Elfde sondag in koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Elfde sondag in koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Romeine 12:1-8
Ander tekste: Eksodus 1:8-2:10; Psalm 124; Matteus 16:13-20

Inleiding

God gee aan ons – God se mense – die genadegawe van ’n nuwe lewe. So lei en rig God ons tot lewende offerdiens.
God het die Israeliete uit Egipte van ’n lewe van slawerny bevry. Deur Moses gee God aan hulle die Tien Gebooie om te onderhou omdat hulle – God se mense – bevry is (Eks 1).
Op soortgelyke wyse skenk Paulus aan die vroeë Christene die opdrag tot ’n nuwe lewe, ’n genadegawe uit God se hand.
Die erediens word gekenmerk deur ons lof tot God vir hierdie genadegawe. Die gawe van nuwe lewe is vir ons gegee sodat ons deel van die groter liggaam van die geloofgemeenskap kan wees. Vandag vier ons hierdie nuwe lewe in Christus.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
O diepte van rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom ’n guns sodat Hy verplig is om iets terug te doen?
Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid (Rom 11:33-36).
Amen.

Diens van die Woord

Doopherinnering
Voorganger: Nog voor ons geboorte reik God in liefde en genade na ons toe uit. God gee aan elkeen van ons, nog voordat ons dit vra, genadegawes wat ons uitnooi tot ’n nuwe lewe in Christus. Mag hierdie genade ons daartoe lei om te doen wat goed en aanneemlik en volmaak is (Rom 12:1-2).
Gemeente: Deur God se liefde en genade is ons uit slawerny bevry, genooi om kinders van God te wees en nuut te lewe.

Diens van die tafel

Nooi die gemeente uit na die tafel van genade wat ons oproep tot ’n nuwe lewe.
Die nagmaalstafel is ’n herinnering dat ons baie dele is van een liggaam. Ons word opnuut uitgenooi om ons tot diens aan God te wy.

Uitsending

Stuur die gemeente uit om ’n nuwe lewe as liggaam van Christus elke dag te leef.
Sing Lied 179 “Vader in die hemel”

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 529 “Dank, dank die Heer”
Loflied: Lied 300 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie” ; Lied 510 “Genade onbeskryflik groot”
Toewydingslied na doopherinnering: Lied 554 “Diep uit my hart, o Vader” ; Lied 440 “Die Here salf ons met sy Gees”      

Preekstudie: Romeine 12:1-8

Inleiding
In 1515, terwyl Luther op soek was na ’n genadige God, vind hy die antwoord in Paulus se woorde aan die Romeine: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe” (Rom 1:17). Want, sê Romeine 1:16, die evangelie is “’n krag van God tot redding van elkeen wat glo”. En twee jaar later, in 1517, spyker hy sy vyf en negentig stellings vas aan die kerkdeur te Wittenberg!

Verskeie geleerdes het al ernstige pogings aangewend om Romeine te verklaar en te verstaan. In hierdie verband kan Johannes Calvyn, Augustinus, John Wesley en die meer resente Karl Barth se skrywes oor Paulus se brief aan die Romeine gelees word. Andrie du Toit se boek, Romeine: Hartklop van die evangelie, kan gerus ook nader gehark word.

Die verstaan van Romeine word vergemaklik deurdat die brief uit twee hoofdele bestaan, naamlik: die evangelie van genade (Rom 1-11), en “geleefde Christenskap” (Andrie du Toit se woorde) (Rom 12-15). In ’n volgende rondte word die tweede hoofdeel nog verder verdeel totdat jy kan fokus op die skrifgedeelte vir hierdie preekstudie. Romeine 12:1-8 word op sy beurt verder onderverdeel in:

  • Die algemene beginsels van toepassing op die leefwyse van gelowiges (12:1-2);
  • Die fokus op gelowiges se lewenswyse in die gemeente (12:3-5);
  • Die gawes wat die gelowiges benodig om so te kan leef (12:6-8).

Hierdie preekstudie is vir die Koninkrykstyd bedoel. Die fokus is daarom spesifiek op die uitleef van die evangelie van genade deur gelowiges binne die konteks van die gemeente van Rome. Met die vertrekpunt, kan riglyne deurgetrek word na die lewenswyse van gelowiges in elke ander gemeente.

