Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vandeesweek se tekste handel oor randfigure en hoe hulle ingesluit moet word. Dawid is bang dat hy in sy later jare vergeet en uitgestoot sal word. Jeremia is ‘n kind en is baie onseker of hy sy roeping kan vervul terwyl hy nog so jonk is. Op die Sabbat genees Jesus ‘n siek vrou en maak haar weer deel van die gemeenskap. So word barmhartigheid bewys aan hulle wat nog uitgesluit voel.

Wie genade ontvang moet genade en barmhartigheid bewys.

Ander tekste

Jeremia 1:4-10
Jeremia word tot profeet geroep
4Die woord van die Here het tot my gekom:
5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.
6“Ag, Here my God,”
het ek geantwoord,
“ek kan nie goed praat nie,
ek is nog te jonk.”
7Toe sê die Here vir my:
Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.
Jy moet gaan na wie toe
Ek jou ook al stuur,
en alles wat Ek jou beveel om te sê,
moet jy sê.
8Moenie vir hulle bang wees nie,
want Ek is by jou,
Ek sal jou red.
Dit is wat die Here gesê het.
9Hy het sy hand uitgesteek,
my mond aangeraak
en vir my gesê:
Ek het nou my woorde
in jou mond gelê.
10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

Psalm 71:1-6
Nou dat ek oud geword het
71 By U, Here, skuil ek, laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!
2Red my en bevry my,
want U is getrou.
Luister tog na my en help my!
3Wees vir my ’n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.
4My God, bevry my
uit die hand van goddeloses,
uit die greep van skurke
en verdrukkers,
5want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af
vertrou.
6U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het,
het U my beskerm.
U loof ek gedurigdeur.

Lukas 13:10-17
Jesus genees ’n gebreklike vrou op die sabbatdag
10Eenkeer op ’n sabbatdag was Jesus in een van die sinagoges besig om die mense te leer. 11Daar was ook ’n vrou wat al agtien jaar lank gely het onder ’n bose gees wat haar heeltemal verswak het. Sy was krom getrek en kon glad nie meer regop kom nie. 12Toe Jesus haar sien, roep Hy haar nader en sê vir haar: “Mevrou, jy is van jou gebrek verlos!”

13Toe het Hy haar die hande opgelê, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin prys.

14Die hoof van die sinagoge was verontwaardig omdat Jesus op die sabbatdag iemand gesond gemaak het. Hy sê toe vir die mense: “Daar is ses dae in die week waarop ’n mens moet werk. Julle moet op een van daardie dae kom om julle te laat gesond maak, nie op die sabbatdag nie.”

15Toe sê die Here vir hom: “Julle huigelaars! Maak elkeen van julle nie op die sabbatdag sy bees of sy donkie van die krip los en lei hom weg om hom te laat suip nie? 16En hier is ’n vrou, ’n kind van Abraham, wat werklik al agtien jaar lank deur die Satan gebind is. Mag sy dan nie op die sabbatdag van hierdie band losgemaak word nie?”

17Deur dit te sê, het Jesus al sy teenstanders laat skaam kry, maar die hele skare was bly oor al die wonderbaarlike dinge wat Hy gedoen het.

Fokusteks

Hebreërs12:18-29
Die oog moet op Jesus gevestig wees.
12 Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Die Here tug dié wat Hy liefhet
4Julle het nog nie so teen die sonde weerstand gebied dat dit vir julle ‘n stryd om lewe of dood geword het nie. 5Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word:
“My kind, moet dit nie gering ag
as die Here jou tug nie
en moenie mismoedig word
as Hy jou teregwys nie,
6want die Here tug hom
wat Hy liefhet,
Hy straf elkeen
wat Hy as kind aanneem.”

7Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? 8As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie. 9Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan die hemelse Vader onderwerp en lewe nie? 10Ons vaders het ons wel ‘n kort tydjie na hulle goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel.

11Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.

12Versterk daarom die slap hande en die lam knieë 13en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

Moenie die genade van God verwerp nie
14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ‘n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ‘n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

18Julle het immers nie gekom by ‘n tasbare berg met brandende vuur, donderwolke, duisternis, stormwind, 19trompetgeskal en geklank van woorde nie. Hulle wat dit gehoor het, het gesmeek dat geen woord meer tot hulle gerig moes word nie. 20Die bevel dat selfs ‘n dier wat aan die berg raak, met klippe doodgegooi moet word,  was vir hulle ondraaglik. 21So angswekkend was die verskynsel dat Moses uitgeroep het: “Ek sidder van angs!”

22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

25Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie? 26Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.” 27Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

28Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, 29want ons God is ‘n verterende vuur.

Ekstra stof

Inleiding op Hebreërs
Die brief is gerig aan huisgemeentes in Italië
Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ‘n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ‘n “Boodskap van aansporing” of ‘n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ‘n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs“, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24).

