Elfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Genesis 45 vertel die verhaal van Josef en sy broers wat versoen raak nadat hulle jare lank van mekaar vervreem was. Psalm 133 sluit hierby aan deur te verwys na die seën wat broers ervaar wanneer hulle eensgesind saamlewe.

Ander tekste

Psalm 133
As broers eensgesind saam woon
133 ’n Pelgrimslied. Van Dawid.
Hoe goed, hoe mooi is dit
as broers eensgesind saam woon!
2Dit is soos reukolie
wat van die kop af in die baard afloop,
die baard van Aäron,
af tot by die soom van sy klere.
3Dit is soos die dou van Hermonberg
wat op die berge by Sion val.
Waar broers so saam woon,
skenk die Here sy seën:
’n lang, lang lewe.

Romeine 11:1-2a, 29-32
Die oorblyfsel van Israe
11 “Het God dan nie tog sy volk verstoot nie?” sou iemand kon vra.
Beslis nie! Ek is immers self ook ’n Israeliet, ’n afstammeling van Abraham, uit die stam Benjamin. 2God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: 3“Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.”

o4Maar wat het God hom geantwoord? “Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.” p5Net so is dit ook vandag: daar is ’n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is. 6En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie. q

Die toekoms van Israel
25Ons staan hier voor ’n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ’n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar geskrywe:
“Uit Sion sal die Redder kom,
en Hy sal die goddeloosheid
van sy volk Jakob verwyder.
27En hierdie verbond sal Ek
met hulle sluit
wanneer Ek hulle sondes wegneem.” u
28Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. 

29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

Matteus 15:[10-20], 21-28
Wat ’n mens onrein maak
(Mark 7:14–23)
10Toe het Jesus die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Julle moet nou luister en mooi verstaan! 11Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit maak ’n mens onrein.”

12Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: “Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?”

13Maar Jesus antwoord: “Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal uitgetrek word. 14Laat staan hulle maar; hulle is blinde leiers van blindes. As ’n blinde ’n blinde lei, val altwee in die sloot.”

15Petrus sê toe vir Hom: “Verduidelik tog vir ons die beeldspraak.”

16“Verstaan ook julle dit nog nie?” antwoord Jesus. 17“Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? 18Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. 19Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. 20Dit is die dinge wat ’n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak ’n mens nie onrein nie.”

Die Kanaänitiese vrou
(Mark 7:24–30)
21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22’n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n bose gees, en dit gaan sleg.”

23Maar Hy het haar niks geantwoord nie.
Sy dissipels kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.”
24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê: “Here, help my!”
26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”
27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

Fokusteks

Genesis 45:1-15
Josef sê vir sy broers wie hy is
45 Josef kon homself nie langer bedwing voor die mense wat hom bedien het nie. Hy het hulle almal beveel om van hom af weg te gaan, en daar was van dié wat hom gedien het, nie een by hom toe hy hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het. 3Toe sê Josef vir sy broers: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?”

Sy broers kon hom nie antwoord nie, hulle was te bang vir hom. 4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. 6Dit is nou maar die tweede jaar van hongersnood in die land. Daar lê nog vyf jaar voor waarin daar nie geploeg of geoes sal word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om vir julle ‘n oorblyfsel in hierdie land te laat oorbly, om julle aan die lewe te hou en sodat baie aan die dood sal ontkom. 8Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God. Hy het my laat aanstel as die farao se raadgewer en as bevelhebber oor sy huis en as regeerder oor die hele Egipte. 9Gaan dadelik na Pa toe en sê vir hom: ‘So sê Pa se seun Josef: God het my aangestel as regeerder oor die hele Egipte. Kom na my toe. Moenie talm nie, 10kom bly in die Gosenstreek. Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal vir Pa daar onderhou, want daar lê nog vyf jaar hongersnood voor. So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa.’12Julle sien self, en my broer Benjamin sien dit ook: dis ek wat met julle praat. 13Julle moet vir Pa vertel van al my mag hier in Egipte en van alles wat julle gesien het. Maak gou en bring vir Pa hierheen.”

14Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouer gestaan en huil. 15Josef het al sy broers gesoen en daar by hulle gestaan en huil. Eers daarna het sy broers met hom begin praat. 16Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.”

Die farao en sy amptenare het dit goedgevind, 17en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe. 18Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet. 19Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op ‘n wa ry en kom hierheen. 20Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.”

21Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee. 22Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en ‘n half kilogram silwer gegee. 23Vir sy pa het hy tien donkies gestuur waarop die beste ware van Egipte gelaai was en tien donkiemerries waarop die beste koring en graan en kos gelaai was. Dit moes dien as padkos vir sy pa. 24So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.”

25Hulle is toe uit Egipte weg en het in Kanaän by hulle pa Jakob aangekom. 26Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog. Hy regeer oor die hele Egipte.”