Teks en Konteks

God se genade word in Jesus Christus sigbaar. Alle gelowiges het nou die voorreg om in ’n nuwe verhouding met God te leef (Rom 1-11). Aan elke gelowige word die bediening (uitleef) van die genade toevertrou (2 Kor 5:19-20). Voordat Paulus vertel hoe dit gedoen moet word, gee hy eers ’n paar beginsels. Inleidend sê Paulus (12:1-2) dat God se genade ’n gelowige se totale menswees raak en daarom in al sy/haar verhoudinge sigbaar moet word. Op hierdie wyse bevestig die gelowige dan die nuwe verhouding wat tussen God en hom-/haarself tot stand gekom het.

Die meeste eksegete onderskei drie beginsels – weliswaar elkeen met ’n bepaalde opskrif en inhoud. Vir die doel van hierdie preekstudie sluit ek aan by Andrie du Toit se indeling:

Die erns van geleefde Christenskap
Paulus is van oortuiging dat die evangelie (1:18-11:36) eers effektief word as dit geleef word. Daarom doen hy ’n beroep op elke gelowige om dit uit te leef. Geloof en werke is twee kante van dieselfde muntstuk. Werke is niks anders as ’n daad van gehoorsaamheid nie. Daarom moet die boodskap gehoor, aanvaar/geglo en geleef word. So word God se genade sigbaar!

Om te sê: “ek glo”, beteken dat ek ook bereid is om my geloof konkreet in my daaglikse lewe uit te leef (Deut 6:5-9; Luk 6:46). My gehoorsame leef van God se genade bevestig die egtheid van my geloof (Jak 2:14-17; 1 Joh 3:16, 18). Of sou dit moontlik wees om te sê: “ek glo” en dan gaan ek rustig voort om te leef volgens die eie ek? In die praktyk, ja, maar . . .

Grond van geleefde Christenskap
Dan is die grond (rede) vir die uitleef van die evangelie verkeerd. Ek doen dit dan omdat dit van my verwag word deur mense, die kerk, of die samelewing. Of dalk omdat ek God wil “ompraat” om my omstandighede te verander. Of anders omdat ek dink dat die tyd daarvoor reg is – miskien ’n hoë ouderdom of omdat ek sieklik is.

1 Johannes 4:19 stel dit duidelik: Die enigste rede hoekom ek die evangelie uitleef, is God en sy genade. So sê ek vir Hom dankie vir alles wat Hy in Jesus Christus vir my gedoen het (Joh 3:16). As ek dit dan doen uit dankbaarheid, hoe sal my leefwyse in die praktyk lyk?

Inhoud van geleefde Christenskap
Paulus verduidelik dit nêrens mooier nie as in Filippense 2:5-8 en 17. Dit gaan daaroor om myself te “offer”. In die Ou Testament het Israel “iets” geoffer van dit wat hulle besit het – ’n dier, ’n landbouproduk of iets dergeliks. Paulus sê dat my offer lewend en heilig moet wees – ek moet iets van myself gee. Ek moet die offer as ‘t ware aan my lyf voel. Die implikasie hiervan is dat ek bereid is om “opgebruik te word in God se diens”. Dit is wat Jesus vir my gedoen het.

So ’n lewenswyse is net moontlik as ek myself met hart, siel, verstand en kragte onvoorwaardelik aan God oorgee (Matt 22:34). Dit kan ek net doen as ek nie:

Optree om in te pas by die skema van dit wat die wêreld as maatstaf en vereiste stel nie, maar;

Ek God toelaat om my gedagtes te verander. Eers dan kan ek “ophou om te lewe soos ek vroeër gelewe het”. Eers dan kan ek “breek met die ou, sondige mens in my wat deur my sondige begeertes verteer word”. Eers dan kan ek “lewe as ’n nuwe mens wat as die beeld van God geskep is” (Ef 4:17-24). Dit beteken dat verandering nie in my hart (geloof) of mond (getuienis) begin nie. Ek moet ’n kopskuif (denke) maak. Ek moet anders begin dink oor myself, mense, die wêreld en ook oor God.

Daarom begin dit wanneer ek my oorgee aan God, voor Hom neerbuig en my afhanklikheid van Hom erken. Wanneer ek volkome bereid is om uit myself te klim, my voluit in diens van God te stel, my tot beskikking van God te stel. Hierdie verandering (metamorfose) is die werk van God deur sy Gees. Eers dan kan ek onderskei tussen my wil en God se wil (Fil 1:9-11). Die resultaat is dat ek minder sal twyfel, en as ek twyfel, my toevlug sal neem om by God die antwoorde te soek (Ef 4:14).