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand
Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ‘n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ‘n “geweldige stryd van lyding“.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die skrywe
Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief-boodskap, soos dit uit die slotgedeelte blyk (“aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf” – hfst. 13:22).  Dit is egter só goed saamgestel dat dit eintlik die karakter van ‘n goed uitgewerkte preek of selfs teologiese bydrae aanneem.

Nie dat ons weet wie dié skrywer-prediker was nie of waar hy op dié stadium was nie.  Dit kon nie Paulus gewees het nie, hoewel die skrywer wel met Paulus se werkkring bekend was.  Hy ken bv. vir Timoteus (hfst. 13:23).  Benewens die feit dat Paulus nie ‘n leier van een van die gemeentes in Rome/Italië was nie, verskil die taal, woordeskat, styl en teologiese beklemtonings van hierdie brief net te veel met dié van Paulus se ander briewe.  Dit bevat bv. van die beste Grieks in die hele NT en het 169 woorde wat nét hier in die NT voorkom (Lane, Word kommentaar). Hy haal ook meer letterlik uit die OT (LXX – Griekse vertaling) aan as wat Paulus doen.  Die skrywer het verder volgens eie getuienis nie eerstehands na die Here Jesus geluister nie (hfst. 2:3) waarvan Paulus wel getuig het (Gal. 1:11-17).

Die name van onder andere Barnabas, Apollos (Luther se voorkeur), en Silvanus (Paulus se medewerker) word deur van die ou kerkvaders en geleerdes deur die eeue voorgestel as skrywers, maar geen historiese sekerheid is daaroor moontlik nie.  Sommige stel ook Paulus se medewerker Priscilla voor (Hand 18; Rom 16:13; 1 Kor. 16:19; 2 Tim. 4:19 – in die laaste drie tekste word sy eintlik Prisca genoem; Priscilla was ‘n verkleinwoord van haar naam).  Maar, volgens hfst. 11:32 was die skrywer manlik, afgelei uit die manlike vorm van die deelwoord: “om te vertel” in Grieks wat na die skrywer verwys.

Moenie vasgevang word deur buitengewone of basiese dinge, ook nie deur Joodse gebruike nie
Hoe dit ook al sy, uit hierdie skrywer se boodskap blyk dit dat sommige van die gemeentelede hulle toevlug begin soek het in óf:

  • buitengewone ervarings, waarskynlik in hulle geval veral rondom die verering van engele – daarom die beklemtoning van Jesus se uitsonderlike posisie “hoog bo die engele verhef“. Hy is immers nie een van hulle nie, maar een met God: “U troon, o God, is vir ewig en ewig.” (hfst. 1-2);
  • die grondbeginsels van die Christelike prediking: die basiese dinge, ironies genoeg hier as “melk” beskryf – daarom die afwysing van ‘n vassteek by bv. dinge soos die doop en handoplegging, en die aanmoediging om eerder op geestelike volwassenheid in terme van leer en lewe te fokus (hfst. 6), d.w.s. “vaste kos“;
  • die Joodse gebruike van die wet – daarom die afwysing van bv. die reinigingsrites en reëls rondom kos en drank en die aanmoediging om eerder op die lewende verhouding met God te fokus (hfst. 9-10; 13:9).

Moenie afvallig word nie
Die grootste probleem was egter dat sommige van hulle doodgewoon afvallig begin word het, en in ongeloof (hfst. 3:12 – “‘n bose hart van ongeloof“), sonde (hfst. 3:13), ongasvryheid (hfst. 13:2), seksuele wanpraktyke (hfst. 13:4), geldgierigheid (hfst. 13:5), en nog allerlei vreemde leringe (hfst. 13:9) verval het.  Hierdie mense het daarom hulle leiers teengestaan (hfst. 13:7,17) en onbarmhartig teenoor die wyer gemeenskap geraak (hfst. 13:16).

Fokus op God se werk in julle lewe
Daarom lê die skrywer van Hebreërs daarop klem dat hulle weer die werk van God in hulle lewe moet erken:

  • die lewende verhouding met Jesus Christus, die Leidsman en Voleinder van die geloof (hfst. 1:2; 2:1; 10:19-22; 12:2),
  • die dinamiese werk van die Heilige Gees (hfst. 2:4; 3:7),
  • die krag van die Woord van God (hfst. 4:12),
  • die aanmoediging van hulle onderlinge byeenkomste (hfst. 10:23-25), en
  • die inspirasie van hulle onderlinge aansporing (hfst. 3:13: “elke dag“!; 12:14-17; 13:1-6), sowel as
  • die boodskap en werk van hulle leiers (hfst. 13:7-9,17).

Dít is die dinge waarop elke gelowige in hierdie gemeente moet fokus, sê die skrywer.  Daarin lê die krag van God opgesluit.  Daardeur word sy krag in hulle lewe oopgesluit. Dit is die geloofsbeginsels waaraan hulle hul moet hou.