Jakob was stomgeslaan. Hy het hulle nie geglo nie. 27Toe vertel hulle vir hulle pa alles wat Josef vir hulle gesê het, en eers toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy begin belang stel. 28En hulle pa Israel het gesê: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.”

Vorige stof

Daar is een vorige riglyn:

Ekstra stof

Genesis 45 – Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was
Die broers se eerlike ontbloting van hulle skuld aan die verlede roer Josef só diep dat hy dit nie meer kan regkry om homself te bedwing nie. Hy stuur alle diensknegte weg en bars uit in trane in sy eie selfontbloting aan hulle: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?

Hy sien egter hulle vrees en laat hulle nader kom om self te kan agterkom dat dit werklik hy, Josef, is. Die opgekropte spanning in Josef borrel oor in ‘n stortvloed van woorde waarin hy soveel as moontlik probeer inprop van alles wat die afgelope twee dekades sedert hulle hom verkoop het, gebeur het. Hy brei ook uit, met amper te veel detail, van wat hy voorsien vir die toekoms.

Josef beklemtoon tussen die baie detail oor die hongersnood en sy planne vir die toekoms twee baie belangrike goed.

1. Die eerste klem is dat hulle nie moet sleg voel of bang wees omdat hulle hom verkoop het nie, want dit was alles deel van God se planne vir hulle almal. Hy gaan sover as om te sê: “Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.” Vier keer beklemtoon hy God se werk in die gebeure tot dusver: “God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.

Dat hulle hom verkoop het, is so. Maar, dié slegte bedoelings het in God se planne ‘n goeie uitkoms gehad. Die hele familie het daarby baat gevind deurdat hulle nou in Egipte aan die lewe gehou sou kon word sodat: “baie aan die dood sal ontkom.

Waar Juda se offer in die vorige hoofstuk Messiaanse trekke gehad het, is dié verklaring van Josef eweneens ‘n aanduiding van wat die Here Jesus met sy kruisdood jare later sou vermag, ‘n ewige toekoms waardeur baie aan die ewige dood sal kan ontkom.

Watter ongelooflike geestelike insig. Dit gee ‘n mens ‘n nuwe perspektief op wat Paulus in Romeine 8 skryf oor God se planne met ons in Christus Jesus. Nie net kan ons saam met hom bly wees oor die feit dat God alles ten goede laat meewerk nie: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom. 8:28).

Ons kan in die lig van die Josefverhaal met groter waardering die boodskap van die volgende vers ook aangryp: “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.” (Rom. 8:29). Soos Josef sy broers as “eerste” vooruitgegaan het, sodat “baie broers” uiteindelik nie net aan die lewe gehou kon word deur die kos in Egipte nie, maar in die proses ook geestelike volwasse kon word, só het Jesus dit ook vir ons gedoen.

Ons is ook besig om te groei om soos Jesus te word. En Hy doen dit op ‘n besondere wyse deur presies die onontwykbare lyding waaraan ons in hierdie lewe blootgestel word. Sommige daarvan verdiend, soos dit die geval was met Juda en sy broers. Sommige daarvan onverdiend, soos dit die geval was met Josef.

Dat alles ten goede meewerk, dra dus nie net die boodskap dat alles aan die einde uitwerk nie, maar dat ons in die proses die tipe mense word wat God van ons wil maak. Lyding – verdiend en onverdiend – is die smeltkroes van geestelike groei.

Wat ons daaruit moet leer, is dat sonder lyding min van waarde ooit in ons eie lewe tot stand kom. En daarmee saam, dat ons moet toelaat dat dié geestelike proses in ander se lewe sy loop neem. Ons moet ander nie te gou afskryf, omdat hulle nie op dieselfde plek in hulle geestelike lewe as ons is nie.

2. Die tweede klem is op die gemeenskap van die familie wat herstel moet word. Soos Juda dit in die toespraak in hoofstuk 44 gedoen het, só fokus Josef op sy pa Jakob en verwys dertien keer na hom. Hy kan nie ‘n sekonde langer wag dat sy pa na hom in Egipte toe moet kom sodat hy vir hom kan sorg in die laaste deel van sy lewe nie. Hy wil hulle almal as familie rondom sy pa verenig: “Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. Ek sal vir Pa daar onderhou … So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa … Maak gou en bring vir Pa hierheen.

Met dié het Josef sy broers omhels en hulle kon hulle harte skoon huil. Toe eers het die broers tot verhaal gekom en self begin om met Josef te praat en hulleself te vergewis dat hulle nie droom nie. Die nagmerrie van die verlede het nou ‘n beter toekoms gebring as wat hulle self sou kon droom.