So ’n lewenswyse dra God se goedkeuring weg. Nie omdat ek perfek is en nie weer foute sal maak nie, maar omdat ek weet dat wanneer ek sukkel, te kort skiet of vasval, Christus tot my redding sal kom aangesien Hy nou aan die regterhand van my hemelse Vader sit waar Hy vir my intree. In Hom het ek die versekering dat God nooit weer oor my sukkel sal dink nie maar dat Hy my ’n tweede en ’n derde en . . . kans sal gee om myself uit dankbaarheid aan Hom te offer.

Dit bring ons by die tweede hoofdeel van Romeine 12:1-8, naamlik waar en hoe moet ek as gelowige my dankbaarheid teenoor die Here God uitleef? Paulus antwoord die waar vraag met:
My verhouding met gemeentelede (12:3-17)
My verhouding met die owerheid (13:1-7)
My algemene lewenshouding (13:8-14)
My verhouding met medegelowiges van wie ek verskil (14:1-15:13)

Paulus is oortuig dat die uitleef van my dankbaarheid in die gemeente begin. Die implikasie is: My geloof en my betrokkenheid by die Here se kerk is onlosmaaklik aan mekaar verbind (vgl die Apostolikum). ’n Lewe van dankbaarheid dwing my as gelowige om nuut te dink oor my roeping binne my gemeente. Hoekom is ek ’n lidmaat van die Here se kerk? As dit gaan oor die status wat  daaraan verbonde is, dan is ’n verskeidenheid verskonings deel van my lewenswyse. As dit is om dankie te sê vir God se genade, dan is ek bereid om soos Jesus my lewe vir my medegelowiges af te lê. Hiervan was Paulus se bediening ’n voorbeeld (lees gerus sy CV).

Dit beantwoord ook die hoe-vraag. Ek moet met ’n gesindheid van beskeidenheid my dankbaarheid uitleef (12:3-5). Dit beteken dat ek nie deel is van die gemeente om te heers nie maar om te dien en te offer. Ook nie noodwendig op dieselfde manier as al my medegelowiges nie. Die vraag wat ek myself moet vra: Is ek gereed om te vra na sy wil? Is ek bereid om sy antwoord te aanvaar sodat Hy deur my iets in sy gemeente te laat gebeur wat Hom sal verheerlik? Is ek bereid om my plek vol te staan en my verhouding met die Here sigbaar te maak?

Om hierdie vrae en my antwoord daarop simbolies te verduidelik, gebruik Paulus die beeld van die kerk as liggaam van Christus (1 Kor 12:12-30). Om so te leef, gee God bepaalde genadegawes (charismata) aan elke gelowige volgens wat Hy dink nodig is in die gemeente (12:6). Paulus fokus op sewe genadegawes. Hierdie lys van gawes is nie volledig nie. Hy verwys na ander genadegawes in Romeine 1:11, 5:15-16, 6:23 en 11:29 asook in 1 Korintiërs 7:7, 12:7-11, 28-30 en Efesiërs 4:11.

Wat wel belangrik is, is dat God die gewer van al die gawes is en dat Hy deur die Gees dit aan elke gelowige gee soos wat Hy dit besluit het (1 Kor 12:11). Hy kan dus gawes “wegneem” of “byvoeg” na sy goeddunke. Elke gawe afsonderlik maar ook as geheel het ten doel om God te eer en die gemeente op te bou. Daarom is gawes nie noodwendig geleë in die bonatuurlike of uitsonderlike vermoëns van ’n individuele gelowige of ’n groep gelowiges nie. Dit is dikwels in die gewone dinge soos die:

  • Gawe om God se wil vanuit sy Woord aan die gemeente bekend te maak (profesie in 12:6);
  • Diens, onderrig en bemoediging van medegelowiges op verskillende maniere (12:7-8);
  • Gee van wat ek het sonder teësin of uit dwang (12:8b);
  • Leiding of bestuur met toewyding in ’n gemeente in sy geheel of individueel (12:8c);
  • Hulp aan ander wat in nood is (12:8d).