Luister na die Skrif en die prediking
Met talle aanhalings en voorbeelde uit die skat van die Ou Testament boodskap – ‘n boodskap waarmee hulle duidelik bekend was – begrond die skrywer sy boodskap en bemoedig hulle met die evangelie van Jesus as die Leidsman van ons verlossing sowel as die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis.  Daarmee word hulle aan die Skrif verbind soos dit deur die prediking aan hulle voorgehou word.

Hulle word opgeroep om almal saam te waak daarteen dat geeneen van hulle van die lewende God afvallig word nie.  Hulle moet styf vashou aan hulle belydenis en hulle verlossing – leer en lewe – en voortdurend met vrymoedigheid in gebed die troon van genade nader.

Fokus op geestelike volwassenheid
Hulle word dus opgeroep tot geestelike volwassenheid, om nie langer te fokus op die eerste beginsels van die geloof in Christus nie – “die bekering van dooie werke, van geloof in God, van dooponderrig, oplegging van hande, opstanding uit die dood en van ewige oordeel” (hfst. 6:1-3) – maar die wedloop wat vir hulle voorlê met volharding te hardloop, hul oog gevestig op Jesus die Leidsman en Voleinder van hulle geloof (hfst. 12:1-2).  Gasvryheid, meelewendheid, mededeelsaamheid, gehoorsaamheid en onderlinge onderdanigheid moet hulle gemeentelike lewe kenmerk. God belowe immers dat Hy hulle sal toerus met alles wat goed is, sodat hulle sy wil kan doen (hfst. 13).

Hebreërs 12 – Hardloop die wedloop wat vir ons voorlê met volharding
Die grootste voorbeeld van geloofsvolharding is natuurlik Jesus Christus self.  Meer nog, Hy is nie net vir ons ‘n inspirerende voorbeeld in eie reg nie, maar trouens die Leidsman sowel as die Voleinder van die geloof.  Hy het die vermoë om ons nie net te inspireer nie, maar in staat te stel om die wedloop wat vir ons voorlê, te hardloop.  Hy is immers die Een wat as Hoëpriester ons verlede, hede en toekoms in sy hande hou (hfst. 8-10).

Die skrywer sluit dus sy aansporing en bemoediging van die geloofsgemeenskap af deur op die volgende aspekte van die geloofswedloop klem te lê:

  • Rig self die oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof – 12:1-13
  • Sien toe dat niemand anders God verontagsaam nie – 12:14-29

12:1-13 – Rig self die oog op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof

Soos die skrywer sy brief-boodskap begin het met die oproep om met ons geloofs-ore na God te luister wat met ons praat deur die Seun (hfst. 1:2), só vul hy dit aan met die oproep om ons geloofsoë op die Seun te rig, Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.

Hy is egter ook baie bewus daarvan dat hierdie oproep ‘n enorme uitdaging is wat met geweldige innerlike en uiterlike konflik en stryd gepaard sal gaan.

Daar is drie uitdagings wat ‘n mens die hoof moet bied:
1. Nie net is daar die laste (goeie dinge wat egter persoonlike hindernisse kan wees) waarvan ontslae geraak moet word nie,
2. ook nie net die sonde wat ons so maklik aankleef nie, waarvan ontslae geraak moet word nie,
3. maar ook nog die dissipline (tug) wat God toepas op elkeen wat Hy aanneem as een van sy kinders.

Sommige van hierdie uitdagings kom uit jou persoonlike samestelling en lewenstyl– dinge wat vir jou laste sou kon wees, en sondes wat ‘n greep op jou lewe kan kry – en ander uitdagings kom uit die omstandighede van die gemeenskap en die wêreld om jou – dinge wat buite jou beheer oor jou pad kom – soos Jesus wat bv. ‘n vyandigheid van die kant van sondaars teen Hom moes verduur.

Die gedagte aan Jesus moet ‘n mens in jou stryd teen laste en sondes dra.  Aan die een kant moet ‘n mens dink aan die feit dat Hy dit gemaak het en sy plek aan die regterkant van die troon van God ingeneem het.  Aan die ander kant moet ‘n mens dink aan die feit dat Hy die Leidsman en Voleinder is van die geloof.  Hy is jou Inspireerder en Instaatsteller.

Die gedagte aan die uitkoms van dissipline moet jou in die uitdaging van lewensomstandighede dra.  Aan die een kant is dit die lot van elkeen wat ‘n kind van God is.  Niemand word uitgesluit nie. Aan die ander kant lewer dissipline altyd “‘n vredevolle vrug op vir hulle wat daardeur ingeoefen is, ‘n vrug van geregtigheid.

Hierdie gedagtes moet jou inspireer om die slap hande en lam knieë op te tel en reguit paaie vir die voete te maak, by wyse van spreke, sodat wat lam is, nie dalk mag swik nie, maar eerder gesond word.  Dit herinner aan die wysheid van Spreuke 4:26-27 (vgl. hierdie bydrae daaroor: Spreuke 4:1-27 – Baken jou koers af).