Die wedersiens het die broers nie net met mekaar versoen nie, maar ook tot ‘n groot welwillendheid aanleiding gegee sodat hulle deur die farao met groot gasvryheid ontvang is en ‘n vrugbare deel van Egipte in die Nyldelta aangebied is.

Let op hoe Josef hulle egter telkens gerus stel dat die verlede regtig agter hom lê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.” Die sleg van die verlede was regtig sleg, maar Josef kon die doel wat God daarmee gehad het, omarm, en daarom sy broers omhels en vergewe, veral ná die belydenis van Juda wat hom oortuig het dat hulle verander het.

Jakob se hart het gaan stilstaan toe die nuus aan hom oorgedra is – hy was stomgeslaan – maar hy het hulle aanvanklik nie geglo tot die nuus deur die werklikheid van die waens bevestig is nie. Sy reaksie is roerend. Hy het hom met die broers se reis na Egipte op die barmhartigheid van die Here beroep dat Benjamin behoue sou terugkeer, maar nou het hy sy verlore seun, Josef, op die koop toe teruggekry. God se barmhartigheid was meer as oorvloedig: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163

Aanvangswoord
Seëngroet  

Sang: Lied 220

Wet 

Skuldbelydenis: Gebed ahv Lied 247

Vryspraak: Romeine 11

Geloofsbelydenis 

Loflied 202

Epiklese

Skriflesing: Genesis 45:1-15

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163
Soos ‘n wildsbok wat smag na water,
smag my siel na U, o Heer.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.
U alleen is my bron van krag;
in U teenwoordigheid wil ek nou wag.
U alleen is my hartsverlange
en ek bring aan U die eer.

Aanvangswoord  
Voorganger:  God het ons (hier) voor Hom saamgebring in die Naam van Jesus, die Christus.
Gemeente: Aan Hom wat op die troon sit behoort die lof en die eer.

Voorganger: Mag sy Naam geheilig word.
Gemeente: Mag sy koninkryk kom.

Voorganger: Mag sy wil op aarde geskied soos in die hemel.
Gemeente: Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.
(Uit:  Matteus 6; Openbaring 5:13)

Seëngroet  
Voorganger: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en Jesus Christus, ons Here.
Gemeente: Amen, en vrede vir jou.

Voorganger: Amen

Sang 220
1. Met ons harte sing ons, Here,
van u liefde meer en meer.
Aan die kruis het U ons sonde
als gedra met geen verweer.
Juig, o juig oor ons Verlosser,
van ons las is ons bevry.
Ons sal aan U, Redder, Here,
net uit dank ons lewe wy.

2. Met ons monde bring ons, Here,
aan U hulde in ons lied.
Aan die kruis het U die losprys
vir ons sonde aangebied.
Prys, o prys nou ons Verlosser,
vir ons redding is betaal.
U het deur u sterwe, Here,
dié oorwinning reeds behaal.

3. In ‘n koor met duisend stemme
sal ons loflied U besing.
U nabye liefde, Here,
het in noutes ons omring.
Sing, o sing oor ons Verlosser,
prys sy Naam ons lewe lank.
Ons bly aan U trou, o Here,
ons sal U steeds loof en dank.

Wet 
Ek hoor al die NT klanke in Josef se bekendmaking van sy identiteit (fokusteks)…
4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. (Genesis 45)

Julle het…
Dit was ook die hooflyn van Petrus se verwyt in sy toespraak op Pinkstersondag…
22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou.

So sluit die bekende vraag 2 van die HK hierby aan …
Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Antwoord: Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.

Skuldbelydenis: Gebed ahv Lied 247
1. Heer wees ons genadig,
Christus wees genadig,
Heer wees ons genadig.

2. Kyrie eleison,
Christe eleison,
Kyrie eleison.

Vryspraak: Romeine 11
29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

Geloofsbelydenis 
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in U , Jesus Christus, sy eniggebore Seun, my Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die jong meisie, Maria. Ek glo dat u, Jesus, gely het onder Pontius Pilatus;
dat U onskuldig gekruisig is en gesterf het
omdat U dit wóú doen, vir sondaars, vir my ook.
God het U op die derde dag tussen die dooies uit laat opstaan.
U het aan meer as 500 mense verskyn en nog baie met hulle gepraat. Daarna het God U, wat sy Seun is, van die Olyfberg af
opgeneem in die hemel en die apostels het dit gesien.
Ek glo U is nou by God, wat alles gemaak het en alles kan doen.
Ek glo U praat elke dag met God oor my. U pleit vir my en vir al my maats.
Ek glo U kom terug as Koning. Die Bybel sê U gaan die Regter wees
voor wie almal wat ooit geleef het, gaan verskyn.
Maar dat ons wat in U glo, niks het om voor bang te wees nie.
U het klaar ons straf gedra.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo ek kan net geestelik groei in ‘n gemeente waar mens hoor
wat in die Bybel staan; waar U, Jesus altyd in die middel is.

