woestyn ontvang het, is die agtergrond vir ons teks. Jesus sit God se werk – om voedsel en versorging te voorsien – in Johannes 6 voort.

Die vraag is nou of die skare God en Jesus aan die werk gaan sien. En of hulle bloot baie brood en baie vis gaan sien. Gaan hulle Jesus volg omdat hulle weet hulle maag gaan môre weer leeg wees. Dalk is daar nog brood op pad?

Jesus en die skare

In ons teks soek die skare naarstigtelik na Jesus. Hulle gaan soek Jesus waar Hy die brood die vorige dag vermeerder het. Toe Jesus nie daar is nie, gaan soek hulle Hom aan die oorkant van die see en kry Hom in Kapernaum. Onkundig oor sy wandeling in die nag oor die see wil hulle weet wanneer het Jesus hierheen gekom (22-25).

Jesus se reaksie is merkwaardig. Veral as mens onthou die mense wou Hom die vorige dag met geweld koning maak. Hulle het immers gesê Hy is werklik die Profeet, die Een wat moes kom (6:14).

Jesus is krities en reguit:
Julle soek My, nie omdat julle die wonderteken gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het (26).

Die skare het nie die wonderteken gesien nie – hulle het nie verstaan dat die vermeerdering van die brood op iets dieper wys as bloot brood op die tafel nie. Om die wonderteken te sien, beteken om God aan die werk in Jesus te sien – dit is om dieper as die baie brood te kan kyk.

Die skare het oë, maar ons sien gou Jesus is reg: hulle kan nie die waarheid van God se werk in Jesus raaksien nie.

Misverstand

Die gesprek tussen Jesus en die skare wys die misverstand uit. Jesus sê:

Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen. (27)

Die skare is nie heeltemal seker wat Jesus bedoel nie. Hulle vra Hom toe:

Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang? (28)

Jesus reageer deur te sê geloof is wat van belang is:

Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het. (29)

Die “werk” wat God hulle gee, is om in Jesus, die brood van die lewe, te glo.

Die skare verstaan nie die brood bevestig dat Jesus die ware teken van lewe uit die Vaderhand is, en dat hulle in Jesus moet glo nie. Hulle bly besig met ‘n brood in die teken, en nie die Teken in die brood nie. Hulle verstaan nie waarvan die brood ‘n teken is nie. Hulle soek brood op die tafel.

Dit is soos toe Jesus met Nikodemus oor geboorte van bo af gepraat het. Nikodemus kon nie verder as geboorte kyk nie, hy kon nie geboorte as ‘n teken van die nuwe geestelike lewe wat God uit die hemel gee snap nie.

Die misverstand duur voort.

Uitgedaag uit die Bybel

Die skare sê vir Jesus:
Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo? Wat gaan u doen?

Nou daag die skare Jesus met ‘n aanhaling uit die Bybel uit:

Ons voorouers het manna in die woestyn geëet, soos daar geskrywe staan: Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet. (30-31)

Die skare se woorde, “Hy het aan hulle brood uit die hemel gegee om te eet” herinner aan Skrifgedeeltes soos Eksodus 16:14, en selfs Nehemia 9:15, Psalm 78:24 en Psalm 105:40.

Die skare se uitdaging verwys (a) na iets wat Moses gedoen het, natuurlik (b) in die verlede, en (c) die “brood uit die hemel;” verwys na die manna in die woestyn.

Jesus vat nou hierdie sinnetjie, maar verander dit:

  • In Jesus se woorde is die subjek wat handel nie langer Moses nie, maar God die Vader;
  • Die handeling gebeur nie langer in die verlede nie, maar in die hede, hier en nou waar die skare teenwoordig is, en
  • Die “brood uit die hemel” verwys nie langer na manna nie, maar na Jesus.

So klink Jesus se weergawe van die teks wat die skare aanhaal:

Dit verseker Ek julle: Dit is nie Moses wat vir julle die brood uit die hemel gegee het nie, maar dit is my Vader wat vir julle die ware brood uit die hemel gee. Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee. (32-33)

Kom ons herhaal dit. Jesus sê vir die skare hulle moenie die teks langer as volg lees nie:

Hy (Moses) het gegee (verlede tyd) brood uit die hemel (manna) om te eet.

Lees liewer:
Hy (God, my Vader) gee (nou, teenwoordige tyd) die ware brood uit die hemel (Jesus gaan binnekort verduidelik Hy is hierdie ware brood).

Op hierdie manier wil Jesus die skare help om God se handeling agter die wonder van die vermeerdering raak te sien. Die vermeerdering wil hulle help om Jesus as God se geskenk raak te sien. Hulle moenie teen die vermeerdering vaskyk, en elke dag net gewone brood by Jesus verlang nie. Hulle moet met geloof kyk, en die Bybel met geloof lees.