12:14-29 – Sien toe dat niemand anders God verontagsaam nie
Die oproep om die oog op Jesus te hou, is egter nie net iets wat ‘n mens persoonlik kan omarm nie.  Dit bly ‘n integrale deel van die evangelie om te sorg dat die mense rondom jou nie afvallig raak nie.

‘n Mens kan dus nie net persoonlik streef na vrede met almal en na persoonlike heiligmaking nie – al is dit ook hoe belangrik.  Dit moet aangevul word met ‘n omgee vir ander om dieselfde pad saam met jou te volg.  Niemand sal God daarsonder sien nie – wat immers die einddoel van die geloofsvolharding is.

Die afvalligheid kan volgens die skrywer op drie maniere gebeur.

1. Dit kan gebeur dat mense in onbegrip of selfs net onnadenkendheid: “die genade van God verspeel“.  Waar Jesus nie voor oë gehou word as Leidsman en Voleinder van die geloof nie, sal mense inderdaad die genade van God verspeel.

2. Dit kan ook gebeur deur afvalligheid waar God met iets anders verplaas word.  Die geloofsgemeenskap word daarom opgeroep om te sorg dat daar “geen wortel van bitterheid opskiet en moeilikheid veroorsaak en baie daardeur besoedel word,” nie.  Die skrywer verwys hier heel waarskynlik na die beskrywing in Deuteronomium 29:18-21 van wat met ‘n geloofsgemeenskap gebeur as hulle afvalligheid van God toelaat.  Die Here waarsku dat sulke mense, “so ‘n gifwortel wat alles kan vergiftig“, tot baie ellende en swaarkry sal lei.

3. Dit kan ook gebeur wanneer iemand sedeloos of goddeloos optree, soos Esau wat sy eersgeboortereg prysgegee het.  Dit is iets wat nie maklik ongedaan gemaak word nie, al begeer jy dit met baie trane.  Esau het tevergeefs vir Isak gesmeek vir ‘n gesindheidsverandering, maar dit nie gekry nie.  Hierdie gevaar van goddeloosheid dui op dieselfde gevaar wat die skrywer aan Hebreërs in hfst. 3:12 as “‘n bose hart van ongeloof” beskryf het.  Só iets moet die geloofsgemeenskap ten alle koste in eie geledere probeer vermy.

Die rede hiervoor is dat God nie maar beperk is tot iets tasbaars soos in die natuurtekens by die berg Sinai met die gawe van die wet ervaar is nie.  En dit was alreeds skrikwekkend groots.  Selfs Moses het daarvan gesê: “Ek is beangs en ek sidder!

Nee, die rede vir hierdie oproep om om te gee vir ander is dat hulle die doel van hulle lewe kan mis.  Hulle is op pad na die hemelse stad van die lewende God met sy tienduisende engele waar hulle deel sal raak van die “gemeente van eersgeborenes“.  Israel is in die OT as God se eersgeborene geteken (Eks. 4:22; vgl. Jer. 31:9).  Dit word nou op alle gelowiges van toepassing gemaak (vgl. ook wat hieroor geskryf is in Psalm 87 – Elke persoon wat God ken, is in Sion gebore).  In God se teenwoordigheid sal hulle as vrygespreektes vervolmaak word.  Dít kan ‘n mens nie mis nie!

Daarom: “Sien toe dat julle Hom wat praat, nie verontagsaam nie.”  Ons kan nie ons rug draai op die Een wat besig is om ‘n onwankelbare koninkryk voor te berei nie.  En ons moet toesien dat niemand van ons medegelowiges dit doen nie.  Die slotsom is: “Laat ons dankbaar wees en God daardeur op ‘n welgevallige wyse dien, met eerbied en ontsag, want ons God is inderdaad ‘n verterende vuur.

Boodskap
Ek kan aan geen ander Skrifgedeelte dink wat só onomwonde ons oproep om nie net self die Here met alles in ons te dien en in geloof te volhard nie …. maar ook tegelykertyd ons oproep om alles in ons vermoë te doen om te sorg dat die ander lede van ons geloofsgemeenskap nie agterbly en afvallig raak van die lewende God nie.

En die rede daarvoor is nie net dat dit die gesondheid van die geloofsgemeenskap bepaal nie, hoewel dit ‘n belangrike rede is.  Die belangrikste rede is dat niemand van die geloofsgemeenskap die voorreg van vervolmaking as die “gemeente van eersgeborenes” kan mis nie.  Dit kan net nie gebeur nie.  “It’s too ghastly to contemplate!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 526 “Waar daar liefde is 1” (+ latyn)

Aanvangswoord: Psalm 71

Seëngroet  

Sang 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Wet: Hebreërs 12

Skuldbelydenis: Hosea 11

Vryspraak: Hebreërs 12

Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Geloofsbelydenis: Anders as die Jode

Epiklese

Skriflesing: Hebreërs 12:18-29

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 523 “Goddelike liefdebande vs 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 526 “Waar daar liefde is 1” (+ latyn)

Aanvangswoord: Psalm 71
71 By U, Here, skuil ek, laat my tog nooit
teleurgestel staan nie!