Ek glo dat U my gered het toe die Heilige Gees my oortuig het
dat ek moet begin sê U is my enigste Redder.
Ek weet ek sal op die aarde doodgaan, maar nooit dood wees nie.
Ek sal vir altyd en altyd by U wees.
Ek wil vir U iets sê, Jesus van Nasaret, één met die Vader.
Ek wil vir U sê… U is my lewe.
(Maretha Martens)

Loflied 202
1. Prys Hom, die Hemelvors,
op sy verhewe troon,
loof Hom aan Wie die hemelkoor
hul hulde steeds betoon.
Aan Hom, die Skepperheer,
kom toe die eer en mag.
Sy Woord het alles voortgebring,
roem ewig sy gesag.

2. Loof Hom, die Lam van God,
want Hy’s vir ons geslag.
Hy het ons met sy bloed gekoop;
besing sy reddingsmag.
Uit elke stam en taal
het Hy ons vrygemaak;
sy koninkryk, sy priesterdom –
dít het Hy ons gemaak.

3. Lof, eer en heerlikheid,
die wysheid en die krag
behoort aan God daar op die troon
en aan die Lam, geslag.
Tot in die ewigheid
sal ons die lied laat hoor;
die hele skepping oraloor roep
“Amen” in ‘n koor.

Liedere

F230. “Ek het vir die Heer gesê (Here U Is My Lewe)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Neil Büchner
© 2007 Urial Publishing
Ps 16

1. Ek het vir die Heer gesê
U is my Here
U is my Rots
Daar is geen ander god
Wat my lof verdien nie
Vir wie ek wil besing

Refrein:
Here, U is my lewe
U sorg vir my
En wat ek ontvang kom alles van U af
’n Pragtige deel is vir my afgemeet
Wat ek by U erf, is mooi vir my

2. U Heer, lei my deur U Gees
En ek slaap rustig
U is by my
Elke oomblik van die dag
Is U in my gedagtes
En my hart is juigend, bly

Refrein:

Brug 1:
Heer, U red my siel uit die dood
En in blydskap, leer U my leef

Brug 2:
Lieflikheid kom uit U hand
Juig vir alle ewigheid!

F267.”As Ek Kon Sing (Sy Woorde)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

1. As ek kon sing soos die eng’le sing
en die hemel se taal verstaan
Dan sou ek
die Here God kon prys
Maar al praat ek in aardse taal
met die vlekke van ‘n mens
luister Hy
na die woorde van my hart

Refrein:
Want Hy leer my weer ‘n lied
met die woorde wat Hy bied
om te sê die Vader is hier by my
Hy’s die Heer wat oor my waak
wat my nooit nie sal verlaat
Hy’s die Een wat ewig sorg vir my

2. Here wat oor die aarde strek
oor elke mens oor elke plek
hoor die lied
wat ek bring om U te prys
En as my woorde somtyds faal
om U grootheid te bepaal
luister tog
na die woorde van my hart

Brug:
In die aand buig ek my neer
om te sing tot Sy eer
al my note skiet tekort
maar Sy Gees word uitgestort
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Heilige God,
ons bring ons beperkte begrip,
ons verdeelde harte
en ons beperkte lewens na U toe.
By U is die waarheid waarna ons smag,
die liefde wat ons nodig het,
en die lewe in oorvloed wat ons so graag wil hê.
Seën ons waar ons hier saam in u teenwoordigheid is.
Skenk aan ons die rykdom van u genade en goedheid.
Spreek, Heer, u gemeente luister. Amen.
of
Hoe diep stel ons U nie teleur nie. U gee ons ’n hart van vlees, maar ons bly ons hart verhard. Dit is u wil dat ons woorde van hoop spreek. Dit is u begeerte om vir U ’n tuiste in ons harte te maak, maar ons is gastekamers ingerig vir bitterheid, woede en valsheid. Vergewe al ons oortredinge. Skenk ons u genade. Help ons om te wag vir die nuwe lewe wat ons erfenis is. Ons wil ons hoop vestig op die Woord van vreugde en vrede. Die Woord wat Jesus Christus, ons Redder is. Amen

Skriflesing: Genesis 45:1-15

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Dit gebeur maklik in enige huishouding dat een van die kinders dink dat van die ander voorgetrek word. Dit veroorsaak ongelukkigheid. Gesels met die kinders hieroor en probeer hulle spontane reaksie ontlok. Gebruik hierdie bekende situasie kreatief  om die gemeente deur die kinders se reaksie in die teks in te lei.
of
Die verhaal van Josef handel hier daaroor dat Josef sy broers vergewe (homself nie wreek nie) en so God se plan met die volk Israel op koers hou.
Vir kinders is dit dalk belangrik om die storie van Josef kortliks te skilder om by die gebeure uit te kom.