Sonder geloof kan mens wonderlike dinge sien, sonder om God daaragter raak te sien:

  • Sonder geloof kan mens Bybeltekste van vroeg tot laat aanhaal, sonder om te weet en te verstaan wat jy sê.
  • Jy sal die woorde sien, lees en aanhaal, maar jy sal dit nie verstaan nie.
  • Sonder geloof sien jy brood, nie Jesus nie.

As mens Moses se getuienis wil verstaan, moet jy weet die Ou Testament wys op Jesus. Insig hierin verg geloof, meer as gewone oë en ore. Insig kom van bo, van God af, dié God wat ons van bo af wederbaar.

Brood

Die skare is steeds besig met konkrete brood, met ‘n bo-natuurlike oorsprong. Hulle soek manna wat uit die hemel kom, soos in Moses se tyd. Die skare soek vyf brode wat in ‘n oogwinke mandjies vol brode word, met baie oorskiet. Hulle sê immers vir Jesus:

Meneer, gee ons tog altyd hierdie brood (34).

Jesus helder die soort brood wat Hy bedoel nou op:

Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Jesus is God se gawe aan ons. Jesus is God se lewegewende Woord aan ons.

Jesus, God se brood

Jesus maak ‘n sterk aanspraak. Die God wat die lewe gee, waarin die Jode geglo het, kan persoonlik geken word – in die Persoon van Jesus. God se lewegewende brood is konkreet en spesifiek: dit word geken, beleef en omhels in die Persoon van Jesus Christus. Hy beliggaam die lewe wat God gee. Alles wat God bedoel en skenk, word gekonsentreer in Jesus.

Jesus is die lewe, en gee die lewe, waaroor die dood geen mag het nie. Jesus is die wysheid van God waarmee die ganse skepping aanmekaar gesit is, en waarmee dit onderhou word.

Die werklikheid van God is nie ver en abstrak nie. Dit is naby, konkreet, teenwoordig, en persoonlik.

Soos die hoofstuk verder ontplooi, sal ons sien die skare raak uiters ongemaklik met Jesus as die Brood van die lewe.

Die skare

Soos die hoofstuk verder ontplooi, sal ons sien die skare raak uiters ongemaklik met Jesus as die Brood van die lewe.

Die krisis wat die teks skep, soos ons sal sien, is dat mense Jesus nie as Brood van die Lewe kan sien en aanvaar nie. Die skare kyk na Jesus, en het geen idee wat hulle sien nie. Hulle lees die woorde in die Skrif en het geen idee wat dit beteken nie. Om regtig vir Jesus as God te sien en te aanvaar, is ‘n geskenk wat net God kan gee.

Wat is brood?

Die groot vraag vir moderne mense is: wat is ons brood?

Moderne Westerlinge is verbruikersmense. Ons glo die regte produkte, en die gebruik daarvan, bring geluk. Jamie Smith beskryf in sy treffende boek (You are what you love) moderne winkelsentrums as tempels. Dit is tempels vir ‘n verbruikersgodsdiens. Die tempel leer jou – met allerlei boodskappe wat uitbasuin word – dat hierdie sjampoe, of daardie juweliersware, of daardie motor, of hierdie medikasie, of daardie klere, vir jou geluk en vervulling gaan bring.

Iemand vertel hoe hy geluk nagejaag het. Hy het gedink as hy die CEO van ‘n maatskappy word, gaan hy gelukkig en vervuld wees. Hy word toe ‘n CEO van ‘n groot Natalse maatskappy. “Ek het ‘n wedloop gehardloop waarvan die banier oor die eindstreep, toe ek die CEO word, gesê het: ‘Mislukking!'” Dinge kan nie vervulling bly nie.

Tog dink ons mens word gedefinieer deur die soort motor wat jy ry, die adres waar jy woon, die titel wat jy het, die grootte van jou inkomste, die kleur van jou hare of die breedte van jou bors.

Baie van hierdie dinge is nie slegte ideale nie. As mens die talent het om ‘n maatskappy te lei, is dit goed as jy dit word. Dit faal as jy die sin van die lewe daarin soek. Dit stil nie jou diepste honger na ‘n verhouding met die God wat jou gemaak het nie. Dit raak pateties as dit die brood van die lewe word.

Wanneer daar dinge gebeur wat ons stroop – soos die droogtes in verskillende dele van ons land oor die afgelope jaar of twee – raak ons ‘n slag weer vry. Vry om los te raak van die valse brood, en te fokus op Jesus, die brood van God. Ons kan weer die valse aantrekkingskrag sien van nagemaakte brood. Brood wat nie ons diepste honger vul nie.

Jesus se uitnodiging is: “Ek is die brood van die lewe, wie na My toe kom sal nooit weer honger kry nie, wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

Ons moet die vaardigheid opskerp om daagliks met Jesus te lewe, in vrede, versadig in sy teenwoordigheid.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 467 “Die Heer is God, die sterke God 1,2”

Seën
Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (Uit Ps 34, 2 Kor 13)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.