3Wees vir my ’n rots om na toe te vlug,
waar ek altyd die veiligheid mag vind
wat U tot my redding beskik het,
want U is my rots en my vesting.

Seëngroet
Genade, barmhartigheid en vrede vir julle, van God ons Moeder en Vader, Jesus ons Broer en Vriend en die Heilige Gees, ons Trooster –  Amen.

Sang: Lied 334 “God is liefde juig ons harte vs 1,2,3”

Wet: Hebreërs 12
14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau nie…

Skuldbelydenis: Hosea 11
Hoe kan ek jou prysgee? Hoe kan Ek jou laat gaan, Israel? Hoe kan ek jou vernietig? My hart is omgekeer in My, my medelye loop oor. Nee, Ek sal jou nie in driftige woede straf nie, want Ek is God en nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat tussen julle lewe. Ek sal nie in toorn kom om julle te vernietig nie

Vryspraak: Hebreërs 12
22Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, 23die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, 24by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.

Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Geloofsbelydenis
Anders as die Jode
V: Anders as die Jode van 2 000 jaar gelede, weet ons Jesus is die Christus. Aan elkeen wat glo, sê Jesus vanoggend opnuut sy genade toe.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Julle is my skape, luister na my stem.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Ek ken julle, volg My.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Ek gee aan julle die ewige lewe, en julle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Niemand sal julle uit my hand ruk nie.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Julle wat deur die Vader vir My gegee is, is die belangrikste van almal.
G: U is die goeie herder, Here.

V: En niemand kan julle uit die hand van die Vader ruk nie.
G: U is die goeie herder, Here.

V: Ek en die Vader is een.
A: Amen.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011:58)

Liedere

F74. “Ek Wil Die Here Dien Met My Lewe”
(RUBRIEK: Flammikidz – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)

Refrein:  (x2)
Ek wil die Here dien met my lewe
want Hy alleen is God

1. Hy’s die enigste pad na die Vader toe
Hy’s die Waarheid en die Weg
Daar is niemand anders wat lewe gee
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

2. As ek bang is, is Hy daar vir my
As dit donker is, Hy’s die Lig
As ek alleen is, is Hy my vriend
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

3. Vir die blindes
sal Hy die pad kom wys
Vir die swakkes sal Hy help
Vir die siekes sal Hy genesing bring
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

4. Vir die sondaar
wil Hy verlossing bring
Die gevangenes laat Hy vry
Die wat hartseer is,
sal Hy vertroos
Sy Naam is Jesus

Refrein:  (x2)

F228. “Waarom Is Ek Hier? (Nuwe Mens)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Diens & Getuienis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing

1. Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?
Waarom is ek hier?
Waarvoor het U my geskep?
Wat sal ek doen, op aarde, met my dae?

Pre-Refrein:
Is ek vir U behae beplan?
’n Kind van U familie?
Gemaak om soos U Seun te leef?
’n Dienaar wat wil dien?
Brandend vir sending?
Of om te sien dat ek kan:

Refrein:
Lewe
As ’n nuwe mens
Lewe
As ’n nuwe mens
Wys my, lei my, leer my altyd om te
Lewe
As ’n nuwe mens

Brug:
Aanbidding, Familie, Mense wat soos U leef
Bediening, Sending
Hier om te kan sien  (x3)

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, by U soek ek beskerming: laat my nooit beskaamd staan nie. Red my en verlos my, luister na my en maak my vry. Wees vir my ’n rots en ’n vesting, ’n plek waarheen ek altyd kan vlug. U Here is my hoop, van altyd af, ons glo in die genesende krag van u Woord wat voor ons oop is. Amen.

Skriflesing: Hebreërs 12:18-29

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

‘n Moeilike teksgedeelte om met kinders te deel.

Die fokusteks kontrasteer die nuwe verbond met die Sinaï-gebeure. Een opsie is om die stuk geskiedenis te herbesoek en dramaties oor te vertel.

Eksodus 19
Die Israeliete kom by Sinaiberg
19 Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom. 2Nadat hulle van Refidim af vertrek het, het hulle kamp opgeslaan in die Sinaiwoestyn, regoor die berg. 3Moses het teen die berg uitgeklim na God toe, en die Here het van die berg af na hom geroep:
“So moet jy vir die nageslag
van Jakob sê,
vir die Israeliete vertel:

4‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. 5–6As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ’n koninkryk wat My as priesters dien, en ’n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel.”

7Moses het toe afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep en vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.

8Daarna het die volk soos een man geantwoord: “Alles wat die Here gesê het, sal ons doen.”