Josef was die seun van Jakob (en Ragel) en sy pa was baie lief vir hom, so lief dat hy hom voorgetrek het bo die ander kinders. Hy het vir Josef spogklere gemaak (en nie vir die ander kinders nie). Dit het gemaak dat Josef se broers jaloers was op hom.

Toe hulle die kans kry, vang hulle vir Josef en verkoop hom aan ‘n woestyn karavaan op pad na Egipte. (Vir sy pa het die broers vertel dat wilde diere Josef verskeur het).

In Egipte het Josef die koning (Farao) se drome uitgelê en so belangrike aansien van die koning van Egipte ontvang- Josef is aangestel oor die hele volk van Egipte, iets soos ‘n eerste minister.

Dus het sy broers, wat hom destyds verkoop het, Josef nie herken in Egipte nie. Die broers het gaan kos soek na ‘n hongersnood hulle land getref.

Mens sou dink Josef was nog kwaad vir sy broers… hulle het hom dan destyds verkoop as ‘n slaaf. En nooit het hulle geweet Josef sou uiteindelik in Egipte by die koning tot groot hoogtes uitstyg nie.

In vandag se fokusteks doen Josef die ongelooflike… hy verwyt nie sy broers nie maar omhels hulle. Hy neem nie wraak nie… Die teks klink so:

4Maar hy het vir hulle gesê: “Kom na my toe!” en toe hulle nader kom, sê hy: “Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. 5Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.

Mag ek en jy dit ook regkry om so te kan vergewe wanneer ander ons te na kom. Mag ek en jy dit ook regkry om God se werk in ons lewens raak te sien.

Preekriglyn

Die Bybel gebruik mense se verhale om ons oor die lewe te leer en hoe om ‘n pad saam met God te loop. Josef se verhaal in Genesis is een so ‘n verhaal. Om die waarheid te sê, dit is ‘n verhaal met soveel lewenswysheid dat party geleerdes dink dat dit eintlik deel van die Wysheidsliteratuur moet wees. Die Wysheidsliteratuur sluit boeke in soos die Psalms en Spreuke. Dit is bedoel om mense oor die lewe te onderrig en te help verstaan wat die sin is van alles wat met hulle gebeur.

Die verhaal van Josef is inderdaad ‘n belangrike verhaal in die Bybel – en dit is nie net as gevolg van die lengte daarvan nie. Die verhaal in ons Bybel strek van Genesis 37 tot Genesis 50, ‘n totaal van 13 hoofstukke (uitgesluit hoofstuk 38 wat oor Juda en Tamar handel). Dit beslaan omtrent ‘n derde van die hele Genesis. Inderdaad ‘n belangrike verhaal.

Dit is ook ‘n belangrike verhaal om nou gedurende Koninkrykstyd te lees en oor te vertel. Die verhaal van Josef is waarskynlik in na-ballingskaptye opgeskryf, toe die Israeliete uit ballingskap teruggekom en weer moes glo dat alles wat met hulle gebeur het, deel van God se plan is. Hulle moes saam met God sin maak uit wat met hulle gebeur het.

Dit is ‘n koninkryksverhaal, die verhaal van iemand wat in wrede wêrelde met net God as geselskap oorleef het.

Josef se verhaal

Kom ons herinner onsself in hooftrekke aan Josef se storie en volg die hooftrekke daarvan.

As slaaf verkoop

Wanneer ons Josef in hoofstuk 37 ontmoet, is hy 17 jaar oud en ‘n verwaande mannetjie. Miskien sal ons hom in vandag se taal ‘n tipiese tiener noem, ‘n bietjie van ‘n pyn. Hy dra stories oor sy broers by sy pa aan. Boonop is hy sy pa se liefling, wat vir hom ‘n kleed met lang moue laat maak. En dan vertel hy nog boonop vir sy broers hy het ‘n droom gehad dat hulle koringgerwe voor syne buig. En toe het hy sommer nóg ‘n droom: Die son, maan en elf sterre sal ook voor hom buig.

So ‘n renons ontwikkel sy broers in hom dat hulle eendag in die veld besluit om hom dood te maak, in ‘n put te gooi en voor te gee dat ‘n wilde dier hom verslind het. Sy broer Ruben probeer keer en sê hulle moet hom liewers net in die put gooi. Toe Ruben egter sy rug draai, besluit broer Juda dat hulle liewers ‘n geldjie uit Josef kan maak. Daar verkoop hulle hom toe aan slawehandelaars wat op pad Egipte toe is. In Egipte verkoop die handelaars Josef as slaaf aan Potifar, die hoof van die farao se lyfwag.