Daarom is die eerste vraag wat elke gelowige vir hom- of haarself moet vra: Waar wil God hê moet ek diensbaar wees in sy gemeente? Die tweede vraag: Watter gawes vertrou God aan my toe? En vraag drie: Met watter gesindheid gaan ek dit doen?

Die kerk is nie ’n organisasie waar ek iets doen en selfs ook ledegeld betaal sodat dit my tot voordeel kan strek nie. In die kerk moet ek God se genade (Jesus Christus!) sigbaar maak. Dit kan ek net doen deur myself te gee sonder om iets in ruil of vergoeding daarvoor te verwag. Hierin lê die uitdaging vir elke gelowige, naamlik dat ek letterlik sal “proe” hoe lekker dit is om God te dien in die kerk!

Preekvoorstel

Om oor Romeine 12:1-8 te preek daag die prediker uit om ’n keuse te maak rakende die doel van sy preek. Dit sal dan die invalshoek en die fokus van die prediking bepaal. Daar is verskeie momente in hierdie gedeelte waarby hy/sy kan aansluit. Vir die doel van die studie sluit ek aan by die vraag: Wat is die wil van God?

Vinkel en koljander, die een kan nie sonder die ander!
Om drome te droom en dit te leef, is soos vinkel en koljander. Die een kan nie sonder die ander. Die gom wat die twee aan mekaar bind, is my bereidheid om op te offer. Hiervan is (bv.) die Cape  Epic ’n getuienis. Net so is my geloof en my leef daarvan, ook soos vinkel en koljander. En die gom wat hulle aan mekaar bind, is my bereidheid om op te offer!

Dit ontdek Luther in 1515 in die Romeinebrief: Die evangelie “is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo” omdat “God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo” (1:16-17). En toe offer hy alles wat belangrik is op, en in 1517 spyker hy sy vyf  en negentig stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vas en word uit die Rooms-Katolieke Kerk verban!

Met Paasfees word God se genade in Christus sigbaar. As ek dit glo, het ek die voorreg om vir ewig te leef. Hierdie goeie nuus moet ek uitleef (2 Kor 5:19-20), tydig en ontydig (2 Tim 4:2), teenoor alle mense (Hand 1:8). Maar dit vra dat ek bereid sal wees om myself op te offer!

Hierdie boodskap konfronteer my met ’n paar vrae!

Hoekom moet ek dit doen?
Om te bely dat ek glo, beteken dat ek bereid is om my geloof elke dag prakties uit te leef (Deut 6:5-9). So bekragtig ek my geloofsbelydenis as waar en eg en in ooreenstemming met die wil van God (1 Joh 3:16, 18).

Ongelukkig sê ek maklik dat ek glo, maar leef rustig voort volgens my eie stel reëls. Of ek leef volgens die Bybel se riglyne, maar dan nie omdat ek regtig glo nie. Ek doen dit dan omdat:

Dit van my verwag word deur mense, kerk, samelewing;
Of om te toets of God my omstandighede sal verander;
Of omdat ek dink die tyd is ryp – ’n hoë ouderdom of omdat ek sieklik is.

1 Johannes 4:19 stel dit egter baie duidelik: Die enigste rede hoekom ek die evangelie moet uitleef, is omdat ek vir God wil dankie sê vir alles wat Hy in Jesus Christus vir my gedoen het (Joh 3:16). Dit is God se wil!
Hoe moet ek dit doen? 

Paulus gee die antwoord in Filippense 2:5-8 en 17 as hy sê dat ek die evangelie moet sigbaar maak deur myself te “offer”. In die Ou Testament offer Israel “iets” van dit wat hulle besit het – miskien ’n dier, miskien ’n deel van die oes. Paulus sê egter dat my offer lewend en heilig moet wees – ek moet iets van myself gee. Ek moet as ’t ware my offer aan my lyf voel en bereid wees om “opgebruik te word in God se diens”. Dit het Jesus vir my gedoen.

Daarom mag ek nie by ander se vereistes aanpas nie, want dan gaan dit oor wat:
Goed en reg is volgens die Internet of die media;
Kunstenaars wat sê wat in of wat uit is;
My sogenaamde vriende besluit hoe ek moet leef of nie.
Ek moet God toelaat om my gedagtes nuut te maak want as dit gebeur sal:

Ek ophou om te lewe soos ek vroeër gelewe het en die begeerte kruisig dat alles wat ek het – geleenthede, geld, grond, gawes, geloof – my toekom en dat ek daarom met dit kan maak wat ek wil, en dat;

Ek eerder as ’n nuwe mens sal lewe wat bereid is om te vra wat God wil hê ek moet maak met my geleenthede, geld, grond, gawes en geloof.