Moses het vir die Here gaan sê wat die volk geantwoord het.

9Toe het die Here vir Moses gesê: “Ek kom na jou toe in ’n donderwolk. Die volk sal My kan hoor wanneer Ek met jou praat en dan sal hulle altyd vertroue in jou hê.”

Toe Moses alles wat die volk geantwoord het, aan die Here gaan meedeel het, 10het die Here ook nog vir hom gesê: “Gaan terug na die volk toe. Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was. 11Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom, voor die oë van die hele volk. 12Jy moet rondom die berg vir die volk ’n grens vasstel en vir hulle sê: Julle moet oppas om nie op die berg te klim of selfs aan sy helling te raak nie. Elkeen wat aan die berg raak, moet beslis doodgemaak word.

13“Julle mag so iemand nie met die hand aanraak nie; hy moet beslis met klippe doodgegooi of met ’n pyl doodgeskiet word. Dit maak nie saak of dit ’n mens of ’n dier is nie; hy mag nie bly lewe nie. Eers wanneer die ramshoring blaas, mag hulle die berg uitklim.”

14Moses is toe die berg af na die volk toe. Hy het hulle beveel om hulle te reinig en hulle klere te was 15en vir hulle gesê: “Wees oormôre gereed en moet intussen nie naby ’n vrou kom nie.”

16Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ’n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ’n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. 17Toe het Moses hulle uit die kamp laat uitgaan om voor God te gaan verskyn, en hulle het by die voet van die berg gaan staan. 18Die hele Sinaiberg het begin rook toe die Here in vuur daarheen afkom; die rook het opgetrek soos die rook van ’n oond. Die hele berg het ook geweldig geskud, 19en die geluid van die ramshoring het al hoe harder en harder geword. Moses het gepraat, en God het hom in die donderslae geantwoord.

20Toe die Here na die top van Sinaiberg toe afgekom het, het Hy vir Moses na die top van die berg toe geroep. Moses het daarheen opgeklim, 21en die Here het vir hom gesê: “Gaan af, waarsku die volk dat hulle nie deurbreek na My, die Here, toe om na My te kyk nie, want dan sal baie van hulle sterf. 22Selfs die priesters wat gewoonlik in my teenwoordigheid kom, moet op ’n afstand bly of anders sal Ek hulle laat sterf.”

23Moses het die Here geantwoord: “Die volk kan nie Sinaiberg bestyg nie, want U self het ons gewaarsku om ’n grens rondom die berg vas te stel en daarvan af weg te bly.”

24Toe het die Here vir hom gesê: “Gaan nou af en kom dan saam met Aäron terug. Die priesters en die volk mag nie deurbreek en opklim na My, die Here, toe nie, want dan sal Ek hulle laat sterf.”

25Moses is toe af na die volk toe om alles vir hulle te gaan sê.
Die nuwe verbond kan aan die hande van die fokusteks nou kontrasteer word met die Sinaï-gebeure.

22–24 Net so het julle ook by so ’n berg uitgekom—dit is Sion, die hemelse Jerusalem. Die lewende God bly daar. Daar is miljoene engele* wat fees hou. Dit is die fees vir almal wat God S’n is. Hulle name is in die hemel opgeskryf. God is ook die Regter oor almal. Die geeste van die mense wat klaar gered en volmaak is, is by Hom. Jesus is ook daar. Hy het vir ons die nuwe ooreenkoms met God gemaak.

25–29 Luister asseblief as God met julle praat. Mense wat in die verlede nie na Hom wou luister nie, het hulle verdiende loon gekry. As ons nie na Hom luister nie, sal ons nog meer deurloop. Toe God destyds gepraat het, het die aarde geskud. Nou sê God: “Ek sal nog een maal praat, en hierdie keer sal die aarde en die hemel skud.” Die tydelike dinge sal uitmekaar skud, maar die dinge wat vir altyd daar gaan wees, sal oorbly.

Ons moet vir God baie dankie sê. Hy het ons deel van sy koninkryk gemaak wat vir altyd daar sal wees. Ons moet God dien met eerbied*. Ons moet gehoorsaam na Hom luister, soos Hy wil hê.
(Uit “Die Nuwe Testament vir Kinders” deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander)

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preek fokus veral op Hebreërs 12:23-24 saam met Hebreërs 12:28. Dit hou Barmhartigheidsondag in Koninkrykstyd in gedagte en deur ‘n oproep aan die gemeente om ‘n verskil in die wêreld te maak.]

‘n Groepie Joodse Christene leef in uitdagende tye. Hulle worstel daagliks met ‘n verskeidenheid beproewings, onsekerhede en bekommernisse. Nou twyfel hulle of Jesus se verlossing regtig ‘n verbetering aan hulle daaglikse lewe maak. Uiteindelik bevraagteken hulle die waarde van hulle geloof, hulle dryf weg van die Here en sy kerk en verval in ongeloof.