Aangekla

Noudat hy ‘n slaaf is, verloor Josef sy arrogante houdinkie – en saam met God loop hy die pad weer boontoe. Hy vorder vinnig in Potifar se huishouding tot hy heeltemal in beheer daarvan geplaas word. Maar dan beweeg tragedie in: Potifar se vrou probeer Josef verlei, want hy was “fris gebou en mooi” (39:6). Josef weerstaan haar met dié woorde: “Ek wil mos nie teen God sondig nie” (39:10). Waar hy voorheen heeltyd gepraat het van “ek dit” en “ek dat”, “ek het dit gedroom” en “ek het dat-gedroom”, verander sy ek-praatjies nou in God-taal. Die ek-mannetjie van voorheen, kondig nou aan dat hy nie teen God wil sondig nie.

Potifar se vrou lê ‘n klag teen hom. Slawe het nie ‘n stem om hulleself te verdedig nie, en Josef land in die tronk. Dit is ‘n hool. Hier sou hy tien lank jaar bly, tien van ‘n jongman se beste jare. Hy is nou in sy twintigs. Maar ook hier in dié hool stap hy en God ‘n pad saam. Hy word in beheer van die ander gevangenes geplaas. Dit is omtrent ‘n op-en-af-verhaal: In dieselfde hoofstuk beweeg hy van slaaf tot hoof van Potifar se huishouding, val hy af tronk toe, om weer bo uit te kom.

Drome

Genesis 40 vertel ons wat nou in die tronk gebeur. Hierdie tronk was ‘n stinkende gat in die grond. Die farao vererg hom vir sy skinker en sy bakker en laat hulle in die tronk gooi, dieselfde een waarin Josef is. En natuurlik, in hierdie verhaal vol drome, ontvang die skinker en die bakker ook elk ‘n droom. En dit is Josef, self ‘n dromer, wat dit nou in God se naam uitlê. Die skinker se droom dat hy druiwe uit drie lote vir die farao pars, beteken volgens Josef dat die farao oor drie dae die skinker in sy amp sou herstel. Die bakker se droom dat die voëls aan die baksels uit die boonste van drie mandjies op sy kop wat vir die farao bedoel is pik, beteken volgens Josef dat die Farao oor drie dae die bakker sou laat ophang en die voëls aan sy vlees kom pik. “God ken julle drome se uitleg”, sê Josef. Dit gebeur dan inderdaad presies net so.

Nog ‘n droom

Alhoewel Josef die skinker gevra het om hom daar in die farao se paleis te onthou, duur dit nog twee jaar voor Josef uit die tronk kom. In Genesis 41 lees ons dat dit so gebeur het: Josef is nou tien jaar in die tronk toe die farao ‘n droom het wat sy uitleggers hom nie mee kon help nie. Die skinker onthou hom nou skielik, en die farao laat Josef haal. Hy word eers geskeer, gebad en aangetrek voordat hy die farao se droom kan uitlê.

Die farao het van sewe vet koeie en sewe maer koeie gedroom, en Josef (weer eens in God se naam) verduidelik dat Egipte (eintlik die hele wêreld) sewe goeie oesjare gaan hê, en dan droogte vir sewe jaar. “God het u laat sien wat hy wil doen”, sê Josef. Die farao is so beïndruk met Josef dat hy hom die hoof- uitvoerende beampte van Egipte maak. Hy gee Josef sommer ook ‘n vrou by wie Josef twee seuns het vir wie hy Hebreeuse name gee, Efraim en Manasse, name wat aan God se genade herinner.

Weer drama in die familie

In hoofstuk 42 begin ‘n nuwe drama wanneer Josef se broers Egipte toe kom om koring te koop. Josef herken hulle en het heimlik bitterlik oor hulle gehuil. Waaroor huil Josef? Seker oor die verlede, die verlore verhouding, die verraad van broers. Hy hou vir Simeon terug terwyl die ander vir Benjamin moet gaan haal. Hy sit ook hulle geld in hulle sakke terug.

In hoofstuk 43 gaan Benjamin saam terug na Egipte toe om weer graan te koop, terwyl vader Jakob aankondig dat hy dit nie sal oorlewe as Benjamin nie weer terugkom nie. En dan is dit inderdaad Juda wat vir Benjamin instaan.

Wanneer die broers in hoofstuk 44 teruggaan, laat Josef sy silwerbeker in Benjamin se sak sit. Sy manne sit die broers agterna en bring hulle terug. Nou is dit Juda wat vir Benjamin instaan. Die man het grootgeword, lyk dit mos.

“God het my vooruit gestuur”

Eers in hoofstuk 45 sê Josef vir sy broers wie hy is. Maar daarmee saam sê hy ook iets ongeloofliks: “Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red” (45:5).