God se genade daag my uit om so ’n kopskuif te maak en anders te dink oor myself, mense, wêreld en ook oor God. Ook oor hoe ek die evangelie van genade kan uitleef. Maar hierdie metamorfose vra dat ek voor God sal buig en na sy wil sal soek (Fil 1:9-11), van myself sal vergeet en sy antwoord sal aanvaar ongeag my eie voor- en afkeure.

As ek sukkel en foute maak, dan neem ek my toevlug tot God en nie soos die golwe wat, sodra die wind waai, elkeen hulle eie koers kies nie (Ef 4:14). Hoekom so? Omdat ek die sekerheid het dat Christus tot my redding sal kom waar Hy nou reeds aan die regterhand van God sit om namens my te praat. En wat meer is, ek het ook die gerusstelling dat God nie twee keer oor al my foute sal dink nie, maar vir my ’n tweede kans sal gee om te glo en te leef. Dit kan ek doen deur die werking van die Gees wat ’n krag tot verandering is (Ef 3:20). Dit is God se wil!

Waar moet ek dit doen?
Ek moet in my gemeente begin. Met my geloofsbelydenis verbind ek my geloof en die uitleef daarvan met my gemeente. En dit vra my om nuut te dink – nie net oor hoekom ek lidmaat is nie, maar ook wat my taak in die gemeente is.

Hier lê die uitdaging: My omstandighede as gelowige mag nie in die pad staan van my getuienis nie. Vra jouself: Is jy bereid dat die Here jou gebruik om sigbaar te word in die gemeente? As jy sê nee, dan is lidmaatskap vir jou ’n statussimbool en sal jy altyd verskonings uitdink. As jy sê ja, moet jy nie daarna strewe om te ontvang nie, maar om te dien. Wees bereid om iets van jouself prys te gee en moeite te doen deur die minste te wees ter wille van jou medelidmate. Dit is God se wil!

Hoe moet ek dit doen?
Die antwoord is heel eenvoudig; doen dit met die eie, unieke gawe wat God aan jou gegee het volgens wat Hy besluit het nodig is vir sy gemeente. Dit is soos met ’n mens se liggaam: elkeen is uniek maar het sy plek. Die gawe wat ek het is nie meer of minder belangrik as die een langs my s’n nie. God, as die gewer van al die gawes, gee deur sy Gees aan elkeen soos wat Hy goeddink. Want die uiteindelike doel is nie ’n medalje nie, maar om die evangelie in sy gemeente aan almal te verkondig.  Dit is God se wil!

So lyk Vinkel en Koljander, die een kan nie sonder die ander. Glo en leef – die een kan ook nie sonder die ander. Veral ook in die gemeente, want die kerk is nie ’n organisasie waar ek ledegeld betaal sodat ek voordeel daaruit kan kry nie. Die kerk is dié plek waar God se mense, elkeen op sy en haar eie, unieke manier die evangelie van genade sal sigbaar maak sodat almal sal “proe” hoeveel vreugde daarin is om in God te glo. En dit vra van my om op te offer. Dit is God se wil!

Bibliografie

Coenie Burger en Ian Nell (redakteurs): Draers van die waarheid: Nuwe-Testamentiese visies vir die gemeente, Romeine (Francois Wessels), bl 80, 2002; God se wil – om dit te ken en te doen. ’n Studie van Romeine 12, dr Julian Muller, 1986; Kommentare: Lekkerkerker; A F N Cranfield; C E B en ander; Die Bybellenium – Eenvoudige kommentaar, Lukas, bl 1329; A B du Toit (redakteur) en ander: Handleiding by die Nuwe Testament, Band V, bl 51-56, 1984; Andrie du Toit: Beleef God se genade – Romeine: Hartklop van die evangelie, 2004; “Die Woord van God – toepaslik preek of toepaslik maak?” ’n Homiletiese ondersoek deur C J H Venter; Vakgroep: Praktiese Teologie, Skool vir Kerkwetenskappe, Potchefstroomkampus, Noordwes-Universiteit

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.