Dit is die situasie van die eerste gehoor van die Hebreërbrief. Die Hebreërskrywer wil hulle bemoedig deur hulle te help om op God te fokus!

Dit is ook sy boodskap aan ons as gelowiges wat leef in ‘n tyd van ongekende uitdagings. Hy doen dit omdat hy ons wil aanspoor tot volharding in geloof en om vanuit dié geloofsverhouding ‘n verskil in die wêreld te maak!

‘n Beter berg van ontmoeting

Omdat hy ons hiervan wil oortuig, vra hy dat ons terugdink aan die Paasgebeure wat radikale verandering in ons geloofslewe gebring het. Voor Paasfees, in die Ou-Testamentiese tye, het die hoëpriester een maal per jaar versoening vir die Israeliete se sondes gedoen. Daarvoor het hy ‘n dier op die altaar geoffer. Maar die Paasgebeure het dit “beter” gemaak. Jesus het Homself eenmalig en genoegsaam aan die kruis op Golgota geoffer. Nou is die kloof tussen God en ons wat deur die sonde veroorsaak is, finaal oorbrug. Ons kan lewe met nuwe hoop ten spyte van ons daaglikse stryd.

Watter voorreg is dit nie om te besef dat ons God nie meer by Sinai hoef te ontmoet nie. Daar het die Israeliete as bang mense God hoor praat vanuit ‘n brandende bos. Hulle wou eerder met Moses gepraat het, alhoewel Moses self ook bang was vir God. Maar nou, na die Paasgebeure, kan ons God by Sionsberg ontmoet, net omdat Jesus se liggaam gebreek en sy bloed gevloei het tot volkome versoening vir almal se sondes. Nou mag gelowiges God ontmoet, nie as bang mense nie, maar as begenadigdes wat op hulle hemelse Vader se skoot kan sit en sê: Abba Vader.

Daarom is Paasfees ‘n boodskap van hoop vir swaarkry-mense (Heb 12:23-24). ‘n Boodskap wat stukkende mense se lewe verander. ‘n Boodskap wat die Here aan sy kerk toevertrou het! Die vraag is nou: Hoe moet ons, as die Here se kerk, dit doen?

‘n Veranderde lewe

Die antwoord is beslis nie vanuit skuldgevoelens of filantropiese redes nie. Ons moet God uit dankbaarheid dien met ons hele lewe, want dit is sy wil (Heb 12:28). Dit is ‘n opdrag van die Here self (Matt 28:19) om ‘n verskil te maak in die lewe van alle mense (Hand 1:8)!

Tydens ‘n onderhoud met Golda Meir vertel die wêreldbekende Joodse pianis/komponis, Arthur Rubenstein dat “when I received Yeshua Hamashiach (Jesus the Messiah) into my heart, my life was changed. Ever since then I have experienced joy and peace”. Dan sê hy verder: “Now I am able to speak, to see, to hear, to walk, to have music and paintings . . . it’s all a miracle.”

Dit vra dat ons as gelowiges by hierdie kerkgebou se deure uitstap en ‘n verskil gaan maak. Ons huise se deure oopmaak en ‘n verskil gaan lewe, die vensters van ons harte oopmaak en ‘n verskil sal voel. Ons moet ‘n verskil maak, want om diensbaar te wees, is om vir ander om te gee. Nie omdat ons geld en goed het nie. Ook nie net met geld en goed nie, maar omdat God in Jesus eerste vir ons omgegee het. In Angus Buchan se woorde, “It is time” om dit te doen. Maar hoe?

Wat om te doen

Dit is tyd om ‘n hongerdoek in die liturgiese ruimte op te hang sodat ons aan die gebrokenheid van die wêreld herinner kan word.

Dit is tyd om op te hou vaskyk teen ons eie swaarkry en te besef ‘n groot groep Suid-Afrikaners het nie die voorreg om te werk, of om kos op die tafel te hê, of om lopende water en spoeltoilette in hulle skole te hê nie. Ons moet nie bloot polities daaroor dink nie, maar eerder een ete per week vas om die kos wat ons sou eet met nagmaal kerk toe bring vir uitdeel aan swaarkry-mense. Dit is ironies dat Moslems ons hierin tot voorbeeld is!

Dit is tyd om na alternatiewe stemme te luister, al maak dit ons verbouereerd, bang en bekommerd (bv rakende grondhervorming).

Dit is tyd om te lees hoe God deur niegelowiges ‘n verskil in ander mense se lewe maak.

Dit is ook tyd vir die kerk om vennootskappe te sluit met die sakewêreld sodat geloofwaardige en volhoubare projekte van stapel gestuur kan word wat mense in nood weer die selfvertroue gee om kop op te lig en selfversorgend te word.

Dit is tyd om net weer die storie van God met mense in die Bybel te lees en volhardend te bid.