In Genesis 46 laat Josef sy pa Jakob (en al Jakob se kinders) Egipte toe trek. Josef huil toe hy sy pa weer na al die jare ontmoet.

Genesis 47 vertel dat die Israeliete grond van die Farao vir hulle kleinvee kry. Die Egiptenare is landbouers en haat veeboerdery.

In Genesis 48 tot 50 word vader Jakob siek (van ouderdom). Hy seën eers Josef se twee seuns, Efraim en Manasse, en toe sy eie 12 seuns. Jakob sterf terwyl Josef huil. Hy word in Kanaän begrawe. Josef se broers is bang dat, noudat vader Jakob oorlede is, Josef hom op hulle gaan wreek oor wat hulle aan hom gedoen het. Maar Josef sê (50:19): “Moenie bang wees nie, want ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen; Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het. Moenie bang wees nie, ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.”

Josef sterf op 110-jarige ouderdom, word gebalsem en daar in Egipte in ‘n kis gesit.

Hoogte- en laagtepunte

Josef se verhaal is ‘n ongelooflike verhaal van hoogte- en laagtepunte; dit loop oor van lewenslesse. Vir elkeen sal hierdie verhaal iets anders kan beteken. Kom ons praat met mekaar oor drie dinge wat nou gedurende Koninkrykstyd ons in die Josef-verhaal veral opval.

1. Groei is moontlik – al is die situasie hoe sleg
Ons sien in die verhaal van Josef hoe hy groei van ‘n verwaande tiener wat net aan homself dink, tot iemand wat verantwoordelikheid kan vat. Hy groei van ‘n slaaf tot hoof van Potifar se huishouding. Hy groei in die tronk van ‘n veroordeelde slaaf tot iemand wat ‘n leierskapsposisie onder die ander gevangenes beklee. Hy groei van ‘n tronkvoël tot die heerser van Egipte. Wanneer hy die heerser is, lê hy nie agteroor en rus nie. Hy moet die uiters moeilike situasie van ‘n erge droogte bestuur. In die vet jare beweeg oor die hele land heen en koop koring op. Hierdie koring is jare lank goed bewaar in die farao se skure. En toe kom die maer jare. Nou toon Josef besondere vaardighede ten einde hierdie massiewe menslike drama te bestuur.

Genesis 47:13-26 is nie orals so duidelik nie, maar dit lyk of Josef die volgende gedoen het: Hy het die koring wat hy vir die farao se skure bymekaargemaak het, verkoop totdat dit op was. Toe het die Egiptenare die vee van die Israeliete begin opkoop, want die Egiptenare self het nie van veeboerdery gehou nie. En toe die Egiptenare se geld op was, het Josef die Israeliete se grond met koring vir die farao opgekoop. Daarna het hy die grond vir hulle “teruggegee”. Hulle kon op hulle eie eertydse grond boer met saad wat hulle by Josef gekry het, maar ‘n vyfde van die opkoms moes aan die farao betaal word. Vir daardie tyd was dit ‘n wen-wen-situasie vir almal. Die Egiptenare het op hulle eie grond geboer en belasting aan die farao betaal, en die Israeliete het geld uit hulle veeboerdery gemaak.

Kortom, die les wat ons uit Josef se verhaal leer – en wat die Bybel wil hê ons moet leer – is dit: ‘n Mens kan in die moeilikste situasies groei. Josef groei as ‘n slaaf, in die tronk, wanneer hy as ‘n Hebreër Egipte moet bestuur en wanneer daar ‘n verskriklike droogte is.

Josef groei vanaf sy selfgesentreerde ek-drome na God-drome. Hy groei van iemand wat heeltyd oor die verlede huil na iemand wat vergewe en die toekoms vir almal om hom oopmaak. Hy bly nie vasgevang in seerkry van die houe wat die lewe aan hom uitdeel nie. Hy steek nie vas in verbittering nie. Hy groei.

Is jy vasgevang in ‘n situasie waaruit u nie kan kom nie? Leer dan by Josef: Groei in daardie situasie. Dit is moontlik.

2. Die lewe is nie net opwaarts nie
Dit is nogal ‘n belangrike les om te leer. Die lewe is nie net opwaarts nie, en ons mag dit ook nie van die lewe verwag nie. Ons is jammer vir onsself wanneer ‘n ongeluk ons tref, veral as ons voel dat ons dit nie verdien het nie. Ons is verbitterd. Ons is kwaad vir God.

Maar as ons mooi na Josef se verhaal kyk, dan sien ons dat dit juis God is wat die enigste stabiliserende faktor in sy lewe is. Waar Josef ook al is, bo of onder, dáár is God. Wanneer hy ‘n slaaf is, dáár is God. Wanneer hy in die tronk is, dáár is God. Wanneer hy heerser van Egipte word, dáár is God. God is in die put, in die tronk en in die droogte.