Wat om te vermy

Maar pasop vir acedia! Acedia is ‘n Latynse woord wat dui op apatie en om sinies te wees. Apatie is om niks te doen vir ander nie, om maar net op die rusbank te bly lê. Sinisme is om te dink niks wat jy doe ngaan ‘n verskil maak nie.

In plaas daarvan dat die kerk ‘n hart het om saam met mense te huil, lag, liefhê, omgee, bestaan die gevaar van nie-luswees, nie-omgee, traak-my-nieagtigheid, om-nie-gepla-te-wees nie.

Iemand skryf by geleentheid:

The greatest threat to religion is really apathy, because people are apathetic about things which just don’t matter anymore. When enough people are apathetic about a religion, then that religion has become irrelevant. The decline of religion and theism in Europe is due more to people not caring anymore and not finding religion relevant anymore rather than to anti-religious critics convincing people that religion is wrong.

Dis die groot gevaar. Ons fokus graag op ander mense se sondes. Veral op dit wat in ons eie oë ergerlike sondes is soos owerspel, bedrog, moord. Dit is ook reg so. Maar dan vergeet ons van ons eie sonde, van acedia. Veral omdat ons nie lus is vir die moeite wat “‘n verskil maak” in ander mense se lewe, van ons vra nie. Dit doen ons graag as onsself begin swaarkry. Dan sit ons ons eie menslike bril op en sê: “Dis die regering se verantwoordelikheid.” Of dit is ons voorouers en ouers se skuld dat daar so baie onreg in ons samelewing is. Of ons romantiseer die verlede toe dit nog – en so maak ons onsself wys – makliker was om te glo.

Met hierdie redenasies vergeet ons gou-gou van die Here, van sy kerk en dan verval ons in ongeloof. Hiervan, sê die Hebreërskrywer, is ons swak bywoning van die samekomste van die gelowiges die hartseer bewys.

Bly na God luister

Fred Craddock vertel van ‘n sekere man wie se vrou en kinders altyd kerk toe gegaan het terwyl hy by die huis gebly het. Sy argumente was altyd dieselfde: “Die kerk gee nie vir my om nie, hulle soek net ‘n nuwe naam op hulle boeke of net nog ‘n dankoffer!” Hy het dit bly sê totdat hy keelkanker gekry het. Daar, in sy hospitaal-kamer, te midde van die lidmate se blomme en kaartjies, skryf hy op ‘n stuk papier: “In die harde wêreld, vertel my storie!” Fred leun toe oor terwyl hy sy hand vashou en vra: “Pa, wat is jou storie?” Hy skryf toe weer: “Ek was verkeerd!”

Is ons bereid om te sê: “Ek is verkeerd!” Verkeerd, omdat ons sinies geword het? Daarom stap ons maklik by ‘n eensame, verlate, dronk persoon verby, terwyl ons verskonings uitdink hoekom ons nie hoef om te gee nie. Of lees ons van ‘n huis wat afgebrand het, en dink: Ag sies tog, hoe vreeslik. Ek hoop iemand help hulle. Of kyk ons nuus en dink dat dit gelukkig daar ver gebeur het.

Die alternatief is of ons bereid is om te luister na wat God vir ons sê.

Die waarheid is dat ons vandag God se stem baie makliker hoor as in die ou tyd, want ons hoor dit deur Jesus se offer aan die kruis. Ons moet egter oppas. Dit is en bly God se stem wat na ons toe kom. Daarom moet ons dit nie ignoreer nie. Wie dit vergeet, sal ontdek dat God soos ‘n verterende vuur is (Heb 12:28-29)!

Dink klein én groot

Mens kan met jou eie lewe en jou eie beperkte vermoë geweldig baie doen om ander te help en by te staan.

Ons kan ook met mekaar saamspan – as bure, selgroepe, wyke, komitees, vriendekringe om ‘n geweldig verskil te maak.

Watter kreatiewe idees kan jy uitdink? Of hoe kan jy jou lewe op ‘n eenvoudige maar praktiese manier aanpas om om te gee. Aangesien jy God in Jesus Christus ontmoet het en daarom ‘n veranderde lewe lei ….

God stuur ons om te leef

Gebed
Here, skenk aan my uit u genade
lig waar ek net donker sien
moed waar ek vrees
hoop waar ek wanhoop
vrede waar my gemoed storm
vreugde waar ek hartseer is
krag waar ek swak is
wysheid waar ek verward is
sagtheid waar ek bitter is
liefde waar ek haat
vergifnis vir my sonde
Úself in die plek van mýself
Here, Here, skenk aan my Úself!
Amen.
(Outeur Howard Thurman, uit Gebedeboek met liturgiese voorstelle; Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk, 2001: Redakteur Johan van der Merwe)

Offergawes

Wegsending: Lied 523 “Goddelike liefdebande vs 1,2,3,4”

Seën
Mag die Here jou seën met ’n ongemak oor die gemak waarmee ons ons plig om ander te help met mooi argumente afmaak. Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.