Soms is ons ongeluk ons eie skuld. Selfs dan is God daar. Soms bring die lewe ongeluk. Onregverdiglik. Dan ook is God daar. Dit is die enigste sekerheid wat ons in die lewe het. Dat God dáár sal wees.

3. God kan ons lewensverhaal herskryf
Josef se lewe het diep donker tye gehad. In ‘n put, versaak deur sy broers. As ‘n slaaf, wat onregverdig in die tronk gegooi word. Wat ‘n pad saam met God stap, maar twee jaar lank vergeet die skinker wat hy met God se hulp gehelp het hom. In Egipte, ná die vet jare, kom die droogte. En tog, wanneer Josef sy verhaal aan sy broers vertel, vertel hy dit as ‘n verhaal van oorwinning en vergifnis. Al die ellendes wat hy in sy lewe ondervind het, sien hy as die verskillende paaie wat hy saam met God gestap het op pad iewers heen, op pad na sy lewensdoel om lewens te red.

God het ‘n pad en ‘n plan met Josef. Deur God se pad te onderskei en daarby aan te sluit, herskryf Josef telkens sy lewe – op die manier waarna hy op sy lewe terugkyk en die sin daarin raaksien. Dit is ‘n belangrike les om by Josef te leer … om terug te kyk op ons lewe en nie die slegte raak te sien nie. Om te besef dat die ellendes wat ons oorgekom het, deel was van ‘n pad waarop ons kon groei. Deur ellendes en swaarkry, is ons saam met God op pad.

Eintlik sou ‘n mens dit só kon stel: Ons mag nie terugkyk op ons lewe en net die mislukkings en terugslae raaksien nie. As ons met God op pad is, is ons nie vasgevang in ons swaarkry nie. Ons is op pad. Nooit bly ons vasgevang nie. Want God is dáár, en God stap saam.

Ons kan selfs die pyn wat ander mense ons aangedoen het oorkom en dit deel van ons en God se suksesverhaal maak. God beoordeel ons nie op die swakplekke van ons lewe nie. Daarom mag ons dit ook nie doen nie.

God stuur ons om te leef

Gebed
U kan kies om die tema van mensehandel (soos die geval met Josef) op die tafel te plaas met hierdie gebed…

Here God, ons het nie woorde om te sê wat in ons harte gebeur wanneer ons verhale van mensehandel hoor nie. Ons sukkel selfs om ons gedagtes om die idee te kry dat mense se gulsigheid en gierigheid so erg kan wees dat hulle ander mense ontvoer, verkoop, seksueel uitbuit en mishandel. Daarom roep ons uit tot U om in te gryp en ’n einde te maak aan die vernederende en onmenslike praktyk van mensehandel.

Ons smeek U, versterk diegene wie se gees gebreek is en wie se harte in stukke lê. Maak u beloftes om hierdie susters en broers van ons te vul met u goeie en teer liefde waar. Stuur die uitbuiters met leë hande weg.

Help ons om ons apatie, onwilligheid, verdeeldheid en gevoelens van magteloosheid te oorkom, sodat ons soos een mens kan opstaan in solidariteit met ons broers en susters.

Maak ons harte, hande en gedagtes oop sodat ons saam ’n manier kan vind waarop elke kind, vrou en man vry kan wees.

Ons bid vir ’n einde aan mensehandel en die uitbuiting van mense. Amen
(uit School Sisters of Notre Dame (SSND), Canadian Province, Trafficking Reflection Booklet).

Offergawes

Wegsending: Lied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

1. Kom, dank nou almal God
met hart en mond en hande;
loof Hom wat wonders doen
tot in die verste lande.
Van vroeg, van kindsbeen af,
het Hy ons trou bewaar
en tot vandag toe nog
geseën en gespaar.

2. O God, so ryk en goed,
gee ons solank ons lewe
altyd ‘n blye hart;
as dit u wil is: vrede.
Laat u genade ons
beveilig teen gevaar,
in donker ure ons
van struikeling bewaar.

3. Lof, eer sing ons voor God,
die bron van alle lewe –
die Vader, Seun en Gees,
almagtig en verhewe.
Drie-enig God, ons roem
u krag en majesteit.
O Heer, ons wil U noem:
ons God in ewigheid!

Seën
Mag die lig van die evangelie in ons harte skyn.
Mag die hoop van die evangelie ons lewe rig.
Mag die vrede van die evangelie oor ons die wag hou.
Mag God ons seën met sy liefde,
met die vrede van Christus
en met die krag van die Heilige Gees.
Amen.
of
Die Engel van die Here
slaan sy laer op
rondom dié wat die Here dien,
en red hulle.
Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees. (Uit Ps 34, 2 Kor 13)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.